SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue1Die roep van die narokkong bly jou byPromoting the poetic cause in Ben Okri's stokus from Tales of freedom (2009) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Literator (Potchefstroom. Online)

On-line version ISSN 2219-8237
Print version ISSN 0258-2279

Literator vol.37 n.1 Mafikeng  2016

http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1174 

BOEKRESENSIE
http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1174

 

'n Afskeid in kwatryne

 

 

Heilna du Plooy

School of Languages, North- West University, South Africa. Email:heilna.duPlooy@nwu.ac.za

 

 

 

Book Title: Skulp - kwatryne
Author: Hennie Aucamp
ISBN: 9781485300694
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, ZAR*

Hennie Aucamp (1934-2014) was een van Afrikaans se veelsydige skrywers. Hy was nie net 'n skrywer van kortverhale vir die fynproewer nie, maar het ook met groot sukses essays, toneel en kabaret, lirieke, gedigte en outobiografiese tekste geskryf. Die een eienskap wat al sy skryfwerk kenmerk, is die fynsinnigheid en afgeronde estetiese kwaliteit daarvan. Hy was dan ook bekend as 'n esteet, selfs 'n dekadent, spesifiek in die sin van die hoogskatting en verheerliking van die estetiese.

Die bundel Skulp is Aucamp (2014) se laaste publikasie. Die bundel sou eers in Junie 2014 verskyn, maar die publikasiedatum is op sy versoek vroeër geskuif. Skulp het verskyn kwalik 'n maand voordat Aucamp op 20 Maart 2014 oorlede is. Hy kon dus nog die verskyning van die bundeltjie meemaak.

Die gedigte in Skulp is almal kwatryne en dit is betekenisvol dat Aucamp as digter nie net hierdie titel kies nie, maar ook die bepaalde vorm van die kwatryn. Volgens A.P. Grové in Literêre terme en teorieë (Cloete 1992:245) kan 'n vierreëllige strofe in enige gedig 'n kwatryn genoem word, maar die kwatryn is ook veel meer. 'n Kwatryn is 'n volkome gedig van vier reëls in eie reg:

... 'n ernstige, streng omskryfbare literêre vorm wat emosioneel en tegnies 'n afsonderlike geheel vorm en op sy beste 'n bepaalde lewenshouding of -aanvoeling op pakkende, pregnante, epigrammatiese wyse tot uitdrukking bring.

Die kwatryn gaan dus nie oor 'n betoog nie, dit laat nie uitweidings toe nie en bied 'n afgeronde gedagte in een worp. Die beperkte klankmoontlikhede in die rym bind die vers ook hegter. Daar kan verskillende rymskemas gebruik word en Aucamp gebruik inderdaad verskillende vorme (abba, abab, aaba, aabb, abcb, ens.), maar binne die kort vers werk die rympatroon daartoe mee om aan die gedig definisie en 'n omlynde skerpheid te verskaf. Wanneer die persoonlike omstandighede binne hierdie vorm deur vernuftige formulering tematies aan universele waarhede gekoppel word, verkry die gedig 'n groot trefkrag.

Dit is inderdaad waarin Aucamp in hierdie bundel slaag. Die kwatryne is inderdaad skerp gefokus met 'n interessante wending, of 'n angel in die stert in baie gevalle. In die vers 'Rooi ontploffing' (bl. 32) plant die vrou onskuldig of selfs onwetend malvas, maar vir die digter is dit 'n daad van verset teen verganklikheid en dood:

Die vrou van die oorkantste balkon

het iets roekeloos gedoen:

Twee kleibakke gevul met malvas,

en dood met die lewe versoen.

Soms dra die kinkel 'n grynslaggie, soos in 'Vrou voor spieël':

Halfmane aangebring bokant uitgewiste broue

wil 'n illusie skep van die altyd behoue,

maar alles verloën dit, die rok sonder moue,

die vel wat terugsink in ingekeepte voue.

Die grynslag is egter soms wreder of eerliker en dikwels ook selfondermynend soos in 'Tuiskoms':

Teen digte skemer bereik ek die plek;

werf en huis verlate, geen rokie wat trek

en lig agter die ruite nie; ongetwyfeld

is ek tuis: 'n leë dop vir my leë ek. (bl. 67)

Ten spyte daarvan dat hierdie kwatryne lyk asof hulle elkeen op hulle eie staan, is daar wel 'n lyn en 'n ontwikkeling uit die bundel af te lees. Die eerste kwatryn is 'n poëtikale vers wat mymer oor die verhouding tussen die digter en sy verse wat 'skoorvoetend nader' (bl. 9). Die digter word genoem die Verlore Vader en so verkry die verhouding tussen maker en maaksel 'n bykomende dimensie, maar dit is ook duidelik dat die oorvloed en bruising van jeugdige skeppingsdrif ontbreek. Die gedagte van die ontwikkeling, die maakproses of groeiproses van 'n vers, of van 'n mens, kom ook voor in die kwatryn 'Nautilus pompilius' waarin die skulp wat S-vormig op homself inkrul, beskryf word in terme van wat hy in homself verberg: ''n wenteltrap/ wat matematies klim, stap vir stap;/ en net die fynste deursnit kan dit onthul' (bl. 11). En inderdaad word die gedigte toenemend onthullend. Nie op sigself nie maar in samehang kom die digter se vrees vir die ouderdom, vir alleenheid, vir die groot onbekende na vore. Dit gebeur nogtans altyd op 'n fyn bewoorde wyse, aangevoel en uitgesoek met die hand van 'n fynproewer, gehoor met die oor van die digter wat die veraf geruis van onbekende seë in 'n skulp kan hoor: 'nou binne jou en net jy kan dit hoor' (bl. 14).

Die gedagte van aftakeling word vroeg gevestig in met verse soos 'Insig' (bl. 10), 'Hoe laat is dit, Dali?' (bl. 12) en 'Roman Africa' (bl. 13) waarin 'net soms, teen dusketyd' die steunende stem van 'n uil gehoor word. Daar is 'n sterk bewustheid van iets unheimisch, iets bedreigends wat die gewoonste dinge aantas. In die mangat hoor die digter 'n geruis van water wat 'kwater' is, (bl. 17) en in die nadraai van die geveg lê die gedugte Romeinse veldheer terwyl 'maaiers krioel om hulle domein' (bl. 18).

Maar die sterk fokus op vergane glorie word wel afgewissel met liriese kwatryne oor die vreugdes van die lewe, oor musiek en pragtige dae. Herfs in Drieankerbaai ruik vrank (bl. 25), die seewiere sweef 'soos pruike' om die skulpknoetse as die stormsee hulle loswoel (bl. 26), skoon heilige dae is ''n snoer vol silwer pêrels' (bl. 27), Bach en Tsjaikofski bring skoonheid en vreugde en Kamieskroon is ''n juweel geset in klip' (bl. 31).

Spoedig kom die nugtere besef van aftakeling weer na vore en daar is selfs 'n soort ongenade in die blik op homself in gedigte soos 'Viering' (bl. 34) en 'Ouwe poefter' (bl. 38). Die dekadente grimmigheid bly ook nie uit nie soos in 'What a lovely way to go (1) en (2)' (bl. 42-43). Trouens daar is 'n hele aantal verse waarin 'n taamlike onsimpatieke blik op verskillende soorte vertrek en afskeid gerig word (bl. 47-54). Die digter kan egter die werklikhede ten opsigte van homself nie miskyk nie (vgl. bl. 55):

Voëls raak ongedurig teen skemertyd,

hulle soek hulle nes vir die nag;

die ou mens lê benoud in sy holte,

maar sug as die son breek: 'Nog 'n dag'.

Die verse waarin hierdie troostelose uitsig oorheers, word na die einde van die bundel toe al hoe meer. Die stormnag kloof die eik (bl. 56), Kersfees word verbygewens (bl. 57), die voël in die bos sing vals (bl. 58) en die ou man pruttel 'diep uit sy kooi' (bl. 59). Afskeid word al hoe meer prominent as die digter skryf oor Plinius vir wie die dae finaal verby is waaroor hy kon sê, 'Met welbehae' (bl. 66), of wanneer die digter sy besittings wat hy afgee seën en oordra aan 'kragtiger skouers' om daaraan te dra (bl. 68) . Die tyd, gemerk deur die goedkoop wekker, word die digter se metgesel en hy skik hom na dié se 'swart humore' (bl. 69).

Die bundel sluit af met 'n pragtige kwatryn (bl. 70), ook met die klassieke aaba-rympatroon, oor die onbekende toekoms wat nogtans nie verskrikkend is nie:

Winternag

Winter is deursigtig. Ek kyk deur die bos

hoe liggies mekaar vind en dan weer los

aan die ander kant, wat glo die hemel is;

op die voorgrond, my eie, getekende winterbos.

Dit is werklik asof die digter hier met 'n afskeidsproses besig is, steeds op sy unieke manier deur die aanbied van afgeronde woorde en frases en verse. Daar is ook deurgaans 'n soort ligtheid, 'n speelse taalvirtuositeit wat die skrynende oumens-eerlikheid afwissel maar ook deur onderbeklemtoning sterker maak. Inderdaad staan die bundel in Johann de Lange se woorde op die agterplat 'in die teken van laatwerk, van bestekopname, die aflegging van maskers'. Die skulp is, soos vir die slak, die digter se beskerming, maar dit is ook die vehicle vir sy verse, 'n brose skuiling wat beskik oor 'n innerlike skoonheid, verborge struktuur en samehang, net soos die kwatryne self.

Hierdie kwatryne is voorbeelde van juis daardie vermoë van die kwatryn om 'n lewensgevoel of 'n lewensinsig saaklik maar gevat oor te dra. Die spel tussen erns en (grim)lag dra by tot gesofistikeerde toon van die bundel as geheel, en dit is juis wat Hennie Aucamp regdeur sy oeuvre wou en kon regkry.

 

Literatuurverwysings

Cloete, T.T. (red.), 1992, Literêre terme en teorieë, HAUM-literêr, Pretoria. Internet: http://www.litterm.co.za

 

 

* Book price at time of review

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License