SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.19 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Fundamina

On-line version ISSN 2411-7870
Print version ISSN 1021-545X

Fundamina (Pretoria) vol.19 n.1 Pretoria Jan. 2013

 

Vetustas, onheuglike tye en die Witpad by Langebaan

 

 

JM Otto

Professor in Regsgeleerdheid, Universiteit van Johannesburg

 

 


ABSTRACT

The origin of the principles constituting the doctrine of vetustas can be traced back to the Digest. It would be wrong, it is submitted, to regard it as a fully-fledged doctrine in Roman law. The doctrine was developed in European countries under the influence of canon law and particularly through the works of the Pandectists. According to the basic principles of vetustas the public obtains a right to make use of some "public servitude" such as a road or aquaduct on account of usage by the public of such facility since time immemorial. "Time immemorial" in the classic sense means since a moment in time that is unknown to any living person. It is permissible to produce hearsay evidence in terms of which people who are still alive testify that their forbears already made use of the facility or construction. There are many older South African cases in which the principles of immemorial user or immemorial custom have been applied, often without referring to old authorities or even mentioning vetustas. However, in later cases the principles of vetustas as such were spelled out and applied. The South African courts relaxed the rule a bit by accepting that a right has indeed been exercised since time immemorial if it is proved that the usage has been in existence for more than thirty years and no evidence rebutting the presumption that is created in the process can be adduced. Vetustas, although showing similarities with prescription, should not be confused or placed on an equal footing with servitutes created through prescription, because there are important differences, as is pointed out in the article.
Vetustas is not the type of doctrine that attracts the attention of the courts too often. Very recently, however, a case was reported in which vetustas was applied. The decision is The Langebaan Ratepayers' and Residents' Association v Dormell Properties 391 (Pty) Ltd 2013 (1) SA 37 (WCC). The court found in this case that the public obtained a right to use a certain road through use since time immemorial. This article fairly comprehensively deals with the decision in this case and the background to the dispute.


 

 

If a servitude has been exercised or enjoyed de facto during the whole period of living memory, it is presumed to have had a lawful origin beyond the period of living memory (vetustas - immemorial usage). Living memory means the memory of living persons of events within their experience and their recollection of what they have heard from others no longer living. In the absence of evidence to the contrary a servitude which has been exercised or enjoyed for thirty years is deemed to have been exercised or enjoyed for the whole period of living memory ... It is not essential that the usage alleged should satisfy the conditions necessary to establish a claim based upon prescription.1

 

1 Inleiding

Vetustas is nou nie juis 'n leerstuk wat voortdurend die howe of skrywers besig hou nie. Trouens, die meeste sake waarin die leerstuk op 'n manier2 toegepas is, is stokou sake. Die jongste saak oor die aangeleentheid,3 wat dan ook die uiteindelike fokuspunt van hierdie artikel is, verwys egter spesifiek na vetustas en die uiteindelike uitspraak berus op die beginsels van dié leerstuk.

Die geskilpunte en die feite in die Langebaan-saak4 word hieronder5 volledig uiteengesit. Agtergrondinligting wat gegrond is op 'n besoek ter plaatse deur skrywer dese mag egter vir die leser interessant wees. Die Witpad6 was vroeer jare deel van 'n lang stuk pad wat vanaf Langebaan suid na Kaapstad se kant toe geloop het.7 Dit het onder meer oor strande geloop en was uiteraard moeilik onderhoubaar. Die deel van die pad, bekend as die Witpad, wat vandag gebruik word deur motoriste, voetgangers en motorfietsryers is maar sowat 1500 meter lank.8 Dit loop vanuit die dorp Langebaan en sluit dan aan by 'n teerpad wat toegang bied tot die Weskus Nasionale Park. Die Witpad is redelik hoog bo seevlak gelee en bied 'n pragtige uitsig op die onbeskryflik mooi turkoois-kleur strandmeer daaronder en die Atlantiese oseaan in die verte. Inwoners en besoekers neem 'n voetpaadjie wat uit die Witpad loop om die strand te bereik.

Oos van die Witpad is daar enkele huise en verderaan onbeboude koppies met fynbos op. Die eienaar van die onontwikkelde grond het op 'n stadium 'n gedeelte van die Witpad gesluit soos wat meer volledig sal blyk uit die bespreking van die Langebaan-saak.9 Die hek is aangebring sowat 600 meter vanwaar die pad uit die dorp Langebaan begin en die eienaars van huise tot op daardie punt het dus steeds toegang tot hulle wonings gehad. Die twispunt tussen die partye het gehandel oor die res van die sowat 900 meter van die Witpad wat vir inwoners en besoekers taboe was sonder 'n permit.

 

2 Die leerstuk van vetustas

2 1 Inleiding en terminologie

Vetustas was al aan die Romeine bekend. Wanneer 'n mens tersaaklike tekste in die Digesta raadpleeg, kom jy tot die gevolgtrekking dat dit verkeerd sou wees om te praat van 'n omvattende en gesofistikeerde Romeinsregtelike leerstuk in hierdie verband. Vetustas as regsinstelling is eers na die Romeinse tyd gedurende die middeleeue10 in Europa en veral onder die invloed van die kanonieke reg ontwikkel.11 Die pandektiste het goeie bydraes daaroor gelewer soos wat hieronder12 sal blyk.

As linguistiese begrip beteken vetustas in Afrikaans letterlik "die oudheid".13 Vetustas word deur Ankum en Hartman onder meer vertaal as 'n "toestand die zeer lang bestaat".14 Hiemstra en Gonin vertaal vetustas met "onheuglike gebruik/immemorial use",15 terwyl Claassen vetustas met "immemorial user, or custom" vertaal.16

2 2 Die grondreels van vetustas en skrywers se menings

Wat die Romeinse reg betref kan daar verwys word na wat Ulpianus oor die onderwerp te se het:17"[I]n die gevallen waarin er geen [bewijs voor de vestiging van een] erfdienstbaarheid te vinden is, degene die de erfdienstbaarheid gedurende lange tijd uitgeoefend heeft en die dit niet onder gebruikmaking van geweld, ter bede of heimelijk18 heeft gedaan, geacht wordt de erfdienstbaarheid door langdurige gewoonte verkregen19 te hebben ... ." Paulus stel dit voorts uitdruklik dat vetustas een van die drie erkende wyses is waarop 'n serwituut gevestig kan word.20 Vir sover dit openbare plekke en paaie betref, is Ulpianus ook van mening dat plaaslike paaie wat daargestel is deur privaatskenkings van grond waarvan daar geen herinneringe meer is nie, ook as openbare paaie beskou word.21 Elders word Paulus aangehaal waar hy se daar is drie maniere om serwitute te bekom wat gebruik van water betref, naamlik deur wetgewing, die ligging van die grond en gevestigde gewoonte.22 Dit blyk dus dat die Romeine wel die vetustas-leerstuk geken en toegepas het, maar dat daar maar weinig daaroor geskryf is.

Die Romeins-Hollandse skrywer Voet, waarskynlik die mees invloedryke ou skrywer op die gebied van die privaatreg wat die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse reg aanbetref, het hom ook uitgelaat oor die burepad.23 Hy skryf dat 'n burepad tot stand kan kom wanneer grondeienaars toegelaat het dat die pad gebruik word "especially if no remembrance still exists of the establishment of them".24

Die pandektis Goudsmit bespreek die leerstuk van vetustas onder die opskrif "Onheuglijke tijd25 (vetustas, praescriptio immemorialis, indefinita, immemoriale tempus)".26 Hy wys daarop dat die Romeinsregtelike beginsels betreffende vetustas in latere eeue in verskeie Europese lande uitgebrei is - onder meer vanweë die invloed van die kanonieke reg.27 Hy beskryf vetustas soos volg:

Heeft een toestand zoo lang geduurd, dat zijn aanvang ligt buiten het bereik van's menschen geheugen, zoo word zijn wettige oorsprong vermoed en het bewijs daarvan ontbeerlijk ... Het menschengeheugen bepaalt zich echter niet bloot tot eigen waarneming, maar strekt zich ook uit tot mededeelingen den nog levenden door hunne voorgangers gedaan.28

Soos Windscheid dit stel, die herinneringe aan of geheue ("Gedenken") van die gebruik is nie beperk tot waarnemings van die lewendes nie, maar ook "welche die jezt Lebenden von den bereits Gestorbenen vernommen haben".29

Die teenparty moet volgens Goudsmit die volgende bewys:

Het tegenbewijs zal tot voorwerp hebben, niet dat hetgeen thans is, eens niet geweest is, hetgeen in betrekking tot elken toestand geldt, maar veeleer, dat de tegenwoordige toestand op eene gebrekkige wijze is ontstaan, zoodat daardoor geen recht kon worden gevestigd, en tevens dat deze onrechtmatige verwerving met het tegenwoordige in een voortdurenden en onafgebroken samehang is gebleven gedurende de twee laatste men-schengeslachten.30

In die fraai, dog soms moeilik leesbare Gotiese skrif van die tyd, lees 'n mens by Puchta die volgende: "Ein Recht wird darum als erworben betrachtet, weil es so lange ausgeubt worden ist, dap der Anfang dieser Ausubung uber Menschen Gedenken hinausliegt; dies heist im romischen Recht vetustas"31

Die een pandektis na wie ek geen verwysing gesien het deur skrywers of in die regspraak nie, is Dernburg. In die woordindeks van sy werk32 verwys hy na vetustas33 en bespreek dit dan by 'n gedeelte van sy werk wat handel oor die invloed van tydsverloop op die vestiging van 'n aanspraak. Hy doen dit onder die opskrif Die unvordenkliche Zeit.34 Soos ander skrywers wys hy daarop dat die Duitse en kanonieke reg die beskerming van persone uitgebrei het wat sedert lang tye die voorreg geniet het van 'n toestand wat ontstaan het juis deur sulke gebruik. Daar word 'n positiewe en 'n negatiewe element vereis, skryf Dernburg. Die positiewe element is daarin gelee dat "der Zustand seit sehr langer Zeit ununterbrochen dauerte".35 Die negatiewe vereiste is "das keine sichere Stunde von einem anderen Zustande im menschlichen Gedachtnisse lebt".36

'n Suksesvolle aanspraak op vetustas, soos wat die leerstuk deur die pandektiste ontwikkel is, vereis dus die bewys van 'n toedrag van sake wat sedert onheuglike tye bestaan het. Dit beteken dat dit so ver in die verlede le dat niemand meer kan onthou wanneer dit 'n aanvang geneem het nie.37 Die bevoegdheid moes "vir 'n geruime tyd" uitgeoefen gewees het alvorens daar aan die vereistes van vetustas voldoen is.38 In die Suid-Afrikaanse regspraak het die reel egter mettertyd ontstaan dat bewys van onafgebroke gebruik van meer as dertig jaar 'n vermoede laat ontstaan dat die reg sedert onheuglike tye gebruik is.39 Die vermoede wat deur die verloop van dertig jaar geskep word moet nie verwar word met, of gelyk gestel word aan, die normale verkrygende verjaringstermyn nie. Dit is duidelik gestel deur hoofregter De Villiers in Ludolph v Wegner.40 Bewys van 'n gebruik wat dertig jaar en meer bestaan het, maak dit vir 'n hof moontlik om te beslis dat die gebruik sedert onheuglike tye bestaan, tensy daar getuienis ter weerlegging aangevoer word wat aantoon "as to when the custom originated".41 Die vermoede kan dus weerle word onder meer deur te bewys dat die publiek die reg sedert 'n bepaalde, bekende tydstip begin uitoefen het.42 Dan is dit eenvoudig nie meer onheuglik nie.

Vetustas vertoon baie ooreenkomste met verjaring maar daar is ook wesenlike verskille43 en moet daarvan onderskei word.44 Die mees ooglopende verskille is:

  • Vetustas "kan die grondslag van 'n aanspraak op publieke diensbaarhede wees, terwyl verjaring slegs by die verkryging van liggaamlike sake en private diensbaarhede van toepassing is".45
  • Vetustas is op die handelinge van onbepaalde persone, te wete die publiek, baseer. Verjaring vereis die optrede van bepaalde persone.46
  • Vetustas word deur die gemenereg gereel, terwyl verjaring deur die gemenereg sowel as die Verjaringswet47 gereel word.48

 

3 Suid-Afrikaanse regspraak

Die beginsel dat 'n reg49 oor 'n grondstuk ten gunste van die publiek deur langdurige gebruik gevestig kan word, is wel bekend aan die Suid-Afrikaanse regspraak. Uit die beslissings wat hieronder weergegee word,50 blyk dit dat die howe, veral in die ou sake, dikwels op die beginsel van "immemorial user" gesteun het om te bevind dat daar 'n reg gevestig is. Die woord vetustas kom glad nie eens voor in die ou sake nie. Hierdie reg is gewoonlik as 'n serwituut beskou en ook so genoem. Dit is duidelik die tipe regte wat Olivier, Pienaar en Van der Walt51 publieke diensbaarhede noem.

Reeds in Junie 1876 het daar 'n geskil betreffende langdurige gebruik van 'n smal paadjie voor 'n Kaapse volbank gedien.52 Hoofregter De Villiers53 het die uitspraak gelewer. Uit die getuienis het dit geblyk dat daar sedert die stigting van die dorpie Malmesbury 'n deurgang van agt voet wyd was wat Church Street en Riebeck54 Street verbind het. Vir meer as dertig jaar is dit deur mens en dier as roete gebruik om by sekere geboue uit te kom. Nadat 'n stuk grond neffens die paadjie verkoop is, het die koper 'n muur daaroor gebou wat in die verkoper se weg gestaan het wanneer hy sekere van sy geboue wou bereik. Hoofregter De Villiers wys daarop dat "servitutes"55 op verskeie wyses tot stand kan kom: deur vergunning, deur verjaring of op 'n ander wyse wat die reg erken. Hy bevind dat daar nie in casu 'n noodweg tot stand gekom het nie maar wel 'n uia uicinalis; 'n burepad. Hy beroep hom hiervoor op die Romeinse reg en die Romeins-Hollandse reg as gesag maar verwys hoegenaamd nie na enige spesifieke tekste of bronne nie. Hy beskryf hierdie tipe pad soos volg: "It is either a road in a village or a road leading to a town or village, which has been used by the public from time immemorial without any objection or hindrance from the neighbours over whose land it runs."56

Die hof beslis voorts dat 'n eiser getuienis moet voorle dat 'n pad vir dertig jaar of meer gebruik is ten einde suksesvol te wees in sy aanspraak. Die hof het 'n bevel toegestaan wat aan die eiser 'n reg van weg verleen het.

In 1886 maak ene Duncan Mackenzie beswaar teen die gebruik van 'n pad oor sy plaas aan die oewer van die Umgenirivier. Die verweerders bewys dat hulle en hul voorgangers die pad, wat ook op 'n diagram van die plaas opgeteken is, vir vyf en dertig jaar ononderbroke gebruik het. Trouens, die pad het al bestaan voordat Natal deur die Britse regering geannekseer is57 en is sedertdien deur die publiek, die verweerders en hulle bure gebruik. Die hof verwys na enkele gemeenregtelike gesag maar steun grootliks op 'n saak in die House of Lords waarin Skotse reg met betrekking tot verjaring toegepas is. Die hof bevind dat 'n openbare weg in die geval voor hande wel bestaan het en dat die eiser onsuksesvol is in sy aanspraak dat die pad nie gebruik moet word nie.58

In Allen v Colonial Government59 het 'n twee-en-tagtigjarige man getuig dat hy die pad tussen Drakenstein en Paarl van sy kinderdae af geken het en dat dit vryelik gebruik is, lank voordat die eerste spoorwegstasie waartoe die pad uiteindelik sou lei in 1857 deur 'n privaat ondernemer gebou is en in 1872 aan die koloniale owerheid verkoop is. Die hof60 het bevind "as far back as the memory of man goes this was a public road, and there is no evidence that the memory of man runs to the contrary thereof. I therefore come to the conclusion that the old road in question was a via vicinalis, by immemorial use, when the railway was built".61 Dat die roete van die pad later effens afgewyk het van die oorspronklike roete is nie belangrik nie omdat omstandighede so iets mag vereis.

'n Afwyking van die tema van paaie is die kwessie van weidingsregte. In Songica v Mpangela62 het twee gemeenskappe teen mekaar te staan gekom oor die bestaan van weidingsregte op gemeenskaplike grond.63 Die kaptein van die een gemeenskap het die ander se beeste laat skut en die ongelukkige eienaars het die skutgeld wat hulle onder protes betaal het van die verweerders geeis. Namens die eisers het 'n aantal getuies tussen die ouderdomme van drie-en-sestig en nege-en-sewentig jaar getuig dat hulle van kleintyd af beeste opgepas het wat gewei het op die gemeenskaplike grond waaroor die geskil gehandel het. Daar was nooit 'n dispuut hieroor nie. Die hof het dit duidelik gestel dat dit in hierdie saak nie gaan oor verjaring nie, maar wel of die eisers bewys het dat hulle sedert "time immemorial" weidingsregte uitgeoefen het. Die hof het op die getuienis bevind dat dit wel die geval was. Die hof het na geen gesag in die uitspraak verwys nie.

In Myburgh v Van der Byl64 het die reg van oewereienaars om water uit 'n kanaal te onttrek ter sprake gekom. Die oorspronklike eienaar van die plaas "Welmoed" het in 1805, toe hy reeds die plaas bewoon het maar voordat hy eienaar geword het, 'n kanaal gebou om water uit die Eersterivier65 beskikbaar te stel aan ander grondeienaars. Hulle het vir jare daarvan gebruik gemaak en die kanaal is mooi onderhou. "Welmoed" is later onderverdeel en oor 'n tydperk het al die plase van eienaars verwissel. Toe 'n geskil ontstaan oor die gebruik van water uit die mensgemaakte kanaal het daar, om dit nou so te stel, reeds baie water in die see gevloei en onder deur die brug gestroom. Trouens, dit was al bykans sewentig jaar later toe die geskil in hierdie saak voor die hof gedien het.66 Die hof het die reg van die gebruikers van die waterleiding bevestig en die volgende daaroor te se gehad:

This right had its origin, not in prescription, which could not under the circumstances strictly apply, but in the quality which long usage and common user had impressed upon the watercourse ... It is not unusual practice in this Court to apply the test of long usage and common user, in order to ascertain the legal nature of the stream.67

Dit moet dadelik uitgewys word dat hierdie nie 'n klassieke geval van vetustas is nie. Immers, die datum waarop die reg by wyse van vergunning of ooreenkoms gevestig is, staan vas. Dit was 1805. Daar was dus nie sprake van onheuglike tye nie.68 Hierdie saak skep dus die moontlikheid, so kom dit my voor, dat 'n publieke diensbaarheid ook deur langdurige gebruik gevestig kan word buite die gewone reels van verjaring en vetustas om. Wat die reels in hierdie verband moet wees, is onbekend. Moontlik het die hof bloot die punt mis gekyk dat die tyd nie onheuglik was nie.

Van Heerden v Pretorius69 dien as voorbeeld van 'n geval waar langdurige gebruik nie die gebruikers 'n reg besorg het nie omdat die grondeienaars voortdurend toestemming om die trekpad te gebruik onderbreek het, en daar ook nie sprake van onheuglike tye was nie. In die saak kom die bepalings van 'n sekere Trekpadwet van 1908 ter sprake maar dit is nie vir huidige doeleindes van belang nie. Hoofregter de Villiers het op die getuienis bevind dat die gebruik van die trekpad70 "was too intermittent to establish immemorial custom".71

Appelregter Innes se in sy uitspraak dat daar geen rede is om 'n trekpad anders te hanteer as enige ander bureweg72 nie. Maar, voeg hy by,

this is not a case where the origin of the [path] is lost in the mists of the past. We know that the track was first used as a bridle-path about the year 1870. And it has been already held that there is no sufficient proof of its general use by the public as a trek-path up to 1887 to bring it within the condition of a grant. The finding is really fatal to the defendant's contention with regard to immemorial user. Because whatever may be the basis upon which that doctrine rests, it could never operate in respect of a user the origin of which is well known, and the duration of which has been considerably less than the period of prescription.73

In Nel v Louw74 het die hof op die feite bevind dat 'n trekpad vir vee ten gunste van die bree publiek nie deur gebruik sedert onheuglike tye tot stand gekom het nie. Die hof le egter belangrike beginsels neer in die volgende dicta:

Ek is van opinie dat die beginsel dat openbare regte by wyse van verjaring geskep kan word nie gegrond is nie en dit, om rede dat verjaringsregte alleen as gevolg van die optrede van individue geskep kan word en dat die optrede van individue nie die uitwerking kan he dat baie ander individue, wat nie eens deel geneem het in die skepping van die sogenaamde openbare regte, ook dieselfde regte kon verkry het nie75 ... Vetustas as 'n wyse waardeur 'n serwituut tot stand kan kom vereis die bewys van die bestaan van 'n toestand van sake wat vir so 'n lang tydperk bestaan het dat menslike geheuenis nie so ver strek om die omstandighede wat die toestand van sake in die lewe geroep het te kan vasstel nie. Bewys van hierdie aard laat 'n vermoede rys dat die serwituutreg 'n regmatige oorsprong gehad het.76 Dit kan onderskei word van verjaring as 'n wyse van die verkryging van 'n serwituut omrede dat dit nie van die optrede van individue afhanklik is nie, soos met verjaring die geval is ... Waar dit bewys word dat 'n sodanige reg onafgebroke vir meer as dertig jaar geniet word en dit word nie bewys wanneer dit ontstaan het nie, kan 'n Hof 'n bevinding maak dat dit 'n gevestigde reg geword het.77

Die feite in De Beer v Van der Merwe78 is nie werklik van belang nie. Wat belangrik is van hierdie uitspraak is dat die appelhof redelik volledig aandag gee aan die leerstuk van vetustas as sodanig met verwysing na gesag uit die Digesta en enkele van die pandektiste. Die hof maak die volgende belangrike opmerkings:

Prescription is based on the exercise of an unlawful act; Vetustas on a lawful origin, pro lege79 ... By vetustas is understood a condition of things beyond living memory -immemorial usage. If it can be shown, or does appear how and when a particular work or construction80 was originally made, the doctrine of vetustas does not apply.81

 

4 Die beslissing in The Langebaan Ratepayers' and Residents' Association v Dormell Properties 391 (Pty) Ltd82

Die applikant het 'n interdik aangevra wat die respondent sou verbied om die gedeelte van die Witpad wat in geskil is te sluit en het verder 'n verklarende bevel versoek wat die Witpad tot 'n publieke serwituut verklaar op grond van "ancient use or immemorial use". Die applikant het voorts 'n bevel gevra dat die pad, wat op 15 Mei 2011 gesluit is, heropen word. Die respondent het dit teengestaan en aangevoer dat die Witpad privaat eiendom is en dat die publiek nie daarop geregtig is om dit te gebruik nie.83

Die hof het 'n geskiedkundige oorsig van die pad en sy wel en wee gegee:84 'n Gedeelte van die Witpad is in 1968 as 'n provinsiale pad geproklameer maar in 1991 het deproklamasie plaasgevind toe die owerhede 'n teerpad gebou het wat as deurpad vir die dorp Langebaan gebruik kon word. Die respondent het die gewraakte deel van die Witpad op 15 Mei 2011 gesluit en onder meer gesteun op 'n brief van die landmeter-generaal wat meegedeel het dat deproklamasie tot gevolg gehad het dat die pad nou die respondent se privaat eiendom is. Die applikant het aangevoer dat dit nie die publiek se antieke reg om die pad te gebruik tot niet gemaak het nie. Ten einde gebruik sedert vergange tye te bewys is daar namens die applikant onder meer gesteun op die kaart uit die Kaapse argiewe waarna vroeer85 verwys is en wat die pad vanaf Langebaan na Kaapstad aandui. Daar is ook geskiedkundige gegewens voorgele dat die oorspronklike pad soos hy verder geloop het vir landboudoeleindes gebruik was.86 Voorts het twee bejaarde inwoners (in hulle sewentigerjare) getuig dat hulle van kleins af die pad ongehinderd gebruik het om skool toe, kerk toe, of winkel toe te gaan of seegras te gaan pluk om te verkoop. Dit was ook gemeensaak dat die tersaaklike deel van die Witpad deur die publiek gebruik is om op te ry of te stap. Die respondent het voet by stuk gehou dat die deproklamasie van "Division 1162"87 volgens die landmeter-generaal se brief hom die privaat eienaar van die grond gemaak het.

Die respondent het verder aangevoer dat "there is nothing to suggest that the gravel road88 was at any time used as an access road to the shore, or that the public could freely trespass and trample over all of the private land laying adjacent to the shore".89 Die respondent sluit af met die volgende stelling: "The gravel road does not lead to such an area,90 and it cannot be used to gain access to the shore at all."91 Die hof het beslis dat die respondent nie gehandel het met

the averment about the anonymous writer who stayed at the Farm Theefontein (between 1795 and 1803) and used the route of the White Road to travel to Saldanha, nor does it deal with the averment that the farmers used the same route when going to deliver the grain ... what Scapellini further avers, that the gravel road does not lead to the lagoon, is not correct because, attached to annexure RS15 (relied upon by the respondent), are a number of photographs showing the gravel road closed with a gate on one side and with a boom on the other side. Importantly, in my view, these photographs also show that the gravel road leads straight to the beach. The fact that the manuscript does not suggest that the gravel road was used as an access road to the shore is therefore without any merit.92

Die hof,93 met verwysing na enkele regspraak en LAWSA,94 het afgaande op die feite soos vervat in die eedsverklarings die betoog namens die applikant aanvaar dat daar 'n openbare serwituut tot stand gekom het deur "vetustas or 'immemorial user'".95 Die hof het bevind dat die Witpad gebruik is lank voordat die pad in 1968 geproklameer is. Voorts beslis die hof dat deproklamasie van die pad nie die algemene publiek se reg tot gebruik van die pad beeindig het nie. Die hof beslis dat die eerste respondent "has failed to rebut the presumption that the origin of the use of the gravel road was lawful. In the circumstances, I find that a public servitutal right of way existed in favour of the public over the gravel road."96

Die hof het derhalwe 'n interdik verleen teen die sluit van die Witpad en 'n bevel toegestaan dat die pad weer oopgestel moet word vir die publiek. Die hof verklaar ook in sy bevel dat 'n "public servitutal right of way, constituted by ancient use, exists in favour of the public along the route followed by the White Road (the gravel road)".97

 

5 Slotopmerkings

In hierdie verbluffende rekenaargedomineerde era waarin ons huidige geslag hom bevind, met die verstommende prestasies wat dit voortbring, dog ook die stommiteite en afgestomptheid wat daarmee gepaardgaan, kan 'n mens net verwonderd hulde bring aan die insig en die wysheid van vroeere geslagte regters, vergange beskawings soos die van die Romeine en regskrywers wat eeue terug gelewe het. Meer as twee duisend jaar later pas ons nog eenvoudige, dog deurdagte, beginsels toe wat in latere eeue verfyn is om konflikte in sogenaamd hoogsbeskaafde gemeenskappe te besleg. Diegene wat die verlede, sy dit heuglik of onheuglik, en die nalatenskappe van die mense van die vervloe tye gering ag, daag gewis ordelike burgerlike samesyn uit in die "moderne" tye waarin ons lewe.

 

 

1 RW Lee, AM Honoré & TW Price The South African Law of Property Family Relations and Succession (Durban, 1954) par 137-138 op 34.         [ Links ] Contra egter NJJ Olivier, GJ Pienaar & AJ van der Walt Sakereg Studentehandboek (Kaapstad, 1989) par 16 7 2 op 326 wat skryf dat vetustas een van die wyses is waarop publieke diensbaarhede gevestig word.         [ Links ] Dit kan volgens hulle nie as 'n vestigingswyse van serwitute beskou word nie. CG van der Merwe & MJ de Waal "Servitutes" in The Law of South Africa vol 24 (Durban, 2010) 509 meen dat "a public servitude" deur vetustas geskep word (par 626 op 509).
2 Die howe het dikwels die beginsels van vetustas, of vergelykbare beginsels, toegepas sonder om selfs na die Latynse begrip of die Romeinse oorsprong daarvan te verwys. Daar is veral in die ouer sake eerder gepraat van "immemorial user", "time immemorial" of "immemorial custom".
3 The Langebaan Ratepayers' and Residents' Association v Dormell Properties 391 (Pty) Ltd 2013 (1) SA 37 (WCC).
4 (n 3).
5 Afdeling 4 hieronder.
6 So genoem vanweë die kleur van die pad.
7 In die Langebaan-saak (n 3) is daar gebruik gemaak van 'n kaart as bewysstuk wat die oorspronklike pad wat deur Langebaan geloop het met 'n stippellyn aandui maar die kaart is nie aangeheg by die gerapporteerde uitspraak nie (sien par 11 van die Langebaan-saak). Die kaart van Saldanha wat die pad aandui kom voor in die werk van J Burman & S Levin The Saldanha Bay Story (Kaapstad, 1974) op 32 met die onderskrif "Dutch map showing the Battle of Saldanha, 1796 (Cape Archives)". Skrywer hiervan het die boek, en spesifiek die kaart, op 21 Nov 2012 onder oë gehad uit 'n privaatversameling te Langebaan. Aan die onderkant van die kaart kom 'n stempel voor met 'n kroon binne in die stempel. Ongelukkig is die gedrukte en geskrewe woorde by die stempel nie juis leesbaar met die blote oog nie.
8 Volgens skrywer hiervan se opmeting.
9 Afdeling 4 hieronder.
10 CG van der Merwe Sakereg (Durban, 1989) op 547.
11 LE Krause "The history and nature of acquisitive prescription and of limitation of actions in Roman-Dutch law" (1923) 26 SALJ 26-41 op 38.         [ Links ]
12 Afdeling 2 2 hieronder.
13 HL Gonin & WJG Lubbe Lexicon Institutionum Gai et Institutionum Justiniani Latyn-Afrikaans (Pretoria, 1987) sv "vetustas" op 305.
14 JA Ankum & AS Hartman Romeinsrechtelijk Handwoordenboek (Zwolle, 1973) sv "vetustas".
15 VG Hiemstra & HL Gonin Drietalige Regswoordeboek (Kaapstad, 1986) 299.         [ Links ] E Labuschagne (Drietalige Studente Regsleksikon (Johannesburg, 2004) op 598) vertaal vetustas met dieselfde woorde as Hiemstra &         [ Links ] Gonin maar gebruik "onheugelik" ipv "onheuglik".
16 CJ Claassen Dictionary of Legal Words and Phrases (Durban, 1977) sv "vetustas" IV op 263.         [ Links ] Sien nou CJ Claassen (jnr) Dictionary ofLegal Words and Phrases (Durban, 1997ff losblad) V op 18.
17 D 39 3 23, Ulpianus libro quinquagensimo tertio ad edictum. Die Nederlandse vertaling is dié van JE Spruit, JA Ankum ea Corpus Iuris Civilis Tekst en Vertaling vol 5 (Zutphen, 2000) op 575. Die Engelse vertaling lui soos volg: "[W]here it is discovered that no servitude has been imposed, the person who has for a long time acted as though there were a servitude and has done so neither by force nor precario nor secretly, he is regarded as having a servitude imposed quasi-legally by reason of prolonged custom." Hierdie vertaling en alle ander Engelse vertalings van die Digesta in dié artikel is afkomstig uit T Mommsen, P Krueger & A Watson (reds) The Digest of Justinian (Philadelphia, Pennsylvania, 1985).
18 "Neque ui neque precario neque clam. "
19 "uetustatem uicem legis tenere."
20 D 39 3 2pr, Paulus libro quadragensimo nono ad edictum.
21 D 43 7 3pr, Ulpianus libro trigensimo tertio ad Sabinum: "Uiae uicinales, quae ex agris privatorum collatis factae sunt, quarum memoria non exstat, publicarum uiarum numero sunt" (Engelse vert: "Local roads established by private contributions of land of which there is no longer any recollection are included among public ways"). Sien verder Spruit, Ankum et al (n 17) se Nederlandse vertaling: "Buurtwegen die ontstaan zijn uit inbreng van percelen grond door private personen in een tijd waarvan geen mensenheugenis meer bestaat, behoren tot de openbare wegen."
22 D 39 3 2, Paulus libro quadragensimo nono ad edictum: 'In summa tria sunt, per quae inferior locus superiori seruit, lex, natura loci, uetustas." Die Digesta-vertaling van "vetustas" is "established custom".
23 "Uia uicinalis".
24 Voet Commentarius ad Pandectas (vert deur P Gane The Selective Voet Being the Commentary on the Pandects vol 6 Durban, 1957) 43 7 1. Vgl ook Voet 39 3 5. Die Engelse frase in die teks hierbo lees in Voet se oorspronklike Latyn "maxime, si constitutionis earum memoria non exstet": sien Voet Commentarius ad Pandectas deel 2 6e uitg (Hagae-Comitum, 1731) op 841.
25 Let wel in Nederlands gespel "onheuglijk" en nie "onheugelijk" nie.
26 JE Goudsmit Pandecten-Systeem vol 1 (Leiden, 1866) op 195.         [ Links ]
27 Idem op 195 n 2. Sien ook EI Bekker System des heutigen Pandektenrechts (Weimar, 1886) op 126.         [ Links ]
28 Goudsmit (n 26) op 195-196.
29 B Windscheid Lehrbuch des Pandektenrechts vol 1 (Dusseldorf, 1900) par 113 op 505.         [ Links ] 'n Ander uitgawe van Windscheid wat vrugbaar geraadpleeg kan word, is die Aalen-uitgawe (London, 1963) deur B Kipp: par 113 op 582.
30 Goudsmit (n 26) 196.
31 GF Puchta Pandecten (Leipzig, 1852) par 77 op 114; (Leipzig, 1856) par 77 op 119. Sien ook Windscheid (n 29) (Dusseldorf, 1900) par 113 op 503 ev.
32 H Dernburg Pandekten vol 1 (Berlyn, 1884).
33 Idem op 719.
34 Idem op 363.
35 Idem op 364: Hier verwys hy spesifiek na vetustas.
36 Ibid.
37 Sien ook JC Sonnekus & JL Neels Sakereg Vonnisbundel (Durban, 1994) op 712;         [ Links ] Van der Merwe (n 10) op 547.
38 Olivier, Pienaar & Van der Walt (n 1) par 16 7 2 op 326.
39 Sonnekus & Neels (n 37) op 712; Van der Merwe (n 10) op 547; Peacock v Hodges (1876) 6 Buch 65.
40 (1888) 6 SC 193 op 199.
41 Idem.
42 De Beer v Van der Merwe 1923 AD 378 op 386. Sien ook my opmerkings by die bespreking van die beslissing in Myburgh v Van der Byl (1882) 1 SC 360 hieronder.
43 Sien, vir 'n volledige bespreking, Van der Merwe (n 10) op 548-549.
44 RW Lee An Introduction to Roman-Dutch Law (Oxford, 1953) op 173.         [ Links ]
45 Van der Merwe (n 10) op 548.
46 Idem 549. Vgl ook Nel vLouw 1955 (1) SA 107 (CPD) wat aan die orde kom. Sien verder S Scott (red) Werkboek vir Sakereg (Durban, 1994) par 5 12 op 151.
47 68 van 1969.
48 Van der Merwe (n 10) op 549; Scott (n 46) op 151.
49 Sommige van die skrywers na wie daar hierbo (afd 2) verwys is, het aangedui dat dit tegnies nie korrek is om van 'n reg te praat by ware vetustas nie, slegs 'n weerlegbare vermoede word geskep: sien Sonnekus & Neels (n 37) op 712.
50 Wat volg is 'n keur van beslissings.
51 (n 1) op 326. Sien ook Sonnekus & Neels (n 37) op 712; Van der Merwe (n 10) op 544, 548.
52 Peacock v Hodges (1876) 6 Buch 65.
53 Met wie rr Denyssen en Fitzpatrick saamgestem het.
54 Inderdaad so gespel.
55 Hy plaas self die woord tussen aanhalingstekens op 69 van die saak.
56 Op 70 van die saak.
57 Brittanje het in 1842 gewapende troepe gestuur om die anneksasie van Natal te bewerkstellig. Na 'n kort, moedige poging ("spirited defence") het die republikeine in Natal oorgegee. Talle van hulle het hul elders gaan vestig omdat hulle groot waarde aan hulle onafhanklikheid geheg het (sien C Hamilton, B Mbenga & R Ross The Cambridge History of South Africa vol 1 (Cambridge, 2010) vol 1 291 op 358). Op 31 Mei 1844 is "Letters Patent" op gesag van koningin Victoria uitgevaardig ten einde die "District of Natal" as 'n Britse kolonie te annekseer (sien GW Eybers Select Constitutional Documents Illustrating South African History 1795-1910 (London, 1918) dok 109 op 182). Sien verder GM Theal History of South Africa from 1828 to 1846 (London, 1904) op 397.
58 Mackenzie v Shaw 1886 7(1) NLR 84.
59 (1907) 24 (1) SC 1.
60 Per r Maasdorp.
61 Op 8 van die saak.
62 1921 (1) EDL 132.
63 "commonage".
64 (n 42) hierbo.
65 Vermoedelik by Stellenbosch.
66 Op 368 van die uitspraak.
67 Hr De Villiers op 368-369.
68 Soos Sonnekus & Neels (n 37) op 712 dit stel: "As dit bewys word dat 'n diensbaarheid sedert 'n bepaalde tydstip, byvoorbeeld Desember 1890, uitgeoefen word, is die leerstuk van vetustas nie van toepassing nie."
69 1914 AD 69.
70 Vir die aandryf van skape en ander vee.
71 Op 75 van die saak.
72 Uia uicinalis.
73 Op 85 van die saak.
74 (n 46).
75 R Hall op 109E-F.
76 Die hof beroep hom hier op Goudsmit (n 26) soos aangehaal in De Beer v Van der Merwe (n 42) op 382.
77 110H-111B. Die spelling en taalgebruik in hierdie aanhaling is ongewysig uit die gerapporteerde saak geneem. Die hof het in Forellendam Bpk v Jacobsbaai Coastal Farms (Pty) Ltd 1993 (4) SA 138 (CPD) saamgestem met die uitspraak in Nel v Louw (n 46) dat openbare diensbaarhede nie by wyse van verjaring tot stand kan kom nie en bygevoeg: "Vetustas deug dus nie om eiendomsverkryging [die hof het waarskynlik bedoel serwitute] deur verjaring te bewys nie" (per r Conradie op 144A-B). Sien ook die vroeëre beslissing South African Life Assurance Society v Durban City Council 1948 (1) SA 1 (D & C): "[P]ublic servitute rights cannot be created by prescription but only by immemorial user" (per r Broome op 10).
78 (n 42).
79 Ar Juta op 383.
80 In casu 'n keerwal om water se afvloei te beheer.
81 Ar Kotzé op 386.
82 (n 3).
83 Paragrawe 1 en 2 van die uitspraak.
84 In par 7-12.
85 (n 7).
86 Paragraaf 24 van die uitspraak.
87 Die tersaaklike pad wat die onderwerp van die geskil is.
88 Dit is die Witpad.
89 Paragraaf 15 van die uitspraak.
90 Die strandgebied.
91 Sien par 15 van die uitspraak.
92 Paragraaf 16 van die uitspraak.
93 Die uitspraak is gelewer deur wn r Saba.
94 Van der Merwe & De Waal (n 1).
95 Paragraaf 26 van die uitspraak.
96 Synde die Witpad (par 35).
97 Idem in par 39.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License