SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.16 número1Editorial by Prof C RautenbachConstitutional socio-economic rights and international law: "You are not alone" índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


PER: Potchefstroomse Elektroniese Regsblad

versión On-line ISSN 1727-3781

PER vol.16 no.1 Potchefstroom abr. 2013

 

ORATIONES ORBITUARES

 

Die akademie as professie

 

The academia as profession

 

 

F Venter

Professor in die Regte en voormalige dekaan, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. Epos: francois.venter@nwu.ac.za. Die voordrag is die outeur se "uittreerede" wat hy op 29 Oktober 2012 by die regsfakulteit, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus gelewer het

 

 


SUMMARY

There is an obvious conceptual link between the words "professor" and "profession". May one however assume that being a professor entails belonging to a profession, an academic profession?
One may have various motives for entering into and staying in the academy, eg the advantage of progression one the basis of one's own, independent efforts, earning a good salary and following one's calling to expend the energy and abilities one receives in life sensibly.
Professors are expected to be (at least) adequate teachers; they are required to have and maintain specialised knowledge of their field and to generate new knowledge by means of the production and dissemination of original research results.
Insofar as professions are characterised by their members having specialised knowledge or skills, performing specialised services, are bound by ethical codes and holding an acknowledged social status often expressed in titles, there should therefore not be any doubt as to the existence of an academic profession distinct from other professions (especially those related to the field of scholarship concerned).
Practising academics should work towards the active acknowledgment by all of the professionalism of the professorial institution.


 

 

Geagte kollegas, vriende en familie

Het u al ooit gewonder of daar 'n verband tussen die woorde "professor" en "professie" bestaan? En wat is 'n professie? Is mense ernstig as hulle sê prostitusie is die oudste professie? Daar is nie klinkklare antwoorde op hierdie vrae nie, maar dit is duidelik dat bepaalde gevolge daaraan geheg moet word as 'n mens wil sê dat jy aan 'n professie behoort.

Die Latynse woord professio beteken 'n openbare verklaring. Dit is byvoorbeeld in die Rome van ouds voor die Romeinse amptenaar verantwoordelik vir die byhou van die geboorteregister gedoen deur die pa van 'n pasgebore kind. Sedert nagenoeg 1200 nC is die woord in die Rooms-Katolieke Kerk geassosieer met die aflê van 'n eed by toetrede tot 'n kerklike orde. Later, teen die 15de eeu word dit ook buite-kerklik gebruik met die betekenis dat 'n persoon 'n beroep beoefen waarvoor hy oor die nodige vaardigheid beskik. In die 17de eeu het "professie" die betekenis begin dra van 'n groep mense wat 'n bepaalde bedryf beoefen.

In die omgangstaal sê ons maklik dat iemand sy sport, stokperdjie of 'n beroep "professioneel" bedryf en bedoel dan daarmee dat dit wat hy doen nie sommer deur enigiemand gedoen kan word nie omdat dit spesiale vaardighede vereis, en dat hy dit doen as 'n manier om sy inkomste te verdien.

In ons hoogs gestruktureerde en gespesialiseerde samelewing word aanvaar dat bepaalde professies behoorlik gereguleer moet word ten einde te verseker dat aanvaarbare standaarde gehandhaaf word. Hoewel wetgewing nie as voorvereiste daarvoor kan geld nie, word sekere professies deur parlementêre wetgewing gereguleer sodat toetrede tot so 'n professie onderworpe gestel word aan sekere kwalifikasies en vaardighede, registrasie by 'n beheerliggaam, onderwerping aan voorgeskrewe professionele en dissiplinêre kodes, waardeur die betrokkenes dan toegelaat word om 'n bepaalde titel te dra (soos raadgewende ingenieur, advokaat en dokter) en om dan bepaalde funksies gesaghebbend en teen vergoeding te vervul, soos om narkose toe te dien, mense as geestesversteurd te sertifiseer, geboue te ontwerp, maatskappye se boeke te oudit en oogtoetse te doen.

Dit blyk dus dat lede van 'n professie die volgende eienskappe vertoon:

  • Gespesialiseerde kennis en/of vaardigheid met betrekking tot 'n spesifieke dissipline.
  • Gespesialiseerde dienslewering of optrede vir vergoeding.
  • Etiese voorskrifte spesifiek van toepassing op optrede binne die professie.
  • 'n Erkende status, dikwels uitgedruk met 'n titel.

Dit is ooglopend dat die woord "professor" van dieselfde Latynse woord as "professie" afgelei is. Die werkwoord profiteor beteken om 'n openlike verklaring te maak, iets te belowe of aan te bied. Sedert die 14de Eeu het die woord "professor" die betekenis begin dra van 'n persoon wat oor 'n spesifieke vakgebied onderrig gee, met ander woorde 'n akademiese dosent, en sedert vroeg in die agtiende eeu is dit 'n titel wat voor aan 'n persoon se naam geheg kan word.

Wat my tema nou ietwat kompliseer, is die feit dat sommige universiteitsprofessore verantwoordelik is vir die akademiese voorbereiding van studente wat besig is om hulle te kwalifiseer om ná voltooiing van hulle studie tot die een of ander professie toe te tree. Sommige professore is ook, benewens hulle professorale status wat deur 'n universiteit aan hulle verleen word, geregistreerde lede van 'n professie: mediese spesialiste, rekenmeesters, ingenieurs, prokureurs en advokate, maatskaplike werkers, sielkundiges, professionele natuurwetenskaplikes, ensovoorts, ensovoorts - sulke akademici se lidmaatskap van 'n professie is gewoonlik wenslik, maar net in sommige gevalle 'n vereiste vir aanstelling as universiteitsdosente.

Die vraag wat 'n mens nou kan vra, is of van akademici in die generiese sin van die woord gesê kan word dat hulle aan 'n professie behoort. Is daar so iets soos 'n akademiese professie? Na my mening is dit nie 'n vraag wat 'n mens sommer interessantheidshalwe moet vra nie. Dit gaan oor akademiese verantwoordelikheid, selfrespek, etiek, die gemeenskap se beeld of persepsies oor universiteite, studente se gesindheid teenoor akademici en akademici se hantering van hulle studente, hulle eie navorsing, hulle kollegas, hulle bestuurders en hulle werksmilieu.

Mense kyk op meer as een manier na akademici en hulle verbondenheid aan 'n universiteit. Hier laat ek die anekdotiese verstrooidheid, verwaandheid en asosiale gedrag van sommige historiese professorale figure buite rekening. Sulke afwykende eienskappe is net so irrelevant vir die hedendaagse akademikus se sukses as wat Eugene Marais se morfienverslaafdheid vir sy sukses as digter of joernalis was.

Een manier om na die akademie te kyk, is om dit as 'n betalende beroep te sien. Dit is nie 'n werk wat fisies-veeleisende arbeid vereis nie (akademici verdien selde hulle spreekwoordelike brood met letterlike sweet op die spreekwoordelike aanskyn -sommiges van hulle gaan selfs spesiaal gimnasium toe vir die sweet-sensasie). Al is daar min akademici wat bereid is om dit te erken, is dit ook nie 'n sleg-betalende werk nie. Akademici se inkomste val binne die boonste 4% tot 5% van Suid-Afrikaanse verdienstevlakke, en professore s'n binne die boonste 1%.

Nog 'n manier om na die akademie as beroepskeuse te kyk, is dat dit moontlik is om op eie stoom onder te begin en bo uit te kom. "Onder" is gewoonlik 'n aanstelling as junior lektor en "bo" is 'n vol professoraat. Ek laat doelbewus akademiese bestuurders uit hierdie hiërargie weg, omdat akademiese bestuur 'n noodsaaklike funksie is wat regstreeks met die akademie te doen het, maar nie die akademie self is nie. Vir 'n akademikus om aangestel te word as direkteur, dekaan, viserektor of rektor, beteken om beter betaal te word om in diens van die akademie te staan. Dit- is veeleisende en edele take en 'n voorreg, maar die prys wat daarvoor deur die akademikus betaal word, is òf prysgawe van sy of haar akademiese loopbaan, òf om half skisofrenies in twee denkwêrelde te opereer. Vir die proses om van 'n akademikus 'n bestuurder te maak, is daar na my mening geen klaargemaakte reseppies nie. Die nodige mentaliteit moet reeds daar wees wanneer die grense van die twee denkwêrelde oorgesteek word. Akademiese bestuur dus eers daargelaat.

Om die leer van akademiese vordering te bestyg, verg natuurlik bepaalde prestasies: daar is geen sprake van outomatiese bevordering weens tydsverloop of troue diens nie. Vir begrip van die aard van die akademie as beroep is die maatstawwe wat universiteite vir bevordering stel, insiggewend. Uitsonderings is in die verlede, en word in bepaalde gevalle steeds gemaak vir senior akademiese aanstellings van mense wat nie aan die gewone akademiese vereistes voldoen nie, gewoonlik in gevalle waar die benoemdes aansienlik beter salarisse buite die akademie kan verdien en bly verdien terwyl hulle dosente is. Tot in die 1960's was dit byvoorbeeld feitlik ondenkbaar dat 'n dosent met 'n LLB op 'n laer toetreevlak as senior lektor by 'n universiteit aangestel sou word en dit was nie vreemd as 'n regsprofessor nie oor 'n doktorsgraad beskik het nie. Dit het natuurlik verander, maar soortgelyke situasies kom steeds voor by byvoorbeeld mediese en sakeskole. Vir die huidige doeleindes laat ek hierdie uitsonderings egter ook buite rekening.

Die essensiële drieledige maatstawwe vir akademiese bevordering bly, afgesien van die voortdurende hersiening deur universiteite van beleidsdokumente en bevorderingsmetrieke, basies dieselfde: eerstens moet die akademikus as die proklameerder van gespesialiseerde kennis, studente suksesvol kan onderrig - dit lê tog aan die wortel van die betekenis van die woord "professor." Dit beteken natuurlik dat die gespesialiseerde kennis wat "geprofessoreer" moet word, nie net by die professor moet bestáán nie, maar ook aktief in stand gehou en ontwikkel moet word. Dit beteken dus tweedens dat die akademikus voortdurend onafhanklik moet studeer om te verseker dat die gespesialiseerde kennis aktuele kennis is. Vir die bevorderingsproses van onder na bo beteken hierdie vereiste normaalweg eerstens die verwerwing van nagraadse kwalifikasies tot by die doktoraat en verder om met die toepaslike vakliteratuur op hoogte te bly. Derdens word daar van 'n akademikus verwag om 'n skepper van nuwe wetenskaplike kennis te bly. Normaalweg is die verwerwing van die doktorsgraad slegs die begin hiervan. Anders gestel, 'n akademikus, veral 'n professor, doen oorspronklike, skeppende navorsing en deel dit met hulle vakgenote en studente.

By hierdie drie kernmaatstawwe word verder van tyd tot tyd, volgens beleidsmodes, oorwegings soos gemeenskapsdiens, openbare betrokkenheid, leierskap onder vakgenote, redakteurskappe, deelname aan die werk van vakkundige verenigings of professionele strukture, ensomeer bygevoeg. Dit is dinge wat gewoonlik tot 'n meerdere of mindere mate organies voortspruit uit akademikus-wees, maar weerspieël myns insiens nie noodwendig die hart van die akademie nie.

'n Kwessie wat ook dikwels opduik rondom professore wat studente onderrig wat op pad is om 'n gevestigde professie soos dié van die prokureurs of die advokatuur te betree, is die vraag of sulke professore self praktisyne moet wees of vorige ervaring daarvan moet hê. Hierdie kwessie lê op daardie grens tussen die akademie en die wêreld van die professies buite die universiteit: praktisyne daar buite eis soms dat universiteitsgegradueerdes op die dag van die gradeplegtigheid varsgebakte praktisyne moet wees wat dadelik vir die betrokke professie nuttig moet kan wees. As dit 'n geldige eis sou wees, sou al die betrokke dosente ook daagliks in die betrokke professie moes staan - iets wat selde moontlik is. Regsfakulteite kan lankal nie meer aan die eise van die akademiese omgewing voldoen as die dosente eintlik praktisyne is wat deeltyds klas gee nie. Dit is algemene kennis dat by die universiteite waar dit nog algemeen gebruiklik is, daar feitlik niks van die akademie teregkom nie, en dat die studente daar gewoonlik swak onderrig ontvang. Die wetenskap (ook die regswetenskap) is 'n jaloerse metgesel wat die toegewyde aandag van diegene wat daaraan meewerk, opeis.

Hierdie situasie gee soms aanleiding tot spanning tussen professies en die universiteitswese. Ons het dit die afgelope tien jaar baie spesifiek in die regsomgewing beleef, en die stryd duur te midde van die ongemaklike daling van- sekondêre skoolstandaarde voort. Die eenvoudige waarheid is dat, indien regstudente in die vier of vyf jaar van hulle universiteitstudie bloot vir die praktyk as prokureur, advokaat, regsadviseur, staatsaanklaer of wat ook al voorberei moet word, daar geen ruimte vir diepte in die regsprofessies sou wees nie, en gevolglik ook geen diepte in regsprosesse, gedingvoering en regspraak nie. Die regsprofessies is veronderstel om die gemeenskap te bedien met die middele waardeur geregtigheid bewerkstellig of gehandhaaf kan word en dít is nie 'n meganiese proses nie. Sou dit die geval wees, sou regsopleiding glad nie op universiteit tuisgehoort het nie, maar bloot afrigting vir die beoefening van 'n ambag kon wees. Terwyl dit dan nou nie die geval is nie, kan regsprofessore nie blote praktyksinstrukteurs wees nie: daar word van hulle verwag om hulle studente daartoe in staat te stel om geleerdes, regsgeleerdes, te word. Slegs regsgeleerdes kan regspraktisyns van hoë gehalte word. Dus kan slegs geleerde regsakademici hulle studente akademies vir die praktyk voorberei. Die regsprofessies moet kan veronderstel dat 'n persoon met 'n LLB-graadsertifikaat oor 'n voldoende vlak van regsgeleerdheid beskik, maar moet dan die verantwoordelikheid op hulle neem om van so 'n persoon 'n effektiewe praktisyn te maak.

"Geleerdheid" is 'n gewigtige woord. As 'n mens die Europese kennisontploffing van die sewentiende eeu as maatstaf sou moes neem, is geleerdheid eintlik net gereserveer vir genieë soos Isaac Newton, Gottlieb Leibniz en van hulle tydgenote soos Galileo, Kepler en Descartes. Sowel Newton as Leibnitz het die Bybel intensief en toegewyd bestudeer, het onafhanklik van mekaar die grondslae van moderne calculus gelê en blywende bydraes tot die filosofie gelewer. Leibniz se aanvanklike kwalifikasie was dié van 'n juris en Newton het dit in sy sleutelwerk Philosophiae Naturalis Principia Mathematica nie oor 'n appel wat op sy kop geval het nie, maar oor wat hy die "natuurfilosofie" genoem het, gehad. Descartes, by die meeste mense bekend vir sy filosofiese frase cogito ergo sum (ek dink, daarom bestaan ek), het 'n verhandeling oor die erfreg geskryf voordat hy gesaghebbende bydraes tot onder meer die optika en meteorologie gelewer het en volgens sommiges se interpretasie het hy die wiskundige fondamente vir die grafiese voorstellinge wat ons vandag nog algemeen gebruik, gelê. Ek vermoed terloops dat die oorsprong van wat vandag na-'n eienaardigheid lyk dat natuurwetenskaplikes, ingenieurs en farmaseute die graad Doctor Philosophiae ontvang, te vinde is in hierdie sewentiende eeuse veelsydigheid van geleerdes. Die meeste natuurfilosowe van daardie era het hulle, mét die erkenning as vanselfsprekend dat God die Skepper van alles is, daarmee besig gehou om die skepping se grondslae, samestelling en werking wetenskaplik te probeer verklaar. Die wondere van die Wiskunde, Fisika, Astronomie, Chemie en meer wat hulle ontdek het, het saam met hulle kennis van die klassieke tale en filosofie vir hulle die deure oopgemaak om teorieë en metodes te ontwikkel wat tot vandag in vele vakgebiede weergalm.

Natuurlik kan nie van die akademikus van die 21ste eeu verwag word om die sewentiende-eeuse natuurfilosowe na te doen nie: die omvang van wetenskaplike kennis het eenvoudig te groot geword, maar ons vergeet te maklik dat kennis buite konteks gebrekkige kennis is. Die juris wat vir geskiedenis, filosofie, fisika of chemie neus optrek, loop net soos die chemikus wat niks van die letterkunde, opvoedkunde of ekonomie wil weet nie, gevaar om halfgeleerd te bly.

Ek het reeds twee maniere genoem waarop 'n mens na akademikus-wees kan kyk. 'n Derde manier wat ek wil noem (en daar is natuurlik meer), is die akademie as roeping. "Roeping" is 'n begrip waarvan mense dikwels wegskram. Vir sommiges val dit as esoteries en verhewe op die oor - iets wat gereserveer moet word vir predikante, sendelinge en noodlenigingswerkers. Roeping is egter nie so geheimenisvol of gereserveer vir mense wie se werk gefokus is op geestelike en barmhartigheidstake nie. Roeping is egter wel 'n diepsinnige saak. Dit het te doen met 'n mens se lewensuitkyk, wat uiteindelik in jou geloofsoortuigings gewortel is. 'n Roepingsgevoel is gepas in alle aspekte van 'n mens se bedrywighede, insluitend en veral dit waarop 'n mens die grootste deel van jou werksvermoë konsentreer. Dit het te doen met jou verstaan van die sin van jou lewe, waarom jy nou hier is, hoe jy hier gekom het en waarheen jy op pad is, ook ná jou dood. Jou verstaan van jou roeping is 'n kragtige dryfveer om dit wat jy doen, so goed en reg as moontlik te doen. Dit is gegrond op die aanvaarding dat niks toevallig is nie, maar dat ook jou lewe tot hier en nou gestuur is, en ook in die toekoms gestuur sal word om 'n groter doel as jou- eie belange te dien, wat op die skaal van die geskiedenis en van die mensdom deur die eeue nie anders kan nie as om beuselagtig klein te wees. Vir 'n Christengelowige is dit alles vanselfsprekend. Die geroepe akademikus kan by sy sleurwerk (soos om eerstejaars se eksamenantwoordstelle na te sien) verby leef en sy onderrig, studie en navorsing met genot aanpak, selfs wanneer dit (soos altyd) veel meer as agt uur per dag en vyf dae per week se gekonsentreerde werk verg.

Die ideë wat in ons eie geledere in omgang is en in die wêreld daarbuite oor die eise waaraan 'n mens moet voldoen om 'n professor te word en wat dan van die professor verwag word, is natuurlik nie eenduidig nie. Oral waar die professorale konsep deur die eeue heen gemigreer het, het dit verskillende beklemtonings gekry. So byvoorbeeld is dit in die Duitssprekende wêreld steeds praktyk dat 'n persoon wat tot die professoraat beroep wil word nie net gedoktoreer moet wees nie, maar ook nog 'n groter navorsingswerk ('n Habilitationsschrift) moet lewer en moet verdedig om die bevoegdheid om te doseer (facultas docendi) te bewys. Daarna word die habilitant dan beklee met die venia legendi (letterlik vertaal, die "toestemming om te lees" - vandaar terloops ook die Oxfordiaanse konsep van "reading"). Hierdie stelsel is egter in die Duitse omgewing onder druk omdat dit soveel meer van aspirant akademici vereis as in die meeste ander lande.

Die rakleeftyd van professore varieer ook nogal in verskillende dele van die wêreld. Tot onlangs moes professore hier by ons op die jeugdige ouderdom van 60 jaar aftree; in Nederland is dit ook soos nou hier by ons 65 jaar, in Duitsland 67 en in die VSA was dit tot in 1994 70 jaar, maar toe is wetgewing aangeneem wat gedwonge aftrede op 'n bepaalde verjaarsdag as ouderdomsdiskriminasie gebrandmerk het. Nou tree professore met "tenure" by sommige Amerikaanse universiteite nie af nie totdat die betrokke individu self besluit om te emeriteer - wat natuurlik 'n paar ander probleme meebring.

Ten spyte van die variasie in vereistes vir 'n universiteitsprofessoraat, en in persepsies oor wat dit behels, is daar tog 'n internasionaal 'n gemene begrip daarvan. Professore van ander lande wat 'n mens by hulle universiteite en by- internasionale vakkonferensies raakloop, is wesenlik met dieselfde soort dinge besig as Suid-Afrikaanse professore. Soos verwag kan word, is daar wel sistemiese variasie: party het feitlik geen infrastruktuur tot hulle beskikking nie (Britse professore kla gedurig daaroor), terwyl die meeste Duitse professore oor 'n eie leerstoel beskik, met kantore vol habiliterendes en doktorerendes, akademiese assistente en ondersteuningspersoneel. Dan is daar sogenaamde endowed chairs en distinguished/ professorships veral in die VSA met spesiale befondsing, dikwels gekoppel aan die naam van die skenker van die fondse. Nogtans doen al die professore wat hulle sout werd is (daar is maar oral ook diegene wat op hulle louere rus), basies dieselfde: hulle onderrig, studeer en doen navorsing.

Wat oor die onlangse dekades al hoe duideliker geword het, is dat die akademiese werksaamhede van professore toenemend globaliseer en dat, ten spyte van spesialisasie, interdissiplinariteit van die wetenskap hoog aan die orde is. Daar kan verwag word dat die globale kennisontploffing en akademiese dialoog, die kitstoeganklikheid van navorsingsuitsette, die kennisbehoeftes van die toekomstige geslag, en die universele kontroleerbaarheid van die akademikus se werk toenemend hoër eise aan professore sal stel. Daar is 'n eindige aantal professorale poste in die land en in die wêreld beskikbaar. Die reuse aptyt van die kennisekonomie moet nietemin met nuwe kennis gevoer word. Dit stel 'n wonderlike uitdaging aan diegene wat hulle tot die akademie geroepe voel.

 

So, is professor-wees 'n professie?

Die vraag wat ek aan die begin aan die orde gestel het, is of daar 'n verband tussen die konsepte "professie" en "professor" is. Ek meen van ja. Om die waarheid te sê, die professionele standaarde wat vir professore geld, is besonder hoog. Hulle kan gelys word.

  • Eerstens is die gespesialiseerde kennis eis wat aan professore gestel word dat hulle op die voorpunt van kennisbeheersing en kennisgenerering in hulle vakgebied moet staan - en dit stel aan hulle 'n groot uitdaging van oorspronklikheid en kreatiwiteit.
  • Verder word professore deur universiteite aangestel met die oog op die lewering van buitengewoon gespesialiseerde dienste, naamlik om die ietwat abstrakte funksie van draers van aktuele kennis te vervul, en om jong studente in hulle kennisverwerwing te begelei sowel as om aan hoogs gevorderde navorsers leiding tot by hulle na-doktorale navorsing te gee.
  • Hoewel die professorale titel oor die algemeen in sommige kringe aan die draers daarvan 'n bepaalde status gee, is dit dikwels die minder verdienstelikes onder hulle wat op die erkenning van sodanige status aandring.
  • Benewens die algemene diensverhouding waarin professore met die universiteit staan, is daar 'n grootliks ongeskrewe, oftewel ongekonsolideerde etiese kode op hulle van toepassing. Daar is terloops in die jongste tyd by die Global Network of Science Acadamies 'n proses aan die gang om navorsers oral in die wêreld aan te spoor om sogenaamde "universal science values and ethical behaviour" te onderskryf. Ongekodifiseerdheid ten spyt, hoe professore met die werk en die persone van hulle studente en met mede-akademici omgaan, hoe hulle te werk gaan om kennis te versamel en weer te gee, hoe hulle hulle sienings en menings formuleer en kommunikeer, spreek luid van die etiese en morele eise wat aan hulle gestel word.

Uit hierdie breë stel standaarde wat vir professore geld is dit vir my duidelik dat die akademie verdien om eerstens deur ons as akademici, deur ons werkgewers (die universiteite) en verder deur die hele samelewing by uitnemendheid as 'n professie erken te word. Om dit fyner uit te werk behoort as die taak van alle praktiserende akademici gesien te word.