SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.37 n.2 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i2.1277 

OORSPRONKLIKE NAVORSING

 

Die gebruik van opmerkings as 'n strategie tydens die verantwoordbare redigering van akademiese tekste

 

The use of comments as a strategy in the accountable editing of academic texts

 

 

Amanda Lourens

Department of Afrikaans and Dutch, Stellenbosch University, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Bestaande riglyne oor die redigering van akademiese tekste (bv. dié van die US Taaldiens; internasionaal ook dié van die Institute of Professional Editors [IPEd]; die Editors' Association of Canada [EAC]; en die Council of Australian Societies of Editors [CASE]) beklemtoon dat redigeerders nie aan die inhoud en struktuur van hierdie soort tekste behoort te verander nie. Dit is egter in die praktyk nie altyd duidelik presies hoe redigeerders probleme ten opsigte van inhoud en struktuur moet hanteer nie. Hierdie studie het ten doel om riglyne te verskaf vir redigeerders van akademiese tekste wat 'n prosesbenadering volg. Die redigering van agt akademiese artikels word ondersoek, met spesifieke verwysing na die hantering van opmerkings (comments) as 'n strategie om die outeur te bemagtig om self inhoudelike en strukturele veranderinge aan te bring. Opmerkings deur die redigeerders van hierdie artikels word beskryf, geïnterpreteer en geëvalueer, met die oogmerk om uiteindelik riglyne te gee vir 'n verantwoordbare redigeerstrategie.


ABSTRACT

Existing guidelines regarding the editing of academic texts (compare those of the SU Language Service; internationally, also those of the Institute of Professional Editors [IPEd]; the Editors' Association of Canada [EAC]; and the Council of Australian Societies of Editors [CASE]) emphasise that editors should not alter the content and structure of this type of text. However, in practice, it is not always clear how editors should deal with problems in the content and structure of such texts. The goal of this study is to provide guidelines for editors of academic texts who adhere to a process approach. The editing of eight academic articles is investigated, with specific reference to the use of comments as a strategy to empower the author to effect changes regarding content and structure. Comments by the editors of these articles are described, interpreted and evaluated in order to formulate guidelines for an accountable editing strategy.


 

 

Inleiding

Agtergrond

'n Toenemende behoefte aan die redigering van akademiese tekste (proefskrifte, tesisse en vakwetenskaplike artikels) is 'n wêreldwye tendens soos 'n outeur soos Macdonald (2008:3) reeds aangedui het. Groter standaardisering ten opsigte van hierdie soort redigering is egter nodig, soos uitgewys deur Law (2011) en Lourens (2014).

Die studie deur Lourens (2014) oor die aanwending van opmerkings deur redigeerders van akademiese tekste was 'n verkennende beskrywing van redigeerders se werklike aktiwiteite tydens die redigering van hierdie soort tekste. Hierdie 2014-studie vorm deel van 'n groter projek wat ten doel het om te bepaal wat werklik tydens akademiese redigering gebeur, en kan gesien word as 'n eerste stap in die rigting van die formulering van riglyne of standaarde vir die redigering van akademiese tekste vir spesifiek die Suid-Afrikaanse konteks, gesien teen die agtergrond van internasionale standaarde vir akademiese redigering. Dit was wel beperk in die opsig dat slegs drie geredigeerde tesisse bestudeer is, en soos die gevolgtrekkings aangedui het, is verdere werk oor werklike redigeerprosesse nodig alvorens die uiteindelike doelwit van die formulering van riglyne of standaarde bereik kan word.

Die huidige studie is 'n verdere poging om aktiwiteite tydens die redigering van akademiese tekste te ondersoek, maar waartydens die betrokke redigeerders se gebruik van opmerkings as deel van die redigeerstrategie beskryf en geëvalueer word. Die uitgangspunt vir die onderhawige studie is dat verantwoordbare of eties begronde redigering tydens akademiese redigering nagestreef moet word - bedoelende dat die redigeerproses op bepaalde maniere beperk word, en dat sekere probleme nie deur die redigeerder opgelos mag word nie. Opmerkings word dikwels beskou as 'n nuttige hulpmiddel wat die redigeerder kan gebruik om sekere tekstuele probleme in samewerking met die outeur op te los, en dan op so 'n wyse dat die redigeerder nie etiese grense oorskry nie en die outeur die party is wat die finale verantwoordelikheid vir die teks moet dra.

Die Taaldiens van die Universiteit Stellenbosch (US) se stylgids verskaf riglyne vir die redigering van akademiese tekste en wys spesifiek op die nut van opmerkings:

Redigering moet nooit aan die inhoud of struktuur van die tesis1 verander nie. Daarom moet die redigeerder nie veranderinge aanbring wat verder strek as die verbetering van grammatika, spelling en leestekengebruik, die versekering van idiomatiese taalgebruik en regte woordkeuse, en die inspan van teksmeganismes om samehang te verbeter nie. [] Indien dit nodig is om opmerkings te maak oor aspekte soos inhoudelike feite en argumentasieprobleme, is kommentaarblokkies (comments) die aangewese manier om dit aan te dui. (Taalsentrum 2012:42)

Hierdie voorskrif stem ooreen met die voorskrifte van internasionale liggame soos die Editors' Association of Canada (EAC), die Institute of Professional Editors (IPEd) en die Council of Australian Societies of Editors (CASE) (EAC 2009, 2012; IPEd 2010; CASE 2013).

Die literatuur oor etiese (of dan verantwoordbare)2 akademiese redigering skyn uiters beperk te wees, en min navorsing is nog hieroor onderneem. 'n Waardevolle studie in hierdie verband is egter dié van Law (2014), wat ondersoek ingestel het na die faktore wat redigeerwerk in die verskillende sektore van die Suid-Afrikaanse redigeerbedryf beïnvloed. Ten opsigte van die akademiese sektor bevind sy dat die volgende twee redigeertake nie deur akademiese redigeerders as belangrik geag word nie: die wysiging van inhoud om toepaslik te wees, asook die aanbieding van herskrywings van gedeeltes van die teks. Dít, sê sy, is nie 'n verrassende bevinding nie, aangesien akademiese redigering van redigering in die ander drie sektore (tegniese redigering, die boekbedryf en die massamedia) verskil (Law 2014:291). Akademiese redigering, skryf Law (2014:291), mag nie redigeeraktiwiteite insluit wat die teks in so 'n mate verbeter dat die outeur se ware vaardighede of insig nie meer daardeur weerspieël word nie. Akademiese redigeerders behoort ook nooit die toepaslikheid van die inhoud van 'n akademiese teks te beoordeel nie - dit bly die outeur se verantwoordelikheid. Hierby kan gevoeg word dat die beoordeling van die inhoud van akademiese tekste ook die rol van keurders, studieleiers, promotors en eksaminatore is. Whalen (1989:647) skryf tereg in hierdie verband: 'By the time an article is accepted for publication, it should be scientifically correct, because it has been reviewed by specialists and the editor-in-chief.' Sy wys wel daarop dat die redigeerder bedag moet wees op logiese foute wat moontlik deurgeglip het; daar moet ook gekontroleer word of byvoorbeeld die abstrak en die gevolgtrekking dieselfde boodskap kommunikeer. Bishop (1984:109) is egter van mening dat die keurders van 'n artikel logiese foute moet oplet (sodat die outeur dit kan oplos) voordat dit na die redigeerder gestuur word. Redigeerders, waarsku hy, moet baie seker wees dat wysigings wel nodig is; hy reken selfs dat stilistiese kwessies nie noodwendig wysigings noodsaak nie. Akademiese redigering is dus beperk tot basiese aktiwiteite, wat insluit die versekering van konsekwentheid, veral wat terminologie, afkortings, eenhede en simbole betref; die kontrole van tabelle en figure en verwysings daarna, asook die kontrole van verwysings. Die enigste taak wat met die inhoud verband hou, sal wees om seker te maak dat die manuskrip volledig is. (Bishop 1984:109).

Onderliggend tot die benadering om nie aan inhoud en struktuur te verander nie, is die sogenaamde prosesbenadering,3 waarvolgens die teksredigeerder eerder 'n rol as fasiliteerder het in 'n proses wat die student of outeur se betrokkenheid by sy of haar eie skryfproduk benadruk (Lourens 2014). Volgens die prosesbenadering behoort die redigeerder betrokke te raak op 'n manier wat die student of outeur se eie skryfvaardighede help ontwikkel, maar nóg die literatuur oor redigering nóg die US Taaldiens se stylgids (Taalsentrum 2012) gee konkrete riglyne vir die gebruik en formulering van opmerkings.

Hippolyte (2014) se studie het ten doel gehad om die US Taaldiens se redigeerproses vir die versorging van akademiese artikels te beskryf. Vrae oor die gebruik van opmerkings was egter nie deel van die betrokke studie nie, en aspekte soos die soort redigering wat toegepas is sowel as die faktore wat die redigeerproses beïnvloed, is eerder ondersoek. Die betrokke studie het ook nie aandag geskenk aan die kwessie van die soort veranderinge wat 'n redigeerder aan 'n akademiese teks mag aanbring nie, en hoe aanbevelings hanteer moet word nie.

 

Doelstelling

Die voorgestelde studie het ten doel om die aanbieding van opmerkings in agt geredigeerde akademiese artikels te beskryf, te interpreteer en te evalueer, teen die agtergrond van die bestaande riglyne vir die verantwoordbare redigering van akademiese tekste. Die oogmerk is om uiteindelik meer konkrete riglyne te gee vir redigeerders van akademiese tekste wat 'n prosesbenadering volg.

Die volgende navorsingsvrae word gestel: Hoeveel opmerkings word telkens in agt geredigeerde artikels gevind? Ten opsigte van watter soort tekstuele wysigings word opmerkings gegee? Is die betrokke redigeerstrategie in ooreenstemming met bestaande riglyne vir etiese redigering? Is daar enige patroonmatigheid wat betref die aard van opmerkings wat aangebied word, of word inkonsekwenthede raakgesien? Wat is die aard van die opmerkings wat wel aangebied word en kan dit gesien word as voorbeelde van opbouende insette om die student se eie skryfvaardighede te ontwikkel?

Uiteindelik word voorlopige riglyne vir die redigering van akademiese tekste aangebied, en wel met die klem op die praktiese hantering van opmerkings.

 

Metodologie

Oorhoofse benadering

Die navorser het aansoek gedoen om institusionele goedkeuring van die US sowel as etiese klaring ten einde 'n bestaande datastel van agt geredigeerde akademiese artikels binne die mediese veld (soos oorspronklik ondersoek deur Hippolyte [2014]) te ondersoek. Die betrokke artikels is in Engels geskryf vir publikasie in Engelse mediese vaktydskrifte en die redigeerders se opmerkings word ook in Engels aangebied. Die identiteit van en besonderhede oor die redigeerders (bv. hulle opleiding en ondervinding) is nie aan die navorser beskikbaar gestel nie. Dit is dus ook onbekend of dieselfde redigeerders die artikels geredigeer het en of hulle deur verskillende redigeerders behartig is. Institusionele goedkeuring sowel as etiese klaring is verkry.4

Die volgende strategie is gevolg ten einde die navorsingsvrae te beantwoord: Die artikels is elk deurgewerk en alle tekstuele wysigings wat deur die onderskeie redigeerders aangebring is, is nagegaan. Daar is ook opgelet na aspekte wat moontlik problematies is, maar nie deur die redigeerder hanteer is nie.

Vervolgens is die opmerkings wat deur die onderskeie redigeerders verskaf is, ondersoek. Eerstens is daar beskrywend te werk gegaan: Daar is nagegaan hoeveel opmerkings in elk van die individuele artikels verskaf is, daar is opgelet na die soort tekstuele verandering waarmee elk verband hou, en die aard van die onderskeie opmerkings is nagegaan - is dit byvoorbeeld 'n vraag wat aan die outeur gestel word, of word spesifieke brokkies advies gegee? Is die opmerking baie bondig of gaan die redigeerder meer verduidelikend te werk?

Tweedens is die opmerkings telkens geïnterpreteer: Het die redigeerders se opmerkings ten doel om die outeur se betrokkenheid by die skryftaak te verseker? Is enige ingrypende veranderinge moontlik aangebring sónder dat opmerkings aangebied is? Word opmerkings moontlik gegee sonder dat daar goeie redes daarvoor is? Word enige patroonmatigheid opgelet - word die outeur se betrokkenheid in sekere gevalle sterker beklemtoon?5 Indien wel, hoe word dit gedoen?

Derdens is die opmerkings geëvalueer deur te vra of hulle gesien kan word as voorbeelde van opbouende opmerkings wat moontlik in riglyne vir verantwoordbare akademiese redigering geïnkorporeer kan word.

Hierdie inligting is vervolgens gebruik vir die daarstelling van 'n voorlopige stel riglyne vir die gebruik van opmerkings in die redigeerpraktyk, wanneer daar met akademiese tekste gewerk word. Die bestaande internasionale riglyne in hierdie verband (sien 3.2) was deurgaans rigtinggewend, alhoewel hulle ook krities beskou is.

Raamwerk vir data-ontleding

Die internasionale riglyne vir akademiese redigering, soos uiteengesit deur die EAC; die Institute of Professional Editors (IPEd) en die CASE is volledig deur Lourens (2014) bespreek. Deur ook na die werk van Law (2011) sowel as Mossop (2010) te verwys, is die volgende raamwerk aanvanklik voorgestel as grondslag vir die ontleding van tekstuele veranderinge en opmerkings deur die redigeerders van akademiese tekste:

Inhoudelike kwessies (ook die aanwesigheid van verwysings sowel as etiese kwessies, waaronder plagiaat).

Strukturele kwessies.

Stilistiese kwessies.

Kwessies wat verband hou met kopieredigering (dit sluit proefleeskwessies in, asook die formaat van verwysings in akademiese tekste).

Kwessies wat verband hou met konsekwentheid.

Daar is besluit om kwessies ten opsigte van grafiese materiaal in ooreenstemming met sowel Mossop (2010) as Butcher (2006) se indelings nie in die raamwerk in te sluit nie. Die fokus was derhalwe op talige kwessies.

Die geredigeerde artikels is aan die hand van hierdie raamwerk ontleed, ten einde te bepaal watter soort(e) redigering in elke geval uitgevoer is, en ook om te bepaal ten opsigte van watter soort wysigings opmerkings ingevoeg is.

Tydens die eerste deurwerk van die huidige datastel het dit egter duidelik geblyk dat hierdie raamwerk nog nie fyn genoeg onderskei tussen byvoorbeeld die formaat van opskrifte en die meer inhoudelike strukturering van die teks by wyse van opskrifte nie. Wysigings wat betref die formaat van opskrifte impliseer geensins dat die redigeerder aan die inhoud of konseptuele struktuur van die teks verander nie, en behoort eerder as 'n tegniese ingreep gesien te word. Daarteenoor hou die invoeging of weglating van 'n opskrif verband met die inhoudelike opbou van die teks, en dit sal volgens die EAC (2012) se riglyne ontoelaatbaar wees. Die redigeerder sou so 'n invoeging of weglating eerder slegs in 'n opmerking kon voorstel.

Daar is dus besluit om strukturele kwessies, na aanleiding van Carstens en Van de Poel (2012), in twee subkategorieë te verdeel, naamlik interne en eksterne struktuur. Die interne struktuur van 'n teks hou verband met die wyse waarop die inligting in 'n teks georden word; dit gaan oor die aanbieding van die teks se inhoud sodat die doel van die teks bereik word, terwyl daar ook aan genrespesifieke riglyne voldoen word (Carstens & Van de Poel 2012:134).

Eksterne struktuur, daarteenoor, het 'betrekking op die linguistiese en grafiese elemente wat gebruik word om die interne struktuur te realiseer' (Carstens & Van de Poel 2012:135). Alhoewel die outeurs ten opsigte van eksterne struktuur tussen elemente op teksvlak en elemente op sin- en woordvlak onderskei, is daar besluit om hierdie twee kategorieë vir die doel van die huidige studie saam te groepeer binne die subkategorie van eksterne struktuur. Vir Carstens en Van de Poel (2012:135) behoort die volgende elemente tot die eksterne struktuur van 'n teks: opskrifte, die inhoudsopgawe, die inleiding, paragrawe en afdelings, afsluitings, strukturerende sinne, sinjaalfrases en itemlyste.

Ook Mossop (2010:74) se onderskeid tussen 'fisieke' en 'konseptuele' struktuur sluit aan by die onderskeid tussen interne en eksterne struktuur. Ten opsigte van die fisieke struktuur (die sigbare dele van 'n teks, wat dus ooreenkom met die eksterne struktuur), dui Mossop (2010: 74) egter ook elemente soos lyste (genommerde6 asook kollyste, sowel as tabelle wat eintlik 'n reeks parallelle lyste is), grafiese elemente en geïsoleerde items soos voet- en eindnote aan as behorende tot hierdie kategorie. Op hierdie manier vul Mossop Carstens en Van de Poel se lys aan.

Vir die doel van hierdie ontleding word aspekte soos die uitleg of formaat van die teks ook gereken as behorende tot die eksterne struktuur. Aspekte soos bladsynommers, kantlyne, spasiëring, asook die gebruik van vetdruk en kursivering vir klem word dus as aspekte van eksterne struktuur gereken.

Uiteindelik word die volgende elemente gesien as deel van 'n teks se eksterne struktuur, met die implikasie dat wysigings en/of opmerkings ten opsigte van hierdie elemente as kwessies te make met die eksterne struktuur beskou word:

Opskrifte,

Die inhoudsopgawe,

Teksonderdele soos inleidings en afsluitings,

Paragrawe en afdelings,

Konjunksiemerkers,

Lyste (item-, kol- en genommerde lyste),

Tabelle,

Grafiese elemente soos diagramme, foto's, illustrasies en kaarte,

Geïsoleerde items soos voet- en eindnote, opskrifte van tabelle en grafieke asook die titels van kolomme en rye in tabelle,

Bladsynommers,

Kantlyne,

Spasiëring,

Vetdruk, kursivering en onderstreping.

Na aanleiding van Taaldiens Stylgids (Taalsentrum 2012) se vermaning dat redigeerders nooit aan die inhoud of die struktuur van 'n teks mag verander nie (Taalsentrum 2012), is die vraag uiteraard of 'struktuur' slegs na die interne struktuur, of na interne en eksterne struktuur verwys. Daar kan dus gevra word of die redigeerder wysigings aan die tekstuele aspekte soos hierbo gelys, mag aanbring, en of die outeur in al die gevalle in bostaande lys slegs op die probleem gewys moet word. Hier kan daar geredeneer word dat die regstelling van byvoorbeeld inkonsekwente of foutiewe kursivering, of die wysiging van onvanpaste konjunksiemerkers (bv. 'tweedens' wanneer die saak eintlik derde genoem word) waarskynlik veranderinge is wat deur 'n kliënt verwag word, omdat hierdie soort sake in der waarheid kopieredigeringskwessies is, waar daar aan bepaalde reëls of voorskrifte voldoen moet word (hetsy die taalreëls of die riglyne van 'n bepaalde vaktydskrif) (vergelyk Mossop 2010:37). Om bloot vir die outeur aan te dui dat kursivering op die verkeerde manier gebruik is, en dit aan hom of haar oor te laat om al die korreksies aan te bring, sal waarskynlik tot 'n ontevrede kliënt lei.

Wanneer tekstuele wysigings ontleed word, is dit ook dikwels problematies om tussen kwessies behorende tot die interne en dié behorende tot die eksterne struktuur te onderskei. Wanneer wysigings dus beskryf word ten opsigte van die aspekte soos hierbo gelys, behoort daar dus telkens gevra te word wat die aard van die spesifieke wysiging is. Byvoorbeeld, wanneer die redigeerder die sinne binne 'n paragraaf herrangskik ten einde die argument te verbeter, word daar met die argumentatiewe (dus interne) struktuur omgegaan. Daarteenoor sal die invoeging van 'n spasie om 'n langer paragraaf in twee te verdeel, vergesel van 'n verduidelikende opmerking, met die eksterne struktuur verband hou. Sou die redigeerder die kohesie van 'n teks verbeter deur byvoorbeeld voegwoorde en referensiële woorde en frases in te voeg (maar waar die onderliggende argument onveranderd gelaat word en die verbande slegs deur die invoeging verhelder word), word daar met die eksterne struktuur van die teks gewerk.

Die riglyne wat aan die einde van hierdie artikel gegee word, sal moontlik kan meewerk om redigeerders te help om te weet wanneer om slegs 'n opmerking te verskaf, wanneer om die probleem reg te stel en 'n verduidelikende opmerking in te voeg, en wanneer om die probleem bloot reg te stel (wysigings altyd met behulp van spoorveranderinge).

Die raamwerk vir die ontleding van wysigings en opmerkings is dus uiteindelik soos volg uiteengesit:

Inhoudelike kwessies (ook die aanwesigheid van verwysings, sowel as etiese kwessies, waaronder plagiaat).

Kwessies wat te make het met die interne struktuur.

Kwessies wat te make het met die eksterne struktuur.

Stilistiese kwessies.

Kwessies wat verband hou met kopieredigering (sluit proefleeskwessies in, asook die formaat van verwysings in akademiese tekste).

Kwessies wat verband hou met konsekwentheid.

Hierdie raamwerk bied myns insiens 'n oplossing vir die probleme wat geskep word deur CASE, IPEd en die EAC se uiteensetting van standaarde waarin daar nie helder onderskei word tussen kwessies wat met die sigbare aspekte van die teks te make het (eksterne struktuur) en die meer inhoudelik argumentatiewe aspekte (interne struktuur) nie.

Die EAC (2012) dui aan dat redigeerders opmerkings behoort te gebruik (eerder as om net veranderinge aan te bring) wanneer probleme rakende die volgende tekstuele aspekte in akademiese tekste opgelet word:

Struktuur, waaronder byvoegings en weglatings,

Inhoud (feite, balans en verwysings),

Formaat,

Helderheid,

Vloei en/of koherensie en die struktuur van paragrawe en sinne,

Bondigheid,

Akkuraatheid en volledigheid,

Tipografiese probleme,

Inkonsekwenthede.

Hierdie riglyne impliseer dat redigeerders redelik min vryheid het om slegs veranderinge aan te bring. Hiervolgens is dit feitlik net taalkundige foute ('n kopieredigeringskwessie) wat sonder meer gekorrigeer kan word. Strukturele en inhoudelike aspekte (waaronder vloei/koherensie, sowel as akkuraatheid en volledigheid gereken kan word) mag hiervolgens slegs met behulp van 'n opmerking hanteer word. Die vraag is egter: Mag die redigeerder ooglopende onakkuraathede (bv. datums en ander bekende feite) korrigeer en die outeur daarop wys? Of moet dit slegs met behulp van opmerkings hanteer word? Inkonsekwenthede lewer dieselfde probleme op - mag die redigeerder byvoorbeeld inkonsekwenthede in die bronnelys (soos die formaat van titels) korrigeer? Indien 'formaat' na die fisieke uitleg van die teks (dus eksterne struktuur) verwys, is die implikasie van die riglyne dat ook wysigings aan die eksterne struktuur slegs by wyse van opmerkings hanteer moet word. Dieselfde geld dan vir stilistiese kwessies (helderheid en bondigheid). Hier is die probleem egter dat die outeur moontlik nie oor die nodige vaardighede beskik om groter helderheid en bondigheid te bewerkstellig nie sodat 'n opmerking nie noodwendig van waarde sal wees nie. Sou die redigeerder die wysiging kon aanbring en dit in 'n opmerking toelig?

Dit is voorts nie duidelik of die invoeging van 'n opmerking 'n wysiging deur die redigeerder uitsluit nie, en of 'n wysiging aangebring mag word wat deur 'n verduidelikende opmerking vergesel word nie. Op 'n ander vlak is daar ook die probleem van herhalende probleme ten opsigte van grammatika. Sou die redigeerder 'n opmerking kon invoeg om die outeur van 'n algemene probleem bewus te maak? Dit is duidelik dat die kwessie van die gebruik van opmerkings nie so eenvoudig is soos om bloot 'n lys van kwessies te verskaf vir wanneer opmerkings aangedui is nie, omdat die praktyk dikwels heel komplekse kwessies oplewer.

Na aanleiding van die analise van die agt geredigeerde artikels, en met inagneming van die bestaande riglyne, word daar gepoog om 'n voorlopige uiteensetting te verskaf van wat 'n etiese redigeerstrategie vir akademiese tekste moontlik kan behels.

 

Resultate

Tabel 1 en 2 beskryf onderskeidelik die voorkoms van opmerkings in elk van die geredigeerde artikels, sowel as die soort tekstuele kwessies waarmee dit verband hou.

 

 

Die artikels word in die tabelle en ook in die hieropvolgende bespreking aangebied in die volgorde waarin hulle aanvanklik bekom en geanaliseer is. Die ordening van die gevalle hou dus nie verband met die data wat verkry is nie.

Die hieropvolgende bespreking lig die redigeerstrategie ten opsigte van die individuele artikels in breë trekke toe (bv. watter soort redigering oorwegend voorgekom het, of watter aspekte nagelaat is) en die inligting in tabel 1 en tabel 2 word verder toegelig. Daarna word die aanwending van die individuele opmerkings in elke artikel geïnterpreteer en geëvalueer, soos in die metodologie uiteengesit.

Artikel 1

Analysis of the burden of caregivers in providing care to people living with HIV/AIDS in Botswana

Hierdie artikel staan saam met artikel 2 in die tweede plek wat die getal opmerkings (0.39 per 100 woorde) betref.

Die redigeerder van hierdie artikel het merendeels wysigings aangebring wat met kopieredigerings- en stilistiese kwessies verband hou. Die meeste veranderinge sonder opmerkings in die teks hou verband met probleme op die vlak van kopieredigering. Vyf opmerkings hou wel verband met kopieredigeringskwessies, maar drie hiervan is genoodsaak deur die feit dat spel-, tik- en taalgebruiksfoute in figure voorkom, en die redigeerder dié aspekte nie self kon wysig nie. Hierdie opmerkings het dus nie die oogmerk om die outeur se skryfvaardighede te verbeter nie, en tree bloot op in die plek van spoorveranderinge wat nie hier tegnies moontlik was nie. 'n Verdere opmerking vra die outeur om na te gaan of 'n bepaalde benaming wel die korrekte amptelike benaming is, en die hooflettergebruik dienooreenkomstig aan te pas ('If this is the exact official name, please capitalise the first letter of each word'). Hierdie kwessie is egter 'n kopieredigeringskwessie, en dit sou nie onvanpas vir die redigeerder wees om die benaming na te slaan en die verandering wel te inkorporeer nie - dalk met 'n opmerking waarin die outeur gevra word om die verandering na te gaan.

Die vyfde opmerking ten opsigte van kopieredigering maak die outeur daarop attent dat die titels van vaktydskrifte afgekort moet word (gegee na die eerste inskrywing wat 'n vaktydskriftitel bevat). Dit val egter op dat die redigeerder geen opmerking maak oor die moontlike fout in die volledige weergawe van die titel van die spesifieke vaktydskrif waarby die kommentaar gegee word nie - dit word naamlik aangedui as International Journal of for Equity in Health (my beklemtoning). Nietemin word die titel wat gegee word as Journal of Marriage Family gewysig na Journal of Marriage and Family (my beklemtoning), alhoewel die veronderstelling sekerlik ook hier geld dat die titel afgekort behoort te word. Dit sou moontlik beter gewees het om eerder 'n algemene opmerking aan die begin van die bronnelys te gee sodat dit duidelik is dat dit na al die inskrywings verwys. Die korreksie van die volledige titel is in so 'n geval moontlik ook verwarrend, veral wanneer sulke korreksies nie konsekwent gedoen word nie. 'n Bondige opmerking sou kon aandui dat die titel foutief weergegee is, maar dat die afgekorte titel in elk geval daarvan sal verskil.

Geen opmerkings ten opsigte van stilistiese wysigings is gegee nie, en die redigeerder het sodanige probleme bloot gewysig (soos byvoorbeeld om deurgaans die afkorting 'CHBC' te gebruik eerder as 'community home-based care'). Daar kan wel gemeld word dat so 'n stilistiese verandering ook meer 'tegnies' of meganies van aard is, teenoor byvoorbeeld die vereenvoudiging van 'n lang, lomp sin.

Geen wysigings ten opsigte van die eksterne struktuur is aangebring nie. Die redigeerder maak die outeur wel attent op probleme ten opsigte van die eksterne struktuur (vyf opmerkings word hiervoor gebruik), en maak dit duidelik dat die regstellings die outeur se verantwoordelikheid is. Twee opmerkings word gebruik om die outeur spesifiek op die verkeerde plasing van teksonderdele te wys: Die erkennings sowel as die sleutelwoorde is telkens nie geplaas soos die betrokke vaktydskrif vereis nie. Daarby moet die eerste afdeling wat op die abstrak volg dan ook eintlik 'n inleiding wees, eerder as 'n afdeling met die opskrif 'Background'. Die redigeerder wys die outeur ook op die verkeerde plasing van die bladsynommers en die inkonsekwente gebruik van lettergroottes in die bronnelys, maar korrigeer dit nie. Kennelik reken die redigeerder dat die outeur vir die korreksie van al hierdie aspekte verantwoordelik is, maar daar kan nietemin geargumenteer word dat die bladsynommers en lettergroottes wel deur die redigeerder reggestel kan word, aangesien dit die meer meganiese aspekte van redigering verteenwoordig, en as sodanig nie werklik verskil van byvoorbeeld die korreksie van 'n tikfout nie. Daarteenoor het die plasing van teksonderdele wel meer te make met die logiese uiteensetting van die teks. Alhoewel al hierdie sake onder eksterne struktuur tuisgebring kan word, sou 'n kwalitatiewe onderskeid getref kon word tussen sake wat meer meganies is en sake wat na die inhoudelike toe oorhel. 'n Moontlike strategie sou wees om in eersgenoemde geval 'n wysiging aan te bring, vergesel van 'n verduidelikende opmerking, en in laasgenoemde geval slegs die probleem in 'n opmerking te skets sodat die outeur dit kan regstel. Op hierdie manier word die outeur se groter betrokkenheid by meer inhoudelike kwessies verseker, terwyl die redigeerder die wysigings aanbring wat meer meganies van aard is.

Van die 19 opmerkings wat in totaal in artikel 1 ingevoeg is, het die meeste (nege) met inhoudelike kwessies te make. Hier gaan dit oor sake soos ontbrekende inligting ten opsigte van verwysings in die teks self, sowel as in die bronnelys (name van outeurs, bladsynommers, die uitgewer en die plek en datum van uitgawe), wat met behulp van agt opmerkings gemerk word sodat die outeur die nodige invulling kan doen. Die orige opmerking dui aan dat 'n tabel waarna verwys word, nie in die artikel ingesluit is nie. Die redigeerder sorg dus dat die outeur self die verantwoordelikheid neem om inligting by te voeg.

Dit blyk dat die redigeerder opmerkings grotendeels in ooreenstemming met die EAC se riglyne gebruik en verbind is tot die outeur se betrokkenheid by die teks, spesifiek ook deur opmerkings in te voeg. Enkele problematiese kwessies is wel aangedui, soos veral ten opsigte van die hantering van die eksterne struktuur. Die redigeerder bied veral bondige instruksies aan ('Give the reseachers' names') of beskryf die probleem baie kortliks deur middel van 'n stelling ('An abstract should be followed by an introduction'). Dit blyk egter voldoende te wees om die probleem vir die outeur duidelik te maak sodat regstelling kan geskied.

Artikel 2

Feto-maternal outcome and anaesthetic challenges in emergency peripartum hysterectomy at the University of Nigeria Teaching Hospital

In artikel 2 word nege opmerkings aangebied. Saam met artikel 1 staan dit in die tweede plek wat die getal opmerkings betref, met naamlik 0.39 opmerkings per 100 woorde.

Ten opsigte van hierdie artikel het die redigeerder, soos in artikel 1, hoofsaaklik wysigings aangebring wat met kopieredigerings- en stilistiese kwessies verband hou. Daar is vyf opmerkings ingevoeg om die outeur bewus te maak van bepaalde kwessies ten opsigte van kopieredigering, waarvan vier met die formaat van die bronnelys verband hou. Drie uit hierdie vier het egter met dieselfde kwessie te make, naamlik dat die outeur daarop gewys word dat die titels van vakwetenskaplike tydskrifte afgekort word. Drie verskillende opmerkings word egter op verskillende plekke in die bronnelys aangebied om dieselfde kwessie te hanteer: 'Please ensure that journals are abbreviated throughout list', 'Is there an Index medicus abbreviation for this journal title'asook 'Please use Index Medicus abbreviation if available', sodat die aanbieding van hierdie opmerkings ietwat onsistematies voorkom. Ook hier sou een opmerking wat die kwessie helder verduidelik moontlik 'n meer sistematiese werkswyse wees.

Die vyfde opmerking ten opsigte van kopieredigering verduidelik dat verwysingsnommers op mekaar moet volg, en stel voor dat bepaalde verwysingsnommers gewysig word ('Reference numbers should follow sequentially. So this should be 5-7 with the next number being 8. Reference list details would then be amended accordingly.') Die redigeerder begaan egter 'n fout wanneer hierdie voorstel gemaak word, aangesien die teks die verwysingsnommers wél korrek hanteer - nommer vyf tree reeds in die vorige paragraaf op.

Soos in artikel 1 word die meer tegnies stilistiese aspekte (bv. die gebruik van 'n afkorting teenoor die volle term - 'ICU' eerder as 'intensive care unit') bloot gewysig sonder om enige opmerkings in te voeg.

Geen strukturele wysigings is aangebring nie en daar is ook geen opmerkings wat met strukturele kwessies verband hou nie, maar die teks vertoon wel 'n ernstige gebrek ten opsigte van die interne struktuur. In die vyfde paragraaf van die afdeling 'Discussion' lui die eerste sin 'This is somewhat similar to a study by Ozumba et al.7 in which ruptured uterus accounted for 72% of the hysterectomies', maar dit is duidelik dat die referensiële woord ('this') nie na die voorafgaande paragraaf en dié se tema verwys nie: Paragraaf vyf verwys na 'n bepaalde studie oor die vernaamste indikasies vir 'n peripartum-noodhisterektomie, terwyl paragraaf vier verwys na maatskaplike faktore wat tot gebrekkige voorgeboortelike sorg in Nigerië lei.7 Wanneer die afdeling 'Discussion' egter met aandag gelees word, blyk dit dat die vyfde paragraaf direk aansluit by die tweede paragraaf, waarin daar ook verwys word na die resultate van die onderhawige studie oor die vernaamste indikasies vir 'n peripartum-noodhisterektomie. Die koherensie van die afdeling kan dus aansienlik verbeter word deur slegs die vyfde paragraaf by die tweede te integreer - 'n wysiging wat die redigeerder in 'n opmerking sou kon voorstel, indien die EAC se riglyne gevolg word.

Ten opsigte van inhoudelike aspekte word vier opmerkings verskaf. Drie hiervan het te make met ontbrekende inligting in die bronnelys (datums van internettoegang en bladsynommers), terwyl die orige opmerking aandui dat 'n bronverwysing in die teks self skynbaar ontbreek (wanneer daar verwys word na 'another study in Lagos'). Hierdie probleme behoort deur die outeur reggestel te word, en die redigeerder hanteer dit dan ook so.

Die redigeerder gee voorkeur aan bondige opmerkings wat dikwels as vrae geformuleer word ('Is there a reference for this?' of 'Date accessed?'), en wat die outeur se betrokkenheid by die teks wil verseker. Die versuim om 'n ernstige koherensieprobleem aan te dui, dui moontlik op 'n te oppervlakkige redigeerproses. Dit kan moontlik voorkom word deur redigeerders bewus te maak van die verskillende aspekte van 'n teks ten opsigte waarvan kontrole uitgeoefen moet word. 'n Gestruktureerde voorstelling van die redigeerproses kan moontlik hier van waarde wees.

Artikel 3

The prevalence of substance use and its associations amongst students attending high school in Mitchells Plain, Cape Town

In hierdie artikel is die vierde meeste opmerkings aangebring, naamlik 0.29 per 100 woorde.

Soos in die eerste twee artikels is daar meesal veranderinge aangebring wat met kopieredigerings- en stilistiese kwessies verband hou. Die stilistiese veranderinge het veral ten doel om die vlotheid van die teks te verbeter, soos gesien word in die volgende wysiging waar inligting oor die populasiegrootte in die vorige sin geïntegreer word, eerder as om dit in 'n afsonderlike sin aan te bied: 'Mitchells Plain is a densely populated suburb of Cape Town, with over 350 000 people, established in the 1970s ' Sulke stilistiese veranderinge is bloot aangebring sonder dat opmerkings ingevoeg is.

Tien opmerkings wat met kopieredigeringskwessies verband hou, word aangebied. Vier hiervan hou verband met die nommers van verwysings in die teks self; drie het te make met die gebruik van afkortings van die titels van vaktydskrifte wat in die bronnelys gebruik moet word; en een word ingespan om die outeur onderskeidelik attent te maak op 'n ontbrekende asterisk in 'n tabel, 'n moontlike tikfout en 'n lidwoord wat waarskynlik in 'n titel ontbreek.

Wanneer die drie opmerkings oor die gebruik van die afgekorte vorm van tydskriftitels nagegaan word, blyk dit egter dat een van hierdie opmerkings 'n fout is. Die probleem hier is dat die voorletters van 'n sekere outeur ontbreek, maar die opmerking lui 'Abbreviation'. Hierdie probleem is eerder inhoudelik van aard, omdat dit oor ontbrekende inligting gaan.

Een opmerking hou verband met konsekwentheid, en die redigeerder maak die outeur daarvan bewus dat die aanvaarde afkortings van vaktydskrifte se titels deurgaans in die bronnelys gebruik moet word. Hierdie meer algemene opmerking word aangebied naas die twee spesifieke opmerkings hieroor wat die twee spesifieke probleemgevalle uitlig. Die meer algemene opmerking is ingevoeg by die eerste verskyning van die afkorting van 'n titel, ten einde die outeur aan die beginsel te herinner. Die spesifieke opmerkings daaroor het moontlik ten doel om te verseker dat die outeur wel aan die probleem sal aandag gee. Weer eens kan daar egter genoem word dat sulke kwessies dalk een maal, aan die begin van die bronnelys, verduidelik kan word. Dit is miskien tog wel sinvol om die individuele gevalle met behulp van beligting te merk (en in die opmerking te noem dat al sulke gevalle gemerk word).

Uit die opmerkings oor kopieredigeringskwessies, asook die opmerking oor 'n konsekwentheidskwessie, is dit duidelik dat die redigeerder die outeur van sulke kwessies wil bewus maak, en wil verseker dat die outeur ook in die toekoms ten opsigte van hierdie kwessies sal verantwoordelikheid neem.

Ten opsigte van die eksterne struktuur noem die redigeerder in 'n opmerking dat 'n tabel verskuif het en die outeur word versoek om dit weer reg te stel: 'This table is now misplaced due to the editing; please move to original position ' Hier kan genoem word dat redigeerders verkieslik oor die woordverwerkingsvaardighede moet beskik om te voorkom dat sulke probleme insluip. Wanneer so 'n probleem nie opgelos kan word nie, is die invoeging van 'n opmerking wel aangedui.

Die vyf opmerkings oor inhoudelike kwessies betrek veral ontbrekende inligting in die bronnelys (twee bronne wat glad nie ingesluit is nie, 'n ontbrekende webadres en ontbrekende voorletters). Een opmerking gee wel blyke van die redigeerder se bewustheid van die bepaalde genre wanneer daar voorgestel word dat 'n niewetenskaplike term ('buttons' as die straatnaam vir Mandrax) verklaar word: 'Perhaps the term "buttons" referred to in the table and elsewhere in the text needs to be clarified on first reference.' Op hierdie manier word die outeur daarvan bewus gemaak dat die formele en wetenskaplike aard van die teks waarskynlik ook 'n meer formele, wetenskaplike omskrywing van die betrokke dwelmmiddel noodsaak.

Wanneer die numeriese inligting in tabel 1 nagegaan word, blyk dit dat daar moontlik 'n berekeningsfout ingesluip het. Volgens die tabel se opskrif was daar 438 respondente, maar in die kategorie '(S)exual behaviour' is die persentasies wat gegee word te betwyfel. (Wanneer N = 34 is, word die persentasie aangedui as 33.0% van 438; eweneens word N = 66 aangedui as 64% en N = 51 as 77.3%.) 'n Opmerking sou die outeur attent kon maak op 'n moontlike inhoudelike probleem.

Die opmerkings in hierdie geredigeerde weergawe is hoofsaaklik as baie bondige vrae geformuleer, byvoorbeeld: 'Refs 7 and 8 should precede 9?' Soms word net 'n enkele woord gegee - byvoorbeeld 'Website?' en 'Abbreviation?' Opdragte word gegee, naamlik om na te gaan dat afgekorte vorme van titels deurgaans gebruik word ('Please ensure that the abbreviated form of journal titles is used consistently throughout reference list'), en ook om na te gaan of 'n lidwoord nie dalk ontbreek nie ('Check title for insertion of "in the Pietersburg area"'). Wanneer 'n inhoudelike voorstel gemaak word (die verklaring van 'buttons') formuleer die redigeerder wel meer uitvoerig.

Die redigeerder van hierdie artikel oorskry nêrens die grense van etiese redigering nie, alhoewel die moontlike oorsig wat betref die inhoudelike probleem wel op 'n meer oppervlakkige benadering dui. Die baie bondige styl waarin opmerkings gegee word, kan dalk verwarrend wees vir minder ervare skrywers, maar aangesien die outeur van 'n vakwetenskaplike navorsingsartikel waarskynlik 'n meer ervare skrywer is, behoort dit hier nie werklik probleme te veroorsaak nie. Vir minder ervare skrywers (honneurs- of magisterstudente) sal 'n ietwat meer verduidelikende aanslag waarskynlik tot beter begrip lei. Die feit dat stilistiese kwessies sonder opmerkings hanteer word, kan miskien ook daarop dui dat die redigeerder nie werklik ten doel het dat die outeur op hierdie vlak by die teks betrokke moet raak nie. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat 'n artikel vir 'n vakwetenskaplike publikasie dalk onder groot tydsdruk geredigeer moet word sodat 'n meer produkgeoriënteerde benadering op 'n praktiese vlak dalk sinvol is. In die geval van verhandelings en tesisse/proefskrifte is daar moontlik meer tyd sodat outeurs op sulke wysigings gewys kan word en hul skryfvaardighede kan verbeter.

Artikel 4

Obesity and dietary behavioural changes

Die geredigeerde weergawe van hierdie artikel is vyfde op die lys wat die getal opmerkings betref, met 0.25 opmerkings per 100 woorde.

Soos in die geval van die ander artikels wat reeds bestudeer is, het die redigeerder weer eens hoofsaaklik kopie- en stilistiese redigering uitgevoer. Wysigings ten opsigte van hierdie aspekte is hoofsaaklik aangebring sonder om opmerkings aan te bied. Slegs een opmerking ten opsigte van 'n kopieredigeringskwessie word gegee, naamlik om die outeur daaraan te herinner dat die afgekorte vorme van titels van vaktydskrifte in die bronnelys gegee moet word. In hierdie geval word slegs een algemene opmerking aan die einde van die bronnelys gemaak, maar die rede hiervoor is waarskynlik die feit dat slegs hierdie inskrywing nie 'n afgekorte titel bevat nie. In so 'n geval waar daar slegs een probleem is, is die enkele opmerking naas die probleemgeval nie ontoepaslik nie.

Twee opmerkings het ten doel om die outeur bewus te maak van die probleme met eksterne struktuur. Die outeur word naamlik daarop gewys dat die abstrak sowel as die artikel nie volgens die vaktydskrif se aanbevole riglyne gestruktureer is nie:

According to journal guidelines, your abstract should be structured according to the following headings: Objectives, Design, Setting, Subjects, Outcome measures, Results and Conclusions, however, it seems that your abstract and article perhaps do not follow that format.

Ook: 'I suggest you use headings to structure your article'.

Drie opmerkings maak die outeur bewus van ontbrekende inhoud, naamlik dat die outeur se biografiese en kontakinligting onvolledig is, dat 'n lys sleutelwoorde ontbreek en dat daar 'n ontbrekende inteksverwysing is.

Uit die opmerkings blyk dit dat die redigeerder fyn opgelet het na inhoudelike en strukturele aspekte, maar binne die grense van etiese redigering bly deur die outeur slegs op hierdie probleme te wys sodat laasgenoemde dit self kan oplos. Die redigeerder formuleer dan ook omsigtig en vermy voorskriftelikheid, soos blyk uit die twee opmerkings wat met eksterne struktuur te make het. Hoofsaaklik versoeke en voorstelle word aangebied, en slegs een bondige vraag ('Reference?') word gestel.

Hierdie redigeerstrategie kan beskou word as 'n navolgenswaardige voorbeeld, omdat die redigeerder sy of haar kundigheid gebruik om die outeur op ernstige kwessies te wys, maar sonder om as 'medeskrywer' op te tree. Die omsigtige en nievoorskriftelike styl behoort ook by te dra tot die outeur se toekomstige positiewe ingesteldheid teenoor die redigeerder. Hiernaas kan dié geredigeerde artikel dien as 'n goeie voorbeeld van 'n geval waar die redigeerder nie oormatig van opmerkings gebruik maak nie, maar dit aanwend waar die betrokkenheid van die outeur sonder twyfel nodig is. Die redigeerstrategie dui wel, wat kopie- en stilistiese redigering betref, op 'n neiging na 'n produkbenadering, maar soos reeds genoem, word hierdie benadering moontlik deur die besondere konteks in die hand gewerk.

Artikel 5

Unusual phaeochromocytomas in African families: The importance of genetic testing

Hierdie geredigeerde artikel beklee die sesde plek wat die getal opmerkings betref - slegs een opmerking is ingevoeg (0.17 per 100 woorde).

Die redigeerder het slegs kopie- en stilistiese redigering toegepas en geen van hierdie veranderinge word deur opmerkings toegelig nie. Waar 'n meer tegnies stilistiese wysiging aangebring word (bv. 'National Health Laboratory' in plaas van NHL), word dit nie toegelig nie.

Die enigste opmerking is 'n vraag wat met 'n inhoudelike kwessie8 verband hou, en dit is ingevoeg deur van spoorveranderinge gebruik te maak, eerder as die meer gebruiklike 'comments'-funksie in MS Word. Die redigeerder bevraagteken naamlik die gebruik van die woord 'disease' eerder as 'syndrome', in ooreenstemming met die keuse vir 'Von Hippel-Lindau (VHL) syndrome' elders in die artikel. Die outeur moet dus die finale besluit neem wat die korrekte term betref.

Een moontlike inhoudelike fout wat nie deur die redigeerder aangedui is nie, word wel opgelet. Daar word naamlik verwys na 'the succinate dehydrogenase subunit genes: SDHD, SDHD and SDHC'. Na aanleiding van die inligting elders in die artikel word vermoed dat die herhaling van die eerste term foutief is, en dat dit behoort te wees 'SDHC, SDHD and SDHB'. Die redigeerder sou so 'n moontlike probleem met behulp van 'n opmerking aan die outeur kon uitwys, eerder as om te aanvaar dat dit 'n fout is.

Die probleme in die bronnelys word nie, soos in ander van die geredigeerde artikels, deur middel van opmerkings toegelig nie en die redigeerder het slegs die nodige veranderinge aangebring. Hieruit kan 'n neiging tot 'n produkbenadering afgelei word.

Die redigeerder se versuim om 'n moontlike inhoudelike fout (waarskynlik bloot vanweë 'n tikfout) aan te dui, dui op 'n moontlike meer oppervlakkige benadering tot die teks. Die betrokke voorbeeld wys dan ook op die belangrikheid daarvan om aspekte soos logika en konsekwentheid te kontroleer, aangesien logiese probleme en inkonsekwenthede dikwels inhoudelike probleme aandui.

Artikel 6

Case report: Epithelioid sarcoma of the vulva

Hierdie geredigeerde artikel bevat geen opmerkings nie, wat dit dus in die laaste posisie plaas.

Die redigeerder het hoofsaaklik kopie- en stilistiese redigering toegepas, en een wysiging hou verband met die eksterne struktuur, naamlik die verskuiwing van die sleutelwoorde om direk op die titel te volg, eerder as wat dit na die abstrak geplaas word. Hierdie wysiging is nie met behulp van 'n opmerking toegelig nie - anders as in die geval van artikel 1 waar die redigeerder dit verkies het om slegs die probleem uit te lig sodat die outeur dit kan regstel.

In die bronnelys het die outeur drie keer dieselfde fout begaan wat betref die hantering van veelvuldige outeurs: Sewe en meer outeurs word naamlik nie afgekort na slegs die eerste drie outeurs gevolg deur 'et al.' nie. Die redigeerder korrigeer hierdie fout telkens, maar voeg nie 'n opmerking in om die outeur van die betrokke beginsel bewus te maak nie. Hierteenoor gebruik die redigeerder van artikel 8 'n opmerking wanneer dieselfde fout slegs een keer in daardie artikel opgelet word: 'If there are six authors or fewer, provide all the names. Otherwise provide the names of the first three, followed by et al.'

Die redigeerder van hierdie artikel neig waarskynlik ook na 'n produkbenadering, alhoewel die aard van die probleme in die teks waarskynlik bydra tot die besluit om nie opmerkings in te sluit nie. Waar 'n fout egter meer as een keer voorkom (en 'n bepaalde konvensie van akademiese skryfwerk ter sprake kom), sal 'n toeligtende opmerking wel waardevol wees om die outeur te bemagtig om die fout in die toekoms te voorkom.

Artikel 7

Safety and efficacy of insertion of supraglottic devices in an anaesthetised patient by first-time users

Van die agt artikels wat bestudeer is, bevat hierdie artikel die meeste opmerkings, naamlik 1.04 per 100 woorde.

Die redigeerder het kopie-, stilistiese, strukturele en inhoudelike redigering toegepas, met 'n tendens om opmerkings ten opsigte van inhoudelike veranderinge en kwessies aan te bied, gevolg deur stilistiese en strukturele kwessies. Slegs een opmerking wat met kopieredigering verband hou, is ingevoeg (wat die outeur naamlik aanraai om die vaktydskrif se riglyne oor die aanbieding van webverwysings te raadpleeg en self die nodige verandering aan te bring), maar die res van die wysigings wat met kopieredigering verband hou, word nie deur opmerkings toegelig nie. Hier sou wel van die redigeerder verwag kon word om die korrekte formaat van die webverwysing aan te dui sodat die outeur die korrekte gegewens kan opsoek en invul. Om bloot aan te dui dat die formaat foutief is, is moontlik 'n té oppervlakkige strategie, juis omdat 'n kopieredigeringskwessie ter sprake is.

Tien opmerkings hou verband met stilistiese kwessies. In sewe van die gevalle het die redigeerder 'n stilistiese wysiging aangebring, en dikwels het die betrokke opmerking ten doel om die outeur bewus te maak van die stylbeginsel wat toegepas is, en/of om te vra dat die outeur die wysiging nagaan en die wetenskaplike korrektheid daarvan verseker. Byvoorbeeld:

Please note that all abbreviations should be defined at their first use, both in the Abstract and then again in the text. Please check that I have inserted the correct definition for LMA.

Ook: 'It is not necessary to create an abbreviation if a term is only used once in the paper'.

Een keer word die oorspronklike formulering 'alteration to' met behulp van spoorveranderinge verander na 'adjustment to', maar dan word 'n opmerking ook ingevoeg wat 'n tweede moontlikheid opper: 'deviation from?' Hierdie werkswyse kan die outeur dalk verwar - hy of sy moet nou 'n keuse maak, maar kan miskien wonder of die opsie in die opmerking dalk meer (of minder) gesag dra as die wysiging met spoorveranderinge.

In twee gevalle het die redigeerder nie self die nodige wysiging aangebring nie (die invoeging van die volle omskrywing van 'n term), vermoedelik omdat hy of sy nie met die tegniese terme vertroud is nie. Die outeur word gevra om dit te doen. Hierdie strategie is egter ietwat inkonsekwent, gegee die invoeging van 'laryngeal mask airway' vroeër in die teks.

Die redigeerder se wysigings wat met die artikel se eksterne struktuur verband hou, word telkens toegelig: Die redigeerder het naamlik self sekere veranderinge aangebring aan die lettergrootte en lettertipe, soos deur die tydskrif vereis word, en beskryf dit in 'n opmerking. In verdere opmerkings word die outeur gevra om die tydskrif se riglyne wat betref die uitleg van die titelblad na te gaan, advies word gegee wat betref die uitleg van tabelle ('Consider making the widths of the rows in the table smaller' en 'Please present table in a similar style to the previous two tables') en die outeur word gevra om die kantlyn van die verwysings na te gaan en te korrigeer. Dit is egter nie duidelik waarom die redigeerder wel sekere tipografiese veranderinge aangebring het, en besluit het om ander aan die outeur oor te laat nie.

Een wysiging ten opsigte van die interne struktuur (die verskuiwing van 'n kort paragraaf) is wel deur die redigeerder aangebring, maar sonder enige opmerking wat interaksie met die outeur bewerkstellig. So 'n wysiging bots met die riglyn van die EAC (2012), asook dié van Taaldiens Stylgids(Taalsentrum 2012) waarvolgens die redigeerder nie veronderstel is om bloot strukturele wysigings aan te bring nie, maar eerder net 'n opmerking moet invoeg.

Elf opmerkings hou verband met inhoudelike kwessies. Die naam van die supraglottiese lugweg in die oorspronklike artikel was foutief ('I-gel' in plaas van die korrekte 'i-gel'), waarop die redigeerder dit deurgaans gekorrigeer het en 'n opmerking ingevoeg het om die besluit te verduidelik en te motiveer. In drie gevalle word die outeur gevra om feitelike verwarring op te klaar ('Please confirm whether this should be "or" or "and", or even "three-quarters"', wat twee keer ingevoeg is, asook 'Please confirm that this is three-quarters, and not "3 and/or 4"').

Een opmerking wys die outeur op ontbrekende inligting ('This sentence is not complete. Either add something or rephrase'), en elders word die outeur daarop gewys dat 'n verwysing na 'signals' liefs gekwalifiseer moet word: 'Please consider qualifying this (what signals)?' Voorts word die benaming van 'n statistiese toets gekorrigeer ('ANOVA with Scheffe's test' in plaas van 'ANOVA Scheffe's test') en die outeur word versoek om dit na te gaan. Die redigeerder se invoeging van die volledige term vir 'RPP' ('rate pressure product') is as inhoudelike wysiging geklassifiseer, aangesien die redigeerder dit in die opmerking daarby as die invoeging van 'n 'definisie' beskryf, maar dit is in der waarheid 'n stilistiese wysiging wanneer die volle term in die plek van die afkorting, en andersom, gegee word. Ten opsigte van die inhoudelike wysigings is die vraag of die redigeerder die korreksies nie in 'n voetnota moes verskaf het, eerder as om dit self aan te bring nie.

Op inhoudelike vlak sou die redigeerder moontlik die volgende formulering kon bevraagteken: 'Time taken for insertion of i-gel by both groups was non-significant (p < 0,5)'. Die studie het ten doel gehad om te bepaal of daar beduidende verskille tussen die gebruik van die lugweg deur onderskeidelik 'n ervare en 'n onervare groep gebruikers is. Die bedoeling in hierdie geval was moontlik om te sê dat die tyd wat dit die ervare groep geneem het om die lugweg in te voeg, nie beduidend verskil het van die tyd wat dit die onervare groep geneem het nie. Dit sou deur middel van 'n opmerking aangedui kon word.

Oor die algemeen is die redigeerder van hierdie artikel baie bewus van die outeur se verantwoordelikheid teenoor sy of haar teks, soos byvoorbeeld blyk uit die talle versoeke aan die outeur om sekere wysigings finaal na te gaan. Dit is tog opvallend dat die redigeerder sekere inhoudelike veranderinge aangebring het en die outeur slegs gevra het om dit na te gaan. Stilistiese kwessies word wel in hierdie artikel toegelig, terwyl dit nie in die ander sewe gedoen word nie. Dit dui op 'n ingesteldheid by die redigeerder om die outeur te probeer bemagtig, maar ook op omsigtigheid, aangesien die redigeerder duidelik begryp dat stilistiese wysigings die gevaar van betekenisverwringing kan meebring wanneer vaktaal ter sprake is.

Die kritiek teen die redigeerstrategie wat hier gevolg is, is dat dit nie heeltemal sistematies is nie, soos blyk uit die inkonsekwenthede ten opsigte van strukturele wysigings. Ook skyn die hantering van inhoudelike kwessies te bots met die riglyn dat die redigeerder nooit sulke wysigings mag aanbring nie, maar dit slegs mag aandui. Sulke knelpunte dui waarskynlik op 'n behoefte aan duidelike riglyne vir redigeerders - wanneer moet die redigeerder bloot korrigeer, wanneer is 'n opmerking nodig en wanneer is dit nodig om die outeur te versoek om self die verandering aan te bring?

Die geredigeerde artikel bied wel goeie voorbeelde van opmerkings wat samewerking met die outeur ten doel het, en wat die wetenskaplike akkuraatheid van die artikel wil verseker deur die finale verantwoordelikheid voor die outeur se deur te lê. Die redigeerder gebruik 'n bondige styl, maar maak steeds seker dat alle opmerkings helder is, terwyl 'n goeie verhouding met die kliënt deur die respekvolle trant gevestig word: 'Please confirm that the changes are correct', 'I have reworded this Please check that it is correct' en 'I have inserted this definition of RPP; please check that it is correct'.

Artikel 8

Anaesthetic management in patient of thoracopagus - case report

Die betrokke artikel bevat agt opmerkings, wat dit dus met 'n gemiddeld van 0.31 opmerkings per 100 woorde in die derde posisie plaas.

Die redigeerder het hoofsaaklik wysigings aangebring wat onder kopieredigering tuisgebring kan word. Die oorspronklike weergawe het redelik ernstige grammatikale probleme bevat, wat reggestel is sonder dat opmerkings aangebring is. Die volgende wysigings is byvoorbeeld bloot aangebring sonder om die betrokke grammatikale beginsels te verduidelik: 'Limbs of the parasite were lying in front of neck and interfered the mask holding' is gewysig na 'The limbs of the parasite were lying in front of the neck and interfered with holding the mask in position'.

Ten opsigte van kopieredigering is daar wel drie opmerkings aangebring. Eerstens word daar in 'n opmerking gevra of die frase 'even rare' nie 'even more rare' behoort te wees nie. Dit is egter redelik duidelik dat 'more' ontbreek, en die redigeerder sou eerder kon besluit het om die probleem reg te stel en dalk net 'n opmerking in te voeg waarin die outeur gevra word om dit na te gaan. 'n Verdere opmerking wys die outeur op 'n foutiewe nommer van 'n verwysing, maar sonder dat die redigeerder die probleem regstel - 'n aspek wat ook deur die redigeerder gekorrigeer sou kon word, met 'n opmerking daarby wat die fout toelig. In 'n laaste opmerking word die outeur daarop gewys dat die name van al die outeurs in 'n bronnelysinskrywing gegee moet word, indien daar ses of minder outeurs is. Indien daar meer outeurs is, kan slegs die eerste drie gegee word, gevolg deur 'et al.'. In hierdie geval maak die redigeerder die outeur bewus van 'n beginsel, met die gevolg dat die outeur nou verantwoordelikheid neem, maar die fout ook in die toekoms sal kan vermy.

Geen opmerkings ten opsigte van stilistiese wysigings kom voor nie, en dit blyk ook dat die redigering baie min stilistiese ingrepe behels het. Die enkele stilistiese wysigings het veral te make met die gepaste gebruik van vaktaal, maar sonder dat betekenis in die gedrang kom - byvoorbeeld 'anaesthetic induction' wat gewysig is na 'induction of anaesthesia'. Geen opmerkings ten opsigte van struktuurkwessies is aangebied nie, en geen sulke wysigings is aangebring nie.

Ten opsigte van inhoudelike kwessies word vyf opmerkings gegee. Die redigeerder vra die outeur om die vae stelling ' the incidence is estimated to be 1-2 million live births' te kwalifiseer, en stel twee moontlikhede voor: 'Is this one in 2 million or one to two million?' 'n Verdere opmerking wys die outeur op 'n ontbrekende verwysing, terwyl ontbrekende inligting in 'n derde opmerking uitgewys word.

Voorts word die verwarrende aard van die term 'radiologist intensive care specialist' uitgewys sodat die outeur die nodige korreksie kan aanbring (waarskynlik moet daar slegs 'n komma na 'radiologist', sowel as 'n lidwoord telkens voor die selfstandige naamwoord, ingevoeg word om dit duidelik te maak dat daar hier na twee kundiges verwys word, juis omdat hierdie frase in 'n lys aangetref word - 'the senior anaesthetist, the paediatric physician, the surgeon, the radiologist, the intensive care specialist'). Die redigeerder sou hierdie probleem dalk eerder as 'n kopieredigeringskwessie kon hanteer het en die komma en die lidwoorde invoeg, asook 'n opmerking gee waarin die outeur gevra word om die wysiging na te gaan.

'n Laaste opmerking wat met inhoud verband hou, wys die outeur daarop dat die datum van een bron in die bronnelys ontbreek.

Oor die algemeen besef die redigeerder baie goed dat die outeur die finale verantwoordelikheid behoort te neem wat bepaalde kwessies - byvoorbeeld die volledigheid van die inhoud en van die bronnelys - betref. Soms is die redigeerder moontlik wel te huiwerig om 'n kwessie op te los wat nie werklik 'n inhoudelike kwessie is nie, soos byvoorbeeld in die geval van 'radiologist intensive care specialist'. 'n Punt van kritiek is dat die ongrammatikale titel van die artikel verbeter sou kon word - moontlik om te lui 'Anaesthetic management of a patient with thoracopagus - a case report'.

Die redigeerder gebruik baie bondige opmerkings wanneer veel verduideliking nie nodig is nie, soos om bloot te vra 'Date?' wanneer die weglating van die datum duidelik net 'n nalatige fout was. Elders word 'n meer uitgebreide opmerking gemaak wanneer die redigeerder wil verseker dat die outeur die moontlike probleem begryp, soos in die geval van '1-2 million live births'. Die redigeerder gebruik dus meer of minder uitgebreide opmerkings soos die betrokke probleem dit regverdig.

 

'n Moontlike redigeerstrategie vir akademiese tekste

Omdat die raamwerk vir ontleding soos uiteengesit in 3.2 redelik helder onderskei tussen die verskillende soorte tekstuele probleme en wysigings, word daar voorgestel dat redigeerders hulle redigeerstrategie daarop baseer.

In die praktyk sal dit beteken dat die redigeerder alle probleme in die teks identifiseer en aan die hand van die raamwerk as 'n bepaalde soort probleem identifiseer. Daarna volg 'n besluit oor die hantering van elke probleem, wat aan die hand van die volgende riglyne vir akademiese redigering geneem kan word:

Inhoudelike probleme

Hierdie probleme word altyd deur middel van opmerkings hanteer.

Die redigeerder kan 'n korreksie van 'n meer tegniese aard in 'n opmerking aanbied, vergesel van 'n bronverwysing waar nodig:

Die korrekte skryfwyse is 'i-gel' in plaas van 'I-gel' - vergelyk http://www.intersurgical.com/info/igel9

Voorstelle om inligting by te voeg of weg te laat (bv. om 'n gevolgtrekking te gee), word slegs as voorstelle aangebied sodat die outeur die finale besluit kan neem. Sulke voorstelle kan ook as vrae geformuleer word wat die outeur oor die probleem sal laat besin:

Ek stel voor dat 'n gevolgtrekking hier ingevoeg word.

Behoort hier nie 'n gevolgtrekking gegee te word nie?

Wanneer die weglating van inligting waarskynlik die gevolg van 'n tegniese fout is, kan die outeur die instruksie ontvang om dit reg te stel:

Tabel 2 ontbreek en moet hier ingevoeg word.

Redigeerders behoort basiese berekeninge (bv. persentasies) deur te gaan en ooglopende probleme te merk of te bevraagteken sodat die outeur finaal kan kontroleer:

Hiervolgens word 45 respondente uit 60 as 85% gegee(?)

Redigeerders behoort logiese en konseptuele probleme uit te wys sodat die outeur finaal kan kontroleer:

Is dit moontlik dat tyd (geneem vir inplasing deur beide groepe) niebeduidend kan wees?

Moet dit dalk wees: ''n beduidend positiewe verwantskap tussen' eerder as ''n positiewe beduidende verwantskap'?

Redigeerders kan moontlike nalatige feitefoute raaksien deur na inkonsekwentheid en/of onnodige herhaling op te let en die outeur te vra om dit na te gaan:

Is die eerste twee terme korrek: 'SDHD, SDHD en SDHC'?

Strukturele probleme (intern)

Interne strukturele probleme word altyd deur middel van opmerkings hanteer.

Redigeerders behoort fyn op te let na byvoorbeeld koherensieprobleme, en hulle moet uitgewys word sodat die outeur die nodige korreksies kan aanbring. In ooreenstemming met die prosesbenadering behoort die outeur self na die oplossing te soek:

Hierdie paragraaf sluit glad nie by die vorige een aan nie. 'Hierdie resultate' hou glad nie verband met die vorige paragraaf nie en die paragraaf moet waarskynlik na elders in die teks verskuif word om met die voorafgaande inligting verband te hou.

Voorstelle vir die invoeging van byvoorbeeld oorgangsinne en -paragrawe moet slegs as voorstelle aangebied word. Vrae kan die outeur ook help om die probleem te begryp:

Hoe hou hierdie afdeling verband met die vorige? Oorweeg dit om 'n kort oorgangsparagraaf in te voeg wat die verband duidelik maak.

Strukturele probleme (ekstern)

Eksterne strukturele probleme kan in sekere gevalle deur die redigeerder gekorrigeer word, veral wanneer die regstelling meer 'n meganistiese ingreep deur die redigeerder behels. Nietemin behoort sulke wysigings deur 'n verduidelikende opmerking vergesel te word, sodat die outeur die fout in die toekoms kan vermy:

Die lettergroottes het gewissel en dit is deurgaans gewysig na Times New Roman 12, in ooreenstemming met die vaktydskrif se riglyne.

Wanneer die probleem ten opsigte van eksterne struktuur na die inhoudelike toe oorhel, behoort die redigeerder slegs 'n toeligtende opmerking te gee:

Die vaktydskrif se riglyne dui aan dat die abstrak aan die hand van die volgende subopskrifte gestruktureer word:

Indien 'n uitlegprobleem tydens die redigering van die teks insluip, behoort die redigeerder dit self reg te stel, waar moontlik. Indien die redigeerder nie by magte is om dit te doen nie, moet die outeur daarop attent gemaak word en versoek word om dit reg te stel:

Die tabel het tydens die redigeerproses verskuif. Korrigeer dit asb. deur die tabel na die oorspronklike posisie (aan die einde van paragraaf 4.1) te verskuif.

Stilistiese probleme

Oor stilistiese probleme bied die internasionale standaarde nie eenvormige riglyne nie. Volgens CASE (2013) se riglyne mag redigeerders wel probleme wat betref helderheid en toonaard oplos, terwyl EAC (2012) aanbeveel dat probleme met helderheid (waaronder woordkeuse en sinskonstruksies) slegs met behulp van opmerkings aangedui mag word. Waarskynlik sal die riglyn hier geld dat stilistiese wysigings toelaatbaar is, mits hulle geensins aan die inhoud verander nie en slegs groter begrip by die leser sal bewerkstellig. Sinsbou en woordkeuse sou dus verander kon word sonder om 'n opmerking in te voeg, alhoewel dit moontlik waardevol vir studente se eie leerproses kan wees indien hulle van spesifieke stilistiese probleme bewus gemaak word.

As 'n algemene riglyn mag die redigeerder stilistiese wysigings aanbring sonder om opmerkings te verskaf. Kwessies soos bondigheid, helderheid en formaliteit kan dus hanteer word sonder om die outeur daarop attent te maak, maar volgens die prosesbenadering kan dit meer sinvol wees om bepaalde stylbeginsels aan die outeur te verduidelik, nadat die wysiging aangebring is:

Hierdie twee sinne word ter wille van bondigheid en vloei gekombineer.

Wanneer die taalgebruik ten opsigte van vaktaal verbeter word, is dit nodig dat die redigeerder 'n opmerking invoeg indien daar enige twyfel is oor vakkundige korrektheid:

Maak asb. seker dat die wysiging korrek is: 'beskermende effek ten opsigte van allergiese rinitis' in plaas van 'beskermde effek in allergiese rinitis'.

Wanneer die redigeerder die volle term invoeg in plaas van die afkorting, is dit aangedui om te vra dat die outeur seker maak dat die term wel korrek is:

Maak asb. seker dat die volle term vir EKP (eosinofiele kationiese proteïen) korrek is.

Opmerkings kan veral ten opsigte van die meer 'tegniese' stilistiese kwessies gebruik word om bepaalde beginsels by die outeur vas te lê - veral met betrekking tot die hantering van afkortings:

Gee altyd die volle term wanneer dit die eerste keer in die artikel voorkom, tesame met die afkorting. Daarna mag slegs die afkorting gebruik word.

Kopieredigering

Die redigeerder mag wysigings ten opsigte van kopieredigering aanbring sonder om opmerkings te verskaf.

Opmerkings kan wel waardevol wees om outeurs van herhalende probleme bewus te maak - veral wat verwysingstegnieke betref. Dit is verkieslik om een opmerking aan byvoorbeeld die begin van die bronnelys te gee, en soortgelyke probleme bloot te merk (bv. deur die dele te belig).

Ten opsigte van kopieredigeringskwessies behoort redigeerders soveel as moontlik van die probleme op te los. Opmerkings het die bemagtiging van outeurs ten doel, eerder as dat redigeerders self hierdie soort probleme moet oplos.

Opmerkings word ingevoeg wanneer dit tegnies nie moontlik is om 'n wysiging aan te bring nie - byvoorbeeld in 'n figuur.

Wanneer die redigeerder 'n tikfout vermoed, maar dit nie kan naslaan nie, behoort dit in 'n opmerking aangedui te word sodat die outeur dit kan nagaan:

Moet dit dalk SDHB wees soos elders in die artikel?

Konsekwentheid

Dit is wel moeilik om riglyne oor konsekwentheidskwessies te verskaf, omdat die gebruik daarvan in die voorbeeldartikels uiters beperk was. Daar word egter voorgestel dat die redigeerder al die probleme ten opsigte van konsekwentheid so ver as moontlik oplos. Een algemene opmerking per kwessie kan die outeur egter van die probleem bewus maak sodat dit in die toekoms vermy kan word.

 

Slot

Hierdie artikel het probeer om voorlopige riglyne vir die etiese redigering van akademiese tekste te formuleer. Dit sal nodig wees om die effektiwiteit hiervan te probeer bepaal, byvoorbeeld deur die terugvoer van outeurs na afloop van die redigeerproses te bekom. Outeurs sal byvoorbeeld betrek kan word in 'n studie wat ten doel het om te bepaal of outeurs die voorgestelde redigeerproses wel as opbouend ervaar, en of hulle moontlik enige frustrasie ervaar het - in die sin dat te min of te veel wysigings volgens die outeur se oordeel aangebring is. Sulke terugvoer kan waardevol wees om die voorgestelde redigeerstrategie verder te verfyn en prakties werkbaar te maak.

Aandag kan ook gegee word aan die kwessie van of dit nie moontlik nodig is dat die redigeerder die finale weergawe weer deurgaan alvorens dit vir eksaminering of publikasie ingedien word nie. Alhoewel outeurs finale verantwoordelikheid moet neem, maak die omvang van die foute in sommige manuskripte dit dikwels nodig dat die redigeerder die teks finaal hersien. Om te aanvaar dat die outeur aan die einde van die proses oor die nodige kundigheid beskik om die afronding aan die finale weergawe te kan doen, hou moontlik nie rekening met die realiteit van akademiese skryfvaardighede nie.

 

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bishop, C.T., 1984, How to edit a scientific journal, ISI Press, Philadelphia.

Butcher, J., Drake, C. & Leach, M., 2006, Butcher's copy-editing: The Cambridge handbook for editors, copy-editors and proofreaders, Cambridge University Press, Cambridge, UK.

Carstens, W.A.M. & Van de Poel, K., 2012, Teksredaksie, hersiene uitgawe, SUN MeDIA, Stellenbosch.

Council of Australian Societies of Editors (CASE), 2013, Australian standards for editing practice, 2nd ed., viewed on 09 September 2015, from http://iped-editors.org/site/DefaultSite/filesystem/documents/ASEP%20flat%20onscreen%20version

Editors' Association of Canada (EAC), 2009, Professional editorial standards, viewed on 09 September 2015, from http://www.editors.ca/files/public/PES-2009-FINAL.pdf

Editors' Association of Canada (EAC), 2012, Guidelines for ethical editing of theses/dissertations, viewed on 09 September 2015, from http://www.editors.ca/files/public/Guidelines_Editing_Theses_2012-06-02_APPROVED.pdf

Hippolyte, C., 2014, ''n Beskrywende studie van die redigeerproses wat gevolg word tydens die redigering van akademiese artikels by die US Taaldiens', honneursnavorsingswerkstuk, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch.

Institute of Professional Editors Limited (IPEd), 2010, Guidelines for editing research theses, viewed on 30 May 2013, from http://iped-editors.org/site/DefaultSite/filesystem/documents/Guidelines%20for%20editing%20research%20theses.pdf

Law, M., 2011, 'The development of core standards for editing in South Africa', Southern African Linguistics and Applied Language Studies 29(3), 275-292. http://dx.doi.org/10.2989/16073614.2011.647491        [ Links ]

Law, M., 2014, 'Factors influencing editorial work within the sectors of the South African editing industry', Southern African Linguistics and Applied Language Studies 32(3), 285-299. http://dx.doi.org/10.2989/16073614.2013.837614        [ Links ]

Lourens, A., 2014, 'Produk teenoor proses tydens akademiese redigering: Opmerkings as aanwysers van redigeergerigtheid', SPiL Plus 43, 1-36. http://dx.doi.org/10.5842/43-0-202        [ Links ]

Macdonald, M., 2008, 'Editing theses and dissertations. Part 1: Ethical issues', Editing Matters, Jan./Feb., pp. 3-4.

Mossop, B., 2010, Revising and editing for translators, 2nd ed., Manchester, St. Jerome.

Taalsentrum, 2012, Taaldiens Stylgids, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch.

Whalen, E., 1989, 'Why we edit', American Journal of Roentgenology 152, 647-649. http://dx.doi.org/10.2214/ajr.152.3.647        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Amanda Lourens
alourens@sun.ac.za

Received: 28 Jan. 2016
Accepted: 14 June 2016
Published: 30 Sept. 2016

 

 

1 Die stylgids meld spesifiek dat die term 'tesis' wat in die gids gebruik word, ook proefskrifte en akademiese artikels insluit. Die leser word egter daarop gewys dat die term 'tesis' of 'proefskrif' normaalweg aan Suid-Afrikaanse universiteite vir 'n doktorale studie gebruik word, terwyl 'verhandeling' gewoonlik vir 'n magisterstudie gebruik word.
2 Etiese en verantwoordbare redigering word as uitruilbare konsepte beskou. Redigering wat nie die etiese grens van inhoudelike en strukturele wysigings oorskry nie, is immers ook verantwoordbaar - redigeerders werk volgens 'n raamwerk wat aandui dat hierdie aspekte liefs nie verbeter moet word nie, en sou hul keuses aan die hand hiervan kon verduidelik of regverdig.
3 Kruger en Bevan-Dye (in Lourens 2014) se onderskeid tussen die sogenaamde produk- en prosesbenadering behels dat 'n produkgeoriënteerde siening op die geredigeerde eindproduk fokus, terwyl 'n prosesgeoriënteerde siening behels dat die redigeerder eerder 'n fasiliterende rol in die student se skryf-as-leer-proses speel. Laasgenoemde rol impliseer ook volgens die outeurs 'n groter mate van betrokkenheid en ingryping.
4 Registrasienommer REC-050411-032 (Nasionale Gesondheidsnavorsing-etiekkomitee).
5 Let daarop dat die navorser nie oor inligting beskik of dieselfde redigeerder moontlik meer as een artikel geredigeer het nie.
6 Ook lyste wat met letters (a, b,c ens.) aangedui word.
7 'The majority of women in Nigeria do not book into the hospital [
]. Many register with traditional birth attendants and deliver at home. This is apparently because many have no formal education and are not empowered.'
8 Dit sou moontlik wees om hierdie opmerking as te make met konsekwentheid te beskou, maar dit word vir die doel van die ontleding as inhoudelik van aard beskou.
9 Die voorbeelde wat hier gegee word, is óf gebaseer op voorbeelde in die datastel, óf dit is die navorser se eie voorbeelde.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License