SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 issue1ʼn Woordaangedrewe vaartuig: Susan Smith se eko-digkuns'Tussen die abjekte en die eteriese': 'n Belangrike toevoeging tot Afrikaanse literêre vertalings author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.40 n.1 Mafikeng  2019

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v40i1.1560 

BOOK REVIEW

 

Nicola Hanekom se In glas: Die donker nadraai van onvervulde begeerte

 

 

Lida Krüger

Department of English Studies, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: In glas

Author: Nicola Hanekom

ISBN: 978-1-4853-0598-9

Publisher: Protea Boekhuis, 2018, R180*
*Book price at time of review

 

 

Nicola Hanekom beskryf haarself in die biografiese nota agterin In glas as aktrise, eerder as dramaturg. Tog het sy teen dié tyd al haar status as dramaturg gevestig met haar plekspesifieke trilogie, Betésda, Lot en Babbel, haar eenvrouvertoning, Hol, asook Die pad byster (2014) en Land van skedels (2016). Die invloed van Hanekom se nering as aktrise is egter duidelik uit die opvoeringsgerigtheid van haar dramas. Wanneer gehore kaartjies vir 'n Hanekom-toneelstuk koop, verwag hulle 'n visuele skouspel wat slegs in die teater ervaar kan word. Dit is juis daarom dat die omslagfoto's van die gedrukte teks, wat waarskynlik tydens die toneelstuk se speelvak in 2015 geneem is, nie net vir 'n visueel treffende publikasie sorg nie, maar ook die leser help om 'n opvoering van die drama te verbeel.

In glas vertel die verhaal van 'n paartjie, Gideon en Lottie, wat daarna smag om kinders te hê, maar onvrugbaar is. Die suggestie word geskep, maar wel nie ontwikkel nie, dat hulle boonop vasgekeer is in 'n voorstedelike, Kaapse samelewing wat 'n hoë premie op tradisionele vroulike deugde plaas: binnenshuise versiering, netheid, naaldwerk en vrugbaarheid. Gideon en Lottie is verder ook sogenaamde vloggers: hulle hou aanlyn dagboek en dokumenteer deur middel van YouTube-video's hulle in vitro-pogings. Hierdie video's wat op televisieskerms aan die gehoor vertoon word, is 'n effektiewe manier om die aanloop tot die gebeure wat op die verhoog uitgebeeld word, weer te gee. Dinge op die verhoog neem vinnig 'n steurende wending as Lottie ál meer psigoties en desperaat raak nadat haar eerste swangerskap na vier in vitro-pogings op nege weke spontaan aborteer.

Die miskraam het nie net 'n negatiewe invloed op Lottie se geestesgesondheid nie, maar ook op die paartjie se huwelik. Hulle interaksie is beleefd, maar geforseerd. Onder die oppervlak skuil daar egter verwyte, skuldgevoelens en eensaamheid. Dit word deur middel van Bul en Poppie, Lottie en Gideon se onderskeie 'binnestes' uitgebeeld. Dít is 'n doeltreffende manier om teenstrydighede deur middel van 'n visuele metafoor voor te stel. Bul en Poppie is ook uiterlik - en moontlik psigologies - Lottie en Gideon se teenpole, of skadukante. Verder is die verhoog ook vol en besig tydens die klimaks van die stuk, wanneer hierdie personasies mekaar verbaal en fisiek takel.

In glas beeld wel nie slegs die ontrafeling van 'n huwelik en die psigologiese agteruitgang van 'n individu as gevolg van die onvervulde begeerte om kinders te hê uit nie, maar kan ook breër gelees word. Enige onvervulde begeerte wat in 'n verblindende, obsessiewe, selfgesentreerde drang ontaard, word deur die drama aangeraak. Verder word 'n ontstellende rasseverhouding in die drama uitgebeeld. Die enigste ander karakters met wie Gideon en Lottie deur die loop van die drama te doen het, is Faith, hulle huishulp, en die ongesiene sekswerker met wie Gideon vir Lottie verneuk het. Albei hierdie swart vroue staan bloot in diens van Gideon en Lottie se begeertes en word as 't ware weggewerp indien hulle nie meer van nut is nie. Na afloop van die skokkende klimaks van die stuk, waarin Faith die slagoffer is, probeer Gideon sy dade regverdig deur te sê 'sy's net 'n bediende'. Die woord bediende is duidelik 'n eufemisme vir 'n skreiende raspejoratief. Om egter 'n eufemisme hier te gebruik, versag die diepliggende rassisme wat die karakters se dade onderlê en ondermyn dus die skerp sosiale kritiek wat die drama tot dusver gelewer het.

Lottie se karakter blyk 'n stereotipe van 'n tuisteskepper te wees. Haar eenvlakkigheid veroorsaak 'n afstand tussen haar en die gehoor en die gebeure is dus minder skokkend as wat dit sou gewees het indien sy 'n ronde karakter was met wie die gehoor makliker kon identifiseer.

Die drama se ritme en tempo skep wel 'n spanning wat veral tasbaar behoort te wees as die stuk in 'n klein ruimte opgevoer word, soos die teks aanbeveel. Die teks is dus nie op lesers of 'n gehoor gemik wat onstellende dramas vermy nie. Dié wat wel nie wegskram van 'n ongenaakbare uitbeelding van die donker wendings wat persoonlike teleurstelling kan veroorsaak nie, sal hierby aanklank vind.

In glas se toneelmatigheid beïndruk en die teks spreek belangrike en relevante kwessies aan. Dit is dus jammer dat die trefkrag van die teks effens afgestomp is deur 'n eufemisme en 'n eenvlakkige karakter.

 

 

Correspondence:
Lida Krüger
krugeja@unisa.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License