SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 issue1Nicola Hanekom se In glas: Die donker nadraai van onvervulde begeerteAn African's faith: Discourse and disclosure in selected works by Sindiwe Magona author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.40 n.1 Mafikeng  2019

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v40i1.1565 

BOOK REVIEW

 

'Tussen die abjekte en die eteriese': 'n Belangrike toevoeging tot Afrikaanse literêre vertalings

 

 

Alwyn Roux

Department of Afrikaans and Theory of Literature, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Tussen die abjekte en die eteriese: 'n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq

Author: Michel Houellebecq

ISBN: 978-1-4853-0796-9

Publisher: Protea Boekhuis, 2018, R281*
*Book price at time of review

 

 

Henning Pieterse bewys homself weereens as een van die vernaamste vertalers in Afrikaans met sy vertaling van die poësie van die Franse digter Michel Houellebecq, soos vervat in die keur van gedigte getiteld Tussen die abjekte en die eteriese (2018). Hierdie werk bied 'n keuse van die vier gepubliseerde bundels van Houellebecq, naamlik La poursuite du bonheur (1992; Die strewe na geluk), Le sens du combat (1996; Die sin van die stryd), Renaissance (1999; Renaissance) en Configuration du dernier rivage (2013; Konfigurasie van die laaste oewer). Monique Prinsloo se bladontwerp, met weerkaatsings van bome in water, dra by tot die allure van die werk. Die oorspronklike Franse gedigte verskyn telkens op die keersy van die Afrikaanse vertalings deur Pieterse.

Die titel van die bundel is uit die slotreël van 'n ongetitelde gedig (bl. 173) in Le sens du combat (1996) geneem: die Frans, 'Entre l'abject et l'éthéré', word hier vertaal as 'Tussen die abjekte en die eteriese' (bl. 172-173). Pieterse noem dat hierdie versreël ook vertaal kan word as 'Tussen die aardse en die bo-aardse' (bl. 29), wat 'n meer konkrete titel vir die keur sou wees. Wat hierdie meer filosofiese titel wél regkry, is om die leser 'n greep op die 'twee pole' van Houellebecq se digterlike oeuvre te gee. Hiervolgens hou die 'abjekte' verband met dit wat Julia Kristeva 'die subjektiewe gruwel' noem 'wat 'n mens ervaar wanneer jy gekonfronteer word met jou liggaamlike werklikheid' (bl. 25), terwyl die 'eteriese' die 'abjekte' 'begrens'. Dit vind gestalte in die digterlike 'ek' se 'onverpoosde soeke en strewe na liefde' (bl. 28-29). Om tussen hierdie pole vasgevang te bly, bring 'n terneergedruktheid van die gemoed mee, wat kenmerkend van Houellebecq se digterlike styl is - vergelyk die laaste strofe van 'n ongetitelde gedig op bladsy 79:

As iemand my liefhet, op aarde of tussen die sterre,

Moet hy nou tog vir my 'n klein teken stuur

Ek voel die begin van 'n ramp opbou,

Die skeerlem trek 'n reguit lyn oor my arm.

In sy inleiding gaan Pieterse van die stelling uit dat Houellebecq 'sy depressie in talle verse [sublimeer]' (bl. 12). Hierdie argument word dan ook deur die bybring van Paul Batchelor se bespreking van die Engelse vertaling van Houellebecq se gedigte, getiteld 'The art of struggle' (2010), bekragtig. Hierin brei Batchelor soos volg uit oor depressie as 'estetiese beginsel' in Houellebecq se werk:

Depression is the poet's flu: we all get it sooner or later. Michel Houellebecq is unusual in that he has brought the black dog indoors and put it to work. In his fiction, Houellebecq unashamedly projects his depression on to the worlds he creates. In his poetry he goes further, founding an aesthetic principle on depression. (bl. 12)

Die swart hond van Houellebecq se poësie kom egter nie as 'n verrassing vir enigeen wat reeds die vertaling van Houellebecq se werk met die verskyning van 'Tagtig gedigte en twee essays' (2012) gelees het nie; inteendeel, die verwagtinge wat Pieterse se keur by die Afrikaanse poësieleser wek, is soveel hoër, juis om twee redes: Ten eerste is daar Pieterse se onoortreflike vertalings van Rilke se 'Duino-elegieë' (2007), en tweedens die onverwagte trefslag van Catherine du Toit et al. (2012) se vertaling van Houellebecq se werk in Afrikaans.

In die lig van bogenoemde, stel Pieterse se Houellebecq-vertalings egter nie teleur nie en skep hy met die bundel ruimte vir die vergelykende lees van die twee weergawes van Houellebecq se poësie in Afrikaans. Pieterse se vertaalwerk is gesofistikeerd en dit kan veral aan sy meer stilistiese benadering tot die vertaling van Houellebecq se verse toegeskryf word. Pieterse kry dit reg om die siniese, skokkende benadering wat Houellebecq se gedigte kenmerk, te behou - vergelyk die openingsgedig, getiteld 'Non réconcilié' (bl. 58: 'Onversoend'):

My pa was 'n eenselwige, barbaarse doos;
Dronk van verydeling, alleen voor sy TV,
Hy het flou, erg bisarre planne herkou,
En hom dan vreeslik verlekker as dit skeefgeloop het.

Hy't my altyd behandel soos 'n rot wat jy jag;
Die blote gedagte aan 'n seun, glo ek, het hom gewalg.
Hy kon dit nie verdra dat ek hom eendag sou verbysteek nie,
Deur net te bly leef, terwyl hy krepeer.

Hy't gesterf in April, kreunend en verward;
Sy gesig het 'n oneindige woede onthul.
Elke drie minute het hy my ma beledig,
Die lente gekritiseer, gegrinnik oor seks.

Op die einde, net voor die laaste stuiptrekkings,
Het 'n vlugtige kalmte deur sy bors getrek.
Hy't geglimlag en gesê: 'Ek swem in my pis',
En toe is hy met 'n ligte roggel weg.

Hierdie keurvertalings van Houellebecq deur Pieterse vereis 'n tydsame, maar ook vergelykende lees van die verse. Die vertalings is nie net vir die ernstige poësieleser in Afrikaans van waarde nie, maar ook vir die student en (of) navorser werksaam in vertaalstudies.

 

 

Correspondence:
Alwyn Roux
erouxap@unisa.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License