SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.19 número1Parallel planning mechanisms as a "recipe for disaster" índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Potchefstroom Electronic Law Journal (PELJ)

versión On-line ISSN 1727-3781

PER vol.19 no.1 Potchefstroom  2016

http://dx.doi.org/10.17159/1727-3781/2016/v19i0a729 

NOTES

 

Publisiteitsbevele as vonnisopsie vir regspersone Sentencing option for juristic persons

 

 

Pieter du Toit

North-West University. South Africa. Email: Pieter.duToit@nwu.ac.za

 

 


ABSTRACT

This contribution addresses the issue of adverse publicity orders as a possible supplementary sentencing option for corporate offenders. In South Africa fines are the primary sentencing option available to courts when imposing sentences on juristic persons. Fines, however, do not adequately serve the purposes of corporate sentencing. Publicity orders require the publication of an offender's conviction, sentence and the details of the offence to individuals or a group of persons (such as shareholders). An adverse publication damages the corporate offender's reputation - a valuable asset to a corporate entity. It therefore serves the purpose of corporate deterrence. In this contribution criticism is levelled against the fine as primary sentencing option for juristic persons; the notion of corporate reputation is considered from a social and legal perspective; a functional comparative study of adverse publication orders is presented and recommendations are made regarding the content of effective publication orders.

Keywords: Corporations; juristic persons; publicity orders; corporate sentencing


 

 

1 Inleiding

Een van die voorste kundiges op die gebied van korporatiewe strafregtelike aanspreeklikheid en korporatiewe straftoemeting, die Australiese juris Brent Fisse1 het 'n aantal oogmerke van korporatiewe straftoemeting geïdentifiseer, naamlik: (i) afskrikking, (ii) interne dissipline, (iii) besondere voorkoming, (iv) algemene voorkoming, (v) vergoeding, restitusie en herstel, (vi) vergelding en (vii) die openbaarmaking van inligting.2 Hierdie bydrae ondersoek die belangrikheid van laasgenoemde oogmerk, naamlik die openbaarmaking van inligting as komponent van straftoemeting aan regspersone. Publisiteitsbevele as vonnisopsie word in die besonder ondersoek. 'n Publisiteitsbevel verwys na 'n hofbevel ingevolge waarvan spesifieke persone, 'n bepaalde groep persone, of die breër gemeenskap ingelig word van besonderhede rakende die oortreder, die misdaad en die opgelegde vonnis. Die publikasie van die inligting geskied gewoonlik deur die oortreder self.3 Die vernaamste oogmerk van 'n publisiteitsbevel is die aantasting van die reputasie van die regspersoon, dus die beskaming van die regspersoon.4 Publisiteitsbevele dien dus in die besonder die strafoogmerke van afskrikking en vergelding. Publisiteitsbevele is 'n moontlike alternatiewe of aanvullende opsie tot die boetevonnis wat steeds die primêre vonnisopsie vir regspersone in Suid-Afrika is. Alhoewel publisiteitsbevele vreemd is in die Suid-Afrikaanse strafreg, word dit wel in die regulatoriese omgewing teëgekom. Die prosedurele handleiding van die Advertising Standards Authority of South Africa, maak byvoorbeeld voorsiening vir publisiteitsbevele wat dan ook van tyd tot tyd afgedwing word.5

Dit is noodsaaklik dat herbesin moet word oor die boete as primêre vonnisopsie vir regspersone. In hierdie bydrae sal die tekortkominge van die boete daarom eerstens beskryf word. Aangesien publisiteitsbevele op die aantasting van die reputasie van die regspersoon gerig is, sal die begrip "korporatiewe reputasie", asook die erkenning wat ons reg daaraan verleen, daarna kortliks ontleed word. Daarna word die aard van publisiteitsbevele, asook die praktiese implementering daarvan in veral Engeland en Wallis beskryf. Daar sal ook baie kortliks verwys word na die posisies in die VSA op federale vlak en na Frankryk. Dit geskied vanuit 'n funksioneel vergelykende perspektief.6 Die regshervormingskommissie van die Australiese deelstaat Nieu-Suid Wallis het in 2003, na 'n grondige ontleding van die onderwerp korporatiewe straftoemeting, aanbevelings gemaak met betrekking tot publisiteitsbevele, welke aanbevelings ook kortliks in hierdie bydrae aangestip word. Hierna sal 'n gevolgtrekking bereik word waarin die wesenselemente van 'n publisiteitsbevel beskryf word.

 

2 Die noodsaaklikheid van vernuwende korporatiewe vonnisse

Artikel 332 van die Strafproseswet 51 van 1977 bevat die algemene voorskrifte met betrekking tot die strafregtelike aanspreeklikheidstelling van en straftoemeting aan regspersone. Kragtens artikel 332(2)(c) van die Wet kan die hof in die geval waar die direkteur of dienaar in sy verteenwoordigende hoedanigheid aan 'n misdryf skuldig bevind word geen ander straf, hetsy regstreeks of as alternatief, as 'n boete oplê nie. Dit is selfs die geval indien die toepaslike wetsbepaling geen voorsiening maak vir die oplegging van 'n boete ten opsigte van die betrokke misdryf nie. Die boete is deur die regspersoon betaalbaar. In die uitspraak, S v Shaik,7beslis Squires R, sonder om na die bepalings van die Strafproseswet te verwys, dat die regsaard van 'n korporatiewe beskuldigde meebring dat die enigste gepaste vonnis wat dit opgelê kan word, 'n boete is. Die hof bevind in hierdie saak dat die gewone beginsels wat die oplegging van 'n boete onderlê, toegepas moet word by straftoemeting aan die korporatiewe oortreder.8 Hierdie benadering is deur die Hoogste Hof van Appèl goedgekeur, wat daarop gewys het dat Squires R by vonnisoplegging verseker het dat slegs daardie korporatiewe entiteite wat oor die vermoë beskik het om 'n boete te betaal, beboet word. Die Hoogste Hof het bevind dat die boetes wat opgelê is 'n balans tussen die belange van die gemeenskap en die omstandighede van die betrokke korporatiewe oortreders gehandhaaf het.9

Die boetestraf as uitsluitlike vonnisopsie vir die korporatiewe oortreder is om verskeie redes ontoereikend. Kidd10 identifiseer die verskeie probleme wat verband hou met hierdie strafvorm. Die oplegging van 'n boete spoor nie noodwendig die oortredende regspersoon aan om ná vonnisoplegging toereikende interne beheer uit te oefen ten einde te verseker dat die pleeg van 'n soortgelyke misdryf uitgeskakel word nie. Boetes kan moontlik ook die indruk skep dat ernstige misdade bloot afgekoop kan word. Voorts is dit dikwels onskuldige aandeelhouers wat belas word met die betaling van die boete - 'n nadeel wat kan uitkring na onskuldige werknemers en klante van die regspersoon. Kennedy11 wys egter daarop dat die bestrawwing van aandeelhouers as uitvloeisel van die bestrawwing van regspersone tog geregverdig is. Aandeelhouers koop en hou aandele met inagneming van toekomstige beleggingsrisiko's. 'n Boete wat dus die verwagte voordeel wat 'n regspersoon weens die pleeg van 'n misdaad verydel, is eenvoudig die teenkant van die positiewe verwagting wat 'n aandeelhouer kan koester, te wete dat die maatskappy in strafregtelike gedrag betrokke kan raak en strafregtelike aanspreeklikheid en bestrawwing kan vryspring. Deur aandele te koop en te hou aanvaar elke aandeelhouer, hoe onskuldig ook al, dus die risiko van moontlike strafregtelike gedrag deur die maatskappy. 'n Wesenlike gevaar is ook dat die korporatiewe oortreder die boete bloot as deel van die lopende uitgawes van die besigheid kan beskou. Welgestelde korporatiewe oortreders kan selfs begroot vir boetes indien die voortsetting van hul wederregtelike gedrag winsgewend genoeg is. Boetes kan wel op gepaste voorwaardes opgeskort word.12 Die na-nakoming van veeleisende opskortingsvoorwaardes, sal egter bloot lei tot die afdwinging van die betaling van die boete. Dit beteken egter nie dat daar weggedoen behoort te word met boetes as vonnisopsie vir regspersone nie. Dit kan eerder beskou word as een van die opsies in die arsenaal van die vonnisoplegger wat in bepaalde omstandighede gepas kan wees. Veral by minder ernstige misdade kan boetes 'n vinnige en doeltreffende oplossing bied. Gevoelige boetes kan juis die winsoogmerk van 'n besigheid ernstig aantas. Die waarde van publisiteitsbevele is egter daarin geleë dat dit die reputasie van regspersone kan skaad. Hierdie aspek word vervolgens bespreek.

 

3 Korporatiewe reputasie

3.1 Die begrip "korporatiewe reputasie"

Uit die organisasieleer blyk dit dat, alhoewel die begrip "korporatiewe reputasie" wyd bestudeer en gebruik word, daar nietemin geen presiese en algemeen erkende definisie daarvoor bestaan nie.13 Die inhoud van die begrip word ook in verskillende dissiplines verskillend verstaan.14 Gray en Balmer15 onderskei tussen die korporatiewe identiteit, korporatiewe beeld en korporatiewe reputasie van 'n maatskappy. Die vernaamste komponente van die korporatiewe beeld is die maatskappy se strategie, filosofie, kultuur en organisatoriese samestelling. Die korporatiewe identiteit verwys na die korporatiewe realiteit en die uniekheid van 'n maatskappy. Die korporatiewe beeld verwys na die onmiddellike geestesbeeld wat buitestaanders omtrent die maatskappy vorm. Korporatiewe reputasie het egter te make met 'n waarde-oordeel van die maatskappy se eienskappe. Korporatiewe reputasie word gewoonlik oor 'n tydperk heen gevestig. Maatskappye heg groot waarde aan beide korporatiewe beeld en korporatiewe reputasie. Die belangrikste rolspelers waarteenoor groot maatskappye 'n goeie beeld en reputasie wil uitstraal is onder meer kliënte, verspreiders, kleinhandelaars, finansiële instellings, finansiële ontleders, aandeelhouers, openbare reguleerders, die breër publiek en werknemers. Die reputasie is bepalend daarvan of die gemelde rolspelers die maatskappy sal ondersteun of nie.16 'n Positiewe beeld en reputasie is uiteraard voordelig vir die maatskappy. Die uiteindelike oorlewing van die maatskappy kan hiervan afhang.17

Na 'n ontleding van die begrip korporatiewe reputasie soos dit in verskillende dissiplines beskou word, kom Smaiziene en Jucevicius18 tot die volgende gevolgtrekking:

Despite varying definitions of corporate reputation, some trends in its development might be noticed. Corporate reputation can be defined as a socially transmissible evaluation of the company (its characteristics, practice, behavior and results, etc.) over a period of time settled among stakeholders; and it represents expectations for the company's actions, and level of trustworthiness, favorability and acknowledgement in comparison with its rivals.

3.2 Die erkenning van korporatiewe reputasie in die Suid-Afrikaanse reg

Artikel 8(4) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (hierna die Grondwet) bepaal soos volg:

'n Regspersoon is geregtig op die regte in die Handves van Regte in die mate waarin die aard van die regte en die aard van daardie regspersoon dit vereis.

In Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa19 verwerp die Konstitusionele Hof die argument dat die verlening van fundamentele regte aan regspersone die fundamentele regte van natuurlike persone ondermyn. Die hof beslis dat sekere universeel aanvaarde fundamentele regte ten volle erken sal word slegs as dit aan natuurlike persone én regspersone verleen word. As voorbeeld hiervan verwys die hof na die reg op vryheid van spraak wat aan die media, wat dikwels deur regspersone beheer word, verleen moet word.20 Die hof wys voorts daarop dat daar sekere regte is wat nie deur regspersone geniet kan word nie, maar dat hierdie feit deur artikel 8(4) van die Grondwet erken word, aangesien die aard van die regspersoon deur die hof verreken moet word ten einde te bepaal of die regspersoon op die betrokke reg aanspraak kan maak.21 Die hof verwerp ook die argument dat dit onwenslik is om fundamentele regte aan regspersone te verleen. Volgens die argument sal die regte van individue benadeel word, indien fundamentele aan die regspersoon verleen sou word, aangesien magtige korporatiewe entiteite oor meer hulpbronne beskik ten einde hul regte by wyse van litigasie af te dwing. Die hof bevind dat dieselfde gesê kan word van magtige en ryk individue. Daarbenewens bevind die hof dat daar talryke klein maatskappye en beslote korporasies bestaan wat, soos natuurlike persone, beskerming behoort te geniet.22 Weens die aard van sekere regte en die manier waarop die voorskrifte van die Grondwet wat die regte verleen, geformuleer is, kan regspersone nie op daardie regte aanspraak maak nie. Dit sluit in die reg op menswaardigheid,23 die reg op lewe,24 die reg op vryheid en sekerheid van die persoon,25 die reg op burgerskap26 en die reg op gesondheidsorg.27 Aan die ander kant, sal regspersone wel die reg op vryheid van uitdrukking, waarby ingesluit is die reg op vryheid van die pers en media asook akademiese vryheid,28 die reg op billike arbeidspraktyke29 en die reg op vryheid van assosiasie kan uitoefen. Dit is tans gevestigde reg dat sowel handeldrywende as niehandeldrywende regspersone skadevergoedingsaksies weens laster kan instel. Daar bestaan verskeie uitsprake in Suid-Afrika in beide die tydperke vóór en ná die inwerkingtreding van die Handves van Regte, wat daarop dui dat die Suid-Afrikaanse reg die reputasie van regspersone as beskermingswaardig ag.30 Publisiteitsbevele is juis gerig op die aantasting van die reputasie van die regspersoon. Hierdie oogmerk word vervolgens ondersoek.

 

4 Die oogmerk van publisiteitsbevele

Publisiteitsbevele behels die bekendmaking van die skuldigbevinding van die regspersoon aan 'n misdaad en ander feite, byvoorbeeld die opgelegde vonnis en die gevolge wat die korporatiewe misdaad meegebring het.31Daar kan vereis word dat hierdie bekendmaking aan 'n bepaalde groep persone geskied, of dat dit aan die breë publiek openbaar word.32 Die publisiteitsbevel lei tot die openbaarmaking van inligting wat belangrik is vir die gemeenskap. Dit dien as waarskuwing aan diegene wat moontlik benadeel kan word as gevolg van die regspersoon se misdade; beleggers en verbruikers ontvang inligting wat hul toekomstige betrokkenheid by die regspersoon kan beïnvloed en individue of 'n klas persone kan aangemoedig word om siviele stappe te doen ten einde skade te verhaal. Daarbenewens weerspreek publisiteitsbevele misleidende propaganda wat hulle kan versprei ten einde hul beeld te poets. Die gemeenskap word ook daarvan bewus gemaak dat die mag van regspersone aan bande gelê mag word. Hierdie moontlikheid doen weg met die indruk dat regspersone bloot hul wandade met 'n boete kan afkoop. Die vergeldingsoogmerk word derhalwe doeltreffend nagestreef. Die negatiewe publisiteit wat verleen word, mag die reputasie van die regspersoon aantas, verbruikersvertroue in die regspersoon skaad en die outonomie van die regspersoon op 'n bepaalde gebied in gedrang bring. Regspersone word dus op hierdie wyse gevoelig gestraf.33 Hierdie vonnisopsie het ook aansienlike afskrikwaarde, aangesien die reputasie van korporatiewe entiteite een van sy waardevolste bates is. Dit beïnvloed nie net verbruikersvertroue (en derhalwe die sake wat 'n regspersoon doen) nie, maar ook die moreel van individue verbonde aan die regspersoon en die kollektiewe moraal. Ten einde in die besigheidswêreld te oorleef is 'n goeie korporatiewe reputasie van die allergrootste belang.34

Saltzburg35 wys daarop dat een van die redes waarom korporatiewe entiteite vervolg word, juis is om stigmatisering van die entiteit mee te bring. Die skuldigbevinding van 'n regspersoon stuur 'n boodskap uit dat dit nie 'n verantwoordelike rolspeler in die gemeenskap is nie. Hierdie stigma kleef aan die regspersoon nieteenstaande enige pogings om individue verbonde aan die entiteit te blameer vir misdadige gedrag. Derhalwe het publisiteitsbevele groot voorkomings- en afskrikwaarde.36

 

5 Die benadering tot korporatiewe beskaming in enkele jurisdiksies

5.1 Engeland en Wallis

Die Corporate Manslaughter en Corporate Homicide Act van 2007 het op 6 April 2008 in Engeland in werking getree. Die Wet skep die misdaad korporatiewe manslag indien 'n korporatiewe entiteit weens die wyse waarop sy aktiwiteite bestuur of georganiseer word die dood van 'n mens veroorsaak en daardie gedrag neerkom op 'n growwe (gross) skending van die sorgsaamheidsplig wat die entiteit teenoor die betrokke individu gehad het.37 Die Wet is onder meer van toepassing op ingelyfde maatskappye en ander ingelyfde korporatiewe entiteite, vennootskappe, werknemersverenigings, regeringsdepartemente, regspersone wat in diens is, of 'n agent is, van regeringsdepartemente en die polisiemag.38Direkteure, bestuurders en werknemers kan nie ingevolge die Wet in hulle individuele hoedanighede aanspreeklik gestel word nie.39 Hulle kan egter steeds ingevolge die Engelse gemene reg vir gross negligence manslaughter vervolg word.40

Die Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act maak voorsiening vir publisiteitsbevele.41 Hiervolgens kan 'n hof gelas dat die organisasie op 'n wyse voorgeskryf deur die hof die volgende feite moet publiseer: (i) die feit dat dit skuldig bevind is aan die misdryf, (ii) die besonderhede van die misdryf, (iii) die omvang van die boete wat opgelê is en (iv) die inhoud van die korrektiewe bevel wat gemaak is.42 Wanneer 'n hof die inhoud van so 'n bevel oorweeg, moet dit oorweging skenk aan die siening van die betrokke regulerende owerhede (indien enige) oor die aangeleentheid, asook enige voorleggings gemaak deur die vervolgingsowerheid en die betrokke organisasie.43 Die bevel moet die tydperk waarbinne dit nagekom moet word, aandui. Daar kan ook vereis word dat die organisasie aan die regulerende owerhede, belas met die afdwinging van die verpligtinge van die organisasie, bewys verskaf dat daar wel aan die nodige regsvoorskrifte voldoen is.44 Die versuim om 'n publisiteitsbevel na te kom, is strafbaar met 'n boete.45

Die Sentencing Commission van Engeland en Wallis stel onder meer vonnisriglyne vas wat deur howe by vonnisoplegging gevolg moet word.46Die kommissie het onder andere riglyne vasgestel vir korporatiewe manslag welke riglyne op 1 Februarie 2016 in werking getree het.47Volgens die Sentencing Commission van Engeland en Wallis is die oogmerk van 'n publisiteitsbevel afskrikking en bestrawwing. Die hof behoort in alle gevalle van korporatiewe manslag 'n aanvullende publisiteitsbevel te oorweeg. Die vonnisriglyne vereis dat die bevel spesifiek moet verwys na die aspekte wat ooreenkomstig die Wet gepubliseer moet word. Besondere sorg moet gedra word rakende die besonderhede van die misdaad wat gepubliseer moet word. Die bevel behoort aan te dui waar die openbare aankondiging gemaak moet word en dit behoort ook die grootte van enige kennisgewing of advertensie aan te dui. Gewoonlik behoort dit 'n bevel te bevat ten einde te verseker dat die skuldigbevinding van 'n maatskappy aan die aandeelhouers bekend gemaak word en in die geval van 'n openbare instelling (public body), aan die plaaslike gemeenskap. Daar behoort ook oorweging gegee te word aan 'n bevel van publikasie op die regspersoon se webblad. 'n Aankondiging in 'n koerant is nie noodsaaklik nie, veral nie in gevalle waar die verrigtinge in elk geval wye mediadekking geniet het nie. Indien sodanige publikasie egter wel vereis word, moet die spesifieke koerant, die formaat van die aankondiging en die getal plasings gespesifiseer word. Die vervolgingsgesag behoort reeds voor die aanvang van die vonnisverrigtinge die hof van 'n konsep van die voorgestelde hofbevel te voorsien en dit op die oortreder beteken. Die regter moet steeds die finale terme van die bevel bepaal. Die hof wat die vonnis oplê behoort oorweging daaraan te skenk om te gelas dat enige kommentaar wat die oortreder, naas die vereiste aankondiging plaas, afsonderlik geplaas word en as sodanige afsonderlike kommentaar geïdentifiseer word. 'n Publisiteitsbevel word geag deel van die vonnis te wees. Enige buitengewone koste om daaraan te voldoen, behoort verreken te word wanneer 'n boete vasgestel word.48

5.2 Die VSA

Hoofstuk 8 van die Federal Sentencing Guidelines vir organisasies geld as riglyn by die straftoemeting aan regspersone in Amerikaanse federale howe. Die boete bly die primêre strafvorm vir regspersone. Die riglyne maak egter voorsiening vir korporatiewe toesig (probation) as aanvullende vonnisopsie. As deel van hierdie vonnisopsie kan die hof vereis dat die organisasie op eie koste en in die formaat en media deur die hof bepaal 'n aantal feite bekend maak. Dit sluit in die aard van die misdaad wat gepleeg is, die feit dat die regspersoon skuldig bevind is aan die pleging van die misdaad, die aard van die opgelegde vonnis en die stappe wat gedoen sal word ten einde 'n herhaling van die misdadige gedrag te voorkom.49

5.3 Frankryk

Frankryk het eers in 1992 in sy nuut aanvaarde strafkode, die Code Penál, voorsiening gemaak vir 'n beperkende vorm van korporatiewe strafregtelike aanspreeklikheid.50 Alle regspersone, insluitende nie-winsgewende organisasies en selfs sekere staatsdepartemente en staatsbeheerde instellings kan strafregtelike aanspreeklikheid opdoen. Dit geld ook vir buitelandse regspersone wat in Frankryk gevestig is. Die regspersoon kan as dader of medepligtige aanspreeklik gestel word. Die persoonlike aanspreeklikheid van 'n amptenaar van die regspersoon is nie 'n voorvereiste vir die opdoen van aanspreeklikheid deur die regspersoon nie. In Frankryk bestaan daar geen algemene regsreël met betrekking tot die aanspreeklikheid van regspersone nie. Regspersone kan slegs strafregtelik tot verantwoording geroep word indien 'n Wet voorsiening maak daarvoor.51

Die Code Pénal maak voorsiening daarvoor dat die regspersoon beveel kan word om die opgelegde vonnis te publiseer in die gedrukte media of deur middel van 'n ander vorm van telekommunikasie.52

5.4 Voorgestelde regshervorming in New South Wales

Ten einde te voorkom dat howe met 'n propagandaveldtog en koste in die verband belas word, het die Law Reform Commission van die Australiese deelstaat New South Wales aanbeveel dat howe met die mag beklee moet word om oortredende regspersone te beveel om die verantwoordelikhede wat gepaardgaan met die implementering van 'n publisiteitsbevel na te kom.53 Die bystand van enige regeringsdepartement vir doeleindes hiervan kan ook beveel word.54 Voorts is aanbeveel dat die regspersoon wat oortree het self vir die koste daaraan verbonde moet instaan. Die hof behoort ook beklee te word met die bevoegdheid om die teikengehoor van die publisiteit asook die media of ander inwerkingstellingsmetode aan te wys.55 Daarbenewens kan die hof die aard en inhoud van die publisiteit struktureer. Regspersone kan byvoorbeeld gelas word om die volgende feite te publiseer: die feit dat hulle skuldig bevind is aan 'n bepaalde misdaad, die aard en gevolge van die misdaad, asook die vonnis wat die regspersoon opgelê is.56 Voorts is daar aanbeveel dat howe met die bevoegdheid beklee moet word om die publisiteitsbevel so in te klee dat die betrokke regspersoon verbied word om materiaal te publiseer wat ten doel het om die oogmerk van die publisiteitsbevel teen te werk.57

 

6 Gevolgtrekking

Uit die voorgaande bespreking kan 'n aantal gevolgtrekkings gemaak word. Eerstens is daar 'n noodsaaklikheid vir vernuwende vonnisopsies wanneer straftoemeting aan regspersone ter sprake kom. Publisiteitsbevele kan 'n sinvolle bydrae lewer om veral die strafoogmerke van korporatiewe vergelding en afskrikking te bereik. Daar word aan die hand gedoen dat korporatiewe rehabilitasie ook hierdeur bevorder kan word, veral waar die regspersoon verplig word om die besonderhede van herstruktureringsmaatreëls te publiseer ten einde te verseker dat die misdadige gedrag nie herhaal word nie. Op hierdie wyse word die regspersoon blootgestel aan die moontlikheid dat belanghebbendes wat kennis dra van die publisiteit, stappe kan doen om die nienakoming van die herstruktureringstappe bloot te lê. Regspersone sal ook publisiteitsbevele ten alle koste wil vermy en behoort dit as aanmoediging te dien om goeie korporatiewe strukture in te stel en goeie korporatiewe bestuur aan die dag te lê ten einde misdadige gedrag te voorkom.

Uit die bespreekte literatuur blyk dit dat doeltreffende publisiteitsbevele die volgende kenmerke toon:

enige teenpropagandaveldtog deur die regspersoon ten einde die waarheid rakende die gepleegde oortreding, of die bevindinge van die hof te versag, moet teengewerk word;

die hof behoort self die inhoud van die publikasie te bepaal, ten einde enige latere onduidelikheid of onsekerheid daaromtrent uit die weg te ruim;

die hof moet die media waarin die aankondiging gedoen word, identifiseer;

die hof moet die teikengehoor identifiseer - dit kan byvoorbeeld aandeelhouers of die breër gemeenskap wees; en

die koste van die publikasie word geïnternaliseer, met ander woorde die regspersoon, en nie die staat nie, moet vir die koste daaraan verbonde verantwoordelik gehou word.

Die Suid-Afrikaanse wetgewer behoort publisiteitsbevele as vonnisopsie te oorweeg ten einde die idee dat die misdaad, veral deur groot maatskappye, bloot met 'n boete afgekoop kan word. Dit blyk egter ook dat publisiteitsbevele selde as enigste vonnisopsie geld. Dit word in die bestudeerde jurisdiksies gekoppel aan 'n boete of 'n vorm van korrektiewe toesig. Alhoewel die nienakoming van 'n publisiteitsbevel die misdaad minagting van die hof meebring, behoort verdere ondersoek ingestel te word na 'n meganisme om die implementering van die bevel doeltreffend te monitor. Ten einde korporatiewe misdaad doeltreffende te bestry sal grondige wysigings ten aansien van korporatiewe straftoemeting in Suid-Afrika móét plaasvind en behoort publisiteitsbevele slegs een wapen in die arsenaal van die bestryding van korporatiewe misdade te wees.

 

Bibliografie

Literatuur

Barnett ML, Jermier JM en Lafferty BA "Corporate Reputation: The Definitional Landscape" 2006 CRR 26-38        [ Links ]

Beale SS en Safwat AG "What Developments in Western Europe Tell Us About American Critiques of Corporate Criminal Liability" 2004 Buff Crim L Rev 89-163        [ Links ]

Clough J en Mulhern C The Prosecution of Corporations (Oxford University Press Melbourne 2002)        [ Links ]

De Maglie C "Models of Corporate Criminal Liability in Comparative Law" 2005 Wash U Global Stud L Rev 547-565        [ Links ]

Du Toit PG Die Strafregtelike Aanspreeklikheid van en Straftoemeting aan Regspersone (LLD-proefskrif Noord Wes Universiteit 2010)        [ Links ]

Elkins JR "Corporations and Criminal Law: An Uneasy Alliance" 1976 Ky L J 73-129        [ Links ]

Farisani D "Corporate Homicide: What Can South Africa Learn from Recent Developments in English Law?" 2009 CILSA 210-226        [ Links ]

Fisse B "The Social Policy of Corporate Criminal Responsibility" 1978 Adel L Rev 361-412        [ Links ]

Fisse B "Community Service as a Sanction Against Corporations" 1981 Fisse Wis L Rev 970-1017        [ Links ]

Fisse B en French PA (reds) Corrigible Corporations and Unruly Law (Trinity University Press San Antonio 1986)        [ Links ]

Gray ER en Blamer JMT "Managing Corporate Image and Corporate Reputation" 1998 Long Range Planning 695-701        [ Links ]

Kahan DM "What Do Alternative Sanctions Mean?" 1996 U Chi L Rev 591-653        [ Links ]

Kahan DM en Posner EA "Shaming White Collar Criminals: A Proposal for Reform of the Federal Sentencing Guidelines" 1999 J L & Econ 365-391        [ Links ]

Kennedy C "Criminal Sentences for Corporations" 1985 Cal L Rev 443-482        [ Links ]

Kidd M "Criminal Measures" in Patterson A en Kotzé LJ (reds) Environmental Compliance and Enforcement in South Africa Legal Perspectives (Kaapstad Juta 2009)        [ Links ]

Luzung A en Waugh J "Sentencing of Corporate Offenders" Ongepubliseerde Voordrag Gelewer by die Australian and New Zealand Society Conference on Controlling Crime: Risks and Responsibilities (2 Oktober 2003 Sydney) 1-5        [ Links ]

Matthews R Biackstone's Guide to the Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act 2007 (Oxford University Press New York 2008)        [ Links ]

Orland L en Cachera C "Corporate Crime and Punishment in France: Criminal Responsibility of Legal Entities (Persones Morales) under the New French Criminal Code (Noveau Code Pénal)" 1995 Conn J Int'l L 111-168        [ Links ]

Saltzburg SA "The Control of Criminal Conduct in Corporations" 1991 BU L Rev 421-437        [ Links ]

Skeel DA "Shaming in Corporate Law" 2001 U Pa L Rev 1811-1868        [ Links ]

Smaiziene I en Jucevicius R "Corporate Reputation: Multidisciplinary Richness and Search for a Relevant Definition" 2009 Engineering Economics 91-100        [ Links ]

Stessens G "Corporate Criminal Liability: A Comparative Perspective" 1994 Int'l & Comp L Q 493-520        [ Links ]

Terblanche SS A Guide to Sentencing in South Africa (LexisNexis Durban 2007)        [ Links ]

Whitman JQ "What is Wrong with Inflicting Shame Sanctions?" 1998 Yale L J 1055-1092        [ Links ]

Zweigert K en Kötz H Introduction to Comparative Law (Claredon Press Oxford 1998)        [ Links ]

Regspraak

Argus Printing and Publishing Co Ltd v Inkatha Freedom Party 1992 3 SA 579 (A)

Delta Motor Corporation (Pty) Ltd v Van der Merwe 2004 6 SA 185 (SCA)

Dhlomo v Natal Newspapers (Pty) Ltd 1989 1 SA 945 (A)

Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996 1996 4 SA 744 (KH)

Financial Mail (Pty) Ltd v Sage Holdings Ltd 1993 2 SA 451 (A)

Media 24 Ltd v SA Taxi Securitasation (Pty) Ltd (Avusa Media Ltd as Amici Curiae) 2011 5 SA 329 (SCA)

S v Shaik 2007 1 SASV 142 (D)

Treatment Action Campaign v Rath 2007 4 SA 563 (C)

Wetgewing

Engeland en Wallis

Coroners and Justice Act, 2009

Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007

Frankryk

Code Pénal, 1992

Suid-Afrika

Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996

Strafproseswet 51 van 1977

Internet bronne

Advertising Standards Authority of South Africa 2010 Procedural Guide http://www.asasa.org.za/codes/sponsorship-code/procedural-guide datum van gebruik 12 Junie 2010        [ Links ]

Law Reform Commission of New South Wales 2003 Sentencing: Corporate Offenders Report 102 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf datum van gebruik 8 Februarie 2016        [ Links ]

Sentencing Council 2016 Health and Safety Offences, Corporate Manslaughter and Food Safety and Hygiene Offences, Definite Guideline http://www.sentencingcouncil.org.uk/wp-content/uploads/HS-offences-definitive-guideline-FINAL-web.pdf datum van gebruik 8 Februarie 2016        [ Links ]

US Sentencing Commission 2014 US Federal Sentencing Guidelines Manual http://www.ussc.gov/guidelines-manual/2014/2014-ussc-guidelines-manual datum van gebruik 8 Februarie 2016        [ Links ]

Lys van Afkortings

Adel L Rev Adelaide Law Review

ASASA Advertising Standards Authority of South Africa

Buff Crim L Rev Buffalo Criminal Law Review

BU L Rev Boston University Law Review

Cal L Rev California Law Review

CILSA Comparative and International Law Journal of Southern Africa

CRR Corporate Reputation Review

Int'l & Comp L Q International and Comparative Law Quarterly

J L & Econ Journal of Law and Economics

Ky L J Kentucky Law Journal

U Chi L Rev University of Chicago Law Review

U Pa L Rev University of Pennsylvania Law Review

Wash U Global Stud L Washington University Global Studies Law Rev Review

Wis L Rev Wisconsin Law Review

Yale L J The Yale Law Journal

 

 

Date published 9 May 2016

 

 

Editor Prof C Rautenbach
* Pieter du Toit. B Iuris, LLB (UOFS); LLM (UJ); LLD (NWU). Associate Professor, Faculty of Law North-West University, Potchefstroom Campus. Email: pieter.dutoit@nwu.ac.za.
1 Zweigert en Kötz Introduction to Comparative Law 33.
2 Fisse 1978 Adel L Rev 362. Sien ook Fisse 1981 Wis L Rev 1004; De Maglie 2005 Wash U Global Stud L Rev 563-565.
3 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf 102.
4 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.2; Skeel 2001 U Pa L Rev 1811, 1814. Oor die beskamingsidee in die algemeen sien Kahan 1996 U Chi L Rev 630-653; Kahan en Posner 1999 J L & Econ 365-391. Vir deurtastende kritiek op strafvorme wat op beskaming gebaseer is sien Whitman 1998 Yale L J 1055-1092.
5 Sien ASASA 2010 http://www.asasa.org.za/codes/sponsorship-code/procedural-guide paras 14.4 en 14.5.
6 Zweigert en Kötz Introduction to Comparative Law 33.
7 S v Shaik 2007 1 SASV 142 (D).
8 S v Shaik 2007 1 SASV 142 (D) 244F.
9 S v Shaik 2007 1 SA 240 (HHA) [212]. Sien in hierdie verband ook Du Toit Strafregtelike Aanspreeklikheid; Farisani 2009 CILSA 218-219; Terblanche Guide to Sentencing 152S.
10 Kidd "Criminal Measures" 263.
11 Kennedy 1985 Cal L Rev 452.
12 Artikel 297 Strafproseswet 51 van 1977.
13 Barnett, Jermier en Lafferty 2006 CRR 26-38; Smaiziene en Jucevicius 2009 Engineering Economics 91-98.
14 Smaiziene en Jucevicius 2009 Engineering Economics 91-98.
15 Gray en Balmer 1998 Long Range Planning 695-701.
16 Gray en Balmer 1998 Long Range Planning 697.
17 Gray en Balmer 1998 Long Range Planning 701.
18 Smaiziene en Jucevicius 2009 Enineering Economics 98.
19 Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996 1996 4 SA 744 (KH).
20 Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996 1996 4 SA 744 (KH) [57].
21 Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996 1996 4 SA 744 (KH) [57].
22 Ex parte Chairperson of the Constitutional Assembly: In re Certification of the Constitution of the Republic of South Africa, 1996 1996 4 SA 744 (KH) [58].
23 A 10 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
24 A 11 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
25 A 12 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
26 A 20 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
27 A 27 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
28 A 16 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
29 A 23 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996.
30 Dhlomo v Natal Newspapers (Pty) Ltd 1989 1 SA 945 (A); Argus Printing and Publishing Co Ltd v Inkatha Freedom Party 1992 3 SA 579 (a); Financial Mail (Pty) Ltd v Sage Holdings Ltd 1993 2 SA 451 (a); Delta Motor Corporation (Pty) Ltd v Van der Merwe 2004 6 SA 185 (HHA); Treatment Action Campaign v Rath 2007 4 SA 563 (K); Media 24 Ltd v SA Taxi Securitasation (Pty) Ltd (Avusa Media Ltd as Amici Curiae) 2011 5 SA 329 (SCA).
31 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.1.
32 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.1; Clough en Mulhern Prosecution of Corporations 196; Luzung en Waugh "Sentencing of Corporate Offenders" 5.
33 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf paras 11.3-11.5. Kahan 1996 U Chi L Rev 631-632 skryf dat stigmatiserende publisiteit een van die vorms van shaming is en merk dan soos volg in hierdie verband op: "Penalties in this class attempt to magnify the humiliation inherent in conviction by communicating the offender's status to a wider audience."
34 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf paras 11.6-11.10; Elkins 1976 Ky L J 78; Saltzburg 1991 BU L Rev 431-432; Skeel 2001 U Pa L Rev 1812.
35 Saltzburg 1991 BU L Rev.
36 Saltzburg 1991 BU L Rev 431.
37 Aanhef en A 1(1) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007. Die Wet verleen ook uitgebreide territoriale jurisdiksie aan howe van die Verenigde Koninkryk. Sien in hierdie verband a 28(3) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007. Kragtens a 27(3) vind die Wet nie terugwerkende toepassing nie.
38 Artikels 1(2) en 11 Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007. Sien ook Matthews Blackstone's Guide 23-29 vir 'n volledige bespreking van die entiteite waarop die Wet toepassing vind. Korporatiewe entiteite wat in diens staan van die monarg kan kragtens a 11(2)(b) van die Wet nie aanspraak maak op immuniteit teen vervolging nie.
39 Artikels 18(2) en 18(3) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
40 Matthews Blackstone's Guide 17-19.
41 Artikel 10 Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
42 Artikel 10(1) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
43 Artikel 10(2) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
44 Artikel 10(3) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
45 Artikel 10(4) Corporate Manslaughter and Corporate Homicide Act, 2007.
46 Artikel 118-136 Coroners and Justice Act, 2009.
47 Sentencing Council 2016 http://www.sentencingcouncil.org.uk/wp-content/uploads/HS-offences-definitive-guideline-FINAL-web.pdf.
48 Sentencing Council 2016 http://www.sentencingcouncil.org.uk/wp-content/uploads/HS-offences-definitive-guideline-FINAL-web.pdf 12.
49 US Sentencing Commission 2014 http://www.ussc.gov/guidelines-manual/2014/2014-ussc-guidelines-manual §8D1.4.
50 Beale en Safwat 2004 Buff Crim L Rev 115-116; Stessens 1994 Int'l & Comp L Q 501.
51 Orland en Cachera 1995 Conn J Int'l L 123.
52 A 131-39.9 Code Pénal, 1992.
53 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.21.
54 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.22.
55 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.23. Sien ook Fisse en French Corrigible Corporations 166.
56 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.29.
57 Law Reform Commission of New South Wales 2003 http://www.lawreform.justice.nsw.gov.au/Documents/report_102.pdf para 11.31. Die Regshervormingkommissie het egter daarop gewys dat, volgens empiriese studies, regspersone selde teenwerkende publisiteit nastreef. Sien par a11.30 van die verslag in hierdie verband. Die voorstelle van die Regshervormingskommissie spreek die gronde van vroeëre kritiek teen hierdie vonnisopsie myns insiens doeltreffend aan.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons