SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 número1 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Literator (Potchefstroom. Online)

versión On-line ISSN 2219-8237
versión impresa ISSN 0258-2279

Literator vol.38 no.1 Mafikeng  2017

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v38i1.1318 

BOOK REVIEW

 

Huldeblyk aan 'n blymoedige gewer

 

 

Thys Human

School of Languages, Afrikaans and Dutch, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 

Book Title: Om Hennie Aucamp te onthou

Author: Danie Botha

ISBN: 978-1-4853-0474-6

Publisher: Protea Boekhuis, 2015, R150.00*

 

 

Na Hennie Aucamp se dood op 21 Maart 2014, slegs twee maande na sy 80ste verjaarsdag, is die lewe en werk van dié gevierde skrywer op talle platforms en vanuit verskillende oorde gehuldig. Toe Danie Botha aan die einde van 2014 op voorstel van Nicol Stassen besluit het om as samesteller op te tree vir ''n huldigingsbundel aan Hennie Aucamp', het hy egter besluit dat letterkundige bydraes met ontledings van Aucamp se werk buite die raamwerk van so 'n projek sou val. Hy was eerder geïnteresseerd in die persoonlike herinneringe van mense wat 'baie betrokke' by Aucamp was en het spesifiek 'vertellings in enige trant aangevra; ook gedigte, foto's en ander illustrasiemateriaal'.

Die resultaat is 'n aantreklike, dog beskeie bundel herinneringe met die titel Om Hennie Aucamp te onthou (2015). Op sowel die voor- as die agterblad verskyn een van die vele foto's wat Philip de Vos gedurende Aucamp se skrywersloopbaan van hom geneem het.

In die eerste bydraes deur familielede word veral 'n beeld van Hennie se jeugjare en sy hartland, die Stormberge, gegee. Hennie se suster Rina roep hulle geborge kindertyd op die familieplaas Rust-mijn-ziel aan die hand van kostelike anekdotes in herinnering. Hieruit blyk dit reeds dat Hennie 'n leeshonger, aartsnuuskierige kind met 'n sin vir avontuur was. Hennie se susterkind Mari Naudé dink veral terug aan haar oom Hendrik se liefde vir kos en resepte, maar onthou ook die wonderlike stories wat hy langs die etenstafel vertel het. Mari se suster Anneke Lipsamen verwys in haar bydrae na die vormende invloed wat Hennie op haar loopbaan as kunstenaar gehad het, asook na die stimulerende Skype-gesprekke wat hulle oor onderwerpe soos volkskuns, volksgebruike, mitologie en ou beskawings gevoer het.

Vir die skrywer Margaret Bakkes, 'n kleinniggie van Aucamp, is die helderste herinnering haar en Hennie se gesamentlike kindervoorneme om eendag skrywers te word:

Deur baie jare het ons kontak behoue gebly én ons dwang en begeerte om te skryf. Ek het spoedig geweet:
Hennie is meester, toegewy aan die skryfkuns. Ek self was huisvrou, ma van vier en tussendeur skrywer. (bl. 27)

Terwyl Bakkes haar veral op die skryf van romans toegespits het, het Aucamp hom hoofsaaklik met die kortkuns besig gehou. Toe Bakkes hom by geleentheid gevra het waarom hy nooit 'n roman aangedurf het nie, was hy onomwonde beslis: Die kortkuns was sy eerste liefde. 'En hy het dit meesterlik hanteer - die kortverhaal, die essay, die hekeldig, toneel en kabaret - noem maar op,' voeg sy komplimenterend by.

Twee van Margaret se seuns, Christiaan en Marius, pen ook hul herinneringe aan Aucamp neer. In albei bydraes word daar oor 'n tipe erflating besin: In Christiaan se geval is dit 'n eksemplaar van die besonder gesogte Mammals of South West Africa (1934) deur Shortridge - ''n bybel onder natuurmense' - wat hy van Aucamp ontvang het. In Marius se geval is dit veral die vormende invloed wat Hennie as 'een van die nuuskierigste, mees ondersoekende en skeppende geeste van ons tyd' op hom as mens gehad het. Marius skryf die hegte band tussen hom en Hennie veral daaraan toe dat hulle albei gay is/was: 'Ek glo ook nie Hennie sou soveel aandag, tyd en opvoeding afgestaan het sou die toestand nie ooreenstemmend wees nie.' (bl. 35) Benewens gewaardeerde reisgenoot was Hennie lewenslank vir Marius ook 'n tipe gids; iemand met meerdere kennis van dinge so uiteenlopend soos bergklim, Boesmantekeninge en 'die allure van die vreemde gulp'. Die persoonlike en openhartige wyse waarop Bakkes in sy bydrae oor Hennie Aucamp se seksualiteit skryf, bied 'n blik op die skrywer wat tot 'n groot mate in ander bydraes (met die moontlike uitsondering van dié van Danie Botha) ontbreek.

'n Latere bydrae in die bundel wat duidelik ook tot hierdie 'afdeling' behoort, is Amanda Botha se indrukke van 'n sesdaagse besoek wat sy saam met Hennie aan die wêreld van sy kinder- en jeugtyd gebring het as deel van 'n dokumentêre televisieprogram wat sy in 1989 oor hom gemaak het. Soos in die eerste paar bydraes in die bundel, blyk dit hierin maar alte duidelik watter invloed die Stormberge as 'emosionele landskap' op Aucamp se vorming as jongmens en skrywer gehad het. Teenoor Botha erken Aucamp byvoorbeeld dat hy sy lewe lank 'n tipe 'skuldlas' teenoor die Stormberge ervaar het; 'n skuldlas wat hy lewenslank probeer afbetaal het deur daaroor te skryf. In hierdie opsig merk Inus Aucamp darem gerusstellend op dat Hennie altyd onthou sal word as 'dié een wat die Stormberg-kontrei met aangrypende vertellings oor sy mense en hulle omgewing vir die land oopgebreek het' (bl. 49).

Die volgende fases van Hennie Aucamp se lewe word veral deur die bydraes in die tweede deel van die bundel verteenwoordig: Marina Keet (Grut) dink op nostalgiese wyse terug aan haar studentejare op Stellenbosch saam met 'the boys': Enrique Breytenbach, Paul Roux en Hennie Aucamp; Monica Breed besin as radio-uitsaaier oor Hennie se bemoedigende kommentaar op haar voorlesing van sy kortverhale en Margot Luyt vertel van alles wat sy as aktrise, voorleser, radiopersoonlikheid en beoordelaar by Aucamp geleer het. In Bevestig deur en geborge in die woord wei Lina Spies uit oor haar vriendskap met Hennie, hulle jare in die akademie op Stellenbosch en hoe hulle onderskeie skryfloopbane verloop het. Veral interessant is die vrymoedige wyse waarop dié twee skrywers op mekaar se skryfwerk gereageer en tóg vriende gebly het. Spies se verwysings na Aucamp se kortkuns en die invloed wat dit op lesers gehad het, word ook te berde gebring in Danie Botha se bydrae getiteld 'n Mens onthou maar ... waarin hy veral as uitgewersvriend sy indrukke van Aucamp se skryfwerk (en dikwels ook die man ágter die boek) deel.

'n Refrein in bykans al die bydraes in die bundel is dat Hennie by uitstek 'n gewer was. Margot Luyt sonder hierdie kenmerk in die titel van haar huldeblyk uit, maar dit word ook pertinent in dié van Margaret Bakkes, Marius Bakkes én Lina Spies vermeld. Wanneer Abraham de Vries teen die einde van die bundel die opruiming van Aucamp se woonstel in herinnering roep, maak hy 'n opmerking waarin die sentimente van 'n hele vriendekoor resoneer:

Hennie was sy lewe lank 'n gewer, 'n áángewer van kennis en insig en
deernis, van 'n lewenshouding in die ou tradisie van dr.
Con, M.E.R. en Boerneef, diegene met, in sy eie woorde, 'n byna
ouwêreldse 'ordentlikheid en regskapenheid', hulle vir wie
'vernaamheid met inbors te make het, nie met besittings nie',
aristokrate wat 'ewe tuis was tussen internasionale geeste as
tussen gewone Boeremense'.

Benewens die huldeblyke in prosavorm, word daar ook heelwat foto's, 'n poskaart en enkele gedigte van Aucamp self, asook huldigingsgedigte deur Daniel Hugo en Joan Hambidge by die bundel ingesluit. Daar sou seker heelwat meer huldeblyke versamel kon word, maar dié wat in Om Hennie Aucamp te onthou opgeneem is, bied reeds 'n ruim blik op die uiters veelsydige én veelkantige mens wat Hennie Aucamp was.

 

 

Correspondence:
Thys Human
thys.human@nwu.ac.za

 

 

* Book price at time of review

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons