SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 número1It only matters how it is obtained and how it is employed - the dangers and chances of money in the New Testament'The Word of Yahweh is right': Psalm 33 as a Torah-psalm índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Verbum et Ecclesia

versión On-line ISSN 2074-7705
versión impresa ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.39 no.1 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.4102/ve.v39i1.1893 

ORIGINAL RESEARCH

 

'n Navorsingstrategie vir missionale transformasie

 

Research strategy for missional transformation

 

 

Cornelius J.P. NiemandtI; Jacobus F. MaraisII; Willem J. SchoemanIII; Pieter van der WaltII; Nico SimpsonIV

IDepartment of Religion Studies, University of Pretoria, South Africa
IIFaculty of Theology, University Stellenbosch, South Africa
IIIDepartment of Practical Theology, University of the Free State, South Africa
IVBible Media, Wellington, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

In this study, an innovative research process was developed to support a missional ecclesiology. The research strategy was designed as a practice-oriented research process in service of faith communities as 'problem owners' of the research. The goal is to inform and serve the process of missional transformation. The approach taken was defined as a process of discernment to participate in the missio Dei, appreciating the work of the Holy Spirit and the reciprocal relation between confession and praxis. Scripture and tradition are constitutive elements of the language house that forms the congregational life and imagination. The innovate process comprises three cycles moving through four quadrants in the deployment of a missional strategy, the four quadrants being: guidance, research, design and training. This was developed along 12 movements: (1) articulate the pain, (2) clarify the question, (3) develop the prototype, (4) testing, (5) practice capacities, (6) observe patterns, (7) build a model, (8) implementation, (9) accepting into the culture, (10) describe breakthroughs, (11) support the learning community, and (12) institutional alignment.
INTRADISCIPLINARY AND/OR INTERDISCIPLINARY IMPLICATIONS: The research includes the following disciplines: Missiology, Missionary Ecclesiology and Practical Theology. It has wide-ranging implications, as it presents an innovative and comprehensive research process that can significantly influence research on missional transformation.


 

 

Inleiding

Die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk is in 'n proses van missionale transformasie. Hierdie proses is deel van 'n baie wyer herontdekking van die missionale aard van die kerk. 'n Groot aantal denominasies in Suid-Afrika en ook wêreldwyd is in die proses van een of ander vorm van missionale transformasie.1

Missionale transformasie is 'n omvattende proses wat die selfverstaan, teologiese praxis, teologiese opleiding en geloofsvorming van 'n denominasie ingrypend raak. Dit word beskryf as 'n geloofsonderskeidende proses wat gebou is op die vraag: 'Waar is die Heilige Gees aan die werk en hoe kan die kerk aansluit by die Gees?'. Dit is dus ingebed in die missio Dei. Die Wêreldraad van Kerke stel dit goed in die beleidsdokument, The Church (World Council of Churches 2013b):

The Holy Spirit came upon the disciples on the morning of Pentecost for the purpose of equipping them to begin the mission entrusted to them (cf. Ac 2:1-41). God's plan to save the world (sometimes referred to with the Latin expression missio Dei or 'the mission of God'), is carried out through the sending of the Son and the Holy Spirit. This saving activity of the Holy Trinity is essential to an adequate understanding of the Church. (p. 9)

In die geval van die NG Kerk het hierdie oortuiging uitdrukking gevind in die aanvaarding van 'n beleidsdokument oor die missionale aard van die kerk (Algemene Sinode van die NG Kerk 2013). Dit het ingrypende gevolge vir die hele kerkverband en het tot gevolg dat die Kerkorde hersien word, dat die hele proses van teologiese opleiding ondersoek word, en dat verskillende streeksinodes die saak tot op gemeentevlak bevorder. Dit het ook die behoefte aan 'n behoorlike navorsingsproses na vore gebring - 'n verantwoorde proses wat die missionale transformasie bestudeer, verantwoordelik daaroor besin, die narratiewe boekstaaf en kreatiewe intervensies kan rig.

Hierdie navorsingsbydrae verduidelik die navorsingsdoelwitte, poog om duidelikheid te bring oor die navorsingsbenadering wat missionale transformasie sal ondersteun, en verduidelik 'n innoverende navorsingsproses.

Navorsingsdoelwitte

Die doel van navorsing en die bydrae wat dit kan lewer tot missionale transformasie word gesien as die volgende:

  • Dit steun 'n proses van missionale transformasie. Die uiteinde is dat navorsing eienaarskap van missionale uitdagings verhoog én gemeentes ondersteun, bemagtig en beskerm wanneer hulle innoverende risiko's in missionale transformasie neem.

  • Die navorsing verduidelik en ondersteun missionale transformasie.

  • Dit ondersteun 'n begronde beplanningsproses in alle fasette van die denominasie. Dit is 'n geheelsisteem-strategie wat die volle navorsings-, ontwerp-, opleidings- en begeleidingskapasiteite binne die kerkverband ontsluit en sinergie wil bewerkstellig.

  • Dit bemagtig gemeentes deur die ontwikkeling van nuwe insigte, oortuigings, prosesse en planne - en stel hulle in staat om die innovasie te implementeer.

  • Dit rig 'n proses van kontekstualisering en verantwoorde reaksie op kontekstuele verandering. Die strategie is bedoel vir missionale uitdagings wat aanpassende intervensies vereis (Keifert 2006:88-92).

  • Die strategie wil verseker dat geloofsgemeenskappe, as eienaars van die uitdagings, regdeur die proses in beheer bly om só te verseker dat die strategie gefokus bly. Die benadering is dat geloofsgemeenskappe, navorsers en ander rolspelers gesamentlik soek na God se bedoeling met die gemeenskap se gestuurde roeping.

 

Navorsingsbenadering

Die daarstelling van 'n behoorlike navorsingsproses noodsaak duidelikheid oor die navorsingsbenadering. Die onderstaande teoretiese raamwerk en uitgangspunte rig die proses.

Navorsing word as geloofsonderskeiding verstaan

Die NG Kerk (Algemene Sinode van die NG Kerk 2013) verstaan die missionale transformasieproses as 'n geloofsonderskeidende proses: 'Die eerste stap op die pad van 'n missionale gemeente is om te onderskei'. Die geloofsgemeenskap se taak is om geloofsonderskeidend aan te sluit by die missio Dei. Die basiese teologiese veronderstellings is dat die lewende God hoopgewend teenwoordig is in elke uitdaging wat die kerk die hoof moet bied. Die Skrif en tradisie word daarom deurlopend in die navorsingstrategie as geloofsonderskeidende praktyk betrek.

Woord en Gees

Die feit dat navorsing as 'n geloofsonderskeidende proses verstaan word, beklemtoon die belang van die leiding van die Heilige Gees deur die woord van God. Die Wêreldraad van Kerke (World Council of Churches 2013a:4) argumenteer in die resente beleidsdokument oor sending juis: 'Life in the Holy Spirit is the essence of mission, the core of why we do what we do and how we live our lives'. Die navorsingstrategie as geloofsonderskeidende proses is deurlopend bewus van die leiding van God deur Woord en Gees.

Wederkerige verhouding tussen belydenis en praktyk

Juis omdat die Skrif en tradisie so 'n belangrike rol speel in die proses van geloofsonderskeiding, word die wederkerige verhouding tussen die belydenis en praktyk gerespekteer. Belydenis en beliggaming is wedersyds verbonde. Navorsing deur die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes het aangetoon dat taal 'n belangrike komponent van missionale transformasie is (Mouton 2017:166-169). Die Skrif en tradisie vorm saam 'n 'taalhuis' wat die werklikheid van gemeentelike lewe en verbeelding vorm (Roxburgh 2011:61). Denkmodelle - die beelde, veronderstellings en stories wat in die gedagtewêreld leef - word gebruik om die taalhuis te bou (Branson 2007:95). Mense en instellings, ook gemeentes, leef in hierdie komplekse taalhuise. Dit is deur taal wat die wêreld oopgaan en verstaanbaar word. Die Skrif en tradisie funksioneer ook as spieël wat die navorsers help om blindekolle raak te sien en nuwe moontlikhede te ontdek. Die Skrif en tradisie dien ook as 'n bril wat die verbeelding fokus en rig op die voorkeurtoekoms wat die Drie-enige God vir die kerk en gemeente in gedagte het.

Aanpassende verandering

Daar word 'n onderskeid getref tussen tegniese verandering en aanpassende verandering. Tegniese verandering is 'n proses van geleidelike innovasie - die verbetering word stuk vir stuk aangebring om die proses al beter te laat werk. Die oplossing van probleme is steeds binne die vermoë van die instelling, al verg dit baie moeite. Aanpassende verandering verg skeppende innovasie. Dit is ontwrigtend en onvoorsiens, en niks wat dit voorafgegaan het, kan help om dit te beheer nie. Dit verg waagmoed en behels gewoonlik verandering in die waardes en houdings van die organisasie. Die hele sisteem word diepgrypend geraak (Niemandt 2013:64). Missionale uitdagings is gewoonlik nie tegnies van aard nie, maar aanpassend. Die benadering is dus om ontdekkend die antwoord te vind deur onderskeidende besinning, eksperimentering en inoefening.

Die navorsing lewer navorsingsresultate en -verslae tot diens van die kerk

Die navorsingstrategie is ontwerp as praktykgerigte strategie wat begin by die lewe van geloofsgemeenskappe en die missionale uitdagings wat deur hulle leierskap geïdentifiseer word. Hierdie geloofsgemeenskappe is as eienaar van die navorsing die hele tyd in beheer van die rigting en spoed van die proses, en is daarom die eienaars van die uitdaging of probleem. Die strategie is ontwerp om wederkerigheid te bevorder, waarin die eienaars gesien word as 'n bron van kennis in die ontplooiing van die uitdaging of oplossing van die probleem. Navorsers is dus nie die eksperts wat oplossings aflaai op die eienaar nie, maar begeleiers van die proses.

Strategie wat groeiende eienaarskap bevorder

Die navorsingstrategie is ontwerp as 'n siklus wat groeiende eienaarskap van die uitdaging bewerkstellig.

Ontvouende strategie

Die strategie is ontwerp as 'n innoverende siklus wat innoverende insigte en praktyke ontvouend in die sisteem laat assimileer en uiteindelik institusioneel belyn (Rogers 1983:161-201). Só 'n strategie het 'n veel beter kans om in groter sisteme te slaag as die sogenaamde 'gap' model wat namens die sisteem oplossings ontwerp en aflaai op die sisteem, omdat dit toelaat dat die eienaar van die uitdaging of probleem as mede-ontwerper kan optree (Keifert 2006:48-54). Die belyning geskied nadat die siklus 'van onder' deurloop is.

Die volgende waardes rig die navorsing:

  • Die navorsing is akademies verantwoordbaar.

  • Sterk klem word op 'n spanbenadering gelê. Interaksie tussen alle rolspelers, van die begin tot die interpretasie van die uitkomste, is van kardinale belang. Die span sluit kerklike en akademiese strukture, taakspanne en ekumeniese vennote in.

  • Die navorsing word vanuit verskeie metodologieë (kwantitatief, kwalitatief, narratief, ens.) gedoen.

  • Die navorsing word deur 'n verantwoorde etiese kode gerig, en geskied in belang van die kerk.

  • Die strategie is ontwerp om leierskap te ondersteun en te bemagtig in hulle poging om geloofsgemeenskappe tot missionaliteit te lei.

Hierdie omvattende omskrywing van die navorsingsbenadering help om die invalshoek duidelik te stel en dien as hermeneutiese sleutels wat die navorsinsgstrategie bepaal.

 

Praktykgerigte navorsing

Die navorsing kan beskryf word as praktykgerigte navorsing wat die ontwerp van verantwoorde intervensies in die denominasionele sisteem ondersteun. In hierdie gedeelte word teoretiese insigte oor die aard van hierdie navorsing omskryf en bespreek.

Hermans en Schoeman (2015:34) beskryf dit as volg: 'Practice-oriented research is scientific research with the aim of building knowledge about practice and contributing to an improvement of practice'. 'n Belangrike kenmerk van praktykgerigte navorsing is dat dit vanuit 'n bepaalde behoefte in die praktyk of bediening ontstaan en ten doel het om die kerklike praktyk te verbeter. Die volgende aspekte kan as kenmerke van praktykgerigte navorsing uitgewys word en moet in die uitvoer van praktykgerigte navorsing in die oog gehou word (vir 'n meer volledige beskrywing sien Verschuren [2009] en Hermans & Schoeman [2015]):

In vennootskap met die opdraggewer

Die beginpunt van praktykgerigte navorsing is by 'n opdraggewer wat 'n probleem, 'n uitdaging, 'n behoefte of onvervulde wens identifiseer wat nagevors moet word (Verschuren 2009:154) - hierbo die probleem-eienaar genoem. Dit kan byvoorbeeld 'n kerkraad of komitee wees wat 'n bediening wil evalueer of verbeter. Die ondersoekvraag kan meer as 'n bepaalde probleem wees; dit kan ook 'n uitdaging wees en as 'n waarderende ondersoek beskryf word (sien Van den Berg & Schoeman 2011). Die eienaarskap van die navorsing is gesetel by die opdraggewer en die instelling waarbinne die behoefte of leemte ontstaan het, en daarom speel die opdraggewer 'n bepalende rol in die omskrywing en inkleding van die ondersoekterrein en -fokus. Dit is wenslik om die ondersoek in terme van 'n formele ooreenkoms te beskryf. Die ontwikkeling van strategieë en oplossings en die generering van kennis oor die praktyk geskied as 'n vennootskap tussen die navorser, opdraggewer en die individue of groepe wat by die navorsing betrek is. Laasgenoemde sou ook as medenavorsers beskryf kan word (Schoeman & van den Berg 2016:225-226). Die proses sluit dus 'n netwerk van vennote in.

Die handelingsprobleem

Die uitdaging, probleem of leemte wat nagevors word, word as 'n handelingsprobleem beskryf. 'n Deeglike analise van die probleem of uitdaging wat te bowe gekom moet word, moet gedoen word. Dit begin gewoonlik by 'n gaping wat tussen die werklike situasie en die ideale uitkoms of situasie wat verwag word, bestaan. Verschuren (2009:155) beskryf dit as die verskil tussen die werklike en wenslike situasie. 'n Gemeente, byvoorbeeld, het 'n teologiese identiteit wat verskil van die gemeente se empiriese of werklike identiteit, wat 'n gemeente-analise noodsaaklik maak (Nel 2009:2). Die gaping word bepaal deur die handelingsprobleem te ontleed en te beskryf.

Dit is die primêre verantwoordelikheid van die opdraggewer as eienaar van die uitdaging of probleem om, in samewerking met die navorser, die gaping te definieer en te beskryf. Teoretiese navorsing beskryf dit in die eerste plek vanuit 'n literatuurondersoek of 'n teoretiese perspektief, maar in praktykgerigte navorsing word die beskrywing van die handelingsprobleem gedoen as die resultaat van die interaksie tussen die opdraggewer as die eienaar en die navorser. Die verwagte en/of ideale uitkoms word ook binne die ruimte uitgeklaar.

Die rol en plek van intervensie

'n Intervensie kan gesien word as 'n handeling wat ten doel het om 'n praktyk of situasie te verbeter. Intervensie kan op verskeie vlakke geleë wees en kan van produkte, prosesse, programme, strategieë en beleid gebruik maak. Praktykgerigte navorsing het twee fokusse in die oog. Die een fokus is om kennis en insig te bekom oor die intervensie wat uitgevoer word om 'n praktyk te verbeter. Die ander fokus is om kennis te ontwikkel gedurende die intervensie oor die verloop van die intervensie-proses. In laasgenoemde geval word 'n intervensie ook ontwerp en ontwikkel as deel van die intervensie-proses wat ondersoek word. Die oogmerk van die intervensie-fokusse is in beide gevalle om 'n verbeterde praktyk te ontwikkel.

Die onderskeid tussen die kennis- en praktykstrome

Praktykgerigte navorsing is wetenskaplike navorsing wat nuwe kennis ontwikkel oor 'n spesifieke praktyk en tot die verbetering van die praktyk wil bydra. 'n Onderskeid word tussen bestaande en nuwe kennis gemaak. Die onderstaande Tabel 1 verduidelik die verskil tussen die kennis- en praktykstrome.

 

 

Die bydrae van navorsing vir die praktyk

Die kennis wat deur praktykgerigte navorsing ontwikkel word, dra direk by om professionele praktyke te verbeter, byvoorbeeld om die leierskap in gemeentes in die ontwikkeling van beter bedieningspraktyke by te staan. Die klem is nie in die eerste plek op die ontwikkeling van teoretiese kennis nie, maar op generies-bruikbare kennis oor intervensies met die doel om 'n werklike praktyk te verbeter. Die gevolg van praktykgerigte navorsing is om nader aan die ideale uitkoms te beweeg. In die geval van 'n gemeente-analise, byvoorbeeld, word gepoog om die empiriese werklikheid en bediening van die gemeente nader aan die teologiese identiteit en roeping van die gemeente te bring.

Identifiseer en beskryf die fokus van die praktykgerigte navorsing

Die keuse is tussen 'n volledige intervensie-siklus of net die ontwerp van 'n spesifieke intervensieplan (sien Figuur 1). Die keuse word gewoonlik deur twee aspekte bepaal: watter bydrae word tot die handelingsprobleem gelewer en wat is die beperkinge in terme van tyd en hulpbronne? Die antwoorde op beide vrae bepaal die omvang van die praktykgerigte navorsing wat gedoen word. In die eerste geval word die hele intervensie-siklus nagevors en in die tweede geval word op die ontwerp van die intervensie gefokus. Die ontwerpsiklus hou direk met die intervensieplan verband en gaan oor die ontwikkeling van nuwe materiaal - byvoorbeeld 'n projek of program (Verschuren 2009:163).

 

 

'n Duidelike formulering van die navorsingsvrae

In die formulering van die navorsingsvrae oor die handelingsprobleem is dit belangrik om te onderskei tussen probleme oor die verbetering van praktyke aan die een kant en ontwerpprobleme aan die ander kant. Die praktykstroom met die klem op verbetering volg die meer omvattende intervensie-siklus terwyl die praktykstroom wat op die ontwerp en ontwikkeling van die intervensieplan fokus 'n ontwerpsiklus volg (sien Figuur 1).

In die geval van navorsing oor die hele intervensie-siklus word daar 'n vergelyking tussen die werklike situasie (pre-intervensie) en die uitkoms ná die intervensie (post-intervensie) gemaak. Die formulering van die navorsingsvrae behoort dit te weerspieël. Spesifieke vrae oor die verskillende fases in die intervensie-siklus word ook geformuleer.

In die geval van die ontwerpsiklus val die klem nie soseer op teoretiese vrae of die eksterne kriteria in die beoordeling van die handelingsprobleem nie. Die vereistes van die opdraggewer in die beantwoording van die handelingsprobleem speel 'n meer prominente rol in die siklus. Die vraag is: is die ontwerp toepaslik en volhoubaar binne die gegewe konteks?

Definiëring van die konsepte

Die kennisstroom in praktykgeoriënteerde navorsing definieer konsepte deur van bestaande kennis gebruik te maak en dit binne 'n teoretiese raamwerk te plaas. Die omskrywing van die konsepte behoort die beste wat in die bestaande literatuur beskikbaar is, te verteenwoordig.

In die praktykstroom word konsepte as deel van die voorwaardes vir die oplossing van die uitdaging of probleem en as deel van die intervensieplan beskryf. Dit geskied binne die raamwerk en beperkinge van die ontwerp van die oplossing. Die definiëring van die konsepte geskied in samehang met bestaande kennis en die nuwe kennis wat verkry wil word, maar deur ook na die verlangde uitkoms te kyk.

 

Missionale navorsingsiklus

Bogenoemde insigte word in hierdie gedeelte prakties in terme van 'n missionale navorsingsiklus verduidelik.

'n Omvattende navorsingsontwerp, wat uit drie siklusse met 'n getal bewegings elk bestaan, is ontwerp om die missionale navorsingsiklus te begelei en te struktureer. Dit is daarom 'n geheelsisteem-strategie.

Die drie siklusse speel in op vier fasette wat in die ontplooiing van 'n missionale strategie belangrik is, naamlik begeleiding, navorsing, ontwerp (kreatiewe skepping) en opleiding. Dit kan in vier kwadrante ingedeel word, en elkeen van die drie siklusse het 'n beweging wat in elk van die kwadrante tereg kom (sien Figuur 2).

 

 

Eerste siklus

Die eerste siklus bestaan uit vier bewegings (sien 1-4 in Figuur 2): verwoord die pyn; verhelder en verdiep die vraag; ontwikkel 'n toetslopie en toets die oplossing.

Elke beweging word ingelei deur 'n vraag wat die proses rig en afskop. Tussen die onderskeie bewegings word die term 'oorgeemoment' gebruik.

Daar word ook aangedui watter hulpmiddels die proses ondersteun en watter vaardighede die proses verryk.

Beweging 1: Verwoord pyn (Begeleidingskwadrant)

In die teoretiese beskrywing word dit as die handelingsprobleem omskryf.

Hierdie beweging is die eerste stap van die navorsingsiklus - dikwels voordat daar enige aanduiding is dat die saak nagevors kan word. In die normale gang van die kerklike lewe duik krisisse en skynbaar onoplosbare probleme op. Die innoverende navorser weet intuïtief dat hierdie situasie geleentheid vir vernuwing kan wees, en dink anders daaroor as byvoorbeeld leiers wat dink hulle taak is om probleme op te los. Wanneer dit lyk of geen oplossing moontlik is nie, bestaan die potensiaal steeds dat nuwe antwoorde en waagmoedige oplossings gebore kan word.

Die navorsingstrategie ontvang die ontwrigting met empatie en verbeelding. Deur die pyn so goed as moontlik te verwoord, ervaar die draer van die pyn die verligting van gedeelde pyn. Deur met hoop daarna te luister, skep die navorser die verwagting dat daar nuwe moontlikhede in die situasie kan wees. Goeie luister help die eerlike verwoording van die saak. Dit sluit ook in dat daar noukeurig na ontwrigtende stemme geluister word sodat die vraag so helder as moontlik geformuleer kan word. Die spesifieke taak van die begeleier in hierdie beweging is om die pyn of ontwrigting só te beskryf dat die draer van die pyn die ervaring het dat die pyn raak gehoor is.

'n Nuttige geloofsonderskeidende raamwerk in hierdie beweging is om die aard van die vasgelooptheid vanuit die drievoudige amp van Christus, naamlik Koning, Profeet en Priester, te beskryf (Purves 2007; Wainwright 1996:99).

Hulpmiddels en nuttige raamwerke:

  • Vasgelooptheid/pyn kan verwoord word as dat Christus as Koning die geloofsgemeenskap tot stilstand bring. Dit bring 'n nuwe geloofsonderskeidende perspektief wanneer die geloofsgemeenskap die handelingsprobleem eerder sien vanuit die lig van Christus se betrokkenheid by hulle lewe as wat dit gesien word as foute van die leierskap.

  • Vasgelooptheid/pyn kan verwoord word dat Christus as Profeet die geloofsgemeenskap op blindekolle wys.

  • Vasgelooptheid en/of pyn kan verwoord word dat Christus as Priester die geloofsgemeenskap wys op gedrag wat afgeleer moet word.

Oorgeemoment: Wanneer die navorsingseienaar instem met die verwoording van die vraag: 'Wat is die spesifieke aard van die vasgeloopdheid?' kan daar na die tweede beweging beweeg word.

Beweging 2: Verhelder en verdiep die vraag (Navorsingskwadrant)

Aanpassende uitdagings verg 'n ingesteldheid om dit vanuit verskillende perspektiewe of vlakke aan te spreek. Oplossings vir die uitdagings kom gewoonlik eers wanneer daar na dieper vlakke in die kultuur van die geloofsgemeenskap gekyk word. Die strategie eis dat die situasie dieper ondersoek word.

Hierdie beweging gee aandag aan teoretiese besinning. Die uitdaging of pyn (beweging 1) word aan teoretiese raamwerke blootgestel. In die teoretiese beskrywing is daarop gewys dat konsepte gedefinieer word deur van bestaande kennis gebruik te maak en dit binne 'n teoretiese raamwerk te plaas. Bestaande literatuur ondersteun so 'n proses.

Hulpmiddels en nuttige raamwerke:

  • Die bekende prakties-teologiese vrae van Osmer (2008:4) is toepaslik. Het die uitdaging te make met 'n deskriptiewe uitdaging - 'ons weet nie wat aangaan nie?' (die eerste vraag); óf die hermeneutiese vraag - 'hoekom gebeur wat gebeur?' (die tweede vraag); óf die normatiewe vraag - 'wat behoort te gebeur?' (die derde vraag); óf die strategiese vraag - 'ons weet nie hoe om die uitdaging aan te spreek nie?' (die vierde vraag). Ook hier is die eienaar die kundige wat moet help om die keuse uiteindelik te maak.

  • Die aard van die uitdaging (deskriptief, hermeneuties, normatief of strategies) is 'n goeie wegwyser na die aard van die navorsing wat gedoen moet word. Dit help bepaal wat die aard van die data is wat benodig word en of die metodiek met die kennisstroom of praktykstroom te doen het.

  • Die sistemiese aard van uitdagings: Uitdagings kom nooit in isolasie nie, maar as deel van 'n bestaande sisteem. Daar moet daarom ook sistemiese vrae aan die uitdaging gestel word soos: 'Is hierdie vraag of vrae 'n simptoom van 'n ander uitdaging wat hierdie simptoom veroorsaak?', of 'Watter van hierdie lys van uitdagings is die oorsaak en watter die gevolg daarvan?' (Senge 1990:63). Op hierdie wyse kan oorsaak en gevolg bepaal word en die eienaar gehelp word om op die oorsaak eerder as die gevolg te fokus. 'n Sistemiese benadering herinner deelnemers dat 'n uitdaging nie op dieselfde vlak opgelos kan word as waar die simptoom voorkom nie. Hoe dieper in die sisteem die intervensie is, hoe groter sal die impak wees. Die sistemiese aard van uitdagings help ook om die denkmodelle (deeply ingrained assumptions, generalizations, or even pictures and images that influence how we understand the world and how we take action; Senge 1990:8) wat bepaalde gedrag voorskryf, te identifiseer.2

  • Wanneer navorsing poog om die sistemiese vasgelooptheid en gebrek aan deurbrake ten opsigte van 'n uitdaging te verstaan, is die argetipes of generiese denkstrukture van Senge waardevol. Hy noem die volgende nege argetipes (Senge 1990):

Balancing progress with delay; limits to growth; shifting the burden; eroding goals; escalation; success to the successful; tragedy of the commons; fixes that fail and growth and underinvestment. (p. 378-390).

Oorgeemoment: Wat is die (teoretiese) raamwerk(e) vir die ontwerp van 'n toetslopie?

Beweging 3: Ontwikkel toetslopie/prototipe (Ontwerperskwadrant)

Daar is in deel 4 op die belang van ontwerp in die praktiese stroom gewys. Scharmer (2009:627-628) sê dat 'n wegspringplek geskep word: 'The key idea in prototyping strategic microcosms is to create a landing strip for the future'. Ontwerp van innoverende praktyke is nie tradisioneel deel van teologiese navorsing nie. Innovasie kom byvoorbeeld nie as 'n vaardigheid in die kurrikula van teologiese opleidingsentra voor nie. Missionale teologie en bediening verteenwoordig 'n paradigmaskuif (Bosch 1991:181-189) en is onafwendbaar deel van die sukses al dan nie van missionale bediening in die kerk. Dit is in gereformeerde teologie wat 'ecclesia reformata, semper reformanda' bely! Daarom het die NG Kerk in die nuwe beleid vir teologiese opleiding die volgende kapasiteit vir leraars geïdentifiseer: 'Kan die gemeente lei in onderskeiding en innoverend begelei tot aksie' (Marais 2018:39).

Missionale uitdagings is aanpassende uitdagings. Bestaande kennis, tegnieke en vaardighede is nie in staat om die uitdagings aan te spreek nie, en daar is die uitdaging om nuwe kennis, tegnieke en vaardighede te ontwerp en te toets. By beweging 3 word daar aan die hand van die vraag en raamwerke, soos ontwikkel in beweging 2, oorgegaan tot die ontwerp van innoverende praktyke. Innoverende ontwerpe is ontwrigtend van aard, want dit daag bestaande kennis uit en veroorsaak weerstand. Rogers (1983:161-201) se teorie karteer hoedat innovering in 'n organisasie begelei word totdat dit in die kultuur van die organisasie ontvang en verwelkom word. Die eerste fase in hierdie proses is wanneer pioniers met innoverende idees opdaag. By beweging 3 word die pioniers teen die politieke kragte in die sisteem beskerm. Hulle word vrygelaat om innoverend te ontwerp en dit as 'n toetslopie te implementeer.

Hulpmiddels en nuttige raamwerke:

  • Die ontwerp van 'n proeflopie of prototipe is 'n kreatiewe proses wat die teoretiese raamwerke van beweging 2 in ag neem, en dan op grond van die raamwerke met ontwerp voortgaan. Teoretici vind dit gewoonlik moeilik om hieraan deel te neem omdat hulle vaardigheid in analise geleë is en nie noodwendig in ontwerp nie. Teoretici help veral in bewegings 2, 6 en 10.

  • Die proses moet beskerm word teen leierskap wat begaan is oor die aanvaarbaarheid van of weerstand teen die innovasie. Die amptelike leiers kom veral in spel by beweging 1 - verwoord die pyn; beweging 5 - oefen die kapasiteite; en beweging 10 - die amptelike aanvaarding van die innovering. Scharmer (2009:3133-3134) stel dat suksesvolle prototipes van die skep van generatiewe 'holding spaces' afhang.

  • Daar kan met die ontwerp twee moontlike uitkomste wees. Dit kan óf die ontwerp van iets nuuts wees wat nie bestaan nie óf dit kan die verbetering van 'n bestaande praktyk wees. Dit is toepaslik wanneer daar ná evaluering bepaal word dat 'n bestaande praktyk bepaalde gebreke en grondige aanpassings nodig het.

  • Daar is verskillende tegnieke wat in die ontwerp van 'n toetslopie gevolg kan word. Scharmer (2009) definieer dit soos volg:

Having established a connection to the source (presencing) and having clarified a sense of the future that wants to emerge (crystallising), the next stage in the U process is to explore the future by doing (prototyping). Prototyping is the first step in exploring the future through experimentation. (p. 3376)

  • · Daar is verskillende tegnieke en prosesse vir die bou van prototipes ontwerp. So is daar die 'Design Thinking' proses wat deur die sagteware maatskappy SAP ontwikkel is. Dit is 'n soort 'sandbox' aktiwiteit waar 'n groep innoveerders die geleentheid kry om 'n innoverende oplossing vir die uitdaging te bou. Die Presencing Institute het ook 'n proses vir die bou van prototipes ontwerp. 'n Werkblad hiervoor is op die webwerf van die Instituut beskikbaar.3 Scharmer beskryf die 'sandbox' soos volg:

Creating the infrastructure: Prototyping teams need different types of help: (1) a place (a cocoon) that helps the team focus on its creative work with minimal distraction; (2) a timeline with strict milestones that forces the team to produce preliminary prototypes early on and generates fast-cycle feedback from all key stakeholders; (3) content help and expertise at important junctures and process help that enables the team to go through the U cycle of rapid experimentation and adaptation every day (after-action reviews); and (4) regular prototyping clinics in which to present the prototypes and to benefit from peer coaching that focuses on the key challenges of the way forward. (loc. 6693-6697)

  • Scharmer (2009) noem die volgende sewe eienskappe waaraan 'n prototipe moet voldoen:

Is it relevant - does it matter to the stakeholders involved?

Is it revolutionary - is it new? Could it change the game?

Is it rapid - can you do it quickly? You must be able to develop experiments right away, in order to have enough time to get feedback and adapt (and thus avoid analysis paralysis).

Is it rough - can you do it on a small scale? Can you do it at the lowest possible resolution that allows for meaningful experimentation? Can you do it locally? Let the local context teach you how to get it right. Trust that the right helpers and collaborators will show up when you issue the right kinds of invitations.

Is it right - can you see the whole in the microcosm that you focus on?

Is it relationally effective - does it leverage the strengths, competencies and possibilities of the existing networks and communities at hand?

Is it replicable - can you scale it? Any innovation in business or society hinges upon its replicability, whether or not it can grow to scale. In the context of prototyping, this criterion favors approaches that activate local participation and ownership and excludes those that depend on massive infusions of external knowledge, capital, and ownership. (p. 6668-6692)

Oorgeemoment: Die proses kan oorgaan na beweging 4 wanneer daar in die 'sandbox' idees bymekaar gekom het in 'n praktykontwerp wat die toekoms vergestalt. Dit verg ook genoeg entoesiasme om in die praktyk daarmee te gaan eksperimenteer.

Beweging 4: Toets die prototipe met diegene wat gereed is om die risiko te loop (Opleidingskwadrant)

In hierdie beweging word die prototipe vir 'n eerste keer onder gemeentelede uitgetoets:

  • Nie almal is gereed vir die ontwrigting van 'n innoverende produk nie en die produk is ook nog nie gereed vir almal nie! Rogers se teorie van hoe innovering deur 'n sisteem aanvaar word, wys daarop dat die nuwe innoverende idee doodgebore is indien dit té vinnig aan die skeptici blootgestel word. Voordat daar blootstelling aan skeptici kom, moet die prototipe eers getoets word deur die 'respectables' - leiers met 'n openheid vir nuwe idees en die sogenaamde 'early adaptors'. In die proses leer die innoveerders watter elemente van die produk verstellings nodig het, maar ook presies wat die vernuwing van die teorie is waarmee hulle werk. By beweging 4 is daar dus blootstelling van die innovering aan geselekteerde leiers - dié wat oop is vir die moontlike ontwrigting wat kan volg. Hierdie insigte onderstreep twee moontlike foute met innovering. Dit sou 'n fout wees om die eerste blootstelling van die prototipe met 'n besluitnemingsliggaam te doen. Besluitnemers sukkel dikwels om grense oor te steek. Gemeenteleiers kan wel toestemming verleen dat daar met die prototipe geëksperimenteer word. In die tweede plek, en selfs nog moeiliker, is wanneer die prototipe eerste met die skeptici en die bittereinders getoets word. Hulle kan soveel weerstand bied dat die hele sisteem die innovering verwerp. Dit verduidelik hoekom pogings om innovering in die erediens te begin dikwels misluk.

  • Die verwagting is dat die innovering ontwrigtend sal wees. Ontwrigtende innovasie ontstaan nie in hoofstroom-sisteme nie maar eerder op voetsoolvlak in kleiner sisteme wat bereid is om risiko's te neem. Daar bestaan aanvanklik skeptisisme oor die produk totdat dit deur die hoofstroom as gelykwaardig oorweeg word. Daarna is dus 'n proses nodig waarin die idee getoets en verbeter word voordat die hoofstroom dit sal aanvaar (Christensen, Raynor & McDonald 2015:6).

  • Berekende risiko's: 'n Prototipe is 'n voorbeeld van dit wat nog kan kom, maar dit is nog nie 'n bloudruk vir algemene gebruik nie. Dit kan maklik misluk. Daarom moet die gesindheid oop wees om te leer en daar moet verdraagsaamheid wees om foute te maak. Scharmer (2009:3480) stel dit soos volg: 'Fail early to learn quickly'. In 'n kerklike kultuur wat tot teoretisering geneig is, sal die gevaar wees om alle risiko's te vermy. Die konsep van uitmuntende foute is hier van toepassing. Keifert (2006) vertel van 'n ontwerpersfout in die 3M-maatskappy in Minneapolis toe 'n ontwerp wat skeef geloop het, uiteindelik uitgeloop het op 'n ontwerp wat 'n baie winsgewende produk vir die maatskappy geword het.

Oorgeemoment: Wanneer daar in die eksperimentering insig ontwikkel in watter kapasiteite nodig is om die prototipe te kan benut.

Die eerste siklus is voltooi en die tweede siklus kan begin. Daar is nou beweeg na nuwe praktykkennis oor hoe om die uitdaging innoverend aan te spreek. Dit is gedoen deur duidelik afgebakende navorsingsmomente van diep luister na die wanhoop, die verdieping en verheldering van die vraag, die kreatiewe ontwerp van 'n innoverende praktykkonsep en die eerste eksperimentering met die prototipe. Tog is die proses nou eers deur die eerste derde van afhandeling.

Tweede siklus

Die tweede siklus bestaan uit vier bewegings (sien punte 5-8 in Figuur 2):

  • Oefen nuwe kapasiteite

  • Neem nuwe patrone waar

  • Bou model

  • Implementeer model

Beweging 5: Oefen nuwe kapasiteite (Begeleidingskwadrant)

Innovering is van min waarde indien mense dit nie benut nie. Die interaksie tussen die innoverende konsep en gebruikers is altyd meer kompleks as verwag. Dit onderstreep die belang van resepsie-patrone van gebruikers van die idee.

Dit het veral met twee vrae te make: Watter kapasiteite is nodig om die innovasie te benut, en hoe kan hierdie kapasiteite ingeoefen word?

  • Kapasiteite: Taylor-Ellison identifiseer vier komponente vir kapasiteite, nl. minimum of wegspring-kennis; vaardighede; ingesteldhede of houdings; en oordraagbare gewoontes (Taylor-Ellison 2009:160). Dit is effektief om op die eerste drie te fokus en gewoontes te sien as die ruimtes waarbinne die kapasiteit ingeoefen word. Die vraag is na die minimum kennis waaroor die deelnemers moet beskik om te kan deelneem aan die eksperiment. Dit is ook noodsaaklik om vas te stel wat die vaardighede is wat die deelnemers moet kan bemeester en watter ingesteldhede of houdings nodig is vir suksesvolle deelname.

  • Oordraagbare gewoontes as houers waarbinne nuwe gedrag aangeleer kan word: Gevestigde gewoontes is op so 'n wyse deel van die struktuur en geheue van 'n gemeente dat die gemeente nie meer bewus is dat hulle dit beoefen nie (Marais 2017:384-385). Indien hierdie gewoontes toksies geword het, sal nuwe gedrag moeilik aangeleer word sonder die vervanging van die toksiese gewoontes. Vir die aanleer van nuwe gedrag, sê Senge (1990:33-35), het ons strukture ('containers') van verantwoordbaarheid nodig om aan te hou met die inoefening van die nuwe gedrag totdat dit bemeester is. So byvoorbeeld het die Luistersiklus (in die NG Kerk) gedien as 'n houer waarin die nuwe gedrag van luister ingeoefen kon word. Die herhaalde en pligsgetroue volg van die siklus het uiteindelik gelei tot die aanleer van die vaardigheid om diep na mekaar te kan luister.

  • Genoeg tyd vir bemeestering: Die aanleer van nuwe gedrag verg tyd, veral as dit komplekse gewoontes soos gasvryheid, gebed en dialoog is. Dean (2013) verduidelik:

On average, habit formation took 66 days. Drinking a glass of water reached maximum automaticity after 20 days, for 50 sit-ups 84 days, and more complex habits could take up to a year. (p. 6-7)

Oorgeemoment: Wanneer in die voortgaande inoefening van die nuwe praktyke die punt van bemeestering en daarom eie momentum bereik is.

Hulpmiddel: Kapasiteite ontwikkel.

Beweging 6: Neem nuwe patrone waar (Navorsingskwadrant)

Dit beteken dat die teoretiese raamwerk (beweging 2) bygewerk word vanuit die terugvoer wat van beweging 4 en 5 ontvang is.

Die doel is om 'n interaksie tussen teorie en praktyk te stimuleer. Die terugvoerdata van die vorige bewegings begrond die navorsing in die praktyk. Dit is noodsaaklik om te verhoed dat daar nie ideologies met teorie omgegaan word nie. In teologiese navorsing het teoretiese navorsing wat die normatiewe beskryf gewoonlik die toonaangewende sê, en word daar dikwels met 'n oorvereenvoudigde verhouding tussen teorie en praktyk gewerk. Hierteenoor het praktykgerigte navorsing 'n groter sensitiwiteit vir die wederkerige aard van die teorie-praktyk-verhouding (Verschuren 2009:27).

Insameling van terugvoerdata: Die siklus kan nou eie data insamel om terugvoer te ontvang van die groepe wat die prototipe gebruik het. Die insameling van die data kan op verskillende maniere geskied (vraelyste, die delphi-metode, fokusgroepe of gestruktureerde onderhoude). Die doel van die terugvoer is om betroubare data te versamel om só patrone vas te stel van waar en hoekom die prototipe gewerk het.

Behulpsame insigte en raamwerke:

  • Waarderende ondersoek (AI - appreciative inquiry) is 'n handige hulpmiddel. Dit ondersoek die beste-van-wat-werk in sisteme. Dit word gebaseer op die aanname dat vrae en gesprekke oor sterkpunte, suksesse, waardes, hoop en drome in hulself transformerend is (Branson 2004:xiii, 19).

  • Waarderende ondersoek werk met die volgende vrae: (1) Wat het gewerk/waar was daar lewe?; (2) Hoe kon dit wat gewerk hetweer gebeur?

  • Die data kan ook verwerk word met behulp van die ontwikkeling van die sistemiese sirkels van oorsaaklikheid (Senge 1990:73-80). Hierdie sirkels is óf versterkende sirkels (R-loops of 'reinforcing loops') óf dreinerende sirkels (V-loops of 'vicious loops'). Deur die narratief van die prototipe te volg, kan die dinamika tussen die veranderlikes gekarteer word om die patroon van versterking of dreinering vas te stel. Dit maak dit moontlik om die logika, volgorde en aard van die interaksie tussen die veranderlikes van die versterkende sirkel te bepaal. 'n Versterkende sirkel (R) het inherente eksponensiële groei (sneeubal-effek; Senge 1990:82). Noukeurige aandag hieraan ondersteun die suksesvolle herontwerp en implementering van die prototipe.

Oorgeemoment: Watter patrone word ontdek en waar moet daar verstellings aan die oorspronklike teorieë gemaak word?

Beweging 7: Bou model (Ontwerperskwadrant)

Die bygewerkte raamwerk verskaf die nodige raamwerk om die prototipe nou tot 'n model te herbou. Daar is nou genoegsaam kennis om die ontwerpspan in te nooi om die model te bou. Die model word gebou sodat dit in die sisteem ingevoer en benut kan word, selfs in die afwesigheid van die kundiges wat die model ontwerp het. Die insigte wat uit die bou van die versterkende sirkels by beweging 6 gegroei het, is baie belangrik omdat dit die effektiewe toepassing van die model verseker. Hoe minder verduideliking nodig is, hoe minder is die behoefte aan die teenwoordigheid van 'n kundige persoon.

Oorgeemoment: Hoe kan die produk aangepas word sodat toepassing sonder die kundige persoon moontlik is?

Beweging 8: Implementeer model (Opleidingskwadrant)

Die navorsingsiklus hou rekening met die teorie van Rogers (1983) ten opsigte van die skalering of ontvouende vermeerdering van die betrokkenheid van deelnemers. In beweging 4 is verseker dat die proeflopies mense betrek wat gereed is om te waag (die eerste drie groepe in Rogers se model: pioniers, gerespekteerde leiers en die aanpasbares). Die skeptici kan nou ook deel word van die proses.

Insigte en raamwerke:

  • Die uitdaging is om 'n handleiding te ontwerp wat deelnemers in staat stel om die model te benut. Handleidings moet eerder help om die proses te begin en om deelnemers vinnig te oriënteer as wat dit te kompleks en lywig is.

  • Die beste opleiding geskied in hierdie geval deur modulering. Die opleiding vind plaas in die proses van toepassing.

Oorgeemoment: Watter beginvaardighede ('starter box') het die implementeerders nodig om dit op hulle eie te kan doen?

Hiermee word die tweede siklus afgesluit. Dit is duidelik dat dit baie bronne en energie verg om die innovering af te rond sodat dit aanvaarbaar en bruikbaar in die nuwe sisteem is. Dit vra ook geduld.

Derde siklus

Die derde siklus bestaan uit vier bewegings (sien punte 9-12 in Figuur 2):

  • Aanvaar in kultuur

  • Beskryf deurbrake

  • Belyn en institusionaliseer

  • Belyn en institusionaliseer

In die derde siklus van die strategie is die fokus om die nuwe produk deel van die kultuur en sisteem van die organisasie te maak. Indien die vorige siklusse suksesvol voltooi is, behoort die produk nou nuttig en aanvaarbaar vir die breër sisteem te wees. In die taal van Christensen, Raynor en McDonald (2015:6): dié ontwrigtende innovasie kan nou deel van die hoofstroom word. Hulle verduidelik dat die innoverende produk in terme van kwaliteit op dieselfde vlak as bestaande produkte moet wees voordat dit deur die breë mark benut sal word. Die innovasie neem onvermydelik die plek van 'n bestaande praktyk in die sisteem op, en kan net kompeteer indien die nuwe produk net so goed soos die bekende kan werk. Dit verduidelik ook die noodsaak van die eerste twee siklusse sodat die nuwe produk so goed as moontlik kan werk.

Beweging 9: Aanvaar in kultuur (Begeleidingskwadrant)

Aanvaarding in die kultuur van die organisasie/kerk kan byvoorbeeld die vorm van amptelike goedkeuring, formele beleidsverandering of kerkordelike wysigings aanneem. Dit kan selfs beteken dat die Kerkorde gewysig moet word om ruimte vir die innovering te maak. Moynagh (2017:8) definieer juis innoverings as die verandering van die spelreëls: '[i]nnovation is the modification of the "rules of the game" so that the church develops in new ways'.

Die proses van innovering begin nie by die formele goedkeuring van die produk nie, maar amptelike sanksionering is baie belangrik. Rogers (1983:36) wys daarop dat die goedkeuring en aanvaarding van iets nuuts in die sisteem tyd gegun moet word om te integreer sodat dit kan versprei en die hele sisteem deurtrek. Rogers (1983:36) verduidelik: 'Diffusion is the process by which an innovation is communicated through certain channels over time among the members of a social system'. Diffusie het tyd nodig. Die tradisionele praktyk dat die kerk vra dat daar navorsing gedoen word deur 'n taakspan wat dit dan aan die vergadering voorlê vir goedkeuring, beperk dus die reikwydte van die innovering wat aanvaar kan word. Met meervlakkige kommunikasie, konsultasie en integrasie sal die kerk innovering makliker aanvaar. Senge (1990:62) stel juis in een van sy sistemiese wette: 'Faster is slower'. 'n Sisteem het tyd nodig om verandering te absorbeer.

Die proses van missionale transformasie in die NG Kerk is 'n goeie voorbeeld. In 2003 het leiers van tien gemeentes op eie inisiatief ondersoek ingestel na die waarde van die missionale beweging. Dit het gegroei tot 'n beweging, die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes. Tien jaar later het die Algemene Sinode 'n beleid aanvaar wat verrykende gevolge sou vir die kerk sou hê, bekend as die 'Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk' (Algemene Sinode van die NG Kerk 2013). Diffusie het meer as 'n dekade geneem.

Die implementering van innoverende navorsing kan bespoedig word indien die proses van navorsing die sisteem toelaat om, soos die navorsing vorder, resultate te absorbeer. Indien die sisteem eensklaps met die resultate gekonfronteer word, ontstaan daar onnodige vertragings met die volle integrasie van die navorsing. Die uitdaging by beweging 9 is om die resultate van die navorsing formeel te institusionaliseer deur die aanvaarding van die navorsing as beleid, die aanpassing van die Kerkorde, en die bereidheid om kapasiteit te bewillig van die implementering hiervan - veral in terme van befondsing.

Behulpsame insigte en raamwerke:

  • Fases van goedkeuring: Rogers (1983:163) identifiseer vyf fases in die besluitnemingsproses, te wete bewusmaking, belangstelling, evaluering, proefneming en aanvaarding.4 Die sisteem ervaar krisis of pyn en stel in 'n nuwe plan of strategie belang. Kennis oor die nuwe moontlikhede word geëvalueer en indien nuttig bevind, word daar goedkeuring gegee vir proefnemings op grond waarvan aanvaarding of verwerping kan geskied.

  • Rogers wys daarop dat daar altyd in 'n sosiale sisteem diegene sal wees wat vernuwing sal teenstaan, ongeag die meriete daarvan. Die onversetlikes staan verandering ten alle koste teen. Indien die proses van diffusie genoeg tyd het, sal dit die res van die sisteem oortuig om die vernuwing te aanvaar ongeag die weerspanniges.

  • Daar is verskillende rolspelers in die vyf fases (kyk ook Keifert 2006:55-57). Die 2.5% innoveerders ('the brave') sal die eerstes wees om die vernuwing te aanvaar. Hulle bied dit as 'n opsie aan vir die 13.5% aanpasbares ('respectables') wat gewoonlik vertroude leiers is. Op hulle beurt bied die aanpasbares dit weer aan vir die 34% vroeë meerderheid ('the thoughtful'), wat op hulle beurt weer die 34% trae meerderheid ('sceptical') bereik. Wanneer die trae meerderheid dit aanvaar, word die 16% onversetlikes ('traditionals') se weerstand deurbreek. Die ideaal sou dus wees dat wanneer die proses by beweging 9 kom, die eerste vier groepe reeds ingekoop het.

  • Dit is belangrik om raak te sien dat die innoveerders nie leiding kan gee in die volle proses nie, maar die vonk verskaf wat die proses afskop. Innoveerders het gewoonlik nie die lang asems om die proses deur te sien nie. Dit verg dus 'n spanpoging waar al die verskillende rolspelers betrek word.

  • Op pad na die punt van aanvaarding is dit belangrik om weerstand as 'n gawe te sien, al is dit frustrerend vir die innoveerders. Indien daar begrip is oor hoe diffusie werk, is weerstand dikwels geleenthede om die aanvanklike voorstelle in kreatiewe taal te verduidelik en die taalhuis oor te bou. Hoe meer interaktief die proses is, hoe beter is die kans dat die innovering aanvaar sal word. Scharmer (2009:585) noem dit 'n proses van 'co-initiating; -co-sensing; co-presencing; co-creating and co-evolving'.

Oorgeemoment: Die formele leiers in die sisteem het geleentheid gekry om die innovering te aanvaar en in te skryf in die reëls en begrotings van die sisteem.

Beweging 10: Beskryf deurbrake (Navorsingskwadrant)

Die innoverende produk kan nou in die hoofstroom aangewend word. In die laaste navorsingsbeweging word daar gefokus op die kritiese faktore wat deurbrake of struikelblokke veroorsaak. In die voortgaande navorsing kan daar van fokusgroepe gebruik gemaak word. Die identifisering hiervan is krities om te verhoed dat onnodige weerstand as gevolg van kleiner implementeringsprobleme opbou. Aan die ander kant is dit belangrik om die deurbraakmomente te vier deur dit bekend te maak in die sisteem. Dit help om die oortuigingswerk te bevorder en hoër vlakke van sinergie te ontwikkel. Die strategie is 'n geheelsisteem-strategie. 'n Sistemiese verstaan hou in gedagte dat 'n intervensie op een punt in die sisteem 'n effek op die hele sisteem het. Enige intervensie maak teenkragte los. Senge (1990:58) waarsku: 'The harder you push, the harder the system pushes back'. Dit gebeur in baie gevalle waar die intervensie van bo af geforseer word.

Behulpsame raamwerke:

  • Sisteme is inherent geprogrammeer om ekwilibrium te vind. Daarom is een van die sistemiese wette dat niks vir altyd groei nie. Wanneer 'n nuwe produk gebruik word en daar groei in die benutting daarvan is, met ander woorde 'n versterkende R-sirkel, tree daar altyd faktore in werking wat die groei belemmer en die R-sirkel in die B-sirkel of 'balancing loop' omskakel. Deur noukeurige besinning oor die gebruik van die produk kan die weerstandige faktore betyds opgespoor word en maatreëls in plek gestel word om dit te neutraliseer.

  • Die belangrikheid van terugvoersiklusse: Navorsers kan verlief raak op hulle ontwerpe en doof word vir alternatiewe stemme wat kritiek lewer.

  • Die belangrikste is egter om die deurbrake wat die navorsing bewerkstellig, raak te sien deur van waarderende ondersoek (AI) gebruik te maak. As gevolg van die sistemiese aard van organisasies soos die kerk kan die effek van die innovasie nie werklik vooraf bepaal word nie. Indien daar egter in hierdie beweging goeie navorsing gedoen word oor waar die deurbrake voorkom en veral wat die aard en effek van die deurbrake is, kan dit die positiewe aanwending van die innovasie eksponensieel verhoog. Die implementering van innovering breek nuwe horisonne oop.

Die herontwerp van teologiese opleiding vanuit 'n missionale visie het primêr gefokus op die ontwerp van kurrikula en bevoegdheidsmodelle vir die onderskeie bane van opleiding. Dit is waaroor die innovasie gaan. Die effek hiervan is natuurlik dat daar aanpassings in die opleidingsinstansie moet kom om hiermee te belyn. Die sistemiese effek is egter op die vlak van bediening in die gemeenskap. Die nuwe bane van opleiding verskaf nuwe, meer en bekostigbare bemagtigde bedienaars.

Oorgeemoment: Wat presies is die deurbrake wat die innovasie bewerkstellig en hoe moet die konteks lyk waarbinne die innovering ten beste aangewend kan word?

Beweging 11: Ondersteun leergemeenskap (Ontwerperskwadrant)

In beweging 10 is die sistemiese impak van die innovasie vasgestel. Dit kan tot nuwe uitdagings en moontlik nuwe navorsingsprojekte lei. Dit is ook belangrik om die konteks waarbinne die innovasie kan optimaliseer, te ontwerp. Die navorsing oor die deurbrake wat in beweging 10 gedoen is, sal reeds die raamwerk verskaf. In die ontwikkeling van 'n gespreksmodel vir seksualiteit is die volgende waargeneem:

  • Die konflikpotensiaal van die gesprek is onderskat en daar is weerstand om in groepe in die gemeente oor die onderwerp te praat. 'n Video is ontwikkel wat wys hoe dit lyk wanneer mense die produk gebruik. In die video kan potensiële gebruikers sien hoe ontspanne die gesprek gevoer word en dat hulle vrees vir nog meer konflik ongegrond is.

  • Die eerste benutting hiervan in gemeentes is dikwels eers deur 'n neutrale fasiliteerder behartig waarna daar meer vrymoedigheid deur die plaaslike leiers is om dit te gebruik.

Oorgeemoment: Hoe kan 'n leergemeenskap ontwikkel word wat die effek van die innovering laat optimaliseer?

Beweging 12: Belyn en institusionaliseer (Opleidingskwadrant)

Die siklus is nou in die laaste beweging. In hierdie beweging is die fokus op die toerusting van leiers om die innovering te benut sodat die inkulturalisasie van innovering benut kan word. By beweging 9 word die formele besluite geneem, die nodige struktuuraanpassings gemaak en begrotings aangepas om dit te laat werk. Die fokus is hier veral op toerusting. Sake soos die kompleksiteit van probleme, die besluitnemingsritmes van deelnemers en doelbewuste vaagheid kry aandag. Gesprekke met oop eindes is nou meer toepaslik. Daar is dus nuwe ritmes en gewoontes nodig om die innovering ongehinderd in die sisteem te laat funksioneer.

Oorgeemoment: Watter aanpassings in die kultuur van die sisteem is nodig om die benutting van die innovasie ongehinderd moontlik te maak?

 

Samevatting

Hierdie navorsing bied 'n innoverende navorsingsproses aan wat 'n missionale ekklesiologie steun en versterk. Die navorsingsdoelwitte is binne die proses van missionale transformasie geplaas. Die navorsingsbenadering is aan die hand van die volgende oortuigings verduidelik:

Navorsing word verstaan as geloofsonderskeiding om aan te sluit by die missio Dei. Dit beteken dat die leiding van die Heilige Gees erken en onderskei word. Die wederkerige verhouding tussen die belydenis en praktyk word gerespekteer. Die Skrif en tradisie vorm saam ʼn taalhuis wat die werklikheid van gemeentelike lewe en verbeelding vorm. Die benaderings is dat missionale transformasie 'n vorm van aanpassende verandering is. Die navorsingstrategie is ontwerp as praktykgerigte strategie wat die kerk dien en geloofsgemeenskappe as eienaars van die navorsing respekteer, en daarom ook groeiende eienaarskap bewerkstellig. Dit hele proses is as 'n innoverende siklus ontwerp.

Die navorsing doen ook duidelike waardes aan die hand wat die navorsing kan rig.

Die teorie van praktykgerigte navorsing is verduidelik en gemotiveer. Die belang van vennootskap met die opdraggewer word onderstreep, asook die ontstaan van die leemte wat nagevors word. Die plek van die intervensie wat volg, is ook verduidelik met die klem op praktykontwikkeling en kennisverbreding, en die handhawing van onderskeid tussen kennis- en praktykstrome. Die verskil tussen 'n volledige intervensie-siklus en 'n spesifieke intervensieplan is ook verduidelik.

Die fokus van die navorsing is op die daarstel van 'n omvattende navorsingsproses wat drie siklusse omvat. Die drie siklusse beweeg deur vier fasette of kwadrante wat in die ontplooiing van 'n missionale strategie belangrik is, naamlik begeleiding, navorsing, ontwerp (kreatiewe skepping) en opleiding. Elkeen van die drie siklusse het 'n beweging wat in elk van die kwadrante tereg kom. Die omvattende navorsingsproses behels 12 bewegings: (1) verwoord die pyn, (2) verhelder en verdiep die vraag, (3) ontwikkel 'n prototipe, (4) toets die prototipe, (5) oefen nuwe kapasiteite, (6) neem nuwe patrone waar, (7) bou 'n model, (8) implementeer die model, (9) aanvaarding in die sisteem se kultuur, (10) beskryf deurbrake, (11) ondersteun die leergemeenskap, en (12) belyn en institusionalisering.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

Die outeurs het as 'n span gewerk om die navorsingsinligting vas te lê en die finale navorsing te konseptualiseer. J.F.M. en P.v.d.W. het die bevindings oor die intervensie-siklus nagevors en geformuleer. W.J.S. het die navorsing gedoen en die verslag oor die teorie van praktykgerigte navorsing saamgestel. C.J.P.N. het die navorsing gedoen oor die kontekstuele konsep van die artikel, die breër sendingbeweging, en al die navorsingsmateriaal in die finale navorsingsartikel saamgestel en geredigeer. N.S. het die visuele voorstellings gekonseptualiseer en deelgeneem aan die breër konseptualisering en analise van die navorsingsmateriaal.

 

Literatuurverwysings

Algemene Sinode van die NG Kerk, 2013, Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk, NG Kerk, Port Elizabeth.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books, Maryknoll, NY.         [ Links ]

Branson, M., 2004, Memories, hopes and conversations: Appreciative inquiry and congregational change, Alban Institute, Herndon, VA.         [ Links ]

Branson, M., 2007, 'Ecclesiology and leadership for the missional church', in C. van Gelder (ed.), The missional church in context: Helping congregations develop contextual ministry, pp. 94-125, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Burger, C., Marais, F. & Mouton, D. (eds.), 2017, Cultivating missional change: The future of missional churches and missional theology, Bible Media, Wellington.         [ Links ]

Christensen, C.M., Raynor, M.E. & McDonald, R., 2015, 'What is disruptive innovation?', Harvard Business Review, December, 1-11.         [ Links ]

Dean, J., 2013, Making habits, breaking habits: How to make changes that stick, Oneworld Publications, London.         [ Links ]

Hermans, C. & Schoeman, W., 2015, 'Practice-oriented research in service of designing interventions', Acta Theologica, suppl. ser. 22, 26-44.         [ Links ]

Keifert, P., 2006, We are here now: A missional journey of spiritual discovery, Allelon, Eagle, ID.         [ Links ]

Marais, F., 2018, Raamwerk vir missionale bedieningsontwikkeling, Ned Gereformeerde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

Marais, J., 2017, 'Missional formation', in C. Burger, D. Mouton & M.J. Mouton (eds.), Cultivating missional change, pp. 1-37, Bible Media, Wellington.         [ Links ]

Mouton, D., 2017, 'Experiences with denominations in South Africa', in C. Burger, F. Marais & D. Mouton (eds.), Cultivating missional change, pp. 372-392, Bible Media, Wellington.         [ Links ]

Moynagh, M., 2017, Church in life: Innovation, mission and ecclesiology, SCM Press, London.         [ Links ]

Nel, M., 2009, 'Congregational analysis revisited: Empirical approaches', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), 13. https://doi.org/10.4102/hts.v65i1.187        [ Links ]

Niemandt, N., 2013, Nuwe leiers vir nuwe werklikhede. Insigte wat nodig is om die nuwe uitdagings in die kerk en die lewe te hanteer, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

Osmer, R., 2008, Practical theology: An introduction, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Purves, A., 2007, The crucifixion of ministry: Surrendering our ambitions to the service of Christ, Inter Varsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Rogers, E., 1983, Diffusion of innovations, 3rd edn., The Free Press, New York.         [ Links ]

Roxburgh, A., 2011, Missional: Joining God in the neighbourhood. Kindle edn., Baker, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Scharmer, O., 2009, Theory U: Leading from the future as it emerges, Berrett-Koehler, San Francisco, CA.         [ Links ]

Schoeman, W. & Van den Berg, J., 2016, 'Practical theology exploring interdisciplinary practices: The quest for engaging with lived religion in the South African context', in R. Venter (ed.), Theology and the (post) apartheid condition: Genealogies and future directions, pp. 213-231, Sun Press, Bloemfontein.         [ Links ]

Senge, P.M., 1990, The fifth discipline: The art and practice of the learning organization, Doubleday, New York.         [ Links ]

Taylor-Ellison, P., 2009, 'Doing faith based coversations: Metaphors for congregations and their leaders', in P. Keifert (ed.), Testing the spirits: How theology informs the study of congregations, pp. 159-179, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Van den Berg, J. & Schoeman, K., 2011, ''n Waardering vir die positiewe! Waarderende betrokkenheid as ʼn gemeentelike lens en pastorale lens', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(2), 1-7.         [ Links ]

Verschuren, P., 2009, Why a methodology for practice-oriented research is a necessary heresy, Radboud University, Nijmegen.         [ Links ]

Wainwright, G., 1996, For our salvation: Two approaches to the work of Christ, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

World Council of Churches, 2013a, Together towards life: Mission and evangelism in changing landscapes, paper presented at WCC 10th General Assembly, Busan, 30 October-8 November 2013, pp. 1-81.         [ Links ]

World Council of Churches, 2013b, Resource book: World Council of Churches 10th Assembly, paper presented at WCC 10th General Assembly, Busan, 30 October-8 November 2013, pp. 1-197.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Cornelius Niemandt
nelus.niemandt@up.ac.za

Received: 31 May 2018
Accepted: 20 Aug. 2018
Published: 17 Oct. 2018

 

 

1 . Sien die volgende hoofstukke vir 'n kort oorsig in die omvattende bespreking van die missionale beweging in Burger, Marais en Mouton (eds. 2017):
The background and roots of the missional movement - Darrell L. Guder.
•History of the missional conversation in the United States - Patrick R. Keifert.
The journey towards 'missional' in the United Kingdom: The history and development of the missional movement in the United Kingdom - Graham Cray.
The history and current state of the missional movement in Germany - Michael Herbst.
Missional church in Denmark - Mogens S. Mogensen.
Experiences with denominations in South Africa - Danie Mouton.
Experiences with denominations in South Africa: Complex leadership and transformational missional leadership in a denominational structure - Nelus Niemandt.
The history and challenge of the missional movement in South Africa: Perspectives from an insider - Frederick Marais.
2 . Die Algemene Sinode van die NGK het so byvoorbeeld in 1998 'n besluit geneem wat vra vir die verbreding van die Ampte in die kerk. Die implementering daarvan het 20 jaar geneem en kon eers gebeur nadat die kerk deur 'n missionale ekklesiologiese verbreding gegaan het. Die ekklesiologiese denkraamwerk van die Christendom kerk het nie toegelaat dat bogenoemde besluit geïmplementeer kon word nie (Marais 2018:3).
3 . Sien https://www.presencing.org/files/tools/PI_Tool_Prototyping.pdf.
4 . Rogers (1983:164) beskryf die fases soos volg: '(1) Knowledge occurs when an individual (or other decisionmaking unit) is exposed to the innovation's existence and gains some understanding of how it functions. (2) Persuasion occurs when an individual (or other decisionmaking unit) forms a favourable or unfavourable attitude toward the innovation. (3) Decision occurs when an individual (or other decisionmaking unit) engages in activities that lead to a choice to adopt or reject the innovation. (4) Implementation occurs when an individual (or other decisionmaking unit) puts an innovation into use. (5) Confirmation occurs when an individual (or other decisionmaking unit) seeks reinforcement of an innovation-decision already made, but he or she may reverse this previous decision if exposed to conflicting messages about the innovation'.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons