SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.43 número1Clergies and self-care during the COVID-19 pandemic: A challenge to pastoral careFrom in-person to online worship índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Verbum et Ecclesia

versión On-line ISSN 2074-7705
versión impresa ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.43 no.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.4102/ve.v43i1.2530 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die ontwikkeling van ars in die teologies filosofiese werke van Ramon Llull (ca.1232-1316)

 

The development of ars in the theological-philosophical works of Ramon Llull (ca.1232-1316)

 

 

Johann Beukes

Department of Philosophy and Classics, Faculty of Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

By synthesising the most recent specialist research, notably that of Anthony Bonner and Mark D. Johnston, this article provides an accessible overview of the development of the 'great universal art' or ars in Ramon Llull's (ca.1232-1316) theological-philosophical output, as presented in his works Libere de contemplació en Déu, Ars compendiosa inveniendi veritatem, Ars inventiva veritatis, Tabula generalis, Ars demonstrativa and Ars generalis ultima. It is shown that Llull's ars was an eccentric yet coherent attempt to provide an alternative to both the Aristotelian scholastic-conceptual framework and its radicalised versions in Averroism during the second half of the 13th century. By insisting on religious tolerance as its premise, Llull embedded this alternative squarely within the monotheistic missionary context of the same period. Without neglecting the discursive magnitude of his ars, this rather 'nonmedieval' tolerance stands as Llull's greatest gift to the central Middle Ages and its subsequent idea-historical development in both theology and philosophy.
Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: As a millennium-long discourse, Medieval philosophy functions in a Venn diagrammatic relationship with Medieval history, church history, patristics, philosophy of religion, and in this case, missiology. Whenever mainstream or 'canonised' Medieval philosophy is being impacted by specialist research, it may well have noteworthy implications for these related disciplines. Such is the case in this critical reappraisal of theological-philosophical aspects in the central Medieval ars of Ramon Llull.

Keywords: Ars compendiosa inveniendi veritatem; Ars demonstrativa; Ars generalis ultima; Ars inventiva veritatis; Libere de contemplació en Déu; Anthony Bonner; Mark D. Johnston; Ramon Llull (ca.1232-1316); Tabula generalis.


 

 

Ramon Llull: 'n kunssinnige teoloog-filosoof in die hoogskolastiek van die dertiende eeu

Te midde van die oordrewe tegniese vakjargon van die hoogskolastiek, 1 tree die kunssinnige teologies filosofiese2 stem van die Katalaanse denker Ramon Llull (ca.1232-1316), draer van die Augustynse sobriquet Doctor Illuminatus, uit die sentrale Middeleeue na vore. Hoewel Llull3 hom verbind het aan die gestandaardiseerde Sentraal-Middeleeuse indeling van filosofie in kosmologie, epistemologie, metafisika, psigologie en etiek, het hy hierdie temas met 'n unieke en kreatiewe oorspronklikheid aangedurf, sónder om volledig in mistiek op te gaan. Llull het veral bekendheid (en berugtheid) verwerf vir die argumentatiewe metode wat hy van nuuts af ontwerp en die 'groot universele kuns' of bloot ars genoem het. Ars het metodologies en inhoudelik die grondslag gevorm van 'n ontsagwekkende oeuvre wat uiteindelik rondom 260 tekste bestryk het.4 Llull se program is wesenlik as 'n stelsel van filosofiese, teologiese en wiskundige verbindingsmoontlikhede aangebied wat geaspireer het om 'n 'demonstratiewe wetenskap' te wees, deur kommunikatiewe gebreke in die esoteriese skolastiek (as die mees tegniese vorm van wetenskapbeoefening in die sentrale Middeleeue) te korrigeer, veral met verwysing na die Aristotelies gedrewe skeiding van teologie en filosofie in die hoogskolastiek van die 13de eeu. Teenoor die sekulariserende tendens wat geskep is deur die beskikbaarbestelling van die Aristoteliese korpus in natuurlike filosofie (gebaseer op die Latynse vertalings van die vroeëre Arabiese vertalings van die antieke Griekse tekste) vanaf die vroeë 13de eeu, bied Llull sy ars aan. Die ars is 'n korrektief op dié Aristoteliese wetenskaplike stelsel, veral soos geradikaliseer deur die Paryse Averroïste Sigerius van Brabant (ca.1240-ca.1282) en Boethius van Dacia (fl.1270-1280):5 ars moes bereik wat 'n geradikaliseerde Aristoteliese program volgens Llull per definisie nie kón vermag nie, naamlik die daarstel van 'n vakkundige konkordansie tussen filosofie en teologie: dus as 'n outentiek wetenskaplike dissipline wat die dogmatiese aard van die Christelike geloofsartikels juis wetenskaplik, maar nie-Aristotelies sou kon begrond (vgl. Berlin 2019:18). Teen hierdie agtergrond word in die onderhawige ontleding 'n oorsig van die unieke styl en inhoud van Llull se belangrikste werke aangebied, gebaseer op 'n sintese van die belangrikste uitsette in die mees onlangs gespesialiseerde Llull-navorsing. Besondere verwysing word gemaak na die intensiewe ontledings die afgelope drie dekades deur Anthony Bonner en Mark D. Johnston.

Ramon Llull is as Katalaan gebore op die eiland Majorka tydens die regering van Jakobus I (1208-1276) van Aragon. Sy welvarende vader in die koophandel het die klein gesin - Llull was waarskynlik die enigste kind - op die eiland gevestig nadat hy grond as vergoeding ontvang het vir sy deelname aan die oorlog in 1229. In hierdie oorlog is die Islamitiese Almojadiërs verdryf uit die omstreke van Majorka, wat in daardie stadium 'n belangrike handelsbaken tussen Europa en Noord-Afrika was. Die gekolonialiseerde gemeenskap in Majorka is drieledig verdeel tussen Moslems (die meerderheid, maar die meeste slawe), Jode (by verre die minderheid, maar uitermate invloedryk) en die nuwe (heersende) groep Christene. Die koningshuis van Aragon het in hierdie tyd ambisieuse imperialistiese oogmerke gekoester, wat daartoe meegewerk het dat die bekering van godsdienstige minderhede hoog op dié monargie se agenda was. Die bekering en doop van veral Moslemleiers is belangrik geag omdat dit vir die huis van Aragon politieke voordele ingehou het: sendelinge is effektief as intellektuele agente van die koningshuis ingespan om dié se imperialistiese belange binne Islamitiese kontekste te bevorder. Hiervan was Llull waarskynlik die beste gedokumenteerde voorbeeld, tot dié mate dat hy reeds in sy eie leeftyd die 'apostel van Afrika' genoem is - hoewel hy, teen die huis van Aragon se verwagtinge in, juis vir godsdienstige verdraagsaamheid binne monoteïstiese sendingkontekste betoog het (sien afd. 5 infra).

Llull se biografie, Vita coetanea,6 is saamgestel deur 'n groep anonieme monnike wat met hom as bejaarde sendeling by die Kartuiserhuis van Vauvert buite Parys onderhoude gevoer het in aanloop tot die Konsilie van Wene (1311-1312; vgl. Johnston 2019:3-4). Vita coetanea is aanvanklik gesirkuleer as die eerste versameling van Llull se geskrifte, met die titel Electorium, opgestel in Latyn deur die Parysenaar Thomas Le Myésier. 'n Verkorte en meer toeganklike weergawe van die Electorium, getiteld Breviculum, het hierna gevolg. Uit die biografiese inligting in die later só benoemde Vita coetanea blyk dit dat Llull in 1262 op die ouderdom van ongeveer 30, as 'n getroude man uit die Katalaanse aristokrasie wat in daardie stadium formeel tot die hofgeselskap van Jakobus II (1267-1327) behoort het, bekeer is op grond van 'n reeks visioene wat hy van die gekruisigde Christus beleef het en formeel tot die Franciskaanse orde toegetree het. Hy het sy volledige boedel aan sy eggenote en twee kinders oorgedra, twee pelgrimsreise na Rocamadour en Santiago de Compostela afgelê en hom verbind tot 'n dekade lange studie van filosofie en teologie. Llull se bekering het drie biografiese en institusionele oorwegings tot gevolg gehad: eerstens, om 'n missionêre lewe te lei wat sou fokus op sendinggesprekke met Moslems en Jode; tweedens, die ter skrifstelling van apologetiese werke wat die skerpste kritiek vanuit die skolastiek en die kerk sélf sou kon deurstaan; en laastens, om sendingkloosters te stig wat uitsluitlik gemoeid sou wees met die teologiese en taalkundige opleiding van sendelinge binne monoteïstiese kontekste (cf. Batalla 2019:466-47). In die nege jaar daarna het Llull Arabies en Latyn aangeleer met die hulp van 'n Arabiese onderwyser (inderdaad 'n slaaf)7 wat uitgemunt het in die onderrig van filosofie en teologie - in sowel die Latyns-Westerse as die Arabiese8 tradisies - en veral die Middeleeuse filosofiese korpus indringend bestudeer het.

 

'n Oplewing in die navorsing oor 'n ondergedokumenteerde denker in Middeleeuse filosofie

Juis op grond van sy idiosinkratiese styl en nie-skolastiese9 aanbod, asook die feit dat hy met weinig uitsondering eerder in sy volkstaal Katalaans as in skolastiese Latyn geskryf het, sou Llull tot onlangs nog as 'n ondergedokumenteerde denker buite die gespesialiseerde (Katalaans- en Spaansmagtige) navorsing in hierdie segment van Sentraal-Middeleeuse filosofie beskryf moes word. 'n Vergelykende studie van die vernaamste inleidingstekste, woordeboeke en bloemlesings in die afgelope drie dekades wys die volgende neiging tot die marginalisering van Llull na die rand van die Middeleeuse kanon uit: Die filosofiewoordeboek van Brown en Flores (2007:176-177) bevat 'n kriptiese vermelding van slegs twee paragrawe, in vergelyking met die veel langer inskrywings in dié woordeboek oor ander onbekende Middeleeuse denkers; die tweede volume van die omvattende en andersins hoogs insluitende redaksiewerk van Pasnau en Van Dyke (reds. 2010b:952-953), bevat in die outeurslys ('Appendix C') 'n inskrywing van slegs een paragraaf, met geen verwysings na Llull in die eerste volume van dieselfde werk nie (reds. Pasnau & Van Dyke 2010a); 'n ouer inleidingswerk, onder redaksie van Kretzmann, Kenny en Pinborg (reds. 1982:879), bevat 'n outeursinskrywing van slegs een paragraaf; Luscombe se inleidingswerk (1997:121-122,181,184) bevat drie kort verwysings van kwalik meer as 'n sin elk; in Marenbon se eerste oorsigwerk (1991) is daar geen verwysings na Llull nie, maar in 'n latere werk onder sy redakteurskap (red. Marenbon 1998:442) word wel 'n enkele verwysing aangebied - sy tweede inleidingswerk (Marenbon 2007:333-335) bevat ook 'n meer uitgebreide, maar grotendeels biografiese inskrywing; en Martin (1996:119) se oorsigwerk bevat een inskrywing waarin Lull se ars inderdaad as 'bisar' getipeer word. Die volgende betreklik onlangse en belangrike inleidingswerke, bloemlesings en redaksionele werke bevat géén verwysings na Lull nie: Bosley en Tweedale (reds. 2004), Grant (2004), Hyman, Walsh & Williams (reds. 2010), Kenny (2005) en McGrade (red. 2003). Vanuit die ouer skolastieknavorsing figureer Llull ook nie in sowel Etienne Gilson (1940) as Grabmann (1957) se gedugte inleidingswerke in onderskeidelik Frans en Duits nie. Dit is dus duidelik dat Llull tot nog heel onlangs met opvallende onderbeklemtoning in die inleidingnavorsing hanteer is en gevolglik buite die gespesialiseerde nisnavorsing as 'n ondergedokumenteerde Middeleeuse denker beskryf sou moes word.

Tog was daar die afgelope dekade, danksy pogings van spesialiste soos Bonner, Johnston, Alexander Fidora en Josep Rubio om Llull aan 'n minder gespesialiseerde adres in filosofie bekend te stel, 'n toename in verwysings na en inskrywings oor Llull in inleidende en redaksionele werke oor Middeleeuse filosofie. Dié toenemende belangstelling het reeds in 1993 'n aanvang geneem met Copleston se insluiting van die Katalaan in die tweede volume van sy bekende inleidingwerk, A History of Philosophy (1993:456-459), met 'n kort, maar boeiende bespreking van Llull se teologiese filosofie en sy apostoliese gerigtheid. Daarna sou Llull algaande meer genuanseerd in die inleidingnavorsing verskyn: eerstens het Gillian R. Evans (2002:154-155) Llull in haar unieke inleidingwerk opgeneem, saam met 'n aantal minder bekende Middeleeuse denkers, waarvan sommige algeheel buite die kanon van Middeleeuse filosofie staan.10 Enkele jare daarna het die gevierde redaksionele werk, A Companion to Philosophy in the Middle Ages van J. Gracia en T. Noone (reds. 2006) 'n steeds kort, maar uitstekende inskrywing opgeneem, aangebied deur die Duitse Llull-spesialis C.H. Lohr (2006:553-558). 'n Jaar later verskyn die eerste grondige Llull-monografie in Engels,11 aangebied deur Bonner (2007), gelees saam met sy geredigeerde en inleidende vertalings van Llull se primêre tekste van twee dekades vroeër (red. & vert. Bonner 1985, 1994). Nóg 'n jaar later verskyn die eerste volledige inleidingwerk en teksontleding met toeligting in Engels, Raimundus Lullus: An Introduction to His Life, Works and Thought, in die gerespekteerde reeks Corpus Christianorum Continuatio Medievalis by Brepols in Turnhout, onder redakteurskap van Fidora en Rubio (reds. 2008). Hierdie prestige-publikasie is opgevolg deur 'n toeganklike inskrywing deur Simon (2011:1104-1407) in die mees omvangryke ensiklopedie in die veld van Middeleeuse studies, onder redakteurskap van H. Lagerlund (red. 2011). Enkele jare later bied 'n plaaslike inleidingwerk in twee volumes (Beukes 2020a:II:835-844) 'n bespreking van Llull aan as 'n 'tipies gemarginaliseerde Middeleeuse filosoof wat 'n nie-gespesialiseerde leserskorps verdien'. Die redaksie van die gerekende Stanford Encyclopedia of Philosophy het in Februarie 2017 vir die eerste maal in die bestaan van die Middeleeuse afdeling van die ensiklopedie voorsiening gemaak vir 'n volledige inskrywing oor Llull, wat vyf jaar later (in Februarie 2022) grondig hersien en bygewerk is (in Priani [2017] 2022). Hierdie tydige bywerking in die Stanford Encyclopedia of Philosophy moet toegeskryf word aan 'n besondere geskenk vanuit die spesialisnavorsing in 2019, met die publikasie van Amy M. Austin en bovermelde Johnston se redaksionele werk A Companion to Ramon Llull and Llullism in die 82ste volume12 van die reeks Brill's Companions to the Christian Tradition, uitgegee deur Brill in Leiden. Brill het onder die hoofredakteurskap van Christopher M. Bellitto die afgelope twee dekades talle werke (in April 2022 het dit 'n totaal van 103 volumes bestryk)13 oor ondergedokumenteerde denkers, temas en bewegings vanuit die Middeleeue aangebied. Sestien internasionale Llull-spesialiste het aan hierdie uitgawe meegewerk, waarin veral die vier hoofstukke van die eerste afdeling ('Llull as philosopher and theologian'; reds. Austin & Johnston 2019:1-116) deur Johnston (2019:1-17), Berlin (2019:18-45), Batalla (2019:46-80) en Rubio (2019:81-116), daarin geslaag het om Llull uit die enklaves van die ontoeganklike spesialisnavorsing te trek en aan 'n meer uitgebreide leserkorps in Middeleeuse filosofie bekend te stel.

 

Libere de contemplació en Déu (ca.1350) en ander vroeë werke

Llull se nege studiejare onder toesig van sy Arabiese onderwyser sou aanvanklik neerslag vind in 'n teologiese werk, wat ook die eerste behoue teks uit die oeuvre van rondom 260 korter en langer geskrifte is: Libere de contemplació en Déu. Dié werk word eers heelwat later rondom 1274 opgevolg deur Ars compendiosa inveniendi veritatem, as eerste poging tot die formulering van ars as 'n aanbod van 'universele, demonstratiewe en wetenskaplike kuns', oftewel 'n nuwe argumentatiewe metode as alternatief vir die geradikaliseerde Averroïstiese (uitdruklik teenteologiese) wetenskapbegrip. Libere de contemplació en Déu bestaan onder meer uit 11 000 gebede in 365 hoofstukke, wat voorsiening maak vir 30 gebede per dag vir elke dag van die jaar. In die werk word ook 'n scala creaturarum aangebied ('n voorstelling van die progressiewe beweging in die verhouding van oermaterie, tot die uitspansel, tot elemente, tot metale, tot plante, tot mense en uiteindelik tot die 'hemelwesens'). Die scala creaturarum word in 'n emanasioneel afdalende dinamika ingebed en beklemtoon Llull se diep afhanklikheid van Neoplatonisme (met sy unieke sintese van die vroeë Arabiese denkers se emanasionele leerstellinge).

Na Libere de contemplació en Déu, maar voor die finale boekstawing van Ars compendiosa inveniendi veritatem, sou daar egter nog 'n aantal tekste verskyn wat die omvang van Llull se aanvanklike opleiding aandui: in Doctrina pueril haal hy breedvoerig aan uit tien Aristoteliese tekste, wat daarop dui dat sy opleiding in filosofie die beskikbare Aristoteles-korpus van die 13de eeu in Latyn (wat in daardie stadium dus Aristoteles se natuurlike filosofie ingesluit het) grotendeels ondervang het. 'n Meer selfstandige en oorwegend filosofiese werk waarin hy die polemiese Arabiese denker Algazali se logika opsom en kommentarieer, Compendium logicae Algazelis (1058-1111; vgl. Beukes 2018b:591-595), gesteun deur aanhalings vanuit sy Spaanse tydgenoot Petrus Hispanus se invloedryke teks Tractatus (fl.1267), later Summulae logicales genoem,14 dui daarop dat Llull goed onderleg was in die werke van sy tydgenote -maar ook van meet af die Arabiese filosowe se diep oorspronklike kommentare oor Aristoteles met erns bejeën het. Ook in Llull se eerste poging tot 'n handleiding waarin filosofie en geneeskunde oorvleuel, (nog tipies 13de-eeus, voor die finale skeiding van hierdie dissiplines in die opkomende universiteitwese) blyk die Arabiese invloed duidelik vanuit sy breedvoerige verwysings na Ibn Sina (Avicenna, 980-1037), die mees gekommentarieerde Arabiese filosoof vanuit die Middeleeue. Kenmerkend aan hierdie vroeë werke is Llull se poging om 'n selfstandige metode te ontwikkel. Dit was 'n metode waarin sy teoretiese refleksies oor filosofie, teologie en empiriese dissiplines soos geneeskunde op 'n unieke wyse in 'n enkele organiese eenheid ontwikkel kon word (vgl. Bonner 2007:2). Llull se ars as juis só 'n saamgestelde diskoerseenheid verskyn daarmee op die horison van Middeleeuse filosofie.

 

Die kwadraatfase van ars in Ars compendiosa inveniendi veritatem (ca.1274)

Die begrip ars was nie uniek aan Llull se werk nie. In die skolastiek is dié begrip eenvoudig as 'n vertaling van die Griekse begrip techne aangebied. Llull se ars was gevolglik in die eerste plek 'n 'tegniek' of 'n tegniese soort metodologie: anders as met die tipies skolastiese prioritisering van teoretiese leerstellinge, dui ars, soos Middeleeuse geneeskunde, op 'n praktiese en selfs kunstige vaardigheid. Ars is daarby nie samehangend in 'n enkele werk aangebied nie, maar as 'n aanpasbare stelsel wat oor 'n breë tematiese spektrum gestrek het en in hierdie sin dus eerder na 'n ideëstelsel verwys as na 'n enkele teorie. Ars compendiosa inveniendi veritatem was die eerste werk waarin só 'n ideëstelsel ontwikkel sou word. In hierdie idiosinkratiese werk, geskryf rondom 1274 in 'n Cistercensiërklooster buite Palma, bied Llull sy alternatief aan vir die skolastiese (veral Dominikaanse) ontwikkeling van die Aristoteliese wetenskapbegrip, wat hy op die skolastiese spoor van techne toe ars genoem het. Ars het volgens sy eie aanwysing ook 'n eenvoudige teologiese oogmerk gehad, naamlik die verantwoording van sending onder nie-Christene as 'n wetenskaplik legitieme onderneming, wat filosofies sowel as teologies gegrond moes wees. Hier tref ons sending as wetenskap, of sendingwetenskap, in die vroegste Middeleeuse weergawe daarvan aan.

Ars compendiosa inveniendi veritatem sélf sou egter allermins as eenvoudig gekenmerk kon word: juis op grond van Llull se metodologiese oriëntasie, ten opsigte van die daarstel van 'n alternatief vir die Dominikaanse fiksasie op en Averroïstiese radikalisering van die Aristoteliese wetenskapbegrip. Hierdie wetenskapbegrip wat dus gemoeid was met objektiewe of 'vasstaande' waarhede, word in 'n 'demonstratiewe' kunstegniek aangebied as 'n produktiewe vermoë tot die verstaan van relatiewe, maar juis verifieerbare moontlikhede. In hierdie eerste aanbod of 'kwadraatfase' van die ontwikkeling van ars, isoleer Llull, met 'n syfermatige voorkeur vir veelvoude van vier, 16 fundamentele gemene delers tussen Judaïsme, die Christendom en Islam. Hierdie gemene delers verwys almal na die attribute of wesenlike eienskappe van God en stel Llull in staat om verskille en ooreenkomste te differensieer binne hierdie drie monoteïstiese godsdienste se interpretasies van die Goddelike attribute (bv. 'goedheid', 'waarheid', 'volmaaktheid' en 'almag'). Die 16 fundamentele beginsels word vervolgens in vier groepe van vier elk gegroepeer ('n 'kwadraatkuns' of 'quaternary art' waarin Llull se lesing van die antieke teorie van die elemente 'n bepalende rol speel), en waarin 'n enorme aantal kruisverwysings tussen die 16 beginsels aangebied word, juis om te illustreer dat ars op al vier die hoogskolastiese universiteitfakulteite van toepassing gemaak sou kon word (filosofie [of lettere], teologie, geneeskunde en regsgeleerdheid). Ars compendiosa inveniendi veritatem word opgevolg deur vier ondersteunende werke, byeengebring as die Quattuor libri principiorum, wat elk meer gespesialiseerd met elkeen van hierdie vier fakulteite in gesprek getree het om die ooreenkomste en verskille tussen die fakulteite uit te wys.

Die 16 fundamentele beginsels is: A = Ars; B = bonitas / goedheid; C = magnitudo / grootheid; D = aeternitas / ewigheid; E = potestas / (al)mag; F = sapientia / wysheid; G = voluntas / wil; H = virtus / deug; I = veritas / waarheid; K = gloria / eer; L = perfectio / volmaaktheid; M = iustitia / geregtigheid; N = largitas / barmhartigheid; O = simplicitas / enkelvoudigheid (of ondeelbaarheid); P = nobilitas / suiwerheid (of onvermengbaarheid); Q = misericordia / genade; en R = dominium / heerskappy: let dus (in Figuur 1) op die wyse waarop Llull hierdie 16 beginsels in 'n 'kwadraatbeweging' met mekaar verbind het en die teologies filosofiese verbindingsmoontlikhede wat daaruit voortgekom het.

 

Sending 'vanuit godsdienstige verdraagsaamheid alléén'

Hoewel ars duidelik as in teenstelling met die Dominikaans-Aristotelies-gedrewe skolastiek verstaan wou word, het Llull nietemin die Dominikaanse nadruk op skoolopvoeding15 vir gespesialiseerde teologiese doeleindes aanvaar, in sy geval vir sending (onder nie-Christene) en missionaat (onder Christene). In 1276 stig hy gevolglik 'n eerste sendingklooster by Miramar aan die noordkus van Majorka, waarna hy (met wisselvallige sukses) talle soortgelyke kloosters in Noord-Afrika en Spanje opgerig het. In hierdie kloosters is 'n basies Llulliaanse vertrekpunt vir sending onderrig, naamlik die verdraagsame, apologetiese interspel tussen die drie monoteïstiese godsdienste. Bekering tot die Christendom is, na Llull se verstaan daarvan, ook 'n intellektuele aangeleentheid: die bekeerling 'roep met die hart' en 'verstaan met die verstand'. Dit is syns insiens eers wanneer 'n apologetiese onderneming intellektueel teenspraakvry aangebied en aldus aanvaar word, dat gelowiges vanuit die ander twee godsdienste 'nie anders kan nie' as om die teologiese waarheidsbegrip te aanvaar wat in die konteks van sending aangebied word (vgl. Hames 2003:44): byvoorbeeld, in Libre del gentili i dels tres savis (geskryf vanaf 1274 tot 1276 vanuit dieselfde klooster by Parma). Llull bied 'n dialoog aan tussen dié drie godsdienste, waarin 'n Jood, Christen en Moslem die geleentheid kry om hulle dogmatiese oortuigings nugter en sonder vrees vir vooroordeel of onderbreking aan te bied onder toesig van 'n onpartydige (of 'sekulêre') skolastikus wat met geeneen van die godsdienste 'n verbintenis gehad het nie. (Llull het daarmee waarskynlik 'n neutrale Aristoteles- of Plotinusfiguur as bemiddelaar in gedagte gehad; vgl. Giletti 2004:23-47.)

Volgens hierdie vertrekpunt van sending 'vanuit godsdienstige verdraagsaamheid alléén', bied Llull enkele opvolgwerke na bogenoemde Libre gentili van 1276 aan, almal geskryf in Katalaans: die vermelde pedagogiese werk Doctrina pueril (eers gefinaliseer in 1276), Orde de cavalleria, 'n kommentaar op ridderskap en ridderordes (1279-1283) en Blanquerna (1283). Blanquerna is 'n merkwaardige novelle wat bestaan uit twee dele, Libre d'amic e amat ('n mistieke dialoog) en Libre d'intenció, waarin Llull 'n onderskeid tussen twee intensionele handelinge tref vanuit die argumentatiewe platform van ars. Dit word aangebied as 'n vorm van produktiewe praxis, naamlik dat God met liefde bejeën moet word ter wille van God self (eerste intensionele handeling), terwyl alle ander dinge slegs as middele tot die doel van die eerste intensie figureer (tweede intensionele handeling). Lull bied gevolglik ook 'n uitgebreide sondeleer aan wat presies die teenoorgestelde van hierdie twee intensionele handelinge is: die mens se natuurlik aard is liefdeloosheid jeens God en alle dinge in die wêreld bemiddel hierdie verset teen God.

 

'n Vernederende ervaring in Parys, 1289

Llull skryf sy Libre de meravelles in die laat 1280s binne die konteks van 'n spanningvolle, maar opwindende intellektuele klimaat in Parys, net meer as 'n dekade na die veroordelings van Maart 1277.16 Hierdie uitdagende stemming het Llull daartoe beweeg om sy voltooide werke in kosmologie, psigologie en metafisika vir Paryse studente in 1289 te gaan doseer. In daardie stadium het hy twee tekste, geskryf tydens 'n studiereis na Montpellier in 1283, naamlik Ars demonstrativa en Liber chaos, reeds in lesingformaat (oor die kosmologie) verwerk. In hierdie twee tekste poog Llull om ars met dieselfde objektiewe waarheidbegrip en bewysstigtende vermoë as Aristoteliese wetenskapbeoefening toe te rus. Hy voeg by die Aristoteliese metodologiese vrae quia en propter quid 'n derde oorweging by, wat toepaslik sou moes wees om bogenoemde 16 fundamentele beginsels van 'n bewysgrondslag vir wetenskaplike geldigheid te voorsien ('n oorweging wat Llull weer heelwat later in 1305 aangepas het in sy Liber de demonstratione per aequiparantiam). In hierdie twee buitengewoon tegniese werke poog Llull om sodanige derde oorweging wéér binne die vier universiteitfakulteite te integreer. Dit was egter so 'n komplekse oefening dat sowel die studente as hulle magistri by die Universiteit van Parys dit ten tye van Llull se eerste lesingreeks in 1289, summier verwerp het. Llull se ars is as só radikaal en vervreemdend - inderdaad as 'n Liber chaos - van die basiese skolastiese stelreëls vir debatvoering in filosofie en teologie beskou, dat dit in daardie formaat op geen wyse in die rigiede 13de-eeuse universiteitkonteks gehandhaaf kon word nie.

 

Ars inventiva veritatis (1290) en Tabula generalis (1294)

Hierdie vernederende ervaring in Parys in 1289 het Llull genoodsaak om sy ars sistematies by te werk, deur die mees komplekse aspekte daarvan in toegankliker begrippe om te skakel en 'n jaar later te laat hersirkuleer in Ars inventiva veritatis (1290). In dié werk groepeer Llull die fundamentele beginsels van ars nou in afdelings bestaande uit drie beginsels elk (teenoor die aanvanklike ars in Ars compendiosa inveniendi veritatem, waarin met vier beginsels per afdeling gewerk is). Hierdie bywerking sou Llull baat: sy ars was dadelik as veel meer toeganklik beskou en Ars inventiva veritatis sou uiteindelik as een van Llull se belangrikste bydraes tot die Middeleeuse ideëgeskiedenis gekenmerk kan word (vgl. Erdmann 1910:467 se commendatio, in die eerste wesenlike bydrae tot die gespesialiseerde 20ste-eeuse Llull-navorsing).

Llull verminder die 16 (4×4) fundamentele beginsels van die ouer ars nou na 9 (3×3) objektiewe beginsels: bonitas / goedheid; magnitudo / grootheid; duratio / ewigheid; potentia / almag; sapientia / wysheid; voluntas / vryheid; virtus / deug; veritas / waarheid; en gloria / eer. Hierdie 9 objektiewe beginsels word egter nou ondersteun deur (juis) relatiewe beginsels: differentia / verskil; concordantia / ooreenstemming; contrarietas / teenstelling; principium / eerste oorweging; medium / agentskap; finis / eindigheid (tydelikheid); maioritas / meervoudigheid; aequalitas / soortgelykheid; en minoritas / enkelvoudigheid.

Ook die scala creaturarum van die destydse Libere de contemplació en Déu word subtiel in die nuwe ars in die vorm van 9 'vakke' (litterae) bygewerk, waarin Llull se Neoplatoniese verknogtheid nogeens duidelik blyk: elementativa / elemente; vegetativa / vegetatiewe (siel); sensitiva / sensitiewe (siel); imaginativa / verbeelding; rationalis / rede (verstand, intellek); moralis / etiek; caelestialis / uitspansel (of Neoplatoniese sfeer); angelica / hemelwesens; en divina / God. Die invoeging van imaginativa of die verbeelding in hierdie bygewerkte scala plaas Llull se opvattinge opvallend buite die geykte 13de-eeuse Latyns-Westerse skolastiese diskoers en vestig die scala eerder binne die Middeleeuse Joodse en Arabiese kruising van analitiese en mistieke filosofie. Dit is binne hierdie konteks duidelik dat Llull sy ars emanasioneel opstygend aanbied: ars beweeg deur dubbele transcensus, sowel deur die transendering van sintuiglike kennis en die opwaartse kurwe vanaf empiriese waarneming na die vergelykende graad van beginsels (wat Llull bonum melius noem), as die transendering van rasionele kennis deur die opwaartse beweging vanaf die vergelykende na die optimaal vergelykende graad van beginsels (meliusoptimum). By hierdie hoogste graad van kennis tree die teoloog-filosoof in ontmoeting met God en onderskei nie verder tussen die attribute van God in terme van byvoorbeeld 'goedheid' en almag' nie: God word dan ervaar as sowel goed en almagtig in die hoogste en mees verhewe sin. Hierdie opstygende Neoplatoniese dinamika voorsien Llull van die grondliggende idees vervat in sy mistieke teologie in die meer beskeie werk Ars amativa, rondom 1290 geskryf.

Llull voltooi in 1294 'n opvolgende werk, Tabula generalis, wat hy in Tunisië begin skryf het en in Napels afgehandel het. Hierin verfyn hy die veelvoudige en komplekse verbindinge in sy ontwikkelende ars verder deur 9 fundamentele vakvrae (regulae) met die 9 objektiewe beginsels in Ars inventiva veritatis te verbind: utrum - óf? (in die sin van óf dit gaan gebeur, weet ek nie); quid - wat?; de quo - waarvan?; quare - waarom?; quantum - hoeveel?; quale - soos?; quando -wanneer?; ubi - waar?; en quo modo - hoe? Llull verbind die 9 letters vanaf B tot K (vgl. Figuur 1) met die beginsels, vakke en vakvrae (regulae), wat hom in staat stel om die veelvoud van kombinasies van ars in die Ars inventiva veritatis uit te brei na soveel soos 1680 kombinasies in Tabula generalis. Hy bied 'n teologiese toepassing van Tabula generalis later in 1294 aan in Lectura super artem inventivam et Tabulam generalem, asook 'n kort kommentaar en 'n stel lesings oor hierdie opgedateerde weergawe van ars in Tabula generalis, getitel Lectura compendiosa Tabulae generalis.

Llull finaliseer in dié duidelik produktiewe jaar van 1294 ook Liber de quinque, 'n intergodsdienstige dialoog. Hierin tree 'n Latyns-Westerse teoloog, deur Llull se uitdruklike vertrekpunt van insluitende godsdienstige verdraagsaamheid, in debat met 'n Hellenistiese denker oor die werking van die Heilige Gees, met 'n Nestoriaan oor die eenheid van die persoon Christus, met 'n monofisiet oor die twee nature van Christus en met 'n Moslem oor die leer van die Drie-Eenheid en die vleeswording van Christus. Hy keer oplaas in 1297 terug na Parys, waar hy 'n aantal kosmologiese en astronomiese werke die lig laat sien: Tractatus novus de astronomia (1297), Geometrica nova (1299) en De astronomia (1301). Na talle omswerwinge as sendeling terug in Majorka waarvandaan hy ook sendingreise onderneem na Ciprus en Genoa, skryf Llull Logica nova (1303), 'n logiese stelsel wat hy nogeens van toepassing maak op sowel Aristoteliese wetenskapbeoefening as sy ars.

Dit moet benadruk word dat Llull sy ars ook aangebied het as 'n geloofwaardige teologiese alternatief vir die Aristotelies gedrewe hoogskolastiek van die 13de eeu. In 1297 finaliseer hy 'n kommentaar oor Petrus Lombardus (1095-1160) se Sententiae in vier volumes (volledige titel: Sententiae in quatuor IV libris distinctae), wat sonder enige twyfel die mees gedoseerde en gekommentarieerde teologiese teks in die sentrale en latere Middeleeue was. Elke magisterstudent in die teologie moes oor 'n grondige kennis van die teks beskik en in staat wees om voorgraadse studente daarin te doseer. In sy kommentaar Disputatio eremitae et Raimundi super aliquibus dubiis quaestionibus Sententarium Magistri Lombardi wou Llull sy ars op gelyke voet stel met die vele uitnemende kommentare oor die Sententiae, wat in die 13de eeu vanuit die hoogskolastiek in die teologiefakulteit van die Universiteit van Parys in die besonder verskyn het. Hierdie teologiese toepassing van ars is in 1308 wéér verruim deur Llull se praktiese en regstreekse toepassing van ars op teologie in Ars compendiosa Dei.

 

Ars generalis ultima (1308) en die nawerking daarvan

Llull begin kort daarna in 1305, werk aan 'n teks wat hy soos die titel aandui, as die sintetiese hoogtepunt van sy oeuvre beskou het: in Ars generalis ultima word ál die elemente in die historiese ontwikkeling van die bestaande ars (dus die oorspronklike 16 fundamentele beginsels in Ars compendiosa inveniendi veritatem, die 9 objektiewe en 9 relatiewe beginsels in Ars inventiva veritatis, die 9 [B tot K] vakke of litterae en die 9 fundamentele vrae of regulae in die Tabula generalis), nou vir die eerste keer naatloos byeengebring. Per tabel kan dit weergegee word soos aangedui in Tabel 1.

 

 

Kompleks en ontoeganklik soos wat die verbindingsmoontlikhede binne die sirkeldiagram van die 16 fundamentele beginsels in die kwadraatfase van Ars compendiosa inveniendi veritatem was (vgl. weer Figuur 1), wat die hoofoorsaak was tot die summiere afwysing daarvan by die Universiteit van Parys in 1289, het hierdie tabel van vyf kolomme nou al die kompleksiteite van daardie sirkeldiagram konseptueel toeganklik in tabelformaat byeengebring. Llull finaliseer die Ars generalis ultima in 1308 en keer nou vir 'n derde maal in 1309 terug na die Universiteit van Parys, waar hy uiteindelik toestemming verleen word om Ars generalis ultima, soos byeengebring in bostaande tabel, by die fakulteite lettere en geneeskunde te doseer. In teenstelling met sy vernederende ervaring in 1289, is Llull vanaf 1309 tot 1311 in Parys op die hande gedra. Studente het die werk dié keer wel as 'n diep oorspronklike aanbod buite die grense van die skolastiek erken - en het dit veral as toeganklik beskou. Vir die eerste keer het Llull se teologies filosofiese ars werklik 'n ernstige aanspraak gerig om as 'n alternatief vir die objektiewe Aristoteliese wetenskapbegrip, verhewig in Averroïsme, oorweeg te kon word.

Ars generalis ultima, as die hoogtepunt van die ontwikkeling van ars, het Llull ook in staat gestel om vier filosofiese wesenkenmerke van sy projek uit te wys. Eerstens is dit as 'n vorm van dialektiese redevoering produktief en maak dit uiteenlopende argumente en gevolgtrekkings vanuit 'n enkele stel vertrekpunte moontlik. Tweedens is ars ook demonstratief omdat dit 'n verifieerbare metode daarstel om logies noodwendige gevolgtrekkings te maak wat objektief waar sou wees. Derdens bemoontlik ars ook saaklike argumentvoering: vanuit 'n begrensde stel beginsels kan 'n veelvoud uiteenlopende argumente in verskeie vakkundige kontekste (byvoorbeeld teologie, filosofie, wiskunde en kosmologie) aangebied word. Laastens soos reeds uit die titel van Ars generalis ultima blyk, is ars wesenlik algemeen: soos metafisika en dialektiek, is dit toepaslik op enige vak of vakgebied omdat al die beginsels van ars klasse van syn (of ontologiese rubrieke) verteenwoordig en dus nie 'n abstraksie is nie.

Llull se ars het na die Middeleeue in die filosofie van die Renaissance en vroeë moderne era daadwerklik aandag begin geniet tydens die verspreiding van gedrukte weergawes van Ars compendiosa inveniendi veritatem, Ars inventiva veritatis en in die besonder Ars generalis ultima, in die kenmerkend 16de-eeuse soeke na 'n universele metode vir wetenskapbeoefening. Die Keulense denker Agrippa von Nettesheim (1486-1535) se kommentaar oor Llull se verkorte weergawe van sy metode, Ars brevis, is nie minder nie as 15 keer herdruk tussen 1531 en 1651. Die Italiaanse Dominikaan en invloedryke kosmoloog Giordano Bruno (1548-1600) het vyf kommentare oor Llull se werke geskryf, waarvan vier oor ars as sodanig. Die Duitse uitgewer Lazarus Zetzner (1551-1616) het Agrippa en Bruno se kommentare in 'n versamelwerk van Llull se werke ingevoer met merkwaardige sukses: hierdie versamelwerk was 'n topverkoper, is drie keer in die 17de eeu herdruk, terwyl eksemplare daarvan steeds in talle Europese biblioteke gehuisves word (sien die inleiding in die 1651- uitgawe, geredigeer deur A Bonner [red. 1996]). Dit was ook hierdie weergawe wat deur Gottfried Wilhelm Leibniz (1646-1716) gebruik is om Llull se ars in sy eerste gepubliseerde werk, De arte combinatoria, in te sluit wat uiteindelik in sy gevierde Mathesis universalis neerslag sou vind. Hoewel Llull se ars geen invloed op Westerse hoofstroomfilosofie, hetsy in die Middeleeue, Renaissance of vroeë moderne tyd uitgeoefen het nie, is vier bogenoemde werke, veral Ars generalis ultima en Zetzner se versamelwerk (afgesien van Leibniz se wyd gepubliseerde reklame daarvoor), met reëlmaat geraadpleeg en aangehaal deur invloedryke kontinentale filosowe vanaf die laat 17de eeu (vgl. Bonner 2007:11).

 

Samevatting en konklusie

Ramon Llull was in die dertiende eeu wat Johannes Skotus Eriugena (815-877) in die negende eeu was, en Hildegard von Bingen (1098-1179) in die twaalfde eeu: 'n oorspronklike denker wat daarin geslaag het om filosofiese en teologiese konsepte byeen te bring sónder om volledig in mistiek op te gaan of andersyds in Aristotelisme te stagneer. Bostaande uiteensetting dui gevolglik op die ontwikkeling van ars as 'n kreatiewe poging om uit die beperking van die skolasties konseptuele raamwerk (veral van radikale Aristotelisme) te ontsnap en 13de-eeuse Christelike dogma op 'n nie-skolastiese wyse binne die tydgenootlike monoteïstiese sendingkonteks te vestig: Llull se projek het inderdaad 'n idiosinkratiese, maar geloofwaardige alternatief op sowel die radikale Aristotelisme van Averroïste soos Sigerius van Brabant en Boethius van Dacia, as die matige Aristotelisme van Dominikane soos Aquinas aangebied. By die Konsilie van Wene (1311-1312) het Llull 'n waagmoedige versoekskrif laat dien om institusioneel aan sy premisse van insluitende godsdienstige verdraagsaamheid binne 'n sendingkonteks gestalte te gee: hy het die konsilie naamlik gevra om toe te sien dat leerstoele spesifiek vir die onderrig van Arabies en Hebreeus aan die Universiteite van Parys, Oxford en Bologna geskep word. Teen alle verwagtinge in, het die konsilie dit goedgekeur. In die afsienbare toekoms sou Arabies en Hebreeus wel by hierdie universiteite gedoseer word, ten einde die sendingwerk van die Christelike kerk te bevorder onder Jode en Moslems - maar met die uitdruklike verrekening van Llull se nadruk op dialoog en insluitende godsdienstige verdraagsaamheid. Daardie verdraagsaamheid bly Llull se grootste geskenk aan die Middeleeuse en groter Westerse filosofiese selfbegrip en teologiegeskiedenis, sonder om daarmee die kunssinnige oorspronklikheid óf diskursiewe omvang van sy teologies filosofiese ars te onderwaardeer.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

J.B. was die enigste skrywer van hierdie artikel.

Etiese oorweging

Die artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel is befonds deur die Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in die studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die skrywer nie.

 

Literêre verwysings

Adams, M.M., 1998, 'Reviving philosophical theology: Some Medieval models', in J.A. Aertsen & A. Speer (eds.), Was ist Philosophie im Mittelalter?, pp. 60-68, Walter de Gruyter, Berlin.         [ Links ]

Austin, A.M. & Johnston, M.D. (eds.), 2019, A companion to Ramon Llull and Llullism, Series Brill's companion to the Christian tradition Volume 82, Brill, Leiden.         [ Links ]

Batalla, J., 2019, 'Llull as lay philosopher and theologian', in A.M. Austin & M.D. Johnston (eds.), A companion to Ramon Llull and Llullism, pp. 46-80, Brill, Leiden.         [ Links ]

Berlin, H., 2019, 'Ramon Llull and his contemporaries', in A.M. Austin & M.D. Johnston (eds.), A companion to Ramon Llull and Llullism, pp. 18-45, Brill, Leiden.         [ Links ]

Beukes, J., 2012, 'Die konstellasie taalbegrip-logika in Middeleeuse filosofie (2): Duns Skotus tot De Rivo', HTS Teologiese Studies / Theological Studies 68(1), 1-15. https://doi.org/10.4102/hts.v68i1.1112        [ Links ]

Beukes, J., 2018a, 'Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie', Litnet Akademies 15(3), 502-564, viewed 25 February 2022, from https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2018b, 'Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie', Litnet Akademies 15(3), 565-626, viewed 25 February 2022, from https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2019, 'Policraticus en Metalogicon: 'n Bywerking van die Saresberiensis-navorsing, 2013-2018', Verbum et Ecclesia 40(1), 1-14. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1959        [ Links ]

Beukes, J., 2020a, Middeleeuse Filosofie, Volumes I & II, Akademia, Pretoria.         [ Links ]

Beukes, J., 2020b, 'Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097-1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip', Litnet Akademies 17(1), 262-297, viewed 25 February 2022, from https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/04/LitNet_Akademies_17-1_Beukes_262-297.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2020c, 'The Dominican Robert Kilwardby (ca.1215-1279) as schoolman and ecclesiastical official', Verbum et Ecclesia 41(1), 1-14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2065        [ Links ]

Beukes, J., 2021a, 'The case for post-scholasticism as an internal period indicator in Medieval philosophy', HTS Teologiese Studies / Theological Studies 77(4), 1-12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6270        [ Links ]

Beukes, J., 2021b, "Skoolordes" in stede van "bedelordes": 'n Heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendīcāns in die (Afrikaanse) Middeleeuse vakregister', HTS Teologiese Studies / Theological Studies 77(4), 1-11. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6837        [ Links ]

Bonner, A. (ed. & transl.), 1985, Selected works of Ramon Llull, 1232-1316, Volumes I & II, Princeton University Press, Princeton, NJ.         [ Links ]

Bonner, A. (ed. & transl.), 1994, Doctor Illuminatus: A Ramon Llull reader, transl. E. Bonner, pp. 173-238, Princeton University Press, Princeton, NJ.         [ Links ]

Bonner, A., 1995, 'Syllogisms, fallacies and hypotheses: Llull's new weapons to combat the Parisian Averroists', in F. Domínguez, R. Imbach, T. Pindl & P. Walter (eds.), Aristotelica et Lulliana magistro doctissimo Charles H. Lohr septuagesimum annum feliciter agenti dedidacta, pp. 457-475, Marthinus Nijhoff International, The Hague.         [ Links ]

Bonner, A. (ed.) 1996, Raimundus Lullus, Opera. Reprint of the Strasbourg 1651 edition, Volume I & II, Frommann-Holzboog, Stuttgart.         [ Links ]

Bonner, A., 2007, The art and logic of Ramon Llull. A user's guide, Brill, Leiden.         [ Links ]

Bosley, R.N. & Tweedale, M. (eds.), 2004, Basic issues in Medieval philosophy: Selected readings presenting the interactive discourses among the major figures, Broadview Press, Ontario.         [ Links ]

Brown, S.F. & Flores, J.C., 2007, Historical dictionary of Medieval philosophy and theology, The Scarecrow Press, Plymouth.         [ Links ]

Brummer, R., 1976, Bibliographia lulliana: Ramon Llull-Schriftum 1870-1973, Verlag Gerstenberg, Hildesheim.         [ Links ]

Colomer, E., 1961, Nikolaus von Kues und Raimund Llull aus Handschriften der Kuser Bibliothek, Walter de Gruyter, Berlin.         [ Links ]

Copleston, F.C., 1993, A history of philosophy, Volume II: Medieval philosophy, Doubleday, New York, NY.         [ Links ]

Erdmann, J., 1910, History of philosophy, Volume I, Allen & Unwin, London.         [ Links ]

Evans, G.R., 2002, Fifty key Medieval thinkers, Routledge, London.         [ Links ]

Fidora, A. & Rubio, J.E. (eds.), 2008, Raimundus Lullus: An introduction to his life, works and thought, Corpus Christianorum Continuatio Medievalis (CCCM 214), Brepols, Turnhout.         [ Links ]

Giletti, A., 2004, 'Aristotle in Medieval Spain: Writers of the Christian kingdoms confronting the eternity of the world', Journal of the Warburg and Courtauld Institutes 67(1), 23-47. https://doi.org/10.1086/JWCI40026025        [ Links ]

Gilson, E., 1940, The spirit of Mediaeval philosophy, Charles Scribner's Sons, New York, NY.         [ Links ]

Grabmann, M., 1957, Die Geschichte der Scholastischen Methode, Volumen I & II, Akademie Verlag, Berlin.         [ Links ]

Gracia, J.J.E. & Noone, T.B. (eds.), 2006, A companion to philosophy in the Middle Ages, Blackwell, Oxford.         [ Links ]

Grant, E., 2004, God and reason in the Middle Ages, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Hames, H., 2003, 'The language of conversion: Ramon Llull's art as a vernacular', in F. Somerset & N. Watson (eds.), The vulgar tongue: Medieval and postmedieval vernacularity, pp. 43-56, Pennsylvania State University Press, University Park, PA.         [ Links ]

Hilgarth, J.N., 1971, Ramon Lull and Lullism in fourteenth-century France, Clarendon Press, Oxford.         [ Links ]

Hyman, A., Walsh, J.J. & Williams, T. (eds.), 2010, Philosophy in the Middle Ages: The Christian, Islamic and Jewish traditions, Hackett, Indianapolis, IN.         [ Links ]

Johnston, M.D., 1987, The spiritual logic of Ramon Llull, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Johnston, M.D., 2019, 'Ramon Llull, ca.1232-1316', in A.M. Austin & M.D. Johnston (eds.), A companion to Ramon Llull and Llullism, pp. 1-17, Brill, Leiden.         [ Links ]

Kenny, A., 2005, Medieval philosophy, Clarendon Press, Oxford.         [ Links ]

Kretzmann, N., Kenny, A. & Pinborg, J. (eds.), 1982, The Cambridge history of later Medieval philosophy, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Lagerlund, H. (ed.), 2011, Encyclopedia of Medieval philosophy: Philosophy between 500 and 1500, Springer, London.         [ Links ]

Llull, R., 1985, Selected works of Ramon Llull, 1232-1316, Bonner, A. (ed.), Princeton University Press, Princeton, NJ.         [ Links ]

Llull, R., 2000, The book of the lover and the beloved, E.A. Peers (intr. & transl.), Parentheses Publications, Cambridge; also see Eve Bonner's translation in A. Bonner (ed. & transl.), 1994, Doctor Illuminatus: A Ramon Llull reader, pp. 173-238, Princeton University Press, Princeton, NJ.         [ Links ]

Lohr, C.H., 2006, 'Ramon Lull', in J.J.E. Gracia & T.B. Noone (eds.), A companion to philosophy in the Middle Ages, pp. 553-558, Blackwell, Oxford.         [ Links ]

Luscombe, D.E., 1997, Medieval thought, Opus-Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Madre, A., 1973, Die theologische Polemik gegen Raimundus Lullus, Aschendorff, Münster.         [ Links ]

Marenbon, J., 1991, Later Medieval philosophy (1150-1350): An introduction, Routledge, London.         [ Links ]

Marenbon, J. (ed.), 1998, Routledge history of philosophy, Volume III. Medieval Philosophy, Routledge, London.         [ Links ]

Marenbon, J., 2007, Medieval philosophy: An historical and philosophical introduction, Routledge, London.         [ Links ]

Martin, C.J.F., 1996, An introduction to Medieval philosophy, Edinburgh University Press, Edinburgh.         [ Links ]

McGrade, A.S. (ed.), 2003, The Cambridge companion to Medieval philosophy, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Pasnau, R. & Van Dyke, C. (eds.), 2010a, The Cambridge history of Medieval philosophy, Volume I, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Pasnau, R. & Van Dyke, C. (eds.), 2010b, The Cambridge history of Medieval philosophy, Volume II, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Platzeck, E-W., 1962, Raimond Lull: Sein Leben, seine Werke, die Grundlagen seines Denkens, Volumen I & II, Schwann, Düsseldorf.         [ Links ]

Priani, E. [2017] 2022, 'Ramon Llull', in Zalta, E.N. (ed.), The Stanford Encyclopedia of Philosophy, Spring 2021 edn., viewed 22 February 2022 from https://plato.stanford.edu/archives/spr2021/entries/llull.         [ Links ]

Rubio, J.E., 2019, 'Llull's "Great Universal Art"', in A.M. Austin & M.D. Johnston (eds.), A companion to Ramon Llull and Llullism, pp. 81-116, Brill, Leiden.         [ Links ]

Simon, J.P.M., 2011, 'Ramon Llull', in H. Lagerlund (ed.), Encyclopedia of Medieval philosophy: Philosophy between 500 and 1500, pp. 1104-1108, Springer, London.         [ Links ]

Yates, F.A., 1982, Lull and Bruno: Collected essays, Volume 1, Routledge & Kegan Paul, London.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Johann Beukes
beukescj1@ufs.ac.za

Received: 11 Mar. 2022
Accepted: 08 Apr. 2022
Published: 19 May 2022

 

 

1. As voorbeeld van 'n ideëhistoriese raamwerk van die Middeleeue en 'n (sesledige) interne periodisering van die Middeleeuse filosofiegeskiedenis (met betrekking tot die post-Romeinse, Karolingiese, post-Karolingiese, vroegskolastiese, hoogskolastiese en postskolastiese periodes), sien Beukes (2020a:I:12-14). Vir 'n uitgebreide verantwoording van die periodisering van die postskolastiese periode as sodanig, sien Beukes (2021a:1-11). Op grond van hierdie en soortgelyke indelings, kan Llull ideëhistories in die hoogskolastiek (op grond van bogenoemde periodisering, die periode vanaf 1225 tot 1349) gekonstekstualiseer word.
2. 'Llull was both a philosopher and a theologian who sought to express himself reasonably as such. His thought is a theological philosophy based on the unquestioned acceptance of divine reality, through which the consequences of philosophical arguments that are useful for understanding the world are deduced. But it is also a philosophical theology insofar as it expressess the theological content accomplished through faith, using only strictly philosophical concepts, i.e avoiding resorting to any biblical or patristic text' (Batalla 2019:56; vgl. Adams 1998:60-68).
3. Let daarop dat die spelling van 'Llull' wisselvallig is, op die Latynse spoor soms Lullus of Lull (byvoorbeeld in Yates 1982 en Lohr 2006), maar op die Katalaanse spoor ook as Llull (so aangebied deur sy mees prominente eietydse eksegete, Johnston [1987, 2019, vgl. Austin & Johnston reds. 2019] en Bonner [2007]; vgl. Bonner se redigering en vertaling van Llull se primêre tekste [in Llull 1985 en Bonner red. & vert. 1985, later bygewerk in Bonner (red. & vert. 1994), met 'n addisionele vertaling deur E. Bonner [Bonner red. & vert. 1994:173-238]). Hoewel Lull die kort weergawe is en ook skerper korrespondeer met die Latynse eienaam Raimundus Lullus (vgl. Madre 1973:1), word die spelling Llull hier in navolging van Bonner en Johnston se relevante aanwysings gehandhaaf. Afgesien van die geredigeerde en vertaalde weergawes van Llull se belangrikste tekste (in Llull 1985, 2000; vgl. Bonner red. & vert. 1994) en die uitsonderlike monografie van Bonner (2007:1-25); sien ook die gedateerde maar steeds onontbeerlike oorsigwerke van Brummer (1976:1-58), Colomer (1961:1-35), Hilgarth (1971:1-48), Johnston (1987:1-25), Madre (1973:1-56), Platzeck se magistrale werk in twee volumes (1962, in geheel) en Yates (1982:13-38).
4. Vir 'n volledige chronologiese oorsig van Llull se oeuvre, sien Bonner (2007:307-310) en Austin & Johnston (reds. 2019:548-551); vgl. die databasis (Base de Dades Ramon Llull [Llull DB]) van die Universiteit van Barcelona, by http://www.ub.edu/llulldb/ [1 Maart 2022]. 'n Substansiële gedeelte van Llull se tekste is egter steeds ongeredigeerd en slegs in manuskripvorm of in vroeë moderne uitgawes beskikbaar (reds. Austin & Johnston 2019: VII).
5. Sien Bonner (1995:457-475, 'Syllogisms, fallacies and hypotheses: Llull's new weapons to combat the Parisian Averroists'). Sigerius kan as die 'teiken-slagoffer' (Beukes 2020a:II:860) van die Paryse veroordelings van 1277 beskou word, in dié sin dat hy as die vernaamste tydgenootlike eksponent van die 219 proposisies, veroordeel deur biskop Étienne Tempier (d.1279) - by die naam en met teksverwysings - uitgesonder is (anders as Boethius van Dacia, wat nie by die naam genoem is nie, asook Thomas Aquinas [1225-1274], wat in die berugte lys van veroordelings anoniem en slegs per proposisie geadresseer is). Teen 1277 was Sigerius, in daardie stadium reeds vir langer as 'n dekade werksaam in die letterefakulteit in Parys, inderdaad 'n berugte figuur ook in die uitgebreide Paryse intellektuele kringe, op grond van sy uitgesproke radikalisering van Aristoteles in sy noue aansluiting by Ibn Rushd (Averroes, ca.1126-1198) se teen-teologiese Aristotelisme. Boethius van Dacia was vanaf 1262 'n Deense magister by dieselfde fakulteit in Parys, wie se werk insgelyks hewig gekritiseer en uiteindelik veroordeel is op grond van wat beskou is as die radikaal Aristoteliese, oftewel Averroïstiese, kwaliteite daarvan. Hoewel Dacia dus nie by die naam genoem word in die 219 veroordelings nie, dui 14 van hulle woordeliks op proposisies in sy werk. Die feit dat daar geen inligting oor sy werk of lewe bekend is ná 1277 nie, dui daarop dat hierdie 14 verwysings vanuit die Paryse veroordelings genoeg was om hom uit die fakulteit te skors en selfs van sy magisterkwalifikasie in lettere te stroop (Beukes 2020a:II:779-780). Vir 'n toeganklike oorsig van die verwikkelinge wat gelei het tot die Paryse veroordelings, sien Beukes (2020a:II:753-758; 2020b:291-292, eindnoot 16). Ten opsigte van Lull se ondersteuning van die veroordelings van 1277, byeengebring in sy Declaratio Raimundi per modum dialogi edita contra aliquorum philosophorum et eorum sequacium opiniones, sien Bonner (2007:178-179).
6. Vir 'n toeganklike inleiding en vertaling van Vita coetanea, sien Bonner (red. & vert. 1994:10-40).
7. Llull se verbintenis met die slaaf het 'n tragiese afloop gehad nadat die slaaf Llull aangerand het omdat Lull hom sou berispe het oor 'n lasterlike uitspraak oor Jesus Christus. Die slaaf is daarna gearresteer en het homself om die lewe gebring voordat sy saak aangehoor kon word (vgl. Johnston 2019:6). Hierdie insident het Llull diep geraak en sy missionêre opvatting van 'godsdienstige verdraagsaamheid teen elke prys' dramaties verskerp (vgl. afd. 5 infra).
8. Vir 'n toeganklike oorsig van Middeleeuse Arabiese en Joodse filosofie, sien Beukes (2018a, 2018b).
9. Die begrip skolastiek verwys hier na 'n aanduibare rigting in Sentraal-Middeleeuse filosofie, terwyl die begrip skolasties verwys na die skolastiese metode, soos aanvanklik ontwikkel deur Anselmus van Kantelberg (1033-1109) en toenemend verfyn in die opkomende universiteitwese vanaf die 12de eeu. Vir 'n toeganklike oorsig van die ontwikkeling van die skolastiese metode, sien Beukes (2019:5, voetnoot 10).
10. Ten opsigte van die verruiming van die kanon in Middeleeuse filosofie, sien Beukes (2020c:1-6), 'Robert Kilwardby and the problem of the "canon" in Medieval philosophy'. In haar oorsig, van wat sy beskou as 'vyftig sleutelfigure' in Middeleeuse filosofie, sluit Evans (2002) merkwaardig ook minder bekende en algeheel onbekende denkers (buite die tersaaklike spesialisnavorsing) in, onder andere Paschasius Radbertus (ca.790-860), Hincmar van Reims (ca.806-882), Remigius van Auxerre (ca.841-ca.908), Berengar van Turyn (ca.1010-1088), Adelardus van Bath (ca.1080-ca.1152), Ivo van Chartres (ca.1040-1115), Rupert van Deutz (ca.1075-ca.1130), Anselmus van Havelberg (ca.1100-ca.1158), Joachim van Fiore (ca.1135-1202) en Baldus van Ubaldis (ca.1319-1400). Hoewel Llull eerder op die rand van die kanon as volledig daarbuite - soos hierdie denkers -staan, het Evans, op Copleston se spoor, dit noodsaaklik geag om Llull buite die ingekeerde spesialiskonteks bekend te stel - met produktiewe gevolge.
11. Omdat Llull met weinig uitsondering in Katalaans geskryf het, was die gespesialiseerde Llull-navorsing tot onlangs beperk tot Katalaans- en Spaansmagtige navorsingkontekste, met inbegrip van omvangryke Duitse navorsingprogramme vanuit die Raimundus-Lullus-Institut, Albert-Ludwigs-Universität, Freiburg (vgl. Lohr 2006:553-554).
12. Sien https://brill.com/view/title/21418 [1 Maart 2022].
13. Sien https://brill.com/view/serial/BCCT [1 Maart 2022].
14. Vir 'n toeganklike inleiding tot Petrus Hispanus se logika en taalfilosofie, sien Beukes (2012:10-11).
15. Vir 'n toeganklike oorsig van die ontwikkeling van skole of studia deur die Dominikane, Franciskane, Augustyne en Karmeliete gedurende die 13de eeu en 'n bespreking van die begrip skoolorde in stede van die argaïese bedelorde, sien Beukes (2021b:1-10).
16. Llull het 'n diepe weersin in sommige skolastici - veral die Averroïste - se skeiding van teologie en filosofie gehad en het hierdie veroordeling van 219 stellings in die werke van Averroïste soos Sigerius by die letterefakulteit aan die Universiteit van Parys dus uitdruklik ondersteun (sien weer voetnoot 5).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons