SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.18 issue5When certainty and legality collide: the efficacy of interdictory relief for the cessation of building works pending review proceedings author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Potchefstroom Electronic Law Journal (PELJ)

On-line version ISSN 1727-3781

PER vol.18 n.5 Potchefstroom  2015

http://dx.doi.org/10.4314/pelj.v18i5.181 

ARTICLES

 

Die geldigheidsvereistes van 'n trust opnuut ondersoek Khabola v Ralithabo [2011] ZAFSHC 62*

 

Essentials of a valid trust revisited in the light of Khabola v Ralithabo [2011] ZAFSHC 62

 

A VorsterI; JP CoetzeeII

IB. Comm (Regte) (PU vir CHO). LL B (PU vir CHO). H. Dip Boedelbeplanning (NWU). LLM (NWU). Dosent Fakulteit Regte. anje.vorster@nwu.ac.za
IIB.Proc. (UOVS), Dip Tax (RAU), LLM en LLD Unisa, Buitengewone Professor (NWU). J1@coetzeesattorneys.com

 

 


SUMMARY

The trust is universally recognised and used. It is generally accepted that trust deeds meet the basic requirements. However, it is not always that simple and the courts are repeatedly forced to take deeds of trust under scrutiny. In such cases the court has to rule on the validity of the trust, the locus standi of the parties, trust administration, the intent of the parties or what the implications of an invalid trust are for previous and current agreements. Similar problems arose in Khabola v Ralithabo. The authors discuss this verdict and show that there is still much uncertainty on how certain trust aspects have to be dealt with, and emphasise the importance of testing every trust deed according to the essential requirements of a valid trust.

Keywords: trust; trust deed; valid trust; basic requirements


 

 

1 Inleiding

Vanweë die bruikbaarheid van 'n trust word dit universeel erken, aanvaar en gebruik. Die voordeel lê daarin dat trustgoedere nie deel uitmaak van 'n persoon se persoonlike boedelbates nie, maar tog 'n platform tot stand bring waar bates beskerming geniet.1Weens die toenemende gebruik van die trustfiguur in die Suid-Afrikaanse besigheidsomgewing moes dit noodwendig volg dat die misbruik van hierdie figuur algaande begin plaasvind en dat die howe al meer in hierdie verband betrek word.2Die grondgedagte van 'n trust is dat die beskerming wat dit bied nie misbruik moet word nie. Uitsprake oor "misuse and abuse of the trust form" "separation of control and ownership" "separation of trust assets and private assets" (om slegs enkeles te noem), dui slegs op enkele aspekte waardeur die howe tans op hierdie gebied gekonfronteer word. Die hof vervul hier 'n belangrike rol, juis omdat bestaande wetgewing só beperk is en daar meestal op regspraak en bestaande regsbeginsels gesteun moet word.

Om te verhoed dat die trustfiguur misbruik word, word die howe telkens genoodsaak om die trust onder die vergrootglas te neem om onder andere te probeer vasstel: (i) of die betrokke trust (wat in die akte geskep poog te word), geldig is; (ii) of die partye inderdaad die bedoeling gehad het om 'n trust op te rig en nie moontlik die trustvorm net as dekmantel vir iets anders wou gebruik nie; (iii) of die partye voor die hof oor die nodige locus standi beskik om die regsverligting aan te vra; (iv) of 'n trust behoorlik deur sy trustees geadministreer word en of die trustees nie die trust slegs as sy, haar of hulle alter ego gebruik nie; (v) wat die gevolge sou wees indien trustees nie die nodige toestemming verleen vir transaksies deur die trust nie; en (vi) wat die implikasies van 'n ongeldige trust op vorige en huidige ooreenkomste sou wees.

Soortgelyke probleme het weer in Khabola v Ralithabo3 kop uitgesteek. Die uitspraak in hierdie beslissing toon duidelik dat daar nog heelwat onsekerheid bestaan oor hoe bogenoemde aspekte in trustverband hanteer moet word. Hierdie uitspraak is van die min uitsprake tot hede wat spesifiek handel oor sogenaamde sham-trusts, of dan trusts wat nie voldoen aan die basiese geldigheidsvereistes4 van die trustfiguur nie.

 

2 Feite

Die vereenvoudigde feite is soos volg: in April 2002 sluit die applikant (hierna verwys as A) as oprigter en medetrustee 'n "trustooreenkoms" met sy medetrustees (voortaan na verwys as B, C en D) om die Lithakali Development Trust IT708/20025 op te rig. Uit die feite blyk dit dat die trust as 'n bedryfstrust bedryf is omdat A die medetrustees genader het om saam met hom in besigheid te tree.6 Die trustdokument toon aan dat die doel van die trust was om landbougrond te koop wat oorwegend vir boerderydoeleindes aangewend sou word.7 Dit is waarskynlik om hierdie rede dat aansoek gedoen is vir 'n Landbanklening om die aankoop van grond te finansier ten bedrae van R400 000. Die Departement van Grondsake het 'n verdere R280 000 vir hierdie doel aan die trust toegeken. Ten einde die trust se verpligtinge te help dek, was elke trustee verplig om 'n maandelikse betaling van R500 vir hierdie doel te maak. Dit het egter nie gebeur nie en slegs B het 'n eenmalige betaling van R10 000 in hierdie verband gemaak.8 A het begin om boerderybedrywighede op die trusteiendom te bedryf.

Intussen het B, C en D 'n koopkontrak met 'n derde party (hierna E, die vierde respondent) gesluit om die grond van die trust aan hom te verkoop.9 A was onbewus van die verkoopstransaksie en toe hy verneem dat hy in gevolge hierdie verkoping die trusteiendom moet verlaat, bring A in sy persoonlike hoedanigheid die aansoek voor die hof dat die koopkontrak ongeldig verklaar moet word. Die onmiddellike reaksie van die respondente was om die aansoek teen te staan op sterkte daarvan dat (i) die koopkontrak geldig was; (ii) dat A as trustee van die trust uit sy amp onthef moet word; (iii) dat hulle gemagtig moet word om die trustboedel te gelde te maak, en (iv) die trust daarna ontbind moet word.10 Die hof het die vraag waarvoor dit staan soos volg gesien:11

The question of locus standi became central to whether or not the court should proceed to hear the other aspects relating to the validity of the Deed of Sale, compliance with the provisions of the Alienation of Land Act and the validity of the counter-application.

Blykens die feite tot ons beskikking kom die hof tot die volgende gevolgtrekking:12

(i) Having found that the parties clearly had the formation of a partnership in mind from the onset and tacitly agreed to the applicant performing the role of a general manager, the alleged Trust seem simulated. No meetings of trustees were held either. Of course the partners in a partnership have a right to sue each other.

(ii) The direct and substantial interest in the matter is clear in as far as everyone is concerned.

(iii) The provisions of section 34 of Act 108 of 1996 [dws die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996] need no further elaboration (eie beklemtoning).

Van besondere belang is die hof se argument dat die trust net 'n "wanvoorstelling" is. Regter Moloi kom tot die gevolgtrekking dat dit in werklikheid 'n vennootskap tot stand bring.

 

3 Kommentaar

Sonder om op volledigheid aanspraak te maak word daar ter oriëntering kortliks 'n paar belangrike trustbeginsels uitgelig.

3.1 Definisie

'n Trust bestaan per definisie, ingevolge artikel 1 van die Wet op die Beheer oor Trustgoed,13 uit:

die reëling waardeur een persoon se goed uit hoofde van 'n trustdokument -

(a) Aan iemand anders, die trustee, in die geheel of gedeeltelik in eiendom oorgemaak of nagelaat word om ooreenkomstig die voorskrifte van die trustdokument geadministreer te word of oor beskik te word tot voordeel van die persoon of klas van persone in die trustdokument aangewys of ter bereiking van die doel in die trustdokument omskryf; of

(b) Aan die bevoordeeldes in die trustdokument aangewys in eiendom oorgemaak of

nagelaat word, welke goed ingevolge die trustdokument onder die beheer gestel word van iemand anders, die trustee, om ooreenkomstig die voorskrifte van die trustdokument geadministreer te word of oor beskik te word tot voordeel van die persoon of klas van persone in die trustdokument aangewys of ter bereiking van die doel in die trustdokument omskryf.

Regter Moloi neem die definisie onder oë en toets dit aan die feite.14 Is die trust 'n ooreenkoms (die Lithakali-trust) tussen die oprigter (A) en die trustees (A, B, C en D) wat hulle aanstelling as trustees aanvaar (en as sodanig gemagtig is)15 en die trustbates beskerm en bestuur op 'n bepaalde wyse tot voordeel van trustbegunstigdes? Volgens die Regter blyk dit op die oog af of die Lithakali-trust as 'n trust omskryf kan word. Hieruit wil dit voorkom of die hof bloot die omskrywing van 'n trust gebruik om die geldigheid daarvan te toets. Daar kan nie met hierdie interpretasie saamgestem word nie.

3.2 Geldigheidsvereistes

Skrywers16 is eenstemmig oor die vereistes waaraan 'n trust moet voldoen ten einde te bepaal of 'n geldige trust (wat in a akte geskep poog te word) tot stand gekom het, al dan nie. Dit kan kortliks saamgevat word deur te stel dat die geldigheid van 'n trust bepaal word aan die hand van die volgende vereistes:17

(a) die oprigter moet die bedoeling hê om 'n trust te stig;18

(b) daar moet 'n duidelike en wettige trustdoel wees en hierdie doel moet verwoord word (in 'n trustakte)19 om 'n bepaalde verpligting daar te stel waarvoor die trustgoed aangewend moet word;20

(c) daar moet 'n afdwingbare verpligting op die oprigter rus om die trustgoed aan die trustees te oorhandig vir die doeleindes van die trust;

(d) n duidelike aanwysing moet bestaan van wat die trustgoed (trusteiendom) behels en dit moet met redelike sekerheid geïdentifiseer word sodat trustees beheer kan neem hieroor;21

(e) die trustbegunstigdes moet bepaald of bepaalbaar wees (of vir 'n onpersoonlike doel) om aan te dui ten behoewe van wié die trusteiendom beheer en bestuur word.22

Hiersonder kan 'n trust nie bestaan nie.23 Die trust onder bespreking moet aan die geldigheidsvereistes getoets word.

3.2.1 Bedoeling

Soos met die ander geldigheidsvereistes is die vraag rakende die bestaan van die bedoeling om 'n trust op te rig 'n feitevraag en die hof bevind dat die bedoeling om 'n trust op te rig ontbreek as hy opmerk "the alleged Trust seem simulated".24 Die feite tot ons beskikking bevestig hierdie bevinding.

Olivier25 se standpunt stel duidelik dat die afwesigheid van hierdie bedoeling fataal is vir trustvorming en dat dit die "fondament is waarsonder die ander elemente nie kan ontstaan of bestaan nie". In die Khabola-saak onder bespreking is die hof egter nie beïndruk deur die bedoeling van die partye nie. Die situasie verg nadere beskouing omdat dit die bedoelingsvereiste betrek, wat volgens die hof in hierdie stadium nie uitdruklik geformuleer word nie.

Volgens De Waal26 bring die afwesigheid van 'n bedoeling om 'n trust op te rig mee dat geen trust tot stand kom nie. Dus, 'n sham. Daar kom gevolglik geen trust tot stand nie en die "trust" is nietig en ongeldig.27

It is also possible that there could have been no intention on the part of the founder to create any particular legal institution, but only to use the name or the shape of the trust institution to gain some or other advantage. In especially the latter instance, it may properly be said that the "trust" in question is a sham - in the sense that no trust has come into existence.28

In die meer onlangse beslissing, Van Zyl v Kaye29, moes bewys word of die trust 'n sham was, en Regter Binns-Ward bevestig ook die geldigheidsvereistes:

Holding that a trust is a sham is essentially a finding of fact. Inherent in any determination that a trust is a sham must be a finding that the requirements for the establishment of a trust were not met, or that the appearance of having met them was, in reality, a dissimulation. (eie beklemtoning)

Alhoewel die hof in die Khabola-saak bevind dat die bedoeling om 'n trust op te rig ontbreek en die trust dus 'n sham is,30is dit jammer dat dit nie as noodwendige gevolg hiervan duidelik bevind dat die trust 'n sham is en ab initio nietig is nie. In plaas daar van bevind die hof dat die partye "had the formation of a partnership in mind from the onset". Dit beteken dat die regter, na ons mening, op die oog af gedwonge voel om te bevind dat daar by alle gevalle van 'n sham-trust outomaties 'n vennootskap ontstaan, en dit kan tog nie.

Om net eenvoudig 'n skyn- of sham-trust in alle gevalle as 'n vennootskap te beskou is regtens onaanvaarbaar.

In Pezutto v Dreyer31 word 'n vennootskap omskryf as 'n regsverhouding wat deur kontraksluiting tussen twee of meer persone ontstaan ingevolge waarvan elke vennoot instem om 'n bydrae te maak tot die onderneming, wat met 'n winsoogmerk bedryf word. Appèlregter Smalberger stel dit onomwonde dat "what is necessary to create a partnership agreement is that the essentialia of a partnership should be present".32Soos met enige ander regsfiguur, moet 'n ooreenkoms immers ook aan sekere essensiële vereistes voldoen om 'n vennootskap tot stand te bring. Die essentialia van 'n vennootskap is dat elke party eerstens 'n bydrae moet maak tot die vennootskap.33

Tweedens moet die onderneming tot die gesamentlike voordeel van al die vennote bedryf word.34 Derdens moet daar 'n winsoogmerk35 wees.

Uit die feite voor die hof blyk dit na ons mening glad nie duidelik te wees dat die "ooreenkoms" tussen die partye al die wesenlike elemente van 'n vennootskap bevat nie en wil dit voorkom of die regter bloot aanvaar dat 'n vennootskap outomaties tot stad gekom het omdat die ooreenkoms voor die hof 'n sham trust is. Dit skep regsonsekerheid. Moontlik het die hof hom laat lei deur die gebruik van terminologie soos "bedryfstrust"36 om tot hierdie bevinding te kom, ons insiens, op grond van die hedendaagse praktyk waar 'n bedryfstrust onder spesifieke omstandighede as 'n vennootskap verklaar kan word. Nietemin, na ons mening is dit duidelik dat Regter Moloi dit goed vind om die verband tussen 'n bedryfstrust en vennootskap te probeer trek sonder om ag te slaan op die essensialia van 'n vennootskap oor die algemeen en 'n mens sou verwag dat hy minstens die essentialia van 'n vennootskap in ag moes neem voordat hy hierdie bevinding gemaak het.

In plaas hiervan blyk dit asof die hof die bestaan van 'n vennootskap bevind slegs op sterkte van die volgende punte: (i) dat die ooreenkoms 'n skyn trustooreenkoms was weens 'n gebrek aan die bedoeling om 'n trust op te rig; (ii) die partye 'n stilswyende ooreenkoms gehad het dat A as bestuurder sou optree; (iii) geen trustvergaderings gehou is nie37 en (iv) daar van elke party verwag is om 'n R500 bydrae te maak tot terugbetaling van trustlenings.38

Toegepas op die Khabola-saak, kan vergaderings wat nie plaasgevind het nie, trustees wat in hulle persoonlike hoedanigheid moet help om trust-skuld terug te betaal en een trustee wat as bestuurder optree, immers nie outomaties aanleiding gee tot 'n vennootskap nie?

3.2.2 Begunstigdes

Die volgende geldigheidsvereiste wat geanaliseer moet word, is dat daar ook bepaalde of bepaalbare begunstigdes benoem moet word.39 'n Begunstigde is 'n persoon wat uit die trust bevoordeel word. Die trustees is van regsweë verplig om die trustgoedere ten behoewe van die begunstigdes te administreer. Gevolglik het die begunstigdes weer regte rakende die trustees met betrekking tot die instandhouding van die trustbates.40 Indien bepaalde of bepaalbare begunstigdes nie genoem of bepaal kan word nie, voldoen die trust nie aan hierdie geldigheidsvereistes nie.41Sonder bepaalde of bepaalbare begunstigdes kan 'n trust nie bestaan nie.42 Olivier43se standpunt dat "a trust without a beneficiary is a nullity, unless it is created with an impersonal object in mind" word hier aanvaar.

Die trustakte wat die onderwerp van die Khabola-uitspraak vorm, verwys in die woordomskrywing na begunstigdes as "any person or persons who may benefit under this deed".44 Ons kon geen verdere definisie of omskrywing van trustbegunstigdes vind in die trustakte nie. Alhoewel die regter na hierdie gebrek in die trust verwys, is dit jammer dat hy dit net daar laat en nie bevind dat hierdie tekortkoming direk aanleiding gee tot die nietigheidverklaring van die trust nie. Die hof kan nie hierdie vereiste net ignoreer nie. Daar is tog heelwat regspraak wat hierdie belangrike vereiste onder die loep neem.45 Die waarde wat die hof aan die benoeming van bepaalde of bepaalbare begunstigdes heg, dui daarop dat die hof die basiese geldigheidsvereistes geensins aan die hand van die trust getoets het nie. Die hof het hom waarskynlik blindgestaar teen die afwesigheid van die bedoeling om 'n trust op te rig en die noodwendige (met alle respek, verkeerde) gevolg daarvan dat dit aanleiding gee tot 'n vennootskap.

3.3 Samevatting

Op die keper beskou het die hof in die Khabola-saak, na ons mening:

(i) die ideale geleentheid gehad om te toets of die Lithakali-trust wel geldig is. Indien die hof dit wel gedoen het, sou dit geblyk het dat daar nie 'n duidelike bedoeling was om 'n trust op te rig nie. Die gevolg is dat so 'n trust 'n sham is wat van die begin af nie bestaan het nie. Die afwesigheid van bepaalde of bepaalbare begunstigdes sou 'n verdere spyker in die doodskis van hierdie trust gewees het. Dit was dus die ideale geleentheid hierdie om te bevind dat die trust weens 'n gebrek aan die geldigheidsvereistes van 'n trust ab initio nietig is;

(ii) gefouteer deur te bevind dat "wanvoorstelling" outomaties aanleiding gee tot 'n vennootskap. Frases soos "venture" en "contribution", nie-nakoming van trusteevergaderings en bydraes wat vir ander redes bedoel is, kan nie opsigself aanleiding gee tot 'n vennootskap nie;

(iii) nie nodig gehad om in sy soeke na locus standi op 'n geforseerde manier éérs te bevind dat 'n vennootskap ontstaan het en dan dat locus standi dus bestaan het nie;

(iv) die geleentheid gehad om die trust nietig te verklaar, in welke geval die koopkontrak in elk geval nietig sou wees.

 

4 Gevolgtrekking

Hierdie beslissing benadruk die belangrikheid daarvan om elke trust (wat in die akte geskep poog te word) behoorlik te toets en te bepaal of 'n geldige trust tot stand gekom het al dan nie. Hierdie uitspraak wys op die gevare van 'n geval waar net sommige van die geldigheidsvereistes in ag geneem word, wat meebring dat 'n hof op ietwat geforseerde wyse op sterkte daarvan tot 'n bevinding moet kom om sodoende regsverligting te bring. Om 'n gesimuleerde trust as 'n vennootskap in te klee sonder dat al die essentialia van 'n vennootskap teenwoordig is, is juridies verkeerd en skep regsonsekerheid. Dit is ons insiens gevaarlik om 'n nietige trust eenvoudig in die absolute terme van 'n vennootskap te klee en summier so te aanvaar. Die ondersoek moes nie beperk gewees het tot wanvoorstelling, vergaderings en bydraes van partye nie.

Die hof het na ons mening die ideale geleentheid gehad om te bevind dat die trust nie aan die geldigheidsvereistes voldoen nie en daarom van die begin af nietig was. As al die vereistes van 'n vennootskap nie bewys kon word of teenwoordig was nie, was dit onnodig om as gevolg van 'n nietige trust ietwat gedwonge te bevind dat 'n vennootskap ontstaan het. Locus standi kon aan die hand van mede-eienaarskap of weens die gevolge van 'n nietige trust hanteer word as dit nodig was.

Ons siening is dat hierdie saak nie bydra tot regsekerheid as dit kom by trustreg nie, maar eerder as 'n waarskuwing dien van hoe gevaarlik dit is om trusts nie te beoordeel aan die hand van bestaande, erkende geldigheidsvereistes nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Literatuur

Cameron E ea Honoré's South African Law of Trusts 5de uitg (Juta Kaapstad 2002)        [ Links ]

Cassim F ea The Law of Business Structures (Juta Kaapstad 2012)        [ Links ]

Coetzee J "Die Regte van Trustbegunstigdes: 'n Nuwe Wind wat Waai?" 2007 De Rebus 1-9        [ Links ]

Davis D ea Maatskappye en Ander Besigheidstrukture in Suid-Afrika: Kommersiële Reg 3de uitg (Oxford University Press Kaapstad 2013)        [ Links ]

De Waal MJ "The Abuse of the Trust (or: 'Going Behind the Trust Form'): The South African Experience with Some Comparative Perspectives" 2012 RabelsZ 1078-1100        [ Links ]

Du Toit F "The Fiduciary Office of Trustee and the Protection of Contingent Trust Beneficiaries" 2007 Stell LR 469-482        [ Links ]

Geach W en Yeats J Trusts: Law and Practice (Juta Kaapstad 2007)        [ Links ]

Hyland SA en Smith BS "Abuse of the Trust Figure in South Africa: An Analaysis of a Number of Recent Developments" 2006 JEPL 1-22        [ Links ]

McLennan JS "Contracting with Business Trusts" 2006 SA Merc LJ 329-335        [ Links ]

Olivier PA, Strydom S en Van den Berg GPJ Trustreg en Praktyk 2de uitg (LexisNexis Durban 2006)        [ Links ]

Pace RP en Van der Westhuizen WM Wills and Trusts (LexisNexis Durban 2011 opdatering)        [ Links ]

Smith BS en Van der Westhuizen WM "The Need for Legislative Reform Regarding the Authorisation of Trustees in the South African Law of Trusts" 2007 JJS 163-186        [ Links ]

Snyman-Van Deventer E en Henning JJ "Is die Essentialia van die Vennootskap Ondergeskik aan die Bedoeling van die Partye? 'n Oorsig oor die Suid-Afrikaanse Reg" 2007 JJS 87-117        [ Links ]

Stafford RB A Legal-comparative Study of the Interpretation and Application of the Doctrines of the Sham and the Alter-ego in the Context of South African Trust Law: The Dangers of Translocating Company Law Principles into Trust Law (LLM-thesis Rhodes University 2010)        [ Links ]

Hofsake

Administrators, Estate Richards v Nichol 1996 4 SA 253 (K)

Ally v Dinath 1984 2 SA 451 (T)

Bester v Van Niekerk 1960 2 SA 779 (A)

Braun v Blann and Botha 1984 2 SA 850 (A)

CIR v Estate Sive 1955 1 SA 249 (A)

CIR v Pretorius 1986 1 SA 238 (A)

Crookes v Watson 1956 1 SA 277 (A)

Doyle v Board of Executors 1999 2 SA 805 (K)

Goodricke & Son (Pty) Ltd v Registrar of Deeds 1974 1 SA 404 (N)

Hofer v Kevitt 1998 1 SA 382 (A)

Hughes v Ridley 2010 1 SA 381 (KZP)

Joubert v Tarry and Company 1915 TPD 277

Joubert v Van Rensburg 2001 1 SA 753 (WLD)

Khabola v Ralitabo (5512/2010) 2011 ZAFSHC 62 (24 March 2011)

Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker 2005 2 SA 77 (HHA)

Oblowitz v Oblowitz 1953 4 SA 426 (K)

Pezutto v Dreyer 1992 3 SA 379 (A)

Standard General Insurance Co v Hennop 1954 4 SA 560 (A)

Van der Merwe v Bosman 2010 5 SA 555 (WCC)

Van Zyl v Kaye 2014 4 SA 452 (WKK)

Verseput v De Grunchy 1977 4 SA 440 (W)

Wette

Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988

LYS VAN AFKORTINGS

JEPL Journal for Estate Planning Law

JJS Journal for Juridical Science

SA Merc LJ South African Mercantile Law Journal

Stell LR Stellenbosch Law Review

RabelsZ Rabel Journal of Comparative and International Private Law

 

 

* Khabola v Ralitabo (5512/2010) 2011 ZAFSHC 62 (24 March 2011).
1 Sien ook Cameron ea Law of Trusts 14-17; Geach en Yeats Trusts 178-179; CIR v Estate Sive 1955 1 SA 249 (A).
2 Sien onder andere Van Zyl v Kaye 2014 4 SA 452 (WKK); Van der Merwe v Bosman 2010 5 SA 555 (WCC); Land and Agricultural Bank of South Africa v Parke 2005 2 SA 77 (HHA).
3 Khabola v Ralitabo (5512/2010) 2011 ZAFSHC 62 (24 March 2011) (voortaan na verwys as Khabola saak)
4 Die term "geldigheidsvereistes" word vir doeleindes van hierdie bespreking gebruik as omskrywende term wat die minimum vereistes aandui waaraan 'n trust moet voldoen om geldig (nie 'n sham nie) te wees. By gebreke hieraan sal die betrokke trust (wat in die akte geskep poog te word) dus nie 'n trust wees nie, maar dalk iets anders voorstel. Ander terminologie wat ook soortgelyke strekking het kan "essensiële elemente van 'n trust", "elementsvereistes van 'n trust" of "minimum vereistes waaraan 'n trust moet voldoen om geldig te wees" insluit.
5 Hierna die Lithakali-trust.
6 Khabola saak para 3.
7 Khabola saak para 3.
8 Khabola saak para 3.
9 Khabola saak para 1.
10 Khabola saak para 1.
11 Khabola saak para 2.
12 Khabola saak para 5.
13 Wet op die Beheer oor Trustgoed 57 van 1988 (hierna die Trustwet); verdere verduideliking van die diskresionêre en bewindstrust val nie binne die bestek van hierdie bespreking nie.
14 Khabola saak para 4(a).
15 A 6(1) van die Trustwet, sien ook Smith 2007 JJS 163-186.
16 Met verdere verwysing na Olivier, Strydom en Van den Berg Trustreg 2(1)-2(19); Cameron ea Law of Trusts 5-12; Geach en Yeats Trusts 35-50.
17 Skrywers se eie samevatting. Hierdie vereistes is relevant, ongeag of dit 'n inter vivos of testamentare trust tot stand bring. Sien ook Administrators, Estate Richards v Nichol 1996 4 SA 253 (K) as riglyn en ook De Waal 2012 RabelsZ 1084 wat die standpunt huldig "In my view the question whether or not a trust is a sham has everything to do with the requirements for the creation of a valid trust. In South African law these requirements are now firmly settled ... If one or more of these requirements are not met, then no trust is established".
18 Cameron ea Law of Trusts 118. Geach en Yeats Trusts 38-39.
19 Met verwysing ook na Land and Agriculturla Bank of South Africa v Parker 2005 2 SA 77 (HHA).
20 Geach en Yeats Trusts 42-44.
21 Artikel 11 van die Trustwet.
22 Sien Geach en Yeats Trusts 44.
23 Sien ook die bespreking van Hyland en Smith 2006 JEPL 1-22; Cameron ea Law of Trusts 5-14; Pace en Van der Westhuizen Wills and Trusts 36(4).
24 Khabola saak para 5.
25 Olivier, Strydom en Van den Berg Trustreg 2(16).
26 De Waal 2012 RabelsZ 1084-1085. 'n Volledige bespreking oor 'n sham trust val buite die bestek van hierdie bespreking. Daar word slegs volstaan daarmee dat geen trust tot stand kom nie en die trust nietig is. Sien ook Stafford Legal-comparative Study 70-107, 145-157.
27 Indien dit gebeur, impakteer dit ernstig op die vestiging van trustbates en die regte van trustbegunstiges, wat nie nou in verdere besonderhede bespreek word nie. Met verwysing na Coetzee 2007 De Rebus 1-9; Du Toit 2007 Stell LR 469-482.
28 De Waal 2012 RabelsZ 1085.
29 Van Zyl v Kaye 2014 4 SA 452 (WKK) para 19 met verdere verwysing na die hof se standpunt "Indeed, the applicants' approach renders it necessary to highlight that establishing that a trust is a sham and 'going behind the trust form' entail fundamentally different undertakings. When a trust is a sham, it does not exist and there is nothing to 'go behind'".
30 Met spesifieke verwysing na Van Zyl v Kaye 2014 4 SA 452 (WKK) vn 6: "The judgment of Moloi J in Khabola NO v Ralitabo NO [2011] ZAFSHC 62 (24 March 2011) affords an example of a sham trust, notwithstanding that the term is not used".
31 Pezutto v Dreyer 1992 3 SA 379 (A); Cassim ea Law of Business Structures 12; Snyman-Van Deventer 2007 JJS 87-117. Sien ook Goodricke & Son (Pty) Ltd v Registrr of Deeds 1974 1 SA 404 (N), 'n leidende saak vir sover dit gaan oor die vraag of daar in 'n bepaalde geval 'n trust of 'n vennootskap geskep is. Regter Muller beslis in Goodricke & Son (Pty) Ltd v Registrr of Deeds 1974 1 SA 404 (N) 410: "Whether this agreement could also be regarded as one of partnership or a joint venture is a debatable question. The answer to this proposition is that, in this case, there is no desire or intention to form a partnership or joint venture, but a clear intention to execute the deed of settlement in favour of a trust with various beneficiaries".
32 Pezutto v Dreyer 1992 3 SA 379 (A) 389.
33 Davis Maatskappye 418. Die bydrae kan enige vorm aanneem, bv geld, eiendom, kennis of vaardighede. Sien ook Cassim ea Law of Business Structures 14.
34 Davis Maatskappye 418 wat bevestig dat 'n individu nie hier alleen ter sprake is nie en Cassim ea Law of Business Structures 15-16. Sien ook Oblowttz v Oblowitz 1953 4 SA 426 (K); Standard General Insurance Co v Hennop 1954 4 SA 560 (A); Bester v Van Niekerk 1960 2 SA 779 (A); Hughes v Ridley 2010 1 SA 381 (KZP).
35 Cassim ea Law of Business Structures 16 beklemtoon hierdie punt: "The profit-making objective is essential. It must not be understood to mean that a profit must in fact be made. This requirement means that it must be the intention of the parties that profits (or financial gain) be made". Hierná ook na verwys asAlly v Dinath 1984 2 SA 451 (T).
36 Khabola saak para 3. McLennan 2006 SA Merc LJ 329-335; Cassim ea Law of Business Structures 46-59; Davis Maatskappye 437-451; Geach en Yeats Trusts 218.
37 Lithakali-Trust, klousule 6.
38 Khabola saak para 3.
39 Braun v Blann & Botha 1984 2 SA 850 (A); CIR v Estate Sive 1955 1 SA 249 (A). Geach en Yeats Trusts 44; Cameron ea Law of Trusts 553-558.
40 A 1 van die Trustwet. Vir doeleindes van hierdie bespreking sal die regte van trustbegustigdes nie in meer detail bespreek word nie. Pace en Van der Westhuizen Wills and Trusts 19, 29-33; Olivier, Strydom en Van den Berg Trustreg 4-6(5) - 4-(16); Cameron ea Law of Trusts 555-580; Coetzee 2007 De Rebus 1-9.
41 'n Essensiële vereiste ontbreek dus. Ook met verwysing na Crookes v Watson 1956 1 SA 277 (A); Hofer v Kevitt 1998 1 SA 382 (A); Doyle v Board of Executors 1999 2 SA 805 (K); Cameron ea Law of Trusts 151; Pace en Van der Westhuizen Wills and Trusts 28, 36-37.
42 Sonder bepaalde of bepaalbare begunsdigdes kan 'n trust nie bestaan nie, behalwe in die geval van 'n onpersoonlike doel soos in die geval van 'n liefdadigheidstrust. In laasgenoemde geval word 'n mate van buigsaamheid toegelaat - sien Cameron ea Law of Trusts 161.
43 Olivier, Strydom en Van den Berg Trustreg 4(2); Geach en Yeats Trusts 61.
44 Ltthakali-trust klousule 1.
45 Sien ook Braun v Baann and Botha 1984 2 SA 850 (A); Verseput v De Grunchy 1977 4 SA 440 (W); CIR v Pretorius 1986 1 SA 238 (A); Administrators, Estate Richards v Nichol 1996 4 SA 253 (K); Joubert v Van Rensburg 2001 1 SA 753 (WLD).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License