SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.11 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

PER: Potchefstroomse Elektroniese Regsblad

Print version ISSN 1727-3781

PER vol.11 n.3 Potchefstroom Jan. 2008

 

ARTICLES

 

Artikel 2(3) van die Wet op Testamente: n' Praktiese probleem by litigasie*

 

Section 2(3) of the wills act 7 of 1953: a practical problem in litigation

 

 

J Jamneck

BLC LLB LLD, Professor in Privaatreg, Unisa, Suid-Afrika

 

 


SUMMARY

When considering applications in terms of section 2(3) of the Wills Act 7 of 1953, one is confronted with the practical problem that a document may be accepted as a will in terms of section 2(3) but from the facts it may appear that the deceased may not have had the necessary testamentary capacity or free will to make a will. One option to approach this problem would be for the respondent in a section 2(3) application to bring a counter-application on the grounds of the deceased’s lack of capacity or his lack of free will. Another option would be to consider the deceased’s capacity before considering the section 2(3) requirements, but one cannot consider capacity before one has a valid will, and the court’s interpretation of section 2(3) in Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (CC) prevents this route. A third option would be for the court to mero motu consider the deceased’s capacity to make a will when faced with a section 2(3) application. This approach would be in accordance with public policy. If all of these approaches are unsatisfactory, the legislature should consider an amendment to the Act.


 

 

Artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 gee aan die hof die bevoegdheid om die Meester te gelas om ’n testament wat nie aan al die formaliteite, soos bepaal in artikel 2(1), voldoen nie, as geldige testament te aanvaar. Artikel 2(3) bepaal:

 Indien ’n hof oortuig is dat ’n dokument of die wysiging van ’n dokument wat opgestel of verly is deur ’n persoon wat sedert die opstel of verlyding daarvan oorlede is, bedoel was om sy testament te wees, gelas die hof die Meester om daardie dokument, of die dokument soos gewysig, vir doeleindes van die Boedel­wet, 1965 (Wet No 66 van 1965) as testament te aanvaar ofskoon dit nie aan al die vormvereistes vir die verlyding of wysiging van testamente bedoel in subartikel (1), voldoen nie.

Die doel van artikel 2(3) is om die probleme veroorsaak deur die gestrenge toepassing van die formaliteite voorgeskryf deur artikel 2(1) te ondervang.1 Eersgenoemde subartikel is uitsluitlik daarop gemik om gebrekkige nakoming van formaliteite reg te stel en is daarop gemik om aan ’n dokument wat ex facie nie ’n geldige testament of geldig gewysigde testament is nie, tersaaklike regskrag te verleen.2 Dit slaan dus nie op die testeerbevoegdheid3 van die oorledene nie en, hoewel daar reeds baie uitsprake oor hierdie subartikel gelewer is,4 is die kwessie ten opsigte van die oorledene se testeerbevoegd­heid en hoe die vraag daarna ʼn aansoek ingevolge artikel 2(3) raak, nog nooit pertinent behandel nie.5

Met die toepassing van artikel 2(3) kom ʼn mens voor ʼn praktiese probleem te staan. Voor die inwerkingtreding van artikel 2(3) kon ’n testament slegs op grond van ʼn testateur se gebrek aan testeerbevoegdheid bevraagteken word wanneer met ’n dokument gewerk is wat ex facie ’n geldige testament was. Die Meester het ’n testament wat aan alle formaliteite voldoen, aanvaar en geregistreer in die boedelregister,6 waarna enige belanghebbende die testament op grond van die testateur se beweerde gebrek aan testeerbevoegd­heid of gebrekkige vrywillige wilsuiting in die hof kon beveg.7 ’n Testament wat nie aan die formaliteite voldoen nie, sou wel deur die Meester in die boedelregister geregistreer word, maar sou, vanweë die gebiedende aard van artikel 2(1) nie, enersyds, deur die Meester vir doeleindes van die Boedelwet 66 van 1965 aanvaar word nie, of andersyds, deur die hof bekragtig word nie.8 Die testeerbevoegdheid van die testateur het gevolglik nie eens ter sprake gekom waar nie aan alle formaliteite voldoen is nie. Tans is die posisie egter dat die hof, ingevolge artikel 2(3), die Meester kan beveel om ’n testament, ten spyte van formele gebreke, te aanvaar.9 Die moontlikheid bestaan dus dat die geldigheid van ’n testament bevraagteken kan word, beide op grond van formele gebreke, sowel as op grond van die oorledene se gebrek aan testeerbevoegdheid.10

Die verwarring en praktiese probleme wat dié situasie skep, was reeds in Horn v Horn11 duidelik. Die hof maak wel obiter sekere stellings rakende die oorledene, as opsteller van die dokument, wat in ʼn artikel 2(3)-aansoek voor die hof gedien het, se geestestoestand en gevolglik rakende sy testeer­bevoegdheid, maar dit blyk duidelik dat die hof graag verder sou wou gaan en ʼn bevinding daaroor sou wou maak.12 Dit wil bykans voorkom asof die hof aan die teenparty ʼn aanduiding wou gee van gronde waarop die dokument wat hy ingevolge artikel 2(3) gekondoneer het, beveg kon word. Gelukkig het die hof nie hierdie punt verder gevoer nie maar hom suiwer op die toepassing van artikel 2(3) toegespits.

ʼn Verdere, baie goeie illustrasie van die probleem oor die verhouding tussen artikel 2(3) en artikel 4 wanneer dit by litigasie kom, is te vinde in Thirion v Meester van die Hooggeregshof.13 In dié saak is die hof in ʼn artikel 2(3)-aansoek gekonfronteer met die feit dat die aansoek teengestaan is op grond van die oorledene se testeerbevoegdheid en gebrek aan vrye wilsuiting. Daar is aangevoer dat die oorledene nie die tersaaklike dokument as testament bedoel het nie, juis omdat hy emosioneel en geestelik onstabiel was ten tye van die opstel van die dokument en voorts omdat die applikant hom onbehoorlik beïnvloed het om die dokument op te stel. Die teenparty het dus gepoog om gebrekkige testeerbevoegdheid te gebruik om die tekortkoming ten opsigte van die vereiste bedoeling van artikel 2(3) aan te toon. Ten spyte daarvan dat ʼn aansoek gebaseer op formele gebreke nie op grond van testeerbevoegdheid teengestaan kan word nie, neem die hof dit tog in ag, maar kom gelukkig tot die korrekte beslissing dat die oorledene (ongeag sy emosionele toestand) wel bedoel het dat die dokument sy testament moet wees en gelas die Meester om dit as sodanig te aanvaar. Dit is egter betreurenswaardig dat die hof nie reeds in die Thirion-saak daarop gewys het dat ʼn artikel 2(3)-aansoek nie op grond van testeerbevoegdheid teengestaan kan word nie en nie ʼn aanduiding gegee het van die wyse waarop sodanige toedrag van sake hanteer moet word nie.

Dieselfde probleem het ook opgeduik in die De Reszke-beslissings maar ongelukkig is dieselfde goeie eindresultate soos in Horn en Thirion nie bereik nie.14

Word daar gekyk na al drie die De Reszke- beslissings in die geheel en die hof se geneigdheid in hierdie15 en ook in ander sake16 om testeerbevoegdheid by die ondersoek na ’n artikel 2(3)-bevel in aanmerking te neem, blyk die probleem soos hierbo beskryf, duidelik. Die oorledene was op gevorderde leeftyd en ook nie gesond nie. By verskeie geleenthede het hy gevra dat ʼn nuwe testament opgestel moet word, maar aangesien die prokureur wat hom besoek het, van mening was dat hy fisies en geestelik nie bevoeg was nie, het hy aangedui dat hy op ʼn later stadium, in die teenwoordigheid van die oorledene se dokter en verpleegster, instruksies vir die nuwe testament sou kom neem. Dit het egter nooit gebeur nie, maar ʼn brief met bemakingsbe­palings is aan die oorledene se assistent/sekretaresse gedikteer en deur die oorledene onderteken. Die artikel 2(3)-aansoek is op grond van hierdie brief voor die hof gebring. Die hof van eerste instansie het bevind dat dié brief nie aan die vereistes van artikel 2(3) voldoen nie, aangesien die oorledene nie bedoel het dat dit sy testament moes wees nie. Veral uit die volbank-beslissing17 blyk die probleme waarmee die hof gekonfronteer was: dit wil inderdaad voorkom of die oorledene wel die brief as sy laaste wilsuiting sou beskou het - hy het onder andere "No more suffering" onder sy handtekening geskryf - maar getuienis ten opsigte van sy swak fisieke en geestestoestand was oorweldigend.18 Die hof bevind gevolglik kragtens (onder andere) getuienis van sy geneeshere dat die oorledene swak, deurmekaar en dus eintlik na alle waarskynlikheid nie testeerbevoeg was nie,19 dat hy nie bedoel het dat die brief sy testament moes wees nie.

Die volbank se dilemma was duidelik dat die oorledene wel bedoel het dat die brief sy testament moet wees, maar die vraag was "whether he was capable of such intention."20 Hierdie vraag moes geensins by die artikel 2(3)-aansoek ter sprake gekom het nie.21 Artikel 2(3) vereis bloot

1) dat hy die dokument persoonlik22 moes opgestel het (wat hy wel gedoen het deur dit te dikteer),
2) en dat hy moes bedoel het dat die betrokke dokument sy testament moet wees (wat ook afgelei kan word uit sy handtekening en die woorde "No more suffering").

Bogenoemde twee vereistes blyk uit die beslissing van die Hoogste Hof van Appèl in Bekker v Naudé.23 Volgens hierdie benadering (wat bevestig is deur die volbank en die Hoogste Hof van Appèl in De Reszke24), moet daar slegs objektief na die oorledene se bedoeling ten opsigte van die betrokke dokument gekyk word en moet daar nie gevra word of hy oor die geestesvermoëns beskik het om hierdie bedoeling te vorm nie.

Streng gesproke (indien artikel 2(3) nougeset toegepas word) sou die korrekter benadering wees om die brief as testament te aanvaar, maar dan as alternatief te bevind dat die testateur nie testeerbevoeg was nie. Die feite van die De Reszke-saak dui daarop dat die oorledene moontlik nie die aard en uitwerking van sy handelinge besef het nie en dat hy waarskynlik ook nie vrywillig sy bedoeling uitgedruk het nie. Die redes hiervoor was sy hoë ouderdom, fisieke en geestelike toestand en die feit dat onbehoorlike beïnvloeding en/of dwang moontlik op hom toegepas is (hy is deur een van die begunstigdes besoek wat selfs ʼn prokureur saamgebring het, en ʼn ander begunstigde het die dokument getik). Die moontlikheid dat hy nie testeerbevoeg was nie, is groot, maar artikel 2(3) vereis nie ’n ondersoek na testeerbevoegdheid nie - dit vereis bloot, volgens die benadering in Bekker v Naudé,25 dat die testateur moes bedoel het dat die betrokke dokument sy testament moet wees. Die hof se penarie was natuurlik ook dat testeerbevoegdheid nie as betooghoof aangebied is nie; dus moes die hof onder hierdie omstandighede tot die beste moontlike beslissing kom. Dit is egter betreurenswaardig dat die beslissing afbreuk doen aan die ware bedoeling van artikel 2(3).

Aangesien artikel 2(3) slegs op die gebrekkige nakoming van formaliteite betrekking het, kan ’n aansoek ingevolge daarvan nie teengestaan word (of beslis word) met bewerings aangaande die testateur se testeerbevoegdheid nie.26 Gevolglik ontstaan die volgende vrae: Moet die hof eers die Meester gelas om die dokument as geldige testament te aanvaar, waarna opponerende belanghebbendes by wyse van ’n nuwe proses moet poog om te bewys dat die testateur nie oor die nodige testeerbevoegdheid beskik het nie; of kan die teenparty by wyse van ’n teenaansoek tydens dieselfde proses ’n bevel aangaande die testateur se testeerbevoegdheid aanvra?

Eersgenoemde benadering sou strook met die praktyk voor wysiging van die Wet - die testament moet eers as geldig deur die Meester aanvaar word, waarna dit op grond van ʼn gebrek aan testeerbevoegdheid beveg kan word.27 So ʼn benadering sou egter tyd- en koste-oneffektief wees. Ten einde tyd en koste te bespaar, blyk laasgenoemde prosedure dus verkieslik te wees. Wanneer ’n aansoek kragtens artikel 2(3) aanhangig gemaak word, sal die teenparty ’n teenaansoek vir ’n bevel aangaande die oorledene se testeerbe­voegdheid moet aanvra (ingevolge artikel 4 van die Wet). Teoreties gesproke sou die eenvoudige benadering dan wees om eerstens te oorweeg of die oorledene testeerbevoeg was ten tyde van die opstel van die dokument.28 Indien bevind word dat die oorledene nie oor die nodige testeerbevoegdheid beskik het nie, cadit quaestio,29 is geen verdere ondersoek na die vraag of hy bedoel het dat die dokument sy testament moet wees, nodig nie. Dit sal dus dienlik wees indien die hof eers die teenaansoek oorweeg, omdat ’n bevinding dat die oorledene nie testeerbevoeg was nie, enige verdere vrae na die kondoneerbaarheid van die dokument uitskakel. Die rede vir hierdie argument is dat dit, in die algemeen gesproke, makliker behoort te wees om die gebrek aan testeerbevoegdheid te bewys as om te bewys dat die oorledene bedoel het dat ’n bepaalde dokument sy testament moet wees. Hoewel dit waar is dat dit baie moeilik is om ʼn gebrek aan testeerbevoegdheid of ʼn gebrek aan vrye wilsuiting30 te bewys,31 blyk dit steeds makliker te wees as om die bedoeling vereis deur artikel 2(3) te bewys. Word daar gekyk na sake aangaande gebrek­kige testeerbevoegdheid en vrye wilsuiting, blyk dit dat daar telkens konkrete getuienis deur deskundige getuies soos geneeshere gelewer kon word ten einde die gebreke te probeer bewys.32 Daarteenoor blyk dit uit sake rakende die vereiste bedoeling van artikel 2(3) dat die bedoeling telkens deur die hof uit die dokument afgelei word33 of uit getuienis van persone wat dikwels by die opstel van die dokument betrokke was, vasgestel word.34

Laasgenoemde benadering sou bykans dieselfde uitwerking hê as die respondent se benadering in Thirion, behalwe dat dit formeel gesproke korrekter sou wees, aangesien die artikel 2(3)-aansoek dan nie op ontoelaatbare gronde (naamlik gebrekkige testeerbevoegdheid) teengestaan word nie. Die anomalie veroorsaak deur die Bekker-beslissing is egter dat ’n mens nie op hierdie manier die dokument kan omseil nie, omdat daar vasgestel moet word of die oorledene wel persoonlik die dokument opgestel het en ook of hy bedoel het dat daardie dokument sy testament moet wees. Alvorens gesê kan word dat die dokument faal vanweë die oorledene se gebrek aan testeerbevoegdheid, moet daar dus eers vasgestel word of die dokument wel gekondoneer kan word en dus deur die Meester as ’n "testament" vir doeleindes van die Boedelwet aanvaar moet word, en daarná kan die oorledene se testeerbevoegdheid eers ter sprake kom. Die probleem met die benadering wat hierbo bespreek is, is dus dat indien daar nie ʼn geldige testament is nie, die vraag na testeerbevoegdheid nie eens ter sprake kom nie en onnodige kosteverspilling weereens in die voorbereiding van sodanige teenaansoek sal plaasvind.

Die vraag ontstaan gevolglik of daar nie ʼn eenvoudiger benadering bestaan, waarvolgens testeerbevoegdheid, vrye wilsuiting en die vereistes van artikel 2(3) gelyktydig beoordeel kan word nie?

Myns insiens is daar een van twee opsies om te volg wanneer ʼn mens te staan kom voor ʼn artikel 2(3)-aansoek waar daar ook die moontlikheid bestaan dat die oorledene nie testeerbevoeg was ten tye van die opstel van die dokument nie. Die eerste omslagtiger opsie is dié van aansoek-teenaansoek, soos hierbo verduidelik. In só ʼn geval moet die dokument eers streng volgens die artikel 2(3)-vereistes en die Bekker-beslissing beoordeel word, en indien bevind word dat die oorledene wel bedoel het dat die betrokke dokument sy testament moet wees, moet sy testeerbevoegdheid beoordeel word.

Die alternatief is om ʼn verligter (minder gestrenge) benadering (in weerwil van Bekker) ten opsigte van artikel 2(3) voor te staan en eerder te kyk na die vraag of die oorledene bedoel het dat sy wense, soos in die dokument uitgedruk, sy laaste wense moet wees35 en nie of hy bedoel het dat die betrokke dokument sy testament moet wees nie Deur hierdie benadering word daar dus nie, soos in Bekker, gekyk na die betrokke dokument nie, maar bloot na die inhoud van die dokument en sou dit ook makliker wees om die sprong na testeerbevoegd­heid en vrye wilsuiting te maak en dit in die eerste plek te beoordeel. Die "bedoeling" in artikel 2(3) word wyer geïnterpreteer (as synde die bedoeling ten opsigte van wat met die oorledene se boedel moet gebeur teenoor bloot die bedoeling ten opsigte van die betrokke dokument), en die vraag word eenvoudig gevra of die oorledene bevoeg was om sodanige bedoeling te vorm. Daar word dus gelyktydig beoordeel of die oorledene wou bepaal wat met sy boedel moet gebeur en of hy in staat was om die aard en uitwerking van hierdie besluit te verstaan. Dié benadering sal tyd en koste bespaar maar sou verg dat ʼn ander beslissing as dié in Bekker36 eers rakende "opstel" en die "bedoeling" vereis kragtens artikel 2(3), geneem sal moet word. Die Hoogste Hof van Appèl sal dus eers sy eie gestrenge benadering in Bekker moet wysig deur die klem te laat val op die testateur se wense in teenstelling met die dokument alvorens die voorgestelde wye benadering wat ook testeerbevoegdheid kan insluit, gevolg kan word.

ʼn Verdere moontlike oplossing sou wees om hetsy by wyse van hofbeslissing of by wyse van wetswysiging, te bepaal dat die hof mero motu die vraag na testeerbevoegdheid kan beoordeel wanneer daar oor ʼn artikel 2(3)-aansoek besin moet word. Die wenslikheid van ʼn wetsbepaling om sekerheid te skep spreek vanself. Moontlik kan artikel 2(3), indien dit in sy huidige vorm en met die huidige interpretasie daaraan geheg behou word,37 uitgebrei word deur ʼn bepaling by te voeg te dien effekte dat die hof wanneer ʼn artikel 2(3)-aansoek voor die hof dien, die bepalings van artikel 4 outomaties gelyktydig mag oorweeg.

Wat ʼn beslissing deur die hof betref, is daar geen aanduiding in die Wet self dat die hof wel mero motu die vraag mag oorweeg nie, maar daar kan geargumenteer word dat dit in die openbare belang sou wees dat die hof self die vraag na testeerbevoegdheid mag opper ten einde kostebesparend te werk te gaan. Die openbare belang word heel dikwels by die erfreg as maatstaf gebruik38 en behoort veral in die lig van die basiese reg op toegang tot die howe (soos verkans deur die Grondwet, 1996) swaar te weeg. Die koste-oorweging by ʼn Hoë Hof-aansoek kan nie ontken word nie, en enige prosedure om sodanige kostes te verminder behoort sonder twyfel in die openbare belang te wees. Dit is voorts van oudsher ʼn beginsel dat regters self regskwessies wat nie deur prokureurs of advokate voor hulle geargumenteer is nie, mag oorweeg,39 hoewel hulle nie feitelike kwessies mero motu mag oorweeg nie.40 Wat die erfreg en testamente betref, en veral wat testeerbevoegdheid en kwessies in sake die geldigheid en uitleg van testamente aangaan, is die regsaspekte en feite gewoonlik so verweef dat dit onmoontlik is om die twee te skei41 en kan geargumenteer word dat die hof wel mero motu testeerbevoegd­heid mag beoordeel.

Wat die huidige regsposisie betref, blyk die aansoek-teenaansoek-prosedure egter die enigste geldende keuse (uitweg) te wees in die lig van die feit dat die gronde vir ʼn artikel 2(3)-aansoek in die subartikel uiteengesit word en nie testeerbevoegdheid insluit nie en veral ook in die lig van die interpretasie deur die Hoogste Hof van Appèl van artikel 2(3) in Bekker v Naudé.42

 

Bibliografie

Corbett MM, Hofmeyr GYS en Kahn E The law of succession in South Africa 2de uitg (Juta Lansdowne 2001)        [ Links ]

Cronjé DSP en Roos A "Een en ander oor testamentsformaliteite" 1984 De Rebus 257-261        [ Links ]

Du Toit F "Artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953 en substansiële nakoming van formaliteite: Vier uitsprake in perspektief" 1996 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 472-478        [ Links ]

Du Toit F "Enkele gedagtes rondom artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953, inlywing deur verwysing en die herlewing van herroepe testamente" 1997 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 101-104        [ Links ]

Grotius H Inleidinge Tot de Hollandsche Rechts-Geleerdheid (Gouda Quint Arnheim 1910)        [ Links ]

Jamneck J "Artikel 2(3) van die Wet op Testamente 7 van 1953: Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W)" 1995 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 341-343         [ Links ]

Jamneck J "Testeerbevoegdheid, animus testandi, testeervryheid, bedoeling en die 'bedoeling' ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente: Deel 1" 2008 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (November ter perse)         [ Links ]

Jamneck J "Testeerbevoegdheid, animus testandi, testeervryheid, bedoeling en die 'bedoeling' ingevolge artikel 2(3) van die Wet op Testamente: Deel 2" 2009 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (Februarie ter perse)         [ Links ]

Kerr "The Role of the Court in Civil Cases: The Conventional Penalties Act" 1991 South Africna Law Journal 245-248        [ Links ]

Knoetze E "Die kondoneerbaarheid van ʼn onverlyde ‘bankopgestelde’ testament - oplaas regsekerheid?: Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (HHA)" 2004 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 140-146        [ Links ]

Roos A "Die Hoogste Hof van Appèl beslis oor artikel 2(3) van die Wet op Testamente: Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (HHA); Van Wetten v Bosch 2004 1 SA 348 (HHA)" 2005 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 132-143        [ Links ]

Schoeman MC "Onbehoorlike beïnvloeding: Testeerbevoegdheid v testeervryheid" 2002 De Jure 333        [ Links ]

Schoeman MC en Van der Linde A "Artikel 2(3) en 2A van die Wet op Testamente - kondonasiebevoegdheid van die hof - verlyding en herroeping van testamente" 1995 Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg 517-523        [ Links ]

Scholtens JE "Undue influence" 1960 Acta Juridica 287        [ Links ]

Sonnekus JC "’n Sertifiserende beampte se hoedanigheid by testamente, die gesloer met wetswysiging en favor testamenti" 1991 South African Law Journal 13-21        [ Links ]

Van der Keessel DG Praelectiones ad Jus Criminale (Juta 1969)        [ Links ]

Van der Linde A "Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K)" 1996 De Jure 391        [ Links ]

Van der Merwe NJ en Rowland CJ Die Suid-Afrikaanse Erfreg 6de uitgawe (Van der Walt Pretoria 1990)         [ Links ]

Voet J The selective Voet by Johannes Voet and the supplement to the work by Johannes van der Linden: With explanatory notes and notes of all South African reported cases by Percival Gane 2 [Books V - XII] (Butterworth Durban 1955)        [ Links ]

 

Register van wetgewing

Boedelwet 66 van 1965

Wet op Testamente 7 van 1953

 

Register van hofsake

Anderson and Wagner v The Master 1996 3 SA 779 (K)

Aronson v Estate Hart 1950 1 SA 539 (A)

Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K)

Bekker v Naudé (2001) 2 All SA 439 (W); 2003 5 SA 173 (HHA)

De Reszke v Maras 2003 6 SA 676 (K); 2006 1 SA 401 (K); 2006 2 SA 277 (HHA)

De Swardt, Ex parte 1998 2 SA 204 (K)

De Wayer v SPCA Johannesburg 1963 1 SA 71 (T)

Edgington v Fitzmaurice (1885) 29 Ch D 459

Essop v Mustapha and Essop 1988 4 SA 213 (D)

Geldenhuys v Borman 1990 1 SA 161 (OK)

Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D)

Henwick v The Master 1997 2 SA 326 (K)

Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W)

Jeffrey v The Master 1990 4 SA 759 (N)

Kidwell v The Master 1983 1 SA 509 (OK)

Kirsten v Bailey 1976 4 SA 108 (K)

Kotze v Die Meester 1998 3 SA 523 (NK)

Laxton, Ex parte 1998 3 SA 238 (N)

Letsekga v The Master 1995 4 SA 731 (W)

Logue v The Master 1995 1 SA 199 (N)

Millward v Glaser 1949 4 SA 931 (A)

Minister of Education v Syfrets Trust Ltd 2006 4 SA 205 (K)

Ndebele v Master of the Supreme Court 2000 2 SA 102 (K)

Olivier v Die Meester: In re boedel wyle Olivier 1997 1 SA 836 (T)

Philip v The Master 1980 2 SA 934 (D)

Preller v Jordaan 1956 1 SA 483 (A)

Radley v Stopforth 1977 2 SA 516 (A)

Ramlal v Ramdhani’s Estate 2002 2 SA 643 (N)

Rapson v Putterill 1913 AD 417

Schnetler v Meester van die Hooggeregshof 1999 4 SA 1250 (K)

Spies v Smith 1957 1 SA 539 (A)

Thirion v Meester van die Hooggeregshof [2002] 1 All SA 346 (T)

Tregea v Godart 1939 AD 16

Tshabalala v Tshabalala 1980 1 SA 134 (O)

Webster v The Master 1996 1 SA 34 (D)

Williams, Ex parte: In re Williams’ Estate 2000 4 SA 168 (T)

 

 

* Die doel van hierdie bydrae is uitsluitlik om te wys op probleme rakende litigasie in art 2(3)-aansoeke en dit te vergelyk met probleme in sake testeerbevoegdheid wat dikwels opduik. Die doel is nie om art 2(3) teenoor art 4 te stel en die "bedoeling" soos vereis in art 2(3) te kontrasteer met "bedoeling" as algemene begrip in die Erfreg of met die animus testandi nie. Lg vergelykings word breedvoerig bespreek in artikels ter perse, sien Jamneck 2008 THRHR (Nov) en 2009 THRHR (Feb) rakende testeerbevoegd­heid, animus testandi, testeervryheid, bedoeling en die 'bedoeling' ingevolge art 2(3) van die Wet op Testamente.
1 Sien, as voorbeelde van sodanige toepassing van formaliteite, Radley v Stopforth 1977 2 SA 516 (A); Philip v The Master 1980 2 SA 934 (D); Kidwell v The Master 1983 1 SA 509 (OK); Tshabalala v Tshabalala 1980 1 SA 134 (O); Jeffrey v The Master 1990 4 SA 759 (N); Cronjé en Roos 1984 DR 257-261; Sonnekus 1991 SALJ 13-21.
2 Sien Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W); Jamneck 1995 THRHR 341-343.
3 Soos gedefinieer deur art 4 van die Wet op Testamente 7 van 1953: "Elkeen wat sestien jaar of ouer is, kan ’n testament maak tensy hy wanneer hy die testament maak verstandelik onbekwaam is om die aard en uitwerking van sy handeling te begryp, en die bewyslas dat hy op daardie tydstip verstandelik onbekwaam was, rus op die persoon wat dit beweer." Sien Van der Merwe en Rowland Erfreg 205; Tregea v Godart 1939 AD 16 38; Essop v Mustapha and Essop 1988 4 SA 213 (D) 222. In Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D) stel die hof die verskil ook duidelik (644B): "He may appreciate the meaning of the document [itv art 2(3)] and approve of its contents and yet may lack the understanding or mental capability necessary for the execution of a valid will."
4 Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W); Logue v The Master 1995 1 SA 199 (N); Letsekga v The Master 1995 4 SA 731 (W); Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K); Webster v The Master 1996 1 SA 34 (D); Anderson and Wagner v The Master 1996 3 SA 779 (K); Olivier v Die Meester: In re boedel wyle Olivier 1997 1 SA 836 (T); Henwick v The Master 1997 2 SA 326 (K); Ex parte De Swardt 1998 2 SA 204 (K); Ex parte Laxton 1998 3 SA 238 (N); Kotze v Die Meester 1998 3 SA 523 (NK); Ex parte Williams: In re Williams’ Estate 2000 4 SA 168 (T); Ndebele v Master of the Supreme Court 2000 2 SA 102 (K); Ramlal v Ramdhani’s Estate 2002 2 SA 643 (N); Bekker v Naudé (2001) 2 All SA 439 (W); 2003 5 SA 173 (HHA); De Reszke v Maras 2003 6 SA 676 (K); 2006 1 SA 401 (K); 2006 2 SA 277 (HHA).
5 Hoewel daar in Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D) pertinent op die verskil tussen die bedoeling vereis deur art 2(3) en testeerbevoegdheid verwys is, hanteer die hof nie die vraag na die praktiese probleem hier onder bespreking nie, nl: Hoe moet die hof ʼn formeel gebrekkige testament hanteer waar daar ook sprake is van testeeronbevoegdheid?
6 Sien art 8(3) van die Boedelwet 66 van 1965.
7 Millward v Glaser 1949 4 SA 931 (A); Preller v Jordaan 1956 1 SA 483 (A); Spies v Smith 1957 1 SA 539 (A); Kirsten v Bailey 1976 (4) SA 108 (K); Scholtens 1960 Acta Juridica 287; Schoeman 2002 DJ 333. Vir prosedure-aangeleenthede by aanvegting van testamente in die algemeen, sien Corbett, Hofmeyr en Kahn Law of succession 641.
8 Sien art 8(4) van die Boedelwet 66 van 1965 asook Kidwell v The Master 1983 1 SA 509 (OK); Jeffrey v The Master 1990 4 SA 759 (N). Sien ook die sake genoem in n 3.
9 Oor art 2(3) in die algemeen, sien Du Toit 1996 THRHR 472-478; Du Toit 1997 THRHR 101-104; Schoeman en Van der Linde 1995 THRHR 517-523; Jamneck 1995 THRHR 341; Van der Linde 1996 DJ 391; Knoetze 2004 THRHR 140-146; Roos 2005 THRHR 132-143.
10 Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W); Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D); Thirion v Meester van die Hooggeregshof [2002] 1 All SA 346 (T); De Reszke v Maras 2003 6 SA 676 (K); 2006 1 SA 401 (K); 2006 2 SA 277 (HHA).
11 1995 1 SA 48 (W) 49.
12 Jamneck 1995 THRHR 341.
13 [2002] 1 All SA 346 (T).
14 2003 6 SA 676 (K); 2006 1 SA 401 (K); 2006 2 SA 277 (HHA).
15 In beide die hof van eerste instansie en die volbankbeslissings in De Reszke word getuienis rakende die oorledene se fisieke en geestestoestand ondersoek - 2003 6 SA 677 (K) 681; 2006 1 SA 401 (K) 409-411. So ʼn ondersoek behoort geensins oorweeg te word by ʼn artikel 2(3)-aansoek nie. Aangesien die volbank egter beslis dat die oorledene nie bedoel het dat die dokument sy testament moet wees nie, word daar gelukkig nie verder daarop ingegaan nie. Die Hoogste Hof van Appèl het voorts ook op die art 2(3)-vereiste bedoeling gekonsentreer en geensins testeerbevoegdheid in aanmerking geneem nie.
16 Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W); Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D); Thirion v Meester van die Hooggeregshof [2002] 1 All SA 346 (T); De Reszke v Maras 2003 6 SA 676 (K); 2006 1 SA 401 (K); 2006 2 SA 277 (HHA).
17 2006 1 SA 401 (K).
18 2006 1 SA 401 (K) 408-411. Voorts skemer dit ook deur (408-411) dat die hof onbehoorlike beïnvloeding vermoed het agv besoeke van een van die begunstigdes aan die oorledene asook agv bemakings wat aan sy assistent gemaak is.
19 2006 1 SA 401 (K) 412.
20 2006 1 SA 401 (K) 410H.
21 Sien ook die feite van Thirion v Meester van die Hooggeregshof [2002] 1 All SA 346 (T).
22 Volgens die HHA in Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (HHA).
23 2003 5 SA 173 (HHA). Sien ook Knoetze 2004 THRHR 140; Roos 2005 THRHR 142.
24 2006 2 SA 277 (HHA).
25 2003 5 SA 173 (HHA).
26 Die benadering in Thirion v Meester van die Hooggeregshof [2002] 1 All SA 346 (T) waar ʼn art 2(3)-aansoek op grond van testeerbevoegdheid teengestaan is, kan dus nie aanvaar word nie. Sien ook Harlow v Becker 1998 4 SA 639 (D).
27 Sien Corbett, Hofmeyr en Kahn Law of succession 641.
28 Sien Jamneck 1995 THRHR 343.
29 Van der Merwe en Rowland Erfreg 185, 205.
30 Vrywillige wilsuiting is ’n basisvereiste vir die geldigheid van testamente en het eintlik niks met testeerbevoegdheid te doen nie. Die toets vir testeerbevoegdheid het egter vermeng geraak met die faktore wat in aanmerking geneem moet word ten einde te bepaal of die testateur inderdaad ’n vrywillige wilsuiting gemaak het - met ander woorde, by bepaling van die vraag na die basis-vereiste. Sien Jamneck 2008 THRHR en 2009 THRHR. Indien ’n testateur ‘n testament onder dwang of as gevolg van onbehoorlike beïnvloeding teen sy wil maak, is sodanige testament ongeldig aangesien dit nie die testateur se wil bevat nie maar dié van iemand anders. Om hierdie gebrek aan vrye wilsuiting te bewys, kan ook problematies wees (sien Millward v Glaser 1949 4 SA 931 (A); Preller v Jordaan 1956 1 SA 483 (A); Spies v Smith 1957 1 SA 539 (A); Kirsten v Bailey 1976 4 SA 108 (K)).
31 Sien Edgington v Fitzmaurice (1885) 29 Ch D 459 483; Rapson v Putterill 1913 AD 417; Tregea v Godart 1939 AD 16; Essop v Mustapha and Essop 1988 4 SA 213 (D); Geldenhuys v Borman 1990 1 SA 161 (OK).
32 Sien bv Rapson v Putterill 1913 AD 417; Tregea v Godart 1939 AD 16; Essop v Mustapha and Essop 1988 4 SA 213 (D); Geldenhuys v Borman 1990 1 SA 161 (OK).
33 Sien ook Horn v Horn 1995 1 SA 48 (W); Logue v The Master 1995 1 SA 199 (N); Schnetler v Meester van die Hooggeregshof 1999 4 SA 1250 (K).
34 Back v Master of the Supreme Court [1996] 2 All SA 161 (K); Ex parte De Swardt 1998 2 SA 204 (K); Ex parte Williams: In re Williams’ Estate 2000 4 SA 168 (T); Ndbebele v Master of the Supreme Court 2000 2 SA 102 (K); Bekker v Naudé (2001) 2 All SA 439 (W); Ramlal v Ramdhani’s Estate 2002 2 SA 643 (N); Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (HHA).
35 Dié argument word breedvoerig bespreek in artikels ter perse, sien Jamneck 2008 THRHR (Nov) en 2009 THRHR (Feb) rakende testeerbevoegd­heid, animus testandi, testeer­vryheid, bedoeling en die 'bedoeling' ingevolge arti 2(3) van die Wet op Testamente.
36 Die Hoogste Hof van Appèl sal dus eers sy eie beslissing moet omverwerp.
37 Die interpretasie soos deur die HHA in Bekker v Naudé 2003 5 SA 173 (HHA) daaraan geheg.
38 Sien bv Aronson v Estate Hart 1950 1 SA 539 (A); De Wayer v SPCA Johannesburg 1963 1 SA 71 (T); Minister of Education v Syfrets Trust 2006 4 SA 205 (K).
39 Grotius Inleidinge 3.37.9; Van der Keessel Praelectiones 3.37.9; Voet 5.1.49 Gane vertaling Vol 2.
40 Kerr 1991 SALJ 245-248.
41 Sien alle sake hierbo genoem en veral dié in n 3 en n 6.
42 2003 5 SA 173 (HHA).