SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 número1 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Literator (Potchefstroom. Online)

versión On-line ISSN 2219-8237
versión impresa ISSN 0258-2279

Literator vol.37 no.1 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1316 

OOORSPRONKLIKE NAVORSING

 

T.T. Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus (Deel 2): T.T. Cloete as literêr-historiese teoretikus

 

T.T. Cloete as literary critic, theorist and literary historian (Part 2): T.T. Cloete as theorist of literary history

 

 

Hendrik van Coller

Unit for Languages and Literature in the South African Context, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Daar is reeds beweer dat die bekende literatuurwetenskaplike en digter T.T. Cloete, volgens Siegfried Schmidt (1992) se definisie al vier rolle wat hy onderskei binne die literêre sisteem (dié van literêre produksie, verspreiding, resepsie en literêre verwerking), vertolk het. In hierdie tweede gedeelte van 'n tweedelige artikel word veral gekyk na Cloete se rol as literatuurhistorikus. Daar word gefokus op sy teoretiese (metodologiese) besinning oor die literatuurgeskiedenis. Dit is egter opvallend dat 'n historiese bemoeienis met die literêre werk eintlik na vore tree in al hierdie sogenaamde rolle waarvan Schmidt praat. Vir Cloete is die literêre werk enersyds ingebed in 'n historiese tydsraamwerk wat bepaalde hermeneutiese imperatiewe aan die kritikus oplê, byvoorbeeld morfologiese rekonstruksie van 'n historiese konteks; andersyds is die literêre teks hier-en-nou aanwesig en is dit toeganklik vir kundige lesers. Hieruit spreek 'n relativistiese kyk op literatuur, maar daarteenoor normatiwiteit, want vir Cloete is dit slegs die tekste wat kompleks en geïntegreerd is wat die tyd kan oorlewe. In die slot van hierdie artikel-tipies trouens van die narratiewe aanpak wat hier gevolg word (cf. Sools 2009:27), is daar naas 'n konfrontasie met die (metodologiese) uitgangspunte van Cloete oor die literatuurgeskiedenis ook selfkonfrontasie. 'n Persoonlike siening van die skryf van 'n literatuurgeskiedenis (as 'n implisiete huldebetoning aan Cloete) rond die argument af.


ABSTRACT

It had already been stated that Siegfried Schmidt (in Hjort 1992) discerned four 'roles' within the Literary System, that of literary production, dissemination, reception and literary processing. According to this definition, T.T. Cloete, the well-known author and critic, had played all of these roles. In this second part of a two-part article the focus is on Cloete as a literary historian and in particular on his theoretical (methodological) perceptions pertaining to literary history. It is abundantly clear that in all of his different roles a historical awareness was always present. For Cloete the literary work of art was inbedded in a historical timeframe which imposed hermeneutical imperatives on the critic; on the other hand the literary work of art is present in the here and now and accessible to any skilled reader. One of the objectives of this study is to argue that there was thus an implied dichotomy in Cloete's thinking on literary history. On the one hand there had been a relativistic view that positioned literary texts in the past, and on the other hand a normative view that implied that certain texts (due to inherent qualities like integration and complexity) could gain a certain permanence. In the last part of this article-true to the narrative approach, an implied confrontation with Cloete's (methodological) views of literary history lead to a personal standpoint as a confrontation with the self (cf. Sools 2009:27). This explication of a personal view on the writing of a literary history (as an implied homage to Cloete) concluded the article.


 

 

Inleiding

In 'n vorige artikel (Van Coller 2016) is Cloete se historiese gerigtheid bespreek aan die hand van sy rubrieke, sy bloemlesings en ook van sy kritiese werk, veral dié met 'n historiese inslag. Hoewel sy poëtikale sienings met betrekking tot die historiese aspekte van letterkunde daar aan bod gekom het en dikwels slegs implisiet afgelees kon word, is die fokus van hierdie artikel anders. Nou word daar veral gefokus op Cloete se eie eksplisiete uitsprake oor die teorie en praktyk van literatuurgeskiedskrywing.

In die Afrikaanse letterkunde, vóór die verskyning van J.C. Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1978, 1983), was die twee bekendste (en betroubaarste) literatuurgeskiedenisse, dié van G. Dekker en Rob Antonissen. Van Wyk Louw, uiters krities ten opsigte van die kritici van sy tyd, het beide Antonissen en Dekker hoog waardeer as kritici en literatuurhistorici en het by 'n paar geleenthede gehelp om Antonissen aangestel of 'bevorder te kry' by Rhodes Universiteit (Steyn 1998:508, 514). Oor Dekker skryf Louw (1982:135) by die herdenking van Dekker se sestigste verjaarsdag:

Hy was literatuurhistorikus selfs vóór hy sy Afrikaanse Literatuurgeskiedenis geskrywe het [] Ons was [] jonk en vervul met liefde vir die beste in ons ouer literatuur, en byna te fanatiek beslis om die tradisie nie te laat doodloop of in navolging te verstar nie.

Met die moontlike uitsondering van die Universiteit van die Vrystraat waar die literatuurgeskiedenis van Beukes & Lategan (1952) voorgeskryf is, is Antonissen en Dekker elders aan universiteite voorgeskryf.

J.C. Kannemeyer is self vol lof vir beide sy voorgangers:

Wat [in Antonissen se literatuurgeskiedenis] opval is die besonder organiese en integrale rubrisering, die juistheid van die waarde-oordeel in die meeste gevalle en die vermoë om die hele oeuvre van 'n skrywer kernagtig saam te vat en terselfdertyd die aandag op die belangrikste werke of gedigte te vestig en hulle vlugtig te karakteriseer. (1978:288)

Oor Dekker is Kannemeyer eweneens oorwegend positief, veral oor sy vermoë om detailkritiek te lewer, 'om orals in sy literatuurgeskiedenis insiggewende opmerkings te maak oor 'n enkele werk of 'n hele oeuvre en deur sy wye belesenheid verband met ander literature te trek'. Kannemeyer 1978:103). Dit spreek byna vanself dat hy dit wat hy waardeer in hulle werk in sy eie werk sou wou laat neerslag vind; trouens sy besprekings van Antonissen en Dekker in sy eie literatuurgeskiedenis is 'n kernagtige uiteensetting van sy eie poëtikale uitgangspunte. Kannemeyer word in die hieropvolgende polemiek ook telkens deur diegene wat hom verdedig, geprys vir sy juiste oordele, die kernagtige samevatting van skrywers se oeuvres én sy detailkritiek. 'n Mens kan self ook byna willekeurig in sy twee literatuurgeskiedenisse rondblaai om te sien in watter mate hy veelvuldig gebruik maak van verwysings (sg. mentions) na selfs buitelandse skrywers by die bespreking van outeurs (Rosengren 1985, 1987; Van Coller 2009:89 e.v.).

Na die verskyning van die eerste band van Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1978), ontstaan daar 'n hewige polemiek. Cloete (1980a) se bespreking van Kannemeyer se werk is uiters negatief en hy beskuldig laasgenoemde van letterlike oornames van ander kritici sonder genoegsame erkenning; 'beamings' en 'oornames' (bl. 108) van so 'n omvang, aldus Cloete, dat plagiaat in wese geïmpliseer word. Cloete is dit ook nie eens met Kannemeyer se ruim keuse van werke en skrywers wat figureer nie. Cloete voel dat slegs letterkundige werke plek moes kry in Kannemeyer se literatuurgeskiedenis. Volgens Cloete het Kannemeyer ook geen begrip van 'kulturele relativisme' nie. 'Literatuurgeskiedenis beteken ook dat daar 'n evolusie en devolusie is in literêre strukture, vorme, manifestasies, hoe mens dit ook wil noem' (Cloete 1980a:106). Kannemeyer is nie genologies ingestel nie, sê Cloete en noem genres net terloops; boonop hou hy vas aan 'allerlei biografiese gegewens by skrywers' (bl. 107). Cloete vervolg: ''n Literatuurgeskiedenis is nie 'n kompilasie van sowat alle min of meer gangbare menings oor 'n werk of skrywer nie, selfs nie as dit mét bronerkenning gepaard gaan nie' (bl. 112).

Cloete sê dat dit die taak is van die literatuurgeskiedenis dat dit 'deurlopend moet kyk na die evolerende en devolerende [e]valuering van skrywers en veral ook afsonderlike werke' en daarvoor moet die literatuurhistorikus 'minstens vandag kennis geneem het van moderne resepsieteorieë'. Kannemeyer daarteenoor is, aldus Cloete, eerder 'n 'takseerder en bemiddelaar' (bl. 113). Cloete het veral 'n duidelike hekel aan Kannemeyer se biografiese belangstelling, onder andere persoonlike opmerkinge oor Elisabeth Eybers en Van Wyk Louw. Daarom haal Cloete Van Wyk Louw goedkeurend aan wanneer hy skryf dat biografiese besonderhede 'so min waarde vir die begrip van die kuns' het (bl. 114). Hieruit blyk reeds een van Cloete se eie poëtikale standpunte.

Kannemeyer (1980:49) reageer op Cloete se beskuldigings en beweer dat 'die gekanoniseerde uitspraak oor skrywers, veral oor ouer skrywers' voorkom in byna elke literatuurgeskiedenis en dat die opname daarvan selfs algemene praktyk is. In die loop van sy reaksie gee hy talle voorbeelde van eie sienings, ander klemplasings of nuwe insigte. In sy repliek beskuldig hy voorts vir Cloete van 'betwisbare en skewe waardeoordele' in sy eie literêre werk (onder andere oor Blum), en sê onomwonde dat hy 'geen vertroue het in Cloete se oordeel as kritikus nie'. Bowendien beskuldig hy Cloete daarvan dat hy, wat Kannemeyer se werk betref, nie wetenskaplik en met integriteit oordeel nie (bl. 47). Oor wat 'n literatuurgeskiedenis behoort te wees, laat hy hom nie juis uit nie, maar impliseer dat dit wél sy taak is om oor kritici (soos F.I.J. van Rensburg en P.D. van der Walt)- wat werk gelewer het wat 'onbevredigend' is - 'voorligtend en inligtend op te tree'. Hieruit kan afgelei word dat Kannemeyer die literatuurhistorikus nie bloot sien as beskrywer nie, maar ook as evalueerder.

Cloete (1980b) herhaal nie net sy vorige beskuldiging dat Kannemeyer op groot skaal ander kritici oorskryf nie; hy gee ander voorbeelde uit kritiese werke van Kannemeyer waarin dit ook gebeur. Verder beweer Cloete dat Kannemeyer magteloos is om (betroubare) eie oordele te gee as hy deur 'sy bron in die steek gelaat is en self verder moet "voortbou"' (bl. 101). Cloete beskuldig Kannemeyer van selektiewe erkenning in so 'n mate dat erkennings 'arbitrêr' is en dat dit onmoontlik raak om te bepaal wat sy eie insigte is (bl. 104).

die doel van 'n literatuurgeskiedenis is nie om 'sinteties' en 'oorskoulik' te wees nie, sekerlik nie op die manier van Kannemeyer nie, en die doel van die literêr-historikus is om die kanon te ken en uit te wys, nie om self te kanoniseer nie. (bl. 109)

Die implikasie hiervan is nogal verreikend omdat enige literatuurhistorikus tog 'n keuse moet maak van watter skrywers en werke in- of uitgesluit moet word. Cloete beskuldig ook vir Kannemeyer dat hy die terme 'letterkunde' en 'literatuur' ongemotiveerd as wisselterme gebruik en eindig met die volgende uitspraak:

Kannemeyer vra wat is P.D. van der Walt se 'bydrae'? Van der Walt se bydrae is dat hy sy eie bydra. Dit pas Kannemeyer allermins om sulke vrae te vra. (bl.13)

Hier is 'n skynbare teenspraak. 'n Literatuurhistorikus moet dus self sy 'eie' [oordele] bydra, maar mag nie kanoniserend optree nie?

In dieselfde jaar woed die debat steeds voort: Kannemeyer verweer homself in Die Burger en Cloete reageer opnuut in Tydskrif vir Letterkunde. Steeds wentel die kwessie oor 'skatpligtigheid' en direkte oorname 'op die besondere manier van herkenbare ander literatore, met jota en tittel, sonder erkenning' (Cloete 1980c:73). Die enigste prinsipiële (nuwe) uitspraak is dat Cloete volhou dat selfs die tipe literatuurgeskiedenis wat Kannemeyer skryf (in die tradisie van Antonissen en Dekker), oorspronklik kan wees en dat Ernst Lindenberg (in Cloete 1980b) se bewering dat Kannemeyer 'die juiste dinge oorgeneem het' en 'verstandig weggelaat het' belaglik is: '[o]m uit te vind hoe verstandig Kannemeyer weggelaat het, moet ons presies weet wat hy oorgeneem het'.

In die verdediging van Kannemeyer, deur veral oudstudente soos Jansen (1981) en Olivier (1981)- wat aanleiding gee tot verdere reaksie van Cloete (1982) én 'n antwoord deur Olivier (1982)- onderskryf hulle Kannemeyer se standpunt dat die oorname van ander literatore se oordele gewettig is. Olivier lê ook klem op die feit dat Kannemeyer in baie opsigte 'n eie aksent lê, al stem hy saam met voorgangers (hoewel hy ietwat teensinnig toegee dat Kannemeyer voorgangers weliswaar dikwels letterlik aanhaal). Veral Jansen (1981:17) beklemtoon die feit dat in die geval van 'n literatuurgeskiedenis dit noodsaaklik is (haar kursivering) om van ander kritici se werk gebruik te maak. Sy laat haar egter nie uit oor of die vraag of erkenning 'ter plaatse' behoort te geskied en of die gebruikmaking van ander kritici se menings ook impliseer dat letterlike oornames sonder erkenning gewettig is nie.

Olivier (1981:27) is van mening dat veral drie vrae van belang is in die 'meningsverskil' tussen Cloete en Kannemeyer: die oorspronklikheid van Kannemeyer se literatuurgeskiedenis, hoe ver die boek voorgee om wel oorspronklik te wees en ten derde in watter mate 'n mens van so 'n werk oorspronklikheid kan verwag.1 Olivier voel nie net dat Cloete se kritiek die status van Kannemeyer se werk in die gedrang gebring het nie, maar ook implikasies het vir die tipe literatuurgeskiedenis wat Kannemeyer geskryf het. Dit is inderdaad 'n belangrike kwessie wat Olivier hier aanraak, omdat Kannemeyer se werk in 'n tradisie staan wat baie invloed uitgeoefen het in Suid-Afrika en wat ook internasionaal (weliswaar met ander klemplasings) gevolg word. Olivier doen vervolgens enkele steekproewe en bevind dat hoewel sekere literatuurhistorici wel 'herkenbaar is' (bl. 35) by Kannemeyer, Kannemeyer oor die algemeen wel voldoende erkenning gee en boonop vol nuwe informasie, interpretasies en waardeoordele is (bl. 37). Op 'n heel pragmatiese wyse bevind Olivier (1981:37) dan dat Kannemeyer 'n betroubare en bruikbare 'oorsig van die huidige stand van sake in die Afrikaanse letterkunde' geskryf het. Dit vind hy, is waarvoor so 'n boek bedoel is. Hieruit kan reeds afgelei word wat Olivier se kriteria vir 'n geslaagde literatuurgeskiedenis is. Olivier vind ook dat Kannemeyer op geen wyse élke bron waarvan hy gebruik gemaak het, kon erken nie, en dat gebruikmaking van die voorafgaande literêre kritiek inderwaarheid noodsaaklik was.

Vervolgens hanteer Olivier Cloete se belangrikste besware teen die soort literatuurgeskiedenis wat Kannemeyer geskryf het (dit moet handel oor estetiese tekste; moet aandag bestee aan die evolusie van vorme; daar moet 'n genreonderskeid bestaan; die resepsie staan sentraal én biografiese besonderhede is bykans oorbodig) en bevind dat so 'n tipe literatuurgeskiedenis nie in Afrikaans bestaan nie. Die belangrikste besware is dat Cloete aandring op slegs die geskiedenis van die letterkunde (dus nie van alle vorme van literatuur nie)2 en 'n afkeer het van die sogenaamde pan-estetiese opvatting van Kannemeyer en dat hy voel dat Kannemeyer in gebreke bly om 'n resepsie-geskiedenis van individuele skrywers en werke te gee.

In haar artikel wys Jansen (1981) veral op resente teorieë oor die literatuurgeskiedenis en sy hanteer ook literatuur en letterkunde as wisselterme ('die geskiedenis van die literatuur [] Die doel van dié soort letterkundestudie' (bl.19). Wat vir Jansen (1981:17) die kern van die argument is, is die 'geldigheid, die noodsaaklikheid dat 'n literêre geskiedskrywer van ander kritici se werk gebruik maak.'

Jansen (bl.18) beweer dat die kommunikasieteorie nuttig kan wees by die skryf van 'n literatuurgeskiedenis en wys in hierdie verband ook na Hans Robert Jauss (1970). Sendersgerigte literatuurgeskiedenisse is neo-positivisties en dikwels (by die Marxiste bv.) vertoon dit deterministiese trekke: die geskiedenis van die letterkunde raak te maklik binne hierdie benadering 'n sosiale en politieke geskiedenis. Fokus op die boodskap alleen (die outonomistiese standpunt) maak volgens Jansen (1981:20) literatuurgeskiedskrywing feitlik onmoontlik omdat kontekstuele aspekte nooit aan die orde gestel word nie. Maar, vervolg sy, 'n '[a]nder primêr boodskap-gerigte benadering, dié van literêre evolusie op die model van die Russiese Formaliste as aflossing van sisteme is wel bruikbaar'. Laastens verwys sy na die resepsiebenaderings, veral die werkingsgeskiedenis wat 'n brug probeer slaan tussen die historiese instelling van die Marxiste en die estetiese benaderingswyse van die Russiese Formaliste.

Hierdie genoemde drie benaderings vind volgens Jansen (1981:20) op besondere wyse neerslag in die werk van die Tjeggiese Strukturalis, Felix Vodička. Volgens haar verteenwoordig sy werk én uitgangspunte in sekere opsig die ideale benadering wat betref die skryf van 'n literatuurgeskiedenis. Sy 'integrasie-metode' is na my gevoel inderdaad steeds bruikbaar vandag. Die teks is volgens hom 'n teken 'waarvan die betekenis en estetiese waarde slegs beskryf kan word op die grondslag van die literêre konvensies van 'n bepaalde [historiese] tyd' (Jansen bl. 21), hoewel die konkretisering van die werk individueel geskied (in die individuele bewussyn) wat 'slegs in potensialiteit in die kollektiewe bewussyn aanwesig is' (bl. 21). Hier speel die kritikus 'n belangrike rol wat sy individuele etstetiese ervarings van kunswerke beskryf in terme van die heersende kollektiewe norme. Literêre kritiek is hiervolgens die literatuurhistorikus se produktiefste bron vir die rekonstruksie van die literêre norme van 'n bepaalde historiese tyd of konteks. Die literatuurhistorikus moet dus die teks as werk van 'n skrywer sien wat in 'n bepaalde verhouding staan tot tydgenootlike literêre strukture en wat ook 'n verhouding onderhou met buiteliterêre tendense. Laastens moet die resepsiegeskiedenis ook betrek word, want lesers neem literêre werke waar 'teen die agtergrond van bepaalde literêre gebruike (die literêre norme)' (bl. 22).

Wat Vodička volgens Jansen sien as die taak van die literatuurhistorikus, kom eintlik neer op 'n morfologiese rekonstruksie3 van 'n vergange periode: die rekonstruksie van literêre norme en die literêre waardehiërargie daarvan, die resepsie van werke 'toe en later' en laastens, die werking of reikwydte van werke. Ten slotte bevind Jansen dat in die lig van die standpunt van Vodička (in Striedter 1976) kritici 'n bemiddelingsrol speel en dat juis hulle uitsprake die produktiefste bron is vir die rekonstruksie van die literêre norm van 'n bepaalde tyd. Geen wonder dus nie dat, gesien die belang van kritici vir literatuurgeskiedskrywing, Kannemeyer by implikasie noodwendig op hulle aangewese was. Ter verdere verdediging voeg sy by dat die literatuurhistorikus nie ''n willekeurige takseerder of bemiddelaar' is nie, maar sy menings vorm 'in 'n oorkoepelende konfrontasie met tekste én die kritiek daaroor'. Dit het Kannemeyer volgens haar goed gedoen.

Die uitvoerigste uiteensetting van sy (metodologiese) opvattinge ten opsigte van 'n literatuurgeskiedenis gee Cloete (1982) in sy reaksie op Olivier (1981) en Jansen (1981).

Cloete (1983:142) voel dat die vraag aan enige literatuurgeskiedenis is wat 'die kwantitatiewe verhouding van die nuwe tot die oue of reeds (oorbekende) is'. Voorts is hy van oordeel dat nie alle literêre werke 'geskiedenis maak nie'. Party werke raak dus in die vergeetboek en sal die ontwikkeling van die letterkunde nie beïnvloed nie. Hieruit is al duidelik dat 'normdeurbreking', wat 'n sentrale konsep was in die denke van die Russiese Formaliste en beslag kry in Ton Anbeek se literatuurgeskiedenis van 1990 ook by Cloete leef. Ten slotte stel Cloete dat daar volledige dokumentering nodig is in enige literatuurgeskiedenis (veral om te weet wat nuut is) en dat 'n literatuurgeskiedenis die geskiedenis van werke weergee.

Cloete maak later die belangrike opmerking dat Dekker en Antonissen se literatuurgeskiedenisse as 'dokumente' gesien moet word: vir die literatuurgeskiedkundige van nou is vroeëre literatuurgeskiedenisse ook geskiedenis. Uiteraard impliseer dit 'n meta-besinning. Hy tik ook vir Olivier oor die vingers wat betref sy opmerking dat Kannemeyer se werk 'n 'bruikbare oorsig is van die huidige stand van sake': die sinchroniese, vervolg Cloete (bl. 144) 'moet diachronies verklaar word in die literêre geskiedskrywing'.4

Cloete is nou ook veel duideliker oor die vraag wat 'literatuur' (hy bedoel 'letterkunde') is en wat nie. Dit is die taak van die literatuurhistorikus om te bepaal wat deur die eeue as 'sodanig [dus as letterkunde] ervaar' is; hy moet derhalwe die heersende norme van vroeër vasstel. Tog gee hy steeds nie sy standpunt prys dat die kritikus ook self moet vasstel wat letterkunde is nie; Olivier en Jansen se 'relativistiese standpunt' verwerp hy sonder meer. Hierdie standpunt van Cloete is in pas met Wellek en Warren (1976:43) se 'perspektivisme', maar beweeg duidelik in die rigting van interpretasie (wat 'n hermeneutiese en dus subjektiewe) proses is en staan in direkte teenspraak met sy vroeëre opmerking dat die literatuurhistorikus nie self moet kanoniseer nie. Cloete sien die 'arbeidsveld' van die literatuurgeskiedenis as: die vraag na die ontstaan van bepaalde, epogmakende 'literêre soorte' op 'n bepaalde tyd; die bestaansgekiedenis van werke en laastens 'die uitwerking van die literatuur' op die sosiale werklikheid. Dit is duidelik dat Cloete impliseer dat die literatuurgeskiedenis ook oog moet hê vir die evolusie van literatuur en die 'literêre soorte' se invloed daarop.

Wat Cloete vervolgens myns insiens doen, is om duidelik te stel dat literatuurgeskiedenis moet fokus op die inherente kenmerke van werke en moet probeer vasstel waarom sekere tekste die eie tyd oorlewe en steeds objekte bly van interpretasie en waardering. Dit is volgens hom weens 'die 'rykdom valensies' wat hy in homself huisves' (duidelik verwant aan Wellek en Warren se 'amount and diversity of material integrated' 1976:243) en die 'konstantes' daarin.

Cloete se outonomistiese standpunt blyk die duidelikste uit sy afwysing van biografiese besonderhede en die siening dat die literatuurgeskiedenis dien om 'die individuele werk te verstaan en te waardeer'; die 'individuele werk se belange moet steeds sentraal bly'. Wat het jy, vra Cloete, van 'n literatuurgeskiedenis nodig om vandag 'Vondel se lykdig oor sy kleindogter Maria met vreugde te lees en te waardeer?' (bl. 151). Hieruit blyk dat Cloete die literatuurgeskiedenis as 'hulpwetenskap' sien, 'n hulpmiddel by die hermeneutiese proses van interpretasie (en evaluering). Cloete gaan vervolgens so ver soos om te beweer dat die 'egte leser' a-histories lees 'en die werk as individuele teks lees' (bl. 152); 'n uitspraak waarmee ek, soos sal blyk, moeilik akkoord kan gaan. Vir Cloete is die letterkundige werk hier-en-nou aanwesig en het jy eintlik net genoeg kennis (dus ook historiese kennis) nodig sodat jy dit op die 'regte' wyse kan lees. So 'n benadering is egter moeilik te versoen met sy beklemtoning van die literatuurgeskiedenis as resepsiegeskiedenis wat in wese beteken dat jy afstand moet doen van die eie interpretasie (Fokkema & Kunne-Ibsch 1977:142 e.v.).

Olivier (1982) is veel skerper in sy reaksie op Cloete se laaste stuk. Hy tipeer die stuk as vol onduidelikhede en teenstrydighede (bl. 193). Boonop lyk dit, aldus Olivier, asof Cloete 'n ontologiese definisie verlang van 'wat literatuur' is voor jy met die literatuurgeskiedenis kan begin. Ten slotte beweer Olivier dat Cloete se teorie oor die literatuurgeskiedenis ''n verdeelde huis' is. 'n Mens moet Olivier gelyk gee in sy besware teen Cloete. Sou jy alleen die geskiedenis van letterkundige werke probeer beskryf, het jy onoorkomelike probleme met veral vroeëre eras waar daar geen onderskeid bestaan het tussen letterkunde en literatuur nie. Boonop is 'n morfologiese rekonstruksie van hierdie tydperke óók een waarin hulle opvatting van wat letterkunde sou wees, sentraal staan. Wat die Marxiste in byvoorbeeld China as letterkunde beskou het in die vyftigerjare van die 20ste eeu, staan haaks op 'n Wes-Europese definisie van dieselfde tyd. Die literatuurhistorikus behoort dus histories-relativisties op te tree (Fokkema & Kunne-Ibsch 1977:6; Leemans & Johannes 2013:27). Voorts is 'n eie definisie van letterkunde wat in wese hermeneuties is, nie te rym nie met 'n resepsiegeskiedenis, (wat in wese 'n veel meer wetenskaplike aanpak is [Fokkema & Kunne-Ibsch 1977:136-164]).5

Die laaste deelnemer aan die polemiek, Marcel Janssens (1985:141), lê dit ook nie Kannemeyer ten laste dat hy so dikwels gebruik maak van ander kritici se insigte nie: 'De tekst in de noten is even belangwekkend en kostbaar als het corpus!' Tog vind hy dat Kannemeyer se 'monografistiese aanpak'6heelwat gebreke veroorsaak, byvoorbeeld dat oeuvres verkap word en anachronismes veroorsaak. Janssens wys voorts op metodologiese kwessies wat voorop staan in die eietydse literatuurgeskiedenis, onder meer groter klem op die sisteem, meer aandag vir die literêre lewe in sy komplekse samehang en vir die wyse waarop alle tekste funksioneer in 'n bepaalde samelewing én ondersoek na sogenaamde periodekodes.

Ek is dit roerend eens met Janssens (1985:139) se uitspraak: 'Het blijkt veel gemakkelijker in een theoretisch manifest te decreten wat eigenlijk niet meer zou kunnen mogen, dan wel de wegen aan te wijzen waarlangs het concreet zou moeten kunnen.' Wanneer ek vervolgens enkele opmerkinge gaan maak oor literatuurgeskiedenisse (in Afrikaans) en die moontlikheid om Cloete se teenstrydige opvattinge wel in die praktyk te realiseer, geskied dit in beskeidenheid. Die verlossende woord oor literatuurgeskiedenis is lank nog nie gespreek nie. Binne die narratiewe aanpak wat hier gevolg word, is my opmerkinge as 'n persoonlike reaksie, steeds gefundeerde (op wetenskaplike ondersoekgebaseerde) uitsprake. Dit behoort ook (oor)duidelik te wees dat my opmerkinge ten aansien van die vereistes vir die skryf van 'n literatuurgeskiedenis, die bril is waardeur ek Cloete se eie literatuurhistoriese werk beoordeel; dit is kortom die 'metingsinstrument' wat agteraf geëksplisiteer word, maar van meet af aan werksaam is.

 

Die literatuurgeskiedenis: Teorie en praktyk

In haar bespreking van die teorieë van Vodička waarvan ek vroeër verslag gedoen het, maak Ena Jansen (1981:17) 'n belangrike punt wanneer sy die (literêr-) historikus se grootste probleem definieer as die bewaring van die individualiteit van die historiese gebeurtenis, sonder om die historiese proses te 'te degradeer tot 'n versameling van opeenvolgende, maar nie verwante gebeurtenisse'. Hierdie individuele gebeure of 'feite' (in die denke van die historiese narrativiste), kan 'n verskeidenheid vorme aanneem: byvoorbeeld, historiese manifeste, die oprigting van 'Kultuurkamers', rederykersgenootskappe, nuwe tydskrifte of uitgewerye, die verskyning van bepaalde tekste en derglike gebeurtenisse wat 'n bepaalde literêre veld diepgaande beïnvloed. Hieruit blyk ook duidelik dat sy dit eens is met die narrativiste wat geskiedenis sien as 'n storie met 'n interne logika en perspektief. 'n Verdere implikasie is dat sodanige verhaal 'n verteller het wat tyd-ruimtelik gesitueer is en ook deur sy historiese gesitueerdheid beïnvloed word. Foucault praat in hierdie verband van diskursiewe formasies. Kortliks gestel, beweer Foucault (1970) dat die individu se denke nie totaal willekeurig is nie, maar bepaal word deur 'n bepaalde episteem ('n web van diskursiewe patrone en netwerke); 'historische mogelijksheidsvoorwaarden', aldus Ankersmit (1990:62). Ons kan dit gemaklikheidshalwe 'n wêreldbeskouing noem. Soos die wetenskaplike dikwels onbewus is van die paradigma waarbinne hy werk en die interpreteerder van die interpretatiewe gemeenskap (Fish 1989:471-502) waarbinne hy hermeneuties omgaan met tekste, so is die historikus dikwels onbewus van die aard van diskursiewe formasies wat sy denke en handelswyse rig.

Die verdere implikasie is dat dit vir enige literatuurhistorikus wat hom bevind in 'n bepaalde episteem, moeilik is om hom te verplaas in 'n ander episteem, byvoorbeeld die Middeleeue en die heersende siening van die werklikheid.

Een van die herhaalde vrae is of die objek van 'n literatuurgeskiedenis skrywers en tekste is 'wat chronologies gerangskik moet word' binne bepaalde periodes in Van Gorp (1985:246) se woorde. Wellek en Warren (1976) se siening van periode as 'n sisteem van norme, konvensies en waardes wat beskrywe kan word in hul opkoms, verspreiding en kwyning is skatpligtig aan die denke van die Russiese Formaliste en Praagse Strukturaliste (Anbeek 1996:12). Of moet daar liefs op die resepsie (soos Cloete gepleit het) gekonsentreer word?

Soms word gepleit vir 'n funksiegerigte literatuurgeskiedenis (Van Gorp 1985) wat veel meer sosiologies is en ook in pas met Siegfried J. Schmidt (1973:23, 24) se kommunikatiewe benadering. Die invloed van Van Gorp se voorstel is duidelik te sien in byvoorbeeld Van den Akker en Dorleijn (1999) se siening van 'n literatuurgeskiedenis wat in pas is met Bourdieu se teorieë oor die literêre veld en byvoorbeeld veel aandag skenk aan prosesse en groeperinge.

Uit die polemiek het geblyk dat Kannemeyer (en van sy verdedigers) implisiet beweer dat 'n literatuurgeskiedenis 'n narratief is deur 'n betroubare waarnemer (soos Dekker, Antonissen én Kannemeyer) wat belese is, goeie oordeel het en enkelwerke én oeuvres juis kan inskat. Kannemeyer se laaste literatuurgeskiedenis (2005) is presies so 'n narratief; daarom dat hy dit ook nie nodig vind om enige verwysings of 'n volledige bibliografie op te neem nie. Cloete se voorstel ten aansien van 'n literatuurgeskiedenis is veelvlakkig en behels soveel (ideaal gesproke, empiriese) studie dat dit 'n taak is wat kwalik deur een persoon verrig sou kon word.

Die heersende mening is dat die literatuurgeskiedenis van 'n allesomvattende aard, veral wanneer dit geskryf is deur één persoon, agterhaal is. Die terugkerende kritiek op 'n geskiedenis deur slegs een skrywer, is dat die werk oppervlakkig is, subjektiewe oordele bevat en dikwels ander se oordele letterlik oorneem. Dit is geen wonder dat Kannemeyer se eie werk ook van hierdie kritiek ontlok het nie.

Binne die narratiewe aanpak wat hier gevolg word, is 'n persoonlike kanttekening geregverdig. My slotsom (as oorweging by die skryf van 'n literatuurgeskiedenis) is dat:

die begrip 'letterkunde' nie normatief hanteer behoort te word nie, maar dat dit deurgaans hipoteties en pragmaties (lees: kultureel relativisties) hanteer moet word.

tekste en skrywers egter nie die enigste fokus mag wees nie, maar dat ook vorme (soos genres), prosesse van marginalisering en kanonisering, subvelde en affiliasies beskryf moet word.

jy bewus moet wees van jou eie historiese posisie en ideologiese en poëtikale voorkeure en vooroordele, veral ten aansien van vroeëre tydperke.

hierdie tydperke of periodes afgebaken moet word op 'n pragmatiese wyse en morfologies gerekonstrueer moet word.

daar gefokus moet word op literatuur omdat die reële gevaar bestaan dat so 'n historiese oorsig anders nie onderskeibaar is van algemene geskiedskrywing of kultuurgeskiedenis nie.

jy bewus daarvan moet wees dat enige literatuurgeskiedenis ook kanoniserend van aard is (alle tekste en skrywers kan immers nie genoem word nie) en dat jy nie totaal afstand kan doen van jou eie estetiese oordeel nie.

 

Slot

Ek het reeds vermeld dat daar by Cloete sprake kan wees van twee skynbaar onversoenbare benaderings. Dit het ek onderskeidelik wetenskaplik-objektief (die resepsie van tekste) en hermeneuties-subjektief (die interpretasie van tekste) genoem. Ek wil graag toegee dat Cloete in sy eie kritiese praktyk selde só dichotomies opgetree het. Maar die argument ter wille, hanteer ek hierdie onderskeid. Ten slotte wil ek probeer aantoon dat hierdie skynbaar teenstrydige benaderings tog ook binne die literatuurgeskiedenis versoenbaar is.

In die inleiding by die nuwe, hersiene uitgawe van Perspektief en profiel (2006) sê ek dat Perspektief en profiel nog nooit 'n eenpersoonsonderneming was nie; veel eerder 'n stap in die rigting van multi-perspektiviteit. Boonop is dit 'n relatief unieke kombinasie van verskillende benaderings, eerstens van diachronie en sinchronie.

Die profiele daarenteen is onbeskaamd kanoniserend en slegs skrywers wat 'belangrik' is of was, word opgeneem. 'Belangrik' op grond van hulle normdeurbrekende werk, maar ook omdat hulle esteties geoordeel die 'beste' is en die tyd oorlewe het of (volgens ons eie beperkte insigte van vandag) 'n goeie kans staan om dit te doen. Hierdie uitgangspunt is in pas met Cloete se aandrang op die eie oordeel en 'n mate van normatiwiteit. Hier word biografiese besonderhede wel gegee, omdat die uitgangspunt is dat dit dikwels literêr-histories relevant is. Voorts is die pespektiewe in die meerderheid gevalle resepsiegerig en ontbreek biografiese besonderhede. Tog word aandag bestee aan kontekstuele aspekte soos die sosio-politieke agtergrond. Die opdrag was ook aan die skrywers van perspektiewe om kontekste met aandag aan klein besonderhede te beskrywe. Dit hou verband met Geertz (1973:5-6; 9-10) se opvatting van 'Thick Description' wat inhou dat wat jy waarneem en interpreteer, saamhang met 'n fokus op die kleinste details en dat (in sy geval) sogenaamde antropologiese vreemdhede verklaarbaar raak vanweë die ander kontekste. Uiteraard hou dit ook verband met 'morfologiese rekonstruksie'. Dié standpunt staan veel digter by Kannemeyer se werkwyse.

Die literatuurhistorikus vertel 'n storie met 'n begin, lê verbande, selekteer en interpreter:

Maar het verleden zelf is geen verhaal en kent geen samenhangen. Die samenhangen ontstaan op het vlak van de historische beschrijving.[] Men gaat ervan uit [] dat een volledige reconstructie van het verleden onmogelijk is: daarvoor is de realiteit te complex. Daarom word elke literatuurgeschiedenis beschouwd als een constructie' (Bel 2004:197).

En soos by enige narratief is party beter as ander. Een wat altyd 'n tydelike bestekopname en konstruksie is: aan boekemaak kom geen einde nie; ook nie aan die skryf van (literatuur-) geskiedenisse nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anbeek, T., 1990, Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1885-1985, Uitgeverij De Arbeiderspers, Amsterdam.

Anbeek, Ton., 1996, Het Vlaamse verschil, Dietsche Warande en Belfort 2, 199-210.         [ Links ]

Ankersmit, F.R., 1990, Denken over geschiedenis, Een overzicht van moderne geschiedfilosofische opvattingen, Wolters-Noordhoff, Groningen.

Ankersmit, F., 1990, De navel van de geschiedenis. Over representatie en historische realiteit, Historische Uitgeverij, Groningen.

Antonissen, R., 1966, Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.

Bel, J., 2004, 'De houdbaarheidsdatum van literatuur of uitdagingen voor de literatuurgeschiedschrijver', Tijdschrift voor Nederlandse taal- en letterkunde120(3), 193-210.         [ Links ]

Beukes, G.J. & Lategan, F.V., 1952, Skrywers en rigtings, J.L. van Schaik, Pretoria.

Cloete, T.T., 1980a ''n Bespreking van J.C. Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I', Tydskrif vir Letterkunde XVIII (1), 105-115.         [ Links ]

Cloete, T.T., 1980b, 'T.T. Cloete antwoord J.C. Kannemeyer', Tydskrif vir Letterkunde XVIII(2), 99-114.         [ Links ]

Cloete, T.T., 1980c, 'Verdere antwoord aan Kannemeyer', Tydskrif vir Letterkunde XVIII(4), 71-77.         [ Links ]

Cloete, T.T., 1982, 'Literêre geskiedskrywing', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 22(3), 141-152.         [ Links ]

Fish, S., 1989, Doing what comes naturally. Change, rhetoric, and the practice of theory in literary and legal Studies, Duke University Press, Durham & London.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E., 1977, Theories of literature in the twentieth century, C.W. Hurst & Co, London.

Foucault, M., 1970, 'The order of things', in J.D. Faubion (ed.), Aesthetics, method and epistemology, Penguin, London, pp. 261-267.

Geertz, C., 1973, The interpretation of cultures, Basic Books, New York.

Hjort, M., (ed.), 1992, Rules and conventions. Literature, philosophy, social theory, Johns Hopkins University Press, Baltimore.

Jansen, E., 1981, 'Oor norme in die literatuurgeskiedenis', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 21(1), 16a-25.         [ Links ]

Janssens, M., 1985, 'Kannemeyer op een afstand', Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 25(2), 138-145.         [ Links ]

Jauss, H. R., 1970, Literaturgeschichte als Provokation, Suhrkamp, Frankfurt.

Kannemeyer, J.C., 1978, Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 1, Academica, Kaapstad.

Kannemeyer, J.C., 1980, ''n Konfrontasie met T.T. Cloete', Standpunte, Derde Reeks 33(3), 45-56.         [ Links ]

Leemans, I. & Johannes, G-J., 2013, Worm en Donder. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1700-1800: de Republiek, Uitgeverij Bert Bakker, Amsterdam.

Louw, N.P. van Wyk, 1982, Weegskaal, Human & Rousseau, Kaapstad.

Olivier, G., 1981, 'Oor literatuurgeskiedenis: Cloete en Kannemeyer', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 21(1), 26-41.         [ Links ]

Olivier, G., 1982, 'Literatuurgeskiedenis Ideaal of werklikheid?',Tydskrif vir Geesteswetenskappe 22(3), 193-199.         [ Links ]

Rosengren, K.E., 1985, 'Time and literary fame', Poetics, 14, 157-172. http://dx.doi.org/10.1016/0304-422X(85)90009-9        [ Links ]

Rosengren, K.E., 1987, 'Literary criticism: Future invented', Poetics, 16, 295-325. http://dx.doi.org/10.1016/0304-422X(87)90009-X        [ Links ]

Schmidt, S.J., 1973, 'On the foundation and the research strategies of a science of literary communications', Foundations of modern poetics, J. Schmidt (ed.) Thematic issue of Poetics, Journal of Empirical Research on Culture, the Media and the Arts, 1973:7-25. http://dx.doi.org/10.1016/0304-422x(73)90008-9        [ Links ]

Speller, J.R.W., 2011, Bourdieu and literature, Open Book Publishers, Cambridge, http://www.openbookpublishers.com.

Steyn, J.C., 1998, Van Wyk Louw, deel 1. 'n Lewensverhaal, Tafelberg, Kaapstad.

Striedter, J., 1976, Die Struktur der literarischen Entwicklung, mit einer einleitenden Abhandlung von Jurij Striedter, Wilhelm Vink Verlag, München.

Van Coller, H.P., 2006 [1994], 'N.P. van Wyk Louw as kanoniseerder', in W.D. Burger (ed.), Die oop gesprek. N.P. van Wyk Louw-gedenklesings, LAPA Uitgewers, Pretoria, pp. 243-265.

Van Coller, H.P. (red.), 1998, Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 1, J.L. van Schaik, Pretoria.

Van Coller, H.P. (red.), 1999, Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2, J.L. van Schaik, Pretoria.

Van Coller, H.P. (red.) 2006. Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 3., J.L. van Schaik, Pretoria.

Van Coller, H.P., 2009, Tussenstand. Letterkundige opstelle, Van Schaik Uitgewers, Pretoria.

Van Coller, H., 2016, 'T.T. Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus (Deel 1): Rubrieke, bloemlesings en literêre kritiek', Literator 37(1), a1263. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1263        [ Links ]

Van den Akker, W. en Dorleijn, G., 1999. 'Consensus en conflict. Over de literatuurgeschiedschrijving van Nederland en Vlaanderen', Nederlandse letterkunde 4(2),191-210.         [ Links ]

Van Gorp, H., 1985, 'De utopie van een omvattende literatuurgeschiedschrijving, of hoe het zou moeten kunnen en toch net echt kan ', Spiegel der letteren 27(4),245-262. http://dx.doi.org/10.2143/SDL.27.4.2014539        [ Links ]

Wellek, R. and Warren, A., 1949 (1976), Theory of literature, Penguin Books, Harmondsworth, Middlesex.

 

 

Correspondence:
Hendrik van Coller
vcoller@lantic.net

Received: 24 Nov. 2015
Accepted: 03 June 2016
Published: 29 Sept. 2016

 

 

1 Aanvanklik was 'oorspronklikheid' die vernaamste kwessie waaroor die polemiek gegaan het, omdat die beskuldiging van plagiaat die meer fundamentele, maar minder aktuele kwessies verdwerg het.
2 Literatuur word gesien as alles in skrif (onder meer algemene, godsdienstige en ontspanningsliteratuur); letterkunde as 'n onderdeel daarvan, die sogenaamde elitêre literatuur.
3 Die taalkundige term 'morfeem' as die kleinste betekenisdraende taalsegment word hier literêr benut: dit impliseer 'n noulettende herkonstruksie van 'n literêre periode met aandag aan selfs skynbaar onbenullige literêr-historiese besonderhede soos tafelplasing en -etiket wat byvoorbeeld by tafelspele belangrik is.
4 Al die voorafgaande metodologiese kwessies kom later ter sprake in my eie voorstel van wat 'n literatuurgeskiedenis ideaal gesproke behoort te wees.
5 Wat Cloete presies bedoel, bly vaag. 'Geskiedenismaak' blyk iets te beteken soos om die tyd te oorlewe, verskans te wees in die kanon, steeds as referensiepunt te dien

6 Die neiging om een skrywer op verskeie plekke te behandel onder byvoorbeeld verskillende genres of tydperke.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons