SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Journal of Literary Studies

On-line version ISSN 1753-5387
Print version ISSN 0256-4718

JLS vol.39 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.25159/1753-5387/15495 

BOOK REVIEW

 

Die tempteerbare oog: Opstelle oor die werk van Marlene van Niekerk, deur Marius Crous (redakteur)

 

 

Hein Viljoen

Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika. hein.viljoen@nwu.ac.za. https://orcid.org/0000-0002-8073-0403

 

 

SA Akademie vir Wetenskap en Kuns/Naledi. pp 367.
ISBN: 978-1-991256-12-6

 

Die tempteerbare oog en die hermeneutiese rede

Die tempteerbare oog: Marlene van Niekerk is die 13de boek in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks huldebundels aan Hertzogpryswenners. As 'n aanduiding van die stand van die Afrikaanse literatuurstudie vandag beloof die boek heelwat, want dit stel jonger literatore aan die woord wat nuwe maniere van kyk beproef. Dit verteenwoordig stellig van die belangrikste werk oor die Afrikaanse letterkunde, want die meeste artikels is gebaseer op hoofstukke uit die skrywers se verhandelings of proefskrifte. Marlene van Niekerk se ryk en verwikkelde werk toets of weeg egter enige literator, en die vraag is of die skrywers hierdie toets slaag.

Die boek open met die gebruiklike deeglike profiel deur die onvolprese Erika Terblanche. Daarna volg nege taamlik lang studies waarin die bydraers Marlene van Niekerk se werk uit 'n verskeidenheid oogpunte ondersoek, van vertaalkwessies tot by die stook van literêre kospotte; van liminaliteit tot by die skatologiese en die ensiklopediese. Ondanks uiteenlopende benaderings en groot verskille in die "objekte" wat hulle bestudeer, ontstaan daar interessante gesprekke tussen van die bydraers.

Alwyn Roux en Jean Rossman belig verskillende fasette van die drumpel. Roux maak 'n fyn en skerpsinnig analise van die "liminale toestande, prosesse en transformasies" (241) in Memorandum. Uit die oogpunt van die liminale verhelder hy die struktuur van die roman en die verskillende prosesse wat die karakter Wiid ondergaan. Hy bied ook insiggewende interpretasies van Adriaan van Zyl se skilderye en hulle rol in die roman. Sy aanduiding van liminaliteite op verskillende vlakke is 'n oortuigende demonstrasie van die waarde van hierdie benadering en van die transformasies wat in liminale situasies kan plaasvind.

Jean Rossman sien die drumpel anders. In haar artikel, een van die twee Engelses in die bundel, lees sy Van Niekerk se drie romans as 'n boeiende spirituele queeste na kreatiwiteit en self-ontwaking via ontmoetings met alteriteit. In die slotte van die drie romans vind sy drie embleme van hierdie konfrontasie met die ander en die oplos van die grense van die self, naamlik Orion, die sterrestelsel, in Triomf, die ramshoring in Agaat en die labirint in Memorandum. Sy plaas Van Niekerk se romans in 'n raam van eindelose bevraagtekening en negatiewe dialektiek en meen dat Van Niekerk se bevraagtekening altyd uitloop op n konfrontasie met die drumpel. Van Niekerk se romans onthul vir haar n voortdurende dialektiese proses van maak en ontmaak, van onthul en verhul, van ont- en betowering van die wêreld. Dit is in die gaping tussen weet en waarneem, tussen wedersyds uitsluitende teenstellings dat kreatiwiteit en bevraagtekening moontlik is. Daarom beskou sy al drie die romans as mistieke vierings van die drumpel tussen dood en selfvernietiging en, terselfdertyd lewe, herintegrasie en transformasie.

Sonja Loots sien 'n soortgelyke binêre spanning in Triomf en Memorandum. Sy lees dié romans in die raam van die vroeg-moderne ensiklopediese literatuur, o.a. verteenwoordig deur Burton en Rabelais. Die ensiklopediese literatuur was n reaksie op die kennisontploffing wat die gevolg was van die uitvinding van die boekdrukkuns. Loots benadruk die metafore van kos en drank wat destyds vir kennis gebruik is, want kennis voed, maar kan ook onverteerbaar en oordadig wees. Net soos Rabelais en Burton, meen sy, gebruik Van Niekerk normale stoelgang as beeld van die vrye vloei van kennis en kreatiwiteit. Van Niekerk plaas dit in teenstelling met hardlywigheid as beeld van verkramptheid en gebrek aan kreatiwiteit. So verlustig Treppie hom in kak en stront, maar worstel met hardlywigheid. Oormaat kennis kan lei tot verstopping, of tot die klakkelose sirkulering daarvan. Wiid in Memorandum moet leer om te laat gaan, maar ook om 'n belemmering te behou.

Loots toon aan dat metafore van kennis as kos en drank en ontlasting in Van Niekerk se werk positief geassosieer word met voedsaamheid en kreatiwiteit. Hulle is egter ook dubbelsinnig, want hulle het in haar werk nes in Rabelais s'n te doen met die laere liggaamsfunksies wat sterk sensueel en seksueel is, maar ook geassosieer word met die dood en met vernedering en vernietiging. Loots se slotsom is dus dat Van Niekerk n "soortgenoot [is] van vroegmoderne ensiklopediese romanskrywers soos Rabelais en Burton" (184).

Janien Linde se bydrae is ook 'n besinning oor skryf en kreatiwiteit. Sy maak naamlik 'n uitvoerige analise van Marlene van Niekerk se poëtika en kunsteoretiese besinnings, veral aan die hand van Die sneeuslaper. Linde verduidelik hoe die twee sienings van die rol van die skrywer, naamlik om die gruwels van elke dag te argiveer versus om die skoonheid te gedenk, in Van Niekerk se werk ontplooi het. Besonder interessant is die rol van sjamaan-kunstenaars by Van Niekerk. Die vraag na 'n letterkunde wat dink en die vraag of letterkunde kan troos, is brandend-relevante vrae vir die literatuurstudie vandag.

Net een van die artikels handel oor Van Niekerk se poësie, naamlik Dewald Koen se ontleding van die ontwikkeling van n ekologiese bewussyn in Van Niekerk se poësiebundels. Ekokritiek is n volstrek legitieme en vandag selfs n noodsaaklike benadering tot die letterkunde. Daar is egter dikwels iets vaags en oppervlakkigs daaraan. Miskien is begrippe soos "ekologiese bewussyn", "natuur", "ekologie", "landskap" en "omgewing" inherent baie vaag, maar die hoofstuk sou meer bevredigend gewees het as Koen ook aangetoon het presies wat 'n ekologiese bewussyn is en hoe so 'n ekologiese bewussyn tot stand kom in 'n gedig of hoe die natuur of die omgewing uitgebeeld word. Dat hy hoofsaaklik verkennend en opsommend te werk gaan, ook in sy ontleding van die satire op die grootmeesters van Shell in "Teorie en praktyk van die digkuns in 'n era van aardgas", meer op die wat konsentreer as op die hoe, ondermyn die geldigheid van sy benadering. Daarby maak hy n paar twyfelagtige stellings, soos dat die onlangse droogte in die Wes-Kaap "die direkte gevolg van klimaatsverandering [is]" (76) of dat "die natuur veral in die Engelstalige letterkunde 'n prominente posisie [beklee]" (81).

Uit 'n heel ander hoek, wat hy noem kritiese universiteitstudie, ondersoek Luan Staphorst drie kort tekste van Van Niekerk. Uit die drie tekste stel hy dan drie sienings van die universiteit aan die orde, naamlik die "koloniale universiteit", die "neoliberale universiteit" en die "gedekoloniseerde universiteit". Hy argumenteer dat 'n gedekoloniseerde universiteit vir Van Niekerk 'n hermeneutiese universiteit beteken. In daardie ruimte kan o.a. besin word oor "trieksterlike kennis" (270). Dit is kennis wat grensoorskrydend en speels is en wat, soos hy later skryf, vaste, logiese kennis ondermyn "en eerder die ewige onafheid, onklaarheid, en ontwykende aard van kennis verstaan en vier" (273).

Staphorst se gevolgtrekking is dat Marlene van Niekerk se oeuvre "n argument vir n universiteitsideaal [is] - een wat transformerend, vernuwend, en vermenslikend is" maar ook "die speelskritiese aard van trieksterlikheid benadruk" (275). Hiermee lig Staphorst n besonder aktuele aspek van Van Niekerk se werk uit en sluit hy sterk aan by die idee van letterkunde wat dink.

In die voorlaaste bydrae beskryf Marius Swart, as't ware uit die fabriek uit, die avontuur om Die Sneeuslaper in Engels te vertaal - eers net die eerste verhaal as The swan whisperer (2015) en later die hele boek as The snow sleeper (2019). Hy skryf knap en kundig oor die wesenlike uitdagings waarmee hierdie projek die vertaler gekonfronteer het, omdat die boek speel met talle elemente, waaronder "verskillende tale, kulture en omgewings" (288). Die persoon van die skrywer, die teks as produk en die vertaalproses daag ook die vertaler uit. Swart bespreek die vier "hooftipes vertaaluitdagings" wat die boek bied, naamlik "pragmatiese, talige, kulturele en teksspesifieke uitdagings" (294).

Hy skryf insiggewend oor die moontlikhede wat die verbande tussen Afrikaans en Nederlands en die klem op die klank en die materialiteit van taal open. Ten slotte bespreek hy twee flaters wat hy, danksy samewerking met die outeur, kon vermy.

Swart raak aan "magsdinamikas" by vertaling, maar daar is een magsdinamika wat hy skynbaar ook probleemloos as normaal beskou, en dit is die magsdinamika van vertaling in Engels. Dit is juis die probleem wat Reinhardt Fourie aan die orde stel met 'n fyn analise van die taalpolitiek onderliggend aan die opvattings van twee belangrike vertalers van Van Niekerk se werk, naamlik Leon de Kock en Michiel Heyns. Hy toon aan dat vertaling na 'n hegemoniële taal soos Engels as voorwaarde vir die opname van 'n teks in die wêreldletterkunde as vanselfsprekend en as normaal beskou word, ten spyte van die nadelige gevolge wat dit vir die kleiner taal inhou. Die nadeligste gevolg is dat die normalisering van Engels voorgesit word sodat net dit wat vertaalbaar is binne die Engelse ervaring as belangrik beskou word. Alles wat byt en tekstuur gee buite daardie weerspieëling van die Engelse wêreld word sodoende uitgeskakel. Vertaling lei sodoende tot verarming agter die masker wat dit as normaal en vanselfsprekend beskou. En dit is n soort geweld.

Byt en tekstuur is ook belangrik in die slotopstel: Metha-Miré Viljoen se ontleding van 'n deel van Van Niekerk se werk wat tot dusver min aandag geniet het, naamlik haar essays oor kos wat in Insig verskyn het. "Die tempteerbare oog", die titel van hierdie bundel, is trouens ontleen aan die essay "Markmeganisme" uit 2002 (334). Viljoen se analises toon die relevansie van kulinêre literatuur onteenseglik aan, al is 'n mens aanvanklik n bietjie skepties daaroor. Dit is opvallend met hoeveel kwessies resepte en eetkultuur uit te waai het: politieke kwessies, kwessies van smaak en sosiale status, genderkwessies, identiteitskwessies. Viljoen pas Van Niekerk se eie tipologie van drie tipes Afrikanereters 'n bietjie te beskrywend en onkrities toe. Is daar dan geen vroue-eters in Afrikaans nie? En is daar nie veel meer soorte eters as net hierdie drie nie? Viljoen moes 'n paar stappies verder as Van Niekerk se tipologie gegaan het. Wat van werkersklaseters - manlik en vroulik? Of word hulle, anders as in Triomf, glad nie in Van Niekerk se resepstories aan die orde gestel nie?

Dit is wel jammer dat 'n volledige bibliografie van Van Niekerk se werk en van studies en resensies van haar werk nie, soos in die ander huldebundels, ingesluit is nie. Die lys studies oor haar werk agterin is maar bra yl. Die eerste druk van die boek het heelwat foute bevat. Veral steurend was die talle onnodige koppeltekens wat oorgebly het in die teks. Hierdie foute is egter intussen reggestel in 'n volledige tweede druk van die boek. Die eerste druk is deur die uitgewer onttrek.

Die boek bevat ook die gebruiklike foto-afdeling: 'n reeks kleurfoto's van Van Niekerk, meestal saam met vriende of ander skrywers, tydens belangrike geleenthede in haar loopbaan. Dit laat ander kante van Van Niekerk sien en suggereer ander relasies van haar werk wat verder ondersoek kan word. Nie al die foto's in hierdie afdeling is egter gedateer en gelokaliseer en nie al die persone daarin geïdentifiseer nie. Dit is jammer, want sulke inligting raak maklik verlore.

Ten spyte van hierdie steurnisse bied die boek belangrike en vernuwende bydraes tot die studie van Marlene van Niekerk se werk. Dit is verrykend en stimulerend dat die bydraers uit soveel verskillende perspektiewe met haar werk in gesprek tree. Hulle brei ook die kanon van haar werk uit, waardeur hulle die eng definisie van letterkunde verskuif in die rigting van kultuurstudie. Dit kan lei tot te min aandag aan die wysheid van die letterkunde self - aan die trieksterlike aard van die letterkunde en die bestudering daarvan, sou mens in die taal van Van Niekerk kon sê. Sommige van die bydraes laat nie reg laat geskied aan die filosofiese verwikkeldheid van Van Niekerk se werk nie. By sommige mis ek eie sintese en eie teoretisering. Maar met die klem op transformasie, letterkunde wat dink en die trieksterlike aard van kennis, toon die bundel reeds belowende tekens van postkritiese leesstrategieë.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License