SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.42 número1The parable of the persistent widow and the unjust judge: A replica of the suffering of widows in ZimbabweTrinity disruption índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Verbum et Ecclesia

versión On-line ISSN 2074-7705
versión impresa ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.42 no.1 Pretoria  2021

http://dx.doi.org/10.4102/ve.v42i1.2310 

ORIGINAL RESEARCH

 

Raptus en die 'vorm van die wil': 'n Transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair

 

Raptus and the 'form of the will': A transgressive reading of Foucault's interpretation of Augustine in Les aveux de la chair

 

 

Johann BeukesI, II

IDepartment of Philosophy and Classics, Faculty of Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa
IICenter for the History of Philosophy and Science, Faculty of Philosophy, Theology and Religious Studies, Radboud University, Nijmegen, Netherlands

Correspondence

 

 


ABSTRACT

This article presents a reading of Michel Foucault's (1926-1984) interpretation of Augustine of Hippo's (354-430) views on sex in Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair), published in February 2018 at Gallimard in Paris under editorship of Frédéric Gros. The article contributes to the reception and ongoing analyses of Les aveux de la chair by presenting a transgressive reading of the Augustinian prioritisation of the will, and Foucault's emphasis on the Augustinian notion of sexual desire as the 'form of the will'. Raptus or 'divine orgasm' is presented from the texts of several female mystics from the central Middle Ages as an example of a sexual context in which the will is unable to claim the pinnacle position Augustine attributed to it, precisely as a form of identity - and language transgressing eroticism in the 'mystical presence of God'. Foucault's reading of John Cassian's (ca.360-435) 'battle for chastity' is presented as the discursive background of his interpretation of Augustine, followed by a presentation of raptus as a resource to reconsider Augustine's prioritisation of the will (and the 'problem of the libido') in sexual contexts.
INTRADISCIPLINARY AND/OR INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: Foucault's reading of the church and desert fathers in Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair) impacts early Medieval philosophy, early Medieval history, church history, patristics, philosophy of religion and sociology of religion. Since these proximate disciplines are affected by Foucault's text, they may well take note of the ongoing examinations of this recently edited work.


 

 

Inleiding: Die diskursiewe ontwikkeling na die 'bekentenisse van die vlees' en die 'vorm van die wil' in die reeks Histoire de la sexualité

Met inagname van omvangryke ontledings in die drie gepubliseerde volumes van sy seksualiteitsgeskiedenis (Histoire de la sexualité 1-3; Foucault 1976, 1984a, 1984b), was geen ander kerkvader of vroeë Middeleeuse denker, soos tot uitdrukking gebring in die laaste afdeling van die 'vierde' volume in die reeks Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, (Foucault 2018; ed. Gros 2018; cf. Beukes 2020a:1-14), vir Michel Foucault (1926-1984) belangriker in die ordestelling en legitimering van seks binne die huwelik en vir die herdefiniëring van die mens as 'n subjek van seksuele begeerte as juis Augustinus van Hippo (354-430) nie.1 Hierdie twee oorwegings - die huwelik en seks - het na Foucault se interpretasie van Augustinus se seksbeskouing 'n ongeëwenaarde invloed op die Westerse Christendom uitgeoefen en lê steeds ten grondslag van modern-Westerse opvattinge oor seksuele identiteit. Foucault se interpretasie van die seksbeskouinge van die kerk- en woestynvaders, in die oorgang vanaf die patristiek na die vroeë Middeleeue, gaan naamlik direk terug na sy kritiek op psigoanalise in die eerste volume van die reeks Histoire de la sexualité (met die enigsins Nietzscheaanse titel La volonté de savoir; Foucault 1976): Seksuele begeerte word nogeens in die later geredigeerde (ed. Gros 2018) Les aveux de la chair (Foucault 2018) aangedui as nie bloot 'n natuurlike aandrif nie, maar die produk van 'n spesifiek Christelike geskiedsaanbod en Christelike vorme van magsuitoefening in die pastoraat. Die gevalle en oersondige mens is, volgens Foucault se interpretasie van Augustinus, nie in staat om die fisieke oorweldiging van seksuele begeerte onder beheer te bring nie. Seks sou, volgens Augustinus, hipoteties, wel in die tuin van Eden (na die beskrywing in Genesis 3) kon voorgekom het (cf. Brown 2021:1:10:30-1:11:14), máár sou voor die sondeval gekenmerk gewees het deur die afwesigheid van wellus (waarna hier verwys sal word as die 'drifte' [plaisirs]) en die volledige onderwerping van seksuele begeerte aan die vrygeskape wil. Dit is slegs ná die sondeval (per verinnerliking van die verbode vrug) dat seks 'n sondige karakter verkry, omdat die eens vrye wil eers van daardie seksuele skuinsval af oorheers word deur sodanige 'begeerte'. Dit is waarom die man en vrou tóé eers skaamte ervaar het oor hul eie en die ander se naaktheid (cf. Leezenberg 2018a:4).

Foucault (2018:342-350) betoog egter dat Augustinus se seksbeskouing nie 'n oorspronklike ontwikkeling in die ideëgeskiedenis aandui nie, maar wesenlik 'n voortsetting van seksuele opvattinge in die heidense oudheid behels: Die seksuele handeling behoort naamlik nie seksuele plesier as sodanig voor oog te hê nie, maar gemoeid te wees met die voortgaande formering of vorming van die subjek. Hierdie vorming van die subjek is in die patristiek vanaf die middel van die vierde eeu binne seksuele konteks oorwegend vertaal as voortplantingsopset - 'n begrip wat juis om hierdie rede vir Augustinus, as 'n oorwegend vyfde-eeuse denker, wesenlik belangrik was. Augustinus bring, volgens Foucault, wel 'n belangrike verandering aan, hoewel die opvatting dat seksuele begeerte aan die wil wil ontsnap, nie nuut was nie. Volgens Foucault is die werklik oorspronklike element by Augustinus dat hy seksuele begeerte vanuit sy epistemologiese prioritisering van die wil beskryf het as die 'vorm van die wil'; dit wat die wil wil, oftewel dit 'wat van die siel 'n subjek maak' (Foucault 2018:344).

In hierdie artikel word bostaande openingstellinge verken, met as eerste oogmerk 'n ontleding van Foucault se interpretasie van Augustinus se seksbeskouing in Les aveux de la chair. Tweedens lewer die artikel 'n oorspronklike bydrae tot hierdie resepsiekonteks deur 'n transgressiewe lesing aan te bied van Augustinus se prioritisering van die wil en Foucault se nadruk op Augustinus se tipering van seksuele begeerte (op grond van daardie prioritisering, maar met inbegrip van die 'probleem van die libido') as die 'vorm van die wil'. Raptus of 'goddelike orgasme' word naamlik vanuit die tekste van 'n aantal vroulike mistici uit die sentrale Middeleeue voorgehou as voorbeeld van 'n seksuele konteks waarin die wil geen aanspraak kán rig nie, om daarmee Augustinus se epistemologiese posisie (die prioritisering van die wil in die voortgaande vorming van die subjek) subtiel te problematiseer.

Die mees uitstaande kenmerk van die vermelde eerste band in die reeks Histoire de la sexualité (La volonté de savoir) was ongetwyfeld Foucault (1976:1-16) se aanval op die sogenaamde repressiehipotese, wat in die 1960's buitengewoon gewild in psigoanalitiese en Marxistiese kringe was (Beukes 2020d:2-3).2 Reeds in La volonté de savoir betoog Foucault (1976:19-20) dat die 'waarheid aangaande die vlees' beken moes word ten einde deur die waarheidsbekentenis getransformeer te kon word. Die waarheidsbekentenis is selftransformerend in die sin dat dit gerig is op die driedelige bevestiging van die individuele subjek of 'Self'. Dit geskied deur die belydenis van geloof, die openbare skuldbekentenis en die uitdruklike blykgewing van persoonlike skuld, byeengebring onder die begrippe bekentenis, selfondersoek en geestelike worsteling, onder begeleiding van 'n pastorale figuur. Aan die hart van hierdie selfbevestiging deur bekentenis, lê dialekties selfaflegging of selfopoffering. Hierdie bekentenisse, selfondersoeke en geestelike worstelinge kan geag word 'n voortsetting te wees van parresia, die antieke kuns tot selftransformasie deur openlik die waarheid te praat, ongeag die gevolge. Foucault (1976:32-33) dui op hierdie parresiaanse spoor aan dat seksuele praktyke deur sodanige bekentenisse 'gesubjektiveer' is, bedoelende dat seks, per definisie as 'n relasionele aangeleentheid, gewysig is tot 'n selfgerigte ondersoek na die eie of subjektiewe seksuele begeertes. Die selfeksaminering ten opsigte van die eie drifte subjektiveer die selfondersoekende subjek ineens as 'n regsubjek, onderhewig aan die een of ander wet. Hierdie temas word grondig uitgewerk in die latere Les aveux de la chair.

In sy Collège de France Leçons 19753 (gelewer op 19 Februarie 1975, dus ruim voor die publikasie van La volonté de savoir in 1976; cf. Karskens 2019:577 [vn.70]), ondersoek Foucault die Pauliniese en latere Christelike onderskeid tussen, enersyds, die liggaam (corps) en liggaamlike genietinge (plaisirs), en andersyds, die (sondige) 'vlees' (chair) en 'vleeslike begeertes' of wellus (désirs), maar dáár aan die hand van 17de-eeuse biegtekste. Foucault betoog aan die hand van die vertrekpunt waarmee La volonté de savoir 'n jaar later sou begin (en Les aveux de la chair in 2018 met sy bespreking oor Augustinus sou eindig) dat dit nie soseer gaan om die bekentenis van sondige wellus in die seksuele gemeenskap met ander subjekte nie, maar om die verwoording (en voortgaande openbaarmaking) van eie seksuele begeertes en intieme gedagtes, altyd en steeds in diens van 'n 'wil tot wete'. La volonté de savoir stel liggaam en vlees op dié wyse genuanseerd teenoor mekaar. Hierdie teenoorstelling word verleng in die tipering van die onderskeid tussen ars erotica en scientia sexualis as 'kultureel', naamlik tussen vergange nie-Westerse kulture (Rome daarby inbegrepe) en die moderne, Westerse, post-Cristelike kultuur. Hierdie laaste teenoorstelling word deur Foucault sistematies in La volonté de savoir uitgewerk, met die onderneming (Foucault 1976:208) dat 'n reeks opvolgwerke 'n 'teenaanval' op die 'moderne seksualiteitsverklaring' sal behels, wat nie sal 'steun op vlees en begeerte' (chair en désirs) nie, maar 'op die liggaam en die liggaamlike genietinge' (corps en plaisirs).

In die tweede en derde bande van Histoire de la sexualité, L'usage des plaisirs en Le souci de soi, fokus Foucault gevolglik, onder meer, op die probleem van verlies aan seksuele beheer wanneer die seksuele handeling (veral ten opsigte van die verlies aan selfbeheer tydens orgasme) binne 'n bepaalde ekonomie van plesier gebed moes word ten einde die subjek steeds in staat te stel om aan die Hellenistiese ideaal van selfbemeestering te voldoen (cf. Chevallier 2021). In Les aveux de la chair word seksuele aktiwiteit egter geproblematiseer deur meer uitdruklik te fokus op seksuele begeerte of (Augustynse) libido, waar die seksuele handeling nie binne 'n ekonomie van plesier gebed word nie, maar binne 'n ekonomie van waarheid. Aangesien die opheffing van die kwaad of 'verlossing van die bose' in die vroeë Christelike ervaring gekoppel is aan ware selfkennis (wat die openbaarmaking of veruitwendiging van daardie kennis veronderstel, aangesien die subjek se eie oordeel nie vertrou sou kon word nie), moet die subjek sigself aan 'tegnieke van die Self' onderwerp (waaronder die bieg onder pastorale beleiding) ten einde 'die Self te ken' sodat die waarheid dat hierdie Self inderdaad deur seksuele begeerte besete is, kan manifesteer (cf. Chevallier 2021). Beken ter wille van ken: ten einde kennende subjek te kon wees, moes die vroeë Christelike subjek eers en eerstens 'n bekennende subjek wees.4

Volgens die betoog in L'usage des plaisirs het die Hellenistiese vryburgers 'n morele stelsel ontwikkel waarin seksuele ontmoetings as opbouend tot die gebruik van die drifte verantwoord kon word, mits aan die norm van 'aktiewe selfhandhawing', oftewel aan die Hellenistiese sin vir 'selfbemeestering', voldoen kon word. Die Hellenistiese sekssisteem voltrek dus aan die hand van maatskaplike oorwegings en nie biologiese gegewens (byvoorbeeld ouderdom in die geval van pederastie) of geslagsbepaaldheid nie. Dit beteken nié die sanksionering van oordaad nie. Binne die raamwerk van Hellenistiese (veral Aristoteliese) etiek en estetika het phronesis (φρόνησῐς) 'n riglyn vir matigheid binne praktiese wysheidskontekste aangebied wat seksuele aangeleenthede ingesluit het. 'Natuurlik' soos wat hulle die drifte geag het, het die Grieke rekening gehou met die dionisiese potensiaal vir oorrompeling en gevolglike selfvernietiging deur reslose toegewing aan die drifte. Die Hellenistiese ideaal vir die verantwoorde gebruik van die drifte sou dus met hierdie middeweg rekening wou hou sónder om voorskriftelik daaroor te wees. Die vryburger moes die gebruik van die drifte verantwoord en ontwikkel binne die raamwerk van 'sy' eie individualiteit (wat die regte oomblik of kairos [καιρός] vir een is, kan vir iemand anders juis nié dit wees nie; cf. Foucault 1984a:57-59). Hierdie vry, eksistensiële en kairos-gedrewe benadering tot die gebruik van die drifte transformeer seksuele etiek tot 'n seksuele estetika, wat volgens Foucault (1984a:78-94) op 'n ewewigtige ars erotica dui, waarin die verhouding tussen waarheid en vryheid tot estetiese uitdrukking gebring word en daar bo die andersins stompsinnigheid van seks ter wille van seks uitgestyg word. Boonop bring Foucault (1984a:76-78, 80-81) hierdie Hellenistiese aanbod van matigheid in ars erotica in verband met askesis (ἄσκησις), wat volgens hom nie (soos in die latere Bisantynse en Latyns-Westerse kloosterwese) op die sarkofobiese afwysing van alle seksuele aktiwiteite en verbintenisse dui nie, maar 'n estetiese ontwikkeling, ordening of tegnisering (τέχνη) van die Self deur dissipline, inoefening en bemeestering (Foucault 1984a:90, 138-139). Sodanige 'asketiese selfpraktyke' het die oogmerk om die (ook seksuele) lewe 'tot 'n kunswerk te transformeer' (Foucault 1984a:89-92). L'usage des plaisirs berei hiermee die diskursiewe bedding voor vir 'n meer uitgebreide ontwikkeling van die verhouding tussen seks en die ontwikkeling of 'versorging' van die Self in Le souci de soi.

Hierdie derde band van Histoire de la sexualité verfyn die Hellenistiese ars erotiese aanbod in die tweede band uitdruklik binne Romeinse konteks. Die gedissiplineerde, selfontwikkelende toegewing aan die 'werke van Afrodite' geld in beide die Hellenistiese konteks (ta aphrodisia) as die Romeinse (deur hulle die venera genoem, na die Latynse verwysing vir Afrodite, Venus). Foucault (1984b:67-68) betoog egter dat die ontwikkeling vanaf ἄσκησις en τέχνη by die Grieke binne die Romeinse seksuele etos van die venera rééds begin dui op begeerte - wat later die tiperende oorsaak vir die toegewing aan die drifte binne die vroeë Christelike moraal sou word. Die vrye en eksistensiële estetisering van seks deur die Grieke begin sodoende plek maak vir die Romeinse prioritisering van deïndividualiserende Stoïsynse opvattinge rondom 'n 'algemeen menslike natuur' en die inperkende noodsaak van die onderwerping of onderdanigheid aan normatiewe raamwerke, vir toegewings aan die drifte (wat in die vroeë Christelike era kollektief en pastoraal afgedwing, streng beheer en obsessief gekontroleer sou word, juis deur die 'bekentenisse van die vlees'). Die selftegniese estetisering van seks by die Grieke begin dus algaande plek maak vir 'n selfafleggende etisering daarvan by die Romeine, wat meer intensief uiteindelik die Christelike seksuele moraal van 'beheer deur bekentenis' sou begrond. Nog anders gestel: die privatistiese ars erotica van die Grieke word reeds by die Romeine in 'n openbare proses van waarneming, beheer, normalisering en eksaminering gestel - by die Grieke funksioneer toegewing aan die drifte as 'n robuuste vorm van individueel maatskaplike (en politieke) selfbevestiging, terwyl die Romeine toenemend klem plaas op die kollektiewe normering van die gebruik van die drifte ter wille van maatskaplike (en politieke) orde en beheer. Laasgenoemde sou in die patristiek van die vroeë Christendom se puriteinse ordening van die drifte en beheer oor (nou prontuit genoem) 'seksuele begeerte' tot uitdrukking gebring word. Die patristiese beheer oor seksuele begeerte is presies die domein van ondersoek in Les aveux de la chair.

 

Les aveux de la chair en die patristiese beheer oor seksuele begeerte

Vanuit die ontwikkeling van L'usage des plaisirs en Le souci de soiLes aveux de la chair, is dit duidelik dat daar 'n merkbare verskuiwing was vanaf die estetisering van die toegewing aan die drifte in Hellenisme, na die subtiele etisering daarvan by die Romeine, na die beheer daaroor in die patristiek. Die patristiese beheer oor die drifte was aanvanklik oorwegend eksegeties en nie geïnstitusionaliseerd (binne die vroeë kloosterwese en deur middel van beheerpraktyke soos die bekentenis onder leiding van 'n pastorale figuur) nie. Met ander woorde, die Bybelse tekste is op so 'n wyse vertolk dat geen ander moontlikheid gelaat is as volledige voldoening van die subjek aan die stelreëls vir beheer oor enige toegewing aan die drifte nie.

Vergelyk byvoorbeeld Johannes Chrusostomus5 (347-407) se Homilia IV in In Epistolam ad Romanos, gebaseer op Romeine 1:26-27 (vir 'n parafrasering van die Griekse teks met kommentaar, sien Beukes 2021b:2-3): Homilia IV bied 'n tipiese dekorstelling vir vorme van eksegetiese beheer oor seksuele begeerte in die patristiek, te onderskei van institusionele beheer in die kloosterwese en van beheerpraktyke soos die bekentenis. Dit is uit die homilie 'duidelik dat Chrusostomus hom skaar by Paulus (in die groter konteks van Romeine 1:17-32) se "surplus"-opvatting' (na Chrusostomus se tipering; Beukes 2021b:8), naamlik dat toegewing aan die drifte nie bloot uit para fusin6 of misplaaste begeerte ontstaan nie, maar juis uit die ooraanbod van begeerte. Homoërotiese handelinge, byvoorbeeld, is 'hiervolgens nie verstaan as 'n plaasvervanger vir heteroseksuele kontak nie, maar as arbitrêr bykomend daartoe' (Beukes 2021b:8; cf. Huffer 2021). Seksuele selfdegeslag-kontak spruit dus uit 'driftelike ooraanbod' en nie bloot vanuit 'onnatuurlike' drif nie.7 Hierby moet Chrusostomus8 se kritiek teen homoërotiek binne die algemene negatiewe benadering tot seks in die vroeë Christendom genuanseer word. Onder andere Hieronimus (377-420), Origenes van Alexandrië (ca.184-ca.253) en Augustinus het seks uitdruklik as 'n natuurlike, opbouende en eg menslike ervaring verwerp - met die nadruk dat seksuele gratifikasie van welke aard ook al nie met 'n volhoubare morele lewe te versoen is nie (cf. Jordan 2021:1). Daarby voeg Augustinus die uitdruklike opset tot voortplanting vir die reglementering en 'legitimering' van seksuele aktiwiteit (per definisie heteroseksueel en uiteraard slegs binne die huwelik). Trouens, reeds in sy Soliloquia stel Augustinus (1986:1.40): Nihil esse sentio quod magis ex arce dejiciat animam virilem quam blandimenta foeminea corporumque ille contactus ('niks degradeer die manlike gees meer as die aantrekkingskrag van vroue en die aanraking van hulle liggame nie'). Tog moet hierdie soort afkeur deur Augustinus versigtig gekontekstualiseer en genuanseer word. Dít het Foucault wel gedoen.

Die patristiese beheer oor seksuele begeerte koppel dus terug na die ontwikkeling vanaf die selftegniese estetisering van die toegewing aan die drifte by die Grieke, wat subtiel ontwikkel is na 'n selfafleggende etisering daarvan by die Romeine, gevolg deur die vroeë Christelike patristiese beheer oor seksuele begeerte 'deur die volle waarheid daaromtrent te vertel': dit is, 'om die vlees te beken'. Vir Foucault is die duidelike voorwaarde vir die laaste ontwikkeling parresia (παρρησία), die antieke kuns tot selfontwikkeling deur die waarheid openlik, nieteenstaande (en ten koste van) die Self te praat. Parresia sluit aan by vermelde selftegnisering of 'n hermeneutiek van die Self; dit is, ononderbroke selfontleding waarin enige en alle gedagtes oor die uitwoed van die drifte ten volle beken moes word ter wille van 'ware kennis aangaande die Self', of in die soteriologies eskatologiese taal van die teologie, 'verlossing van die sonde en 'n uitsig op die ewige lewe'. Foucault werk die inhoud van parresia nie in die (eerste) drie bande van Histoire de la sexualité uit nie en die begrip kom trouens glad nie in die drie tekste voor nie. Die enigste onderafdeling van Les aveux de la chair (Foucault 2018:230-245) wat vroeër deur Foucault (1982:15-25) as 'n selfstandige aanbod gepubliseer is, is sy ontleding van Cassianus se woestynaskese (getitel Le combat de la chasteté; etlike jare later in Engels vertaal as The battle for chastity en só herpubliseer in 'n bekende versamelwerk [cf. Foucault 1988:227-241).9 Vir Foucault is Cassanius 'n wesenlike figuur in sy seksualiteitsgeskiedenis, juis omdat Cassianus se unieke betekenisgewing aan parresia 'n beduidende invloed uitgeoefen het om 'n brug vanaf die asketiese praktyke van die woestynvaders na die kloosterwese in die Latynse Weste te slaan.

Dit word in sy Cassianus-ontleding duidelik dat parresia en selftegnisering vir Foucault in die begrip bekentenis byeengebring word (cf. Bernauer 2021): die toegewing aan die drifte word deur bekentenisse 'gesubjektiveer', waarmee Foucault bedoel dat seksuele kontak (as per definisie 'n relasionele aangeleentheid) by Cassianus gewysig word tot 'n selfgerigte ondersoek na die eie of subjektiewe seksuele begeerte. Hierdie selftegnisering subjektiveer die selfontledende subjek ineens as 'n regsubjek, onderhewig aan die een of ander wet.10 Foucault se bedoeling was om die subjektivering van die selfontledende subjek, of die voortgaande vorming van die Self, by Cassianus aan te dui as juis in die verlengstuk van die selftransformerende parresia-praktyke van waarheidsbekentenisse in nie-Christelike antieke kontekste. In dié sin is hier sprake van die voortsetting na die patristiek vanuit die Hellenistiese en Romeinse kontekste, eerder as 'n oorgang. Anders gestel: parresia en selftegnisering (of dan, 'n hermeneutiek van die Self) is die dubbeldoor wat die Hellenistiese, Romeinse en patristiese domeine van kennis oor Afrodite of Venus se werke met mekaar verbind.11

In Foucault (1982:15-25, 2018:230-245, Westerink12 2021) se interpretasie van Cassianus se 'stryd om kuisheid'13, word die ontwikkeling vanaf die estetisering van die toegewing aan die drifte by die Grieke na die etisering daarvan by die Romeine, saamgetrek in Cassianus se besinning oor selfondersoek en bekentenis binne kloosterkontekste as 'n vorm van beheer oor seksuele begeerte. Hoewel 'estetisering' en 'etisering' natuurlik van 'beheer' verskil, is die gemene deler die fundamentele aanspraak van die wil: in die Griekse en Romeinse oudheid is die wil, soos hier bo aangedui, vertrou om 'aktiewe selfhandhawing' of 'selfbemeestering' te bemoontlik, juis binne die seksuele konteks. In die patristiek word die wil egter nie verder sodanig vertrou nie (dit is, tot by Augustinus waar die wil nogeens geprioritiseer word), met twee gevolge: (1) Selfbemeestering ten aansien van die drifte in die oudheid maak plek vir beheer oor die drifte (nou spontaan 'seksuele begeerte' genoem) in die vroeë Christendom, waarvan die kloosterwese vir Cassianus die vanselfsprekende institusionele konteks bied; (2) Daar vind 'n verskuiwing plaas vanaf die ou innerlike ervaring van intellektuele selfbemeestering by die Griekse en Romeinse vryburgers, na beheer oor die eie liggaamlikheid, vergestalt deur monikke uit die vroeë Christelike tydperk. Hierdie verskuiwing vanaf die intellektiewe siel na die liggaam, dui vir Foucault 1982:15, 2018:230-245 op 'n nuwe innerlike ervaring (une expérience nouvelle). Anders as die vrye dog getemperde estetisering en subtiele etisering van seksuele begeerte in die Hellenistiese en Romeinse oudheid, word die monnik konstant bewus gehou van die seksuele skaduwees gehul in die liggaamsgebonde vleeslikheid. Kuisheid binne woestynasketiese kloosterkontekste het daarom niks verder met selfbemeestering te make nie, maar met ondersoek na die eie liggaamlikheid en beheer oor gedagtes aangaande die liggaam en die onwillekeurige seksuele funksies van die liggaam (cf. Clements 2021b). Vir hierdie vorm van beheer oor seksuele begeerte is agterdog teenoor die wil en gevolglike selfondersoek onontbeerlik. Met seksuele begeerte nou duidelik gelokaliseer 'in die liggaam', moet erotiese herinneringe, drome, wense en beelde as tekens van outentieke identiteit geïnterpreteer word: Die monnik is wat hy seksueel droom, dagdroom, onthou en begeer. Cassianus se kuisheidstryd voltrek in die voortgaande poging om die onwillekeurige - dit wat aan die wil wil ontsnap, of nie in staat is om aan die wil gehoor te gee nie - bewegings van die liggaam (byvoorbeeld ereksie by mans; sigbaar maar onvoorsienbaar [cf. Jordan 2021]) as tekens van 'n onderliggende begeerte en 'n sielsmatige uitvlug te verstaan: anders gestel, om die wyse te begryp waarop die liggaam tot vlees verword. Hierdie onwillekeurigheid is nie-materieel, maar dit bestaan vir Cassianus kennelik as 'n 'etiese substansie' (Westerink 2021) - en moet daarom onderwerp word aan ononderbroke herondersoek en herinterpretasie.

Vir Cassianus neem die 'stryd om kuisheid' daarom 'n vorm van bewussynsondersoek aan wat alle gedagtes en herinneringe aan die vlees herken en openlik erken. Vir die monnik sou dit byvoorbeeld erotiese drome en onwillekeurige nagtelike ejakulasie kon inhou: 'Was daar 'n vorm van plesier en begeerte in my slaap of kort nadat ek wakker geword het? Het ek dit geniet? Het ek berou daaroor?' (Raffnsøe 2018:404). Wat ook al die monnik se antwoorde op hierdie ononderbroke vrae, kon hy dit nie voldoende beantwoord nie. Hy staan op die onstabiele grond van die onwillekeurige en het daarom leiding en 'n objektiewe ingrepe van buite nodig. Die monnik behoef 'n gesaghebbende interpretasie om te verstaan waar hy staan en wie hy inderdaad ís. Daarom moet die monnik hom onderwerp aan ondersoeke en ontledings wat bo en buite sy konstante selfondersoek uitgaan: Alleen dán weet die monnik of hy besig is om die 'stryd om kuisheid' te wen of te verloor.14 Hoewel hiermee 'n ekonomie van plesier agtergelaat word sonder dat duidelike onderskeid tussen liggaam en siel getrek is, word die patristiese subjek in dié geestelike 'stryd om kuisheid' in 'n voortgaande worsteling met sy mees intieme en onwillekeurige gedagtes vasgeknoop - aangesien dit ten diepste 'n geveg teen seksuele begeerte was; teen 'n wellus wat gedreig het om die wil te beskadig en te ondermyn: nie langer 'n ekonomie van plesier soos in die oudheid nie, dui subjektivering nou op 'n ekonomie van waarheid (Foucault 2018:239-41).15 Die patristiese subjek word toebedeel met 'n konstante en verhoogde 'waaksaamheid [] en agterdog teenoor jouself wat te alle tye en ten alle koste gehandhaaf moet word [] Hierdie proses van subjektivering in die vorm van 'n soeke na die waarheid aangaande jouself lei tot 'n altyd onvoltooide objektivering van wie jy eintlik is en die konstante oproep tot onderdanigheid aan die begeleiding deur 'n ander' (Foucault 2018:245). Die 'begeleiding deur 'n ander' dui vir Foucault op die opkoms van pastorale mag en lê aan die hart van die patristiese beheer oor seksuele begeerte. Die onmiddellike en deurslaggewende vraag vir Foucault is hoe Augustinus, in die oorgang van die laat patristiek na die vroeë Middeleeue, hierdie 'stryd om kuisheid' en die patristiese beheer oor seksuele begeerte deur die bekentenisse van die vlees, verwoord het - juis omdat die epistemologiese primaat van die wil by Augustinus opnuut voorrang geniet, waarvan seksuele begeerte die hoogste wil is, die wil wat aan die wil wil ontsnap, synde die 'vorm van die wil' (Foucault 2018:344).

 

Seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' by Augustinus

Die geredigeerde weergawe van Les aveux de la chair16 bestryk 426 bladsye (480 bladsye in Holierhoek [2020] se Nederlandse vertaling en 416 in Hurley [2021] se Engelse vertaling) in drie dele17 en vier ongetitelde ekskurse18. Slegs die derde en laaste hoofstuk van Deel III (dus die laaste hoofstuk van die werk self) handel inderdaad oor die 'vlees'. Dit verduidelik ook hoe spesifiek Augustinus die orgasmiese belewenis met 'n medeganger laat opgaan het in die seksuele begeerte van 'n ander wellustige subjek (maar waar die relasionele seksuele gebeure, op Cassianus se spoor, dus verplaas word na die selfondersoekende en uiteindelik bekennende subjek). In L'usage des plaisirs en Le souci de soi is daar slegs terloopse verwysings na Augustinus,19 terwyl Les aveux de la chair talle bladsye oor etlike hoofstukke heen aan Augustinus alleen afstaan. Deel I (la formation d'une expérience nouvelle) bestaan uit vier hoofstukke: In die eerste hoofstuk word die maatreëls en roetines binne vroeë Christelike kloostergemeenskappe en gesinne bekendgestel met betrekking tot ta aphrodisia (hier binne Augustynse konteks aangedui as huweliksaangeleenthede in die algemeen, waaronder seksuele aktiwiteit met uitdruklike voortplantingsopset en die afwysing van seksuele plesier juis binne die huwelik). Die opvolgende drie hoofstukke in Deel I handel oor die drie samehangende vorme van belydenis in die vroeë Christendom (die doop [geloofsbelydenis], skuldbelydenis en die bieg [as die kerklike voeg van die bekentenisse van die vlees]). Deel II handel oor die 'maagdelike lewe' (être vierge), wat insluit die kloostermatige kuns van saamleef, selfondersoek en die verwerwing van selfkennis deur die selibaat as 'n positiewe gestalte van seksuele onthouding. Deel III fokus op die 'getroude lewe' (être marié), met betrekking tot die maatreëls vir en 'n verantwoordbare roetinering van seks binne die huwelik. Die titels van die drie hoofstukke in Deel III dui Augustinus se relevansie vir hierdie laaste deel van die werk duidelik aan: le devoir des époux, le bien et les biens du mariage en la libidinisation du sexe. Dit is opvallend dat die een teks van Augustinus wat uitdruklik oor selfbekentenis handel - Confessiones - nie in Les aveux de la chair figureer nie.20

Praet21 (2020:213-236) se onlangse ontleding van Foucault se interpretasie van Augustinus dui die ontwikkeling daarvan in hierdie laaste deel van Les aveux de la chair met presisie aan. Wat het Foucault se interpretasie van Augustinus dus beïnvloed en bestendig? Wat was Foucault se geleiers vir sy lesing van die Augustynse primêre tekste en wat was sy sekondêre voorkeurbronne in hierdie verband? By al sy ideëhistoriese belesenheid was Foucault nie 'n patristiekspesialis nie22 en aangewese op die advies en teksgeleiers van vooraanstaande kollegas in die historiese wetenskappe. Ten opsigte van die Griekse en Romeinse bronne het hy rigting gevind in die werk van, in besonder, drie gevierde studente van die Westerse ideëgeskiedenis: die Hellenistiese klassikus Pierre Hadot, die historikus van die oudheid Paul Veyne, en ten opsigte van die patristiek, die gevierde Augustinus-spesialis en biograaf Peter Brown. Sowel Hadot as Veyne was Foucault se kollegas by die Collège de France,23 terwyl Brown bekendheid verwerf het vir sy epogmakende werk oor Augustinus (Brown 1969) en feitlik eiehandige ontwikkeling en verselfstandiging van die ideëhistoriese dissipline, Laat Antieke Studies (Studies in Late Antiquity) binne die filosofiese geskiedskurrikulum in die tweede helfte van die 20ste eeu. Hadot se invloed op Foucault kan gevind word in sy kenmerkende nadruk op die antieke vertolking van filosofie as lewenskuns, waarin die individuele bestaan deur geestelike dissipline en intellektuele vorming juis verhoog is tot bestaanskuns. Antieke filosofie, reeds vanaf die pre-Sokratici en Sokrates (469-399 VAJ) self, was dus nie gerig op filosofie as 'n versameling leerstellings aan die hand waarvan 'n individu sy of haar eie geestelike en materiële bestaan gemeet het, of daaraan probeer voldoen het nie - maar, na Hadot se klem, gerig was op die tegnisering van die Self (Davidson 1995:277-286; cf. red. Davidson 1997:200). Soos bo aangedui, speel die tegnisering van die Self in veral die tweede en derde bande van Histoire de la sexualité 'n wesenlike rol en daarin is Hadot se hand naspeurbaar (cf. Leezenberg 2021; cf. Praet 2021).

Paul Veyne weer, het Foucault van grondige advies bedien ten opsigte van die (minstens gedeeltelike) oorgang vanaf die Romeinse na vroeë Christelike beskouinge oor seks (cf. red. Davidson 1997:146-182). In 1978 het Veyne 'n invloedryke artikel die lig laat sien wat Foucault oortuig het dat die inhoud van die vroeë Christelike seksuele moraal nie wesenlik verskil het van die Romeinse interpretasie daarvan in die Laat Republikeinse en Vroeë Imperiale periode24 nie (Veyne 1978:35-63; per Praet 2020:219 [vn.25]) en dat hier eerder sprake van 'n voortsetting as 'n oorgang is. Veyne het (vir Foucault, teenspraakvry) aangedui dat minstens drie oorwegings wat gangbaar met die vroeë Christelike seksuele moraal in verband gebring word, reeds sigbaar was by die Romeinse Stoïsyne en in die selftegniserende ideaal van seksuele gedrag as 'n maatskaplike aangeleentheid in die Romeinse vryburgersklas tydens genoemde Romeinse periode: 1) Die monogame, heteroseksuele huwelik is geag die enigste moreel verantwoordbare domein vir die toegewing aan die venera te wees, met skerp afwysing van enige afwyking daarvan; 2) Selfs binne die huwelik behoort die uitdruklike opset (intentio) tot voortplanting die fokuspunt van enige toegewing aan die drifte te wees; 3) Daar behoort binne die konteks van 'n selftegniserende, selfbemeesterende ars erotica 'n algemene onderbeklemtoning van seksuele plesier te wees - toegewing aan die drifte behoort dus uitdruklik verantwoord te kan word sonder 'n beroep op die natuurlikheid van of plesier aan sodanige toegewing. Trouens, Veyne dui aan dat daar in hierdie fase van die Romeinse geskiedenis algemene voorbehoude oor en selfs skerp afwysings van seksuele plesier bestaan het.25

Foucault het die driedelige Romeinse oorweging met betrekking tot die venera direk in Le souci de soi en Les aveux de la chair verwerk. Eers in Les aveux de la chair sou Foucault egter sy vinger op die oop senuweepunt in die voortsetting van die Hellenisties-Romeinse na die patristiese seksuele moraal plaas. Dit behels naamlik Augustinus se angstige besinning in De Civitate Dei (XIV:16) oor die volkome verlies aan selfbeheer en tydelike wegdoenbaarheid van die wil tydens (sowel manlike as vroulike) orgasme, op grond waarvan seksuele begeerte (tot hoogtepunt gevoer in onwillekeurige fisiologiese reaksies by beide geslagte, waaronder verhoogde bloedvloei na en swelling van die geslagsdele) juis as die 'vorm van die wil' beskryf sou kon word; oftewel, dít wat die wil ten diepste wil: '[] paene omnis acies et quasi uigilia cogitationis obruator'. Hiermee beskryf Augustinus orgasme as die letterlik buitewilsmatige verlies aan beheer soortgelyk aan 'n epileptiese aanval - en as sodanig 'n bedreiging vir emosionele, psigologiese en liggaamlike gesondheid. Wesenlik vir Foucault is dat Augustinus hiermee 'n eg Romeinse interpretasie van die nagenoeg epileptiese kwaliteit van orgasme as die Foucault-benoemde 'vorm van die wil' bevestig - en dit (Foucault 1999:185), met Veyne ongetwyfeld digby, uitdruklik terugvind in een van Augustinus se eie voorkeurtekste, (Markus Tullius) Cicero (103-43 VAJ) se Hortensius (45 VAJ).26

Foucault het Peter Brown in 1979 by die Universiteit van Berkeley ontmoet na 'n voordrag van die werksdokument vir sy vermelde ontleding van Cassianus se woestynaskese, Le combat de la chasteté (Foucault 1982:15-25, 1988:227-241).27 Dit het spoedig duidelik geblyk dat die filosoof en klassikus met dieselfde temas besig was, hoewel hulle intellektuele agtergronde en metodologiese voorkeure verskil het. Beide wou in besonder verstaan 'hoe seksualiteit in vroeg-Christelike kulture die seismograaf van ons subjektiwiteit geword het' (Foucault 1999:183; 'n aanhaling herbevestig deur Brown [2021:20:31-38]). Brown se gevierde ontleding en kommentaar van die liggaams- en seksualiteitsbeskouing in die vroeë Christendom, The body and society - Men, women and sexual renunciation in early Christianity (Brown 1988; in Frans in 1995 met die opsetlik oorkruisende titel na Foucault in dieselfde reeks as Histoire de la sexualité by Gallimard [Collection Bibliothèque des Histoires] as Le renoncement à la chair [Virginité, célibat et continence dans le christianisme primitif] uitgegee), verskyn vier jaar na Foucault se dood. Hierdie geskied terwyl daar 'n toenemende aanbod van vroeë en onafwendbaar diskoersanalitiese (eerder as tekskritiese) ontledings van Foucault se ontleding (in daardie stadium nog ongepubliseerd, buiten die enkele verwysings in Le souci de soi) van die seksuele moraal van die kerkvaders.28 Soos wat die Franse titel aandui, is die parallele tussen Brown en Foucault se ontledings van die voortsetting van die Romeinse na die patristiese seksuele moraal opvallend.29

Foucault (2018:240) open sy Augustinus-interpretasie met 'n betoog dat die patristiese tradisie tot by Augustinus toenemend afstand gedoen het van die 'gewoonheid' of 'alledaagsheid' van die Christelike lewensvoering. Om hierdie rede is daar ook betreklik min aandag gegee het aan die 'kuns van saamleef' in die huwelik as tegelyk 'n goddelike en uitermate 'mundane'30 instelling (cf. Chevallier 2021:1). Soos duidelik na vore gebring in Cassianus se kuisheidstryd, was die fokus tot op hierdie punt in die patristiek die radikale afkeer aan die wêreld, met kuisheid en maagdelikheid as die selfopofferende sigbaarmaking daarvan in (ideaal tipiese 'meta-historiese', soos dié van Cassianus se) kloosterkontekste (cf. Huffer 2021). Foucault (2018:248-270) voer aan dat in reaksie teen die aandrang op die asketiese lewe en juis die aseksuele meriete daarvan tot in die tweede helfte van die vierde eeu, 'n hernude aksent op die godsdienstige betekenis van die alledaagse bestendig word: teen die einde van die vierde eeu word die 'getroude lewe' (être marié) gevolglik as 'n vorm van 'kunstige alledaagse saamwees' ideëmatig herontwerp om die waardes aan die vroeë Christelike huweliksetiek te bevestig - maar vir die eerste keer om ook die seksuele moraal binne die huwelik te reglementeer. Nou word die verantwoording van seksuele begeerte juis binne die huwelik31 'n uitdruklike voorwaarde vir die ontwikkeling van sodanige 'kunstige saamwees' - wat vir Foucault op die voortsetting van selfondersoek en bekentenis in die vorming van die subjek dui (cf. Clark 2021:1). Die monnik se konstante selfondersoek word trouens verleng na en verdiep binne die huwelik: soveel as wat die getroude lewe 'n lewe 'saam met 'n ander' is, staan die verhouding met die self voorop juis onder die aanslag van seksuele begeerte (cf. Chevallier 2021:1). Die verantwoording van seks binne die huwelik is daarom vir Augustinus 'n groter uitdaging as seks buite die huwelik.32 Hierby word voortplantingsopset33 deur Augustinus as reglement vir seks binne die huwelik gestel, waarmee 'n herdefiniëring van die mens as 'n subjek van seksuele begeerte aangebied word.

Die enigste rede waarom Augustinus uitdruklik afwyk van Paulus is, soos Foucault (2018:342-350) korrek aanvoer (maar sonder om die apostoliese oorlewering te bespreek), 'n ideëhistoriese ontwikkeling na 'n alternatiewe subjektiwiteit waarin seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' figureer. Anders gestel: dit is eers vanuit 'n (nie-Pauliniese) regulering van seksuele kontak binne die huwelik, dat die subjek (man of vrou) 'n 'subjek van begeerte' word (en nie langer bloot 'n juridiese subjek waarin 'n objektiewe reg en verpligting [die 'huweliksplig'] opgeneem is nie).34 Wat Foucault wel uitdruklik en samehangend uitwys, is juis hóé die wil sodanig deur Augustinus gerehabiliteer word en waarom Augustinus seksuele begeerte uiteindelik selfs as die 'vorm van die wil' tipeer (Foucault 2018:344). Teenoor die agterdog jeens en effektiewe vermindering van die aanspraak van die wil binne asketiese kontekste soos dié van die woestynvaders, prioritiseer Augustinus die wil as 'n geldige, en trouens noodsaaklike epistemologiese vertrekpunt. Die mens ken deur te wil - in hierdie sin is die wil ook verhewe bo die intellek. Juis daarom bly seksuele begeerte vir Augustinus - soos vir Cassianus, maar nou om ander redes - 'n tergende probleem: waar Cassianus die aanspraak van die wil verminder ter wille van effektiewe beheer oor seksuele begeerte, hou Augustinus tred met die volle historiese register van die aanspraak van die wil vanaf die oudheid tot in die tydgenootlike patristiek van die vyfde eeu. Hierdie register dui inderdaad vir Augustinus op 'n konstante aanslag van seksuele begeerte op die epistemologiese integriteit van die wil. So 'natuurlik' seksuele begeerte ook al mag wees (met die natuurspore daarvan in die diereryk),35 plaas dit die wil konstant onder beleg. Die werke van Afrodite of Venus by die Grieke en Romeine, dui vir Augustinus op 'n innerlike verrigting in die mens wat nie noodwendig in verband gebring kan word met enige tasbare verwysingspunt (of 'objek van begeerte') in die werklikheid nie en wat uitermate moelik onder beheer gebring kan word (cf. Foucault 2018:324). Augustinus is daarom ten diepste gemoeid met die 'disposisies van begeerte', of die wyses waarop seksuele begeerte 'geneigdhede vorm' (Foucault 2018:325). Dit is dus nie langer die natuurlike en vrye (dog getemperde) gebruik van die drifte soos in die oudheid nie, maar die uitwoed van die drifte wat 'n problematiserende aanspraak in die vroeë Middeleeue rig: Augustinus vra dus nie soos Cassianus of die subjek deur seksuele begeerte beweeg word tot 'n bepaalde gedagte, droom of handeling wat ondersoek en beken moet word nie - en hy het eweneens geen belang by 'n estetiese of etiese ondersoek na die vermoë van die subjek om 'n begeerte te bemeester wat soms dalk wel problematies kan wees, maar ten diepste natuurlik en onskuldig is nie. Augustinus wil eenvoudig vasstel wat die innerlike disposisie of geneigdheid behels waaruit die begeerte voortkom: anders gestel, wat is die opset van die begeerte? Wat wil die begeerte? Dít is volgens Foucault (2018:325) vir Augustinus die wesenlike vraag.

Augustinus oorweeg daarom, na Foucault se ontleding, in geen stadium seksuele begeerte as 'boos', al dan nie; hy oorweeg slégs die wil en vra alleen of die begeerte deur 'n goeie wil gedryf word, al dan nie. Die sonde of verset teen God is nie in die begeerte gevestig nie, maar in 'n afwykende en selfs perverse wil of 'opstandige vleeslikheid' (cf. Sforzini 2021). Nooit en nêrens is die mens so naby aan sigself en so ver van God as in hierdie vorm van selfintimiteit met 'n ander mens nie. Indien seksuele begeerte 'n mens van God vervreem, dui dit nie op die inherente bose kwaliteit van begeerte nie, maar op 'n bepaalde gedrewenheid van die wil in verset teen God. Indien 'n mens 'een wil word' met iemand anders, is dit nie die eenwording wat die probleem is nie - die probleem setel in die wil word (cf. Foucault 2018:335). Augustinus (1900:47-49) problematiseer die wil word self in hoofstuk XXIII van boek XIV36 in De Civitate Dei deur 'hipoteties' die vraag na seks in die tuin van Eden (na Genesis 3) te stel (vir sy tyd uitermate ongewoon; cf. Brown [2021:1]). Seks sou volgens Augustinus wel voor die sondeval in Eden kon voorgekom het, maar sou daar gekenmerk gewees het deur die afwesigheid van seksuele begeerte en die volledige onderwerping daarvan aan die vrygeskape en soewereine wil. Dit is eers ná die huiwerige proe aan die vleesvrug en die tuimelende vryval weg van God dat seks 'n sondige karakter verkry, omdat die wil eers daarná deur seksuele begeerte oorheers word. Die mens kon die stryd teen hierdie vrugvleeslike begeerte - vir Augustinus die duidelikste uitdrukking van die erfsonde - nie langer deur die vrye en soewereine wil oorwin nie, maar slegs deur 'n ingrepe van buite, naamlik dié van God. Besonder belangrik vir Augustinus is dat die vrygeskape mens op sterkte van die vrye wil nié deur die epileptiese kwaliteit van orgasme oorval sou kon word nie: Selfbemeestering en selfbeheer sou in die tuin van Eden die natuurlike staat van alle dinge menslik gewees het. Ná die byt in die vrug, tree beheerverlies ineens in en word die onwillekeurige stupor van orgasme 'n vorm van opstand teen die eens soewereine wil - en 'n teken van verset teen God. Mens en medeganger verdien daarom God se straf - die verjaging uit die paradys en die val uit die paradyslike toestand van natuurlike selfbemeestering (cf. Jordan 2021:1). Deur vanuit vrye keuse in verset teen die absolute wil van God te kom, het die mens die eie en onafhanklike wil verwesenlik ten koste van die verbondenheid van die eie wil aan die absolute wil van God.

Die prys van hierdie verset teen die absolute was daarom self absoluut: die verlies aan selfbemeestering deur die eens vrygeskape en soewereine wil. Die mens wou ''n outonome wil bekom, maar het gevolglik die ontologiese basis van daardie wil verloor' (Foucault 1981:175; cf. Foucault 2018:335-336). Hiermee word vir Augustinus (volgens Foucault se interpretasie) 'n dringende problematisering van die seksuele moraal aangekondig: 'Seksuele ereksie is die beeld van die mens in opstand teen God. Die uitdagende aard van seks is die gevolg van die uitdaging van God' (Foucault 1981:183). Die onstuitbare wil tot seks getuig daarvan dat die mens steeds en altyd in verset teen God is (cf. Foucault 2018:336). Hoewel die 'wil tot seks' tydelik onderdruk kan word, is dit altyd steeds en reeds weer aktief en teenwoordig. Vir Augustinus kon die Hellenistiese estetisering van viriliteit deur selfbemeestering nie langer binne die konteks van sy sondeleer gehandhaaf word nie: trouens, bemeestering van seksuele begeerte is na Augustinus se sondeleer vir Christene 'n ontologiese onmoontlikheid, en seksuele begeerte is daarom allermins onskuldig - seks is nou 'n konstante probleem. Daarby verskuif Augustinus hierdie probleem uitdruklik weg van die relasionele aard van seks na die enkeling - omdat slegs die enkeling rekenskap kan gee van die verhouding tussen die enkeling se wil en individuele, onwillekeurige, liggaamlike reaksies soos ereksie. Die aktiewe selfbemeestering van die drifte in die Hellenisties-Romeinse konteks word dus nou vervang deur die passiewe selfondersoek daarvan (cf. Foucault 2018:336).

Augustinus benoem die 'drang tot beweging' in die geslagsdele libido, wat in die oorspronklike Romeinse konteks eenvoudig 'verlange' beteken het - maar deur Augustinus van die uitdruklike lading van 'die geneigdheid tot seksuele begeerte' voorsien word. Libido dui volgens Augustinus dus op 'n spontane en onwillekeurige verlange na ongereguleerde vorme van seksuele plesier. Seksuele begeerte as libido is nie (soos by die Grieke en Romeine) 'n uitwendige werklikheid wat deur die wil onder beheer gebring moet word nie - maar 'n innerlike werklikheid, naamlik die hoogste uitdrukking van die wil sélf. Seksuele begeerte is ook nie die uitdrukking van 'n onbelangrike, natuurlike en onskuldige drang wat deur die wil onderwerp kan word nie, maar juis die gevolg van die wil; dit wat die wil wil, of die 'vorm van die wil'; of die 'wil teen die wil' (Foucault 2018:344; cf.337; cf. Jordan 2021:1). Dit was immers hierdie wil wat onstuitbaar genoeg was om selfs teen God in opstand te kom. Seksuele begeerte is volgens Augustinus dus 'n onwillekeurigheid in die wil, 'n 'swakheid van die wil waarsonder die wil nie in staat is om te wil nie' (Foucault 2018:345). Waar seksuele begeerte en die wil by Cassianus twee onderskeibare kragte verteenwoordig, is libido by Augustinus wesenlik en onvervreembaar deel van die wil en juis daarom die 'vorm van die wil' (cf. Jordan 2021:1). Deur seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' te kenmerk, seksualiseer Augustinus die alledaagse: Alles wat die subjek andersins begeer (of 'wil'), sou op die een of ander wyse moet saamhang met seksuele begeerte as die 'vorm van die wil'. Seksuele begeerte is daarom ook die hoogste uitdrukking van die Augustynse verstaan van oersonde (of leer oor die erfsonde): wie wil weet wat 'sonde' is, hoef net te kyk na die wyse waarop seksuele begeerte onbeheerbaar wil.

Deur die wese van die Christelike skuldbelydenis op hierdie wyse na binne, of na die 'eie wil' te rig, wyk Augustinus volgens Foucault (2018:344-345) uitdruklik af van die Platoniese tradisie waarin die geestelike stryd met die self gevoer word met beroep op 'n hoër, uitwendige en objektief normatiewe gesag. Die geestelike stryd by Augustinus werp die blik egter afwaarts en na binne - juis na die 'opstandigheid van die vlees' (Sforzini 2021:1) en die onstabiele bewegings van libido in die individuele siel. Waar die geestelike stryd by Cassianus en die ander vaders fokus op die oorsake van seksuele begeerte (byvoorbeeld die 'objekte van begeerte') en hierdie oorsake ondersoek moet word ten einde die grense van die wil nie onnodig uit te daag nie, is Augustinus nie gemoeid met objekte van begeerte nie, maar slégs met die wil - wat ondersoek moet word juis in die 'huidige, problematiese, wellustige en erektiele vorm daarvan' (Foucault 2018:355). Die konstante en voortgaande ondersoek na hierdie 'erektiele vorm', kombineer die ouer patristiese strewe na maagdelikheid, die geestelike stryd om kuisheid, en die alledaagsheid van die 'getroude lewe' in 'n enkele vraagstuk, naamlik die probleem van die wil ná die sondeval.

Daarby voeg Augustinus egter met nadruk: sou dit moontlik wees om hierdie wellustige, onwillekeurige en prikkelbare wil steeds ten goede te gebruik? Hy beantwoord die vraag bevestigend met verwysing na die regulering en reglementering van 'seksuele woede': Omdat outentieke seks nie anders kan as om 'woedend' en minstens tydens die orgasme van een of beide genote met 'n vorm van krampagtige aggressie en uitwoed(e) te voltrek nie (en die wil in daardie stuporkonteks duidelik en onstuitbaar wil), behoort 'n gereguleerde domein vir die ten goede uitwoed daarvan aangedui te word. Augustinus vind die domein van 'woede ten goede' juis in die 'alledaagsheid van die getroude lewe', waarby hy die uitdruklike opset tot voortplanting voeg. Binne hierdie gereguleerde domein verskyn die subjek nou verantwoord as 'n 'subjek van begeerte' en word tot 'n 'regspersoon' ontwikkel, in terme waarvan handelinge as goed of sleg aangedui kan word binne die konteks van intersubjektiwiteit. Met ander woorde, die 'getroude lewe' verskaf 'n ruimte waarbinne seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' van 'n uitdruklike opset - voortplanting - binne die konteks van die beheersde alledaagse voorsien kan word (cf. Foucault 2018:360).

Hoewel die opvatting dat seksuele begeerte aan die wil wil ontsnap, nie nuut was nie - Cassianus verwys immers ook daarna - was die uitstaande improviserende kenmerk van Augustinus se seksbeskouing (na Foucault se interpretasie) dat hy die drifte, nie soos die Grieke en Romeine, as 'n laer natuurlike fakulteit van die siel beskou het nie, maar deur seksuele begeerte dus as die 'vorm van die wil' voor te hou, 'n nuwe (alledaagse) 'ervaring van die vlees' verwoord het (Foucault 2018:360). Augustinus sit hiermee die subtiele etisering van toegewing aan die drifte by die Romeine voort, maar plaas dit uitdruklik binne sy sondeleer en meer algemene Christelike teologie (cf. Bernauer 2021:1). Sy opvatting dat seksuele begeerte die subjek konstitueer, dat seks binne die huwelik gereglementeer moet word en dat die opset tot voortplanting die uitdruklike en enigste voorwaarde vir wellus ten goede is, het na Foucault se interpretasie 'n ongeëwenaarde invloed op die Westerse Christendom uitgeoefen en lê steeds ten grondslag van kontemporêre opvattinge oor seksuele 'identiteit'.

 

Raptus en die transgressie van die 'vorm van die wil'

By alle pogings om dit eksegeties te beheer (by Chrusostomus), aan die kuisheidstrewe te onderwerp (by Cassianus) en as die 'vorm van die wil' opnuut onder die diskursiewe heerskappy van die wil te plaas (by Augustinus, na Foucault se lesing), is die vraag of ta aphrodisia en die venera nie grondig saamhang met die tydelike opskorting van die wil (juis tydens wilsverlies in 'epileptiese' orgasme) nie? Dien die vraag na transgressie37 binne seksuele konteks, sigself daarom nie hier weer spontaan aan nie? Indien 'n seksuele domein aangedui kan word waar die wil - juis in die 'mistieke teenwoordigheid van God' - geen aanspraak kán rig nie, problematiseer dit Augustinus se epistemologiese prioritisering van die wil, juis ook binne seksuele konteks. Les aveux de la chair eindig om verstaanbare redes abrup, asof onvoltooid, omdat Foucault self nie in staat was om die manuskrip koherent af te sluit en moontlike oorgange vanuit die vroeë na die sentrale Middeleeue te verken in die laaste deel van die werk nie. Foucault was dus nie in staat om Augustinus se prioritisering van die wil (verder) te problematiseer en die beweging vanaf askese na ekstase in die sentrale Middeleeue te oorweeg nie. Transgressie word hier op die spoor van Georges Bataille (1897-1962; cf. Huffer 2021:1:04) aangebied as nie bloot die oorkruising van bepaalde morele en juridiese grense ('taboes') of die toegewing aan driftelike impulse nie, maar die (altyd tydelike) oorstyging van die taalgebonde subjek en 'n opskorting van 'identiteit'. Sodanige tydelike opskorting van die Augustynse fakulteite van die siel (wil, geheue en intellek, met die wil daarin geprioritiseer), word gevolglik hier onder aangebied vanuit raptus of die ervaring van 'Goddelike orgasme' in die nalatenskappe van 'n aantal vroulike mistici uit die sentrale Middeleeue.

Clements (in Sforzini 2021:47, 15-48, 25) dui aan dat in Houer 27 in die uitgebreide Foucault-argief (NAF 28730) 'n dokument van drie bladyse in Foucault se handskrif onlangs oopgedek is. Hierin is dit duidelik is dat Foucault in die laat 1970's die teologies versetlike en kultuurkritiese werke van enkele mistieke begyne vanuit die sentrale Middeleeue gelees het en aantekeninge daaroor gemaak het. Hierdie dokument sluit uitdruklik Angela (van Foligno; cf. Angela of Foligno 1986) en Mechtild van Magdeburg in (cf. Beukes 2019b:1-8), wat diskursief aanklank vind by ander begyne soos Hadewijch van Antwerpen (Beukes 2020c:1-10), Beatrijs van Nazareth en Marguerite Porete (Beukes 2020d:200-225). Ongelukkig was daar nie tyd vir Foucault oor om sy lesing van hierdie 'kontra-geskiedenis van seksualiteit' (Sforzini 2021:48, 30-50:00) in die werke van hierdie aweregse vroulike kritici verder te neem en die oorgang vanaf askese na ekstase in die Middeleeue verder te verken nie. Dit is juis die punt: onlangs het ek (cf. Beukes 2021a:200-236) aangevoer dat die voorkoms van die fragmentering, fetisjering en erotisering van liggaamsdele in die werke van hierdie vroulike mistici beskou kan word as deel van 'n uitgebreide Middeleeuse kosmologiese stelsel, waarin seks aan die hart van die verstaan van die kosmos lê (op die spoor van Pseudo-Dionisius [ca.500] se apofatiese38 teologie en Maximus Confessor39 [580-662] se radikale sinteses van God en mens). Indien Middeleeuse kosmologie nie bloot verstaan word as die studie van die mens se plek in die kosmos nie, maar ook die ontwikkeling van mites, dieptestrukture en argetipes in pogings om daardie plek te verwoord, veral in godsdienstige sin, behoort seks en erotisering as wesenskenmerke van daardie sentraal Middeleeuse kosmologie aangedui te word. Juis só benadruk deur die kerk- en woestynvaders vanaf die derde eeu tot by Augustinus self, is seks en die erotisering van liggaamsdele prominent aanwesig in Judees-Christelike kosmologie. Met die verbanning van die mens uit die tuin van Eden, kan redelik aangeneem word dat minstens een aspek van die 'kennis' wat verwerf is deur te 'eet' van die 'boom van kennis', met verwysing na die 'byt in die verbode vrug', seksuele kennis en die opwekking van (onwillekeurige) libidinale begeerte was - beide manlike en vroulike 'ereksie' en beide se wil tot orgasme of wilsverdagende selfoorgawe. Die sondeval en verbanning uit die tuin is egter nie alleen in daardie eerste seksuele byt en gevolglike libidinale aptyt gevestig nie, maar juis in die ervaring van eenwording met 'n Ander sonder God, waardeur ironies 'n ervaring van mundane dualiteit opgestel is en die mens sigself as 'Self' en as onderskeibaar van die 'Ander' ervaar het - en juis dít was die sonde. Die sonde was om intiem een te word met 'n Ander as God, naamlik met 'n ander mens. In transgressiewe terme beteken 'seksuele kennis' na Genesis 3 om midde seksuele eenwording bewus te wees van die Ander as Ander en een te wil word (na Foucault se aksent supra) met daardie Ander, juis om sodoende die Self dialekties te bevestig - sonder God. Die mens ontdek hom- of haarself in die eenwording met 'n ander mens. Dít is wat God klaarblyklik gehaat het en tot die sondeval gelei het: hierdie selfontdekte en selfvervulde mens. Dit is immers net die individu - en geen kollektiwiteit of transendensie nie - wat penetreer of gepenetreer word tot eenwording met die Ander en die Self opnuut daarin vind. Daardie penetrerende of gepenetreerde individu of 'handelende erotiese subjek' se liggaamsubjektiwiteit staan wesenlik tot sommige vroulike denkers vanaf die 12de eeu se mistieke uitsette - nou juis seksueel nie vervreemd van nie, maar in die direkte erotiese teenwoordigheid van God.40

Tydens hulle visioenêre en ekstatiese (dikwels orgasmiese) belewenisse, fetisjeer en erotiseer 'n aantal vroulike mistici vanaf die 12de eeu gevolglik, onder meer, die hart, hare, are, bloed, gebeente en beenmurg as mistieke en liggaamsubjektiewe fragmente.41 Hierdie enkeldele van die vroulike liggaam werk afsonderlik en samehangend mee tot 'n sonderlinge vroulike orgasme - raptus42 - wat deur hulle as 'n vorm van diepgaande geestelike ekstase beskou is. Vroulik mistieke liggaamsfragmentering in die sentrale Middeleeue sou op hierdie basis verstaan kon word as 'n poging tot die ontwikkeling van 'n unieke geslagsubjektiwiteit, deur die opwekking van vroulike seksuele begeerte binne 'n radikale vergeestelikte konteks, met tydgenootlike kosmologiese konvensies as kultureel bemiddelend daartoe. Die liggaamsfragmentering van hierdie vroulike mistici, soos transgressief anderstalig en selfs botalig tot uitdrukking gebring in hulle raptus-ervaringe, het hulle in staat gestel om 'n vorm van persoonlike agentskap te behou - terwyl daarmee 'n getransformeerde subjek geskep is wat as waardig tot radikale eenwording met God geag is. In die bewustelike keuse om enkeldele van die vroulike liggaam te aksentueer wat as voorwaarde vir vroulike orgasme geag is, gaan hierdie vroulike mistici 'n banale erotisme verby en behou hulle sonderlinge subjektiwiteit, totdat hulle kies om dit anders- en botalig, gesintetiseerd en uitermate intiem aan hulle Medeganger toe te vertrou.

Binne hierdie transgressiewe konteks kan die 'vorm van die wil' geen verdere aanspraak rig nie. Hier is wel sprake van seksuele begeerte, maar dit is uitermate transgressief en gerig op die tydelike opskorting van wil, taal en identiteit tydens die ervaring van raptus as 'Goddelike orgasme'. Vergelyk byvoorbeeld:43

Op 'n Pinkstersondag het ek 'n visioen met dagbreek ervaar. Psalms is in die kerk gesing en ek was daar teenwoordig. My hart en are het warm en vinnig van die suiwer bloed geklop en my heupbene het gebewe en geruk van begeerte. Waansin en vrees het besit van my geneem, dat indien ek my Geliefde nie tevrede stel nie en my Geliefde my begeerte nie vervul nie, ek waansinnig sal sterf en sterwend waansinnig sal word. Op daardie dag was my verstand so angstig en pynlik in besit geneem deur 'n begerende liefde dat dit gevoel het my afsonderlike liggaamsdele gaan skeur en dat my are uitmekaar gaan spat [] Wanneer twee dinge een word, mag niks tussen hulle staan behalwe dit wat hulle een gemaak het nie. Dit is Liefde, waardeur God en sy geliefde siel een word [] Ek sterf in my Geliefde, ek smelt weg in Hom en niks bly van myself oor nie [] Vanoggend het die Seun my gesoen en ek het een met Hom geword. Die Vader het my een met Hom gemaak en Hom een gemaak met my (Hadewijch van Antwerpen [fl.1240] 1980:280; [aangehaal uit Beukes 2020e:8 vn.20], 1980:80, 84);

Soms is liefde so onbegrens en oorspoelend vanuit die siel na die liggaam dat dit vir die siel voorkom of haar are bars, bloed spuit, beenmurg gloei, gebeente verdamp, hart verbrand en keel verdor, sodat die liggaam in elke deel daarvan hierdie innerlike hitte ervaar - en dit is die koors van die liefde; [] na afloop van hierdie vervulling is dit asof my ledemate verdamp, my hart smelt, my fakulteite ineenstort [] my ledemate en sintuie verloor alle selfstandige vermoë (Beatrijs van Nazareth [ca.1205-1268] 2019:V [De vijfde manier van minne §5]);

Ek het lig in my voel ingly [] wat my hele innerlike wese gepenetreer het en deur elke liggaamsdeel 'n buitengewone skokgolf gestuur het. Eers het ek gevoel dat dit die murg in elke been in my liggaam verbrand; daarna het my hele gebeente en weefsel weggesmelt in niksheid [] nadat ek die brood van die lewe ontvang het en my intens op God gerig het, het ek ervaar dat my siel, warm en sag soos kerswas by 'n vlam, op die Heer se bors gelê het, asof verseël (Gertrude von Helfta [1256-ca.1302] 1991:158, 119);44

Gedurende die tyd van haar (Dorothea se) ernstige siekte het sy 'n onversadigbare honger en dors ervaar na die liggaam van die Heer, wat daarna nooit weer gestil of geles kon word nie. Hierdie begerende honger en dors was 'n geskenk van die Heer, wat haar siel hoog opgeneem en versorg het deur 'n vlammende begeerte vir Hom [] Sy eenwording met haar is radikaal [] Haar siel, haar vlees, haar gebeente het gesmelt vanuit die intense begeerte wat vanaf haar siel na elke deel van haar liggaam en elke been in haar liggaam oorgespoel het (Dorothea von Montau [1347-1394], volgens haar tydgenootlike biograaf Marienwerder [1997:106, 85, 184]);

Na ontvangs van die sakrament en 'n diepergaande verstaan van die betekenis van die kruis, is 'n groot vuur in my aan die brand gesteek [] ek het langs die kruis gestaan, my kaal uitgetrek en myself volledig vir Hom aangebied [] by die aanskoue van die gekruisigde Christus het al my inwendige organe gaan staan (Angela van Foligno [1248-1309] 1986:255, 13).

Elkeen van hierdie gedeeltes roep enkeldele van die vroulike liggaam op wat opeenvolgend bydra tot die ervaring aan intieme eenwording, tot uitdrukking gebring in die botalige paradoks van raptus as 'n tegelyk uniek vroulike en 'Goddelike' orgasme, synde 'n interne ontploffing wat nie uitmekaar neem nie, maar die afsonderlike dele juis bymekaar bring. Ook al duur sogenaamde 'wegraping' slegs sekondes, vind daar 'n outentiek Middeleeuse, Maximiaanse sintese van die fisieke en die simboliese, van die menslike en die Goddelike en van seksuele begeerte en geestelike vervulling plaas. Raptus was dus nie die produk van spontane masturbasie nie. Indien masturbasie wel plaasgevind het tydens hierdie mistieke belewenisse, word dit op geen plek in die tersaaklike tekste aldus vermeld nie: 'Wanneer hierdie gedrewe sielsgerigtheid 'n somatiese reaksie ontlok het, het dit in 'n oorgawe uitgemond wat so intens was dat niks verder begeer of gedoen kon word nie' (Baldwin 1994:129; my kursivering; al wat oorbly is 'the genealogy of convulsing nuns' [Huffer 2021:32:36-59]). Seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' kan binne dié transgressiewe en transendentaal seksuele konteks nie verder die hoogste en laaste aanspraak rig nie. Raptus het 'n transendente orgasme gekonstitueer waarin die hoogste aanspraak van die wil effektief opgelos is en die vlees onbekennend gehandhaaf kon word.

 

Samevatting en konklusie

Foucault vind die oorspronklikheid van Augustinus se seksbeskouing daarin dat Augustinus seksuele begeerte vanuit sy epistemologiese prioritisering van die wil as die 'vorm van die wil' aangebied het, dít wat, na Foucault se lesing, die wil wil, dít wat die 'hoogste wil' is en daarom ook die hoogste (en tegelyk verbode) 'wil tot wete' is. Waar Cassianus die aanspraak van die wil probeer temper het ter wille van effektiewe beheer oor seksuele begeerte, het Augustinus rekening gehou met die historiese oorlewering van die aanspraak van die wil vanaf die Hellenisties-Romeinse oudheid tot in die tydgenootlike patristiek van die vyfde eeu. Hierdie oorlewering het vir Augustinus op 'n ononderbroke aanslag van seksuele begeerte op die epistemologiese (en daarom teologiese) integriteit van die wil gedui, op grond waarvan seksuele begeerte binne uitsluitlik die huwelik met voortplantingsopset verantwoord en die subjek 'voortgaande geformeerd' as een van 'seksuele begeerte' gereglementeer sou moes word. Die veel latere vroulik mistieke ervarings van raptus problematiseer egter Augustinus se epistemologiese prioritisering van die wil - juis omdat seksuele begeerte as die 'vorm van die wil' binne hierdie transendentaal seksuele, botalige en identiteitsverdagende konteks wegval, en met die versugting na 'geestelike eenwording' deur 'n transgressief erotiese ervaring vervang word. Die ope vraag is of Foucault, indien hy nog die moontlikheid daartoe gebied sou word, die beweging vanaf vroeë Middeleeuse askese na sentraal Middeleeuse ekstase verder sou ondersoek het, hetsy as 'n laaste afdeling in Les aveux de la chair of as deel van die beoogde opvolgvolumes van sy seksualiteitsgeskiedenis. Nietemin koppel Foucault se (geredigeerde) afsluiting van die reeks Histoire de la sexualité deur middel van Les aveux de la chair per Augustinus en die 'vorm van die wil', met die titel van die eerste volume in die reeks Histoire de la sexualité, die 'wil tot wete' (La volonté de savoir). Sommige dinge moet eerder privaat geweet as in die openbaar beken word. Selfs vir 'n monnik (en 'n non) is daar iets soos 'werklik geheim' - dit is die geheimenis van die subjek self. Al is dit dan net in hierdie enkele opsig, het Foucault wel sy onvoltooide seksualiteitsgeskiedenis tot samehangende uitvoer gebring.

 

Erkenning

Die skrywer is verbonde aan die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS) aan Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland.

Mededingende belange

Die skrywer verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

J.B. was die enigste skrywer van hierdie artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel is befonds deur die Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in dié studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die skrywer nie.

 

Verwysings

Angela of Foligno, 1986, 'From the Liber de Vere Fidelium Experentia', in E.A. Petroff (red. en vert.), Medieval women's visionary literature, bl. 254-263, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Augustinus, 1845 [1900], De bono conjugali, Patrologia Latina 40, bl. 373-394, besigtig 14 Mei 2021, vanaf http://patristica.net/latina/.         [ Links ] Sien Zycha, J. (red.), Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 41, Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften, Tempsky, Wenen.         [ Links ]

Augustinus, 1900, 'De Civitate Dei. Libri XIII-XXII', in E. Hoffmann (red.), Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum, 40(1), Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften, Tempsky, Wenen.         [ Links ]

Augustinus, 1902 [1865], De nuptiis et concupiscentia, Patrologia Latina 44, bl. 415-474, besigtig 14 Mei 2021, vanaf http://patristica.net/latina/.         [ Links ] Sien C.F. Urba & J. Zycha (reds.), Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum 42, Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften, Tempsky, Wenen.         [ Links ]

Augustinus, 1970, 'De ordine', in M.W. Green (red.), Corpus Christianorum Series Latina, bl. 29, Brepols, Turnhout.         [ Links ]

Augustinus, 1986, 'Soliloquia', in W. Hörmann (red.), Corpus Scriptorum Ecclesiasticorum Latinorum, bl. 89, Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften, Tempsky, Wenen.         [ Links ]

Baldwin, J.W., 1994, The language of sex: Five voices from Northern France around 1200, University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Bataille, G., 1962, Death and sensuality: A study of eroticism and the taboo, Walker & Company, New York, NY.         [ Links ]

Bataille, G., 2001, Story of the eye, vert. J. Neugroschal, Penguin, Londen.         [ Links ]

Beatrijs of Nazareth, 2019, Over zeven manieren van heilige minne/On seven ways of holy love, inl. & vert. W. Van den Dungen, Lulu, Antwerp.         [ Links ]

Behr, J., 1993, 'Shifting sands: Foucault, Brown and the framework of Christian asceticism', The Heythrop Journal 34(1), 1-21. https://doi.org/10.1111/j.1468-2265.1993.tb00902.x        [ Links ]

Bernauer, J., 2021, 'Fascinating flesh: Revealing the spiritual Foucault', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 04 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, Texas, met ondersteuning van die Rockwell Fonds, besigtig 04 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/.         [ Links ]

Beukes, J., 2019a, '"Foucault se sodomiet": Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen', HTS Theological/Teologiese Studies 75(4), Art. #5216. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216        [ Links ]

Beukes, J., 2019b, '"Maak die wêreld nie tot bespotting nie": 'n Herwaardering van die filosofiese aspekte in Mechtild von Magdeburg se Das fließende Licht der Gottheit (1250)', Verbum et Ecclesia 40(1), Art. #1965. https://doi.org/10.4102/ve.v40i1.1965        [ Links ]

Beukes, J., 2020a, 'Histoire de la sexualité "4" (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing', Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2078. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078        [ Links ]

Beukes, J., 2020b, Foucault in Iran, 1978-1979, AOSIS, Kaapstad. https://doi.org/10.4102/aosis.2020.BK203        [ Links ]

Beukes, J., 2020c, 'The Trinitarian and Christological minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl.1240)', HTS Theological/Teologiese Studies 76(1), Art. #5865. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865        [ Links ]

Beukes, J., 2020d, 'Die eliminering van die siel in die filosofiese mistiek en negatiewe teologie van die begyn Marguerite Porete (1250-1310)', Litnet Akademies 17(2), 200-225, besigtig 14 Mei 2001, vanaf https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/09/LitNet_Akademies_17-2_Beukes_204-229.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2020e, 'Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: 'n Ideëhistoriese oorsig', Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2074. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074        [ Links ]

Beukes, J., 2021a, 'Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek', Litnet Akademies 18(2), 200-236, besigtig 30 Junie 2021, vanaf https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2021/08/LitNet_Akademies_18-2_Beukes_200-236.pdf.         [ Links ]

Beukes, J., 2021b, 'Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: 'n Foucaultiaans-ideëhistoriese interpretasie', HTS Theological/Teologiese Studies 77(4), Art. #6880. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880        [ Links ]

Brown, P., 1969, Augustine of Hippo. A biography, University of California Press, Berkeley, CA.         [ Links ]

Brown, P., 1988, The body and society. Men, women and sexual renunciation in early Christianity, Columbia University Press, New York, NY. (Franse uitgawe: Le renoncement à la chair. Virginité, célibat et continence dans le christianisme primitif, vert. P.-E. Dauzat & C. Jacob, Collection Bibliothèque des Histoires, [Éditions] Gallimard, Parys).         [ Links ]

Brown, P., 2018, 'Il ne fut pas le mauvais génie puritain de l'Occident', L'Histoire 448(6), 35-36.         [ Links ]

Brown, P., 2021, 'A conversation', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 06 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/FxkT4eGlUSw.         [ Links ]

Cameron, A., 1986, 'Redrawing the map: Early Christian territory after Foucault', The Journal of Roman Studies 76, 266-271. https://doi.org/10.2307/300375        [ Links ]

Chevallier, P., 2021, 'The birth of Confessions of the flesh', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 11 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 11 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/.         [ Links ]

Chrusostomus, J., 1859, 'Homilia IV, In Epistolam ad Romanos', in J.-P. Migne (red.), Patrologia Graeca 60, 414-421, besigtig 14 Mei 2021, vanaf http://patristica.net/graeca/.         [ Links ]

Clark, E.A., 1988, 'Foucault, the fathers and sex', Journal of the American Academy of Religion 56(4), 619-641. https://doi.org/10.1093/jaarel/LVI.4.619        [ Links ]

Clark, E.A., 2021, 'Contextualizing Foucault's Augustine', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 20 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/JE8F5ep31V4.         [ Links ]

Clements, N.K., 2021a, 'Foucault's Christianities', Journal of the American Academy of Religion 89(1), 1-40. https://doi.org/10.1093/jaarel/lfab024        [ Links ]

Clements, N.K., 2021b, 'Foucault's Christianities', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 19 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/xV_53jAG4Tk.         [ Links ]

Davidson, A.I., 1995, 'Postscript. An interview with Pierre Hadot', in A.I. Davidson (red.), Pierre Hadot. Philosophy as a way of life. Spiritual exercises from Socrates to Foucault, vert. M. Chase, bl. 277-286, Blackwell, Oxford.         [ Links ]

Davidson, A.I. (red.), 1997, Foucault and his interlocutors. A critical inquiry book, University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

De Kesel, M., 2021, 'Van lust naar verlangen en terug: Over Michel Foucault, Bekentenisse van het vlees', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 24 September 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

De Wet, C.L., 2014, 'John Chrysostom on homoeroticism', Neotestamentica 48(1), 187-218.         [ Links ]

De Wet, C.L., 2020, '"Le devoir des époux": Michel Foucault's reading of John Chrysostom's marital ethic in Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair ([1982-1984] 2018)', Religion and Theology 27(1-2), 114-151. https://doi.org/10.1163/15743012-bja10003        [ Links ]

Dorrestijn, S., 2019, 'Confessions of the flesh finally published: A project with breaks and loose ends', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Desember 2019, georganiseer deur die Departement van Filosofie, Universiteit van Amsterdam, bl. 1-2; met Addendum: 'Postume publicatie van Michel Foucaults Bekentenissen van het vlees', bl. 3-4.         [ Links ]

Dorrestijn, S., 2021, 'Omgaan met technologie als verleider: Subjectivering en macht in een technologische kultuur', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 21 Mei 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

Dreyfus, H.L. & Rabinow, P., 1983, Michel Foucault. Beyond structuralism and hermeneutics. With an afterword by and an interview with Michel Foucault, University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Elden, S., 2016, Foucault's last decade, Polity Press, Cambridge.         [ Links ]

Elden, S., 2018, 'Review: Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair', Theory, Culture and Society 35(7-8), 293-311.         [ Links ]

Ewald, F., Fontana, A. & Senellart, M. (reds.), 2004, Michel Foucault. Sécurité, territoire, population. Cours au Collège de France, 1977-1978, Seuil/Gallimard, Parys.         [ Links ]

Ewald, F., Fontana, A. & Senellart, M. (reds.), 2012, Michel Foucault. Du gouvernement des Vivants. Cours au Collège de France, 1979-1980, Seuil/Gallimard, Parys.         [ Links ]

Foucault, M. 1976 (Engelse vertaling 1978), Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir, Collection Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Parys (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge, vert. R. Hurley, Pantheon, New York, NY).         [ Links ]

Foucault, M., 1977, 'Preface to transgression', in D.F. Bouchard (red.), Language, counter-memory, practice, bl. 29-52, Cornell University Press, New York, NY.         [ Links ]

Foucault, M., 1981, 'Sexualité et solitude', in D. Defert & F. Ewald (reds.), 1994, Dits et écrits IV:1980-1988, bl. 168-178, Bibliothèque des Sciences humaines, [Éditions] Gallimard, Parys. Engelse vertaling in Foucault (1999:182-187).         [ Links ]

Foucault, M., 1982, 'Le combat de la chasteté', Communications 35 (Sexualité occidentales, mai 1982), bl. 15-25.         [ Links ] Ook in Defert, D. & Ewald, F. (reds.), 1994, Dits et écrits IV:1980-1988, bl. 295-308, Bibliothèque des Sciences humaines, [Éditions] Gallimard, Parys.         [ Links ]

Foucault, M., 1983, 'L'écriture de soi', Corps Écrit 5, bl. 3-23.         [ Links ]

Foucault, M., 1984a (English translation 1985), Histoire de la sexualité 2: L'usage des plaisirs, Collection Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Paris (The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure, vert. R. Hurley, Random House, New York, NY).         [ Links ]

Foucault, M., 1984b (Engelse vertaling 1986), Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi, Collection Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Parys (The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self, vert. R. Hurley, Pantheon, New York, NY).         [ Links ]

Foucault, M., 1988, 'The battle for chastity', in L.D. Kritzman (red.), Michel Foucault. Politics, philosophy, culture: Interviews and other writings, bl. 188-197, vert. A. Sheridan, Routledge, New York, NY.         [ Links ]

Foucault, M., 1999, 'Sex and solitude', in J.R. Carrette (red.), Religion and culture. Michel Foucault, bl. 182-187, Routledge, Londen.         [ Links ]

Foucault, M., 2018 (Engelse vertaling 2021), 'Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair', in F. Gros (red.), Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, Collection Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Parys (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh, vert. R. Hurley, Pantheon, New York, NY).         [ Links ]

Gertrude von Helfta, 1991, The herald of God's loving kindness. Books One and Two, vert. A. Barratt, Cistercian Publications, Kalamazoo.         [ Links ]

Goldhill, S., 1995, Foucault's virginity: Ancient erotic fiction and the history of sexuality, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Gros, F. (red.), 2018, Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair, Collection Bibliothèque des Histoires, (Éditions) Gallimard, Parys.         [ Links ]

Hadewijch van Antwerpen, 1980, Hadewijch: The complete works, inl. & vert. C. Hart, inl. P. Mommaers, Paulist Press, New York, NY.         [ Links ]

Holierhoek, J. (vert.), 2017, Geschiedenis van de seksualiteit I-III, Boom Uitgeverij, Amsterdam.         [ Links ]

Holierhoek, J. (vert.), 2020, Bekentenissen van het vlees. Geschiedenis van de seksualiteit IV, Boom Uitgeverij, Amsterdam.         [ Links ]

Huffer, L., 2021, 'Foucault's queer virgins', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 18 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/ZnJU7Jq_G7Y.         [ Links ]

Huijer, M., 2021, 'Seks is saai: Vroegchristelijke versus moderne seksuele bekentenissen by Foucault', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 24 September 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

Hurley, R. (vert.), 2021, The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh, Pantheon, New York, NY.         [ Links ]

Jordan, M., 2021, 'Lust in Paradise: On the origins of sexualized Selves', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 13 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/hJEHvVVOmcw.         [ Links ]

Juliana van Liège, 1999, The life of Juliana of Mont-Cornillon, red. & vert. B. Newman, Peregrina Press, Toronto.         [ Links ]

Karskens, M., 2012, Michel Foucault, Boom Uitgeverij, Amsterdam.         [ Links ]

Karskens, M., 2019, 'Kritische studie. Het regime van de bekentenissen. Foucaults Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair', Tijdschrift voor Filosofie 81(3), 559-581.         [ Links ]

Karskens, M., 2021, 'De religieuze codering van spiritualiteit: Martelaarschap en zelf-offer', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

Klinkenberg, P., Hoeks, H., Boekraad, H.C. & Van Dorsselaer, K. (vert.), 1984-1985, Michel Foucault. Geschiedenis van de seksualiteit I-III, SUN, Nijmegen.         [ Links ]

Leezenberg, M., 2018a, Foucaults Les aveux de la chair: Een eerste bespreking', bl. 1-5, besigtig op 14 Mei 2021, vanaf https://www.academia.edu/35977814/Foucaults_Les_aveux_de_la_chair_Een_eerste_bespreking.         [ Links ]

Leezenberg, M., 2018b, 'Foucault, seks en Augustinus', De Nederlandse Boekengids, April-Mei 2018, 6-7.         [ Links ]

Leezenberg, M., 2019, 'Foucault's 1960's lectures on sexuality: Deux cours inédits de Michel Foucault sur la sexualité (2018)', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Desember 2019, georganiseer deur die Departement van Filosofie, Universiteit van Amsterdam.         [ Links ]

Leezenberg, M., 2021, 'Van Geert Grote tot Ignatius van Loyola: Seks, spiritualiteit en gouvernmentaliteit in de Late Middeleeuwen', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 21 Mei 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

Lorenzini, D., 2021, 'Foucault's genealogy of modern knowledge about sexuality: From São Paulo to Confessions of the flesh', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 25 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/wroBiFgxuCo.         [ Links ]

Marienwerder, J.V., 1997, The life of Dorothea von Montau, a fourteenth-century recluse, vert. U. Sturgardt, Edwin Mellen, New York, NY.         [ Links ]

Nestle, E. & Aland, K. (reds.), 2012, Nestle-Aland Novum Testamentum Graece, 28 uitg., German Bible Society, Stuttgart.         [ Links ]

Praet, D., 2020, 'Augustine of Hippo and Michel Foucault's History of Sexuality', in A. Dupont, W. François & J. Leemans (reds.), Nos sumus tempora: Studies on Augustine and his reception offered to Mathijs Lamberigts, bl. 213-236, Peeters, Leuven, besigtig 14 Mei 2021, vanaf http://hdl.handle.net/1854/LU-8685052.         [ Links ]

Praet, D., 2021, 'Pastorale macht en zelf-tegnieken: Foucault en de ascese van de Woestijnvaders', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 21 Mei 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

Raffnsøe, S., 2018, 'Michel Foucault's Confessions of the flesh. The fourth volume of the history of sexuality', Foucault Studies 25(1), 393-421. https://doi.org/10.22439/fs.v0i25.5593        [ Links ]

Sforzini, A., 2021, 'Rebellious flesh: Virgins, consecrated flesh and the radicality of conversion', aanbieding gelewer by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 25 Mei 2021, gehou en befonds deur die Departement van Religie, Rice Universiteit, Houston, TX, met die ondersteuning van die Rockwell Fund, besigtig 30 Mei 2021, vanaf https://foucaultsconfessions.org/; https://youtu.be/iIl9ifGnsOA.         [ Links ]

Vandermeersch, P., 2021, 'Michel Foucault en Methodius van Olympus', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen, besigtig 09 April 2021, vanaf https://patrickvandermeersch.org/2021-michel-foucault-leest-methodius-van-olympus/.         [ Links ]

Veyne, P., 1978, 'La famille et l' amour sous le haut Empire romain', Annales ESC 33(1), 35-63. https://doi.org/10.3406/ahess.1978.293904        [ Links ]

Westerink, H., 2019, De lichamen en hun lusten. In het spoor van Foucaults 'Geschiedenis van de seksualiteit', Uitgeverij Vantilt, Nijmegen.         [ Links ]

Westerink, H., 2021, 'Augustinus, Cassianus en het probleem van de libido', ongepubliseerde aanbieding gelewer by 'n samespraak van die Society Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Institute, Radboud Universiteit Nijmegen.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Johann Beukes
beukescj1@ufs.ac.za

Received: 31 May 2021
Accepted: 20 Sept. 2021
Published: 19 Nov. 2021

 

 

1 . Leezenberg (2018a:4; cf. Foucault 2018:342-350; cf. Leezenberg 2018b:6-7; cf. Praet 2020:213-214). Vir 'n verantwoording waarom ek tot selfs onlangs (cf. Beukes 2020a) nie onproblematies na Les aveux de la chair as die 'vierde' volume van Foucault se seksualiteitsgeskiedenis wou verwys nie en waarom ek die redakteur van hierdie volume, Frédéric Gros (in ed. Gros 2018), uitdruklik in verwysings na die teks aangedui het (en dus nie na Foucault as 'skrywer' verwys het nie), sien Beukes (2020a:2-7). My standpunt bly dat die teks nié sonder verantwoording kan dien as die vierde volume in die reeks Histoire de la sexualité nie, aangesien dit 'n redigering is van 'n onvoltooide manuskrip wat Foucault nie persoonlik afgeteken het nie. Die konsensus in die eietydse (2021) Foucault-navorsingsgeselskap blyk te wees na drie jaar van intensiewe debat daaroor en 'n internasionale konferensie wat uitsluitlik oor Les aveux de la chair gehandel het (cf. Chevallier 2021; Clements 2021a:1-40, 2021b), dat Les aveux de la chair as die vierde volume in die reeks erken en sodanig hanteer kan word. Gros se enorme bydrae tot die redigering en publikasie van die teks behoort egter steeds benadruk te word, minstens met 'n afsonderlike inskrywing in die bibliografie.
2 . Volgens hierdie hipotese is die Victoriaanse samelewing gekenmerk deur die onderdrukking van die drifte, wat tot allerlei neuroses aanleiding gegee het en eers gedurende die kultuurrevolusie van die 1960's onder leiding van psigoanalitiese praktisyne soos Wilhelm Reich terapeuties aangespreek is, om daarmee selfverwesenliking ten aansien van 'seksuele bevryding' te bewerkstellig. Foucault betoog in La volonté de savoir dat hier geen sprake is van 'bevryding' nie, maar juis 'n nuwe vorm van magsuitoefening, waarin mense opnuut gedwing is om 'die waarheid te beken'. Dit verskil geensins van die soort patologisering van 'seksualiteit' (byvoorbeeld 'homo' teenoor 'hetero'), wat so dominant in psigiatriese kringe in die laaste dekades van die 19de eeu was (en op grond waarvan 'homoseksualiteit' vanaf 1891 as 'n diagnoseerbare en geneesbare 'patologie' verstaan is). Foucault betoog gevolglik dat die drifte nie 'natuurlike' werklikhede is nie, maar vormprodukte van die verhouding tussen kennis en mag; in daardie sin is die drifte dus 'n kulturele gegewe. In dié opsig sit psigoanalise, volgens Foucault, op diskursiewe wyse die minstens jaarlikse Christelike sakramentaflegging van die bieg voort, gekanoniseer sedert die Vierde Lateraanse Konsilie van die 13de eeu (1215). Moderne psigoterapeute, net soos die kerkvaders vanuit die laat patristiek en die Middeleeuse biegvaders, oefen daarmee 'pastorale mag' oor kwesbare individue uit, ter wille van hulle gewaande 'liggaamlike en geestelike welsyn'. Die opvolgende betoog in La volonté de savoir is dat die Westerse samelewing reeds vanaf die 13de eeu (en nie eers vanaf die Victoriaanse periode nie) sistematies, dog repressief, op seks gefikseer het: Die sosiale konvensies vanuit daardie sentraal Middeleeuse periode wat seksuele kontak streng gereguleer het, het deur middel van die biegpraktyk 'n progressiewe openbaarmaking of 'diskoers' geproduseer, wat daartoe gelei het dat die betrokke diskoers sedertdien 'n maatskaplike alomteenwoordigheid geword het. Die begrip seksualiteit is uiteraard self 'n gevolg van die 19de-eeuse diskoers oor 'seksualiteit' en dit is die rede waarom 'seksualiteit' volgens Foucault (1976:15-16) 'n betreklik onlangse 'uitvindsel' is. Die streng regulering van seks in die Middeleeue was ironies uitermate produktief, afgesien daarvan dat daarmee 'n selfperpetuerende diskoers tot stand gebring is wat andersins nooit selfstandig sou geword het nie: '[
] seksuele identiteite is [daardeur] geskep en die meervoudigheid van seksualiteite is juis op hierdie wyse bevorder' (Beukes 2020d:2).
3 . Vir 'n toeganklike en onlangs bygewerkte tabel van al Foucault se Collège de France Leçons met die datums van aanbieding, die uiteindelike publikasie daarvan in Frans en die latere vertalings daarvan in Engels, sien Clements (2021a:6-7).
4 . In die inleiding tot L'usage des plaisirs (Foucault 1984a:1-32) dui Foucault die oogmerk van die tweede en derde bande van Histoire de la sexualité aan. Hy betoog dat hy geen behae in 'n konvensionele historiese oorsig van die ontwikkeling van beskouinge oor seks het nie, maar geïnteresseerd is in juis die wyse waarop die beskouinge gekonseptualiseer is. Foucault wou uitdruklik ontsnap uit die impasse van die heersende (moderne) konseptuele raamwerk oor seks en 'seksualiteit': '[H]ierdie twee bande het nie die oogmerk om 'n geskiedenis van seksuele gedragsvorme aan te bied nie, ook nie 'n geskiedenis van voorstellinge daaromtrent nie, maar 'n geskiedenis van "seksualiteit" - die aanhalingstekens is belangrik' (Foucault 1984a:3). Foucault verduidelik opvolgend dat 'seksualiteit' 'n moderne (as scientia sexualis) en spesifiek 19de-eeuse verskynsel is wat geen semantiese presedent in die Hellenistiese en Romeinse kontekste het nie. Die Grieke en Romeine het toegewing aan die seksuele drifte beskou as natuurlik en eenvoudig daarna verwys as ta aphrodisia (
τάἈφροδίσια, of erga Aphrodites, 'die werke van Ἀφροδίτη', Foucault se voorkeurbegrip), wat nie soos scientia sexualis die verhouding tussen seksuele begeerte en identiteit probeer naspeur en 'gevolglik fokus op die objekte van begeerte' nie (Foucault 1984a:38-52). Die werke van Afrodite het volgens Foucault in die Hellenisties-Romeinse konteks 'n diep maatskaplike karakter: Die fokus val trouens algeheel weg van 'objekte van begeerte' en die 'seksuele identiteit' van een of beide seksgenote en vra eerder na die posisie van die seksgenote in die samelewing en juis hoe die betrokke ontmoeting bydra tot Afrodite se werke; dit is, die gebruik en ontwikkeling van die drifte. Die Grieke vra gevolglik na die 'gebruik' of chresis (χρῆσις) van die drifte vanuit die invalshoek van die morele karakter van die betrokke seksgenote (Foucault 1984a:53-62): nie seksuele begeerte of seksuele identiteit ('oriëntasie') nie, maar die maatskaplike posisie of 'mag' van die seksgenote is deurslaggewend vir die verantwoording van die morele kwaliteit van die ontmoeting. Vanuit hierdie magsonderskeid tussen die seksgenote is dit nie ter sake of 'n vry man 'n vrou of 'n manlike slaaf penetreer nie - solank as wat die vry man nie 'n passiewe, ondergeskikte ('vroulike') rol in die ontmoeting inneem nie. Dit sluit pederastie in: die begrip dui op die antieke, oorwegend Hellenistiese gebruik om 'postpuberteitse minderjariges seksueel deur volwassenes van dieselfde geslag op te voed. 'n Postpuberteitse jong man se eerste seksuele ervaring was binne daardie konteks met 'n ouer man en 'n postpuberteitse jong vrou se eerste seksuele ervaring met 'n ouer vrou' (Beukes 2019a:7). Binne die Hellenistiese konteks van 'Afrodite se werke' spreek dit vanself dat die jonger persoon die passiewe rol sou moes inneem.
5 . Opvallend verwys Foucault in nie een van die drie oorspronklike bande van Histoire de la sexualité na Johannes Chrusostomus nie. Hy verwys wel een maal in band 2 (1984a:19) en een maal in band 3 (1984b:40) na die Griekse skrywer van die Romeinse imperialistiese geskiedenis Dio(nisos) Chrusostomus (ca.40-ca.115). Johannes Chrusostomus kom wel deeglik tereg in al drie afdelings van Les aveux de la chair, waar Foucault 'waarheidsvertelling' vanaf Seneca na Cassianus en Chrusostomus ondersoek (Foucault 2018:57-144) in die eerste afdeling, en ook in die tweede en derde afdelings wat handel oor maagdelikheid en die huwelik (Foucault 2018:213-275). Die verpligtinge wat Chrusostomus aan huweliksgenote stel, kom naamlik neer op 'n soort 'politieke gelykheid' wanneer seksuele toegang oorweeg word: '[
] die regte van die een bepaal die verpligtinge van die ander' (Foucault 2018:275). Getroudes 'evalueer' mekaar, wat 'metaforiese slawerny' tot gevolg het of 'huweliksverpligtinge as skuld verreken' (Foucault 2018:275). Dit sou 'n denker van die snit van Augustinus neem om veel duideliker as Chrusostomus aan te toon presies watter begeertes en vorme van verbruik hierdie ekonomie bepaal, om gevolglik 'n 'subjek van begeerte' te omlyn wat deur die libido gedefinieer word en wat daarom gereguleer behoort te word (sien ook die uitstekende ontleding van De Wet [2020:114-151] waarin Foucault se interpretasie van Chrusostomus in Les aveux de la chair vanuit gespesialiseerde patristiese oorwegings verreken en uiteengesit word; vgl. De Wet 2014:187-218).
6 . Die begrip para fusin (normaalweg as 'perversiteit' of andersins as 'teen-natuurlik' vertaal in Afrikaans) gaan 'ideëhistories so ver terug as na Plato se uitsprake oor para fusin in Symposion (191E) en Nomoi (636B-C), waar beide vroulike en manlike homoërotiek (eersgenoemde betreklik sagsinnig getipeer as hetairistriai) simpatiek by monde van Aristofanes in Symposion as die "natuurlike soeke na 'n primordiale liggaams- en geesgenoot" gekenmerk word, terwyl para fusin wel meer Stoïsyns in Nomoi aangedui word as die verlies aan selfbeheer ter wille van seksuele gratifikasie' (Beukes 2021b:5 [vn.16]).
7 . 'Natuurlik het Chrusostomus besef dat sommige mans en vroue verkies om uitsluitlik selfdegeslagkontak te handhaaf en dus nie by geleentheid nie, maar konstant binne die slaggat van hierdie besondere sonde trap - wat die "surplus"-opvatting onsinnig stel. Om uit die impasse van dié onsinnigheid te ontsnap, betoog Chrusostomus dat die wesenlike sonde - oordrewe seksuele begeerte, sonder onderskeid van geslag - die resultaat is van God se verwerping van mense skuldig aan hierdie verskriklike sonde. Dit sou, met verwysing na die tiende gebod, dus die verskriklikheid van "begeerte" as sodanig moes wees. Die straf vir dié oortreding is niks minder nie as identiteitsverlies. Daar bestaan vir Chrusostomus duidelike "natuurlike bane" waarin ook die maatskaplike orde opgeneem is' (Beukes 2021b:3). Juis hóé plofbaar enige seksuele (en daarom maatskaplike) beweging buite hierdie bane vir Chrusostomus is, word ten slotte in Homilia IV aangeroer waar hy die 'seksuele ondergrawing van die maatskaplike orde' aan 'n apokaliptiese 'vernietiging van die aarde' koppel. In aansluiting by 'n ou Romeinse landboumetafoor vir menslike vrugbaarheid herinner Chrusostomus (1859:420-421) sy hoorders daaraan dat 'God se vernietiging van Sodom (na Genesis 19) deur vuur beteken dat die "baarmoeder van die aarde in daardie stad" nie langer ontvanklik vir "vrugbare saad" was nie, omdat die mans van Sodom hulle saad vermors het (oftewel die sonde van onanisme) deur dit in mans te stort'. Die grond van Sodom het daarom 'so onvrugbaar soos die saad van haar mans geword' (Beukes 2021b:8 [vn.14.]. Waar saad so onanisties 'vermors' word, trek die baarmoeder van die aarde toe en volg natuurlike ellendes soos droogte en hongersnood. Met hierdie argaïese landboumetafoor 'trek Chrusostomus 'n historiese lyn vanaf die gevestigde homoërotiek van die Romeine na homoërotiese praktyke in die laat-vierde en vroeg-vyfde eeue' (Beukes 2021b:8 [vn.14]).
8 . Uitermate afkeurend en polemies oor seks en veral homoërotiek soos wat Homilia IV aandoen, moet in ag geneem word dat dit 'slegs 'n beskeie deel van Chrusostomus se literêre korpus uitmaak en dat [Chrusostomus] die enigste kerkvader was wat hom hoegenaamd so skerp oor spesifiek homoërotiek uitgelaat het' (Beukes 2021b:8-9).
9 . Sien Foucault (1988:227-241): sy Cassianus-ontleding herverskyn in Les aveux de la chair op bl. 230-245. Foucault verduidelik in voetnoot 32 dat die gedeelte oorspronklik voorgekom het in L'usage des plaisirs voordat hy die Hellenistiese en Romeinse afdelings geskei het met Le souci de soi as die derde ('Romeinse') band. Aangesien hy nie elders in die drie bande op parresia ingegaan het nie, wou hy dit spesifiek laat dien in Les aveux de la chair met verwysing na Cassianus se 'stryd om kuisheid'.
10 . Cassianus self het die reglementering en 'juridisering' van seks nie verder ondersoek nie. Augustinus het dit wel deeglik gedoen, soos hier onder uitgewys.
11 . Betekenisvol wys Praet (2020:31 [vn.37]) op 'n vroeë patristiese sleutelteks wat Foucault (1983:3-23) breedvoerig binne die konteks van opkomende pastorale mag in 'n later gepubliseerde onderhoud (getitel L'écriture de soi) bespreek het: dit is die Vita Antonii (geskryf tussen 356 en 362) deur Athanasius van Alexandrië (ca.296/8-373) waarin geboekstaaf word dat Antonius se geestelike advies aan asketiese volgelinge sou behels het dat elke gedagte en handeling neergeskryf moes word, wat dan as toeganklik vir derde partye as 'n 'uitwendige gewete' kon funksioneer. Die oogmerk van hierdie asketiese eksperiment sou wees dat, indien dit waar is dat mense intrinsiek skaam is om voor 'die ander' met die 'werke van Afrodite' besig te wees, met hierdie geestelike dagboek waarin die toegewing aan die drifte (of selfs net die oorweging daarvan) neergeskryf word, 'n uitbreiding van die blik van 'die ander' bemoontlik word. Hierdie 'ander' dui in die laat patristiek soos by Augustinus toenemend op die pastorale figuur self. Vreemd genoeg verwys Foucault (2018:140 [vn.3]) in Les aveux de la chair slegs in 'n enkele voetnoot na hierdie duidelik belangrike teks binne die konteks van die patristiese vorming van die subjek.
12 . Dié paragraaf van minder as 500 woorde maak gebruik van wesenlike oorwegings in die ongepubliseerde voordrag van Westerink (2021), geparafraseer met sy toestemming - aangevra en toegestaan op 09 April 2021.
13 . Soos verwoord in die sesde hoofstuk van Cassianus se Institutiones ('Aangaande fornikasie') en die vierde ('Die luste van die vlees en gees'), vyfde ('Die agt ondeugde'), 12de ('Kuisheid') en 22ste ('Nagvisioene') hoofstukke van sy Conferences.
14 . Dit is eers wanneer die seksuele inspraak van die vlees juis onder pastorale beleiding beken word, dat die ander duisterwerke van die vlees ontbloot mag word, waaronder selfsug, jaloesie en woede (na die apostoliese betoog in Galasiërs 5:19-21; sien Foucault 1988:228). So word 'n dubbele hermeneutiek van begeerte en agterdog 'n voorwaarde vir die hermeneutiek van die Self; dit is, die wantroue in die eie intieme versugtinge en die onderwerping aan beheer oor seksuele begeerte as 'n voorwaarde vir selfbegrip. Dié proses van subjektivering of die vorming van die subjek sluit duidelik 'n vorm van selfobjektivering in: '[
] hierdie subjektivering, in 'n mens se soeke na die waarheid aangaande jouself, het geskied deur ingewikkelde verhoudings met ander [mense], en in vele opsigte. 'n Mens moes jouself losmaak van die mag van die Ander, die Vyand, wat wegkruip agter spieëlbeelde van jouself, en 'n ewige stryd moes teen hierdie Ander gevoer word, een wat nie gewen kon word sonder die Almagtige wat altyd magtiger is as daardie Ander nie. Laastens, bekentenisse teenoor ander (monnike), onderwerping aan hulle leiding, en blywende gehoorsaamheid tot ['n monnik se] meerderes was wesenlik in hierdie stryd [om kuisheid]' (Foucault 2018:244-245; cf. Foucault 1988:240).
15 . In ruil ontvang die bekennende subjek une vie qui n'est pas de ce monde ('n 'lewe wat nie van hierdie wêreld is nie'; Foucault 2018:239; cf. Raffnsøe 2018:405). Die subjek word deur die bekentenisse van die vlees toegerus met 'n 'volledige tegniek' wat die subjek in staat stel om 'homself onder konstante selfwaarneming te plaas', waar 'sy denke ononderbroke ontleed en gediagnoseer word, en die oorspronge, eienskappe, gevare, versoekinge en ander verskuilde magte en kragte wat agter die verskyning daarvan wegkruip, ontbloot word' (Foucault 2018:244).
16 . Die werksaamhede van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België in 2021 het veel vermag om La volonté de savoir en L'usage des plaisirs binne 'n ontwikkelende en samehangende raamwerk in aanloop tot Les aveux de la chair te kontektualiseer. Die bydraes van Machiel Karskens (2021; sien ook Karskens 2012), Patrick Vandermeersch (2021; sien ook Goldhill 1995:1-45), Herman Westerink (2021), Danny Praet (2021), Michiel Leezenberg (2021; sien ook Leezenberg 2019), Marc De Kesel (2021), Marli Huijer (2021) en Steven Dorrestijn (2021) posisioneer Les aveux de la chair uitdruklik as die teks waarin Foucault aan Augustinus 'n sentrale rol toeken as 'n sleutelfiguur in die laat patristiese ontwikkeling van die onderskeid tussen 'liggaam' en 'vlees'. Tog het die vereniging reeds begin om Foucault se lesing van enkele ander kerkvaders wat in die werk figureer, in voordragte te ontleed: naas Praet (2021) se 'Pastorale macht en zelf-technieken: Foucault en de ascese van de woestijnvaders' en Westerink (2021) se 'Augustinus, Cassianus en het probleem van de libido' (sien ook Westerink 2019 vir 'n meer wydgaande ontleding), is Vandermeersch (2021) se 'Michel Foucault en Methodius van Olympus' en Leezenberg (2021) se 'Van Geert Grote tot Ignatius van Loyola: Seks, spiritualiteit en gouvernmentaliteit in de Late Middeleeuwen' besonder relevant. Hierby moet ook die bydraes deur 'n aantal vooraanstaande Foucault-navorsers by 'n internasionale konferensie Foucault's Confessions, aangebied deur die Departement Godsdienswetenskap te Rice Universiteit (Houston, Texas) en deur die skrywer bygewoon (Mei - Junie 2021) ingereken word (sien Bernauer 2021; Brown 2021; Chevallier 2021; Clark 2021; Clements 2021b; Huffer 2021; Jordan 2021; Lorenzini 2021; Sforzini 2021). Hierby kan Stuart Elden (2016, 2018) se uitstekende inleidings tot Les aveux de la chair in die besonder en tot Foucault se laaste dekade in die algemeen, gevoeg word.
17 . Dit beteken dat die 'vier' (huidige) bande van Histoire de la sexualité in sowel die oorspronklike Franse tekste, as in die bestaande vertalings daarvan, meer as 1200 bladsye beslaan, wat dui op 'n magistrale enkelaanbod met volumegewys min gelyke in kontemporêre filosofie. Holierhoek se vertaling van die vier bande in Nederlands (met die eerste drie bande in 'n enkele band saamgevat [cf. vert.Holierhoek 2017]) is voorafgegaan deur die Nederlandse vertaling van Klinkenberg et al. (vert. 1984-1985) in drie afsonderlike bande.
18 . Die vier ekskurse hanteer 1) die betreklik gelykmatige korpus van voorskrifte rondom bekentenis in die Griekse en Romeinse literatuur; 2) die feitlik (voetnota 18 kontinueer
) onveranderde oorname van daardie korpus in die eerste- en tweede-eeuse patristiek; 3) die wysiging van daardie aanvanklik onveranderde korpus in die herdefiniëring van die verhouding tussen subjektiwiteit en waarheid in die latere patristiek van die derde tot vyfde eeue, veral ten opsigte van die herverstaan van seksuele plesier en die soort ekonomieë wat daaruit voortkom; en 4) dat hierdie herdefiniëring van die verhouding tussen subjektiwiteit en waarheid nie soseer op 'n verbod aankom nie, maar eerder op 'n ontleding van die raamwerk van die toegewing aan die drifte en hoe subjekte in die vroeë Christendom hulle tot daardie raamwerk moes verbind. 'n Substansiële deel van die inhoud van hierdie ekskurse gaan terug na Foucault se lesings by die Collège de France vanaf 1977 tot 1989 (cf. Ewald, Fontana & Senellart reds. 2004, reds. 2012).
19 . Daar bestaan geen verwysing na Augustinus in La volonté de savoir (Foucault 1976) nie. In L'usage des plaisirs (Foucault 1984a:40, 138, 253) word drie kursoriese verwysings gemaak (rakende die jong Augustinus se verkenning van die erotiese, die Augustynse sondeleer en die huwelik). In Le souci de soi (Foucault 1984b:143) is daar 'n enkele verwysing na Augustinus se polemiek met die Pelagiaan Julianus van Eclanum (ca.386-ca.455) oor die vroeë Christelike aksent op die 'heiligmakende' aanspraak van maagdelikheid (as 'n soort 'selfoffer'). Augustinus figureer egter wel in al drie dele van Les aveux de la chair, in besonder in Deel III wat handel oor être marié (die 'getroude lewe').
20 . Confessiones figureer wel 'n enkele keer in L'usage des plaisirs (Foucault 1984a:40).
21 . Die onderstaande vier paragrawe is 'n parafrasering van Praet se oorsig (2020:223-225) oor die invloede op Foucault se interpretasie van Augustinus. Toestemming vir 'n parafrasering van 800 woorde van hierdie gedeelte is op 29 Maart 2021 aangevra en op dieselfde dag deur Praet toegestaan.
22 . Hoewel spesialisnavorsing natuurlik geregtig daarop is om probleme in Foucault se resepsie van die kerk- en woestynvaders uit te wys, is dit om hierdie rede nie billik om Foucault se interpretasie van latere vaders soos Chrusostomus, Cassianus en Augustinus te lees as sou hy daarmee voorgegee het om 'n nisbydrae tot die patristiek as (tegelyk) historiese wetenskap en literatuurwetenskap te maak nie (cf. Brown 2021:1). Klagtes oor die 'teologiese verskraaldheid' van Les aveux de la chair (cf. Dorrestijn 2019:1-2) val myns insiens binne dieselfde kategorie. Eerder moet die diskursiewe strekking van Foucault se lesing van die vaders verreken word, naamlik dat hy die groter ideëhistoriese trajek rakende die beheer van seksuele begeerte vanaf die Hellenistiese na die Romeinse na die patristiese kontekste deeglik en verantwoord wou uitwys. Die onderstaande transgressiewe lesing van die verhouding tussen raptus en 'vorm van die wil' in Foucault se interpretasie van Augustinus wil eweneens niks méér doen as om met daardie Foucaultiaanse trajek rekening te hou en dit wel ook onderbeklemtoond te verruim nie.
23 . Foucault het Hadot trouens in 1982 genomineer vir 'n permanente aanstelling by die Collège de France, waar Foucault self vanaf 12 April 1970 in die nuutgestigte leerstoel vir die Geskiedenis van Denksisteme (geskep in 1969 op aanbeveling van Merleau-Ponty se opvolger by die CF, Jules Vuillemin [1920-2001]) as professor gedien het. Veyne het die leerstoel vir Romeinse geskiedenis vanaf 1975 by die CF beklee. Foucault se interpretasie van die patristiek is dus grootliks vanuit die CF self gevorm. Hierdie Franse kollegas se invloed sluit natuurlik nie die latere inspeling van Amerikaanse medewerkers soos Hubert Dreyfus en Paul Rabinow uit nie (cf. Dreyfus & Rabinow 1983:xvii-xxvii).
24 . Hierdie periode kan rofweg gedateer word vanaf 133 tot 27 VAJ. Die opvolgende Imperiale periode kan gedateer word vanaf 27 VAJ tot 476 AJ.
25 . Vertalings van Le souci de soi verloor die dubbele lading van souci in Frans: enersyds dui die woord wel op 'sorg' of 'versorging', andersyds tog wel op se faire des soucis, wat eerder 'besorgdheid' of selfs 'kommer' kan beteken; met ander woorde, die moontlik negatiewe liggaamlike en emosionele gevolge van toegewing aan die drifte (cf. Praet 2020:223 [vn.26]).
26 . '[
] la transcription quasi littérale d'un passage écrit par le philosophe païen Cicéron dans l'Hortensius' (Foucault 1999:185). Daar is reeds kort na die publikasie van Le souci de soi twee punte van kritiek teen Foucault (en Veyne) se interpretasie van bogenoemde drie Romeinse oorwegings ingebring (sien Goldhill 1995:46-111). Eerstens moes hulle daarmee rekening gehou het dat hierdie oorwegings ten diepste ironiserend en ondermynend was en geen betrekking op die Romeinse maatskaplike werklikheid as sodanig gehad het nie. Tweedens kom dit na hierdie kritiek voor asof Foucault sy interpretasie van die Romeinse en vroeë Christelike seksuele moraal geskoei het op die vroeë moderne Katolieke verstaan van die huwelik en dat sy interpretasie daarom eisegeties was (bedoelende dat hy onbedoeld anachronisties betekenisse in die teks ingelees het wat nie deur die oorspronklike aanbod gereflekteer word nie). Op hierdie kritiek het Foucault (met ondersteuning van Veyne) geantwoord dat hy nie besig was om 'n geskiedenis van leerstellinge oor seksuele gedrag aan te bied nie, maar om 'n geskiedenis van seksualiteit, of anders gestel, 'n oorsigontwikkeling van die konseptualisering van seks aan te bied - wat in Le souci de soi en die latere Les aveux de la chair uitdruklik gerig is op die ideëhistoriese ontwikkeling van die beheer oor seksuele begeerte vanaf die Hellenistiese na die Romeinse na die patristiese kontekste. Foucault se aanspraak dat die vroeë Christelike seksuele moraal wesenlik 'n voortsetting was van wat die Romeinse skrywers aangebied het, kon dalk meer volledig begrond gewees het - maar dit was binne die raamwerk, gees en stemming van sy geskiedenis van seksualiteit nie 'n misplaaste aanspraak nie.
27 . Vir die uitkoms van hierdie eerste ontmoeting en opvolgende samewerkinge tussen Brown en Foucault oor Cassianus, Augustinus en die patristiek, sien Behr (1993:1-21).
28 . Vir twee uitstekende vroeë (1986 en 1988) lesings van Foucault se interpretasie van die vroeë Christelike seksuele moraal, beide met verwysing na L'usage des plaisirs en Le souci de soi, sien Cameron (1986:266-271) en die befaamde feministiese patristiekspesialis Elizabeth A. Clark (1988:619-641); per verwysing Praet (2020:223 [vn.33]). Interessant en opvallend verwys Cameron (1986:266) reeds op die eerste bladsy van haar ontleding na 'ene Les aveux de la chair, wat nog nie gepubliseer is nie, maar dit is duidelik in watter rigting dit sal gaan'.
29 . In sy reaksie kort na die publikasie van die geredigeerde Les aveux de la chair in 2018, merk Brown (2018:35-36; cf. Brown 2021:1) op dat hy bykans vier dekades na daardie eerste ontmoeting steeds oorbluf is deur juis hoevéél parallele daar tussen sy gespesialiseerde ontledings en Foucault se (niegespesialiseerde) interpretasie van beskouinge oor seks in die vroeë Christendom was. Sonder om dit so af te spreek, het hulle dieselfde tekste uitgesonder en selfs dieselfde tekskritiese versameling (die Jesuïtiese Sources Chrétiennes) gebruik, terwyl hulle onafhanklike gevolgtrekkings merkwaardig ooreengestem het ('[
] ons was letterlik op dieselfde bladsy'; Brown 2021:1). In sy kort skets benadruk Brown (2018:35) dat Foucault se seksualiteitsgeskiedenis geen sweem van 'n moralistiese of waarde-oordelende blik op die patristiek vertoon het nie: 'Foucault blameer Augustinus of die Christendom vir niks: selfs die latere Foucault was nog té strukturalisties om sy veld van ondersoek so moralisties te benader'. Foucault was op meta-vlak geïnteresseerd in die mag daaragter: inderdaad wou hy niks anders doen nie as om 'spesifieke skrywers en spesifieke tekste te ontleed om te verstaan hoe moderne seksualiteit ontwikkel het en hoe ons vorentoe kan beweeg' (Praet 2020:224).
30 . 'Mundaan' dui in hierdie konteks wel op iets meer gewoon, gestroop, eenvoudig en voorhande as 'wêrelds'. Foucault beweer uiteraard nie dat die kerkvaders geen aandag aan 'die huwelik' gegee het nie. Hy het dit oor die niedogmatiese saamwees en eenvoud van saamleef met 'n ander mens, wat syns insiens wel deur die vaders afgeskeep is. Foucault beweer dus dat die gewoonheid en eenvoud van saamleef met 'n ander (dit is, 'die getroude lewe') toenemend onderbeklemtoon is onder dogmatiese (kerklik sakramentele) druk ('die huwelik') en die botviering van askese, kuisheid en maagdelikheid as juis bowewêreldse deugde in die opkomende kloosterwese van die derde en vierde eeue. Foucault wou dus aantoon dat die 'alledaagsheid van die getroude lewe' (daarom as 'n vorm van 'kunstige saamleef') grootliks verbygegaan is - tot by Augustinus.
31 . Let egter daarop dat Augustinus 'die huwelik eerder in die breër Noord-Afrikaanse sin as die enger formele kwalifikasie daarvan in die Romeinse familiereg verstaan, naamlik as 'n verhouding waarin 'n vrou die voorneme (intentio) het om permanent saam te leef met en getrou te bly aan die man waarmee sy tans saamleef' (Beukes 2021b:10 [vn.23]; cf. Augustinus 1845 [1900]:376-377 [5.5, Conjunctio viri et feminae quandonam sit connubium, quando non]). Inderdaad was daar talle uiteenlopende perspektiewe op die huwelik in die vroeë Christelike kerk waarop 'n monolitiese beskouing nie afgedwing kon of kan word nie (cf. De Wet 2014:203 [vn.37]).
32 . Sien Augustinus se omvangryke betoë gelewer in beide De bono conjugali (Augustinus 1845 [1900]:382) en De nuptiis et concupiscentia (Augustinus 1902:456).
33 . Die apostoliese tradisie, in besonder Paulus self, 'dring op geen stadium op die voortplantingsopset as voorwaarde vir seksuele kontak binne die huwelik aan nie en handhaaf trouens, byvoorbeeld in 1 Korintiërs 7:3-5, die opvatting van vrye seksuele toegang binne die huwelik (synde 'n [skynbaar objektiewe] "huweliksplig"#'; Beukes 2021b:7): ''n Getroude man moet sy plig teenoor sy vrou nakom, en net so ook 'n getroude vrou haar plig teenoor haar man. 'n Getroude vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar haar man beskik daaroor; net so beskik 'n getroude man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou beskik daaroor. Moenie seks binne die huwelik afwys nie, tensy so ooreengekom [
]', (dinamiese vertaling uit Nestle Aland Novum Testamentum Graece, in Beukes 2021b:7).
34 . 'Hoewel Foucault dit nie sodanig uitwys nie, tree hier 'n diep pastorale oorweging by Augustinus na vore: Pligpleging en begeerte is immers teenoorstaande diskursiewe begrippe wat tot verskillende soorte subjektiwiteitsvorming aanleiding gee. Augustinus is dermate vasbeslote om van die opvatting van 'pligpleging' binne die 'alledaagsheid van die getroude lewe' afstand te doen, dat hy selfs prostitusie aanbeveel vir getroude Christelike mans (met die medewete en selfs aanmoediging van hulle vroue), indien die gratifikasie van seksuele begeerte die opset vir seksuele kontak sou wees (sien De ordine [Augustinus 1970:11.4.12]: Aufer meretrices de rebus humanis, turbaveris omnia libidinibus ['Verwyder prostitusie uit die samelewing en dan vernietig wellus alles']; sien ook die 11de afdeling in De bono conjugali in geheel [Augustinus 1845 [1900]:XI]). Hierdie aanwysing moet uiteraard nie verstaan word as 'n morele pleitbesorging vir prostitusie nie, maar spruit uit empatie met getroudes wat op grond van (effektief verpligte) seksuele kontak tot wilsverminderde juridiese subjekte verlaag word, terwyl die outentieke vorming van die subjek vir Augustinus die wil juis benadruk en seksuele begeerte (anders as seksuele plig) as die 'vorm van die wil' aangedui kan word (Beukes 2021b:8).
35 . Foucault gaan nie daarop in nie, maar Augustinus (1902:1.4.5) staan onder meer 'n bespreking in De nuptiis et concupiscentia af, waarin hy (na sy interpretasie) 'die outentieke aard van 'n Christelike seksuele moraal in verband bring met die gedrag van voëls, wat geen ander oogmerk met paring het as voortplanting en die versorging van die nes nie. Versorgende voortplanting is in die "natuur" van voëls en tegelyk 'n aanduiding van wat "natuur" nié is nie. Seks ter wille van seksuele gratifikasie is daarom vir Augustinus inderdaad "sonde teen die natuur"#' (Beukes 2021b:6 [vn.27]; cf. Augustinus 1845 [1900]:383).
36 . Die hoofstuk is betekenisvol getitel: An etiam in paradiso generandum fuisset, si nemo pecasset, uel utrum contra aestum libidinis pugnatura illic fuisset ratio castatis.
37 . Vir sy interpretasie van transgressie, sien Bataille (1962:49-54, 2001:26, 69-72). Foucault (1977:31) self definieer Bataille se erotisme instemmend as 'n 'teen-konseptuele' poging 'om taal in die nag te verloor', terwyl Bataille se opvatting van transgressie dui op 'die ontsnapping van diskursiewe pogings om identiteit te definieer' (Foucault 1977:33). Hiervolgens sou transgressie moes dui op 'n tydelike oorstyging van sowel taligheid as identiteit - en daarom van die wil van die kennende en sprekende subjek. Dit is presies wat in die raptus-ervaringe van 'n aantal vroulike mistici vanuit die sentrale Middeleeue tot uitdrukking gebring word. Vir Foucault se meer algemene resepsie van Bataille, sien die tersaaklike opmerkings in Huffer (2021:1:04:15-1:07: '[
] it's space of recoding ecstatic transendence [...] transgression is the condition for the possibility of counter-conduct []').
38 . Apofatiese teologie beteken vir Dionisius, soos sy Neoplatoniese voorgangers, Plotinus en Porphyreus, nie 'n growwe negasie nie, maar stilte en stilwording; om die verskuildheid van die Goddelike, anderkant verstand en Syn met 'n gewyde en daarom wyse stilte te eerbiedig. Die stilte self is nie 'n vorm van kennis nie, maar juis die 'niegebeure' van kennis; kennis as 'nonaktiwiteit'. Die mistieke liggaamstaal van dié vroulike mistici in die 12de en 13de eeue eerbiedig hierdie apofatiese kwaliteit uitdruklik. Daarom word die 'taal van die liggaam' in hulle werke strategies gebruik om die 'taal van die intellek' te oorstyg. Vergelyk Hadewijch van Antwerpen (fl.1240; 1980:84, reël 121): 'Woorde alleen en taal alleen is genoegsaam vir al die dinge in die wêreld [
] maar geen woorde en geen taal kan uitdruk wat ek as my hoogste doel met Hom ervaar nie' (cf. Beukes 2020c:3). Alhoewel uitdruklik nie binne 'n seksuele konteks nie, kan die begyn Marguerite Porete (1250-1310) se annihilatio van die siel ingelyks as 'n wilstransenderende impuls verstaan word (cf. Beukes 2020d:208-211).
39 . Maximus se idiosinkratiese en proto-libertynse beskouinge vir sy tyd en konteks, rondom die verhouding tussen seks, die dood en godsdiens, is aangrypend genuanseerd en kom in geheel nie ooreen met die Bisantynse en Latyns Westerse kloosterwese se sarkofobiese afwysing van seks as skaduagtig en uiteindelik ondermynend van moontlike geestelike eenwording tussen mens en God nie. Trouens, seksuele differensie en erotiese oorgawe is by Maximus produktiewe modi van juis 'n filosofies mistieke opgaaf. In die seksuele vereniging tussen een mens en 'n ander mens vind Maximus 'n mistieke eenwording tussen die Een God en een mens. Dit is 'n onvergeetlike aanbod vanuit die donkerste deel van die Middeleeue en 'n idiosinkrasie waarvoor Maximus onthou is in die sentrale Middeleeue, juis veral deur hierdie vroulike mistici.
40 . Dit is juis belangrik dat die vroulike denkers maagde was wie se maagdelikheid nie gedui het op 'n verlies of 'iets wat verloor' sou kon word nie - maar hulle 'maagdelikheid as 'n 'vorm van lewenskuns in die vreemde anderstaligheid van 'n lank verlore mistieke Christelikheid aangebied het, om die sondige vlees en die Vleesgeworde Woord met mekaar te versoen' (Bernauer 2021:1). Volgens Bernauer (2021) is Foucault se basiese en grondliggende vraag in Les aveux de lar chair juis hóé intiem die verhouding tussen die Goddelike en die menslike inderwaarheid is: kwalik kan niemand dié vraag beter beantwoord as die vroulike denkers in die sentraal Middeleeuse mistieke trajek op die spoor van Pseudo-Dionisius, na Maximus Confessor, na Richard van St Viktor nie (cf. Beukes 2021a:4-6).
41 . Die liggaamsfragmente van veral die hart, are, hare, bloed, gebeente, beenmurg, weefsel, heupbene, regtersy, skaamhare, neusgate, keel, tepels en mond, met nadruk op die sintuiglike ervaring daarvan as gefragmenteerd, staan voorop in hierdie mistieke aanbiedinge. Die afsonderlike dele van die liggaam werk saam om 'n botalige gefragmenterende evaring daar te stel, gekwalifiseer deur intensifiserende begrippe soos bewe, begeerte, hoogste liggaamlike plesier, gloei van wellus, skokgolf, innerlike hitte, ervaring deur die sintuie, ruk, pluk, vuur, spuit, smelt, verdor, verdamp, ineenstort, warm, vinnig, koors, sterwend, angs en pyn (cf. Beukes 2021a:12).
42 . Vanaf die werkwoord rapio, wat letterlik beteken: 'gryp' of 'wegraap' en in die passief rapitur 'om gegryp' of 'weggeraap te word'.
43 . Hier word slegs enkele voorbeelde van raptus-ervaringe in sentraal Middeleeuse vroulike mistiek aangedui: vir 'n meer algemene bespreking, sien Beukes (2021a:210-236).
44 . Abdis Juliana van Liège, (ca.1192-1258), die skrywer van die wyd gesirkuleerde gebedsboek Animarum cibus en bekend vir haar liturgiese werk rondom die Nagmaal, het herhaaldelike raptus-ervaringe gehad direk na gebruik van die sakrament van die Nagmaal, waarna sy in dieselfde terme as Gertrude verwys as ervarings waar 'my siel gesmelt het soos was by 'n vuur' (Juliana van Liège 1999:39). Juliana het na sodanige raptus-ervaringe kenmerkend vir 'n week of langer geweier om te praat, asof letterlik in weggeraapte toestand.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons