SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.37 n.1 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1263 

ORIGINAL RESEARCH

 

T.T. Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus (Deel 1): Rubrieke, bloemlesings en literêre kritiek

 

T.T. Cloete as literary critic, theoretician and historian (Part 1): Columns, anthologies and literary criticism

 

 

Hendrik van Coller

Unit for Languages and Literature in the South African Context, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

In die eerste gedeelte van hierdie artikel in twee dele word gefokus op die narratiewe benadering in die wetenskap. Narratiewe navorsing is selde verklarend, maar eerder beskrywend en het 'n sogenaamde emansiperende inslag deurdat dit fokus op vergete of gemarginaliseerde verhale. Volgens Hyvärinen (2006:2011) was daar nie net sprake van een nie, maar vier 'narrative turns' sedert 1960: in die narratologie, historiografie, die metodologie en die sosiale wetenskappe. Hierdie benadering staan voorop in die onderhawige artikel deur die persoonlike aanpak, die gebruik van 'n gevallestudie en deur die fokus op 'n vergete of gemarginaliseeerde aspek van die oeuvre van T.T. Cloete. Die bekende literatuurwetenskaplike en digter T.T. Cloete het volgens Siegfried Schmidt (1992) se definisie al vier rolle wat hy onderskei binne die literêre sisteem (dié van literêre produksie, verspreiding, resepsie en literêre verwerking) vertolk. In hierdie eerste gedeelte van die artikel word veral gekyk na Cloete se rol as rubriekskrywer, bloemleser, skeppende skrywer en literêre kritikus.


ABSTRACT

This article deals with the narrative approach in scholarship. Narrative research had seldom been seen as explanatory, but rather descriptive and in general had an emancipatory aim in the sense that absent or marginalised 'stories' were foregrounded. According to Hyvärinen (2006:2011) there had been not one but four 'narrative turns' since 1960: in narratology, historiography, methodology and in the social sciences. This article falls in the ambit of a narrative methodology by its personal approach, use of a case study and by its focus on a neglected aspect of the oeuvre of T.T. Cloete. Siegfried Schmidt, in Hjort (1992:225-249), discerned four 'roles' within the Literary System, that of literary production, dissemination, reception and literary processing. According to this definition T.T. Cloete, the well-known author and critic, played all of these roles. In the first part of the article the focus was mainly on Cloete as the writer of columns, anthologist, creative writer and literary critic.


 

 

Inleiding

In die literatuurwetenskaplike diskoers is die aanvaarde uitgangspunt 'n wetenskaplike metode van onder meer hipotese en toetsing. Die persoonlike (subjektiewe) word gesku en 'n sogenaamde objektiwiteit gepredik; trouens die woordjie 'ek' behoort volgens veel kritici nooit te figureer in die wetenskaplike diskoers nie. Min letterkundiges glo skynbaar dat 'n artikel 'n bepaalde (persoonlik gekleurde) narratief is wat in die openbare domein geplaas word om verdere (wetenskaplike) diskussie te stimuleer. Van die hoë mate van relativiteit in die sogenaamde 'objektiewe' wetenskap waaroor Paul Feyerabend geskryf het, het min gehoor of is min van oortuig.

Elke interpretasie is afhanklik van 'n konteks, 'n opvatting wat veral in die 19de eeu prominent was1:

Een geesteswetenschapper diende zich in te leven in de gemoedstoestand van een historische actor door zich 'onder te dompelen in de periode die hij wilde onderzoeken [] De hermeneutische methode is [] lastig te weerleggen [en] noodzakelijk subjectief van aard (Bod 2014:6).

Bod (2014) se slotsom is dat elke wetenskaplike soek 'naar enige vorm van patronen om deze vervolgens te interpreteren'. Vir die herkenning hiervan is 'erudisie' nodig volgens Mijnhardt (2014) en dit spruit uit langdurige kontak met bronne en met die verskillende interpretasies binne die bepaalde vakbeoefening.

Die bekende historikus Hayden White (1978:90) het by geleentheid opgemerk dat die herskepping van die verlede deur verhale (ook van ons eie lewe), sin gee aan die bestaan. Frank Ankersmit (1990), ewe bekend as historikus, beweer dat die narratief oor kognitiewe vermoëns beskik wat wetenskaplike rasionaliteit en wetenskaplike formalisme oorstyg. Ook Lévi-Strauss en Piere Grimal het daarop gewys dat (mitiese) verhale die wêreld verstaanbaar maak vir die moderne mens en Carlo Ginzburg het 'n saak daarvoor uitgemaak dat wat soms geringskattend 'mitiese denke' genoem word, nie agterstaan by wetenskaplike denke as kennisproduserende aktiwiteit nie (Mertens 1991:21; Klopper 1996; Van Coller 2009:79).

Dit is derhalwe geen wonder nie dat die eietydse sielkunde groot waarde heg aan narratiwiteit. Die genesende krag van stories vorm 'n belangrike bestanddeel van bepaalde vorme van psigoterapie en pasiënte word aangemoedig om 'n koherente storie van die self te 'skryf': 'illness amounts at least in part to suffering from an incoherent story or an inadequate account of oneself' (McAdams 1991:33). Dié invloedryke werk The stories we live by: personal myths and the making of the self het byvoorbeeld 'n groot invloed uitgeoefen op die psigoterapie in Nederland. 'n Boektitel soos De verhalen die we leven (Bohlmeijer 2007) is duidelik 'n erkenning van McAdams se werk en die aanpak daarvan is sterk beïnvloed deur sy werk. Die sogenaamde 'life-review'-metode wat hierin benut word, rig sig op die ontwikkeling van 'n samehangende, konstruktiewe en perspektiefryke narratief oor die eie lewe. As benadering val hierdie sielkundige aanpak ook in die kielsog van die postmoderne skepsis oor 'Groot verhale' (Lyotard) en die gepaardgaande aandag juis vir 'klein verhale' (pétit histoires).

'n Narratiewe benadering in die wetenskap is egter hoegenaamd nie beperk tot die sielkunde en die geskiedenis nie. Narratiewe ondersoek verwys na 'n metateoretiese stroming of benadering, wat nie spesifiek tot 'n bepaalde dissipline beperk is nie. 'Van narratief onderzoek kan ook sprake zijn als verhalen dienen als data, of als een narratieve wijze van interpreteren word hanteerd' (Sools 2009:27). Narratiewe ondersoek is selde verklarend, maar veral beskrywend en dit wil stem gee aan ontbrekende of gemarginaliseerde verhale (Sools 2009:7); in die onderhawige artikel as (persoonlik getinte) verhaal van T.T. Cloete se aktiwiteit as literatuurhistorikus. My interpretasie van hierdie aspek van Cloete se werk is persoonlik getint deurdat dit ook vir my as literatuurhistorikus 'n konfrontasie is met bepaalde metodologiese kwessies wat ek in etlike artikels en studies reeds te berde gebring het. Wat 'n keurder aandui as my eie opinies oor wat die literatuurgeskiedenis behoort te wees en wat 'niks met Cloete as literatuurhistorikus te make het nie', het binne 'n narratiewe aanpak juis álles daarmee te make; ek is 'n vulnerable observer (Behar 1996) of kwesbare deelnemer.2

Van Oers (2009) wys ook op die belang wat 'n narratiewe benadering inhou in leerprossese in die sekondêre onderwys. Van sy insigte is belangrik vir die benadering wat ek volg in hierdie artikel. Werklike insig in die denkbeelde van 'n skrywer word slegs opgebou deur moeisame omgang met sy voorveronderstellings, werkwyse en derglike; nie deur 'n opeenvolging van sitate of lukraak interpretasies nie. Dit wat jy vind, behoort aanleiding te gee tot 'n samehangende (betekenisvolle) narratief. Bruner (1986) het 'n onderskeid gemaak tussen 'n sogenaamde logies-paradigmatiese manier van dink, waarvan logiese relasies en teoretiese konsepte die basis vorm. Die narratiewe denkmodus daarteenoor laat egter ook ruimte vir intuïsie en assosiasies.

'n Narratiewe benadering het altyd 'n kommunikatiewe intensie; met jouself én met ander (Bruner 1990; Van Oers 2009). Desondanks moet nie afgelei word dat die narratiewe benadering daarom onwetenskaplik sou wees nie: 'het narratieve denken is het vlees op het geraamte van het logisch-paradigmatische denken' (Van Oers 2009:151). Die stappe wat Van Oers onderskei in 'n narratiewe benadering: die aanleiding, die kies van 'n perspektief, intertekstualiteit en uiteindelik die samevatting, sou inderwaarheid ook in my benadering onderskei kon word. Die aanleiding vir my bestudering van T.T. Cloete se werk was die uitnodiging om die T.T. Cloete-lesing te hou. My bepaalde perspektief (Cloete as literêr-historikus) is ingegee deur die feit dat dit 'n onderbeligte aspek van die kritiese diskoers oor hom is én vanweë 'n persoonlike belangstelling in die onderwerp. Van Oers se opvatting van 'intertekstualiteit' kom daarop neer dat aandag gegee word aan 'n diversiteit van standpunte, hipoteses en modelle; in my geval dié oor literatuurgeskiedenis. Die 'Synopsis' spreek vanself: 'om de nieuw geconstrueerde kennis intersubjectief te toetsen en voor kritiek toegankelijk te maken'. Hierdie kennis behoort 'publiekelijk gecodeerd' te word; in my geval deur twee wetenskaplike artikels in die openbare domein. Reaksie in die vorm van vrae, kritiek en voorstelle tot toevoeging van bepaalde aspekte konstitueer inderwaarheid hierdie laaste stap. Die 'community of inquiry' vorm 'n belangrike onderdeel van die narratiewe aanpak (Wells 1999).

T.T. Cloete is ietwat van 'n literêre verkleurmannetjie in die sin dat hy soos feitlik geen ander persoon in die Afrikaanse letterkunde op bykans alle terreine van die literêre sisteem 'n rol gespeel het nie. Cloete het as skrywer van belletristiese werke hom nie net onderskei in al drie die hoofgenres nie, maar het onder meer ook essays en rubrieke geskrywe. Hy was voorts, onder andere, bloemleser, literêre vertaler, literêre resensent, literatuurkritikus, literatuurwetenskaplike, literêre geskiedskrywer en terminoloog. Schmidt (in Hjort 1992:215-216) onderskei vier 'rolle' in die literêre sisteem naamlik: literêre produksie (enige handeling wat verband hou met die skep van tekste), literêre verspreiding (alle handelinge om tekste beskikbaar te stel aan ander agente), literêre resepsie (die handeling waardeur betekenis toegeskryf word aan produkte of tekste) en literêre prosessering of verwerking (alle handelinge waardeur 'n produk of teks in verband gebring word met tekste deur opsomming, herskrywing, parafrasering en derglike (Barnard 1998:58). 'n Mens sou Cloete se volgehoue arbeid om tekste deur, onder meer, sy rubrieke aan mense beskikbaar te stel, kon sien as 'verspreiding'. Dan het hy inderdaad ál vier rolle vertolk. Om egter indringende aandag aan al die bogenoemde aktiwiteite te gee binne die bestek van twee artikels is onmoontlik; dit sou 'n proefskrif verg. Die volgende ondersoek is derhalwe verkennend. De Groot (1961:322) noem hierdie soort navorsing 'exploratief':

De onderzoeker gaat wel uit van zekere verwachtingen, van een min of meer vaag theoretisch raam, hij is gericht op het vinden van bepaalde soorten samenhangen in zijn materiaal, maar deze zijn niet in de vorm van gestelde (toetsbare) hypothesen vooraf door hem geformuleerd, zodat ze ook niet in eigenlijke zin getoets kunnen worden.

Cloete se rol as literatuurhistorikus kan beskrywe word onder die genoemde hofies: rubriekskrywer, skrywer van belletristiese werk in al drie die hoofgenres, bloemleser - en veral dan bloemlesings met 'n literêr-historiese inslag, literêre kritikus (inbegrepe literêre resensent), literêre teoretikus en laastens, maar beslis nie die minste nie, literatuurhistorikus pur-sang. Hoewel Cloete deeglik bewus is daarvan dat sy bedoelde leser in al hierdie genoemde kommunikasieprosesse verskil, bly sy temas opvallend dieselfde.

In die bespreking wat hierop volg, konsentreer ek slegs op dit wat verband hou met die literatuurgeskiedenis of die historiese aard van literatuur.

 

Rubriekskrywer

Die mees onwaarskynlike plek om literêre teoretici se poëtikale aan te tref, is oënskynlik in hul populêre geskrifte. In Van Coller (2001a, 2001b) het dit duidelik geblyk dat van Van Wyk Louw se (dikwels fundamentele) poëtikale uitsprake voorkom in stukke wat hy geskryf het vir Die Afrikaanse Kinderensiklopedie of in Die jongspan. Dit is bykans 'n kwessie dat waarvan die (literêre) hart vol is, die mond van oorloop. So is dit ook die geval met die rubrieke van T.T. Cloete wat eers in 'n laat stadium van sy lewe in Beeld verskyn het, soms as Kopstukke (van 1997 af). Opvallend in die Beeld-rubrieke is die feit dat hierdie toeganklike stukke meestal poëtikale uitsprake bevat; dikwels ook van literêr-historiese aard. Opvattings wat herhaaldelik voorkom, maar telkens anders verwoord word, is dat gedigte (al dagteken hulle uit vervloë tye), 'n mededeling bevat wat geldigheid het. Voorts die opvattings dat gedigte 'n eenheid is van verskeie aspekte wat geïntegreer word, die siening dat die letterkunde in die volle lewe staan (wat vanselfsprekend die sintuiglike en sinnelike insluit), dat die letterkunde waardevol is in die bestaan en die tema van die skrywer as 'gewone mens' (Beeld13 Februarie 1996:8).

Dominante temas is dié van enkelingskap wat die ware skrywer kenmerk, skrywers as die (begenadigde) minderheid, die durende aard van die estetiese, én, laastens, die opvatting dat die kuns en die letterkunde by uitstek sin en troos bied.

Dit is veral die opvatting dat die digter 'n begaafde enkeling is en dat letterkunde bestem is vir 'n klein minderheid wat aansluiting vind by die denke van skrywers en digters (soos Van Wyk Louw, Eliot, Leopold en Nijhoff) wat nie net as 'outonomisties' beskryf sou kon word nie, maar wat almal 'n enigsins elitêre siening van kuns het: 'die skrywers in enige taal [is] 'n klein minderheid' sê Cloete self (Beeld 25 Januarie 1997:4). Hulle is almal deurdronge van 'n bepaalde historiese besef, naamlik dat kultuur, kuns en letterkunde as maaksel van die begenadigde enkelinge onder druk staan in 'n maatskappy waarin massawaardes oorheers.3 Hulle almal staan ook in die ban van die 'Untergang des Abendlandes' in die woorde van die kultuurpessimis, Oswald Spengler.

Oor die performatiewe aard van die poësie het Cloete (1984) hom teoreties uitgelaat en duidelik 'n voorkeur laat blyk vir die lokutiewe aard van die letterkunde bo die illokutiewe en perlokusionêre aard daarvan. Om dit anders te stel: eerder dit wat dit is as taalstruktuur as dit wat dit wil bereik by die leser; die uitwerking daarvan. Dit gaan vir Cloete (1984:13) om die 'skouspel van die taalhandeling', die prag van die pou se stert (bl. 8). Desondanks bevat die gedig stellings en bewerings wat waardevol is en jou bybly en 'in tye van baie sensitiwiteit' by jou 'opdaag', sê Cloete die rubriekskrywer (Beeld06 September 2000:4). Die gedigreëls wat hy telkens aanhaal in sy rubrieke, is ontleen aan gedigte wat honderde jare oorspan, wat meestal vanweë die 'amount and diversity of material integrated' geslaagd is én vandag nog sinvol kan kommunikeer (Beeld 14 Desember 2002:3). Hieruit is reeds duidelik dat Cloete literatuur sien as 'n outonome sisteem en wars staan van literatuur wat primêr daarop gemik is om die samelewing te verander. Dit dien ook as gedeeltelike verklaring vir sy latere fel aanval op Breytenbach in 'n vertroulike Broederbond-dokument (Kannemeyer 1983:402; Galloway 1990:87).

Wanneer Cloete (Beeld 13 Maart 2001:7) met bewondering verwys na Cicero se outobiografie, Die ouderdom, is dit veral omdat dit getuienis aflê van vreugde in 'n volle aardse lewe. Maar ook omdat dit bewys dat hy sy ryk ouderdom te danke het aan die feit dat hy sy hele lewe 'n ywerige leser was, aldus Cloete. Cicero het bly put 'uit ander se geskrifte'. Hierdie geskrifte is gelyktydig aanwesig by lesers4 ('dit is ons voorreg om hulle gelyktydig te besit, Beeld 4 April 2002:4); vanselfsprekend by diegene wat oor die nodige verwysingsveld beskik. Hieruit kan afgelei word dat vir Cloete literatuur altyd in die hier-en-nou aanwesig is, al dagteken dit uit vorige eeue. Veral die intertekstuele aard van die literatuur kry heelwat aandag in sy rubrieke. Uit sy verdere opmerkings lei ons reeds baie af van Cloete se siening van die literatuurgeskiedenis óók as 'n kreatiewe resepsiegeskiedenis van werke: 'Dit is [] ook 'n manier waarop gedigte self [] 'n literatuurgeskiedenis skryf, 'n geskiedenis wat baie moeiliker is om na te speur as wat die konvensionele literatuurgeskiedenis doen.' Hierdie siening dat 'n literatuurgeskiedenis dus ook (en dalk primêr) bestaan uit 'n geskiedenis van tekste word in die latere polemiek met Kannemeyer veel eksplisieter gestel.

 

As skeppende skrywer

Oor die grondslae van Cloete se (skeppende) werk is al baie uitsprake gemaak en dit sluit in sy belangstelling in die wetenskap en die kosmiese, die jukstaposisie én terselfdertyd samehang van dinge, die gerigtheid op die aardse wat lei na die metafisiese, die mistieke inslag daarvan, sy belangstelling in die ontstaanswyse (die ontologie) van die poësie of kuns, die bemoeienis met die ontstaan en grense van die menslike kennis (epistemologie of roëtiek), die poëtikale aard van sy werk én die opvallende voorkoms van intertekstualiteit; overgesetsynde die gesprek met ander digters en kunstenaars (onder meer Robinson 1998; Ward,1998; Foster, 2012a; Foster, 2012b; Du Plooy 2008; Du Plooy 2012; Nel 1992; Nel 2002; Nel 2015; Taljard 2015). Dit is opvallend hoeveel van die genoemde temas verband hou met 'n historiese kyk na die wêreld en die kuns. Boonop getuig Cloete se intertekstuele skakeling met ander digters (veral Nederlandse digters) van 'n historiese belangstelling en bewussyn.

Soos later telkens sal blyk, is die letterkunde binne Cloete se poëtikale denke ingebed in die historiese tyd en ruimte wat bepaalde hermeneutiese imperatiewe aan die leser oplê (byvoorbeeld 'n morfologiese rekonstruksie van die tydperk); andersyds is dit hier-en-nou teenwoordig as materiële objek. Cloete se intertekstuele gesprek met ander digters verreken beide aspekte: dis asof hy gesels met ou vriende. Dit verklaar ook sy voortdurende beklemtoning (veral in sy Beeld-rubrieke) en illustrasie daarvan in Die ander een is ek dat die leser toegang het tot 'n groot korpus literatuur wat is en wat was. Vanuit 'n ander meer teoretiese hoek bekyk: Cloete probeer 'n versoening bewerkstellig tussen relativisme en normativiteit. Jy moet relativistiesdie (historiese) verskil van ander tye wat literatuuropvattings en oordele [betref] verreken, (Kopstukke, 13-4-2002). Daarteenoor is die opvatting dat sekere tekste (skrywers, stylsoorte, ens.) die tyd oorleef, basies 'n normatiewe instelling omdat dit impliseer dat hulle werk van sodanige kwaliteit gelewer het (en dat die werk beskik oor intrinsieke waarde) sodat dit tyd sal oorlewe.

 

As bloemleser

T.T. Cloete staan dalk nie bekend as een van die groot digter-bloemlesers in die Afrikaanse letterkunde nie. Tog was hy inderwaarheid as bloemleser en as belangrike Afrikaanse digter net so aktief soos N.P. van Wyk Louw en veral D.J. Opperman. Só was hy saam met Gerrit Dekker verantwoordelik vir 'n beplande vyfdelige bloemlesing (waarvan daar uiteindelik net vier dele verskyn) met as oorkoepelende titel Uit die skat van die Nederlandse liriek. Anders as wat die titel dalk laat vermoed, gaan dit hier om 'n keuse uit die Nederlandstalige poësie omdat daar ook talle gedigte uit die Suid-Nederlande opgeneem word. Cloete is verantwoordelik vir dele 1 en 4: Van H. van Veldeke tot H. Spieghel (1963) en Van Leopold tot Achterberg (1977). Daarnaas is Cloete die samesteller van Faune. 'n Geannoteerde bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie (1966). Cloete versamel ook vyf eenbedrywe van Hertzogpryswenners in Vyfling: 'n Bundel eenbedrywe van Hertzogpryswenners (1966) en later Vyftig gedigte van Totius (1976).

Die maak van bloemlesings is altyd 'n kanoniserende handeling. Waar digters self optree as bloemlesers, is daar sprake van 'verdubbelende' kanonisering (Van Coller 2009:154). Hulle keuse van gedigte weerspieël meestal hulle eie literatuuropvattings en is dikwels ook 'n legitimering van hul eie interne poëtika en daarom kan hulle gedigkeuses ook hul eie posisie binne die literêre veld versterk. Sprekende voorbeelde is Gerrit Komrij se voorkeur vir die vernufspoësie, Van Wyk Louw wat die volkspoësie bykans herontdek in sy bloemlesings Treknet en Klank in poësie en veral Opperman wat met sy talle bloemlesings (waarvan Groot verseboek die bekendste was) sy eie voorkeur vir 'verhulde emosies' en 'strukturele integrasie' onderskraag (Van Coller 2009:155). Met Cloete is dit op die oog af anders gesteld, veral omdat sy bepaalde benadering hom sekere beperkings oplê.

Uit die skat van die Nederlandse liriek is 'n vierdelige tipies literêr-historiese bloemlesing, saam met Dekker saamgestel vir didaktiese gebruik en as sodanig (haas noodwendig) kanonstabiliserend. Die gedigkeuses is 'n ruim en verteenwoordigende keuse uit die betrokke tydperke sonder om veel af te wyk van die bekende kanon van die Nederlandstalige letterkunde; dus geensins vergelykbaar met die aweregse keuses van Komrij (1979) in sy groot driedelige Nederlandstalige bloemlesing wat dieselfde tydperk dek nie. Maar die opset is ook anders: Uit die skat van die Nederlandse liriek is veral gerig op 'n didaktiese situasie waarbinne die kanon sentraal staan.

Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel (1963) bevat 'n knap inleiding deur Cloete wat die stand van die wetenskap in die vroeë sestigerjare (die tyd van publikasie) indrukwekkend weerspieël. Die gedigkeuse is verteenwoordigend van die destydse Nederlandse kanon en daar word ook stukke uit epiese werke opgeneem. By elke gedig is daar verhelderende aantekeninge en woordverklarings en dikwels ook 'n leeslys vir die ywerige student en dosent. Opvallend is dat Cloete die tekste situeer in die Middeleeuse en vroeë renaissancistiese wêreld wat hy histories rekonstrueer deur aandag te gee aan die sosiale stratifikasie, hul wêreldbeskouing én poëtika. Hy belig egter deurgaans nougeset die tegniese aspekte van die tekste: onder meer fokus hy op die ritme, rym, klank, sintaksis en skrifbeeld by die poësie, en narratiewe aspekte by die epiese werk. Uit hierdie werkwyse blyk weer eens dat Cloete literatuur (pan-esteties) sien as histories verankerd, maar ook tydloos in dié opsig dat dit steeds esteties realiseerbaar is. 'n Beter bloemlesing vir didaktiese doeleindes oor die betrokke tydperk wat hier gedek word, bestaan daar steeds nie in Suid-Afrika nie.

Van Leopold tot Achterberg (1977) bestaan uit 'n kort inleiding en inleidende aantekeninge by elkeen van die elf digters van wie gedigte hier opgeneem is. Die oorwig van die digters is Nederlanders, terwyl die Vlaamse digkuns slegs verteenwoordig word deur die digters Van de Woestijne en Van Ostayen. Opvallende weglatings in hierdie verband is juis die Vlaminge, W. Elsschot en Jan van Nijlen, maar ook J.J. Slauerhoff en M. Vasalis. 'n Mens kan spekuleer oor moontlike redes: Elsschot, Van Nijlen en Vasalis is eers jare later werklik die Nederlandse poëtiese kanon binnegehaal, maar die digter Slauerhoff was toe reeds gekanoniseerd. Hy was een van die digters wat hoë waardering ontvang het van die Forum-groep en sy werk het dikwels in die debat rondom 'Vorm of Vent' by die 'ventistiese' kritici soos Ter Braak en Du Perron byval gevind. Dikwels het sy onstuimige, romantiese bestaan bygedra tot sy roem. Vir Cloete, die outonomis (boonop sterk beïnvloed deur Nijhoff), met 'n afkeer van die skrywer se biografie, kon dit genoeg rede wees om hom weg te laat (Anbeek 1990:118 e.v.; Dupuis in Schenkeveld-Van der Dussen 1993:650-52; Grüttemeier & Leuker 2006:233).

Wat die keuse van gedigte betref, val dit op dat hieruit 'n hoë waardering spreek vir Adriaan Roland Holst 'die prins van die Nederlandse digters' soos hy toe genoem is en J.H. Marsman, in teenstelling tot die veel minder gedigte wat opgeneem word van onderskeidelik G. Achterberg, J.C. Bloem en Karel van de Woestijne. Vandag sou 'n opgedateerde bloemlesing waarskynlik anders daar uitsien. Uiteraard veral vanweë die feit dat daar 'n verskuiwing in waarde-oordele plaasgevind het. Uit Cloete se keuse blyk dat hy in hierdie bloemlesing hom streng hou by die destydse geykte Nederlandse kanon. 'n Groot leemte in hierdie historiese bloemlesing is dat woordverklarings by die gedigte ontbreek. Kortom, dit is nie op dieselfde peil as die vorige deel nie.

Faune is 'n tematiese bloemlesing wat in hoë mate wat die digters betref kanonbevestigend is (tipies van die meerderheid tematiese bloemlesings in Afrikaans, volgens Odendaal 2001). 'n Moontlike uitsondering is veral C.F. Rudolph en Louis Eksteen en in 'n mindere mate R.K. Belcher en George Louw wat hier in die geselskap van die 'grotes' (soos onder andere Leipoldt, die Louw-broers, Eybers en Opperman) verkeer. Vanweë die temagerigtheid, word daar wel minder bekende gedigte van bepaalde digters, selfs van die bekendes, opgeneem en daarom funksioneer die bloemlesing ook as kanonuitbreidend. Ook die destyds gangbare (geykte) beeld van enkele digters (byvoorbeeld die 'swaarmoedige Marais', 'simboliese Totius' en enigsins 'bombastiese Celliers') word hier bygestel deur die opname van veel meer speelse en realistiese verse. Veral Cloete se keuse uit die werk van C.M. van den Heever is 'n historiese 'regstelling', want 'Agter tralies' - wat in Groot Verseboek ontbreek - is 'n knap vers en met die ingehoude drif daarvan 'n voorafskaduwing van Van Wyk Louw se latere 'Drie diere'. Opvallend is dat Cloete hier 'antisiperend' van haar latere status ook 'n gedig opneem van Sheila Cussons, terwyl sy in hierdie stadium bekend was as digter in beperkte kring en nog geen bundel gepubliseer het nie.

Anders as by baie ander tematiese bloemlesings word die gedigkeuse by elke digter van 'n besonder deeglike inleiding voorsien, boonop met 'n lys van belangrike kritiese studies wat geraadpleeg kan word. Opvallend is die wyse waarop hy die bepaalde gedigte literêr-histories plaas of in verband bring met bepaalde literêre tradisies (die diergedig of simboliek, bv. bl. 96) en veral sy soms besonder uitvoerige aantekeninge oor verstegniese aspekte soos die ritme, klank, morfologie en sintaksis. Cloete is dus hier, weliswaar as volstrek onbekende digter, wel deeglik besig om prospektief bekend te maak hoe hy self 'n geslaagde gedig beskou: 'n taalbouwerk waarin woordkeuses geweeg word, die sintaktiese meerduidigheid uitgebuit word en waarin ook klank en ritme nie net belangrik is nie, maar daarvan die skering en inslag vorm (bv. bl. 88). Dit het Wolfaardt-Gräbe (2015) uitvoerig en oortuigend aangetoon. Met hierdie bloemlesing is Cloete ook voorloper van die ekokritiek.

In 1976 verskyn daar nog 'n bloemlesing van Cloete, Vyftig gedigte van Totius. Hierdie versameling bevestig die nut van enige bloemlesing. Enersyds is die bloemleser (soos in die gedig 'Die ekster' van Ernst van Heerden uitgebeeld word)5 besig met 'n rooftog na 'net die beste': hy 'plunder fyn en plunder grof/ die kruie uit die Edenshof' en in die proses kan die beeld van 'n digter/skrywer verteken word. Indien die bloemleser egter 'n kundige leser is met 'n historiese perspektief, kan die wegsnoei van swak werk die beeld van die skeppende figuur ten goede strek: 'kies blomme vir 'n ruiker-pand,/ lees elke tuintjie aan die kant'. Cloete staan allerweë bekend as 'n Totius-kenner en het ongetwyfeld ook ander gedeelde affiniteite met hom: sy gehegtheid aan Potchefstroom én 'n diep protestants Christelike geloofsoortuiging. Later stap Cloete ook as't ware in die voetspore van Totius deurdat die mantel van 'Potchefstroomse digter' op hom val en hy ook net soos sy voorganger hom besig hou met die psalmberyming. Hierdie versameling strek inderdaad Totius se beeld ten goede omdat daar in sy bundels talle swak verse voorkom (Kannemeyer 1978:116). Cloete se bloemlesing is derhalwe ook 'n historiese herwaardering.

Die bekende Schalk Pienaar (1976) vind dit ook 'n 'uitstekende versameling' wat Totius laat leef in al sy skakeringe: ''n treffende en waardevolle werk'.

Ook die drama-bloemlesing Vyfling (1966) is 'n deeglik geannoteerde bloemlesing van eenbedrywe. Soos in Faune huiwer Cloete nie om soms heel kritiese opmerkinge te maak oor van die opgenome skrywers (en tekste) nie. Die bundel is literêr-histories van belang omdat dit 'n kort keur is van die 'beste' of mees verteenwoordigende eenbedrywe wat strek van 1923 af (C. Louis Leipoldt se Die heks) tot en met Laat die kerse brand (Gerhard Beukes) en Die jammer hart (W.A. de Klerk) tot 1945.

Cloete is egter buite sy formele taak as bloemleser eintlik besig om voortdurend 'n bloemlesing saam te stel. Deur die talle sitate uit die werk van skrywers en digters uit onderskeie tye en lande so verskillend soos Huygens, Donne, Van Ostaijen, Verlaine en Whitman in sy Beeld-rubrieke en essays (soos in Die ander een is ek [2013]) is Cloete inderwaarheid 'n historiese bloemleser. 'n Volledige oorsig hiervan bied genoeg stof vir omvattende navorsing wat nie hier plek vind nie, maar dit is duidelik dat Cloete op grond van sy eie bloemlesings, maar veral ook vanweë die intertekstualiteit in sy werk, een van die bedrywigste digter-bloemlesers in die Afrikaanse letterkunde was.

 

Literatuurkritikus en literatuurhistorikus

Wanneer Cloete se literêr-kritiese bydraes (onder meer Op die woord af [1963] en Kaneel [1970]) bekyk word, val dit op dat die historiese aspekte van literatuur deurgaans voorkom, hoewel dit dalk nie sy hoofbemoeienis is nie. Sy gepubliseerde proefskrif, Trekkerswee en Joernaal van Jorik (1953), is 'n vergelykende studie. Cloete se belangstelling gaan veel meer uit na die verstegniese en strukturele verskille tussen die twee werke (wat weliswaar ook histories bepaald is) en daaraan word die grootste deel van die studie gewy. Kannemeyer (2005:124) onderskei 'n paar groepe Afrikaanse literêre kritici wat vanaf die veertigerjare van die 20ste eeu aktief was: die sintetiese kritici (soos Antonissen), dié wat konsentreer op tegniese aspekte en die 'stiplesers' wat onder leiding van W. Gs. Hellinga in Amsterdam gestudeer het: H. van der Merwe Scholtz, Elize (Lindes) Botha, C.J.M. Nienaber en F.I.J. van Rensburg. 'n Kritikus wat volgens Kannemeyer hierby aansluit, is T.T. Cloete.

Hoewel hulle inderdaad almal by Hellinga én N.P. van Wyk Louw gestudeer het en almal teksgerig is, is daar groot onderlinge verskille wat hulle onderskeie poëtikas en teoretiese uitgangspunte betref: Nienaber bly byvoorbeeld getrou aan die stiplees van tekste, terwyl Botha, veral in haar latere prosa-opstelle, veel meer kontekstueel gerig is. Cloete sluit weliswaar by die genoemde kritici aan, omdat hy as outonomisties ingestelde kritikus groot klem plaas op die teks en aspekte daarvan, soos in die geval van die poësie, die skrifbeeld, klank, morfologie ('op die woord af') en sintaksis. Tog is hy reeds in sy proefskrif histories ingesteld en word relevante kontekstuele aspekte (soos die sosiaal historiese werklikheid) verreken op 'n wyse wat in die vyftigerjare afwesig was by baie van die genoemde kritici. In feite staan hy veel nader aan N.P. van Wyk Louw wat 'n kritiese afstand bewaar het van die 'eindelose bespreking' wat 'n gevolg was van die 'Hellinga-Scholtz-metode' (Louw 1958:208 e.v.).

Cloete se werk Die wêreld is ons woning nie (1961), 'n historiese bloemlesing én kritiese studie is 'n logiese voortsetting van sy studie van Totius en word deur Ernst Lindenbergh (1961) bestempel as 'n redelik betroubare gids, maar sonder veel avontuur of verrassings (sic). In die res van die baie kritiese resensie wys Lindenberg op gebreke, onder meer metodologiese tekortkominge. Die gebrek lê vir hom veral in Cloete se poging om al die gedigte onder een noemer te bring: 'dit word 'n gekleurde bril waarmee jy na alles kyk'. Gedigte wat 'hulle nie maklik leen tot die navorser se doel nie' word volgens Lindenberg gewoon geïgnoreer en dit lei tot skewe waarde-oordele en selfs die weglating van enkele van die beste gedigte van Totius. Wat hy Cloete veral ten laste lê, is sy verdediging van Totius en sy poging om deur vergelyking met groot digters die status van Totius te 'verhoog.' Dit impliseer dat Cloete manipulerend optree en sy eie poëtikale opvattings voorop stel.

Op die woord af (1963) hou wel verband met die literatuurgeskiedenis of eerder 'historiese lees'. Antonissen (1966:75) noem Cloete se werke die geleerde lees; die kritiese studie. Hulle is volgens hom eksegetiese kommentaar 'kort-kort boeiend en intelligent geskryf, deur 'n bekwame en sorgvuldig voorbereide dosent'. Maar Antonissen onderskryf (bl. 75) die grootste deel van hierdie studie nie. Dit titel vind hy misleidend, omdat die opstelle 'maar alte dikwels 'op die afsonderlike woord af' is, en op dieselfde stelletjie woorde wat uit alle hoeke en kante bymekaargebring word, buite hul nuanserende en relativerende konteks' (Antonissen 1966:76). Uit die res van sy lang en uiters kritiese bespreking is dit ook dudelik dat Antonissen dit het oor die ontwikkelende (historiese) konteks van Louw se opvattings. Hy vind dit ook bedenklik dat Cloete Van Wyk Louw se gedagtes 'vereenselwig met [] bepaalde gestaltes wat hy skep' (bl. 77).

Cloete se fotobeeld van N.P. van Wyk Louw (Skrywers in beeld 1974), met 'n chronologiese inslag, het 'n wisselende ontvangs. Van sy kollega P.D. van der Walt (1975) is daar 'n uiters positiewe resensie; ook Kromhout (1975) en Anna Van Zyl (1975:14) is positief. Van Zyl noem dit jubelend ''n pragboek' en wens Cloete ook hartlik geluk met 'só 'n boek'. Onder die sprekende hofies 'Met min geesdrif aangepak' en 'Dié boek 'n jammerte' verskyn dieselfde resensie van J.C. Kannemeyer (1983) in onderskeidelik Beeld en Die Burger. Kannemeyer noem hierdie fotobeeld ''n lukrake versameling wat die indruk gee dat dit oorhaastig, onsistematies en met weinig geesdrif kafgedraf is'. Volgens Kannemeyer is daar te min foto's oor Van Wyk Louw se studentetyd en sy Amsterdamse verblyf. Boonop is daar geen foto van Van Wyk Louw se bekende studente nie; wel een waar Cloete self promoveer. 'n Groot fout volgens Kannemeyer is dat Louw se vriendskap met J. du P. Scholtz en I.W. van der Merwe bykans nie gedokumenteer word nie.

Kannemeyer wys verder foute uit by byskrifte (soos 'J.F.E. Cilliers' in plaas van 'Jan F.E. Celliers'). Boonop verwys Cloete na Van Wyk Louw se seun as 'Pieter' in plaas van 'Peter.' 'n Ander leemte is dat gedigte of fragmente bloot afgedruk word 'terwyl 'n mens eerder die handskrifweergawes sou wou sien'. Sy slotbevinding is dat dit 'n mislukte boek is vir die ernstige student van literatuur en dat dit ook nie juis geskik is vir die koffietafel nie.

Binne die narratiewe aanpak wat hier gevolg word, is daar meer ruimte vir persoonlike bespiegeling as in 'n sogenaamde objektiewe deskriptiewe aanpak. Kannemeyer se skerp resensie staan na my gevoel nie los van Cloete se uiters kritiese bespreking van Kannemeyer se gepubliseerde proefskrif, Die stem in die literêre kunswerk (1965) nie. Op hierdie resensie reageer eers Kannemeyer (1966) en daarna weer Cloete (1966). Die latere fel polemiek tussen Cloete en Kannemeyer (oor laasgenoemde se literatuurgeskiedenis) bevat uiteraard teoretiese en metodologiese besprekingspunte, maar daar is óók 'n persoonlike toon aanwesig wat dui op wedersydse vyandigheid. Binne die aanpak van Bourdieu staan mededinging om 'kapitaal' en bepaalde posisies sentraal en die verwerwing van eersgenoemde gaan gepaard met 'skerp resensies' en 'uiters kritiese besprekings'! En Bourdieu se benadering is dalk die een binne die geesteswetenskappe wat kan aanspraak maak op wetenskaplikheid (Bod 2014:9).

Werklike literatuurgeskiedskrywing by Cloete vind ons in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig (1980), met Cloete as hoofredakteur en met die medewerking van A.P. Grové, J.P. Smuts en Elize Botha. F.I.J. van Rensburg (1980:2) is oorwegend positief oor hierdie werk wat hy beskou as die 'literatuuroorsig wat die varsste, outentiekste aandoen van al die bestaande geskiedenisse en oorsigte', 'hoewel dit nie spesifiek as literatuurgeskiedenis aangedien word nie'. Ondanks bepaalde kritiek (byvoorbeeld oorvolledigheid en skewe waarde-oordele) vind hy Cloete se poësie-oorsig goed omdat dit nie net tematies gerig is nie, maar ook struktureel kyk na tekste. Sy slotsom is dat dit 'n oorsig is 'wat die Afrikaanse gedig die veelsydigste in die visier neem'.

Lindenberg (1980) is veel kritieser en stel ook die aard van die werk ter diskussie - dit sou trouens ook aan bod kom in die polemiek tussen Cloete en Kannemeyer (daaroor later meer). Lindenberg sê dat dit 'n literatuurgeskiedenis wil wees, maar juis in hierdie doel tekort skiet. In sy uitvoerige bespreking wat talle gebreke aantoon (veral die swak aansluiting van die oorsigte by mekaar; stilistiese mankamente; verskillende benaderings en ideologiese vooroordele by veral Grové) is Lindenberg aanvanklik skynbaar relatief positief oor Cloete se poësie-oorsig veral wat onderdele betref. As geheel vind hy dit tog ''n allegaartjie sonder sin of samehang', vol vreemdsoortige, abstrakte terminologie.

Gerrit Olivier (1980:39) is net soos Lindenberg vernietigend teenoor Grové weens sy ideologiese vooroordele. Belangrik is sy taakomskrywing van die literatuurhistorikus: 'nié om sy vooroordele aan ons op te dring nie, maar om aan te toon wat die belangrikste geledings was, om te wys op die dinge wat vir die groei van die letterkunde relevant was'. Olivier impliseer ook dat dit 'n 'outonomistiese' literatuurgeskiedenis is: slegs die werk kry aandag en al die ander aspekte soos die biografie, poëtikale opvattings en algemene 'klimaatverskynings' word alles weggelaat. Hierdie werk sou binne die visie van Vodička geen 'ware literatuurgeskiedenis' wees nie, aldus Olivier (Olivier 1980:39) omdat dit outonomisties is en geen oog het vir die wyse waarop die literatuur saamhang met 'randverskynsels' nie.

Kannemeyer laat hom na die polemiek met Cloete ook krities uit oor dié werk in Vaderland (1 Oktober 1984): 'Jaar na jaar moet baie studente 'n eensydige geskiedenis van Sestig (Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig) bestudeer in 'n boek waarin Grové op die smeerstuk steun en wat deur Cloete geredigeer is (Galloway 1990:87).

'n Ander publikasie van Cloete wat veel aandag gekry het, is Gids by die literatuurstudie (1980), wat hy redigeer saam met J.P. Smuts, Charles Malan en Elize Botha, en oorwegend positief ontvang word. Ook sy Gids by Senior Verseboek (1981) voldoen volgens die meeste resensente (Botha 1981; Grové 1981; Hugo 1986) aan 'n behoefte, hoewel Libertyn (1982) lustig die spot dryf met Cloete se fyn lees: 'só kan enigiemand 'n fles Roodeberg uit 'n enkele druiwekorrel probeer pers'. Op sig is so 'n satiriese stukkie nie van die grootste belang nie, behalwe as 'n mens weet dat Gerrit Olivier (soms met medewerking van uitgewer Markus de Jong) hom verskuil het agter hierdie skuilnaam en dat dit verskyn terwyl die polemiek Cloete / Kannemeyer steeds aan die gang was.

Oor 'n latere publikasie geredigeer deur Cloete Literêre terme en teorieë (1992)6 kan daar kort gegaan word. Hierdie werk is weliswaar geredigeer deur Cloete, maar Hein Viljoen het ook 'n belangrike aandeel daaraan gehad deur sy hersiening van die aanvanklike manuskrip gedurende 1980-1990 ('Voorwoord'). Voorts het ook 'n hele paar ander literatore (soos Heilna du Plooy en Charles Malan) hulp verleen met redaksionele versorging. Dit is egter duidelik dat die konsep hiervan belangrik was en dat dié werk die afgelope jare onontbeerlik geraak het vir literatuurstudie in veral Afrikaans. Belangrike stukke van Cloete self is sy besprekings van die begrippe 'Literatuur' (256-260) en 'Nasionale literatuur' (333-337). Dat Cloete 'literatuur' sien as sinoniem met die begrip 'letterkunde' gee aanleiding tot heelwat misverstande in die polemiek Cloete / Kannemeyer, omdat laasgenoemde 'literatuur' eerder sien as beskrywing van alles wat geskryf is. Tog gee hy slegs sistematies aandag aan letterkundige werke en hul geskiedenis.

 

Voorlopige gevolgtrekking

Wanneer ten slotte en terugskouend veral bepaalde publikasies van Cloete, en die resepsie daarvan weer eens onder die loep geneem word, val sekere dinge duidelik op - veral die skerp en persoonlike trant van baie van die besprekings, die duidelike stellinginname én die verskillende sienings van die begrip literatuurgeskiedenis. Veral relevant is die kwessie of 'n literatuurgeskiedenis primêr neerslag van eie (subjektiewe) oordele behoort te wees of liefs 'n (objektiewe) beskrywing van die wyse waarop literatuur kontekstueel ingebed is binne ander sisteme. Kyk 'n mens ook na die resepsie van Kannemeyer se literatuurgeskiedenis, kan gepraat word van duidelike strategiese posisie-innames deur literatore en twee 'kampe' kan breedweg onderskei word: F.I.J. van Rensburg, A.P. Grové, Elize Botha, P.D. van der Walt en T.T. Cloete aan die een kant en Ernst Lindenberg, Gerrit Olivier, Ena Jansen, Ernst van Heerden en J.C. Kannemeyer in die ander kamp. Skrywers oor die literêre sisteem of literêre veld, wat terme gebruik soos 'konflik tusssen sentrum en periferie' (Even-Zohar 1990:38), en Bourdieu wat praat van 'mededinging om posisies' en 'die stryd om (simboliese) kapitaal', sou hierdie dokumente as 'n dankbare gevallestudie gesien het. In 'n volgende artikel word 'n polemiek as 'n gevallestudie hanteer.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anbeek, T., 1990, Geschiedenis van de Nederlandse literatuur, Uitgeverij De Bezige Bij, Amsterdam.         [ Links ]

Ankersmit, F.R., 1990, De navel van de geshiedenis. Een overzicht van moderne geschiedfilosofische opvattingen, Wolters-Noordhoff, Groningen.

Antonissen, Rob, 1966, Spitsberaad. Kroniek van die Afrikaanse Lettere 1961-1965, Nasou Beperk, Kaapstad.

Barnard, Riana, 1998, 'Kanoniniseringsprosesse in die Afrikaanse literatuursisteem: Die rol van N.P. van Wyk Louw', ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

Behar, R., 1996, The vulnerable observer: Anthropology that breaks your heart, Beacon Press, Boston.

Bertyn, L.I. (LIBERTYN), 1982, 'Van gedigwees tot analise tot groot hoofpyn', Die Burger 24 Junie, bl. 14.

Bohlmeijer, E., 2007, De verhalen die we leven. Narratieve psychologie als methode, Boom, Amsterdam.

Bod, R., 2014, 'De veelheid aan geesteswetenschappelijke methoden. En toch is er eenheid!', De filosoof 60, 5-6.         [ Links ]

Botha, E. (E.B.), 1981, 'Gids werp lig op "duister gedigte"', Oggendblad 28-8, 19.         [ Links ]

Bruner, J.S., 1986, Actual minds, possible worlds, Harvard University Press, Cambridge, MA.

Bruner, J.S., 1990, Acts of meaning, Harvard University Press, Cambridge, MA.

Cloete, T.T., 1953, Trekkerswee en Joernaal van Jorik, C.V. Swets & Zeitlinger, Amsterdam.

Cloete, T.T. (samesteller), 1966, Faune. 'n Bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie, Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad.

Cloete, T.T. (samesteller), 1966, Vyfling. 'n Bundel eenbedrywe van Hertzogpryswenners, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1963, Op die woord af. Opstelle oor die poësie van Van Wyk Louw, Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1963, Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel. Bloemlesing: Uit die Nederlandse liriek (deel 1), onder redaksie van G. Dekker en T.T. Cloete, J.L. van Schaik, Pretoria.

Cloete, T.T., 1965, Boekbesprekings, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 5(4), 438-442.         [ Links ]

Cloete, T.T., 1966, Boekbesprekings, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 6(2), 211-215.         [ Links ]

Cloete, T.T., 1970, Kaneel. Opstelle oor die letterkunde, Nasionale Boekhandel Beperk, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1974, Skrywers in beeld. N.P. van Wyk Louw, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T. 1976, Vyftig gedigte van Totius, Tafelberg, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1977, Van Leopold tot Achterberg. Bloemlesing: Uit die Nederlandse liriek (deel 4), onder redaksie van G. Dekker en T.T. Cloete, J.L. van Schaik, Pretoria.

Cloete, T.T., Botha, Elize, Malan, Charles, 1986, Gids by die literatuurstudie, HAUM-Literêr, Pretoria.

Cloete, T.T., 1981 [1966], Gids by senior verseboek, Nasou Beperk, Kaapstad.

Cloete, T.T., 1984, 'Taalhandelinge en die literatuur', in Van Coller & Van Jaarsveld, 1984, 1-14.

Cloete, T.T., 1988, M. Nijhoff en die moderne tyd, in Van der Elst, J. e.a., 1988, 461-475.

Cloete, T.T. (red.), 1992, Literêre terme en teorieë, HAUM-Literêr, Pretoria.

Cloete, T.T., 2013, Die ander een is ek, Pooka, Plettenbergbaai.

De Groot, A.W., 1961, Methodologie. Grondslagen van onderzoek en denken in de gedragswetenschappen, Mouton & Co, 'S-Gravenhage.

De Regt, Henk, 2014, 'Is de houdbaarheidsdatum van Kuhns paradigmatheorie verstreken?' De Filosoof, 60:12.         [ Links ]

Du Plooy, H.J.G., 2008, Op loop met 'n lyn: T.T. Cloete se 'toepassing van dante' ikonies en intertekstueel gelees, Literator 29(3) 1-33. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v29i3.123        [ Links ]

Du Plooy, H.J.G., 2012, 'Dat innerlijk bedrijf, verzinnelijkt', Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 19(2), 58-85.         [ Links ]

Dupuis, M., 1993, '21 januari 1933: Jan Greshoff en Menno ter Braak op bezoek bij Willem Elsschot: De relaties tussen Noord- en Zuid-Nederlandse literatuur tijdens het interbellum', in Schenkeveld-Van der Dussen, 1993, 648-653.

Even-Zohar, I., 1990, 'The "Literary System"', Poetics Today 11(1), 27-44. http://dx.doi.org/10.2307/1772667        [ Links ]

Foster, R., 2012a, 'Afrikaanse herskrywings van Martinus Nijhoff se ikoniese gedig "Impasse"', Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 19(1), 51-68.         [ Links ]

Foster, R., 2012b, 'Nederlandse herskrywings van Martinus Nijhoff se ikoniese gedig 'Impasse'', Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 19(2), 86-107.         [ Links ]

Foster, R. & Viljoen, L. (samestellers), 1997, Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960, Tafelberg & Human & Rouseau, Kaapstad.

Galloway, F., 1990, Breyten Breytenbach as openbare figuur, HAUM Literêr, Pretoria.

Grové, A.P., 1981, 'Poësiegids én 'n prikkel', Die Burger 17 September, bl. 15.

Grüttemeier, R. & Leuker, M-T., 2006, Niederländische Literaturgesschichte, Verlag J.B. Metzler, Weimar, Stuttgart.

Hjort, M, (ed.), 1992, Rules and conventions. Literature, philosophy, social theory, Johns Hopkins University Press, Baltimore.

Hugo, D., 1986, 'Kundige leiding oor poësie vir skoliere', Die Volksblad 22-3, 10.         [ Links ]

Hyvärinen, M., 2010 'Revisiting the narrative turn', Life Writing 7, 69-82. http://dx.doi.org/10.1080/14484520903342957        [ Links ]

Kannemeyer, J.C., 1965, Die stem in die literêre kunswerk, Nasou Beperk, Kaapstad.

Kannemeyer, J.C., 1966, 'Boekbesprekings', Tydskrif vir Geesteswetensappe. 6(2), 209-211.         [ Links ]

Kannemeyer, J.C., 1974, 'Die boek 'n jammerte', Die Burger 28 November, geen bladsy.

Kannemeyer, J.C., 1974, 'Met min geesdrif kafgedraf', Beeld 11 Desember, bl. 11.

Kannemeyer, J.C., 1978, Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Academica, Pretoria.

Kannemeyer, J.C., 1983, Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2, Academica, Pretoria, Kaapstad, Johannesburg.

Kannemeyer, J.C., 2005, Die Afrikaanse literatuur 1652-2004, Human & Rousseau, Kaapstad, Pretoria.

Klopper, E.M.M., 1996, 'Die gebruik van die mite in Die werfbobbejaan van Alexander Strachan', Literator 17(3), 15-28. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v17i3.619        [ Links ]

Komrij, G., 2004[1979], Gerrit Komrij's Nederlandse Poëzie van de 19de tot en met de 21ste Eeuw in 2000 en enige Gedichten, (Vijftiende en zestiende druk), Uitgeverij Bert Bakker, Amsterdam.

Kromhout, J., 1975, 'Anna shows her individual views', The Star, 30 January, 34.

Lindenberg, E., 1980, 'Nuttige werk het leemtes', Die Burger, 08 Mei, bl. 14.

Lindenberg[h], E., 1961, 'Verkenningstog deur Totius se poësie', Die Burger 08 Desember, geen bladsy.

Louw, N.P. van Wyk, 1986 [1958, Swaarte- en ligpunte], 'Eindelose bespreking?' Versamelde prosa I, Tafelberg, Kaapstad, 208-2015.

McAdams, D. P., 1991, The stories we live by. Personal myths and the making of the self, William Morrow & Co, New York.

Mertens, A., 1991, Sluiproutes en dwaalwegen, Sauternes, Amsterdam.

Mijnhardt, W., 2014, 'Rens Bod en de methoden in de geesteswetenschappen', De filosoof 60, 6.         [ Links ]

Nel, A., 1992, 'Die allotropie van "gevormde literatuur" in die poësie van T.T. Cloete - 'n ondersoek na die idiolektiese "omzetting" van Nederlandse tekste, ongepubliseerde D.Litt-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Nel, A., 2002, '"Afgekyk van en nagepraat na " Nederlandse tekste van T.T. Cloete', Literator 23(1), 37-51, April. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v23i1.319        [ Links ]

Nel, A., 2015, '"Die gedig is spel" - fasette van spel in enkele gedigte van T.T. Cloete', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2), 188-204. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n2a3        [ Links ]

Odendaal, B.J., 2001, 'Bestekopname: Strategiese funksies van tematiese bloemlesings in die Afrikaanse literêre veld in die tydperk 1986-2000', Stilet13(1), 51-68.         [ Links ]

Olivier, G., 1980, 'Té min oor Sestig se literatuur', Die Vaderland 26 Junie, bl. 39.

Pienaar, S., 1976, 'Totius herleef hier', Die Burger 17 Junie, bl. 17.

Robinson, R., 1998, 'Die "wellus van die vorm" as 'n poëtologiese oriëntering', Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 5(1), 91-111, Junie.         [ Links ]

Schenkeveld-Van der Dussen, M.A., 1993, Nederlandse literatuur, een geschiedenis, Martinus Nijhoff Uitgevers, Groningen.

Sools, A., 2009, 'De verhalen die we leven. Narratieve psychologie als methode', Kwalon 14(3), 27- 35.         [ Links ]

Taljard, M., 2015, 'Wat is die mens wat u so ryk geskenk het?' Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2), 205-219. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n2a4        [ Links ]

Van Coller, H.P. 2001a., 'N.P. van Wyk Louw as kanoniseerder', Deel 1, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 41(1): 63 -72.         [ Links ]

Van Coller, H.P. 2001b, 'N.P. van Wyk Louw as kanoniseerder', Deel 2, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 41(2):133-146.         [ Links ]

Van Coller, H.P., 2009a, 'Die waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde', Tussenstand. Letterkundige opstelle, Van Schaik Uitgewers, Pretoria.

Van Coller, H.P., 2009b, Tussenstand. Literêre opstelle, J.L. van Schaik, Pretoria.

Van der Walt, P.D., 1975, 'Fotobiografie huldig digter', Die Transvaler 15 Februarie, bl. 6.

Van Oers, B. 2009, 'Narrativiteit in leerprocessen', Pedagogische Studieën 86(2), 147-156.         [ Links ]

Van Rensburg, F.I.J., 1980, 'Afrikaans opnuut volledig', Die Oosterlig (Boeke-Bylae) 07 Mei, bl. 2.

Van Zyl, A., (A.v.Z.), 1975, 'Pragbeeld van Van Wyk Louw', Die Volksblad 19 April, bl. 14.

Ward, R., 1998, 'Die vrou in T.T. Cloete se "toepassing van dante"', Literator 19(1), 5-18. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v19i1.509        [ Links ]

Wells, G., 1999, Dialogic inquiry, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511605895

White, Hayden, 1973, Metahistory: The historical imagination in nineteenth-century Europe, John Hopkins Press, Baltimore.

White, H., 1978, Topics of discourse. Essays in cultural criticism, Johns Hopkins Press, Baltimore & London.

Wolfaardt-Gräbe, I., 2015, '"Die huid huil luid in stilhuil" - op 'n [klank]spoor van T.T. Cloete se poësie', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2), 220-242. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n2a5        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Hendrik van Coller
vcollerh@ufs.ac.za

Received: 24 Nov. 2015
Accepted: 02 June 2016
Published: 29 Sept. 2016

 

 

1 Dit is trouens steeds belangrik om te besef dat ondanks alle kritiek op Thomas Kuhn se paradima-begrip, die wetenskap 'een historiese fenomeen is, en dat er geen universele, tijdonafhankelijke definitie van goede wetenschap is' (De Regt 2014:12). Die historiese aard van wetenskapsbeoefening hou egter ook in dat die objek van ondersoek (bv. T.T. Cloete) binne sy historiese verband beskou en geëvalueer moet word.
2 Opvallend genoeg vind twee ander keurders juis dat my eie opmerkings van die grootste belang is én hulle stel voor dat dit uitgebrei word!
3 Cloete skryf self in een van sy rubrieke (Beeld 8-8-2000: 3): 'Vandag is die dag van die intuimeling van baie dinge. Die Staatsteater word toegemaak [
] [d]ie Kaapse Filharmoniese Orkes gaan tot niet, [] die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kry swaar [] [u]itgewers raak al hoe meer huiwerig om digbundels uit te gee' en byna al mense wat hulle uitlaat oor kultuur op 'n opbelprogram het nog nooit die binnekant van 'n teater gesien nie. (Ook Beeld 24-8-1999, 3, vir sy opmerkings oor die dandy in die literatuur).
4 Daar is drie soorte kuns: die populêre kuns, die middelmote en die 'hoë note'. Met verloop van tyd bly eintlik net die laaste oor: dit is die geskiedenis wat in feite die kanon bepaal. (Cloete, Beeld 17-11-1998: 4).
5 Uit Teenstrydige liedere, bl. 31.
6 Daar word tans gewerk aan 'n nuwe, hersiene uitgawe onder redaksie van Hein Viljoen (aanlyn beskikbaar by www.litterm.co.za).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License