SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número1Afrikaans uit en van Europa: Deel een van die storie van AfrikaansLoop die waarheid soms net vir kwaadgeld rond? índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.39 no.1 Mafikeng  2018

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v39i1.1532 

BOOK REVIEW

 

Is The Alchemist soos goud bewaar?

 

 

Herculene Kotzé

School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die Alchemis
Author: Paulo Coelho
ISBN: 978-1-4853-0685-6
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2017, R180*
*Book price at time of review

Asof die eerste verskyning van Paulo Coelho se O Alquimista in Portugees (uitgegee deur Editora Rocco, 1988) nie reeds merkwaardig genoeg was nie, volg daar meer as 70 vertalings daarvan. Die opgang van hierdie werk is deur die Engelse vertaling (The Alchemist) verder gevoer, en weldra verskyn dit ook in Afrikaans. Hierdie roman geniet steeds wêreldwyd aansien as een van die mees invloedryke filosofies-literêre werke. Dit fokus op simboliserende wyse op elke mens se destiny,1 en volg hierin die verhaal van 'n jong skaapwagter se soeke na geluk. Hierdie werk word onder andere deur 'n Jungiaanse beskouing onderlê van 'n kollektiewe onbewuste wat deur alle lewende wesens gedeel word.

Die eerste lees van die Engelse weergawe (vertaal deur Alan R. Clarke en in 1993 deur Harper Collins uitgegee) was vir my persoonlik verrykend en dit is vandag steeds een van my gunstelingboeke. Ek vra myself wel gereeld af hoeveel lesers (van meet af) besef dat die Engelse boek 'n reeds vertaalde weergawe is. Hierdie bewustheid behoort dan ook die leser van die nuwe Afrikaanse vertaling myns insiens sekere vrae te laat vra: Het die vertaler toegang tot die oorspronklike Portugese weergawe gehad? Het die vertaler toegang tot die outeur gehad? Wat was die vertaler se voorskrifte en natuurlik, wie het opdrag gegee dat die vertaling gedoen word?

In die geval van Die Alchemis, vertaal deur Kobus Geldenhuys en in 2017 deur Protea Boekhuis uitgegee, het ek nie antwoorde op die bogenoemde vrae nie. Dieselfde is waar van die eerste Afrikaanse vertaling van The Alchemist, deur Bennie Naudé vertaal en in 2003 deur Aardvark Press uitgegee. Daarom verander my vertrekpunt noodgedwonge van 'n ingeligte gehaltebeoordeling na 'n tekstuele evaluering van die vertalings.

Die vertaling van so 'n teks is en kan nie as 'n eenvoudige taak beskou word nie. 'n Mens sou selfs kon bevraagteken of die essensie van die verhaal werklik in 'n ander taal oorgedra kan word. Om die waarde van 'n literêre vertaling op so 'n manier te bevraagteken, is egter nie die doel van hierdie resensie nie, en dus steun ek op die werk van Pym (2010:7-8) wat argumenteer dat 'n vertaling inderdaad dieselfde waarde as (ten minste gedeeltes) van die bronteks sal bevat - en hierdie benadering word 'natuurlike ekwivalensie' genoem. Vanwersch-Cot (2011:262) ondersteun hierdie beginsel en voer aan dat die literêre vertaler nie woorde vertaal nie, maar betekenis, ritmes, beelde en konnotasies (my vertaling).

My resensie steun op hierdie teoretiese beskouing: die (her)vertaalde boek moet die betekenis, ritmes, beelde en konnotasies van die bronteks op so 'n wyse aanbied dat die leser dit nie as 'n vertaling ervaar nie, maar as 'n primêre2 teks. Om hierin te slaag, het ek enkele kernfrases van sowel die Engelse as die twee Afrikaanse tekste onttrek en aan die hand van Vanwersch-Cot se elemente ontleed.

Op die oog af blyk daar min verskille in die twee Afrikaanse vertalings te wees en ek wonder waarom daar 'n tweede Afrikaanse vertalings onderneem is (Tabel 1).

 

 

Mettertyd word dit egter duidelik dat die twee vertalings tog heelwat van mekaar verskil (Tabel 2).

 

 

In die geïdentifiseerde frases vertaal Naudé 'he muttered' met 'dink hy hardop', terwyl Geldenhuys 'brom' gebruik. Kontekstueel sou 'mompel' in beide gevalle dalk 'n beter keuse gewees het - die situasie gee min aanduiding dat die seun geïrriteerd is deur die skape - wat 'n mens van 'brom' aflei. In teenstelling hiermee weerspieël 'dink hy hardop' 'n afwesigheid van emosie, wat ook nie akkuraat is nie.

Hierdie tipe verskille is deurgaans in die vertalings te vind (Tabel 3).

 

 

Waar Naudé telkens verkies om op 'n neutraler wyse te vertaal, poog Geldenhuys om emosie weer te gee, maar op 'n onidiomatiese wyse. 'n Meer akkurate vertaling kon wees: 'Ek het wol wat ek moet verkoop', wat beide die oorspronklike konteks weerspieël en meer idiomatiese taalgebruik is.

Nog 'n voorbeeld hiervan kan in die volgende uittreksels gesien word (Tabel 4).

 

 

Die insluiting van 'op 'n stadium' in Geldenhuys se vertaling is dalk meer getrou aan die Engelse bronteks se 'at one point', maar is onnodig gegewe die konteks en word suksesvol deur Naudé uitgelaat sonder dat enige betekenis verlore gaan.

As dit om die inhoud en akkuraatheid gaan, is dit 'n jammerte dat Geldenhuys 'n belangrike frase verkeerd vertaal het (Tabel 5).

 

 

Vanuit bostaande voorbeelde kan die gevolgtrekking gemaak word dat die twee Afrikaanse vertalings tipies is wanneer dit om geskiktheid teenoor gepastheid gaan, wanneer 'n mens vertaalnorme beskou, en getrouheid teenoor óf die bronteks of kultuur, óf die doelteks of kultuur by die gesprek betrek. Waar Geldenhuys se vertaling as getrou teenoor die bronteks (in hierdie geval die Engels) beskryf kan word, kan Naudé se vertaling as getrou ten opsigte van die doeltaal of -kultuur (Afrikaans) beskryf word. Daar is meriete in beide vertaalbenaderings, maar in die lig van die voorafgenoemde (en die feit dat daar nie antwoorde op die tipiese vrae is as dit om vertaalopdragte en toegang tot die oorspronklike Portugese teks of die outeur gaan nie), verkies ek nie een bo die ander een nie - en ek wonder steeds hoekom die Engelse weergawe twee maal in Afrikaans vertaal is.

Die waarde van die vertaalde weergawes lê in die toeganklikheid. Die oorspronklike Portugees sal waarskynlik deur min Afrikaanssprekendes gelees kan word. Alhoewel hierdie probleem deur die Engelse vertaling opgelos is, is dit verstaanbaar dat die Afrikaanse boek- en leesliefhebbers eerder in hulle eerste taal wil lees vir ontspanning - en dus sal die boek by Afrikaanssprekendes belangstelling wek.

Ter opsomming: Beide Afrikaanse vertalings kan verbeter word. Die Engelse teks word, myns insiens, nie volkome deur een van die twee Afrikaanse vertalings soos goud bewaar nie. Terwyl elkeen meriete het, kon afronding meer aandag geniet het om te verseker dat die betekenis, ritmes, beelde en konnotasies wat in die Engelse weergawe verskyn, behoue gebly het.

 

Literatuurverwysings

Even-Zohar, I., 1978, 'The position of translated literature within the literary polysystem', in L. Venuti (ed.), The translation studies reader, 2nd edn., pp. 99-204, Routledge, London.

Pym, A., 2010, Exploring translation theories, pp. 7-24, Routledge, London.

Vanwersch-Cot, O., 2011, 'The problem of self-assessment in literary translation', in I. Depraetere (ed.), Perspectives on translation quality, pp. 249-263, De Gruyter, Cumberland.

 

 

Correspondence:
Herculene Kotzé
herculene.kotze@nwu.ac.za

 

 

1 . Die Engelse woord destiny word doelbewus behou eerder as 'lot' of selfs 'bestemming'. Die beginsel word in die Engelse boek gebruik om meer weer te gee as waarvoor die Afrikaanse term - volgens my - ruimte laat.
2 . 'Primêre' teks verwys hier na Even-Zohar (1987) se teorie dat vertaalde tekste sentrale posisies in 'n sisteem kan inneem en nie as 'n tweederangse teks beskou word nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons