SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número1Empathy, enemies and present participles: A review of Justify the enemy: Becoming human in South AfricaSederoman sorg vir 'n donker, boeiende leeservaring índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.39 no.1 Mafikeng  2018

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v39i1.1522 

BOOK REVIEW

 

Spieëlbeeld - Franz Marx: In dié spieël moet jy kyk

 

 

Jo-Riëtte Jacobs

Department of Afrikaans, Academic Reformatory Training and Studies, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Spieëlbeeld
Author: Franz Marx
ISBN: 978-1-4853-0399-2
Publisher: Protea Boekhuis, 2017, R250*
*Book price at time of review

In 2017 waag die vader van die Afrikaanse sepie dit op onbekende terrein toe hy sy debuutspanningsroman aanpak. Spieëlbeeld deur Franz Marx verskyn in 2017 as 'n vollengte roman - die voltooide, afgeronde produk wat volgens Marx uit 'n frustrerende, maar fassinerende proses voortgevloei het (Opperman, 2017).

Kort voor die viering van sy vyftigste lewensjaar besef Dolf Eksteen dat sy verjaarsdagsjampanje galbitter sal proe. Na die glansryke, maar leë bestaan wat Eksteen tot dusver gevoer het, sien hy aanvanklik nie veel uit na sy volgende halfeeu op aarde nie.

Ongeveer 'n kwarteeu jonger, is Joe Minnie - 'n karakter uit wie se mond drie opeenvolgende Afrikaanse woorde 'n rare verskynsel sou wees. Beslis 'n rowwe Jack, of so sal die spieël jou dalk vertel. Soms bedrieg die skyn egter, want Joe Minnie lieg nie, hou nie van alkohol nie en nog minder van gewere. Dit is op 'n warm en erotiese aand in Exotica dat die paadjies van Eksteen en Minnie uiteindelik kruis. Hoe ongedeerd enige van die twee egter hiervan afkom, sal die tyd moet leer.

Gou maak die leser met 'n ander soort wêreld in Spieëlbeeld kennis - 'n wêreld veel minder glansryk as wat die verleidelike stadsliggies in oënskynlike gulhartigheid beloof. Die leser word nie sagkens aan hierdie wêreld blootgestel nie. Hierdie soort lewe waarin moraliteit tot 'n wildvreemde konsep omskep word, word onbeskroomd vir die leser oopgevlek. Hoewel soms kras en eksplisiet, is dit wel die brutale soort blootstelling wat 'n opmerklike outentisiteit aan die verrotte milieu en sy stukkende karakters verleen.

In Spieëlbeeld is daar egter ook 'n ander wêreld wat hom op die voorgrond dwing. Daarvoor sorg Dolf Eksteen met sy fyn aanvoeling vir die kunste en klassieke musiek. Van 'Afrikaans Eerste' moet daar ook nie vergeet word nie - die bittereinders wat tot op die laaste vir die bewaring van Die Taal sal veg. Die manier waarop hierdie twee wêrelde binne die bestek van die roman teenoor mekaar afgeëts word, val sterk op. Die ooglopende gemak waarmee Marx as skrywer tussen die twee wêrelde beweeg, is opvallend. Om sy formidabele skryfvernuf mis te kyk, sal juis op grond hiervan vir die leser moeilik wees.

Verder is die uitbeelding van die mens en sy onvermoë om werklik te sién, besonder fassinerend. Marx het in hierdie verband uitgelig dat die spieël hom interesseer. Oënskynlik sou 'n mens kon glo dat die spieël die mens in staat stel om te sien hoe jy regtig lyk. Dit is egter reeds vroeg in die roman te betwyfel of hierdie oppervlakkige waarheid werklik oortuig, wanneer Dolf voor sy spieëlbeeld dink: ''n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie' (bl. 18).

Hierdie siniese, maar interessante waarneming dien vroeg in die roman as bousteen vir die boeiende intrige wat later ontvou. Dit is hierdie opmerking wat later in die gedagtestroom van die leser eggo. Dit is veral namate die leser iets rondom die mens en sy belemmerde selfvisie begin besef dat die eggo terugkeer. Die onvermoë tot selfkennis en -aanskouing word voorts in die motto van die roman, afkomstig uit 'Ballade van die Bose' deur N.P. van Wyk Louw, weerspieël.

Dit is juis die dieperliggende kommentaar op bovermelde kwessies wat Spieëlbeeld as 'n karakterroman laat ontwikkel. Die karakterisering van die twee hoofkarakters ontvou as die spil waarom die roman draai (Opperman 2015). Hoewel die aanslag van Marx met sy karakters (veral Joe) waaghalsig is, is dit immers opvallend dat hy die wêreld van leser en karakter geleidelik al nouer met mekaar verweef. Dít nadat Joe, Louis, en Anél aanvanklik wêrelde van die leser verwyder voel - almal karakters by wie die leser aan die begin sukkel om tuis te voel.

In die geheel gesien, is dit sy slim uitgedinkte struktuur wat Spieëlbeeld van meer voorspelbare spanningromans onderskei. Marx openbaar 'n intelligente en kreatiewe aanslag wanneer hy die intrige deurlopend met 'n koel en kliniese lykskouingsverslag (in tikmasjienskrif) en sensasionele koerantberigte aanvul. Die aanvullende gedeeltes verhoog die graad van meelewing by die leser. Ek het ook die tong-in-die-kies skryfstyl van Marx geniet, waar hy dikwels op 'n droë, maar pittige manier na mense se alewige koffie- en teedrinkery verwys. Hoewel die ontknoping die leser onbevredig kan laat, bied dit tog 'n realistiese blik op die spieëlbeeld van die lewe, waar krake nie altyd maklik herstel kan word nie.

Verder is die aktuele perspektief op die sensitiewe taalkwessie besonder opmerklik. Teen die agtergrond van gemengde tale, werk Marx dit binne die verhaal in. Marx bied binne die gegewe konteks interessante stof tot nadenke - veral ten opsigte van die Afrikaner wat tans sy eie gat in die benarde taalsituasie grawe. Verder slaag Marx daarin om binne 'n kontemporêre Suid-Afrikaanse werklikheid besinning oor die sin en ware funksie van 'n tydgenootlike Suid-Afrikaanse regstelsel te bring.

Die oomblik wat mens ontdek waarheen die intrige die karakters so onvermydelik lei, kan die sterk opwelling van teenkanting jou verras. Tog lê die meriete van die roman juis hier: die vernuftige wyse waarop Marx geleidelik deernis en empatie teenoor sy karakters in 'n verdorwe wêreld kweek. Die skielike teenstand betrap die leser daarom onkant, maar dien terselfdertyd as 'n aanduiding van die verhaal se geslaagdheid.

Die spanningdraad in Spieëlbeeld as spanningsroman word subtiel, maar slim beheer. Dit ontwikkel veral namate Eksteen ontdek dat dit nie altyd so maklik is om tussen vriend en vyand te onderskei nie. Hiermee saam is die roman ook 'n ontdekkingsreis waarin die karakters sowel as die leser eintlik saam kan groei. Die roman kan nie vir die meer konserwatiewe leser aanbeveel word nie. 'n Leser wat egter van 'n spanningsroman hou waarin dieper in die menslike psige gedelf word, sal by hierdie roman aanklank kan vind.

 

Literatuurverwysings

Opperman, A., 2017, 'Franz Marx se eerste roman gou op rakke', Die Volksblad, 28 Sep., besigtig op 21 Maart 2018, vanaf https://www.pressreader.com/south-africa/volksblad/20170928/281784219286903

 

 

Correspondence:
Jo-Riëtte Jacobs
joriettej@gmail.com

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons