SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 número1Collection stewardship constrained by resources: The management of religious archives in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal regionThe influence of dwelling in the Word within the Southern African Partnership of Missional Churches índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Verbum et Ecclesia

versão On-line ISSN 2074-7705
versão impressa ISSN 1609-9982

Verbum Eccles. (Online) vol.34 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

'n Ewolusionêre perspektief op Die Nederlandse Geloofsbelydenis: Sistematies teologiese verkenning

 

An evolutionary perspective on the Confessio Bélgica: A systematical-theological exploration

 

 

Daniel J. Dreyer

Department of Dogmatics and Ethics, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The aim of this study is to point out that the Confessio Bélgica creates the opportunity to listen to both the voices of the natural sciences (especially in regard to the process of evolution) and the findings of the historical sciences. The important point of this discussion is that the human being is an evolutionary part of the process of creation. Man can no longer be seen as the ruler of creation in a personal and static sense. In the light of this we have to truly listen again to the witness of the Bible and the way in which it is formulated in the confessions of the church. The views of Wentzel van Huyssteen, Rob Bell and N.T. Wright are examples of how to respond, against the background of the science-theology debate, to the questions: 'Who was Jesus?' and 'What did He do?' Their insights might help us to proclaim the cosmic meaning of the message of the Gospel with integrity in a modern and postmodern world.


 

 

Inleiding

Die uitdaging vir die gereformeerde tradisie is om vanuit 'n ewolusionêre perspektief wéér te luister na Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die bedoeling daarvan opnúút te bely. Guido de Brès (geb.1522) het Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica) op 02 November 1562, saam met 'n brief wat gerig was aan koning Philip II van Spanje, oor die poort van sy kasteel in Doornik gegooi. Daardeur wou hy aantoon dat die gereformeerde geloof in ooreenstemming is met die Skrif en die konsilies van die eerste vyf eeue (Jonker 1994:50). In Artikel 1 word bely dat:

daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.1(Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1983:155)

In Artikel 2 word bely dat daar twee middele is waardeur hierdie God homself bekend maak:

Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al hierdie dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. (Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1983:155)

Hiermee het die Reformasie hom geplaas binne die lang tradisie van die sogenaamde openbaring in die natuur en die geskiedenis.2 Maar, gaan die Nederlandse Geloofsbelydenis verder:

Tweedens maak Hy (God) Hom deur sy heilige en Goddelike Woord (Bybel) nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot saligheid van hulle wat aan Hom behoort. (Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1983:155)

Volgens Calvyn (1956:37) is die skepping (algemene openbaring) en die Heilige Skrif (besondere openbaring), die bril waardeur ons kyk, genoegsaam om God te leer ken en tot sy eer te kan lewe.3

Guido de Brès het met die Nederlandse Geloofsbelydenis 'n duidelike standpunt ingeneem op grond van die Skrif en tradisie. Hy kon allermins voorsien watter geweldige veranderinge die Verligting4 vir die mens, maar ook vir die teologie, sou meebring. Die invloed van die slagspreuk van die filosoof René Descartes (1596-1650), as die grondlegger van die moderne filosofie: 'Cogito ergo sum', f'Ek dink, daarom bestaan ek'; Strauss 2008:220), sou verder en verder uitkring. Die belydenis in Artikel 2 skep egter die ruimte waar die teologie (geloof) en (natuur-)wetenskappe (wete) met mekaar in gesprek kan tree om tot 'n duideliker verstaan van die skepping en die voortgang van die wêreld te kom.5

Die baanbrekerswerk van Charles Darwin (1809-1882) in On the Origin of Species by Means of Natural Selection (1859) oor ewolusie, asook dié van Mendel (1822-1884) in Versuche über Pflanzenhybriden [Experiments on Plant Hybridisation] (1865) oor genetika, het die gesprek oor geloof en wetenskap in 'n nuwe baan geplaas. Hul bevindinge het 'n ingrypende invloed uitgeoefen op verdere natuurwetenskaplike navorsing oor die ontstaan van die wêreld en die ontwikkeling van die mens tot sy huidige vorm van bestaan. Die Human Genome Project (HGP) wat in 2003 voltooi is, het 'n verdere stimulus hieraan gegee. Dié bevindinge het gaandeweg 'n wêreld-en lewensbeskoulike vorm aangeneem. Hedendaagse Afrikaanse geskiedskrywers soos Herman Giliomee (in Giliomee & Mbenga [2007]) en Fransjohan Pretorius (2012), neem die ewolusionêre ontwikkeling van die wêreld en die mens as vertrekpunt vir hul geskiedskrywing. Selfs in die algemene literatuur het ewolusie 'n huishoudelik begrip geword. Wanneer Leon Nell (2008) 'n populêre werk oor die Groot-Karoo skryf, sluit hy met groot gemak by hierdie uitgangspunte aan. In die boek van George Claassen en Frits Gaum, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (2012), deel verskeie van Claassen se gespreksgenote onbeskaamd hul oortuigings oor hoe hulle hul rug op die geloof en die kerk gedraai het juis op grond van die kerk se sieninge, soos die titel aandui, 'oor die oorsprong en uiteinde van alles'.

Die asemrowende ontwikkelinge die afgelope drie eeue in die natuur- en sosiale wetenskappe, die historiese navorsing en die neurowetenskappe is vir baie gelowige mense so oorweldigend dat hulle hul eerder van die gesprek onttrek, of die bevindinge van die wetenskap ignoreer. Ter wille van die behoud van hul geloof val hulle terug op gevestigde sekerhede en gaan in 'n staat van ontkenning. Ware geloof moet egter van fideïsme onderskei word. Fideïsme beteken daar word gesê dat 'n mens die punt bereik het waar jy moet ophou om vrae te vra en net moet glo.

 

Die verhaal van die kosmos

Die teologie was deur die eeue bewus van verskuiwende wêreldbeelde wat telkens nuwe uitdagings gebring het. Volgens die klassieke definisie is teologie fides quaerens intellectum - ['geloof vra na verstaan'] (Anselmus). 'n Lewende Christelike geloof is 'n denkende geloof (Douglas 1989:405-409). Ware geloof hou aan om vrae te vra en hou aan om te soek (Migliore 1991:2). John Polkinghorne (1998:32) voeg by dat die wetenskaplike verstaan op sý beurt weer na geloof vra. Gelowiges is nie immuun vir die vrae wat uit hul situasie ontstaan nie. Hulle is as pelgrims op reis deur die wêreld. Op hierdie reis word hulle gekonfronteer deur vrae soos: 'Bestaan God?', 'Wie is ons?', 'Waar kom ons vandaan?', 'Is daar iets waarop ons kan hoop?' Vrae word gevra oor die verhaal van die kosmos; oor die gode van die wetenskap en die tegniek, oor mag, welvaart, nasionalisme en rassisme. 'n Geloof wat nie vrae vra nie, word maklik 'n ideologie, dit verval in bygeloof, selftevredenheid en selfs afgodery (Migliore 1991:3-5).

Die uitdaging vir elke geslag gelowiges is om telkens opnuut weer na die verhaal van die skepping én na die verhaal van die Bybel te luister. Heyns (1988:77) sê dat as die twee middele (verhale) om God te ken, naamlik die Skriftuur en natuur, van mekaar losgemaak word, daar een van twee dwalinge is: Óf die openbaring in die skepping óf die openbaring in die Bybel word verselfstandig.6 Migliore (1991:6) waarsku ook teen óf 'n reduksionisme van die wetenskap óf 'n imperialisme van die teologie. Die moderne biologiese navorsing en die wetenskaplike kosmologie wil ons help om te verstaan dat God 'n dinamiese en oop, eerder as 'n statiese en geslote wêreld geskep het; dat Hy 'n hoogs gedifferensieerde eerder as monolitiese wêreld geskep het; dat Hy 'n wêreld geskep het waarin daar verandering, vernuwing, onderbreking en kontinuïteit, orde en kohesie is (Migliore 1991:15, 97).7

Paul Tillich se korrelasiemetode was 'n poging om die vrae wat deur die filosofie, letterkunde, wetenskap en sosiale instellings gevra word, te korreleer met die 'antwoorde' van die Christelike boodskap. David Tracey gaan verder in sy revisionêre teologie8 deur te sê dat die korrelasie van Tillich ook moet beteken dat daar onderlinge korreksies en wedersydse verryking tussen die deelnemers aan die gesprek moet kan plaasvind. Alleen so kan die teologie werklik blootgestel word aan die bydraes van die kultuur en kan die kultuur deur intelligente en geloofwaardige insigte van die geloof benader word (McGrath1997:103).9

Wanneer Leon Nell (2008:103) die verhaal van die Groot-Karoo vertel waar al hierdie dinge, soos hy sê, voor ons oë is soos in 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is, sluit hy aan by die uitgangspunte van die ewolusie waarvan Darwin die grondlegger is. Darwin se boek On the Origin of Species (1859) is met gemengde gevoelens deur sy tydgenote ontvang. Darwin se verstaan van ewolusie moet nie sonder meer aan ateïsme gelykgestel word nie. Die kerkman en skrywer, Charles Kingsley, het Darwin se insigte verwelkom as iets wat nuwe lig kom werp het op die leer van die skepping. Kingsley sê dat God nie geskep het deur die klap van 'n vinger nie, maar dat Hy iets veel beter in gedagte gehad het: 'for in bringing a creation in which creatures could make themselves' (Polkinghorne & Beale 2009:15). Wanneer Darwin skerp op die natuurlike teologie van William Paley10 reageer, sê hy dat die ewolusieteorie Paley se deïstiese, 'horlosiemaker'-God, oorbodig gemaak het (Wright 2011:259-2608).11 Hiermee het Darwin twee onaanvaarbare Godsidees van die tafel gevee: Die veraf ontwerper-God van die deïsme en die 'God van gapings' wat net kan oorleef waar daar gapings is wat nie deur die wetenskaplike kennis gevul kan word nie. Van Huyssteen (2012:21-22) sê Darwin plaas ons voor die onvermydelike keuse: God is óf alles óf niks; God is óf 'n aktiewe deelnemer aan die skepping en as sodanig teenwoordig in die wêreld óf God is afwesig.

Dit is belangrik om te onthou dat ewolusie op een vlak suiwer matematiese waarnemings is: Gegewe die spesifieke populasie (diere, plante, virusse, taal, kultuur, ens.) waar daar duplisering, mutasie of seleksie is wat inskakel by die dinamiese proses van ewolusie. Die opspraakwekkende, wetenskaplike ontdekking van ewolusie is dat alle bekende lewende wesens met mekaar in verband staan en wel op so 'n wyse dat dit beskryf en geanaliseer kan word deur die ewolusionêre prosesse (Polkinghorne & Beale 2009:55, 138-154). Aan die ander kant is ewolusie soos swaartekrag. Swaartekrag beïnvloed alles in die wêreld, maar dit is nie die hele verhaal van die skepping (materie) nie. Naas die genetiese ewolusie is daar epigenetiese12 en kulturele faktore wat net so belangrik is (Polkinghorne & Beale 2009:55). In die hart van ewolusie is die interaksie tussen 'kans' (die kontingente detail van wat gebeur) en die 'noodsaaklikheid' (die gepaste gereguleerde omgewing waarin dit kan gebeur). Die proses vind plaas op die 'grens van chaos' waar daar orde en openheid vir interaksie is (Polkinghorne & Beale 2009:56). Daar bly altyd iets onverklaarbaar of misterieus in die ontstaan en die ontwikkeling van die heelal, wat bo 'n bloot matematiese beskrywing van 'n natuurlike proses uitstyg.

 

Die aanval van die nuwe ateïsme

Die gesprek oor ewolusie het die laaste paar jaar 'n nuwe wending geneem.13 Van die boek van Richard Dawkins The God Delusion (2006) is meer as 1.5 miljoen eksemplare verkoop. Volgens George Claassen (Claassen & Gaum 2012:25) het die ewolusieteorie van Charles Darwin die geloof in God, engele, duiwel en die gedagte aan 'n skepping en uiteindelik die ewige lewe, deur 'n oormag van wetenskaplike bewyse in 'n afwaartse wentelbaan geplaas. George Claassen getuig van homself (Claassen & Gaum 2012):

Ek was eens gelowig, intens gelowig en besit 'n Bybel met heelwat onderstreepte tekste. Deur jare se bestudering van wetenskaplike bevindings en die belangrikheid van bewyse voordat ek iets kan en hoef te glo, het ek geleidelik van my geloof afstand gedoen ... Tradisie kan nie meer bepaal waarom ek nou juis in 'n skeppergod, verlossing en 'n hiernamaals moet glo nie, want die wetenskap se bevindings het lankal daardie geloofstradisies ongeldig verklaar en ongedaan gemaak. (bl. 39)

Soortgelyke stemme word gehoor in die boek van George Claassen en Frits Gaum: God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (2012).

N.T. Wright (2011) brei verder op hierdie tendens uit wanneer hy sê:

The two violent winds of (rationalistic - DJD) skepticism and conservatism ( 'conservative' Christian reaction - DJD) have picked up extra energy from massive social, political, and cultural storms that have raged across the Western world over the last two to three hundred years and that seems, as we speak, to be coming to a climax. (bl. 377-382)

En dan voeg hy by dat die rede waarom die 'nuwe ateïste'14 soos Richard Dawkins, Christopher Hitchens en Sam Atkins so baie boeke verkoop, is omdat hulle 'n moderne weergawe gee van die goeie ou teologiese begrip van versekering of sekerheid. Hulle verseker mense daarvan dat die nagmerrie van 'n eng en dwase 'godsdiens' vir altyd verby is. Mense wil vry wees en wil nie meer die knie voor enige iemand buig nie, veral nie 'n bemoeisieke God en daardie vreemde karakter met die naam Jesus nie (Wright 2011:392-403).

Van Huyssteen (2012:117) wys daarop dat hierdie 'nuwe ateïste', net soos die Bybelse fundamentaliste, die Bybel op 'n letterlike manier lees. Net soos die Bybelse fundamentaliste, glo die nuwe ateïste dat hulle eksklusief in besit van die waarheid is. Ironies genoeg is die nuwe ateïste inderdaad die omgekeerde spieëlbeeld van die konserwatiewe, letterlike vorm van fundamentalistiese teïsme wat hulle verwerp.15 Albei werk in 'n modernistiese sin met absolute sekerhede waarvan hulle ander mense wil oortuig.

 

Twee perspektiewe op dieselfde werklikheid

Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat wie met integriteit wil leef, die verhaal van die kosmos én van die Bybel sáám moet lees. Van Huyssteen (2012:121) sê in die hoofstroomdebat oor teologie en wetenskap is die opinie feitlik eenparig dat God sy doelstellings deur die natuurlike prosesse van ewolusie bereik. Die ewolusionêre biologie, geomorfologie en paleontologie is deel van die verhaal om God se kreatiewe teenwoordigheid te ontsluit. Waar die verhaal van die kosmos volgens wetenskaplikes ongeveer 4540 miljoen jaar gelede begin het (McCarthy 2009:12, 146), word die eerste tekens van die homo eers 2.5 miljoen jaar gelede as die Homo habilis gevind. Die homo sapiens (genus: homo - 'mens' en spesie: sapiens - 'wys') is relatief jonk. Die oudste tekens van die hominiede (mensagtige spesie) dateer ongeveer 200 000 jaar terug. Die 'moderne' mense met sekere kultuurvaardighede (sedert die 'cultural big bang') dateer 45 000 tot 35 000 jaar gelede terug na die ontwikkeling van die menslike bewussyn en intelligensie met kreatiewe, artistieke en religieuse vermoëns (Van Huyssteen 2006:64).16 Dit vind as't ware eers plaas in die laaste millisekonde van die totale proses van ewolusionêre ontwikkeling! Die historikus Hermann Giliomee (2007) skryf:

Wanneer ons dié groei naspeur en verskeie dissiplines inspan om 'n beeld van ons verlede as spesie te bou, moet ons altyd in gedagte hou dat ons nie met die 'werklikheid' te doen kry nie, maar met die 'historíese werklikheid'. Die geskiedenis glo lankal nie meer aan enige absolute waarheid nie, maar eerder aan gedeeltelike en aanvullende bronne van waarheid. Dit is 'waarheid in aanbou', onderworpe aan verandering ... Alles wat ons vandag glo, kan môre verander.17 (bl. 12)

Wanneer mense hul skeppingsverhale vertel het, het dit altyd direk te make gehad met die mees fundamentele en dringende oorsprongsvrae van hul bestaan. Hulle het geprobeer om antwoorde te gee op die vrae na die oorsprong van die kosmos, die oorsprong van die menslike geneigdheid tot goed én kwaad, die oorsprong van pyn en lyding in die wêreld. En heel bo aan die lys die vraag: Wat is die oorsprong van die mens? (Van Huyssteen 2012:118). Die twee skeppingsverhale van Genesis 1:1-2:4a en 2:4b-3:24 is pragtige voorbeelde van sulke verhale in simboliese en mitologiese taal.18 Hierdie verhale was ingebed in die Ou Nabye-Oosterse kultuur van hul tyd. Dit is voorbeelde van hoe die Joodse skrywers op 'n unieke manier 'n eie identiteit aan hul konteks gegee het. Die begrip imago Dei (beeld van God) wat nog altyd deel van al drie die Abrahamitiese (Christelike, Joodse en Islamitiese) gelowe was, sluit aan by die oorsponklike skeppingsverhale van daardie tyd. Van Huyssteen (2012:119) sê met die beeld van God wil hulle uitdrukking gee aan die besondere verhouding wat daar tussen God en mens is. Adam en Eva, as die mitologiese 'eerste mense', is die betekenisvolle voorgangers van alle mense en staan as God se verteenwoordigers op aarde in 'n spesiale verhouding met Hom. As sodanig is die mens nie belangriker as die ander skepsels nie, maar het die mens 'n addisionele roeping om te sorg vir sy medemens, vir die ander susterspesies en vir die aarde.

Van Huyssteen (2012:120, 123) wys op die dieper betekenis wat in die 'beeld van God' opgesluit is. In Genesis 3:22a lees ons dat God sê: 'Die mens het nou soos een van Ons geword dat hy alles kan ken.' Met hierdie teks word onthul dat daar 'n merkwaardige ewolusie van 'n morele bewussyn by die mens sedert sy aankoms op aarde plaasgevind het. Die menslike wese het nou 'n vrye keuse om tussen goed en kwaad te onderskei. Die 'val' in sonde kon alleen gebeur het omdat dit voorafgegaan is deur 'n 'val opwaarts' na 'n morele bewussyn waardeur tussen goed en kwaad onderskei kan word (vgl. Gen 3:5). Slegs een spesie, naamlik die homo sapiens, het 'n morele bewussyn ontwikkel en kwalifiseer as 'geskape na die beeld van God'. Hierdie intuïtiewe sin vir reg en verkeerd is universeel deel van die selfbewussyn van alle mense (Van Huyssteen 2012:125). Klaus Nürnberger (2011) bevestig dit wanneer hy sê:

Evolution has produced a creature that is not only determined by causality as physical reality is, nor only guided by instincts as biological reality is, but faced with the necessity to choose between options. It has to weigh these options against the criteria of acceptability, utility or desirability. It has to take action based upon decisions. (bl. 130)

Binne 'n kollektiewe sisteem word die ervarings en gebruike van vorige geslagte geïntegreer en van toepassing gemaak op nuwe ervarings. Hierdie kollektiewe sisteem is een van die wortels van religieuse instellings, mites, rituele en geloof (Nürnberger 2011:137).

In sy boek, Alone in the world? Human uniqueness in Science and Theology (2006), brei Van Huyssteen verder uit op hierdie verbasende vermoë van die mens tot kreatiwiteit en die skepping van kultuur in sy bespreking van die Bybelse begrip van die mens as beeld van God (imago Dei). Hierin analiseer hy die beroemde prehistoriese rotsskilderye van tot 32 000 jaar gelede in Suidwes-Frankryk en die Bask-area in Noord-Spanje en toon aan dat dit die belangrike oorgang van biologie na kultuur uitbeeld. Hy wys ook daarop dat godsdiens in sy eerste Sjamanistiese vorm reeds deel van die allervroegste menslike gemeenskappe was. Hierdie bevindinge help ons om te verstaan dat kuns, taal, musiek, godsdiens en rituele 'n integrerende deel van die allervroegste homo sapiens was en bevestig die mens se geïntegreerde ewolusionêre verbondenheid met die natuur (Van Huyssteen 2012:123-124).

Dit is meer voor die hand liggend om die ewolusionêre wêreldbeeld met die Bybelse verhaal van die skepping in verband te bring, as om die ewolusionêre wêreldbeeld in verband te bring met die herskepping, naamlik met die Bybelse siening van Christus as Verlosser. Die herskepping of verlossing is die kern van Christelike geloof en moet met groot omsigtigheid benader word. Wanneer Berkhof (1973:177-178) die resultate van die natuurwetenskappe en Bybels teologiese ondersoek ernstig opneem en sê dat 'de schepping als ouverture tot en aangelegd op het heil' is, is daar intense weerstand. Daar is vrees dat so 'n ewolusionêre visie daartoe sal lei dat die sonde as opstand teen God en die verlossing in Christus nie meer ernstig geneem sal word nie.

Die ondersoekende denke van Wentzel van Huyssteen, Rob Bell en N.T. Wright oor die invloed van die ewolusionêre wêreldbeeld op Christus en ons verlossing kan ons in hierdie gesprek help.

 

Christus en die ewolusionêre wêreldbeeld

Wentzel van Huyssteen

Van Huyssteen (2012:126) sê dat dit inderdaad 'n groot uitdaging is om die ewolusionêre siening van die dood as die einde van 'n natuurlike proses en die Christelik teologiese siening van dood as die gevolg van die sonde, met mekaar te verenig. Die Bybel en die natuurwetenskappe interpreteer die dood op uiteenlopende maniere. Die Bybel beskryf die dood as 'n vyand (1 Kor 15:54-55) wat aan die einde van die tyd vernietig sal word (Op 20:6). Vanweë die sondeval is die dood die straf vir die sonde (Gen 3:2). Vir Paulus is die sonde die angel van die dood (1 Kor 15:56). In die 'nuwe skepping' sal die mens deel kry aan die ewige lewe en heeltemal vry van die dood wees (Op 21:4). Hierteenoor, volgens die getuienis van die biologiese wetenskappe, was daar stryd, geweld, lyding en dood op aarde lank voordat die mens op die toneel verskyn het. In die ewolusionêre proses is die dood nie alleen onvermydelik nie, maar is dit ook 'n ekologiese noodsaaklikheid en voorwaarde vir nuwe lewe (vgl. ook Berkhof 1973:178). Van Huyssteen (2012:127) verwys na die Britse teoloog, Arthur Peacocke, wat gesê het dat die dood alleen verstaan kan word vanuit die belangrike rol wat dit in God se skeppingsproses gespeel het. God het die natuurlike orde gebruik om die natuur te skep. God se handewerk kan in die voortdurende, maar wetsgebonde prosesse van die natuur gesien word. In dié sin is daar geen direkte verband tussen sonde en dood nie, net soos daar ook geen direkte verband tussen siekte en sonde is nie (vergelyk die genesing van die man wat blind gebore is in Joh 9:1-41). Tog meen die Amerikaanse teoloog, Ted Peters, wat eweneens erns maak met die ewolusionêre ontwikkeling, dat die dood steeds simbolies as 'straf' op die sonde gesien kan word en deel van 'n gebroke wêreld is. Die skepping sal in die eindtyd, of eschaton, eers volkome bevry wees van die effek van die sonde en die dood.

Hierdie gesprek lei onvermydelik tot die vraag: Waar pas Jesus en die mens se verlossing in hierdie prentjie in? Wie was Jesus regtig? Die historiese navorsing lê die klem op 'n Christologie 'van onder', in reaksie op 'n Christologie 'van bo' wat uitgaan van die voorveronderstelling van die godheid van Jesus.19 Van Huyssteen sê dat indien aanvaar word dat God se wese en aard bekend gemaak (geopenbaar) is in Jesus wat mens geword het, dan beteken dit ook dat Hy deel van hierdie menslike geskiedenis geword het. Dit beteken dat hierdie openbaring in die menslike geskiedenis ook rekening moet hou met die onduidelikheid van die geskiedenis en daarmee saam ook met die tentatiewe, voorlopige verstaan daarvan.20 Die geskiedenis soos vertel deur die Bybelskrywers oor die inkarnasie, die beliggaming van God in Jesus, is interpretasies van hierdie gebeure wat nie vir ons finale kennis oor God kan gee nie. Dié getuienis word ook geraak deur die epistemiese, hermeneutiese en pragmatiese onduidelikhede en dubbelsinnighede oor ons verstaan van die geskiedenis. Dit doen egter nie afbreuk aan die mens se vermoë om tot 'n diepere verstaan van die menswording van Jesus en van die Christelike geloof self te kan kom nie. Van Huyssteen wys daarop dat, nog voor Darwin, die agtiende-eeuse teoloog, Friedrich Schleiermacher (1832)21 in sy boek, Der christliche Glaube, gewys het op die lang ontwikkeling van natuurlike spesies wat die basis gelê het vir die latere ontwikkeling van die mens se kapasiteit vir spiritualiteit en geloof in God. Uit die fisiese bewussyn en die selfbewussyn van die mens het die Godsbewussyn ontwikkel. Die moderne ontwikkelinge in die neurowetenskappe, met hul fokus op die bewussyn (consciousness), het die drie vlakke van ontwikkeling in die menslike bewussyn van Schleiermacher bevestig. Die eerste of laagste vlak is die dierlike bewussyn (reptielebrein), die tweede die sintuiglike bewussyn (limbiese sisteem - sensible consciousness); dit word getipeer as die gevoel van spanning tussen vryheid en gebondenheid (Schleiermacher tipeer dit as selfsug of sonde). Die derde en hoogste vlak is die Godsbewussyn (neokorteks). Dit is die vlak van geloof en 'absolute afhanklikheid'. Op dié vlak is dit eers moontlik om die werklike betekenis daarvan te ervaar om in 'n verhouding met God te staan (Nürnberger 2011: 117-118; Van Huyssteen 2012:129).22

Van Huyssteen (2012:130) sê dat die mens op die tweede vlak van die selfbewussyn permanent verskeurd is tussen goed en kwaad. Die mensekind kan hierdie spanning nie uit homself oorwin nie. Daarom het God self die probleem opgelos deur 'n Verlosser te stuur. Hierdie Verlosser, Jesus van Nasaret, was volkome mens en het deur sy ontwikkelingsproses dít bereik wat ander mense ontwyk het, naamlik 'n perfekte of volmaakte Godsbewussyn. Jesus se verbondenheid en empatiese verbintenis met God was so perfek dat Hy die Een geword het wat deur hierdie perfekte Godsbewussyn, in sy suiwer liefdesdaad aan die kruis, God teenwoordig gemaak het. Hy voeg by: 'In hierdie sin is Christus God self perfek geïnkarneer in die één mens wat in perfekte Godsbewussyn kom leef het' (Van Huyssteen 2012:130). Op hierdie wyse kan die vroeë Christelike en verouderde filosofiese konsepte van Jesus se selfidentiteit oorkom word en is dit moontlik om in Iemand te glo wat volkome in die ewolusionêre geskiedenis veranker is, maar wat ook deur sy beliggaamde selfbewussyn direk aan God verbonde was - trouens, sélf ook God was (Van Huyssteen 2012:130).

Rob Bell

Bell (2011:1516-1522) gebruik 'n ander invalshoek om die betekenis van die verhaal van Jesus van Nasaret te vertel. Hy sê dat die verhaal van Jesus nie los staan van die tyd waarin dit die eerste keer vertel is nie. Groot beskawings het vir duisende jare rituele offers uitgevoer omdat mense geglo het dat dit die manier was waarop 'n vreedsame verhouding met die gode, die magte en die noodlot wat jou lotgevalle bepaal, in plek gehou word. Die skrywer van Hebreërs sien dan ook die kruisiging van Jesus as die genoegsame offer wat gebring is om aan die wil God te voldoen (Heb 9:23-28). Paulus gebruik die metafoor van 'versoening' om te beskryf hoe die verhouding tussen God en mens in Jesus Christus herstel is (Kol 1:15-23). In Romeine 3 gebruik hy die regsterm van 'regverdiging' om die betekenis te beskryf van die verlossing wat Jesus Christus bewerk het. Vir die eerste duisend jaar in die geskiedenis van die kerk is die metafoor van 'oorwinning oor die dood' die dominante een om die betekenis van die kruisiging van Jesus te beskryf (Bell 2011:1567-1575). Die volgelinge van Jesus het egter ook volgehou dat hulle die lewende Here na sy dood ervaar het. So het die klem begin val op die opstanding van Jesus. Eers dood, dan opstanding. Hiermee word aangesluit by die ewolusionêre waarheid wat geld vir alle ekosisteme, voedselkettings en seisoene. Die dood baan die weg vir die lewe (Bell 2011:1594-1599). Bell sê immers: 'This death-and-life mystery, this mechanism, this process is built into the fabric of creation. Death is the engine of life in the relational realm as well' (2011:1599-1611). Wanneer die Bybelskrywers dan praat van die opstanding wat nuwe lewe bring, gebruik hulle nie 'n nuwe konsep nie. Hulle praat oor iets wat altyd waar was. Dit is hoe dit in die wêreld werk. Hiermee word dan ook beklemtoon dat die kruis en opstanding 'n gebeurtenis is wat die hele wêreld raak. Die opstanding van Jesus word die eerste dag van die nuwe week, die eerste dag wat die nuwe skepping inlui. Die mens is bevry van die dood en die nuwe lewe het deur Jesus se kruis en opstanding deurgebreek in hierdie wêreld (Bell 2011:1628-1634). Bell gebruik die metafoor van 'dood en lewe' om, teen die agtergrond van die verhaal van die skepping, die verhaal van die nuwe skepping (herskepping) te beskryf. Vir hom vertel dit die een groot storie van God wat voortdurend stry om die behoud van die skepping (Bell 2011:1634-1642). Die kosmiese gebeure van die kruis en die opstanding het alles te doen met hoe die mens elke dag lewe. Dit is 'n patroon, 'n ritme, 'n praktyk, 'n werklikheid wat geanker is in die elementêre realiteite van die skepping en wat uitreik na die lewenskragtigheid van elke mens. Wanneer die mens hom oopstel vir die werking van God in en deur Jesus Christus as voorbeeld van die patroon van dood en lewe, kry die mens deel aan die ware, standhoudende lewe (Bell 2011:1660-1665).

N.T. Wright

Wright (2011:192-203) sê 'n mens kan ná al die vrae oor Christus en die Christelike geloof van Freud, Marx en Nietzsche (as die 'meesters van suspisie'), Rice en Webber (in Jesus Christ Superstar) en Dawkins, aangaan met jou verstaan van God en jou aanbidding asof niks gebeur het nie. Of jy kan die uitdaging aanvaar om te vra wie Jesus regtig was. Wright het die uitdaging uiteindelik na baie jare van navorsing aanvaar en begin deur te sê: 'We have to make a real effort to see things from a first-century Jewish point of view, if we are to understand what Jesus was all about' (2011:120-126). In die lig van die historiese getuienis vra hy wat die betekenis van Jesus vir die mens van vandag is en voeg dan by: 'Jesus - the Jesus we might discover if we really looked! - is larger, more disturbing, more urgent than we - than the church! - had ever imagined' (Wright 2011:226-230). Dit is ons, die kerk, wat Hom veel kleiner gemaak het as wat Hy is. Sy koninkryk is verskraal tot ons persoonlike geloof, die kruis 'n middel om ons gewete te sus en die boodskap van Paasfees om te ontvlug uit die donker wêreld waarin ons lewe. Die kuns om die ware Jesus te ontdek is nie om 'agter' die verhaal van die evangelies te kom nie, maar 'binne-in' die verhaal te kom (Wright 2011:226-230, 269-275). Om binne-in die werklike verhaal van Jesus te kom, is nie so maklik nie, want Hy was 'n ietwat misterieuse figuur. Die wêreld waarin Jesus gelewe en die God waarvan Jesus gepraat het, is vir ons vreemd. Toe Hy op die toneel verskyn het, was Jerusalem in die brandpunt van politieke gebeure. Augustus Octavius Caesar, die Romeinse 'seun van god', was die 'goeie nuus', wat, so is geglo, voorspoed en seën vir die hele wêreld gebring het. Terselfdertyd het die Joodse volk steeds geglo, soos deur al die eeue, dat hul storie iewers heengaan, dat hulle 'n doel het waarheen hulle op pad is (Wright 2011:571-576, 639-650, 666-671). Hulle het geglo dat die God wat met die skepping orde uit chaos gebring het en wat sy volk uit die slawerny van Egipte verlos het, dit weer kan doen. Jesus het geglo dat Hy deel is van hierdie storie van hoop (prospektiewe eskatologie). In sy kort loopbaan van drie jaar het Hy gepraat asof Hy in beheer van sake was (Wright 2011:299-321, 683-693, 738-743, 1492-1498). Jesus het in botsing gekom met die politieke en godsdienstige leiers van sy tyd toe Hy aangekondig het dat God se koninkryk met sy koms aangebreek het (Mark 1:15; Luk 11:20). Hierdie koninkryk is wel nie van die wêreld nie, maar vir die wêreld. In dié nuwe regering (teokrasie) sal God die Een wees wat reg en geregtigheid sal laat geskied. Terwyl Jesus enersyds groot skares met hierdie boodskap getrek het en hulle God geprys het oor wat hulle gehoor en gesien het, het ander Hom as 'n bondgenoot van die duiwel gesien. Sy boodskap het hul mag en invloed uitgedaag en hul agendas deurmekaar gekrap. Hy het vir hulle probeer verduidelik dat iets nuuts besig was om te gebeur - iets dramaties, ánders en magtig (Wright 2011:1178-1184, 1310-1316). Wright (2011:2757-2768) sê dat die doel van Jesus se optrede was om in lyn met die eerste-eeuse Jode se verstaan van 'God', Homself voor te stel as 'n vergestalting van wie dié God is. Jesus het deur sy optrede geïllustreer wat God besig was om te doen. God was deur Hom (Jesus) besig om beheer van die wêreld oor te neem. Die Evangelies vertel hoe God Koning op aarde is net soos in die hemel. In die gelykenisse wat Jesus vertel het, het Hy verduidelik dat sy optrede in diens van die koninkryk van God staan. Die wonderwerke wat Hy gedoen het, was tekens daarvan dat God besig was om ook die materiële wêreld te omvorm. In dié lig was die opstanding van Jesus die geboorte van 'n nuwe skepping. Die opgestane Jesus is na liggaam, verstand, hart en siel die prototipe van die nuwe skepping. Waar die ou skepping gefunksioneer het op die beginsels van trots en vergelding, is die dryfkrag van die nuwe skepping dié van liefde. Die verhaal van Paasfees aan die einde van die Evangelies is net die begin van God se nuwe wêreld. 'n Nuwe wêreld waar God regeer deur mense as sy verteenwoordigers (Gen 1:27). Hulle is mense wat hierdie wêreld bewaar en transformeer sodat God se koninkryk op aarde kan kom net soos in die hemel (Wright 2011:3896-3901, 4010-4021). Die mense wat by Jesus se woorde en bediening baat gevind het, was egter die 'verkeerde mense': die eenvoudiges, die buitestaanders, die vreemdelinge. Vir hulle het die woorde en optrede van Jesus sin gemaak en hul lewe vernuwe.23 Baie mense vir wie die boodskap bedoel was, het sy optrede met skeptisisme bejeën en hul rug op Hom gedraai toe Hy aan hul deur geklop het (Wright 2011:3896-3901).

 

Gevolgtrekking

Die asemrowende vooruitgang van die wetenskap en die vestiging ná die Verligting van 'n ewolusionêre wêreldbeeld, het vandag ingrypende implikasies vir die verstaan van die skepping en die getuienis oor Jesus as die Christus. Wanneer, in teenstelling met die bedoeling van artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die openbaring in die natuur en die Skriftuur van mekaar losgemaak word, word óf die openbaring in die skepping óf die openbaring in die Bybel verselfstandig (Heyns 1988:77). Die wetenskap en die teologie maak dan elkeen afsonderlik absolute uitsprake oor God (se bestaan of niebestaan) en die kosmiese werklikheid. Tereg het Giliomee (2007:12) daarop gewys dat wanneer die verskillende dissiplines hul kundigheid inspan om 'n beeld van die wêreld en die mens te bou, die 'werklikheid' wat gerekonstrueer word, maar net die 'historiese werklikheid' is. Die insigte waartoe gekom word, is altyd voorlopig. Die waarheid is 'in aanbou' en altyd aan verandering onderworpe. Dit wat ons vandag glo, kan môre verander wanneer nuwe inligting bekend word. Dit is die logiese gevolgtrekking as erken word dat die wêreld wat God geskep het 'n dinamiese, oop en hoogs gedifferensieerde wêreld is waarin daar voortdurende verandering en vernuwing, onderbreking en kontinuïteit, orde en kohesie is (Migliore 1991:97). Die Duitse teoloog Martin Luther, het gesê dat die ware kerk voortdurend moet reformeer (ecclesia semper reformanda est). Die kerk moet in die lig van die uitdagings van sy eie tyd voortdurend besin oor die betekenis van sy bestaan in en sy boodskap vir die wêreld.

Wright (2011:392-403) wys dan ook tereg daarop dat die sogenaamde 'gesaghebbende' uitsprake van die teologie en die wetenskap hul eie pogings is om antwoorde te gee vir die mens se soeke na sekerheid of sekuriteit in 'n onsekere wêreld. Absolute uitsprake wat die werklikheid reduseer (verskraal) tot wat vir die menslike rede toeganklik is, is valse sekerhede. In hierdie magspel om beheer te kry (of te behou), word die geskakeerdheid, grootheid en kompleksiteit van die werklikheid ontken. Paleontologiese navorsing het aangedui dat kuns, taal, musiek, godsdiens en rituele 'n integrerende deel van die allervroegste homo sapiens was. Die mens se geïntegreerde ewolusionêre verbondenheid met die natuur gee 'n insig in die diepste bedoeling van wat dit beteken om ewolusionêr na die beeld van God geskape te wees (Van Huyssteen 2012:123-124). Dit staan teenoor 'n romanties indiwidualistiese siening van verlossing. Die waarde van 'n eerlike gesprek tussen geloof en wetenskap is dat dit die godsdiens bevry van 'n statiese (platoniese) verstaan van die skepping. Die feit dat mense inherent deel van die skepping is, beklemtoon hul dinamiese deelname daaraan en die kosmiese betekenis van die verlossing in Christus. Dit gee 'n besondere betekenis aan die boodskap van Jesus as ware mens en 'n konkrete verstaan van die koninkryk van God. Dit is 'n boodskap wat mense wil inspireer om in hul daaglikse lewe met verwondering in die teenwoordigheid van God te lewe.

Ter wille van die integriteit van die Bybelse boodskap moet die tradisie, teks en konteks in korrelasie met mekaar gebring word (vgl. Tillich 1964 en Tracey 1981). Genetiese ewolusie is meer as 'n matematiese beskrywing van gebeure. Dit is soos swaartekrag wat alles in die biosfeer beïnvloed, maar dit is nie die hele verhaal van die skepping (materie) nie. Daar is epigenetiese en kulturele, historiese, sosiale en eties religieuse faktore wat ook in berekening gebring moet word om die werklikheid beter te verstaan (vgl. Polkinghorne & Beale 2009:55). Daarom kan Van Huyssteen (2012:130) sê dat Christus nie net op die vlak van die morele bewussyn 'n antwoord op die nood van die wêreld gebring het nie, maar ook op 'n dieper geestelike vlak van die mens se (gods-) bewussyn. Jesus het bewustelik geleef vanuit sy volkome eenheid met die Vader. In dié sin het God self in Christus mens geword.

Bell (2011:1594-1599) gebruik die metafoor van dood en lewe as 'n ewolusionêre waarheid wat vir alle ekosisteme, voedselkettings en seisoene geld om die betekenis van Jesus, as geïnkarneerde van die Vader, vir die skepping te beskryf. Hiermee stuur hy weg van 'n eensydige, persoonlike siening van verlossing en beklemtoon dat die kruis en opstanding 'n gebeurtenis is wat die hele wêreld raak. Die kosmiese betekenis van die verlossing beklemtoon die mens se ekologiese verantwoordelikheid teenoor die skepping. Die natuur en die Skriftuur vertel immers die een groot verhaal van God wat voortdurend stry om die behoud van die skepping (Bell 2011:1634-1642).

Wright (2011:226-230) reageer ook vanuit 'n ewolusionêr historiese perspektief op die verskraling van die koninkryk van God tot 'n persoonlike geloof, die kruis as 'n middel om ons gewete te sus en die boodskap van Paasfees om te ontvlug uit die donker wêreld waarin ons lewe. Vir hom is die betekenis van die ware Jesus baie meer radikaal as wat ons ooit besef het. In die nuwe regering (teokrasie) is Hy die Een wat reg en geregtigheid laat geskied. Deur Jesus, as die prototipe van die nuwe skepping, neem God beheer van die wêreld oor. Waar die ou skepping gefunksioneer het op die beginsels van trots en vergelding, is liefde die dryfkrag van die nuwe skepping waar God regeer deur mense as sy verteenwoordigers (Gen 1:27), want Hy is Koning op die aarde net soos in die hemel (Wright 2011:4010-4021).

Waar die geloof (teologie) soek na verstaan (vgl. Anselmus), vra die wetenskap op sy beurt weer na geloof (Polkinghorne 1998:32). Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gee as 'n geloofsbelydenis erkenning aan die rol van ons kennis van die natuur vir die verstaan van die werklikheid, maar beklemtoon ook die belangrikheid van die geloofsperspektief wat die Bybel daarop gee. Hierdie artikel, soos trouens elke artikel van die belydenisskrif, moet altyd in die lig van Artikel 1 gelees word. Artikel 1 plaas die mens in geloofsverwondering voor die enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is.24 As moderne mense gevangenes word van hul selfontwerpte teologiese en wetenskaplike skemas, mis hulle die voorreg om in geloofsverwondering voor dié God te staan wat betrokke is by die voortgaande ontwikkeling en ontplooiing van die skepping tot sy eer.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenisse het met enige partye wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bell, R.H., 2011, At the heart of life's big questions. Love Wins, eBooks, HarperCollins.         [ Links ]

Berkhof, H., 1973, Christelijke Geloof. Een Inleiding tot de geloofsleer, 2de druk , G.F. Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Berkouwer, G.C., 1950, De Voorzienigheidheid Gods. Dogmatische Studien, J.H. Kok, Kampen.         [ Links ]

Berkouwer, G.C., 1951, De Algemene Openbaring. Dogmatische Studien, J.H. Kok, Kampen.         [ Links ]

Calvyn, J., 1956 , Institutie of Onderwijsing in de Christelijke Godsdienst, vert. A. Sizoo, 6de druk, W.D. Meinema, Delft.         [ Links ]

Claassen, G., 2012, 'As die klippe van die wetenskap begin uitroep in G. Claassen & F. Gaum (reds.) , God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, geen bladsy, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Conradie, E., 2012, 'Ekologie en die einde van die tyd', in S. Joubert, I. Burger, H. Stander & A.König. (reds.), Is dit die einde van die wêreld?, geen bladsy, Carpe Diem Media, Vanderbijlpark.         [ Links ]

Dawkins, R., 2006, The God Delusion, Bantam Press, Londen.         [ Links ]

Darwin, C., 1859, On the Origin of Species by Means of Natural Selection, John Murray, Londen.         [ Links ]

Descartes, R., 1637, Discours de la Methode, Ian Maire, Paris.         [ Links ]

Douglas, H.L., 1989, Thinking the Faith: Christian Theology in a North American Context, Augsburg Press, Minneapolis.         [ Links ]

Feenstra, J.G., 1966, Onze Geloofsbelijdenis, 4de druk, J.H., Kok, Kampen. PMid:18959929        [ Links ]

Gaum, F. (red.), 2008, Christelike Kern-Ensiklopedie, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Giliomee, H. & Mbenga, B., 2007, Die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1983, 'Klassieke formuliere en die drie formuliere van eenheid', NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Heyns, J.A., 1988, Inleiding tot die Dogmatiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid. Die karakter van die gereformeerde belydenis, Hugenote-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

McCarthy, T., 2009, How on earth? Answers to the puzzles of our planet, Struik Nature, Kaapstad.         [ Links ]

McGrath, A., 1997, Christian Theology. An Introduction, 2nd edn., Blackwell Publishers, Cambridge , Mass.         [ Links ]

Mendel, G., 1866, Versuche über Pflanzen- Hybriden, Verh. Naturforshung Ver., Brünn.         [ Links ]

Migliore, D.L., 1991, Faith seeking understanding. An introduction to Christian Theology, W.B. Eerdmans, Grand Rapids.         [ Links ]

Nell, L., 2008, The Great Karoo, Struik Publishers, Kaapstad.         [ Links ]

Nürnberger, K., 2010, Richard Dawkins' God Delusion. A repentant refutation, Cluster Publications, United States of America.         [ Links ]

Nürnberger, K., 2011, Regaining sanity for the earth, Cluster Publications, United States of America.         [ Links ]

Pannenber, G.W., 1973, Jesus - God and man, 3rd edn., SCM Press, London.         [ Links ]

Peacocke, A.R., 1979, Creation and the World of Science, Claredon Press, Oxford. PMid:546507        [ Links ]

Polkinghorne, J., 2006, Science and Creation. The Search for Understanding, Templeton Foundation Press, Philadelphia.         [ Links ]

Polkinghorne, J., 1998, Belief in God in an Age of Science, Yale Univeristy Press, New Haven. PMid:11806416        [ Links ]

Polkinghorne, J. & Beale, N., 2009, Questions of truth, Westminister John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Pretorius, F. (red.), 2012, Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Schleiermacher, F.D.E., 1832, Der christliche Glaube nach den Grundsätzen der evangelischen Kirche, G Reimer, Berlin.         [ Links ]

Strauss, D.F.M., 2008, 'René Descartes', in Christelike Kern-Ensiklopedie, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Tracey, D., 1981, The Analogical Imagination: Christian Theology and the Culture of Pluralism, Crossroad, New York.         [ Links ]

Tillich, P., 1964, Systematic Theology, vol. 1-3, University of Chicago Press, Chicago.         [ Links ]

Van Huyssteen, J.W., 2006, Alone in the world? Human uniqueness in Science and Theology, The Gifford Lectures, William B. Eerdmans, Grand Rapids. PMid:16645122        [ Links ]

Van Huyssteen, J.W., 2012, 'J. Wentzel van Huyssteen in gesprek met Frits Gaum', in G. Claassen & F. Gaum (reds.) God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Veldsman, D.P., 2008, 'Verligting', in Christelike Kern-Ensiklopedie, Lux Verbi, Wellington. PMid:18582195        [ Links ]

Wikimedia Foundation n.d., Wikipedia, viewed n.d. from, http//:en.wikipedia.org        [ Links ]

Wright, N.T., 2011, Simply Jesus. A new vision of who He was, what He did, and why He matters, e-Books, HarperCollins.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Daniel Dreyer
PO Box 104
Wapadrand 0050, South Africa
Email: daniedreyer@telkomsa.net

Received: 18 Apr. 2013
Accepted: 14 June 2013
Published: 17 Sept. 2013

 

 

1.Die drie gereformeerde belydenisskrifte is opgeneem in die Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1983:155).
2.J.A. Heyns (1988:72-73) sê die duidelike voorveronderstelling hier is 'die radikale en prinsipiële skeiding tussen God en die skepping en vervolgens dat God nie anders geken kan word nie as op grond van sy openbaring - in die kosmos en die Bybel'. H. Berkhof (1973:65) definieer openbaring as 'n kumulatiewe proses van gebeurtenisse en hul interpretasies. Paul Tillich (1964:1-111) sê dat openbaring altyd 'n subjektiewe én 'n objektiewe gebeure is wat ten nouste van mekaar afhanklik is.
3.Volgens J.G. Feenstra (1966:31) is die algemene openbaring daar vir alle mense om te lees en is die besondere openbaring gerig tot dié wat die Woord hoor. Heyns (1988:67) sê: 'Die besondere openbaring dui op Gods bekendmaking in die gang van die heilsgeskiedenis, die optekening daarvan in die Ou en Nuwe Testament en dan met name die vleeswording van die Woord, in Wie die volle wese van God beliggaam is.' G.C. Berkouwer (1951:6-1211) wys ook op die reaksie teen die aanvaarding van 'n algemene openbaring omdat dit die genoegsaamheid van die openbaring in Christus in die skadu sou stel en dit die deur sou open vir 'n natuurlike teologie. Dit het aanleiding gegee tot die diskussie tussen Barth en Brunner.
4.Die Verligting (Aufklärung) is die kultuurstroom sedert 1700 in Wes-Europa waar die mens uit sy onmondigheid uitgetree het en 'n onbeperkte vertroue in die menslike rede begin stel het. Dit het aangesluit by die voorafgaande tydperke van die Renaissance en die Humanisme. Die menslike rede, en nie meer die openbaring nie, geld nou as bron van waarheid. Die Christelike aansprake op absolute waarhede word bevraagteken en die begronding vir die sedelike norme is nie meer die wet van God nie, maar die mens se rede en gewete (Veldsman 2008:1151).
5.Berkouwer (1950:70) wys daarop dat Bavinck en Kuyper reeds ruimte geskep het vir 'n creado continua as deel van God se skepping en voorsienigheid.
6.Berkouwer (1951:228-233) wys ook op die noue verwantskap tussen God se bekendmaking in die kreatuurlike werklikheid en in die gesproke en hoorbare Woord. Op voetspoor van Calvyn word (komparatief) 'n swaarder gewig aan laasgenoemde geheg.
7.Vergelyk ook Peacocke (1979:21 e.v.).
8.Die sleutel van die revisionêre teologie is die onderlinge kritiese korrelasie. Daar is 'n onderlinge gesprek tussen die tradisie en die tydsgees. Die gesprek is krities: Die tradisie kritiseer die tydsgees en die tydgees kritiseer die tradisie. Ten einde die tradisie en die tydsgees te laat korreleer, vind daar wedersydse beïnvloeding plaas en bepaalde standpunte word aangepas en hersien.
9.Vergelyk Tillich (1964:1:3-68); Tillich (1964:2:13-16); Tracey (1981:3-98).
10.William Paley (1743-1805) was 'n Engelse Christen en apologeet, filosoof en utilitaris. Hy is veral bekend vir die uitbouing van die teleologiese argument vir die bestaan van God in sy werk, Natural Theology. In sy beredenering maak hy gebruik van die analogie van die horlosiemaker (Wikipedia: Paley).
11.Die deïsme is net 'n moderne weergawe van die antieke filosofiese denkrigting van die Epikureers. Deïsme is 'n algemene begrip vir die denkrigting wat aanvaar dat God geskep het, maar ontken enige verdere betrokkenheid van God by die skepping. Die gang van die wêreld word net bepaal deur die natuurwette. Hierdie eendimensionele siening van die werklikheid sluit God uit (McGrath 1997:215).
12.Die epigenetiese teorie fokus op die dinamiese interaksie van die genetiese oorsprong van gedrag en die direkte invloed van die kragte van die omgewing oor 'n bepaalde tyd daarop.
13.Nurnberger (2010:21-22) wys op die aggressiewe aard van die ateïsme wat deur Dawkins ingelui is.
14.Die term ateïs het verskillende betekenisse. Die algemene betekenis is dat dit iemand is wat nie in God glo nie. Die redes om nie in God te glo nie, spruit uit 'n bepaalde oortuiging oor God en die wêreld. Die eksistensialis, J.P. Sartre (1905-1980), het sy omhelsing van die ateïstiese marxisme gesien as 'n soort van geestelike bekering. Ateïsme verskaf vir hom die ideologiese uitgangspunte vir 'n bepaalde leefstyl en spesifieke keuses tot selftransendering. Richard Dawkins se ateïstiese ideologie in The Selfish Gene was die basis vir die optrede van Jeff Skilling as die hoof van Enron wat verantwoordelik was vir die ineenstorting van hierdie eens magtige maatskappy (Polkinghorne & Beale 2009:3-4).
15.Wright (2011:457-464) sê dat beide die 'konserwatiewe' of 'ortodokse' brigade en die 'liberale' of 'skeptiese' brigade werk met die tipies agtiende-eeuse benadering van: 'Wat is die feite?'. Daar word geen ruimte vir metafore en interpretasie gelaat nie.
16.Sien ook McCarthy (2009:1154-1155) en Conradie (2012:269-270).
17.Sien ook die uiteensetting van die menslike ontwikkeling (Giliomee & Mbenga 2007:6-11).
18.Die bedoeling met 'mite' is glad nie om die mitologiese verhaal van Adam en Eva as 'n fantasie of feëverhaal te klassifiseer nie. 'Mite' is 'n verklarende narratief of verhaal wat binne 'n bepaalde konteks rondom een of twee primêre simbole vertel is. In die skepping van die mens is die mitologiese verhaal primêr gebou rondom die mens as 'beeld van God' en die 'sondeval' van Adam en Eva. Mites is die oorsprong van konsepte en begrippe om die diep raaisels van menswees te verstaan (Van Huyssteen 2012:119). Volgens Wright (2011:452-457) is 'n mite streng gesproke 'n storie wat in 'n sekere sin 'histories' is en wat bepaalde sterk opvattings in 'n gemeenskap weergee en verder versterk.
19.Pannenberg (1973:35, 48-49) en andere is van oordeel dat 'n Christologie 'van bo' nie genoegsaam reg laat geskied aan die eiesoortigheid van Jesus as historiese mens nie. Hy verwys na die Ritschiliaanse skool van Hermann, Elert, Althaus, Brunner, Bultmann, Gogarten en Ebeling wat vanuit die standpunt 'van onder' na Jesus kyk.
20.Wright (2011:491-496) beklemtoon dat dit 'n uitdagende taak is om met die historiese stof van die Evangelies om te gaan. 'They are clearly written from a particular (pro-Jesus) point of view'. Die skrywers het met passie geglo in wat Jesus gedoen en gesê het. Gepaardgaande daarmee was sy dood en die daaropvolgende gebeure vir hulle van ongelooflike betekenis.
21.Friedrich Daniel Ernst Schleiermacher (1768-1834) was 'n Duitse teoloog, filosoof en Bybelstudent. Hy het bekendheid verwerf vir sy pogings om die kritiek van die Verligting en die tradisionele Protestantse ortodoksie te versoen. Hy word dikwels die 'Vader van die Moderne Liberale Teologie' genoem. Omdat sy piëtistiese Morawiese opleiding nie sy skeptiese vrae kon beantwoord nie, het sy pa hom toegelaat om aan die Universiteit van Halle te gaan studeer. Daar het hy kennis gemaak met die rasionalistiese gees van F.A. Wolf en J.S. Semler. Ook dít het hom nie bevredig nie. Sy kennismaking met die Romantisisme, met hul klem op die menslike emosie het vir hom nuwe perspektiewe geopen wat hy uitgebou het in sy belangrikste teologiese werk, Der christliche Glaube nach den Grundsätzen der evangelischen Kirche (1821-1822);2de verbeterde uitgawe (1830-1831) (Wikipedia: F.D.E. Schleiermacher).
22.In dieselfde tradisie van Augustinus en Schleiermacher maak C.S. Lewis ook 'n appèl op die religieuse bewussyn as 'n dimensie van die mens se bestaan wat bo ons tyd en ruimte uitstyg (McGrath 1997:229).
23.Wright (2011:1850-1856, 1943-1949) sê dat hierdie lewensvernuwing, as 'n gesindheidsverandering wat dieper gaan as die uiterlike dinge, treffend geïllustreer word in die boodskap van die Bergpredikasie in Mateus 5-7.
24.Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1983:155).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons