SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.43 número1'A dangerous and powerful woman?' - A feminist reading of an old story with new cultural eyesChristian faith and science: Efforts to encounter the Christian faith and science in the work of Alister E. McGrath índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Verbum et Ecclesia

versión On-line ISSN 2074-7705
versión impresa ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.43 no.1 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.4102/ve.v43i1.2415 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die mediëvalistiese karikatuur van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters

 

The medievalist caricature of sexual regress in Late-Medieval female monasteries

 

 

Johann BeukesI, II

IDepartment of Philosophy and Classics, Faculty of Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa
IICenter for the History of Philosophy and Science (CHPS), Faculty of Philosophy, Theology and Religious Studies, Radboud University, Nijmegen, The Netherlands

Correspondence

 

 


ABSTRACT

This article confronts the widely published medievalist caricature of sexual regress in Late-Medieval female monasteries by presenting a statistical analysis of the relatively low (measured against the Early and Central Middle Ages) frequency of sexual contact between monks and nuns, monks and monks, and nuns and nuns in 15th century England. C.H. Knudsen's examination of the pastoral register of the bishop of Lincoln, William Alnwick, in the period from 1436 to 1449 is utilised to counter the common, yet profoundly modernist notion of the Late-Medieval 'wayward nun'. Five idea-historical developments from the Early and Central Middle Ages are presented as a backdrop to this statistical analysis, showing that sexual encounters in monasteries in the Early to Central Middle Ages in the Latin West occurred more often than merely sporadic. Having defined medievalism as 'post-Medieval ideological-reductionist and anachronistic reconstructions of the Middle Ages, whereby the Middle Ages is essentialised by one or more contingencies', it becomes clear that the notion of 'sexual regress in Late Medieval female monasteries' with the image of the 'wayward nun' centralised therein, points to a form of medievalism: a single contingent aspect of Medieval female monasteries - the occurrence of sexual contact, however discreet - is used to present a fabricated totality of a complex socio-historical context. How complex this historical context indeed is, becomes apparent in Knudsen's analysis of the bishop of Lincoln's pastoral register during his 79 visits to 70 monasteries and interrogations of 217 nuns and 528 monks. Concluding that the 'promiscuous monk' was a far more general phenomenon than the 'wayward nun' in the Later Middle Ages, Knudsen's analysis confirms that the Middle Ages is still as much a domain of research as it is a realm of fantasy today. The modernist fixation on the Late-Medieval 'wayward nun' is, for example, expressed in Heinrich Lossow's (1843-1897) provocative painting Die Versündigung (ca.1880). It is argued that the 'wayward nun' in Lossow's painting was a self-conscious attempt to escape from the impasse created by Victorian sexual repression: just as in every other 19th and early 20th century representation of sexual regress in Late-Medieval female monasteries, 'she' was nothing more than vulgar fiction.
Intradisciplinary and/or interdisciplinary implications: This critique of the medievalist caricature of sexual regress in Late-Medieval female monasteries overlaps with a variety of philosophical and theological disciplines, including Medieval philosophy, Medieval history, church history, patristics, philosophy of religion and sociology of religion. Whenever these proximate disciplines are impacted by niche Medieval research, it may hold implications that these disciplines could take note of.

Keywords: Augustine; William Alnwick; Peter Damian; Late-Medieval female monasteries; Late Middle Ages; Heinrich Lossow; Medievalism; Shenout of Atripe; Die Versündigung (ca. 1880).


 

 

Non: Ek haal my sluier af, ek trek alles anders uit,

en 'n kaal meisie gaan na jou bed toe.

Monnik: Selfs al haal jy jou sluier af, verander dit jou nie.

My sonde sal nie minder wees met jou klere uit nie.1

 

Inleiding: die 'aweregse non' as 'n mediëvalistiese mistasting

Hierdie artikel konfronteer die wyd gepubliseerde karikatuur van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters. Dít word gedoen deur 'n statistiese ontleding van seksuele kontak tussen kloosterlinge binne Engelse kloosters in die vyftiende eeu aan te bied. As agtergrond tot hierdie ontleding dui 'n vyfdelige ideëhistoriese ontwikkeling van kloosterseksualiteit vanaf die vierde tot die veertiende eeu aan dat seks tussen nonne en nonne, monnike en monnike, en tussen monnike en nonne in hierdie periode teen so 'n hoë frekwensie voorgekom het dat dit nie as bloot sporadiese uitsonderings gekenmerk sou kon word nie. Trouens, seks tussen kloosterlinge in die Middeleeuse Latynse Weste tussen die vierde en veertiende eeu, het omvangryk genoeg voorgekom sodat daar konseptueel en diskursief sprake sou kon wees van 'n 'Middeleeuse kloosterseksualiteit'. Dit geld egter nié vir die Latere Middeleeue nie - en hierdie aanspraak kan sodanig statisties geverifieer word. C.H. Knudsen se betreklik onlangse ontleding van die pastorale verslae van die biskop van Lincoln, William Alnwick vanuit Alnwick se register van pastorale besoeke aan Engelse kloosters tussen 1436 en 1499, word aangebied om die mediëvalistiese (sien infra) mistasting van 'seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters' aan te dui. Die 'aweregse non', in die besonder, is duidelik 'n modernistiese fantasie, soos tot uitdrukking gebring in die provokatiewe skildery Die Versündigung (ca.1880) deur Heinrich Lossow. Die 'aweregse non' in Lossow se skildery was 'n selfbewuste poging om te ontsnap uit die impasse gelaat deur Victoriaanse seksuele repressie - soos wat elke ander negentiende- en vroeë twintigste-eeuse voorstelling van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters inderdaad vulgêre modernistiese fiksie was.

 

Eksposisie: Mediëvalisme as probleemstelling binne die Laat-Middeleeuse seksuele konteks

Die begrip mediëvalisme dui op post-Middeleeuse, ideologies reduksionistiese en anachronistiese herkonstruksies van die Middeleeue waarvolgens die Middeleeue deur die essensialisering van een of meer kontingentes (of onnoodsaaklike toevallighede) met gevolglike karikatuurstelling en geheelaanspraak aangebied word. 'Mediëvalisme' dui dus op 'n (Beukes 2021a):

post-Middeleeuse opstelling van 'n Middeleeuse Ander ter wille van die bestendiging van 'n eietydse Self en die gevolglike postulering van 'n dispariteit tussen sodanige meerderwaardige, tydgenootlike Self en 'n ondergeskikte, vergange Middeleeuse Ander. (p. 2)

Mediëvalismes is in die retrospektiewe (en per definisie anachronistiese) aard daarvan dinamies en wisselend: die soort mediëvalismes wat in die Renaissance aangetref word, verskil dus van die variante daarvan in die vroeë, hoë en laat moderniteit. In elkeen van hierdie periodes vind 'n unieke verselfstandiging van toevallige elemente in die Middeleeuse ideë- en institusiegeskiedenis plaas op grond waarvan 'n idiosinkratiese (dikwels volslae foutiewelike) beeld van die Middeleeue gepostuleer word.

Pejoratiewe, patroniserende en inderdaad vals karikature van die Middeleeue (na 'n tipies Renaissance mediëvalisme, byvoorbeeld 'in die middel', 'donker' en 'brutaal', of volgens 'n tipies negentiende-eeuse Victoriaanse weergawe, byvoorbeeld 'eerliker', 'ridderlik' en 'maagdelik') wys telkens terug na die een of ander onverantwoorde mediëvalistiese lengtesnit (sien Roden 2001:115-130; vgl. Prendergast & Trigg 2009:117-121). Die karikatuur van die 'aweregse non' of wayward nun (sien bv. Daichman 1986:1-2) vanuit die Laat-Middeleeuse vroulike kloosterwese is na die onderhawige betoog 'n duidelike voorbeeld van mediëvalisme: 'n enkele kontingente aspek van die Middeleeuse vroulike kloosterwese, naamlik die inderdaad teenspraakvrye voorkoms van seksuele kontak binne vrouekloosters vanaf die vierde tot die vroeë veertiende eeu, word verselfstandig om 'n verwronge beeld van 'n latere periode, die laat veertiende en vyftiende eeue, op simplistiese wyse weer te gee.

Die negentiende- en vroeë twintigste-eeuse fiksasie op die 'aweregse non' is wel in die Latere Middeleeue2 self as 'n gewilde stereotipe aangebied in byvoorbeeld die satiriese fabliaux en Chanson des nonnes, asook talle van Geoffrey Chaucer se karakters, onder andere die ambivalente abdis Madame Eglantine in The Canterbury tales. Hierdie soort voorstellings is steeds betreklik huiwerig in die vroeë twintigste-eeuse navorsing as onversoenbaar met die sosio-historiese werklikhede in Laat-Middeleeuse vrouekloosters aangedui (vgl. Coulton 1923:2; Power 1922:436-474), terwyl meer onlangse spesialisontledings die voorkoms van promiskuïteit binne Laat-Middeleeuse vrouekloosters as hoogs onwaarskynlik aandui sonder om te ontken dat seks (hoewel grootliks homoëroties3) wel binne vroeëre kloosterkontekste plaasgevind het (sien Oliva 1998:211-12).

Power (1922) se baanbrekerswerk vanuit die moderne kloosternavorsing was die eerste wat seksuele 'wangedrag' binne Laat-Middeleeuse kloosters sistematies ondersoek het - hoewel slegs in een hoofstuk. Haar werk was daarom slegs oorsigtelik en kan nie vergelyk word met spesialisuitsette in die tweede helfte van die twintigste eeu nie waaronder Salisbury (1990) se Medieval sexuality, die bydraes in haar redaksiewerk Sex in the Middle Ages (red. Salisbury 1991) en die redaksiewerk van Hamburger en Martin (reds. 2008), Crown and veil: Female monasticism from the fifth to the fifteenth centuries. Hierby moet ook Sarah Foot (2000) se uitstekende oorsig oor die historiese ontwikkeling van die Middeleeuse vroulike kloosterwese, Veiled women, ingereken word.

Hierdie artikel ondersoek teen bogenoemde agtergrond die wyd gepubliseerde mediëvalistiese karikatuur van seksuele verval in die Laat-Middeleeuse vroulike kloosterwese. Hierdie bevooroordeelde aanbod - met die eendimensionele 'aweregse non' (en, tot 'n veel mindere mate, die 'sedelose monnik') daarin gesentraliseer - kom so algemeen in die moderne (negentiende- en vroeë twintigste-eeuse) navorsing voor dat dit aan die 'ideologiese grens' (Daichman 1986:2; vgl. Oliva 1998:2; Salisbury 1990:xvii). Soos met alle mediëvalismes, voltrek hierdie modernistiese karikatuur nie algeheel sónder 'n geldige historiese verwysingspunt nie wat egter terselfdertyd eg mediëvalisties, diepgaande anachronisties is. 'n Vyfdelige ideëhistoriese uiteensetting met betrekking tot die vierde tot die vroeë veertiende eeue kan die ontwikkeling van die anachronisme(s) wat in hierdie mediëvalisme opgesluit is, wel duidelik omlyn.

 

Seksualiteit in kloosters in die vierde tot die sesde eeue

Dit kan as 'n gegewe aanvaar word dat seks meer as slegs sporadies binne die vroegste kloosterwese in die Middeleeuse Weste vanaf die vierde eeu voorgekom het. Die gedetailleerde selibaatvoorskrifte van die invloedryke argimandriet van die Wit Klooster by Atripe in Egipte, Sjenoet (ca.348-466 [die biodatering is korrek]), in sy laat vierde-eeuse kommentaar op die Noord-Afrikaanse kloosterlewe, De vita monachorum, dui dít teenspraakvry aan. Die enigste rede 'waarom Sjenoet ondubbelsinnige en geslagsonbepaalde voorskrifte vir die selibaat opgestel het, moet wees omdat seksuele kontak tussen sy kloosterlinge nie bloot sporadies voorgekom het nie' (Beukes 2021b:5; vgl. Brooten 1996:350). Vergelyk byvoorbeeld:

[W]anneer twee mense saam op 'n mat of selfs net naby genoeg aan mekaar lê dat dit moontlik is om mekaar aan te raak, of dit vanuit begeerte is of nie, sal hulle, of dit twee mans, twee vrouens of 'n man en 'n vrou is, vervloek wees en oneervol uit die klooster verwyder word. (Beukes 2021b:5 [vn.20]; Sjenoet 1913:124)

Selfs:

[L]igsinnigheid word as 'n voorspel tot seksuele verleiding geïnterpreteer: 'n vrou wat ander kloosterlinge 'opsoek en aanraak, of hulle slaap en of hulle wakker is, en ydel saam met hulle lag [] is vervloek'. (Beukes 2021b:5 [vn.20]; Sjenoet 1913:171)

Enige vorm van geïsoleerde kontak met 'n ander kloosterling (waar geen derde party dus aanwesig is nie) is:

ook by voorbaat as 'n verbreking van die selibaat geïnterpreteer: diegene wat 'mekaar op alleenplekke soos badkamers toevallig ontmoet', het geen ander rede daarvoor nie as 'om in bose wellus saam te wees'. (Beukes 2021b:5 [vn.20]; Sjenoet 1913:169)

Daarby 'word enige vorm van eenkanthouding as verdag geag: "Vervloek is hy of sy wat die eie liggaam aanraak om bose dinge te doen"' (Beukes 2021b:5 [vn.20]; Sjenoet 1913:171). Talle ander passasies in De vita monachorum 'adem dieselfde rigiede stemming en betigtende gees' (Beukes 2021b:5 [vn.20]; vgl. Sjenoet 1913:118-121; 166-169). Sjenoet se vermanende voorskrifte getuig daarvan dat hy 'bewus was van die diverse moontlikhede tot seksuele gratifikasie wat buite die mure van die klooster as gangbaar geag is en binne die Wit Klooster self gestalte gekry het' (Beukes 2021b:5).

Daarby moet die latere Westerse kerkvader, Augustinus van Hippo (354-430), se uitdruklike vermanings aan vroulike kloosterlinge ('weduwees en maagde wat met 'n heilige eed diensmaagde van Christus geword het' [Augustinus 1865:964]) in berekening gebring word. In sy Epistolae quas scripsit reliquo vitae tempore4 maan Augustinus (1865:963-964) uitdruklik 'teen 'n "liefde tussen susters wat eerder vleeslik as geestelik" is en rig spesifiek binne kloosterkontekste 'n vermaning aan "onbeskeie vroue wat skaamteloos met ander vroue flirteer"' (Beukes 2021b:7; sien Augustinus 1865:964).

Augustinus (1865:963) maak 'n:

verdere en besonder betekenisvolle aanbeveling: Nec eant ad balneas, sine quocunque ire necesse fureit, minus quam tres ('Wanneer uitgegaan moet word, soos na die baddens, behoort nie uitgegaan te word in minder as drie nie'). Die maatskaplike konteks van hierdie aanbeveling was die Romeinse badhuise, wat juis ook deur nonne besoek is: Augustinus se oogmerk was dat nonne kuisheidshalwe die plaaslike baddens nie meer as een maal per maand sou besoek nie - en dan altyd in groepe van drie of meer. Trouens, Augustinus beveel in dieselfde konteks aan dat nonne altyd in groepe van drie of meer sal beweeg wanneer dit noodsaaklik geag word dat hulle die klooster, om welke rede ook al, moet verlaat. (Beukes 2021b:8)

Daarby behoort 'n non 'wat die klooster verlaat, geen inspraak te hê welke ander nonne haar op die buitetog moet vergesel nie en berus die oordeel daaromtrent volledig by die abdis' (Beukes 2021b:8; vgl. Augustinus 1865:963). Die 'detail en saaklikheid van hierdie aanwysings dui daarop dat Augustinus bewus was van sowel die voorkoms van wisselvallige seksuele kontak as intieme langtermynverhoudings tussen vroulike kloosterlinge' (Beukes 2021b:8).

Hierby moet in gedagte gehou word dat die provokatiewe kerkvader, Methodius van Olimpus (d.ca.311), se uitdagende maagdelikheidsbegrip tot minstens in die laat sesde eeu nawerking binne vrouekloosters geniet het. Methodius betoog in sy Symposium, geskryf in die tweede helfte van die derde eeu, dat 'outentieke maagde' die 'volle spektrum van seksuele begeerte moet ervaar en dit dán eers moet negeer' (Beukes 2021e:5). Die toets vir maagdelikheid is dus om seksuele begeerte toe te laat om volledig op te vlam en eers dan, in 'n seksueel opgewekte toestand, 'nee te sê'. Om in 'n staat van volledige seksuele opwekking 'nee te sê', is vir Methodius juis dié perfekte vorm van maagdelikheid. Uiteraard het nie alle 'outentieke maagde' Methodius se toets geslaag nie, veral nie in die kuisheidgereguleerde kloosterwese wat (eers) 'n eeu ná Methodius langsaam ontwikkel het nie.

 

Die nawerking van die Paenitentiales en biskopstatute vanaf die sewende tot die tiende eeue

Juis op grond van Augustinus se 'onderbeklemtoonde benadering tot homoërotiese verbintenisse in die algemeen' (Beukes 2021b:1-2), het bykans twee eeue verloop voordat die berugte straftekste (Paenitentiales, of Libri Poenitenti) wat aan die einde van die sesde eeu vanuit Ierland gesirkuleer is, homoërotiese 'oortredings' (spesifiek binne die vroulike kloosterwese) uitgesonder en 'voorsiening gemaak het vir 'n wye reeks strafsanksies in hierdie verband' (Beukes 2020b:3; vgl. McNeill & Gamer 1938:2; vir die tersaaklike teks [Decretum 19.5] self, sien Burchard 1898:435-436).

Daarby kan ook tersaaklike voorskrifte vanuit die Codex Parisiensis in die sewende eeu gevoeg word. Vergelyk byvoorbeeld Codex Parisiensis 10318:I:317-221, waarskynlik gerig aan 'n non of 'n groep nonne:

[M]onstrum feminei bimembre sexus quam coacta virum facit libido, quae gaudes futui furente cunno, cur te ceperit impotens voluptas? Non das, quod pateris, facisque cunnum. Illam, qua mulier probaris esse, partem cum dederis, puella tunc sis.

[J]y, monstrositeit van die vroulike geslag, wie se lus vir vroue van jou 'n man maak, wat vroue met jou waansinnige liggaam verlei, waarom het hierdie steriele begeerte van jou besit geneem? Jy gee niks terug nie en soek eerder 'n vrou. Eers wanneer jy daardie deel teruggee op grond waarvan jy as 'n vrou oorweeg kan word, eers dan sal jy 'n meisie [bedoelende manlike beoordeling waardig] wees. (Dinamiese vertaling, met selfsensuur ten opsigte van die direkte sintaktiese vertaling van cunnus en facere; aangehaal uit Beukes 2020b:1 [vn.1].)

Herderlike skrywes en biskopstatute vanuit die agtste eeu was veronderstel om die sensuuroogmerk van die straftekste van die sewende eeu uit te brei. Vergelyk byvoorbeeld die tweede biskopstatuut van Theodulf van Orleans (in Beukes 2019a:7 [vn.20]; vgl. Finsterwalder 1925:359): 'Hier volg 'n volledige omskrywing van die irrasionele sondes van sodomie, bestialiteit en bloedskande []' (waarop 'n gedetailleerde omskrywing volg). Hierdie drie verskynsels 'word as 'n enkele verskynsel saamgesnoer op grond van die "irrasioneel-sondige" kwaliteit daarvan, wat daarom onderhewig is aan presies dieselfde strafsanksies' (Beukes 2019a:7 [vn.20]). Die biskopstatuut MS Vat Reg lat 612/8 (in Beukes 2019a) lui:

[A]s gevolg van sodomie word koninkryke vernietig en in die hande van heidene oorgelewer. Elke Christen moet homself en haarself teen hierdie wandaad beskerm en diegene wat nog nie daardeur besoedel is nie, moet versigtig wees om nie daarin te verval nie. (p. 7 [vn.20]; vgl. Finsterwalder 1925:359)

Die biskopstatuut van Herardus van Turyn, Capitula 11, lui: 'Diegene wat irrasioneel sondig, moet hewig gestraf word ten einde hierdie ontug teen die wortel af te sny' (in Beukes 2019a:7 [vn.20]; vgl. Payer 1982:10). Die straftekste van die sewende eeu, aangevul deur herderlike skrywes en biskopstatute vanaf die agtste tot tiende eeu, was op die lang duur oneffektief - soos duidelik blyk uit die aftakeling van die seksuele moraal in Franse kloosters gedurende die elfde eeu.

 

Petrus Damianus en die noodsaak aan kloosterhervormings in die elfde eeu

Teen die middel van die elfde eeu het die seksuele moraal binne veral die Franse kloosterwese sodanig verval dat 'n omvattende kloosterhervormingsprogram deur die arbeidsetikus, Petrus Damianus (1007-1072), van stapel gestuur moes word soos geboekstaaf in sy Liber gomorrhianus, geskryf in opdrag van Pous Leo IX (1002-1054; pous vanaf 1049 tot 1054). Leo IX, in die eerste van sy gedugte hervormingsinisiatiewe, het aan:

Damianus in 1049 opdrag gegee om die verskynsel van toenemende seksuele kontak tussen priesters en biegsubjekte (manlik en vroulik), priesters en priesters, monnike en nonne, monnike en monnike, en nonne en nonne te ondersoek, in rubrieke te boekstaaf en met 'n kerklike advies rakende die hantering van die probleem na vore te kom. (Beukes 2019a:6)

Liber gomorrhianus was die eerste gesirkuleerde werk rakende die stryd van die kerk van die elfde eeu in die bekamping van promiskuïteit onder priesters, monnike en nonne en getuig van die algemene voorkoms van seksuele kontak binne manne- sowel as vrouekloosters in die elfde eeu (vgl. Beukes 2019a:1-6).

Damianus, reeds in die beplanningsfase van sy boek:

herontwerp egter die begrippe sodomie en sodomiet deur daaraan 'n dissiplinêre betekenis te gee, met ander woorde, as 'n verskynsel wat moreel en juridies afgewys moet word en wat deur straf en dissipline gekorrigeer en sover moontlik geëlimineer moes word. Dit blyk egter uit die voorwoord dat, nog voordat hy die advies begin skryf het, Damianus diep onder die indruk van die diversiteit van verbintenismoontlikhede onder die sambreelbegrip 'promiskuïteit' binne die kerk en kloosters gekom het en deur die maatskaplike werklikheid self gedwing was om die begrip sodomie veel meer soepel en veral geslagsonbepaald te gebruik. (Beukes 2019a:5)

Hierdie werklikheid was naamlik dat:

sodanige promiskuïteit nie net tussen priesters en priesters, monnike en monnike, en monnike en priesters voorgekom het nie, maar ook tussen priesters en nonne, monnike en nonne, nonne en nonne, priesters en manlike sowel as vroulike leke (veral biegsubjekte), monnike en manlike sowel as vroulike leke, en nonne en manlike sowel as vroulike leke. (Beukes 2019a:5)

Die begrip sodomie moes uitgebrei word om al hierdie moontlike variasies van (deur Damianus só benoem) 'teen-natuurlike seks' of 'irrasionele fornikasie' te ondervang. Dit sou ook neerslag vind in sy tipering van vroulike homoërotiek (uitdruklik binne die kloosterwese) as 'n vorm van 'vroulike sodomie' (vgl. Beukes 2019a:7-11).

Talle:

priesters het vanaf die laat 10de eeu gedempte seksuele kontak opgesoek (en vanaf die middel van die 11de eeu, toenemend openlik). Verder het die interesse in nie-vaginale seksuele kontak in hierdie tyd verhoog, juis binne heteroseksuele kontekste, met die oogmerk om ongewensde swangerskappe te vermy. Trouens, heteroseksuele anale seks het algemeen voorgekom. (Beukes 2019a:5; vgl. Jordan 1997:111-113; vgl. Mills 2015:40-63)

Natuurlik was:

seksuele kontak tussen priesters en nonne, en monnike en nonne, nie alledaags nie maar dit het wel (hoewel altyd uitermate diskreet) voorgekom en kan nie as hoogs uitsonderlik beskryf word nie. (Beukes 2019a:5)

Hierdie seksuele kontak was:

oorwegend oraal, femoraal (nie-penetrerend vaginaal) en anaal, met, afgesien van die minimalisering van swangerskappe, die bykomende oorweging om nonne se maagdelikheid ongeskonde te hou - met inbegrip daarvan dat ongeskonde maagdelikheid 'n voorwaarde was vir die toetrede tot en die behoud van lidmaatskap van enige noemenswaardige orde en klooster. (Beukes 2019a:5; vgl. Jordan 1997:112)

Die begrip sodomiet is uiteindelik deur Damianus aangebied as 'n 'komplekse, geslagsonbepaalde, permissiewe persoon' (Beukes 2019a:7) binne die konteks van die verval van die seksuele moraal in kloosters en die kerk in die eerste helfte van die elfde eeu.

 

Vroulike verset teen Damianus se 'taboe' in die twaalfde en dertiende eeue

Met die taboe, 'vroulike sodomie', eenmaal duidelik opgestel in Damianus se Liber gomorrhianus, sou aangeneem kon word dat hierdie sensuurteks 'n inhiberende effek op seksuele kontak in vroulike kloosters sou uitgeoefen het. Presies die teenoorgestelde het gebeur (vgl. Beukes 2020b:5-6): nou duidelik verwoord, is hierdie 'komplekse en meervoudige taboe' (Beukes 2020b:6) in die twaalfde eeu openlik in vroulike kloosters verontagsaam. Byvoorbeeld (en dit is een van talle voorbeelde5): die Benediktynse non, Hildegard von Bingen (1098-1179), met haar hoë profiel (sien Beukes 2019b:64-102) was, teen die agtergrond van die ekonomiese ontwikkeling en merkwaardige materiële verselfstandiging van die vroulike kloosterwese in Wes-Europa in die twaalfde eeu, openlik in 'n intieme langtermyn verhouding met die non, Richardis von Stade, betrokke (vgl. Schibanoff 2001:50-80). Richardis, wat teen Hildegard se wens uiteindelik 'n aanwysing as abdis van die Bremenklooster aanvaar het (waar sy maande daarna oorlede is), was nie net haar eerste skriba nie, maar ook haar minnares en lewensmaat.

Daarby moet gevoeg word die ontwikkeling en toetrede van die libertynse begynse ordes vanaf die 1230's waar begyne soos Mechtild von Magdeburg (ca.1207-ca.1282, sien Beukes 2019c:1-3) en Marguerite Porete (1250-1310, sien Beukes 2020c:204-229) diep spore gelaat het. Daar bestaan weinig twyfel dat:

beide begyne in verskeie verhoudings met ander vroue binne hulle ordes betrokke was en dat dit een van die punte van fel kritiek teen die herlewing van die begynse ordes in die laat 14de eeu sou word, onder meer in die Nederlandse mistikus Jan van Ruusbroec se kritiek teen spesifiek Marguerite. (Beukes 2020d:3)

Die begynse ordes het:

'n alternatief gebied vir vroue wat nie net teologies en godsdienstig nie, maar duidelik ook seksueel meer libertyns in oriëntasie was as wat die geïnstitusionaliseerde kloosterordes bereid sou wees om te akkommodeer. (Beukes 2021c:8)

Die begynse ordes het in hierdie sin 'n unieke bydrae gelewer:

om 'n toeganklike ruimte te skep waar vroue, wat daarvoor gekies het, steeds diskreet maar met 'n sin vir persoonlike vryheid tussen ander vroue kon bestaan, ook ten opsigte van hulle mees private en intieme voorkeure. (Beukes 2020b:8)

'n Algemene 'erotisering van 'n negatiewe teologie' (Beukes 2021c:8) vind daarby in die twaalfde en dertiende eeu plaas in die Minnemystik van vroulike kloosterlinge en begyne soos Hadewijch van Antwerpen (fl.1240; sien Beukes 2020e:1-10), Beatrijs van Nazareth (ca.1205-1268), Gertrude von Helfta (1256-ca.1302), Dorothea von Montau (1347-1394), Angela van Foligno (1248-1309) en Juliana van Liège (ca.1192-1258) (sien Beukes 2021c:11-13).

 

Die juridiese regulering en kriminalisering van seksualiteit in die veertiende eeu

Marguerite se:

teregstelling in 1310 en die verbanning van die begynse ordes in 1311 was simptomaties van 'n kultuur van algehele onverdraagsaamheid wat in die 14de en vroeg 15de eeue in Wes-Europa gebotvier het. (Beukes 2020b:9)

So verdraagsaam soos wat mense in die laat elfde, twaalfde, en minstens die eerste helfte van die dertiende eeu jeens 'n groot aantal kulturele aangeleenthede was (juis in verset teen, onder meer, Damianus se sensuurteks), sowel as die ideëhistoriese verwikkelings rondom seksualiteit soos reeds aangedui, so ónverdraagsaam was mense in die veertiende en vroeë vyftiende eeu teenoor dieselfde aangeleenthede. Hiervan is die skerp toename in allerlei soorte wetgewing in die veertiende eeu sprekend (vgl. Beukes 2020b:9-10).

In die veertiende eeu word, onder meer, vir die eerste keer voorsiening gemaak vir die juridiese regulering van seksuele aktwiteite en die uitdruklike juridiese verbod op homoërotiese verbintenisse - en daardie wetgewing 'neem in die tweede helfte van die 14de eeu skerp toe op grond van wat as die "anti-sosiale karakter" van enige vorm van buitehuwelikse en selfdegeslagseks beskryf is' (Beukes 2020b:10; vgl. Boswell 1980:295). Nou was dit nie langer die 'losbandige persoon' of selfs die 'sodomiet in die klooster en kerk' nie, maar die 'anti-sosiale seksuele krimineel' wat deur wetgewing in terme van seksuele gedrag, sowel as 'n verbod op selfdegeslagverbintenisse gereguleer sou word. 'Alle state en streke in Wes-Europa het teen die einde van die 14de eeu uitgebreide wetgewing wat "perverse seksuele gedrag", waaronder homoërotiese verbintenisse, gekriminaliseer het, tot hulle beskikking gehad' (Beukes 2020b:9; vgl. Mundy 1973:7).

Die gelyklopende konsentrasie en kriminalisering van hierdie wetgewing rakende 'misdadige seksualiteit' in die veertiende eeu het die belofterykheid van die transendering van die 'komplekse, meervoudige taboe van sodomie' in die twaalfde en dertiende eeu, effektief beëindig (Beukes 2020b:10).

Hierdie wetgewing was uitdruklik ook op die kloosterwese van toepassing.

Met die:

kriminalisering van 'homoseksualiteit' (hoewel die begrip sodomie steeds in 14de-eeuse wetgewing gebruik is maar, anders as in die 12de en 13de eeue, nie langer met verwysing na heteroseksuele aktiwiteite nie [nou met betrekking tot enige vorm van anale verkragting]), was die tafel gedek vir die progressiewe patologisering van 'homoseksualiteit': hierdie 'misdaad' wat in die 14de en 15de eeue deur straf en dissipline gekorrigeer moes word, sou eeue later as 'n scientia sexualis 'siekte' benoem word wat klinies gediagnoseer, geëksamineer en 'terapeuties' aangespreek moes word. (Beukes 2020b:10)

 

Samevatting

Bogenoemde vyfdelige ideëhistoriese ontwikkeling van kloosterseksualiteit vanaf die vierde tot die veertiende eeu dui aan dat seks tussen nonne en nonne, monnike en monnike, en tussen monnike en nonne in hierdie periode teen so 'n hoë frekwensie voorgekom het dat dit nie bloot as wisselvallig afgemaak sou kon word nie. Trouens, seks tussen kloosterlinge in die Middeleeuse Weste het omvangryk genoeg voorgekom dat daar in die geskiedenis van seksualiteit konseptueel en diskursief sprake sou kon wees van 'n 'Middeleeuse kloosterseksualiteit' (Beukes 2019a:3). Tog is dit terselfdertyd duidelik dat dit nié geld vir die latere Middeleeue nie: wie op soek was na 'aweregse nonne', sou hulle eerder in 'n Franse klooster in die elfde eeu, 'n Duitse klooster in die twaalfde eeu, 'n Vlaamse begynehof in die dertiende eeu, of dalk selfs in die Wit Klooster in Atripe in die vierde eeu kon vind. Van 'promiskuïteit', hetsy heteroseksueel of homoëroties, was daar onder die juk van intensiewe sensuur deur ingrypende wetgewing in die latere Middeleeue, kwalik sprake.

Daarby berus bostaande ideëhistoriese uiteensetting op die byeenbring van die resultate vanuit die spesialisnavorsing in die laat twintigste eeu waartoe die negentiende- en vroeë twintigste-eeuse mediëvalistiese karikatuur van seksuele verval in die Laat-Middeleeuse vrouekloosters nie toegang kón gehad het nie. Daar is dus historiese gronde vir hierdie mediëvalisme - maar juis nié met betrekking tot die latere Middeleeue nie. Hierdie mediëvalisme is dus ten diepste anachronisties wat nogeens 'n bevestiging van hierdie 'wesenlike kenmerk van mediëvalismes in die algemeen' is (Beukes 2021a:2). Wanneer die sosio-historiese werklikhede in Laat-Middeleeuse vrouekloosters statisties langs hierdie vyfdelige ideëhistoriese uiteensetting ontleed word, word die diskursiewe mistasting van hierdie soort mediëvalisme ineens selfs duideliker. Die kloosterwese in Laat-Middeleeuse Engeland word vervolgens as statistiese geleier gebruik om die bedenklikheid daarvan te ontmasker.

 

Die Laat-Middeleeuse vroulike kloosterwese in Engeland: 'n statistiese ontleding

In 'n unieke ontleding van die (soos hier genoem) mediëvalisme van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters, gebruik Knudsen (2012:80-91) die pastorale register van William Alnwick (d.1449),6 biskop van Lincoln, in die tydperk 1436 tot 1449, om 'n statistiese oorsig te bied van die voorkoms van seksuele aktiwiteite binne vrouekloosters in Engeland rondom die middel van die vyftiende eeu.7 In Alnwick se register is gedetailleerde verslae opgeneem van sy 79 pastorale besoeke aan 70 kloosters en kloosterskole gedurende die vermelde periode van 13 jaar. Aangesien Alnwick se register een van min uit die Anglo-Europese kerkhistoriese argief is wat volledig behoue gebly het, word dit, naas die register van aartsbiskop Eudes Rigaud van Normandië (sien Johnson 1991:112-130; vgl. Knudsen 2012:80) en die vyftiende-eeuse Duitse register van Johann Busch (sien Power 1922:670; vgl. Knudsen 2012:80) gebruik as 'n waardevolle verwysingbron vir Europese kloostergeskiedskrywing in die algemeen.

In die 13 jaar, tydens 79 besoeke aan 70 kloosters, het Alnwick 20 vrouekloosters8 onder sy direkte toesig dus besoek, asook 50 mannekloosters (wat deur Engeland en Wes-Europa heen normaalweg nie onder die toesig van die plaaslike biskop geval het nie). Hy het met 217 nonne en 528 monnike pastorale gesprekke gevoer wat onder eed9 afgeneem is (en daarom detecta genoem is).

Die detecta is in die biskop se persoonlike verslag (die comperta) byeengebring en die finale produk is as 'n betroubare weerspieëling van die uitkoms van die betrokke ondersoek beskou (vgl. Knudsen 2012:81). Hoewel die Laat-Middeleeuse kerklike owerhede 'n onderskeid getref het (in terme van strafsanksies) tussen seksuele wangedrag en apostasia (oftewel 'afvalligheid'), kan die twee oortredings op grond van Alnwick se register nie geskei word nie: wanneer nonne seksueel 'aweregs' opgetree het, het hulle óf reeds uit die klooster gedros (of was van plan om dit te doen), óf hulle het uit die kloosterbestaan na die sekulêre lewe teruggekeer op grond van die openbaarmaking van 'n seksuele verhouding met 'n monnik of non, of met 'n manlike of vroulike leek. Onvoorsiene swangerskappe was, gegewe die uitermate diskrete karakter van seksuele verhoudings binne kloosterkontekste deur geheel die Middeleeue, feitlik sonder uitsondering die bron van die openbaarmaking en die onvermydelike oorsaak van 'n non se permanente - en oneervolle - ontslag uit die kloosterlewe. Sodanige swangerskap is as 'n afgryslike morele wandaad van die man sowel as vrou wat daarby betrokke was, beskou en het dikwels tot die selfdood van een of beide partye gelei (sien Logan 1996:82-86; vgl. Knudsen 2012:81).

Opvallend handhaaf Alnwick in die vyftiende eeu steeds die terminologie wat in Damianus se Liber gomorrhianus in die elfde eeu gevestig is, met verwysing na sodomie10, maar veral met omvattende verwysings na lapsi11: Alnwick (1449:2:352)12 self gebruik die begrip de lapsu carnis (die 'gevallenheid van die vlees') in samehang met die meer tegniese begrip diffamatus cum (letterlik 'selfbevlekking saam met 'n ander'). Indien die seksuele konteks 'n getroude manlike of vroulike leek ingesluit het, is 'n addisionele klag van owerspel by die klagskrif gevoeg. Aangesien monnike en nonne geag is om 'broers en susters in Christus' te wees (en dit letterlik só verstaan is), is de lapsu carnis formeel met bloedskande (sacrilegi et incestus) geassosieer. Alnwick (1449:2:352) verwys byvoorbeeld na 'n monnik, ene Richard Gray, wat amptelik aangekla is van bloedskande nadat hy 'n non in 1442 swanger gemaak het. Sy pastorale verslae was daarby saaklik en eksplisiet: Alnwick (1449:2.73; 2.91) verwys, onder andere, na twee Augustynse skoolmonnike:13 John Shrewsbury, wat in 1441 verkla is omdat hy seks met 'n onbekende vrou in die kloktoring van die kloosterkerk in Dorchester-abdy sou gehad het, en John Bengeworth, wat met 'n non van Godstow sou weggeloop het.

Indien Alnwick se 79 besoeke aan die 20 vroue- en 50 mannekloosters vanaf 1436 tot 1349 in die ring van Lincoln ontleed word, val die ongelykheid tussen vroulike en manlike 'oortreders' dadelik op: 76 aanklagte van uitdruklike seksuele wangedrag is teen monnike ingebring en slegs 15 teen nonne; in beide gevalle met apostasia soms daarby ingesluit - terwyl 20 uit die 50 mannekloosters en slegs 5 uit die 20 vrouekloosters sodanige klagtes aanhangig gemaak het (sien Knudsen 2012:84). Uit die 76 aanklagte teen monnike is 43 uiteindelik skuldig bevind aan seksuele wangedrag, terwyl 8 uit die 15 aangeklaagde nonne skuldig bevind is aan sowel seksuele wangedrag as apostasia, en slegs één aan seksuele wangedrag as sodanig.

Afgesien van hierdie duidelike ongelykheid en dus aanduibare feit dat nonne seksueel veel minder aktief as monnike was, is dit wel ook duidelik dat monnike spoediger van seksuele wangedrag aangekla is as nonne: wanneer 'n non aangekla is, moes daar duidelik goeie gronde voor wees - en dít het selde gebeur. Daarby was 43 monnike by die 76 aanklagte teen manlike oortreders betrokke, terwyl slegs een non by meer as een aanklag teen vroulike oortreders betrokke was. Die meerderheid manlike oortreders het dus meer as een oortreding begaan, terwyl slegs een non meer as een oortreding begaan het: die meerderheid van die 76 manlike oortreders was dus in meer as een seksuele verhouding met verskillende mense betrokke terwyl dit vir net één non geld. Onder die 43 monnike wat in meer as een seksuele verhouding betrokke was, tel opvallend ook die ab van die vermoedelik berugte Dorchester-abdy (vgl. Alnwick 1449:2.83). Op maatskaplike vlak, na Knudsen (2012:85) se eerste gevolgtrekking, was die 'sedelose monnik' duidelik 'n veel meer algemene verskynsel as die 'aweregse non' - en nie andersom nie.

In 'n opvolgende ontleding van Alnwick se register waarin die geslag en burgerlike status van die aangeklaagde monnike en nonne se seksgenote oorweeg word, kom Knudsen (2012:86) tot 'n tweede stel gevolgtrekkings wat sy eerste gevolgtrekking supra duidelik ondersteun. Monnike se seksuele verhoudings word aangedui synde 5% met ander monnike, 42% met getroude vroue, 52% met onbekende vroulike leke en slegs 1% met nonne. Nonne se seksgenote word daarteenoor aangedui synde 11% met ander nonne, 11% met getroude mans, 55% met manlike kerklike ampsdraers en 22% met onbekende manlike leke. Enkele gevolgtrekkings kan hieruit gemaak word: (1) Nonne was proporsioneel duidelik meer betrokke in homoërotiese verhoudings as monnike (die 'vroulike sodomiet' was terminologies dus 'afwesig' maar maatskaplik wel duidelik nog sigbaar in die vyftiende eeu, desnieteenstaande die veertiende-eeuse kriminalisering van homoëroetiese verbintenisse); (2) Nonne was veel meer geneig om met manlike kerklike ampsdraers in seksuele verhoudings betrokke te raak as wat die geval was tussen monnike en vroue wat 'n kerklike of kloosterverbintenis gehad het (duidelik vanweë manlike ampsdraers se feitlik ongereguleerde toegang tot vrouekloosters, terwyl mannekloosters absoluut ontoeganklik vir enige vrou was); (3) Nonne het getroude mans grootliks vermy en eerder voorrang verleen aan 'onbekende' (waarskynlik ongetroude) manlike leke, terwyl monnike voorrang verleen het aan getroude vroue sowel as 'onbekende' (eweneens waarskynlik ongetroude) vroulike leke; (4) Homoërotiese verhoudings tussen monnike het teen 'n veel laer frekwensie voorgekom as wat Knudsen (2012:86) self, op grond van die tersaaklike negentiende- en vroeë twintigste-eeuse literatuur, voorsien het die geval sou wees. Van daadwerklike belang is dat Johnson (1991:112-130) tot nagenoeg dieselfde bevinding gekom het in haar soortgelyke statistiese ontleding van die Franse kloosterwese in die vyftiende eeu.

Statisties gesproke is die voorstelling van die 'aweregse non' binne die narratiewe konteks van die seksuele verval in die Laat-Middeleeuse vroulike kloosterwese duidelik oordrewe en 'n anachronistiese karikatuur: kortom, hierdie voorstelling en narratief kom neer op 'n mediëvalisme. Knudsen en Johnson se statistiese ontledings sou ondersteun kon word deur ontledings van tekste waarin die onderhawige mediëvalisme ook andersins diskursief voorkom, byvoorbeeld in Chaucer se uitdagende verhale (waarin seksuele onderwerping deur geïnstitusionaliseerde magsfigure en verkragting prominent figureer) (vgl. Cannon 2001:255-280; Rose 2001:21-60). Dit kom ook voor in die ontleding van Chaucer se provokatiewe tekste aan die hand van geldige sosiologiese vertrekpunte ten opsigte van juis die latere Middeleeue (soos in Friedman 2011:203-222; Pugh 2008:75-100), of die wyse waarop seksualiteit in die algemeen in die Engelse konteks van die latere Middeleeue verstaan is (soos in Mitchell-Smith 2013:101-121), of die wyse waarop Middeleeuse vroue literêr as 'altyd ondergeskik' gestel is (sien Chance 2007:1-22), of die verhouding tussen morele skuld en die toegewing aan juridies ongereguleerde seks in die 'innerlike lewe' van Middeleeuse vroue (sien Rider 2011:1-26). In elkeen van hierdie gevalle is die gevolgtrekking nagenoeg dieselfde: die karikatuur van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters was 'n modernistiese versinsel.

Die mediëvalisme van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters bevestig dat die Middeleeue reeds sedert die aanbreek van die Italiaanse Renaissance in die laaste dekades van die vyftiende eeu 'n navorsingruimte sowel as 'n ruimte vir fantasie was. Tot dieselfde mate waarin gepoog is om die Middeleeue wetenskaplik deur (post-Middeleeuse) Middeleeuse studies oop te dek, het die ideologisering van die Middeleeue momentum gekry. Reeds sedert die Renaissance is die Middeleeue soveel bedink as wat dit verbeel is - en in hierdie geval is 'n Middeleeuse konteks veel méér verbeel as bedink.

 

Die 'aweregse non' as 'n modernistiese fantasie: Heinrich Lossow (1843-1897) se Die Versündigung

Mediëvalistiek - die kritiek van mediëvalisme - is 'n deeldissipline van Middeleeuse studies, ongebonde aan genre, en daarom 'nie aangewese op uitsluitlik teksanalises of diskoersanalises nie' (Beukes 2021a:1-5). Mediëvalistiek maak, onder meer, voorsiening vir die aanspraak van die 'estetisering van die historiese objek van ondersoek' (Beukes 2021a:6). So 'n estetisering van die negentiende-eeuse fiksasie op die Laat-Middeleeuse 'aweregse non' word geïllustreer in 'n skildery wat rondom 1880 in München onder kommissie teen onbekende vergoeding voltooi en weens die 'skandalige' aard daarvan stil bekendgestel is: Heinrich Lossow (1843-1897) se Die Versündigung.14

Die skildery (olieverf op doek) beeld twee figure uit: in 'n dofverligte deel van 'n kloosterhoek kopuleer 'n 'non' en 'monnik' van agter deur 'n tralie-afskorting, met die skilder se perspektief van regs voor. Die tralies is kenmerkend van die soort afskortings wat in Middeleeuse kloosterkomplekse gebruik is om manne- en vrouevleuels streng te skei. Die vroulike figuur hou met beide hande aan die tralies vas, met haar bene opgetrek en haar voete geanker in die staalwerk. Die manlike figuur agter haar hou sy linkerhand op haar linkerbors en kyk skugter skuins na regs af asof in ontkenning van die werklikheid van die gebeure. Die verskil in estetiese aanbod en die liggaamlike dispariteit tussen die twee figure is opvallend: die 'non' is duidelik die seksuele protagonis in die ontmoeting en algeheel verlore in die dionisiese Rausch van die oomblik - terwyl die 'monnik' se gesigsuitdrukking 'n mengsel van skaamte en ingetoë wellus aandui. Sy kom met 'n rosige blos en breë heupe skoon en gesond voor, terwyl hy die indruk van onversorgde verwaarlosing skep. Met ander woorde, die 'aweregse non' word hier duidelik geprioritiseer, terwyl die 'sedelose monnik' as skaam en selfondersoekend voorgestel word. Die 'monnik' word voorgehou as bewus van die immorele kwaliteit van die ontmoeting - die 'non' kennelik nie.

Die ontmoeting dui, in terme van die plasing en posisie van die vroulike figuur, waarskynlik femorale kontak aan met inbegrip van die verduideliking supra dat seksuele kontak tussen monnike en nonne, wanneer dit ook al (en altyd in geheimhouding) plaasgevind het, feitlik sonder uitsondering vaginaal nie-penetrerend was juis om swangerskappe te vermy, en nonne wat die kloosters as maagde betree het se maagdelikheid ongeskonde te hou (vgl. Beukes 2019a:5). Volgens Damianus se insluitende hantering van die begrip sodomie het beide figure vanselfsprekend 'n nie-prokreatiewe opset, en hoewel albei eg Middeleeus konformeer aan die beginsel van geen oogkontak (veral ten opsigte van die manlike figuur se gedempte neerkyk en wegkyk), sou hulle as skuldig geag gewees het aan die oortreding van Damianus se definisie van 'sodomie'. Hierdie skildery sou die intensiteit van 'teen-natuurlikheid' en 'irrasionaliteit' juis regdeur 'n fisieke afskorting binne Franse kloosters gedurende die elfde eeu kon illustreer en as die perfekte estetiese komplement van Damianus se hervormingsbetoë in Liber gomorrhianus kon dien. Damianus sou self nie om 'n beter uitbeelding van die oorsaak van sy stryd teen 'sodomie' binne elfde-eeuse Franse kloosters kon vra nie. Dit is egter die probleem - die toneel is uitdruklik nié elfde-eeus nie.

Die kleding van die twee figure is 'n belangrike geleier vir 'n tydruimtelike interpretasie van die skildery. Die 'non' se hoofbedekking en nonnesluier is wit en haar nonnemantel donkergrys of swart met 'n nonnekruis duidelik sigbaar op haar bors. Die 'monnik' se mantel is donkerbruin - kenmerkend Franciskaans en daarom minstens dertiende-eeus. Die vroulike figuur se uitrusting is egter 'n idiosinkratiese ontwerp van die skilder self: dit korrespondeer met geen nonnegewaad van welke vroulike orde nie - selfs ook nie in die latere Middeleeue nie. Hoewel die kleur van die mantel en die grootte van die nonnekruis wel ooreenstem met dié van Augustynse nonne van die vyftiende eeu, is die hoofbedekking eerder te assosieer met dié van sekulêre Middeleeuse verpleegsters en nagenoeg ook in ooreenstemming met die hoofbedekkings van Franse begyne wat vanaf 1230 tot 1310 met siekesorg gemoeid was. Die vroulike figuur se gefabriseerde gewaad was egter nie 'n oorsig van hierdie anderins puntenerige negentiende-eeuse skilder nie: Lossow bied die 'non' in sy skildery doelbewus as 'n fiktiewe, gerekonstrueerde, verbeelde figuur aan. In stede daarvan om die makliker weg te volg en 'n gevestigde nonnegewaad in die skildery te gebruik, ontwerp die skilder self 'n verbeelde uitrusting. Enersyds konformeer die skildery aan die negentiende-eeuse mediëvalisme van die 'aweregse non' binne die Laat-Middeleeuse kloosterwese; andersyds gee die skilder subtiele aanduidings dat hierdie 'non' 'n onwerklikheid is. Lossow se 'aweregse non' is daarom 'n voorbeeld van 'n selfbewuste modernistiese fantasie om uit die impasse te ontsnap wat deur negentiende-eeuse Victoriaanse seksuele repressie gelaat is - soos wat elke ander negentiende- en vroeë twintigste-eeuse aandrang op die werklikheid van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters inderdaad fiktief was.

 

Samevatting en konklusie

'n Oorsig van die voorkoms van seksuele aktiwiteite binne die kloosterwese in die Middeleeuse Latynse Weste vanaf die vierde tot die veertiende eeu dui aan dat intieme kontak tussen kloosterlinge meer dikwels as slegs sporadies voorgekom het, hoewel altyd die uitsondering eerder as die reël: dit geld vir ontwikkelings van die vierde tot sesde eeu (na Sjenoet en Augustinus se voorskrifte), die nawerking van die Paenitentiales en biskopstatute vanaf die sewende tot die tiende eeu, Petrus Damianus se kloosterhervormings in die elfde, die vroulike verset teen Damianus se 'taboe' in die twaalfde en dertiende eeu, en uiteindelik die juridiese regulering en kriminalisering van seksualiteit in die veertiende eeu - wat die eeueoue voorkoms van seksuele kontak binne kloosters effektief beëindig het. Vanaf die 1340's het seksuele aktiwiteite binne kloosters dramaties afgeneem wat statisties geverifieer kan word deur verwysing na die lae voorkoms daarvan in die Engelse en Franse kloosterwese in die latere Middeleeue, soos aangedui in die ontledings van C.H. Knudsen en P.D. Johnson. Die wyd gepubliseerde bewerings van seksuele verval in Laat-Middeleeuse vrouekloosters is 'n oordrewe, anachronistiese karikatuur en juis daarom 'n mediëvalisme geskoei op 'n negentiende- en vroeë twintigste-eeuse gerepresseerde seksuele fiksasie. 'n Voorbeeld van die fiksie van die seksuele verval in laat-Middeleeuse vrouekloosters word tot uitdrukking gebring in Henrich Lossow se negentiende-eeuse Die Versündigung wat die Laat-Middeleeuse 'aweregse non' as bloot 'n kras modernistiese fiksie bevestig.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van dié artikel nie.

Outeursbydrae

J.B. was die enigste skrywer van hierdie artikel.

Etiese oorwegings

Die artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing, sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel is befonds deur die Departement Filosofie en Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studies geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die skrywer nie.

 

Literêre verwysings

Alnwick, W., 1436-1449, (English translation 1915), Records of visitations held by William Alnwick, bishop of Lincoln 1436-1449, A.H. Thompson (ed. & transl. 1915), Canterbury & York Society, London.         [ Links ]

Augustinus, 1865, Epistolae quas scripsit reliquo vitae tempore (ab anno 411 ad 430), J-P. Migne (ed.), Patrologia Latina 33, pp. 471-1024, viewed 01 November 2021, from http://patristica.net/latina/.         [ Links ]

Beukes, J., 2019a, '"Foucault se sodomiet": Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), a5216. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216        [ Links ]

Beukes, J., 2019b, 'Hildegard von Bingen as 'n 12de-eeuse filosoof-teoloog', Litnet Akademies 16(1), 64-102, besigtig 11 Oktober 2021, van https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/06/LitNet_Akademies_16-1_Beukes_64-102.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2019c, '"Maak die wêreld nie tot bespotting nie": 'n Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250)', Verbum et Ecclesia 40(1), a1965. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965        [ Links ]

Beukes, J., 2020a, Middeleeuse filosofie, Volumes I & II, Akademia, Pretoria.         [ Links ]

Beukes, J., 2020b, 'Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: 'n Ideëhistoriese oorsig', Verbum et Ecclesia 41(1), a2074. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074        [ Links ]

Beukes, J., 2020c, 'Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250-1310)', Litnet Akademies 17(2), 200-225, besigtig 12 Oktober 2021, van https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Beukes_204-229.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2020d, 'Die triomf van 'n post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1), a5672. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5672        [ Links ]

Beukes, J., 2020e, 'The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl.1240)', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(1), a5865. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865        [ Links ]

Beukes, J., 2020f, 'The Dominican Robert Kilwardby (ca.1215-1279) as schoolman and ecclesiastical official', Verbum et Ecclesia 41(1), a2065. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2065        [ Links ]

Beukes, J., 2020g, 'Histoire de la sexualité '4' (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing', Verbum et Ecclesia 41(1), a2078. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078        [ Links ]

Beukes, J., 2021a, 'Middeleeuse studies, Mediëvalistiek en Mediëvalisme: Kritiese onderskeide en samehange', Verbum et Ecclesia 42(1), a6837. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2236        [ Links ]

Beukes, J., 2021b, 'Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: 'n Foucaultiaanse ideëhistoriese interpretasie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), a6880. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880        [ Links ]

Beukes, J., 2021c, 'Raptus en die "vorm van die wil": 'n Transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair', Verbum et Ecclesia 42(1), a2310. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2310        [ Links ]

Beukes, J., 2021d, 'The case for post-scholasticism as an internal period indicator in Medieval philosophy', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), a6837. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6270        [ Links ]

Beukes, J., 2021e, 'Michel Foucault on Methodius of Olympus (d.ca.311) in Les aveux de la chair: Patrick Vandermeersch's analysis contextualised', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), a6912. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6912        [ Links ]

Beukes, J., 2021f, 'Die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande in Foucault se Histoire de la sexualité', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(4/2), 1287-1310. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-2a4        [ Links ]

Beukes, J., 2021g, '"Skoolordes" in stede van "bedelordes": 'n Heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendīcāns in die (Afrikaanse) Middeleeuse vakregister', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 77(4), a6837. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6837        [ Links ]

Boswell, J., 1980, Christianity, social tolerance and homosexuality: Gay people in Western Europe from the beginning of the Christian era to the fourteenth century, Chicago University Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Brooten, B.J., 1996, Love between women: Early Christian responses to female homoeroticism, Chicago University Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Burchard, J., 1898, 'Decretum 19.5', in H.J. Schmitz (ed.), Die Bussbücher und das kanonische Bussverfahren nach handschriftlichen Quellen dargestellt, pp. 1-56, HJ Schmitz Verlag, Düsseldorf.         [ Links ]

Cannon, C., 2001, 'Chaucer and rape: Uncertainty's certainties', in E. Robertson & C.M. Rose (eds.), Representing rape in Medieval and early modern literature, pp. 250-280, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Chance, J., 2007, The literary subversions of Medieval women, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Coulton, G.C., 1923, Five centuries of religion, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Daichman, G.S., 1986, Wayward nuns in Medieval literature, Syracuse University Press, New York, NY.         [ Links ]

Damianus, P., 1049, (English translation 1982), Liber gomorrhianus, J.P. Payer (transl. 1982), Wilfrid Laurier University Press, Waterloo.         [ Links ]

Finsterwalder, P., 1925, 'Zwei Bischofskapitularien der Karolingerzeit, Zeitschrift der Savigny-Stiftung für Rechtsgeschichte, Kanonistische Abteilung 14(1), 336-383. https://doi.org/10.7767/zrgka.1925.14.1.336        [ Links ]

Foot, S., 2000, Veiled women, Ashgate, Aldershot.         [ Links ]

Foucault, M., 1976, (English translation 1978), Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir, Gallimard, Paris. (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge, transl. R. Hurley 1978, Pantheon, New York, NY).         [ Links ]

Foucault, M., 2018, (English translation 2021), Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, Bibliothèque des Histoires, Gallimard, Paris. (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh, transl. R. Hurley 2021, Pantheon, New York, NY).         [ Links ]

Friedman, J., 2011, 'Between Boccaccio and Chaucer: The limits of female interiority in the Knight's Tale', in J. Rider & J. Friedman (eds.), The inner life of women in Medieval romance literature: Grief, guilt, and hypocrisy, pp. 203-222, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Hagen, H., 1877, Carmina Medii Aevi maximan partem inedita. Ex bibliothecis Helveticis collecta, Georgius Frobenius, Bern.         [ Links ]

Hamburger, J.F. & S. Martin (eds.), 2008, Crown and veil: Female monasticism from the fifth to the fifteenth centuries, Columbia University Press, New York, NY.         [ Links ]

Johnson, P.D., 1991, Equal in monastic profession: Religious women in Medieval France, Chicago University Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Jordan, M., 1997, The invention of sodomy in Christian theology, Chicago University Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Knudsen, C.D., 2012, 'Promiscuous monks and naughty nuns: Poverty, sex, and apostasy in later Medieval England', in C. Kosso & A. Scott (eds.), Poverty and prosperity in the Middle Ages and Renaissance, pp. 75-92, Brepols, Turnhout.         [ Links ]

Logan, F.D., 1996, Runaway religious in Medieval England, c.1240-1540, Cambridge University Press. Cambridge.         [ Links ]

McNeill, J. & Gamer, H., 1938, Medieval handbooks of penance: A translation of the Principal Libri Poenitentiales, University of Columbia Press, New York, NY.         [ Links ]

Mills, R., 2015, Seeing sodomy in the Middle Ages, Chicago University Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Mitchell-Smith, I., 2013, 'The double blind of chivalric sexuality in the late-Medieval English romance', in J.N. Brown & M. Segol (eds.), Sexuality, sociality, cosmology in Medieval literary texts, pp. 101-121, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Mundy, J., 1973, Europe in the high Middle Ages, 1150-1309, Basic Books, New York, NY.         [ Links ]

Oliva, M., 1998, The convent and the community in late Medieval England: Female monasteries in the diocese of Norwich, 1350-1540, Boydell Press, New York, NY.         [ Links ]

Payer, J.P. (intr. & transl), 1982, Peter Damian. Liber gomorrhianus, Wilfrid Laurier University Press, Waterloo.         [ Links ]

Power, E.E., 1922, Medieval English nunneries, c. 1275 to 1535, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Prendergast, T. & Trigg, S. 2009, 'The negative erotics of medievalism', in E. Scala & S. Federico (eds.), The post-historical Middle Ages, pp. 117-138, Palgrave Macmillan, Hampshire.         [ Links ]

Pugh, T., 2008, Sexuality and its queer discontents in Middle English literature, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Rider, J., 2011, 'The inner life of women in Medieval romance literature, in J. Rider & J. Friedman (eds.), The inner life of women in Medieval romance literature: Grief, guilt, and hypocrisy, pp. 1-26, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Roden, F.S., 2001, 'Medieval religion, Victorian homosexualities', in C.A. Simmons (ed.), Medievalism and the quest for the 'real' Middle Ages, p.115-130, Frank Cass, London.         [ Links ]

Rose, C.M., 2001, 'Reading Chaucer reading rape', in E. Robertson & C.M. Rose (eds.), Representing rape in Medieval and early modern literature, pp. 21-60, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

Salisbury, J.E., 1990, Medieval sexuality: A research guide, Garland, New York, NY.         [ Links ]

Salisbury, J.E. (ed.), 1991, Sex in the Middle Ages. A book of essays, Routledge, London.         [ Links ]

Schibanoff, S., 2001, 'Hildegard von Bingen and Richardis of Stade: The discourse of desire', in F.C. Sautman & P. Sheingorn (eds.), Same sex love and desire among women in the Middle Ages, pp. 49-83, Palgrave MacMillan, New York, NY.         [ Links ]

Sjenoet (Shenoute / Sinut), 1913, De vita monachorum, in J. Leipoldt (ed.), Sinuthii Archimandritae vita et opera omnia, Volume IV, Corpus Scriptorum Christianorum Orientalium 73, Gabalda, Paris.         [ Links ]

Thompson, A.H. (ed. & transl.), 1915, Records of visitations held by William Alnwick, bishop of Lincoln 1436-1449, Canterbury & York Society, London.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Johann Beukes
beukescj1@ufs.ac.za

Received: 05 Nov. 2021
Accepted: 21 Jan. 2022
Published: 29 Apr. 2022

 

 

1. Monacha: Deponam velum, deponam cetera quaeque, ibit et ad lectum nuda puella tuum. Clericus: Si uelo careas, tamen altera non potes esse. Vestibus ablatis non mea culpa minor. (Dinamiese vertaling van 'n passasie uit Carmina Medii Aevi maximam partem indeta [in Hagen 1877:206; via Knudsen 2012:75]).
2. Vir 'n datering van die 'ideëhistoriese raamwerk van die Middeleeue (410-1464) en 'n sesdelige interne periodisering van die Middeleeuse filosofiegeskiedenis (met betrekking tot die post-Romeinse, die Karolingiese, die post-Karolingiese, die vroeg-skolastiese, die hoog-skolastiese en die post-skolastiese periodes)', sien Beukes (2020a:I:12-14; vgl. Beukes 2020e.v.:1-2). Vir 'n uitgebreide verantwoording van die interne periodisering van die post-skolastiese periode as sodanig, sien Beukes (2021d:1-11). Volgens hierdie indeling word die 'latere Middeleeue' bestryk deur die tweede helfte van die veertiende eeu tot die sewende dekade van die vyftiende eeu en as sodanig hier gehandhaaf.
3. Die begrip homoërotiek word hier gebruik as 'n 'onpejoratiewe sinoniem vir die scientia sexualis (na Foucault 1976:47, 67-74) begrip homoseksualiteit, en verwys na sowel langtermyn-verbintenisse as wisselvallige seksuele kontak tussen persone van dieselfde geslag' (Beukes 2020b:2; vgl. Beukes 2019a:1-3).
4. Epistolae quas scripsit reliquo vitae tempore het 'in die Middeleeuse kloostergeskiedenis 'n toenemende belangrike rol gespeel, omdat die teks die basis vir die regulering van die vroulike kloosterwese ook buite Noord-Afrika gevorm het' (Beukes 2021b:7 [vn.23]; vgl. Brooten 1996:351 [vn.203]).
5. Vergelyk die volgende twee passasies uit 'n behoue twaalfde-eeuse manuskrip van korrespondensie tussen twee nonne vanuit 'n klooster in Tegernsee in Beiere (in Beukes 2020b:6 [vn.18]): 'Dit is jy wat ek met my hele hart liefhet, ek het jou lief bo alles, jy alleen is my begeerte [
] soos 'n tortelduifie wat haar maat verloor het, staan ek alleen op 'n tak en ek sal rou totdat ek jou weer kan bemin'. Haar geliefde antwoord: 'As ek jou soene onthou, en hoe jy my borste met sagte woorde vertroetel het, wil ek sterf, want ek kan jou nie sien nie. Kom terug na my en na ons huis in die klooster, ek kan nie langer sonder jou leef nie'.
6. Hierdie biskop van Lincoln moet nie verwar word met die hoog aangeskrewe skolastikus en Engelse Franciskaan Willem van Alnwick (ca.1275-1333) nie (sien Beukes 2020a:II:1051-1057).
7. Alnwick se pastorale register is geredigeer en vertaal deur A.H. Thompson in 1915 (Records of visitations held by William Alnwick, bishop of Lincoln 1436-1449; sien Thompson red. & vertaler, 1915).
8. Let daarop dat manne- en vrouekloosters soms gehuisves is in dieselfde kompleks wat net struktureel geskei is. Alnwick het dus soms 'n enkele perseel besoek om die manlike en vroulike kloosterlinge in beide vleuels in die betrokke kompleks te ondervra. Die kenmerkende afskorting van geslagsgeskeide vleuels in abdye is veral ter sake in die bespreking van Lossow se verbeelde Die Versündigung infra.
9. In hierdie opsig verteenwoordig die detecta 'n Laat-Middeleeuse vorm van die Westerse 'bekentenisse van die vlees' vanaf die laatpatristiekwat dien as 'n voorspel tot negentiende-eeuse psigoanalise, soos deur Foucault (1976; 2018) nagespeur in die eerste en vierde volumes van Histoire de la sexualité (La volonté de savoir en Les aveux de la chair [vgl. Beukes 2021e:1-3, 2020g:1-14]). Vir 'n oorsig oor die komplekse samehang van die vier volumes in die reeks Histoire de la sexualité (met inbegrip van die huidige redigering van tersaaklike manuskripte en die moontlike publikasie van vyfde en sesde bande wat in die vooruitsig gestel word, sien Beukes [2021 e.v.])
10. Damianus se geslagsinsluitende begrip sodomie is in die latere Middeleeue nie meer geslagsonbepaald gebruik nie en slegs van toepassing gemaak op instemmende peniel-anale seks tussen mans, of andersins met verwysing na die kriminele anale verkragting van 'n man of 'n vrou - Damianus se 'vroulike sodomiet' het dus minstens terminologies deur die loop van die veertiende eeu in onbruik geraak.
11. Damianus (1049:VII) het met die begrip lapsi 'aanvanklik slegs "gevalle priesters" in gedagte gehad, waar priesters wat (met mekaar) in homoërotiese verbintenisse gewikkel was mekaar se konfessies sou afneem, of konfessies van nie-ampsdraers afgeneem het terwyl hulle self praktiserend "sodomities" was' (Beukes 2019a:10; sien ook IX, waar homoërotiese kontak plaasvind juis tydens die afneem van die konfessie) - en 'tog is dit duidelik dat Damianus ook die morele integriteit van die ordes in gedagte het en "sodomitiese" monnike en nonne daarom by die oorspronklike lapsi ingesluit het' (Beukes 2019a:10; sien Damianus 1049:III,V,VIII).
12. Verwysings na Alnwick (1449) geskied per verslagnommer, gevolg deur die bladsynommer van die betrokke verslag.
13. Vir 'n verantwoording waarom na 'skoolmonnike' en nie na 'bedelmonnike' verwys word nie, sien Beukes (2021g:1-3).
14. Alhoewel Die Versündigung (skrywers insiens) nie pornografies is nie, sou die plasing van 'n digitale afdruk daarvan in 'n akademiese vaktydskrif onvanpas wees. Lossow, wat grootliks in stilleweskilderye gespesialiseer het, het wel ander werke die lig laat sien wat, selfs libertyns beskou, as inderdaad pornografies bestempel sou kon word. Digitale afdrukke met hoë resolusie van Die Versündigung is vryelik aanlyn in die openbare domein beskikbaar en die belangstellende leser kan dit na eie oordeel opsoek. Die skildery is deur die Duitse kunshandelaar Von Zezschwitz op veiling geplaas op 18 November 2008 teen 'n aanvangsbod van
5200 met die volgende katalogus-aanduiding: Der Maler Heinrich Lossow arbeitete zunächst im Atelier seines Vaters, dem Bildhauer Arnold Hermann Lossow. Anschließend ging er als Schüler von Karl Theodor von Piloty und Arthur Ramberg an die Münchner Akademie. Er schuf in der Folgezeit eine Reihe von Genrebildern im Stil und aus der Zeit des Rokoko, daneben illustrierte er Bücher. Für den Münchner Justizpalast schuf er ein Deckengemälde. Seit 1885 war er Konservator der Schleißheimer Galerie. Heinrich Lossow gehörte zu den Vertretern gründerzeitlicher Salonmalerei aus dem Piloty-Kreis. Öl auf Leinwand, auf Karton. 55 x 37 cm. Am Rand rechts unten sign. Heinr. Lossow. Gerahmt. Ecke rechts unten leicht bestossen; an den Rändern Reißnagellöcher; stellenweise leichte Kratzspuren in der Oberfläche. Geen verkoop-inligting oor die skildery, insluitende die finale bodbedrag, is beskikbaar gemaak nie. Sien https://www.liveauctioneers.com/item/5908725_15-heinrich-lossow-the-sin-ca-1880.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons