SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número1The persistence of spiritKladboek van ʼn flaneur: Afskeid van Europa - Aantekeninge índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.39 no.1 Mafikeng  2018

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v39i1.1499 

BOOK REVIEW

 

Die Bergengel - 'n diggeweefde tapisserie

 

 

Franci Greyling

School of Languages, Faculty of Humanities, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die Bergengel
Author: Carina Stander
ISBN: 978-1-4853-0750-1
Publisher: Protea Boekhuis, 2017, R220*
*Book price at time of review'

Soos Alida Verberger in Die Bergengel tapisserieë weef wat tonele van haar klokreise saam met haar man uitbeeld, weef Carina Stander in hierdie roman 'n unieke storiewêreld wat die leser uitnooi om fyn te lees en ánders te kyk. Die Bergengel (2017) volg na twee digbundels, naamlik die vloedbos sal weer vlieg (2006) en woud van nege en negentig vlerke (2009) asook 'n roman, Wildvreemd (2011). Resensente van Stander se vorige werk het melding gemaak van die natuurbewustheid, noukeurige waarnemings, sintuiglikheid, beeldingskrag, gedetailleerheid, die impressionistiese en magiese aard van die skryfwerk - kenmerke wat ook ten opsigte van Die Bergengel aangetoon kan word.

Reeds van die voorplat af, 'n inkskets deur die skrywer, word die storiewêreld, atmosfeer en belangrikste motiewe van die werk gesuggereer. Die illustrasie bestaan uit lyntekeninge van 'n berg gevorm uit vlerke, en bome en takke waarin verskuilde vorms en figure ontdek kan word. Voëlnessies onderaan die ontwerp word byvoorbeeld alsiende oë wanneer hulle van die ander kant af bekyk word. Aansluitend by die titel en 'n aanhaling op die voorplat, verskaf die voorwoord 'n uiteensetting van die oorsprong en betekenis van die woord Bergengel. 'n Nawoord bied 'n sleutel tot hoe die werk gelees kan word, naamlik as reismistiek, uitgebreide metafoor, gelykenis of allegorie met trekke van magiese realisme - as 'n intertekstuele weefwerk.

Die Bergengel vertel op die spoor van die reis- en grootword-ervaringe van Eron Verberger ook die verhaal van Gabriëllië, 'n land in die oorgang vanaf 'n landelike na 'n geïndustrialiseerde samelewing. As enigste kind van die laaste rondreisende klokgieters Gibor en Alida Verberger, groei Eron op in die beskermende omgewing van die kusdorpie in Tzur, een van die twaalf regione van Gabriëllië. Dié fiktiewe vasteland, waarvan 'n kaart in die boek afgedruk is, word in uitgebreide en gedetailleerde besonderhede aan die leser voorgestel en soos die gebeure ontvou, aangevul en verdig sodat 'n veelvlakkige en geloofwaardige storiewêreld tot stand gebring word.

Vroeg reeds maak Eron kennis met stories oor die mitologiese figuur van die Bergengel wie se hooftaak dit is om Vuurstorms te beveg, om vrede te handhaaf. Eron maak ook kennis met die bose in die vorm van 'n gevalle Bergengel, die goëlkunstenaar wat telkens van naam en gedaante verander: die reënboogmaker, die vuurmeester, die Verbluffende Bluffer, die steltstapper, Velvel Azasel. Om hom uit die kloue van Velvel en van 'n naderende Vuurstorm te red, neem Gibor sy seun op 'n reis waartydens hy hom in die kuns van klokgietery inlei, hulle nuwe landstreke leer ken, kleurvolle mense ontmoet, avonture beleef en ontberings ondergaan. Hulle pad kruis ook telkens met dié van Velvel Azasel wat Eron by herhaling uitnooi om hom te volg en Eron met sy eie skadukant konfronteer.

Die kenmerkende patrone en motiewe van 'n heldereis en die gepaardgaande volwassewording van 'n jong hoofkarakter, word met 'n groot verskeidenheid temas verweef, waaronder die verhouding tussen ouer en kind, natuurbewustheid en die eksploitering van die omgewing, magsmisbruik en manipulasie, en die verwerking van persoonlike en gemeenskaplike trauma. Verskeie leidrade in die teks bied die moontlikheid om die tekswêreld as simbolies en allegories te interpreteer, asook met historiese en aktuele gebeure te verbind. Deur die loop van die verhaal word karakters van nader leer ken, geheime onthul en storielyne verbind. Met die herlees van Die Bergengel blyk dit hoe dié fynverweefde storiewêreld reeds van die eerste woord af tot stand gebring word.

Dit is veral die vertelstrategie, beskrywings en taalgebruik wat besondere tekstuur aan die werk verleen. Alhoewel die gebeure met 'n agternaperspektief deur 'n eksterne verteller vertel word, word die waarnemings van die verteller en karakterfokalisator(s) sintuiglik en in soveel besonderhede beskryf, dat die tonele as 't ware voor die leser afspeel. Poëtiese en ritmiese taalgebruik en verdigtingstegnieke soos beskrywing, beelding, enumerasie en alliterasie dra by tot die besonder sintuiglike ervaring. Die poëtiese taalgebruik en beklemtoning van besonderhede bring mee dat nie slegs die oorkoepelende narratief en tonele as 'n uitgebreide metafoor vertolk kan word nie, maar ook dat sinne en woorde potensieel met betekenis gelaai word. Waar die uitgebreide besonderhede, gedetailleerde beskrywings, ryklike gebruik van metafore en poëtiese taalgebruik tot die atmosfeer en tekstuur van die werk bydra, kan dit egter ook ervaar word as oorverduideliking en bewustelike mooiskrywery. Soos Eron (wat die lewe met sy eie verstand en al honderd sintuie ontdek) behoefte het aan tyd om te rus en te herstel, voel die leser van Die Bergengel soms sintuiglik oorlaai. Hier sou gestroopter taalgebruik groter balans kon bring. Vir lesers van fantasie en magiese realisme, waar 'n geloofwaardige wêreld deur noukeurige aandag aan klein besonderhede opgebou word, en vir lesers wat die verskuilde moontlikhede al lesend wil ontdek, bied Die Bergengel 'n boeiende leeservaring - en die vooruitsig dat die wêreld en karakters in die volgende twee boeke van die trilogie verder verken kan word.

 

 

Correspondence:
Franci Greyling
franci.greyling@nwu.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons