SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número1Die Bergengel - 'n diggeweefde tapisserieNóg oorlog, nóg terpentyn índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.39 no.1 Mafikeng  2018

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v39i1.1462 

BOOK REVIEW

 

Kladboek van ʼn flaneur: Afskeid van Europa - Aantekeninge

 

 

Adéle Nel

Department of Afrikaans and Dutch, School for Languages, North-West University, Vaal Triangle Campus, Vanderbijl Park, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Afskeid van Europa: Aantekeninge
Author: Karel Schoeman
ISBN: 978-1-4853-0470-8
Publisher: Protea Boekhuis, 2017, R239*
*Book price at time of review

Na Karel Schoeman se tragiese heengaan op 01 Mei 2017 verskyn daar twee tekste wat as persoonlike sluitstuk dien: Slot van die dag: Gedagtes en Afskeid van Europa: Aantekeninge. Albei handel oor afskeid, oor herinnerings en laaste belewenisse met 'n ondertoon van heimwee en gelatenheid. Volgens die flapteks is Afskeid van Europa as laaste reisbeskrywing bedoel. Hierdie boek is dus nie 'n reisgids nie, maar bied persoonlike aantekeninge oor twee kort besoeke aan Europese stede in 2011 en 2013. Dit behels 'n afskeid van Amsterdam en Berlyn, 'n eerste kennismaking met Dresden, nadere kennismaking met Salzburg en 'n uitgebreide verkenning van Wene.

Dit spreek vanself dat reis en afskeid 'n deurlopende tema in hierdie teks is soos uit die titel blyk. Op bykans paradoksale wyse bevat die reis retro- én prospektiewe elemente. Retrospektief is daar verwysings na vorige reise en ervarings en verblyf; prospektief is die besoek tekenend van afskeid neem en by implikasie die naderende dood, want aan die einde bely hy: 'Ek sou hierdie boek ook Die einde van die dag kan noem' (bl. 247). Schoeman benadruk deurentyd die intens persoonlike wyse waarop hierdie laaste besoeke aan die Europese stede geskied. Ten spyte van die vertroudheid met strate, geboue, museums en kunsskatte, pleine en parke bly die oorheersende ervaring steeds verwondering: 'Genoeg, ten slotte, om net te wéés, om hiér te wees' (bl. 43).

Ruimtelike gerigtheid staan voorop en daar is 'n sterk visuele inslag in die boek. Schoeman identifiseer spesifiek met die tradisionele flaneur as 'hartstogtelike waarnemer' (bl. 98) wat 'n daaglikse ronde maak en sien, luister en kyk - 'n dwaal sonder haas of doel vir die pure genoegdoening wat verkry word uit dit wat jy al dwalende ervaar (bl. 98). Benewens die plesier wat die voettog aan die flaneur bied, dien dit tog ook 'n doel, want volgens Schoeman is flaneurs kunstenaars, ook as hulle nie skryf nie. 'In die flaneur word die stad van homself bewus', want 'hulle is die oë, die notule, die herinnering, die oordeel en die argief' (bl. 100). Die flaneur funksioneer boonop ook as getuie. Schoeman voeg 'n verdere vorm van flaneer as tydverdryf toe, naamlik 'flaneer op papier' of 'literêre flânerie' - 'n ronddwaal in leesstof. Uiteindelik is dit die wyse waarop die teks benader word - nie alleen deur die skrywer nie, maar ook deur die leser.

Afskeid van Europa bied 'n wye spektrum van onderwerpe en temas. Karel Schoeman is bekend vir sy navorsingsvernuf en verbysterende kennis van die Europese, sowel as die Suid-Afrikaanse geskiedenis. As (literêre) flaneur notuleer hy telkens brokke geskiedenis, herinner hy aan belangrike rolspelers in die verlede en argiveer hy feitelike inligting van die stede wat hy besoek. Hierbenewens vul hy telkens die beskrywings aan met persoonlike verhale van gewone mense en verbeel hom die stemme van die verlede. Deur hierdie persoonlike geskiedenisse egter met die beskrywings van historiese geboue en gebeure te vervleg, slaag Schoeman daarin om die geskiedenis op lewende wyse voor oë te hou. Benewens die aandag wat hy aan geskiedkundige gebeure van die sewentiende en agttiende eeu gee, doen hy ook verslag van die politieke geskiedenis van 'n onlangse verlede, met spesifieke verwysing na die grootskaalse vernietiging van die Tweede Wêreldoorlog en die gruwels van die Hitler-bewind.

Schoeman skryf eweneens verhelderende aantekeninge oor geliefde kunstenaars, skrywers, digters, musici en kunswerke; kortom, die ryk kultuurerfenis van Nederland, Oostenryk en Duitsland. Hy lê veral klem op die agttiende eeu en maak die stelling: 'In my eie oë, herhaal ek nou, was die agttiende eeu tog die tyd waarin die Westerse beskawing [] die ontstaan van die Verligting meegemaak het, en waarin die kuns en kultuur van Europa sy hoogtepunt bereik het' (bl. 174). Afskeid van Europa is uiteindelik 'n samevatting van waardes en persoonlike voorkeure, en so doen hy verslag van sy geesteslewe en intellektuele vermoëns.

Teen die agtergrond en in die lig van sy eie oorsprong en besoeke, skryf Schoeman mymerend en besinnend oor sy persoonlike verhouding met Nederland en die Nederlanders. Sy uitgangspunt is: 'ek ken die land te goed om dit deur vreemde oë te kan betrag' (bl. 29). Die vraag ontstaan onvermydelik ook wáár hy eintlik hoort. Hy kom wel tot die sekerheid 'in m'n eigen huid' (bl. 91), want die helder wete is ook: 'ek is my eie middelpunt' (bl. 217). Tog kom Schoeman ten slotte uit die verf as Europese afstammeling wat nooit onloënbaar aangeland het nie, om met Antjie Krog saam te praat. Hy kom na sy terugkoms tot die gevolgtrekking:

Ek kan in Amsterdam kom of Berlyn, ek kan by 'n straat in Wene af stap waar ek nooit eerder was nie, en daar onmiddellik tuis voel op 'n manier waarop ek dit in Suid-Afrika nie buite die mure van my eie huis is nie, en miskien ook nooit werklik was nie. (bl. 92)

Afskeid van Europa bied 'n veeleisende leeservaring. Tipies van Schoeman is die lang beskrywende volsinne en die deftige en inspannende taalgebruik - woorde soos 'megalomane brousel', 'protserige gedenkteken', 'stamelende parlitikis', 'gefingeerde', 'pompeuse'. In die twee hoofstukke oor Amsterdam is daar talle Nederlandse (soms uitvoerige) aanhalings wat gevolglik die gevaar inhou om die leser te verloor. Schoeman bied 'n indrukwekkende hoeveelheid inligting in hierdie omvangryke teks wat die leser terselfdertyd uitdaag om by die lees met dieselfde 'hartstogtelike' meelewing as Schoeman te werk te gaan. Vir die leser wat bereid is om saam te flaneer, is die boek 'n ryk leeservaring.

 

 

Correspondence:
Adéle Nel
adele.nel@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons