SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.38 n.1 Mafikeng  2017

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v38i1.1297 

BOOK REVIEW

 

Lees met 'n vrye verbeelding

 

 

Salomi Louw

School of Languages and Communication, University of Limpopo, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Land van skedels

Author: Nicola Hanekom

ISBN: 978-1-4853-0253-7

Publisher: Pretoria: Protea Boekhuis, 2015, R150*

Lees en verbeel jou jy is in die veld. Daar staan verskeie kloktente rond met mense in en om dié vernielde skuilings wat 'n konsentrasiekamp uit die Anglo-Boereoorlog voorstel: klein toneeltjies speel hierin af waardeur jy, as deelnemer, betrek word by die gebeure en die geskiedenis van dié mense. Terwyl 'n Engelse soldaat jou en ander lede van die gehoor vergesel, vind daar interaksie plaas met talle van die vroue in die kamp. Hulle het egter almal beweeglike vlerkies op hul rûe wat aantoon dat hulle nie meer bestaan nie, lankal dood is: dus engele.

Van die karakters lei die gehoor later na 'n area waar hulle op stoele plaasneem en wat oor die konsentrasiekamp en begraafplaas uitkyk. Op die speelvlak sit aan die een kant 'n Brit op 'n hoë stoel - tekenend van sy gesag - en aan die ander kant 'n Boer op 'n kort stellasie met 'n saal, asof hy te perd is. Dié twee bring Kitchener en Paul Kruger in gedagte. Hulle vertel gebeure uit die oorlog terwyl van die karakters tussenin ook hulle stories vertel en uitspeel. Daar is 'n swart vrou, Bokamoso, wat vertel van omstandighede in die swart konsentrasiekampe en haarself 'fourteen thousand one hundred and fifty four' noem (bl. 73) - die getal mense wat in daardie kamp dood is. Sy sê verder: 'I am history. I am not dead. I am not dead. I am alive' (bl. 77), wat gesien kan word as tema van hierdie drama.

Die karakter Langkappie dra nie vlerkies nie, aangesien sy die dood verteenwoordig en lewensdrade knip met haar groot skêr, terwyl Emily Hobhouse haar probeer verhinder - alles baie simbolies. 'n Groep dansers vervul verskeie rolle, van soldate tot inwoners van die swart konsentrasiekampe en - met hiënamaskers op - handlangers van die dood.

Sophia se woorde: 'Hulle het van ons vergeet' (bl.82), sluit aan by Bokamoso ('Hoop') se uitspraak dat hulle lewende geskiedenis is. Die verskillende konsentrasiekampe word opgenoem, maar die toepassing word verder getrek deur die wêreldgeskiedenis sedert 1902: deur Suidwes-Afrika; Armenië; die Joodse lyding tydens die Tweede Wêreldoorlog; Stalin se vergrype en dié in China; tot in Rwanda as voorbeelde van hoe mense mekaar uitmoor. Die drama eindig met die uitroep: 'Rise free!' (bl. 85).

Hierdie grootskaalse buitelugopvoering - selfs met die Brit wat vure in die veld aansteek - het buitengewone akkolades gekry. Nicola Hanekom is 'n veelbekroonde aktrise en dramaturg en het voorheen al, onder meer, elf Kanna-toekennings, vier Fiësta-toekennings en twee ATKV-Woordveertjies ontvang. Sy het ook al Beeld se Aardvarkprys ontvang, sowel as die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys. By die Fiësta-toekennings in Februarie 2016 is sy weer eens drie keer bekroon: vir beste regie, beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie en beste aanbieding vir In glas. Voorwaar 'n gedugte teatermens.

Land van skedels is 'n uitdagende, swaartillende leeservaring. Die drama het geen ligter momente nie, al onderbreek kinderkore (wat in Nederlands sing) en danse die melodrama, en die aanslag is deurgaans donker. Daar is geen karakter met wie jy as leser jou kan vereenselwig nie, aangesien daar té veel karakters is en almal onder groot tragiek ly.

Die skryfwerk is vlot in drie tale: Afrikaans, Engels en Setswana. Die skrywer maak baie gebruik van bestaande tekste en sy skryf in haar bedankings: 'Baie van die dialoog in Land van skedels is aan die hand van genoemde werke geskep [sy noem publikasies oor die Anglo-Boereoorlog - SL]. Dankie ook aan Jan F.E. Celliers, C.L. Leipoldt, D.J. Opperman en al die dooies wat vir ons woorde nagelaat het.' Dié eggo's weerklink deurgaans en word met tye ook in Engels weergegee.

Enkele kere is daar 'n ietwat onlogiese gang in die dialoog, soos wanneer Alie sê daar het nog driehonderd mense in die kamp opgedaag. Moeder vra dan: 'Hoeveel meer? Dit skyn nou ontelbaar te word. Waar moet almal heen?' waarop 'n Brit praat oor die primitiewe medisyne waaraan die Boere glo (bl. 48). Soms ontbreek 'n komma om hoof- en bysin se werkwoorde te skei: 'Ná goud ontdek is wou die "beskawing" skielik oor ons storm tot roem en eer van Engeland' (bl. 31).

Die publikasie is egter, soos gewoonlik deur Protea Boekhuis, goed versorg. Die somberheid van die drama word weerspieël in 'n paar loodgrys bladsye, ook as agtergrond vir die skut- en titelblaaie. Die tien swart-en-wit foto's wat ingesluit is, help die leser om 'n opvoering voor die oog te hou.

Die omvattende geskiedenis en gebeure wat in Land van skedels aangeraak word, is interessant en stem 'n mens tot denke. Vir alle teatergangers en ook geskiedkundiges sal dit 'n roerende leeservaring wees.

 

 

Correspondence:
Salomi Louw
louwsalomi@gmail.com

 

 

* Price at time of review

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License