SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Literator (Potchefstroom. Online)

versão On-line ISSN 2219-8237
versão impressa ISSN 0258-2279

Literator vol.37 no.1 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1212 

BOEKRESENSIE

 

Matige huldiging vir gevierde skrywer

 

 

Frederick J. Botha

Department of Afrikaans and Dutch, School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 

 

Book Title: Die vrou wat alleen bly

Author: K. Schoeman

ISBN: 978-1-4853-0184-4

Publisher: Protea Boekhuis, 2014, R180*

Review Title: Matige huldiging vir gevierde skrywer

Karel Schoeman se uiteenlopende oeuvre bestaan uit talle romans, novelles, dramatekste, biografieë en historiese werke. By geleentheid van sy 75 ste verjaardag in 2014 het Protea Boekhuis twee van sy draaiboeke wat nog nie voorheen verskyn het nie, gepubliseer onder die titel Die vrou wat alleen bly.

Op die agterblad word hierdie publikasie bestempel as ''n beduidende toevoeging tot die oeuvre van Karel Schoeman' - 'n ietwat oordrewe stelling. Ondanks talle toneelaanwysings wat maan dat die karakterhandeling nie karikatuuragtig moet voorkom nie, is dit juis wat gebeur. Boonop oorheers melodrama, afgetrokkenheid en geforseerdheid dikwels die handeling.

Die eerste draaiboek, ''n Vrou wat alleen bly', speel af op 'n klein dorpie en handel oor die aangetrokkenheid van twee vroue (die een getroud en die ander enkellopend), tot die getroude dominee, wat in 'n raaiselagtige skietvoorval sterf. Die tweede draaiboek 'Hiér was huise, hiér 'n pad' speel in 1908 in 'n hotelletjie aan die kus naby Kaapstad af. 'n Klompie uiteenlopende karakters leer mekaar beter ken sodat nuwe verhoudings moontlik kan ontstaan.

Die tema van eensaamheid is sentraal in albei draaiboeke, wat die keuse om hierdie twee tekste saam te publiseer, regverdig. Die titel 'Die vrou wat alleen bly' verwys nie net na die vrouehoofkarakters in albei draaiboeke wat, vanweë 'n doelbewuste keuse of deur die toedoen van die noodlot, as't ware alleen leef nie, maar dui ook op die onvervuldheid van die karakters wat in hul alleenheid verder vereensaam. Hierdie eensaamheid spruit uit onvervulde liefde. 'n Blywende hunkering kenmerk die karakters in albei draaiboeke. Die musiekmotief in die eerste draaiboek, maar spesifiek die 'soekende frase' wat herhaaldelik op die klavier of orrel gespeel word, beklemtoon hierdie karakters se smagting na liefde.

Die tweede draaiboek se titel 'Hiér was huise, hiér 'n pad' verwys na die wete dat alles gedurig aan die verander is - die enigste konstante in die lewe waarmee die mens noodgedwonge moet saamleef. Dit sinspeel natuurlik op die alleenheid waarmee die karakters uiteindelik leer saamleef, maar dit suggereer ook iets van eensaamheid as menslike kondisie, wat, soos uitgewys in albei draaiboeke, 'n konstante kan bly ondanks talle eksterne veranderinge of pogings om verhoudings met ander mense aan te knoop. Hierdie tema word ietwat eksplisiet in die slottoneel van die tweede draaiboek verwoord: 'Alles verander gedurig [] net jy self bly, dis al wat jy oorhou. [] Jy gaan alleen verder' (bl. 196).

Alhoewel daar in die eerste draaiboek 'n baie subtiele lesbiese element bespeur kan word, word hierdie homoërotiese toon sterk en eksplisiet deurgevoer in die tweede draaiboek. Dit is bekend dat seksualiteit in Schoeman se oeuvre onderspeel word, al dien dit as een van die belangrikste identiteitmerkers, maar hier plaas hy twee uiterstes gejukstaponeer.

Die dialoog in albei draaiboeke bevat 'n verdere kenmerkende trek van Schoeman se styl, naamlik lang, ritmiese en liriese sinne. Alhoewel hierdie dralende skryfstyl dalk die deurlopende toon van eensaamheid kan versterk, kom dit by tye steurend voor, veral as daar in ag geneem word dat hier nie met die verhalende prosa gewerk word nie, maar met die potensiële medium van film.

Die gedemptheid en somberheid wat albei draaiboeke kenmerk, herinner aan 'n tipiese Tsjechof-drama. Die tweede draaiboek herinner veral aan Tsjechof se Die Seemeeu deurdat uiteenlopende karakters wat huiwerig na mekaar toe uitreik hier ook in dieselfde ruimte verkeer, maar slegs vervlietende verhoudings aanknoop. Met Christiaan Olwagen se onlangse produksie van hierdie Tsjechof-drama nog vars in teatergangers se geheue, is die ooreenkoms veral opvallend. Olwagen se byderwetse benadering, gekomplementeer deur Saartjie Botha se kreatiewe Afrikaanse vertaling, het grootliks bygedra tot die sukses van hierdie produksie. Die stuk is juis verwerk om vernuwend en relevant te wees. Dit is heel moontlik die element wat ontbreek in Die vrou wat alleen bly.

In die voorwoord tot die twee draaiboeke skryf Schoeman dat die twee tekste rondom 1985 geskryf is, toe daar van sy oorspronklike draaiboeke sowel as bewerkings van sy romans verfilm is. Schoeman erken ruiterlik dat hy besluit het dat dit die sinvolste sal wees om die draaiboeke ná die verloop van byna dertig jaar bloot onveranderd en onverbeterd te laat publiseer.

Schoeman skryf verder dat die twee dramatekste miskien eerder as leestekste beskou moet word, en nie as speeltekste nie. Die duidelike, gedetailleerde toneelaanwysings, veral wat die vestigingstonele betref, skep egter die indruk dat Schoeman waardevolle aanduidings vir 'n regisseur bied en dat hierdie twee draaiboeke bedoel is om verfilm te word. Hopelik sal hulle dán tot hulle reg kom.

Die afgelope paar jaar het die Afrikaanse filmlandskap aansienlik verander, met Afrikaanse films wat al hoe hoër aansien verkry. Boonop wil dit voorkom asof dit Afrikaanse films is wat kykers intellektueel uitdaag wat die die meeste aftrek kry. Alhoewel die herbewerking van hierdie twee draaiboeke 'n meer beduidende toevoeging én komplement tot Schoeman se veelbekroonde oeuvre sou gewees het, het albei tog die potensiaal om verfilm te word.

Die vrou wat alleen bly sal beslis nie 'n wye leserspubliek geniet nie, maar Afrikaansdepartemente kan oorweeg om die werke by hul dramakursusse in te sluit as hulle voorsiening wil maak vir hoorspele, films en draaiboeke in hulle kursusse.

Die publikasie van hierdie twee draaiboeke, wat kennelik nie bedoel is om die Afrikaanse drama te vernuwe of selfs om 'n belangwekkende bydrae tot die gebied te lewer nie, maar bloot as 'n soort huldiging funksioneer, laat 'n mens egter wonder of dit die gepaste manier is om een van Suid-Afrika se mees gevierde skrywers te huldig.

 

 

Correspondence:
Frederick Botha
bothafrederick@gmail.com

 

 

*, Book price at time of review

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons