SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.37 n.1 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1253 

BOOK REVIEW

 

Samsa-masjien: 'n Uitsonderlike publikasie

 

 

Salomi Louw

School of Languages and Communication Studies, University of Limpopo, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Samsa-masjien

Book Cover: Samsa-masjien

Author: Willem Anker

ISBN: 978-1-4853-0256-8

Publisher: Protea Boekhuis, 2015, R160*

Kan 'n mens 'n vandag, 'n eeu na die 1920's, praat van tekste wat 'futurisme' beliggaam, of word dit in die 21ste eeu herleef en/of voortgesit? Wat het geword van 'transart' en 'avant-gardisme' uit die vorige eeu? Dit alles is terug te vind in hierdie drama. Ook die warboeldenke of -dinge of -klanke of die chaotiese sielkundige analises van vroeg in die vorige eeu kom hulle aanmeld in hierdie teks deur Willem Anker wat van intertekste deurspek is. En tog is alles nuut, kontemporêr en onstellend, maar ook meesleurend en hartroerend.

In Samsa-masjien word die ontvanger gekonfronteer met Gregor (vernoem na die karakter in Kafka se Metamorfose), 'n man in sy sewentigs wat algaande meer verwelk weens dimensie en in die verloop van die dramawêreld sy kontak met die hede verloor terwyl hy 'n 'geraasmasjien' bou omdat klank 'ons drome van musiek' is en 'geraas musiek se drome van ons' is (bl. 80). Hy glo hy verword tot insek, word al hoe vuiler en eet al hoe minder en morsiger. Gregor se taalgebruik is toenemend verstrooid en onsamehangend, alhoewel jy as resepteerder iets daarin wil herken. Sy vrou, Josefine - ook vernoem na 'n Kafka-karakter, naamlik die muissanger -versorg hom liefdevol en met volle begrip sedert hulle ''n paar weke gelede' by hul dogter en haar man ingetrek het. Algaande vereenselwig Josefine haar in 'n groot mate met Gregor en tree later self ook insekagtig op.

Gregor en Josefine Samsa se dogter, Grete, is 'n kopieskrywer wat in die verhaal 'n voorlegging oor 'n outomatiese, higiëniese seepvoorsiener beplan. Sy is in gereelde kontak met haar sielkundige en bespreek hoofsaaklik haar probleme met en kwelling oor haar ouers met hom. Haar man, Tjaart (soms deur die ouers 'Tjorts' genoem), wil as psigiater nie té nou betrokke raak nie, maar gaan wel die ouers se kamer kamma-spuit vir die krioelende insekte wat Gregor glo hy sien.

Die verhoog is verdeel in twee vlakke, bo links is die ouers se slaapkamer waar ons Gregor en Josefine in interaksie ervaar. Regs daarvan is die kombuis-eetkamer waar Tjaart ook sy studente se vraestelle nasien. Verder regs dui 'n beligtingskol Grete aan in gesprek met haar sielkundige. Die onderste vlak stel die kelder voor waar Gregor sy 'geraasmasjien' met die hulp van Josefine bou, waar hulle intens saam verkeer en waar hy uiteindelik in die niet verdwyn - dus sterf.

Terwyl onderhandelinge oor die verwydering van die lyk en die opname van Josefine in 'n tehuis vir bejaardes aan die gang is, gaan Grete en Tjaart werk toe en val Josefine van haar stoel af. Die ontvanger moet hier self besluit wat haar lot is. Alhoewel Peter Blum nie in die 'Erkenning' (bl. 94) vermeld word nie, is daar myns insiens deurgaans 'n afskaduwing van sy 'Man wat mal word' uit 'Drie uiterstes' (Enklaves van die lig, 1958) in die drama. Ten opsigte van Josefine is die volgende Blum-teks gepas: 'Wie só uitgedeel en/of aan die al is, het die al in hom begryp -/en dit ís die liefde.' Josefine hét Gregor se 'al' én liefde begryp en daarmee een geword.

Die teks is oneindig verweef met verwysings na of aanhalings uit bestaande en bekende tekste (ook musikaal) - erkenning word op bladsy 94 gegee aan verskeie van dié insette -en tog is alles nuut verwerk en verwikkeld. Die huidige teks, Samsa-masjien, is op sigself ook 'n intrateks wat sigself op verskeie maniere dupliseer, repudieer en sirkelgange bewerkstellig.

As publikasie kan Willem Anker se Samsa-masjien uitgesonder word weens die kwaliteit van die aanbieding met swart-en-wit foto's van die oorspronklike produksie deur Jaco Bouwer, die insluiting van 'n laserskyf met die oorspronklike klankbaan deur Pierre-Henri Wicomb en die intrigerende buitebladontwerp. Die enigste negatiewe punt vermeldbaar is die erkenning van 'n foto op bladsy 28, terwyl daar op dié bladsy geen foto verskyn nie.

Hierdie ryk teks is 'n moét vir (1) alle teateraanhangers, (2) almal met verbeelding, (3) enige persoon wat in die filosofie, sielkunde, taal- of letterkunde of kommunikasie belang stel, (4) alle dosente en studente (in ten minste die geesteswetenskappe) en (5) navorsers en artikelskrywers op verskeie gebiede. Dit is werklik 'n ontsaglik uitsonderlike teks. Die toekenning as wenner van die 'ATKV-Prys vir Dramateks' in 2012 is welverdiend.

Die uitgewer (Protea Boekhuis) wat steeds dramatekste publiseer vir 'n al kleiner wordende leserpubliek word gelukgewens met hierdie produk.

 

Literatuurverwysings

Blum, P., 1958, Enklaves van die lig, Balkema, Kaapstad.

 

 

Correspondence:
Salomi Louw
louwsalomi@gmail.com

 

 

* Book price at time of review

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License