SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.44 issue1Female same-sex relations in the later Middle Ages: An idea-historical surveyChurch order and pastoral care as in article 51 of the church order of the Dutch Reformed Church author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Verbum et Ecclesia

On-line version ISSN 2074-7705
Print version ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.44 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.4102/ve.v44i1.2775 

ORIGINAL RESEARCH

 

Some theological challenges regarding diakonia in some of the African South African churches / Enkele teologiese uitdagings rakende diakonia in van die Afrikaanse Suid-Afrikaanse kerke

 

 

Johannes J. Knoetze

Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

This article attends to the theological foundation of the diaconate from the missio trinitatis Dei and its implications, especially for the Afrikaans-speaking Reformed churches. The missio Dei, of the Father, Son, and Spirit is directed at the realities of this life. The new heaven and the new earth are not mutually exclusive. The earth is sanctified anew, man has created anew [recreated], and our bodies are raised anew [revived]. This new earth, a new man, and new life come through the merciful dikaiosune of the Father, the diakonia of the Son, and the koinonia of the Holy Spirit. The diaconate and the missionary ministry of the church are caught in the essence of God and therefore belong to the essence of missionary ecclesiology. From the trinitarian perspective, the purpose of the diaconate is described as well as the relationship between the diaconate, the church, and the kingdom. The last part of the article deals with salvation and diaconate and the implications of a trinitarian understanding of the diaconate for the understanding of salvation.
INTRADISCIPLINARY AND/OR INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: This article makes an interdisciplinary contribution to the theological discussion within the Afrikaans-speaking churches from the perspective of systematic and practical theology.

Kernwoorden: diaconate; Afrikaans churches; trinity; missio Dei; glory of God.


 

 

Inleiding

Wêreldwyd word die gaping tussen ryk mense en arm mense net groter. Die hele samelewing is gebou op hierdie dualistiese denke en politici en welvarende lande probeer dit te verdoesel deur allerhande terme daarvoor te gebruik. So praat ons byvoorbeeld van ontwikkelde lande en ontwikkelende lande, of eerste wêreld- en derde wêreld-lande. Binne die Afrika konteks en meer spesifiek binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit nie veel anders nie. As Afrikaanssprekende gelowiges is ons pynlik bewus dat ons nie maar kan kerkwees soos in die verlede nie. Die wêreld waarin ons leef het te veel verander as gevolg van politieke skuiwe, globalisering, die vierde industriële revolusie ensomeer. Dit is veral waar vir ons as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sedert 1994, toe ons begin deelneem aan 'n demokratiese politieke bestel. Die hartseer is dat veral binne die Suid-Afrikaanse konteks die onderskeid tussen ryk mense en arm mense steeds grotendeels ook volgens rasseklassifikasies loop, wat lei tot nog groter verdeeldheid in die samelewing. Tog is ekonomie, rasseklassifikasie, ensovoorts, nie die enigste verdelende faktore in die samelewing nie. Ook die kerk, die instelling wat eenheid, versoening en geregtigheid in die samelewing moet bevorder is 'n verdere verdelende faktor (Du Toit 2014), ten spyte van die positiewe bydraes wat die kerke in die samelewing lewer.

Die Afrikaanssprekende kerke in Suid Afrika (waaroor dit in hierdie artikel handel) het van die vroegste tye af die armoede in eie geledere sowel as in die Suid-Afrikaanse gemeenskap aangespreek deur haar barmhartigheidsbediening. Die diakonale bediening van die Afrikaanse kerke is verskraal tot 'n barmhartigheidsbediening teenoor 'n diakonale bediening. Hierdie artikel wil dus die diakonaat beskryf en verstaan binne die breëre ekumeniese verstaan van die wêreldkerk en die triniteit. Wanneer enige bediening van die kerk teologies beskryf word, kan dit slegs geskied deur identiteitsvrae te antwoord. Vrae soos: Wie is ons? Waar kom ons vandaan? En waarheen is ons oppad? Sulke identiteitsvrae is belangrik aangesien die kerk God verteenwoordig in en voor die wêreld en die kerk ook die wêreld verteenwoordig by God (Moltmann 1977:1; Paas 2019:187 e.v.). Een van die belangrike dokumente wat dien tot grondslag van die artikel is die Nederduits Gereformeerde Kerk se Raamwerkdokument wat handel oor die missionale aard en roeping van die kerk (2013).

Daar is verskillende maniere/teorië van waaruit ons die diakonaat kan beskryf. Enkele voorbeelde sonder om in detail in te gaan sou kon wees:

  • vanuit ervaring; dan beskryf ons die diakonaat fenomenologies vanuit die kultuur/konteks waarin dit geskied. Of ons sou dit.

  • sosiologies kon beskryf vanuit die sosiologiese raamwerk waarin dit funksioneer. Of ons sou dit.

  • histories kon beskryf en dan insig kry in hoe dit histories ontwikkel en verander het.

Die punt is dat die beskrywing van diakonaat vanuit verskillende plekke (subjekte) kan kom. Wanneer ons dus oor die diakonaat praat of dit beskryf moet ons telkens die volgende vrae beantwoord: Vir wie en in wie se belang skryf ons? Wie moet en/of kan hierdeur bevoordeel word? Wanneer ons in die artikel oor die teologie van die diakonaat skryf, skryf ons in die eerste plek met die oog op die kerk van Christus (sien 'n volledige beskrywing oor die kerk later in die artikel), en hoofsaaklik vanuit die konteks van die Afrikaanse kerke in Suid Afrika, tot voordeel van die samelewing.

Die teologiese fundering van die diakonaat is belangrik aangesien dit nie net 'n veranderende samelewing en die nood in die wêreld is wat die kerk roep tot diens nie. Die kerk word in die eerste plek geroep tot diens deur die trinitariese God. Dit is God wat die kerk onrustig en ongemaklik maak in hierdie wêreld deur die opgestane Christus en die werking van die Gees. Christus is gekruisig en het opgestaan sodat die wêreld anders as wat dit tans is, kan wees en funksioneer. En die Heilige Gees werk in besonder in en deur die kerk om die koninkryk van God meer en meer 'n werklikheid te maak. Die kerk verander dus nie in die eerste plek omdat die samelewing verander nie; die kerk verander omdat die liefde van Christus die kerk dring, en die vernuwing van die Gees haar deelname aan God se verlossende werk in 'n veranderende samelewing rig en bepaal. Dit is die trinitariese God self wat die kerk roep, onrustig maak en dring om te verander.

Die kerk lewe eerste in gehoorsame verantwoordelikheid teenoor God die Vader aan wie die skepping behoort (Ps 24:1), gedring deur die liefde van Christus, bemagtig met gawes en krag deur die Heilige Gees (1 Kor 12; Hand 1:8) en in verantwoordelikheid teenoor die samelewing waarvan die kerk deel is (Rom 1:14). Die kerk leef haar getuienis in die wêreld. Sy het die voorreg om deel te neem aan God se aktiwiteite in hierdie wêreld. Daarom kan daar geen onderskeid wees tussen haar verantwoordelikheid teenoor God en haar verantwoordelikheid teenoor die wêreld nie (Matt 22:36-40). Dit is nie twee sake nie maar een. So haal Dietrich (2019a:15) die Lutherse Wêreldfederasie se dokument Diakonia in context (2009:29) aan:

Diakonia is thus an intrinsic element of being Church and cannot be reduced to an activity by certain committed persons or made necessary by external social conditions. Diakonia is deeply related to what the Church celebrates in its liturgy and announces in its preaching. In the same way, liturgy and proclamation relate to diakonia.

 

Trinitariese fundering

Die belangrike skuif wat deur die missiologie gekom het rakende die verstaan van die triniteit is die verstaan van God as 'n missionêre God [missio Dei]. Die missio Dei het ook bepaalde implikasies vir ons verstaan van diakonaat:

missio dei, a movement from God in which the church has its origin and arrives at its own movement, but goes beyond the church, finds its goal in the consummation of all creation in God. The real point is not to spread the church but to spread the kingdom. The goal is not the glorification of the church but the glorification of the Father, through the Son in the Holy Spirit. (Moltmann 1977:11)

Cilliers (2021:20) argumenteer dat die missio Dei help dat ons nie net God se sending soteriologies sal verstaan nie, maar dat God se skepping as missio Dei verstaan moet word. Die skepping kom vanuit die missio Dei en het die missio Dei ten doel. Dus die missio Dei begin nie eers met die menswording van Christus nie; dit is nie 'n krisisingrype van God na die sondeval nie. Die missio Dei begin met die skepping wanneer God deur sy 'Woord' skep. Cilliers (2021:22) sê dit selfs sterker; 'God se sending is skepping en skepping is God se sending [missio quad creaturae Dei]'. Daarom kan God se sending nie gereduseer word tot die 'spirituele' of 'hemelse' nie want dan mis ons die punt van God se sending. God se stuur van sy Seun is nie teenstrydig met God se skepping nie; dit is eintlik 'n bevestiging van God se omgee en versorging van die skepping. Die skeppende 'Woord' in die skeppingsgebeure is ook die gestuurde 'Woord' as diakonos, na die wêreld (Mark 10:45). Jesus se gestuurdheid as diakonos onderstreep en vervul die skepping. As 'die kerk van Jesus Christus' is die kerk fundamenteel afhanklik van Christus en van hom alleen. Want wat die kerk is en die konteks waarin die kerk is, is aan Christus gebonde, ongeag die omstandighede of die kultuur. Die missio Dei het meer te doen met 'wees' en 'word' as met 'doen'. Ons is nie mense om Christene te word nie, ons is eerder Christene om meer mens te word (Cilliers 2021:23). God se sending het te doen met die lyding van gewone mense, en daarom is God se sending ook diakonaat. Netso bevestig die gestuurheid van die Gees die skepping as missio Dei, aangesien die Gees nie uitgestort word op die bo-natuurlike nie, maar op die natuurlike, die vlees. Die 'Gees' dui hier nie 'n geestelike dimensie buite die mens en die wêreld aan nie. God se Gees maak woning in mense se liggame. Die Gees heilig die liggaam en die Gees heilig die lewe. Eerder, dit herinner ons aan die groot dade van God (Hand 2:11) wat insluit dat ons geskape is en herskep is deur die Vader en die Seun na God se beeld.

Die missio Dei, van die Vader, Seun en Gees is gerig op die realiteite van hierdie lewe. Die nuwe hemel en die nuwe aarde sluit mekaar nie uit nie. Die aarde word opnuut geheilig, die mens word opnuut geskep (herskep), en ons liggame word nuut opgewek (herlewe). Hierdie nuwe aarde, nuwe mens en nuwe lewe kom deur die barmhartige dikaiosune van die Vader, die diakonia van die Seun en die koinonia van die Heilige Gees.

 

Doel van diakonaat

Daar word redelik algemeen gepraat oor die missio Dei. Tog is dit belangrik om ook kennis te neem dat daar verskillende verstane van die missio Dei is wat 'n indirekte en selfs direkte invloed het op die verstaan van diakonaat. Die missio Dei kan gerig wees op die wêreld alleen ter wille van die wêreld. Die implikasie hiervan is 'n fokus op die mens en sy/haar nood; met ander woorde, die mens of die nood word die motivering vir die diakonale bediening. 'n Ander verstaan van die missio Dei is die gerigtheid op die wêreld alleenlik ter wille van die koms van die koninkryk. Die implikasie hiervan is die vergeesteliking van die diakonaat, byvoorbeeld dat die diakonaat alleen bestaan uit die gebede vir siekes en mense in nood sonder enige fisiese betrokkenheid om die nood te verlig. Die missio Dei moet gerig wees op die wêreld ter wille van die wêreld en ter wille van die koninkryk. Die diakonaat het in die geval 'n holistiese benadering: die nood hier word verlig sodat God verheerlik sal word. Die doel van die diakonaat is in die eerste plek die verheerliking van God. Daarom word die motivering vir die diakonaat nie gebore uit die nood van die mens of die wêreld nie, maar uit die hart van God. Die kerk se betrokkenheid geskied ook nie oor sy skuldig voel nie, maar omdat sy gehoorsaam is aan die hoof van die kerk en God wil eer.

Die doel van die diakonaat is die verheerliking van God. Die doel van die mens en van die totale skepping, van die missio Dei, is die verheerliking van God. Dit word baie duidelik vanuit die die koinonia binne die triniteit. Barmhartigheid behoort tot die wese van God (2 Kor 2:3). Diakonaat behoort tot die wese van God soos vergestalt in Christus (Mark 10:45). Christus leef in gehoorsaamheid om die Vader te eer, en die Gees getuig en bemagtig om die Seun te verheerlik (Joh 16:14). Daarom is die maatstaf vir enige vorm van diakonaat dat dit God moet verheerlik (Joh 12:26), want dan sal God ook die dienskneg eer. Geen diakonaat vind plaas sonder doksologie nie. In beide die Ou Testament en die Nuwe Testament beteken doxa goddelike mag, krag en heerlikheid, met ander woorde, die goddelike openbaring van prag en skoonheid. God se mag, krag en heerlikheid word geopenbaar daar waar die kerk deur die diakonale bedieninge deelneem aan die missio Dei. Doxa is die term wat gebruik word vir beide God die Vader en God die Seun. Christus is deur die heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek (Rom 6:4). Jesus is in heerlikheid by die Vader opgeneem (1 Tim 3:16). Christus is in die hemel opgeneem tot eer van die Here (Fil 2:11). So verheerlik die Seun die Vader deur sy gehoorsaamheid, en die Vader verheerlik die Seun deur sy opstanding en hemelvaart.

Die doel van Christus se sending is versoening. Versoening tussen God en mens, tussen mens en mens, en tussen mens en die skepping. Om hierdie versoening te bewerk tree Christus as die groot diakonos op, want die doel kan alleen bereik word deur self-opofferende diens. Versoening kan alleen plaasvind waar geregtigheid geskied. Waar versoening aanvaar en geglo word, word God deur mense verheerlik en neem mense deel aan die kerk, maar is die kerk ook deel van God se verheerliking. Daarom word Christus 'die hoop op die heerlikheid' genoem (Kol 1:27). Die Gees verheerlik die Vader en die Seun deur aan die mens geloof te skenk deur in gemeenskap/koinonia met mense te leef en hul lewens te vul met vryheid en dankbaarheid. Dus saam met die Seun en deur die Seun verheerlik die Gees die Vader, en saam met die Vader en deur die Vader verheerlik die Gees die Seun, en saam met die Seun en die Gees en deur die Seun en die Gees verheerlik die kerk die Vader.

God does not desire glory without his glorification through man and creation in the Spirit. God does not desire to be united with himself without the uniting of all things with him. It is in this context that the vision in Revelation belongs in which 'Salvation' (soteria) is come to (RSV 'belongs to') our God and to the Lamb (Rev 7:10; 12:10; 19:1). The 'salvation' which God receives in the end is offered to him through glorification, through thanksgiving and the pleasure of the new creation in redeemed existence. (Moltmann 1977:63)

Wat baie duidelik is uit die bogenoemde aanhaling is dat verheerliking, redding en koinonia, interafhanklik is. Hierdie drie bedieninge is 'n wesentlike deel van diakonaat. Daar kan geen diakonaat wees sonder die verheerliking van God, die redding van die mens, en die gemeenskap met die Heilige Gees en die heiliges nie.

As diakonaat en koinonia interafhanklik is dan is dit duidelik dat diakonaat van toepassing is op ryk mense en arm mense. So skryf Bosch (2012:85-124) byvoorbeeld dat die evangelie van Lukas op die rykes en die armes gerig is. Maar wie is die armes en wie is die rykes? Armoede is multi-dimensioneel en moet holisties verstaan word. Dit kom voort uit ekonomiese, sosiale en fisiese armoede maar sluit ook psigologiese, morele en godsdienstige armoede in. Die armes is hulle wat geweld en ongeregtigheid beleef maar nie in staat is om hulleself te verdedig nie. Die armes leef op die grens van fisiese en geestelike dood, aangesien hulle niks het om voor te lewe nie en niks vir die lewe kan bied nie. Die armes leef uit die genade van ander met leë en oop hande. Armoede beteken dus afhanklikheid en openheid. Rykdom is ook multi-dimensioneel en kom dikwels voort vanuit ekonomiese uitbuiting, sosiale superioriteit, 'n selftevredenheid en die ignorering van regte van ander omdat baie ryk mense nie dankbaar teenoor enige iets of iemand leef nie. Rykdom is dus 'n gesindheid en dit waarop die gesindheid gebou word, naamlik besittings. Baie rykes leef met geslote hande, nie in koinonia met ander nie. Diesulkes sal slegs hulle eie nood en armoede besef wanneer hulle in koinonia met die armes begin leef (Moltmann 1977:79).

Diakonaat het dus ten doel om ryk mense en arm mense se nood aan te spreek deur hulle in gemeenskap met mekaar, met die skepping en met God te laat leef. Die vraag is dus nou: Maar wie moet die diakonaat doen? Of: Hoe neem ons deel aan die missio Dei?

As 'n korringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer. (Joh 12:24-26, klem ingevoeg)

Dit is dus duidelik, die volgelinge van Christus, die kerk is die diaken, nie net enkele individue nie, nie net die wat geroep is tot die diakenamp nie, maar elke gelowige, elkeen wat gedoop is. Dit bring ons by die verhouding tussen diakonaat, kerk en koninkryk.

 

Diakonaat, kerk en koninkryk

In haar teologiese verstaan en leer oor die diakonaat leef die kerk in die volgende drie dimensies: voor God, voor die wêreld, en voor die toekoms. Hierdie dimensies bepaal die hoe van haar bediening, aangesien die kerk 'n 'oop' kerk is. Oop vir God, oop vir die mens en oop vir die toekoms van God en die mens (Moltmann 1977:2). Christus is die kerk se fondament, krag en hoop - haar begin en einde - so bely die gereformeerde belydenisgeskrifte. Dit is waar Christus hoof is van sy kerk, waar hy alleen regeer, en waar die kerk in gehoorsaamheid aan Christus deelneem aan die werk (sending) van God in hierdie wêreld wat die kerk vry leef van die wêreld en bevryding bring in die wêreld deur navolging van Christus en deur die bemagtigende werk van die Heilige Gees wat tekens van die koninkryk oprig. Om die heerskap van Christus oor die kerk te bely beteken dus dat die kerk nêrens anders sy diakonaat kan begrond as in die trinitariese God soos wat hy hom openbaar deur sy 'Woord en Gees' nie. Met ander woorde, daar is nie dele van die diakonaat wat nie onder die heerskappy en in navolging van Christus geskied nie. Die teologiese verstaan van die heerskap van Christus oor sy kerk is dus wesentlik belangrik vir ons verstaan van die diakonaat, want dit het die gevolg dat 'kerk' onmiddelik verstaan moet word as 'n politieke en ook 'n sosiale begrip (Moltmann 1977:5), en dit het 'n bepalende invloed dat ons diakonaat nie maar net as barmhartigheidsdiens kan sien nie. Dit gee aan die diakonaat ook 'n politieke en sosiale dimensie wat sake soos strukturele ongeregtigheid, menswaardigheid, en vele meer insluit. Die diaken is dus nie net in die gestalte van 'n dienskneg nie, maar ook in die gestalte van 'n gesant/gestuurde, 'n verteenwoordiger van die koning en het daarom ook gesag in Christus (vgl. Collins 1990).

Tog, in die post-Christendom era waarin ons leef is gelowiges veral Protestantse Christene almeer geneig om hul Christelike identiteit los te maak van deelname aan die kerk. Dit word veral weerspieël in die afname van lidmaatgetalle in die Afrikaanse kerke. So sal baie mense hulleself as Christene beskou en 'n wonderlike bydrae lewer tot die verbetering van individue en die samelewing se omstandighede sonder om aan 'n geinstitutionaliseerde kerk te behoort. Dus, om lidmaat van die kerk te wees is deesdae 'n byvoeging tot Christelike identiteit en nie langer meer deel van wat dit beteken om 'n Christen te wees nie (Paas 2019:187). In aansluiting by die vorige paragraaf bring dit ons by die vraag na die priesterskap van alle gelowiges. In die Christendom era waar die samelewing as Christelik gesien is was dit moeilik om die 'priesterskap van alle gelowiges' te erken en uit te bou, daarom het dit alleenlik 'opwaarts' gegroei in ons verhouding met God en 'binnewaarts' in ons verhouding met medegelowiges, maar nie uitwaarts - na buite - in die wêreld nie. In die post-Christendom era waarin die Afrikaanse kerke hulle tans bevind, het ons skielik die geleentheid om die priesterskap 'uitwaarts' te bou na die wêreld. Tog vind ons 'n 'hyper-Protestantisme' wat die 'uitwaartse' priesterskap van alle gelowiges gebruik om die fenomeen van kerk te bevraagteken. Dit lei daartoe dat die individu se verhouding met God losgemaak word van die individu se verhouding met die kerk, as liggaam van Christus. Die standpunt is dat God eers 'n verhouding het met geisoleerde individue en deur hulle sy kerk bou. Paas (2019:191) stel teenoor hierdie siening dat die nuutste Bybelse en kerkhistoriese navorsing daarop dui dat kerk die individu voorafgaan en dat die individu sy/haar identiteit vind deur deelname in die kerk:

God has first and foremost a relationship with the Church, and through the Church he builds relationships with individuals. To be a Christian means to belong to the Church, and so to belong to God. (Paas 2019:191)

Die implikasies van hierdie verstaan van die rol van die kerk in die diakonaat kan as volg saamgevat word: Die kerk is die liggaam van Christus, die groot diakonos. Gelowiges word deur hulle doop in die kerk ingedoop (Adna 2019:62-64), as 'n diakonos (Joh 12:26). Die diakonaat kom dus voort en vind identiteit in die koinonia met God Drie-enig deur deelname aan die missio Dei, en koinonia en deelname in die gemeente. Dietrich (2019b:83-96) skryf 'n hele hoofstuk oor die perspektiewe vanuit die doop op diakonale ekklesiologie:

This is not only related to unity in faith and the need to work for growth in agreement on faith issues but it also means unity in life; unity in the Christian Church's common effort to serve each other and the whole creation. (p. 95)

Onder die hoofskap van Christus en deur die werking van die Gees het die kerk nie 'n sending of 'n diakonaat nie. Dit is nie die kerk wat Christus en die Gees administreer deur die verkondiging, sakramente, bedieninge of tradisies nie. Nee, Christus as hoof administreer deur sy Gees die kerk se verkondiging en geloof, sakramente en genade, bedieninge en tradisies (Moltmann 1977:64). Die ware kerk kan dus nie net beperk word tot 'suiwer evangelie verkondiging' en 'bediening van die sakramente' nie. Die kerk is teenwoordig daar waar 'die openbaring van die Gees' gebeur (1 Kor 12:7). Moltmann (1977:65) gaan voort om te sê die ware kerk is daar waar die dankliedere van die verlostes gesing word, die koinonia van die liefde beleef word, en die versugting van die Gees gehoor word. In die roepe na vryheid, daar is die kerk. Die ware kerk is die kerk 'onder die kruis'. Waar die vreugde van God gehoor kan word, daar is die kerk. Die ware kerk is blydskap in die Gees. In die voetspore van Newbigin wat sending beskryf as die ontploffing van vreugde, sal ek diakonaat beskryf as die ontploffing van dankbaarheid.

Diakonaat is Christelik, ekklesiologies, en spiritueel in wese, en waar dit so verstaan word is dit duidelik dat die kerk die enigste agent is wat diakonaat kan beoefen. Nie omdat dit die enigste organisasie is wat goeie dade doen en nood verlig nie, maar omdat dit die enigste organisasie is wat deur die liefde van God gedryf word en dit in gehoorsaamheid aan God doen tot sy eer. Dit gaan dus hier oor 'n gemeenskap van gelowiges wat aan God behoort (Paas 2019:190 e.v.). Die kerk kan op geen ander wyse haar roeping, bediening, geloof en gehoorsaamheid uitleef as in, met, en deur die gemeente in hierdie wêreld nie. 'n Missionale kerk, wat altyd 'n missionêre en diakonale bedieningspraktyk het, raak nooit vervreemd van die samelewing nie en bevind haar nooit in sosiale isolasie nie, maar word 'n lewende hoop, 'n gestalte van die koninkryk midde in die samelewing waar sy haar bevind (Moltmann 1977:xvi). Hierdie is tans waarskynlik een van die grootste uitdagings van Afrikaanse gemeentes wat dikwels in sosiale isolasie van die veelrassige samelewing leef, veral wanneer die gemeenskap van die gelowiges bymekaar kom om God te aanbid. Verder leef die Afrikaanse gemeentes ook in isolasie van die sosiale kontekste waar armoede op sy ergste beleef word. Die wonderlike diakonale werk wat Afrikaanse gemeentes tog doen lei in meeste gevalle nie tot koinonia met die gemeenskap van die gelowiges nie, maar is dikwels 'n bediening langs die gemeenskap van gelowiges van 'n paar individue of bloot 'n professionele diens. Dit is dus heeltemal korrek om te praat van die barmhartigheids-'arm' van die kerk, wat die afstand tussen die kerk en haar diakonale bediening aandui.

Hierteenoor daag 'n Christologiese ekklesiologie, bedoelende waar Christus die hoof van die kerk is, die huidige diakonaat uit. Binne 'n Christelike ekklesiologie is elke stelling oor die kerk in wese 'n stelling oor Christus - dit is tog wat die inkarnasie beteken? Dit is juis deur die diakonale bediening van die kerk wat die inkarnasie van Christus in die samelewing plaasvind. Elke diakonale daad en stelling verwys na Christus en is ook 'n stelling oor sy kerk. Maar Christus is ook baie meer as net die kerk en kan nie in die kerk vasgevang word nie. Hy is nie net die hoof van die kerk nie; hy is ook die koning van sy koninkryk waarin die kerk net 'n dienskneg is. Dus, waar Christus as hoof van die kerk bely en gevolg word, plaas gelowiges hulle totale lewe onder sy heerskappy (2 Kor 5:15) in sy koninkryk en is/word elke gelowige 'n diaken/dienskneg (Joh 12:26). Waar dit gaan om die eer van God en waar Christus se belange gedien word mag en kan diakonia nooit tot verdeelheid in die kerk en in die breër samelewing lei nie.

The unity of the triune God is the goal of the uniting of man and creation with the Father and the Son in the Spirit. The history of the kingdom of God on earth is nothing other than the history of the uniting of what is separated and the freeing of what is broken, in this being the history of the glorification of God. If the unity of God were described in the doctrine of the Trinity by koinonia instead of by una natura, this idea would not seem so unusual (Moltmann 1977:62).

Waar diakonaat nie tot koinonia tussen ryk mense en arm mense lei nie, word God nie geëer nie en het geen diakonaat plaasgevind nie. Ek het die volgende beskrywing van Motlmann baie uitdagend en insiggewend gevind in die verband.

Moltmann (1977:126-130) beskryf nie net Christus in die kerk nie, maar ook in die samelewing en dan meer spesifiek sy teenwoordigheid in die geringstes. Hy begrond sy argumente vanuit Matteus 25:31-46 waar Jesus as die seun van God funksioneer as regter oor die wêreld. Moltmann argumenteer dat die komende en/of aangewese regter reeds teenwoordig is in die wêreld, nou in hierdie bedeling wel 'versteek', in die 'geringste broers': die wat honger het, wat dors het, wat vreemdelinge is, die wat kaal is, die siekes, die gevangenes. Hierdie 'geringste broers' verwys nie net na die kerklidmate nie, want soos wat die oordeel in hierdie gedeelte universeel oor die wêreld is, so is die verwysing na die 'geringste broers' universeel. Die 'geringste broer' sien ons die duidelikste in die Een wat aan die woord is op sy lydensweg na Golgota deur honger, dors, naaktheid, gevangenisskap, die Seun van die mens van Nasaret.

Jesus se identifikasie met die van die regter en met die 'geringste broers' is 'n parallel met die identifikasie van Christus met sy kerk, die gemeeskap van die gelowiges. Soos wat Christus teenwoordig is in sy kerk, so is die regter teenwoordig in die 'geringste broers'.

But if the thesis 'ubi Christus, ibi ecclesia' is to be considered a valid one, then this story with its promise of the presence of the Judge of the world is part of the doctrine of the church and the place where it is to be found. (Moltmann 1977:127)

Daar is ook ander Skrifgedeeltes waar 'n persoon ''n Christus soos Christus' vir iemand word. Gewoonlik is dit die persoon wat misgekyk word, die Lasarus voor die ryk man se deur wat soos Christus word, 'n redder en 'n regter.

Die diakonaat of Christelike programme van naasteliefde, barmhartigheidswerk, versorging van die armes en ontwikkelingswerk vanuit die kerk verdoesel dikwels hierdie punt. Want in die kerk dink ons, ons sal die honger, dors, naakte, gevange Christus kan help met bietjie moeite. Maar dit gaan nie in die diakonaat net oor die liefde nie. Dit gaan ook oor geloof, die geloof, dat in die 'geringste van die broers' Christus wag op die liefdesdade van die geregverdigde mens. Die 'geringste van die broers' is nie die objek van die diakonaat nie, hulle is die latente teenwoordigheid van die redder en die regter van die wêreld, die punt wat redding of oordeel bepaal. Die verskuilde teenwoordigheid van die terugkerende Christus in die 'geringste broers' hoort dus tot die ekklesiologie. Wanneer Matteus 25 so vanuit die ekklesiologie gelees word bring dit 'n spanning in die kerk wat sy waarheid vind in die teenwoordigheid van Christus. Want waar is die ware kerk? In die gemeenskap van die gelowiges waar die Woord en die sakramente gedeel word, of in die latente broederskap van die regter versteek in die 'geringste van die broers'? (Moltmann 1977:128). Die apokaliptiese Christus, die arm, honger, vergete regter staan meestal buite die deur van die kerk en die gemeenskap.

But if the church, in appealing to the exalted Christ's promises of authority, understands itself as his earthly presence, must it not also, and with equal emphasis, seek the presence of the world's humiliated Judge? Evidently there are two brotherhoods of Christ, the professed and professing brotherhood which is the community of the exalted one; and the unknown and disowned brotherhood of the least of men with the humiliated Christ. If the church appeals to the crucified and risen Christ, must it not represent this double brotherhood of Christ in itself, and be present with word and Spirit, sacrament, fellowship and all creative powers among the poor, the hungry and the captives? (Moltmann 1977:129)

In die apostolaat en/of gestuurdheid leer ons wat die kerk is. In die 'geringste broers' leer ons waar die kerk behoort. Wanneer die kerk God buite die kerk erken, is die kerk dankbaar vir hierdie tekens dat die God groter is as die kerk en dat sy teenwoordigheid en reddingsdade wyer as die kerk strek, en raak die kerk betrokke by die koninkrykswerk van God (Moltmann 1977:65).

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat ons dan nie sommer net van Christenskap buite die kerk of die werk van die Gees buite die kerk kan praat nie. Want die vraag is nie hoe reageer mense buite die kerk op die kerk en sy bedieninge nie, maar eerder hoe reageer die kerk op die teenwoordigheid van Christus in die geringstes, in die buitekerklikes. Die bedoeling is dus nie om Christene buite die kerk binne in die kerk in te bring nie - dit is die werk van die Gees - maar eerder die kerk sigbaar te maak deur die diakonaat in Christus se beloofde teenwoordigheid: ubi Christus, ibi ecclesia.

 

Diakonaat en verlossing

Waar die diakonaat en die verlossing trinitaries verstaan word het die verlossing altyd sosiologiese en politieke implikasies, aangesien God se verlossing holisties verstaan moet word. 'n Diakonale kerk wat onder die Here Jesus Christus leef en meewerk aan die koms van die koninkryk van God kan nooit a-polities van aard wees nie. Verlossing is nie in die eerste plek om salig te lewe en te sterwe nie. Verlossing is altyd verlossing tot deelname aan die nuwe gemeenskap in Christus (die kerk), en deelname aan die verlossende bediening van Christus se heerskappy. In die opsig is verlossing altyd revolusionêr. Daarom sal verlostes altyd rebelleer en getuig teen uitbuiting en verdrukking van die natuur en mense. Revolusionêre teologie verstaan dus revolusie as die uitleef van 'n innerlike bekering, aan die hand van regeneratio, reformatio en renovatio mundi (Moltmann 1977:16). Daarom is verlossing nie net deelname aan die oorwinning van Christus nie, maar ook deelname aan sy lyding, soos Sunquist (2013) in sy boek Understanding Christian mission: Participating in suffering and glory, argumenteer. Diakonaat kan en, waar nodig, moet dit ook as revolusie in die kerk van Christus verstaan en geleef word in die lig van die Christelike messiaanse tradisie. Dit is net 'n feit dat arm, honger, verdrukte en gemarginaliseerde mense die Bybel anders lees en interpreteer as die ryk persoon in 'n besluitnemingsposisie. Daarom is dit duidelik dat die kerk deur middel van sy diakonaat in die huidige Suid-Afrikaanse konteks selfs meer as in die verlede 'n duidelike politiese verantwoordelikheid het om koinonia met die gemarginaliseerdes in die Suid-Afrikaanse samelewing te soek. So sal die kerklike diakonaat deur mense, met mense en vir mense bevryding soek van onregverdige en onderdrukkende samelewingsverbande. Diakonaat en verlossing het dus nie net te doen met die priesterlike roeping van die kerk nie, maar ook met haar profetiese en koninklike roeping.

 

Slot

Die diakonaat kom voort uit die wese van die trinitariese God, Vader, Seun en Gees, terwyl die diakonale roeping van die kerk die voorreg is om deel te neem aan die verlossingdade waarmee God besig is en kant te kies teen elke vorm en uitvloeisel van ongeregtigheid (Moltmann 1977:17; Belhar belydenis 1986). Die diakonaat as Christelike bediening het juis ten doel om alle mense en die hele skepping te laat deel in die verlossing en die seën van die kerk (Hand 3:26), en so as liggaam van Christus tot seën te wees vir die skepping (Gen 12:3) tot eer van God.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

J.J.K. is die enigste outeur betrokke by die skryf van dié artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel het geen befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of niewinsgewende
sektore ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Adna, J., 2019, 'Concepts of church in the New Testament', in S. Dietrich, K. Jorgensen, K.K. Korslien & K. Nordstokke (eds.), The diaconal church, pp. 55-64, Regnum Books International, Oxford.         [ Links ]

Belhar belydenis, 1986, viewed 18 November 2022, from https://kerkargief.co.za/doks/bely/CF_Belhar.pdf.         [ Links ]

Bosch, D.J., 2012, Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books, Maryknoll, NY.         [ Links ]

Cilliers, J., 2021, 'Missio Dei between soil and soul? Liturgical perspectives', in M. Nel (ed.), Mission moves: Cultivating communities of the Gospel, HTS Religion & Society Series, vol. 11, pp. 19-32, AOSIS, Cape Town.         [ Links ]

Collins, J.N., 1990, Diakonia: Re-interpreting the ancient sources, Oxford University Press, New York, NY.         [ Links ]

Dietrich, S., 2019a, 'Ecclesiology on the move: Rethinking the church in a diaconal perspective', in S. Dietrich, K. Jorgensen, K.K. Korslien & K. Nordstokke (eds.), The diaconal church, pp. 15-26, Regnum Books International, Oxford.         [ Links ]

Dietrich, S., 2019b, 'Risen to new life in Christ: Baptismal perspectives on diaconal ecclesiology', in S. Dietrich, K. Jorgensen, K.K. Korslien & K. Nordstokke (eds.), The diaconal church, pp. 83-96, Regnum Books International, Oxford.         [ Links ]

Du Toit, D., 2014, Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid, Bybelkor, Wellington.         [ Links ]

Lutheran World Federation, 2009, Diakonia in context: Transformation, reconciliation, empowerment, viewed 14 November 2022, from https://www.lutheranworld.org/sites/default/files/DMD-Diakonia-EN-low.pdf.         [ Links ]

Moltmann, J., 1977, The church in the power of the Spirit, SCM Press, London.         [ Links ]

Nederduits Gereformeerde Kerk Raamwerk dokument, 2013, viewed 13 November 2022, from https://www.academia.edu/4751292/RAAMWERKDOKUMENT_OOR_DIE_MISSIONALE_AARD_EN_ROEPING_VAN_DIE_NG_KERK.         [ Links ]

Paas, S., 2019, Pilgrims and priests. Christian mission in a post-Christian society, SCM Press, London.         [ Links ]

Sunquist, S.W., 2013, Understanding Christian mission: Participating in suffering and glory, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Johannes Knoetze
johannes.knoetze@up.ac.za

Received: 21 Nov. 2022
Accepted: 02 Feb. 2023
Published: 03 Apr. 2023

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License