SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.82 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Journal of the South African Veterinary Association

Print version ISSN 1019-9128

J. S. Afr. Vet. Assoc. vol.82 no.2 Pretoria June 2011

 

HISTORIESE ARTIKEL HISTORICAL ARTICLE

 

Die rol van Robbeneiland as veepos in die vestiging van die Kaap van Goeie Hoop as Verversingstasie*

 

The role of Robben Island as a stock breeding station for the settlement at the Cape of Good Hope

 

 

A J Snijders

Posbus 73208, Lynnwoodrif 0040, Suid-Afrika. Lid van die Geskiedeniskomitee van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging. E-mail: ajs@global.co.za

 

 


ABSTRACT

The universal notoriety of Robben Island as a penitentiary for political prisoners, notably in the 19th and 20th centuries, overshadows its previous historical significance established centuries ago. The Island, initially a source of seals and penguins to European mariners rounding the southern tip of Africa, and later for several other reasons, including its proximity to the Cape of Good Hope, played a pivotal role in the selection of this halfway station. The seals would provide blubber for train oil and the penguins, meat and eggs. The transhumant Peninsular Khoekhoe was to provide cattle and sheep by a barter process as before. Inconsistent access to Khoen livestock forced the Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) to consider their own breeding programmes and ultimately the establishment of Free Burgers. Van Riebeeck confirmed the suitability of Robben Island for the fattening and breeding of sheep and this island made a substantial contribution to the provision of sheep and mutton to the fleets and the local community. Khoen sheep did not do well in the Table Valley in early summer and it was expected that they would thrive on the drier island. Predators and stock theft were major problems at the Cape and neither occurred on the island. It is contended that it was unlikely that the settlement at the Cape would have occurred and succeeded without Robben Island.

Keywords: Cape of Good Hope, early settlement, Robben Island, sheep diseases, stock


 

 

INLEIDING

Robbeneiland is moontlik die belangrikste geskiedkundige erfenis-terrein van Suid-Afrika en die geskrewe geskiedenis strek oor tenminste 500 jaar. 'n Besoeker vandag word met 'n moderne veerboot vanaf die Tafelbaai-hawe na Robbeneiland vervoer waar die kalksteen-en klipgroewe deur Van Riebeeck begin, onder die besienswaardighede is. Die eiland is vanaf 1997 'n nasionale museum en van die figure wat vertoon word is twee uit die Van Riebeeck era naamlik Autshumato en Krotoa. Die huidige naam dui op die robbe wat voorheen daar aangetref was. Die eiland het eers in 1601 'n naam gekry toe Joris van Spilbergen dit na sy moeder, Isla de Cornelia, vernoem het. Die Engelse reisiger, Keeling, het dit in 1609 Penguin Island genoem met verwysing na die voorkoms van reuse getalle pikkewyne. Die naam Robbeneiland is in 1627 deur David de Vries gebruik en daarna deur die Hollanders terwyl die Engelse steeds na Penguin Island verwys het.

Die eiland is reeds in die 16de eeu deur verbygaande Portugese, Engelse en Hollandse seevaarders gebruik vir proviand en skuiling. Die beskikbaarheid van robbe en pikkewyne op Robbeneiland in Tafelbaai was een van die deurslaggewende faktore vir die vestiging van die VOC halfwegstasie, Kaap van Goeie Hoop. Die eiland het deur die eeue die rol gespeel van spens, veepos, voorsiener van boumateriaal, vestiging, hawe, tronk, asiel, kranksinnigegestig, gestig vir melaatses en hospitaal vir chroniese siekes.

Die geskiedenis kan kortliks verdeel word in 4 fases, nl. voor 1652, 1652- 1795, 1796-1896 en 1897-hede. Dit is gedurende die periode na 1963 wat Robbeneiland internasionale berugtheid verwerf het as die plek van ballingskap van politiese aktiviste van hoofsaaklik die African National Congress1. Hierdie artikel bespreek die periode van voor 1652 en veral tot 1662 in diepte, met die klem op Robbeneiland.

 

FISIESE ASPEKTE EN VOORGESKIEDENIS VAN ROBBENEILAND

Robbeneiland is geleë in die ingang na Tafelbaai, ongeveer 11 kilometer noordwes van die Kasteel en 6 kilometer wes van Bloubergstrand. Die eiland is 4.5 kilometer lank van noord na suid, 1.5 kilometer breed van oos na wes en ongeveer 570 hektaar groot. Die hoogste punt is slegs 30 meter bo seevlak. Dit het 'n Mediterreense klimaat soos in die nabygeleë Kaapstad, maar die reënval is baie laer as in die Tafelvallei. Daar is selde vars oppervlakte-water en die eiland ondervind sterk winde en relatiewe temperatuur-uiterstes. Putte se water is brak en die putwater word eers na 30 meter varser2. Daar was geen bome op die eiland nie en die plantegroei het bestaan uit gras, bossies en was soms, na goeie reëns, oortrek van streeks-blomme en welriekende plante.

Die geologiese aspekte is van belang want dit het gelei tot die benutting van boumateriale aan die Kaap, soos byvoorbeeld in die geval van die Kasteel soos dit tans daaruit sien, en ook die benutting deur diere en die aanplant van groentes. Die eiland is die piek van 'n oorstroomde berg wat met 'n onderwaterbrug aan Blouberg verbind is. Die laer strata bestaan uit Malmesbury skalie wat sigbaar is as die halssnoer van rotse om die eiland. Bo hierdie laag is 'n dik kalksteen neerslag wat deur windaangedrewe sand en skulpstukkies bedek is. In 'n dwarssnit vertoon die gefossileerde duinlaag van die laat-Pleistoseen Epog as 'n dun laag bo-op die Malmesbury skalie wat in die Neoproterosoïese tydperk (~980-610 m.j.g.) gevorm was. Die Malmesbury skalie is in lae neergelê en kan maklik met 'n beitel gesplits word om boustene te vorm. Die gekalsifiseerde sandduine (eoliese) is die ligging van die kalksteengroewe waar Van Riebeeck se arbeiders en in die 20ste eeu die ANC politieke gevangenes hande-arbeid moes doen.

 

 

In hierdie laag is klipwerktuie gevind wat dui op die aanwesigheid van mense op Robbeneiland van ~100 000 jaar gelede. Toe hierdie klipwerktuie daar gelaat was, was die duine nog nie gekonsolideer nie. Later het sand bygekom en die werktuie bedek. Die werktuie dateer uit ongeveer die Middel Steentydperk ~250 000 tot 25 000 jaar gelede. Duine op die vasteland in hierdie omgewing dui 'n val in seevlak aan in die oorgangsperiode tussen die globale warm periode en die ysperiode. Om 'n landbrug te kon vorm moes die seevlak ~20 meter onder die huidige seevlak gewees het. Dit dui op 'n ouderdom van die werktuie van ~100 000 jaar. Hierdie mense was jagterversamelaars wat deur veeherder-versamelaars verplaas is. Laasgenoemde was die 'Hottentotte' soos aangetref deur Dias en Da Gama teen die einde van die 15de eeu3.

 

GESKIEDENIS VOOR 1652

Raven-Hart het uittreksels van 153 verslae gepubliseer van besoekers aan die Kaap tussen 1488 en 16524. Die werklike getal skepe wat in dié periode in Tafelbaai aangedoen het was aansienlik meer maar nie almal word genoem nie. Eerstens wou die vroeë seevaarders nie hulle vaar-en navigasie-besonderhede publiseer nie en verder het die rapporteur nie noodwendig al die ander skepe in die vloot vermeld nie. Raven-Hart het self opgemerk dat daar by aankoms byna altyd 'n ander skip of skepe aan die see gelê het. Hy het ook skepe aangeteken waarvan die name in ander verslae gemeld word of in briewe gevind was. Die volgende verwysings word aangehaal met die klem op Robbeneiland en is maar 'n breukdeel van die beskikbare inligting van die Portugese, Engelse, Hollandse en Deense besoekers aan die Kaap.

Die Portugese seevaarder, Bartolomeu Dias word aanvaar as die 1ste Europeër wat om die suidpunt van Afrika gevaar het in 1488. Hy het nie by die Kaap aangedoen nie en sy 1ste landing was op die suidooskus by die huidige Mosselbaai. Dias het ook die naam Kaap van Goeie Hoop gegee aan die kaap wat hy verbygeseil het. Die volgende erkende vaarder was Vasco da Gama wat ook nie by die Kaap aangedoen het nie5. Nadat hy by die Kaap verbygeseil het, het hy op 26 November 1497 by Mosselbaai geland. Peter Kolbe het geskryf dat Portugese Robbeneiland in 1498 besoek het om die 'mensvreters' op die vasteland te vermy maar dit kon nie bevestig word nie6. Penn7 haal De Villiers8 aan wat beskryf dat die matrose (van Da Gama se vloot?) in 'n groot grot vertoef het en vars water van fonteine verkry het. Dit word egter deur Mentzel bevraagteken wat die eiland as kaal en onbewoond en met 'n totale tekort aan vars water beskryf9. Daar is ook geen melding gemaak in die reisverslag van Da Gama dat hulle in Tafelbaai aangedoen het nie. Wat wel in Da Gama se reisverslag genoem word is dat hulle op 27 Oktober 1497, 5 dae ver van die kus, walvisse en 'sea-wolves' (robbe) teëgekom het en ook dat hulle baie ('n beraamde 3000) robbe op 'n eilandjie in Mosselbaai op 25 November opgemerk het10. Op dié eiland was daar ook voëls wat 'fotilicaos'(sotilycaos) genoem word wat balk soos donkies - dit wil sê die 'jackass penguin' of briloogpikkewyn.

 

BENUTTING VAN ROBBENEILAND

A. Robbe en Pikkewyne11

Verskeie Portugese seevaarders het daarna om die Kaap geseil en Antonio da Saldanha was die 1ste om daar in 1503 aan te doen. Die 1ste verslag van robbe op Robbeneiland is ook dié van Antonio da Saldanha in 1503 wie se matrose pikkewyne (sutilicarios), robbe en skilpaaie, wat in groot getalle aangetref is, doodgemaak het om te eet12. Tafelbaai is aanvanklik na Saldanha vernoem wat verwarring kan skep met die huidige Saldanha-baai. Saldanha was ook die 1ste besoeker om Tafelberg te bestyg en te beskryf. Raven-Hart meld dat daar inligting is van nog 5 Portugese skepe wat Tafelbaai na da Saldanha besoek het13. Die Onderkoning Francisco de Almeida, wat op pad van Cochin na Portugal was, het vars water benodig en daar word besluit om in Tafelbaai aan te doen in 1510. Daar het 'n skermutseling plaasgevind tussen die inboorlinge en die swaar geharnasde Portugese. De Almeida en 64 manskappe, onder wie van die Portugese adel, sterf daar14. Daarna het die Portugese Tafelbaai vermy en eerder by Mosselbaai of verder oos geland vir water en vee. In die laat 16de eeu het die verkeer van veral Engelse skepe om die kaap toegeneem en Robbeneiland was beskou as 'n veilige aanmeerplek en 'n bron van voedsel veral omdat daar nie altyd Khoen vee aan land beskikbaar was nie of as die Khoe vyandig was. Baie van die vroëe reisigers het na die Kaap verwys as Buona Esperanca en nie na die baai as sodanig verwys nie.

Luitenant Edmund Barker het Sir James Lancaster se besoek aan Robbeneiland in Augustus 1591 beskryf: 'After 15 to 20 days being there, our admirall went with his pinasse unto the iland which lieth off the baie, where hee found great store of penguines and seales; whereof he brought good plenty with him. And twise after we sent certaine of our men, which at both times brought their bots lading unto our ship'15. Tien jaar later besoek Lancaster Tafelbaai en 'n anonieme verslag van 29 Oktober 1601 meld dat 'We put out to sea and went over by a small Iland that lies in the mouth of the said bay (Tafelbaai) which is exceedingly full of seales and penguines...'. Hulle het van die robbe doodgemaak en traanolie gemaak terwyl hulle van die jongstes geëet en dit as goeie vleis beskou het (made oyle of them and some of the youngest we did eate which to us seemed good meate)16.

Joris van Spilbergen het in 1601 die baai aan die Kaap Tafelbaai genoem en die naam is voortaan deur die Hollanders gebruik17. Die Engelse verslae het nog Saldania, na Antonio da Saldanha, in verskillende spelvorms gebruik. In die verslag van Spilbergen word verwys na 'Isla de Cornelia' (Spilbergen se moeder) en 'Lisla d'Elizabeth' (Spilbergen se vrou). Die 2 eilande was amper dieselfde behalwe dat eersgenoemde (Robbeneiland) geen dassies (Procavia capensis) gehad het nie in teenstelling met laasgenoemde (Dasseneiland). Alhoewel robbevleis geëet is, het traanolie reeds in 1610 die belangrikste produk geword maar tog het die Deen, Jon Olafsson, in 1623 beskryf dat hulle die jong robbe se vleis bo die oues s'n verkies het18. Hierdie robbe was vanaf vandag se Saldanhabaai. Die vleis is met pruimedante en heuning voorgesit!19 In die verslag van Sir Henry Middleton word die robbe van Robbeneiland beskryf: 'such infinite number of seales that it was admirable to behold'. Daar word genoem dat die pikkewyne in hulle duisende aangejaag kon word20. Die anonieme verslag van David Middleton van die boot Consent, gedateer 21 Julie 1607, noem ook die gemak waarmee 500 pikkewyne aangejaag kon word en dat daar duisende robbe op 'Pengwin Island' was. Die volgende kommentaar verskyn: 'In mine opinion there is not an iland in the world more frequented with Fowle and Seales than this Iland'21. Cornelis Matelief merk op 16 April 1608 op 'On the island [Robben Island] we found an unspeakable number of sea-dogs which lay on the rocks to bask in the sun ... Our men amused themselves by clubbing fully a hundred to death'22. Matelief vind ook baie pikkewyne en meld dat die eiland sanderig is en geen water het nie. John Jourdain was saam met Kaptein Sharpeigh op reis na die Ooste op die Ascension. Hy skryf dat die kaptein van 'n meevarende boot, die Union, op 5 Julie 1608 aan boord gekom en berig het dat baie van sy bemanning aan skeurbuik ly en dat hulle moet aandoen by Saldanhabaai (Tafelbaai). Hulle meer vas in Tafelbaai op 14 Julie en vertoef daar tot 16 September wat Jourdain tyd verleen om die omgewing te verken. Alhoewel die inboorlinge vriendelik was en vee vir verruiling, veral vir yster van vathoepels, gebring het, het hulle besluit om 'n verskansing te bou. Die plaaslikes het baie gesteel en die verskansing was vir beskerming teen diefstal eerder as geweld. Jourdain skryf voorts dat dat die Generaal bote na Penguin-eiland gestuur het om robbe te haal beide vir die inboorlinge en veral vir die olie. Daar was 'n groot aantal van die robbe 'such great quantitie of those fishes (seales or seawolves), that within lesse then a day a man might lade a good shippe with them'. Die spek is afgesny vir traan en die res is vir die inboorlinge gegee wat dit met hart en siel verorber het. Jourdain en 'n paar maats het ook Tafelberg geklim en dit heel vermoeiend gevind. Die pikkewyne is aangejaag oor planke vanaf die strand na die boot. Hierdie pikkewyne het hulle aan die 'Saldanians' gegee wat dit met vreugde ontvang het. Nog 'n noemenswaardige opmerking was dat daar 'n tekort aan hout was maar dat daar wel hout was 3 myl van die strand23.

 

 

Daar is reisverslae van 1609-1611 wat nie verwys na Robbeneiland nie. Die verslag van Nicholas Downton (saam met Sir Henry Middleton) meld dat daar in Julie 1610 kormorante en robbe in groot getalle aangetref was. Hy vind pikkewyne, robbe (waarvan hulle baie doodgemaak het) en sowel slange en rotte 'in very great abundance'24. Peter Floris (Peter Willemsz) verlaat Tafelbaai op 16 Junie 1611 en laat Jacob le Maire agter tot Desember om velle te ruil en traanolie te maak - vermoedelik van robbe van Robbeneiland.

Die Here XVII het in 1616 besluit dat alle uitvarende skepe na die Ooste by Tafelbaai moet aandoen en brei die besluit in 1619 uit na die terugkerende vloot26. Dit word ook bepaal dat Engelse skepe die hawe mag deel. Dié besluite het beide Hollandse en Engelse verkeer in Tafelbaai laat toeneem en die handel met die Khoe uitgebrei. Die moontlikheid vir misverstande en konfrontasies het ook ooreenkomstig toegeneem. (Dit kom later voor dat veral die terugkerende vloot by Tafelbaai verbygeseil het omdat daar óf nie genoeg proviand was nie óf van swak gehalte óf omdat die baai te onstuimig was).

Reisverslae van 1615-1619 en 1621 toon wisselende sukses met ruilhandel in Tafelbaai. Daar is aanduidings van konfrontasies en vermoordes aan albei kante. Augustin de Beaulieu skryf dat hy, na 17 dae in Tafelbaai, op 28 Maart 1620 reggemaak het om te vertrek en dus die bemanning na die boot begin terughaal het, veral dié wat op Robbeneiland was, waar daar groot getalle pikkewyne en sea-beares was. Die robbe blêr soos skape maar hy kon hulle nie eet nie, ook nie die pikkewyne nie want hulle het na visolie gesmaak. Die bemanning het die pikkewyne smaaklik gevind en bo spek verkies27.

David Pietersz de Vries het op 17 Maart 1627 saam met die vloot vanaf Texel gevaar. Hy skryf in sy Korte Historiael dat hulle op 16 Julie in Tafelbaai geanker het tente vir die siekes opgeslaan en varswater gelaai het28. Hulle het met 'n sloep op 1 Augustus 1627 vir die 3de maal na Robbeneiland geseil en die boot het die volgende dag met 1100 pikkewyne en (slegs) 'n paar robbe teruggekeer omdat hulle gedink het die pikkewyne was meer smaaklik. Hulle was gedwing om Robbeneiland te besoek omdat daar geen beeste of skape vir ruilhandel beskikbaar was nie. Raven-Hart verwys na nog sowat 89 verslae of verwysings na skepe vir die periode 1627-1649 en enkeles word hier onder genoem.

In die Remonstrantie ter regverdiging van die halfwegstasie Kaap die Goeie Hoop van 1649 verwys Jansz en Proot onder andere na die robbe en walvisse waarvan traan verkry kon word29. Jan van Riebeeck sluit dit in in sy 'Nader Consideratie off Bedenkingen' en vermeld sy ondervinding met dié proses in Groenland en hoe die tekort aan brandstof oorkom kon word30. Nadat die 1ste ketel spek uitgebraai was kon die kaiings vir brandstof vir die daaropvolgende ketels gebruik word. Dit sou die tekort aan hout aanvul31.

B. Skape

Daar was ook ander noemenswaardige gebruike van Robbeneiland. Lancaster het tydens sy besoek in Januarie 1601 6 skaapooie en 2 ramme daar geplaas en van die skape in Tafelbaai geruil van die Khoekhoe. Joris van Spilbergen kon dus 2 maande later 7 of 8 van die skape skiet. So het William Keeling ook op 28 Desember 1607 6 vet skape ontvang van 'n Hollandse boot wat dit op Robbeneiland gekry het en opgemerk dat dit van die vetste skape was wat hy nog ooit gesien het. Die stert van 1 was 'n fenomenale 28 duim (~70 cm) breed en het 35 pond (~16 kg) geweeg!32 Keeling neem toe van die skape op Robbeneiland en vervang hulle met maer skape. Hy kon dit bekostig want hulle het 450 skape, 46 koeie, 10 osse, 9 kalwers en 1 bul geruil vir 200 ysterhoepels.

In die Journaal van Cornelis Matelief word genoem dat die Admiraal in 1608 die 8ste skaap van Lancaster op Robbeneiland laat slag het.

Dié skaap word beskryf as so vet dat die vleis oneetbaar was. Die stert alleen het 19 pond (~8.6 kg) geweeg en was 25 duim(~64 cm) dik! Hulle het toe alreeds 4 ooie en 2 ramme op die eiland geplaas en Matelief was so beïndruk deur die vet skaap dat hy nog 14 daar plaas, dus 'n totaal van 20 skape. Die verslag van John Jourdain in 1608 (sien hierbo) lui: 'This iland will make the leanest sheepe that wee cann chuse to bee fatt within one monneth as per experyence of our time of beinge there we made profe; putting sheepe on the iland atb our first comeinge and within the time aforesaid were very fatt; which seemed to me very strange seeinge that there was no good feedings for them onlie wild hearbs and noe fresh water'. Jourdain meld dat hulle 20 skape, ook die vetste wat hy nog ooit gesien het, gevind het wat deur Hollanders daar gelaat was en hulle laat vervangings agter en ook 5 koeie en 'n bul.

 

 

Dit lyk nie of ander besoekers die skape na slagting vervang het nie want toe Thomas Best Robbeneiland op 16 Junie 1612 besoek het was daar slegs 2 skape gevind. Een is geslag en beskou as die ekwivalent van 4 van die vasteland. Best beskryf die groot getalle robbe en pikkewyne asook 'n oorvloed van slange wat in die son gelê het33. Nicholas Downton vind slegs 1 vet skaap op Robbeneiland op 30 Junie 161434.

 

ROBBENEILAND NA 1652

In die indeks van die Journal of Jan van Riebeeck is daar meer as 290 verwysings na Robbeneiland wat onder andere briewe aan die poshouers insluit asook besluite van die Politieke Raad35. Dit word slegs oortref deur verwysings na'Hottentotte', 'Batavia' en 'Kaap' wat dui op die belangrikheid van Robbeneiland vir die beskikbaarheid van hulpbronne, sekuriteit en kennis van inkomende vaartuie. Bosman se Daghregister van Jan van Riebeeck word gebruik as die standaard teks36.

Van Riebeeck was bewus van die robbe op Robbeneiland soos gemeld in sy 'Nader Consideratie of Bedenckinge'. Hy het die eiland binne 'n paar maande na sy aankoms in die Kaap besoek en gebruik die naam Robben-Eylant na sy amper rampspoedige rit na die eiland op 1 Julie 165237. Hierdie rit was om die robbe-vangs te ondersoek maar die deining om die eiland het hulle gedwing om ternouernood na die Kaap terug te keer. Voortreflike weer stel Van Riebeeck in staat om die jag na t' Robben-Eijlandt op 9 September te stuur om die eiland te ondersoek maar dreigende weer genoodsaak hulle om namiddag onverrigte sake terug te keer. Twee dae later kon hulle weer probeer en vind 'n fraai sanderige baai om in te anker. Die jag keer op 13 September terug met omtrent 'n honderd duikers (Phalacrocorax neglectus)'van goeden smaeck', 'n paar pikkewyne (peguijns) en omtrent 3000 pikkewyneiers. Die skipper, Simon Turver (Symen Pieter Turver) het 'n jong rob gevang en alhoewel daar 'n aantal robbe was, was hulle te maer vir traan. Van Riebeeck besluit om self inspeksie te doen omdat daar nog geen vee aangekom het nie en die kosvoorraad dus aangevul moes word en ook om die algemene omstandighede te ondersoek. Daar aangekom vind hulle dat die meeue al die eiers van die duikers op die Noordhoek opgevreet het nadat die duikers van hulle neste verjaag was. Dit was reeds laat en hulle kon slegs 500 tot 600 eiers en 25 voëls verkry. Ses mans word agtergelaat om verder eiers te soek maar vind die volgende dag dat die meeue weereens verlate eiers opgevreet het. Hulle kon wel 600 pikkewyne na die boot aanjaag soos skape. Van Riebeeck laat 6 robbe doodslaan en neem waar dat daar wel genoeg spek is en dat die velle ook benut kan word.

Van Riebeeck ondersoek die eiland kruis en dwars en vind heelwat bossies, plekke met goeie grasbedekking, verskillende welriekende kruie en blomme, ook syferwater van verskeie fonteintjies. Dit was in die lente na voldoende winterreëns38. Van Riebeeck het klaarblyklik literatuur oor die suidpunt van Afrika nageslaan want in 'n Resolusie van 24 September 1652 word daar na 'Eilandt Elizabeth' met baie robbe en dassies asook na die 'Journalen van Joris Spilbergen' verwys39. In Mei 1653 is 6 skape (4 ooie en 2 ramme) as proefneming op die eiland geplaas. In September was daar reeds 9 skape (en 1 dooie). Die skape was so vet in Februarie dat hulle beswaarlik kon loop. Die Politieke Raad besluit gevolglik om al die Kompanjie se ooie na Robbeneiland te stuur met van die beste ramme. 'n Opsiener is aangestel en hy moes 'n woning vir mens en dier oprig.

 

BEWONERS EN KARAKTERS

Die Khoekhoe het nie bote gehad nie en die 1ste moderne mense op Robbeneiland was besoekers, skipbreukelinge of onwillige verworpelinge. Daar is verslae wat verwys na skipbreukelinge en prisoniers wat aan die Kaap gelaat is sonder enige latere vermelding van hulle. Klein groepies onbewapende mense sou dit nie oorleef het nie en Robbeneiland sou 'n beter kans vir oorlewing gebied het. Daar is geen getuienis dat die Portugese van hulle prisoniers (degradados) op Robbeneiland gelaat het nie en dis meer waarskynlik dat hulle op die kus van Tafelbaai afgelaai sou word. Daar was wel gevalle waar mense op versoek op Robbeneiland aangebly het om vyandige Khoekhoe te ontvlug.

Daar was 'n hele aantal van die toesighouers wat belangrike rolle gespeel het soos Rijck Overhagen, of interessante geskiedenisse gehad het soos Jan Woutersz. Hierdie inligting is in die Daghregister en Resolusies aangeteken en slegs 2 word hieronder genoem. Die 1 was voor Van Riebeeck en die 2de was voor en tydens sy verblyf aan die Kaap.

John Crosse

In Walter Peyton se verslag word beskryf hoe hulle met 19 veroordeeldes vanuit Newgate, wat Sy Majesteit 'graciously cleared from the Rigor of the Lawe', na die Kaap gevaar het in Januarie 161540. Dit was deel van 'n plan om veroordeeldes na die Kaap te stuur sodat hulle die omgewing sou verken en 'n nedersetting daar begin41. Op 16 Junie laat hulle 10 van die gevangenes op die kus in Tafelbaai met kos, drank en wapens. Daar was voorgestel en aanvaar dat John Crosse as leier en organiseerder sou optree.

Edward Dodsworth laat 'n boot [longboat] op 20 Junie vir Crosse sodat hulle na die eilande toe kan vlug totdat sy genote herstel het van hulle wonde opgedoen in 'n skermutseling met die Khoe42. Martin Pring vertel dat Cory (Coree) op 3 Maart 1616 vir hulle van ene Kaptein Crosse kom vertel het wat met 8 mans en 'n seun op Robbeneiland gebly het en aan wie Dodsworth 'n boot gegee het43. Pring stuur toe 'n sloep (pinnace) wat 3 mans terugbring en 3 agterlaat. Hulle rapporteer dat Kaptein Crosse met twee ander die vorige Saterdag 'n vlot van die stukke van die langboot gemaak het. Hulle was halfpad tussen die Eiland en Pring se boot toe 2 walvisse aan weerskante verskyn, so naby dat Crosse 1 met 'n spar kon slaan. Die walvisse sak weg en Crosse is so verskrik en verkluim deur die koue water, dat hy na die eiland terugkeer. Maar nadat hy 'n ander hemp aangetrek het besluit hy om weer te probeer. Hy was al 'n hele end weg van die eiland toe hy verdwyn en nie weer gesien is nie. Penn meld dat Crosse dit dalk tot by die kus gemaak het en volgens Coree deur 'n Portugese skip weggeneem was. In Junie 1616 hoor Edward Perry dat 2 van die manne deur 'n Engelse skip opgepik is. Die 3 mans wat deur Pring afgehaal was, is kort na hulle aankoms in Engeland tereggestel weens die diefstal van 'n beursie. Crosse en sy makkers was dus die 1ste prisoniers op Robbeneiland. Dit was egter ook die einde van die Engelse poging om prisoniers as ontwikkelaars van die Kaap te gebruik alhoewel hulle simboliese besit geneem het van alle dele van Afrika nog nie bewoon deur 'n Christen prins nie!

Harry (Hadah, Herrij, Autshumato of Autshumao)

Die Khoen naam van hierdie figuur was Autshumato of Autshomao. Die Engelse het hom Harry of Thomas genoem terwyl Jan van Riebeeck na hom as Herrij verwys het. Herrij was een van die weinige Khoe aan die Kaap wat 'n bietjie Engels kon praat en dus tot 'n mate met anderstalige Europeërs kon kommunikeer. Hy was 20 jaar voor Van Riebeeck aan die Kaap. Herrij was in Elphick se woorde 'n man van baie ambagte, 'n bedrewe taalkundige, 'n kordate entrepeneur, en 'n oorlamse diplomaat en manipuleerder. Alhoewel Herrij die bes beskrewe Khoe van die 17de eeu was, is dit nie duidelik wat hy met sy maneuvers wou bereik tensy dit selfbevordering was nie44.Hy was die 1ste veewagter op Robbeneiland en waarskynlik ook die 1ste mens (na Crosse) om per boot van die eiland te ontsnap. Ook pertinent is die feit dat Herrij met die Strandlopers, wat nie vee besit het nie, geassosieer was en tog volgens Van Riebeeck se opinie 'n kundige veeboer was. Elphick verwys na die feit dat alhoewel Herrij verbintenisse en assosiasies gehad het met die verskillende groepe wat die Skiereilandse Khoe opgemaak het, dit van tyd tot tyd gewissel het45. In die skeepsjoernaal van Peter Mundy van 1634 word beskryf dat hulle met die invaart na Tafelbaai,'n vuur gesien het op Penguin Island (Robbeneiland) maar hulle kon as gevolg van die ongunstige weer nie verder ondersoek instel nie46. Die wind en weer was gunstig toe hulle reg was om uit te vaar en 'n sloep word vir pos na die eiland gestuur. Die Skipmeester en Mundy gaan saam. Hier vind hulle ene Hadda [sic], 'n Khoe wat deur Kaptein Pynne na Bantam geneem en weer teruggebring was47. Mundy skryf in 1634 dat Hadah op Robbeneiland saam met sy familie en bondgenote, sowat 60 in getal, gewoon het. Hulle was ietwat beter geklee as die Khoe van die vasteland en Hadah was in 'n Engelse gewaad van kop tot tone! Hadah wou gehad het dat Mundy na hulle 7 huisies kom kyk asook die 'Cowes, Piggs, Henns and Chickins' wat Pynne (?) aan hulle gegee het en wat vermenigvuldig het. Ongelukkig het Mundy nie tyd gehad nie. Hadah was die hoof en goewerneur van almal op die eiland waar niemand hom kon molesteer nie aangesien die mense van die hoofland nie bote gehad het nie. Die groepie het van robbe en pikkewyne geleef waarvan daar 'n oorvloed was.

Toe die Hollandse skeepskaptein, C. Gerritsen, die eiland in 1638 besoek het was daar net 1 pikkewyn oor en geen ander wilde diere nie, vermoedelik uitgeroei deur die inboorlinge wat toe terug was op die vasteland en as Strandlopers voortbestaan het. Daar is ook nie aanduidings wat van die vee geword het nie. Maar Herrij het in 1639 gevra om weer terug na die eiland geneem te word. Gedurende 1647 was hulle weer op die vasteland48. Hier is Herrij en 'n groepie Strandlopers deur Jansz se groep van die Haerlem in 1648 aangetref. Herrij se ondervinding en kennis van die eiland was later nuttig toe hy vir Van Riebeeck kon vertel van die eetbare plante vir mens en dier op die eiland. In die Journal of Jan van Riebeeck kom daar meer as 150 verwysings na Herrij voor in die 10 jaar van 1652-166249. Dit sou sekerlik meer gewees het as dit nie was dat hy vir lang periodes weggebly het nie veral na hy oortredings gepleeg het en bang was vir retribusie. In dieselfde periode was daar 27 Resolusies wat verwys het na hom en selde vleiend was. In die Joernaal kon Van Riebeeck sy frustrasies, teleurstellings en ontnugterings duideliker uitspreek as in die meer formele Resolusies50. Herrij is in 1663 oorlede, slegs 'n jaar nadat sy mentor Jan van Riebeeck die Kaap verlaat het.

 

DIE VOC SE ROBBENEILAND

1. Algemeen

Die benutting en funksies van Robbeneiland gedurende die VOC-bewind word deur Sleigh bespreek met die klem op die gebruik as gevangenis en as bron van boumateriaal51. Die rol as veepos kry minder aandag, waarskynlik omdat Robbeneiland se rol as voorsiener van skape geleidelik verminder het met die toename in skaapgetalle in die besit van die vryboere. In 1695, byvoorbeeld, het die burgers 47 025 skape besit terwyl die Kompanjie 5 582 gehad het52. Gedurende Jan van Riebeeck se bestuur van 1652- 1662 was daar korrespondensie, persoonlike besoeke en Resolusies in verband met die aktiwiteite op die eiland, onder andere boerdery en veeteelt. Dit kan seker toegeskryf word aan sy persoonlike belangstelling en die besef dat daar nie volkome op die Khoe staatgemaak kon word vir die voorsiening van vee nie.

Robbeneiland was 'n unieke 'Buitepos'. Die geografiese ligging in die mond van Tafelbaai het die funksies van 'n militêre stasie en seinpos meegebring. VOC amptenare het die toesighoudende en funksionele posisies beklee. Sommige van hierdie amptenare was effektief bannelinge of gevangenes maar nog steeds in die diens van die Kompanjie. Geen ander buitepos het soveel boumateriaal (behalwe timmerhout) voorsien nie - skulpkalk, sagte kalksteen, granietsteen en blou leisteen53. Die isolasie van die eiland het die bevolking daar teen siektes soos pokke beskerm. In 1771 word dit egter as kwarantynstasie vir pokkelyers gebruik54.

Van Riebeeck het in 1657 'n paar bandiete daar geplaas om skulpe vir kalkbrandery te versamel. Drosters en bannelinge van die Ooste was ook soontoe verban. Die omstandighede waaronder die gevangenes en slawe moes werk, die rantsoene en die verwagte produksie, word in besonderheid deur Sleigh bespreek55. Die gebruik as seinpos vanaf Van Riebeeck se tyd was bemoeilik deur die totale afwesigheid van hout of ander brandbare materiaal wat per boot vanaf die Kaap,wat ook 'n tekort gehad het, gebring moes word. Die instandhouding en funksionering van die seinpos was een van die primêre pligte van die toesighouer. Die seinvure het as navigasiepunte gedien en ook om boodskappe en waarskuwings oor te dra.. Daar was meer as 100 toesighouers vanaf 1654 tot 1795 waarvan ene Hamerling vir 26 jaar daar gebly het en daar oorlede is. Vanaf 1705 was daar 'n sterk militêre groep wat gewissel het vanaf 8 tot 30 manskappe56.

Die omstandighede op Robbeneiland word kennelik gedemonstreer deur 'n gedig van die fiskaal Advokaat P. De Neijn 1672-1675, gebaseer op sy besoek aan die eiland. 'Wesende op 't Robben-Eijland uit den Raad gesonden als Commissaris, omne wat order onder een parij bandieten te stellen'.

Ik ben nu wel op 't Robben Land Met volkje van den deus aas bemand Daar niet en valt voor keel of tand Of voor de felle koue wat brand Gesonden, als Signor gesant Maar ik weer aan't vaste strand So sweer ik bij de hoogste Sanct Er geef daar op mijn rechterhand En ook mijn woord en trouw tot pand, So't niet ontbreekt aan mijn verstand Dat niemand mij daar weer op plant Want weet, dat ik ben silk een quant Die garen is een vaste klant Daar men de droefheid heel verband De glasen vuld tot aan de rand En vrolijk sijt met pijpjes, want Ik singh nogh op mijn ouden trant En stelt dit Eijland aan een kant En heb den bruij van 't dorre sand57

'n Konstante kenmerk van die eiland was moontlik die pragtige uitsig op Tafelberg, veral as daar 'n wolk oor die die kruin kruip. Of dit egter die ellendes versag het, is te betwyfel.

2. Verversings- en Veepos

Daar was op een of ander tyd met verskeie huisdiere op Robbeneiland geboer. Alhoewel skape sekerlik die belangrikste was, was daar ook varke, bokke, konyne, dassies en 'n groot verskeidenheid pluimvee. Trekosse was ingebring om te help met die skulpvervoer na die bote.

Van Riebeeck se 1ste besoek aan Robbeneiland (sien hierbo) was die gevolg van die afwesigheid van die Khoekhoe en hulle vee aan die Kaap en dus 'n ernstige tekort aan vleis en melk wat aangevul moes word deur die seevoëls. Terselfdertyd het hy ook die plantegroei ondersoek en die verkryging van water deur putte58. Gelukkig kom die Khoe met groot troppe vee vanaf Oktober aan en kon daar weer beeste en skape geruil word. Die veeruiling duur voort tot Januarie 1653 toe die Khoe vertrek met hulle vee en slegs sporadiese klein getalle word nog geruil tot Maart. Die terugkerende vloot kon egter wel voorsien word.

Skape

Die skape van die Khoekhoe wat in die Kaap aangetref was, was harige vetstert skape. Daar is vandag nog van hierdie tipe skape in Suid-Afrika in die vorm van Ronderib Afrikaner en Namakwa Afrikaner. Die Khoe het die vet van onder andere die sterte gebruik as velbeskerming of kosmetika. Die sterte was deur die intrekkers gebruik as smeer instede van botter en sou ook vetvrye wildsvleis meer smaaklik maak. Die Khoe skape was lank van been en kon vryelik beweeg. Dit wil voorkom asof die skape beter gevaar het onder die semi-droë omstandighede op die eiland gedurende die nat en koue winterseisoen van die skiereiland.

Op 14 Mei 1653 word daar 6 skape (4 ooie en 2 ramme) op Robbeneiland geplaas om te sien of hulle wel sou aard. Terselfdertyd is ook 'n paar dassies van Dasseneiland oorgeplaas. Teen 15 September was daar reeds 9 skape (en 1 dood) en Van Riebeeck hoop dat dit 'n aanduiding is dat Robbeneiland goeie skaapweiding kan voorsien. Vee word deur ruiling verkry en die nedersetting vorder met genoeg kos. Maar die toestand het drasties verswak toe 42 beeste gesteel word op 19 Oktober en daar slegs 1 melkkoei oor was en sowat 60 skape. In Februarie 1654 kom die skip Draeck in die Kaap aan maar kon nie aan die ree kom nie. Hulle verkry egter verversings in die vorm van pikkewyne en eiers op Robbeneiland. Die skipper rapporteer dat daar 11 skape was en almal so vet dat hulle beswaarlik kon loop. Van Riebeeck maak 'n veelseggende opmerking naamlik dat dit verblydend is dat die skape daar so fluks vorder aangesien die plaaslike skape 'doorgaens meer sterven als aentelen'59.

Hierdie mening word in 'n Resolusie van 18 Maart 1654 bevestig en redes word aangevoer hoekom Robbeneiland gebruik moet word. Daar is gevolglik besluit om al die ooie op Robbeneiland te plaas en die 'ramme' by die Kaap te hou vir verbygaande skepe. 'n Paar ramme sou na Robbeneiland gestuur word vir aanteeldoeleindes. In sy Daghreghister skryf Van Riebeeck dat die skape in die Tafelvallei meer sterf as wat hulle aanteel as gevolg van ''t overvloedige water veeltijts gellich ofte ongans worden ende meer versterven als se aenteelen cunen,' Hy skryf verder dat daar daagliks diere verloor word as gevolg van wilde diere. Robbeneiland het geen roofdiere gehad nie. Daar sou ook 'n persoon aangesê word om die skape te versorg60. Putte sou gegrawe word en nog 4 tot 5 mans aangesê word om terselfdertyd robbe te jag vir traan en velle. Dit was in werklikheid die aanvang van 'n permanente stasie. Die ooie word so vet dat besluit word om ook die ramme daarheen te stuur61. Die feit dat skape in Tafelvallei gevrek het word meermale vermeld. Dit was seker ook die ondervinding van die Skiereilandse Khoe en die rede hoekom hulle hierdie area in die reëntyd vermy het.

 

 

Van Riebeeck was verheug toe die bootjie terugkom van Robbeneiland op 12 Mei met 'n 'lustige, vet' ram. Die ram het amper 75 kg (150 pd; 1 Amsterdam pd = 0.494 kg) geweeg en was nie eers 1 van die beste of swaarste ramme nie. Daar was nou 41 skape62. In Augustus 1654 word daar 1 Hollandse ram, 'n ooi en 'n Kaapse ram aangestuur63. Dit lyk asof die skaapboerdery fluks vorder. Van Riebeeck het dit oorweeg om kaas te maak van die melk van die ooie op Robbeneiland maar die ooie het nie genoeg melk vir hulle lammers gehad nie en dié was van meer belang as die smulkaas. In 'n brief aan die toesighouers Sybrandt Rinckes en Willem Harmanz Hackert van 25 Oktober 1655 verwys hy na die baster Hollandse skape wat nie genoeg melk het vir albei nie. Amper terloops meld hy 'Ende wat aengaet de schurrfde schapen, moet Ul. van d'andere affhouden ende ons die hier wederom senden om te sien off men se gesont maken kan; soo sullen wij in 't reuylen daer meede opletten.'64

Die skape teel aan en daar word groot getalle geruil van die Khoe tot so 'n mate dat daar teen die einde van Desember 1655 meer as 600 skape op Robbeneiland was. Dit sou die grootste kudde ooit wees. Van Riebeeck besoek Robbeneiland 24 Februarie 1656 en bereken dat daar genoeg kos vir 2000 skape is tenspyte van die feit dat dit baie droog was en daar nie 'n enkele grashalmpie te bespeur was nie. Daar was egter oorvloedige bossies en die skape was vet. Gedurende 18 dae in Maart 1656 was daar 196 skape gelewer vir die vloot. Tog was daar nog 330 skape op Robbeneiland oor wat goed gevaar het alhoewel daar al vele gesterf het. Daar is nie 'n verduideliking van hoekom van die skape gevrek het nie en of dit nuwe of bestaande skape was nie.

Dieselfde trant word gedurende 1657 gevolg, naamlik Khoen skape na Robbeneiland terwyl ou ooie, hamels en ramme na die Kaap gestuur word vir plaaslike gebruik en vir die vlote. Daar was 400 skape aan die einde van die jaar en Van Riebeeck kon in Augustus sê dat die aanwas genoeg was om aan die verwagte behoeftes te voorsien. Jan Woutersz, die toesighouer, vra vir materiaal om die skaapstal te vergroot en nog hulp om die skape te beheer tydens kastrasie. In Januarie 1658 word Rijck Overhagen uitgestuur na Robbeneiland om in beheer van die skape te staan. Daar word ook materiaal vir die skaapkraal en waghuis uitgestuur. Skape word steeds na die Kaap gestuur en die getalle bly om en by 400. Gedurende April was daar 74 skape gelewer oor 18 dae. Rijck Overhagen het nou oorgeneem en 'n gereelde korrespondensie volg oor die versorging van die skape en hoe om die weiding te verbeter. Daar was blykbaar swak bestuur van lammerooie in die verlede en met die swak weiding het baie van die ou ooie hul lammers weggegooi. Overhagen vra dus vir hooi vir die ooie en skryf: 'Voorwaar het is mij leet het jonge vee soo verlooren te sien gaen.'65

Van Riebeeck vra Overhagen om na die Kaap te kom vir besprekings aangaande Robbeneiland en hy kom 26 Mei in die Kaap aan. Overhagen verkwalik sy voorgangers in die sin dat ou ooie agtergehou was instede van hulle vir slagdoeleindes weg te stuur. Hollandse ramme wat deur die burgers geteel was word aangevra om die kudde te verbeter want die kruisgeteelde ooie het dikwels meer as 1 lam en ook meer melk as die Kaapse ooie gehad. Terselfdertyd vra hy ook vir teer 'om de schapen te smeeren ende van schurfft te bewaren'. Hy keer terug op 28 Mei met 3 goeie Hollandse ramme wat van die burgers verkry was en 'n Guinese slaaf om 'de schapen te reynigen van veel ongediert, daer se onder de wol seer mede gequelt wierden ende waervan veele aan de schorfft raeckten, tot welcke om te smeeren ende haer daervan suyver te houden,'66.'nVat teer word saamgestuur omdat teer 'seer dienstich wesende volgens ondervindinge,'. Dit verbaas nie dat skurfte (brandsiekte) algemeen voorgekom het en teer doeltreffend gevind was nie. In Julie was daar 9 brandsiek skape na die skiereiland gestuur vir behandeling asof die skape nie genees kon word op die eiland nie.

Dit was bekend dat Robbeneiland sanderig en droog was gedurende die droë seisoen (somer) en daarom word grassooie en grassaad uitgestuur gedurende die winter om die somerweiding te verbeter. Overhagen erken ontvangs maar meld dat die eiland toe (Julie) so oortrek was van gras en klawer-suring dat daar genoeg weiding was vir 1000- 2000 skape, asook dat daar gedurende die droogste tyd meer weiding was as aan die Kaap as gevolg van die immergroen bossies. Hy was nie optimisties omtrent die grassaad nie, maar skryf verder dat die slegte weer nou 32 skape, veral ou ooie, doodgemaak het. Lammers en skape wat van die Kaap gekom het kompenseer egter vir 62 skape wat omgekom het. Op daardie stadium, einde Julie, het Robbeneiland amper tweemaal soveel skape as die Kaap gehad naamlik 400 teenoor 227.

Die veeruiling het redelik fluks gevorder alhoewel 1 ruiltog swak resultate gelewer het en die Khoe aangevoer het dat hulle vee gevrek het en daarom kon hulle nie vee voorsien nie. 'n Sensus op 28-29 November 1658 het getoon dat daar 'n totaal van 1756 skape was waarvan die Kaap 932 gehad het, Robbeneiland 474 en die burgers 35067. Een dag later word daar besluit dat 'n groot skaapstal op Robbeneiland gebou moet word. Overhagen het gerapporteer dat daar meer as 120 skape gedurende die winter doodgegaan het as gevolg van koue en reën. Die oorblywende 474 skape gedy en was so groot soos kalwers. Die veeverliese op Robbeneiland vandat die Kompanjie se skape daar geplaas was, was grotendeels as gevolg van gure weer. Die verliese sou nou hopelik voorkom word deur 'n skaapstal op te rig.

Van Riebeeck spreek sy verbasing uit op 18 Desember 1658 dat die eiland so droog kan wees en tog so wonderbaarlik kan herstel na goeie rëen: 'Met verwondering was te sien dat de schapen, nu 489 in 't getal, so welgedaen waren, vermits niet een grasjen op 't ganse eylandt was anders als wat groente aan eenige bosgens op sommige plaetsen wassende, wesende anders, vermits de drooge tijt, 't ganse eylant so dor als de schraelste sandtduyn die ergens weesen mach; doch's winters ofte regentijt, is er vol gras, wilde suyring ende spinnagie, etc.' Tydens hierdie besoek het Van Riebeeck ook die beste plasing van die voorgenome skaapstal uitgewys.

Die krisis van 1659

Vroeg in 1659 skryf Van Riebeeck aan Overhagen dat hy: 'oocq de schapen wel te reynigen van de doornen ende schurft, item oock het doorncruyt ter tegen uyt de roeyen, vermits het veel schade aen de voeten van de schapen doet.'68 Van Riebeeck besoek die eiland 8-9 April om homself te vergewis van toestande daar gedurende die droë seisoen in teenstelling met sy besoek in Desember69. Hy kom tot die gevolgtrekking dat as gevolg van die immergroen bossies daar genoeg kos vir 2000 skape was. Slegs 'n maand later (7 Mei) vind die fiskaal dat daar as gevolg van 'n skielike koue reën en stormagtige weer, meer as 80 ooie gesterf het. Die ooie was almal swaar dragtig. Hy beskryf die simptome as 'hebbende groote lammicheden of het berbery was ['berbery', waarskynlik beri-beri wat in die Ooste voorgekom het, beskryf die algemene swakheid van die pasiënt] wat inde beenen gecregen ende soo (als niet cunnende gaen maar blijvende leggen) voorts heel vercleumpt ende gestorven,'. Hy bring 7 dooie skape saam met hom om te sien 'of de kenders wisten te seggen wat sulx was ende hoedanigh te remediën70.' Die uitslag van hierdie ondersoek is nie bekend nie.

Dit is ironies dat die 'schoonen' skaapstal amper klaar was, 6 maande na dit begin was selfs met inagneming van die logistiese en vakman probleme. Die sterftes duur egter voort en op 17 Mei word die seinvure aangesteek om die vrektes te rapporteer. 'n Sloep word uitgestuur en bring 'n jammerlike brief terug van Rijck Overhagen. Hy skryf dat dit sleg gaan met die skape 'sijnde al omtrent de 200 schapen doot sijn, al meest jonge oyen die haer eersten lam dragen ende nu alle dagen souden gejonght hebben, soo datter samen met de lammeren dien ick daerin bevonden hebbe al over de 400 ende in de 20 beloopt, en can noch niet sien dattet ophoudt.' Hy het gehoop om 800 skape aan te hou maar 'ick niet veel lust meer heb'. In Januarie was daar net 478 skape oor en hulle sou aanhou doodgaan totdat daar slegs 63 oor was teen 5 Julie. Theal bespreek hierdie siekte-uitbraak wat in 1659, gelyktydig met skermutselings met die Khoekhoe, voorgekom het. 'A virulent sickness at that time appeared among the horned cattle and sheep, so that of some flocks and herds not less than four out of five died. On Robben Island only thirty five sheep remained out of a flock of five hundred' 71.

Bulpin beskryf dat daar omtrent 'n kwart van die vee aan die Kaap gevrek het. Op Robbeneiland, wat as 'n veilige weiplek beskou was, het daar van 'n kudde van 520 skape en 332 beeste (!) slegs 40 skape oorgebly72. Tog het Sleigh in sy gedeelte oor Robbeneiland verwys na die skape wat so gedy het onder Overhagen sonder om hierdie verliese te noem73.

Dit was ook in Mei dat aanvalle van die Khoekhoe verskerp en veerowery toegeneem het. Op Saterdag 7 Junie 1659 word 'n Resolusie van die Politieke Raad dus gepromulgeer. Die openingssin spreek vanself: 'Alsoo God de Heere om onser ovetredinge wille cortelijks heeft gelieven te comen besoecken ... soo is goed gevonden voortaan alle Woensdagh's namiddaghs tegen vier uijren een vast ofte bidpredicatie te laten doen, omme de toren Godts door bidden ende smeecken van ons aff te bidden'. Die beproewings wat Van Riebeeck aanhaal is die sterfte onder die Kompanjie se vee (bestiael), veerowery van die vryburgers se vee, die oorlog en moordery en die totale ontwrigting van die landbou as gevolg daarvan. Die woordgebruik herinner aan 'n steendruk 'Gods slaandehand over Nederland door de pest-siekte onder het rund vee' wat na runderpes gedurende 1745 verwys, lank na Van Riebeeck. Die magteloosheid van die boeregemeenskap word duidelik geillustreer74.

Die gure weer duur voort en die nuwe skaapstal word omgewaai in Junie75. Die skrynwerkers vind dat die steunpale gebreek het as gevolg van die stormwinde. Theal het opgemerk dat die aard van die siekte nie genoem is nie maar dat dit nie uithongering was nie aangesien die skape wat op stal gevoer is net soos die ander gesterf het. Moontlik verwys hy na die verslag van 23 Junie waar Overhagen rapporteer dat daar 100 skape in die omgewaaide stal gesterf het. Daar was net 100 skape oor van die wat buite die stal was.

Toe Van Riebeeck hierdie inligting opskryf meld hy dat daar ook sterftes was onder die skape aan die Kaap maar nie op so 'n groot skaal nie. Tenspyte van die sterftes stuur Overhagen tog 29 skape na die Kaap terwyl hy bevrees is dat die oorblewendes ook sal sterf. Oedasao, 'n Khoen hoofman van die Cochoquas (Saldanhars), sê gedurende 'n gesprek met Van Riebeeck dat hy nie kan verstaan wat aan die Kaap aangaan nie. Daagliks sterf daar van sy beeste en 'te machtigen hoop schapen'. Dit was as gevolg van hierdie sterftes dat hy nie vee kan bring om te ruil nie en Van Riebeeck sou verder in die binneland moet gaan soek76. Dit was nie die gewone tyd van die jaar aan die Kaap vir hierdie Khoen groep en hulle vee nie. Die laaste ram het ook gesterf en Overhagen moes dus vir nog ramme vra. Daar was net 35 skape oor teen 18 Augustus maar die fiskaal vind 90 skape waarvan 25 gesonde vet ramme reg was vir die skepe op 4 Februarie 1660. Otto Jansz het intussen van Overhagen oorgeneem. Overhagen het dus die nare ondervinding gehad om in beheer van 'n florerende skaapboerdery deur 'n absolute ramp getref te word.

 

 

Dit is opmerklik dat daar omtrent geen korrespondensie met Robbeneiland was voor 7 Augustus 1660 nie, toe Van Riebeeck skryf dat hy 27 jong ramme stuur om gekastreer en vet gemaak te word. Ou botter word saamgestuur om die kastrasiewonde te behandel. Slangolie was voorheen ook gebruik maar dit was te dun en het eenvoudig uitgeloop. Die ruilhandel neem toe gedurende September. Van Riebeeck het alreeds 'n paar keer aan Jansz geskryf en gevra hoeveel skape daar was. Klaarblyklik het hy geantwoord want Van Riebeeck verwys na 'n brief van hom maar daar word nie getalle genoem nie. Van Riebeeck vra vir hom of hy nog Hollandse ramme nodig het wat verkry kan word van die vryburgers. Alhoewel groot getalle beeste en skape geruil word, is daar geen rekord dat van hulle na Robbeneiland gestuur was nie. 'n Skreiende brief word aan Jansz gestuur op 20 Desember waarin Van Riebeeck sy teleurstelling uitspreek dat hy geen inligting van hom ontvang nie. Die fiskaal, Abram Gabbema, gaan 4 Januarie 1661 na Robbeneiland om Jansz te ontslaan en die nuwe toesighouer, Jan Sacharias aan te stel. Die fiskaal kom terug met inligting van die skape waarvan daar nou 136 was77. Robbeneiland kon alreeds op 5 Maart 40 uitstekende vet hamels lewer vir die retoervloot. Daar word op 21 Februarie besluit dat die Kompanjie voortaan ooie wat geruil word op 'n veiling sal verkoop ten einde die vryburgers aan te moedig om hulle veegetalle te vermeerder. Die vryburgers sou dan skape verkoop aan die Kompanjie teen 'n vasgestelde prys. Dit het gelei na verminderde afhanklikheid van die Kompanjie se skape en uiteindelik van die Khoe s'n. Die verwysings na Robbeneiland van Maart 1661 tot April 1662 is hoofsaaklik in verband met geheime seine aan die Hollandse skepe en verwysings na skulpe en varke. Die inkomende kommandeur Johannes Wagenaer besoek Robbeneiland op 19 April 1662. Hy vind daar 170 besondere vet skape en 300 varke. In sy opinie was die eiland groot genoeg om 'n goeie aantal diere aan te hou. Die skaapgetalle was dus besig om te styg maar het nooit weer die getal van 600 soos in Desember 1655 gehaal nie. Die sirkulasie van skape na Robbeneiland van die Kaap en terug is in 1669 beëindig78. Coenradus Urbamis (Urbanus) word in Mei gestuur na Robbeneiland om die oorsake van die sterftes daar te ondersoek. Hy vind dat daar 'n algehele tekort aan weiding was. Hy moes na die beste van sy kennis oordeel of die oorblywende skape gered kon word deur hulle na 'n warm stal in die Kaap te bring. Sy gevolgtrekking was dat al die skape sou sterf as gevolg van die reën en koue. Die Politieke Raad besluit dus dat die skape onmiddelik van Robbeneiland afgehaal en na die Kaap gebring moet word om te red wat nog gered kan word. 'n Boot word nog dieselfde dag gestuur om die skape af te haal. Teen 1676 was daar 1980 skape op die Buiteposte maar Robbeneiland word nie genoem nie79. In 1685 was daar 7685 skape op die Buiteposte en met die afskaffing van die poste was daar geen skape in 1700 oor nie. Brandsiekte was die eerste skaapsiekte wat gediagnoseer is. Van Riebeeck moes die toestand elders ondervind het en het nie gehuiwer om die antieke gebruik van teer aan te beveel nie. Hy was ook vol moed dat die skape genees kon word. Dit is nie duidelik of brandsiekte reeds onder die Khoen skape voor die aankoms van Europeërs voorgekom het nie. Daar kan seker bespiegel word oor wat die oorsaak van die groot sterftes in 1659 was wat tot 'n mindere mate ook op die vasteland voorgekom het en of dit net die gure weer was. Die weersomstandighede op Robbeneiland was en is swakker as byvoorbeeld in die Tafelvallei. Die Tien Goue Jare vir skape op Robbeneiland was ongetwyfeld deels die gevolg van Van Riebeeck se toegewyde aandag en ook die hulp van ervare staf.

Varke

Die 1ste verwysing na varke was toe Haddah op Robbeneiland gelaat was om na beeste en varke ('Cowes, Piggs, Henns and Chickins') van Pynne [of Hall] op te pas. Volgens Haddah het alles goed vermenigvuldig80. Skape en beeste kon van die Khoekhoe geruil word maar Jansz en Proot moes voorsiening maak vir varke. Die Remonstrantie verwys na St Helena-eiland waar groot getalle varke was en dat 'n vloot van 12 skepe 200 varke gelaai het81. Hierdie varke was deur die Portugese daar geplaas82. Jansz en Proot was bewus van honde wat deur skepe daar gelos was nadat hulle varke gevang het en dat die varkgetalle kon afneem. Deur die honde te bestry kon die varkgetalle toeneem. Van Riebeeck het in sy Consideratie verwys na sy waarnemings in Batavia waar arak gestook en die varke op die reste gevoer was. Hy was dus oortuig dat varke aan die Kaap geteel kon word83. Van Riebeeck het waarskynlik varke saam met hom na die Kaap gebring en hulle was aangehou langs die kombuis van die Fort waar die varke kombuisafval gevoer kon word. In April 1654 gee hy opdrag aan die skipper van die De Rode Vos om robbevleis, pikkewyne en 'vuijle' eiers, wat daar in oorvloed was, van Robbeneiland te bring vir die varke. Reeds op 5 Junie 1655 besluit Van Riebeeck om varkboerdery op Robbeneiland te probeer en stuur 4 varke (3 sôe en 1 beer). Hy skryf aan die toesighouer Adraen van de Pavert soos volg: '...proberen off die daer oock beter alshier sullen werden'84. Hy skryf verder dat Van de Pavert moet toesien dat daar genoeg kos en water in balies vir die varke is. Hy moet ook 'n 'slobbering' maak van half-gaar pikkewyn-en robbevleis. Die varke moes saans huistoe kom sodat hulle ten alle tye mak85 genoeg sou wees om te vang. Hulle het fluks aangeteel en op 3 Julie was daar reeds 19 varke maar slegs 9 dae later was daar al 5 van hulle dood. Die volgende probleem was dat die varke die pikkewyne en hulle neste vernietig het sodat daar geen eiers gevind kon word nie86. Al die jong varkies was spoedig dood en die oorspronlike 4 is teruggebring na die Kaap87. Dit was die einde van hierdie poging.

Dit skyn asof die tekort aan varke (en ander proviand), die Hollandse vloot steeds gedwing het om by St Helenaeiland aan te doen. Die kaptein van die jag Maria berig op 22 Januarie 1658 dat hulle weinig varke op St Helena kon kry maar dat daar deur ene Crab met 'n vloot van 6 skepe, 600 varke gevang was in Mei 165788. Van Riebeeck teken op 19 Feb 1658 aan dat 5 vate spek aan die Arnhem voorsien was in terme van die regulasies van die Kompanjie wat voorsiening gemaak het vir 2 vleisdae en 1 spekdag per week of te wel 1½ pd vleis en 1 pd spek per kop89. Die varke aan die Kaap was lastig in die tuine en allerhande maatreëls is toegepas om die probleem te bekamp. Byvoorbeeld, as skutgeld van loslopende varke nie betaal was nie kon hulle geslag word of na Robbeneiland gestuur word. Teen 26 Julie 1658 word daar aanvaar dat varkboerdery in sy destydse vorm 'n mislukking was90. Instede van 'n verwagte 150 varke was daar slegs 24 van 50 oor. Daar word besluit om die varke aan die vryburgers te verkoop en vetgemaakte diere weer teen 2½ stuiwers per lb terug te koop91. Die getalle het daarna so toegeneem dat die onus nou op die inwoners gerus het om self hulle tuine te beskerm. Hierdie stelling is moeilik om te vereenselwig met die varkgetalle op 27 Desember 165892 aangeteken, naamlik 80 waarvan 41 aan die Vaandrig met sy eie tuin behoort het en 23 aan vryburger Hendryck Boom93.

Van Riebeeck was vasberade om hierdie situasie te verbeter en op 9 April 1659 besoek hy Robbeneiland om self te sien of daar kos vir varke gedurende hierdie droogste tyd van die jaar was94. Alhoewel daar vir 2000 skape genoeg weiding was, was daar hoegenaamd geen weiding vir die varke nie. Tenspyte van hierdie waarneming word daar 2 sôe op die punt om te werp saam met Rijck Overhagen na Robbeneiland gestuur op 29 Julie95. Die doel was om te sien of varke daar aangehou kon word om die skape, wat amper uitgevrek het, te vervang. Overhagen vra ook vir 'n beer om aan te teël. Daar word planne gemaak om die weiding vir die varke te verbeter en grassooie en saad asook klawers en suring word gestuur. Oorryp groentes van die Kaap word ook aangestuur wanneer moontlik. Op 14 Augustus 1659 word byvoorbeeld 'porceleyn ende St Helena's suyringhsaet' gestuur. Overhagen is hoogs in sy skik en sê dat as die varke 'n bossie sou eet wat op die eiland voorgekom het, daar plek vir 2000 diere sou wees. Op 3 Oktober kon hy rapporteer dat nog 5 varkies aangekom het. Dit het sekerlik vir Van Riebeeck moed gegee want 8 November stuur hy nog 40 varke met die Schapenjacht na Robbeneiland96. Die Schapenjacht het met skulpe belaai teruggekeer en bring 'n brief saam van Overhagen. Hierin skryf hy dat daar slegs 36 varke ontvang is en daarvan is 6 al dood en meer sal volg. Die jong varkies het geen 'mergh' (Bosman 'melck') in die bene nie97 terwyl die ouer varke net vel en been was. Overhagen is optimisties dat hy die varke weer sal regkry en noem dat die vorige varke so vet was asof hulle vetgevoer was.

Dit lyk asof dié diere goed gevaar het op Robbeneiland. Die inkomende kommandeur Zacharias Wagenaer besoek Robbeneiland op 'n inspeksie-tog op 20 April 166298. Hy merk op dat daar 170 besonder mooi skape, 4 bokke en 300 varke was wat los geloop en goed aangepas het. Daar sou plek vir nog baie skape en varke wees.

Volgens Sleigh het die varke baie pikkewyneiers geëet maar dit was nie meer 'n aktuele probleem nie aangesien daar alternatiewe voedselbronne beskikbaar was99.

Daar is geen verdere verwysings na varke op Robbeneiland nie terwyl daar wel melding gemaak word van varke op ander buiteposte100. In 1670 is al die Kompanjie se varke op die vasteland byvoorbeeld na die buitepos Houtbaai gestuur sowel as diere wat van die vryburgers teen 'n redelike prys gekoop kon word. Die aangeteelde varke kon dan aan die VOC se verbygaande skepe verkoop word101. In 1676 was daar 44 varke by Houtbaai maar hulle was steeds 'n probleem in dorpsgebiede en loop byvoorbeeld los in die ontwikkelende Valsbaai in 1781102. Die voorsiening en aanvraag na varke en vleis neem verder toe. In 'n Resolusie word genoem dat 29 lewendige varke aan die fregat Thetis gelewer word103. 'n Deense skip het 'n bestelling geplaas het vir 4000 lb spek en 10 vate varkvleis van 200 lb elk. Terselfdertyd was daar 3000 lb gesoute beesvleis en 11 lewendige skape. Hierdie varkvleis moes byna uitsluitelik van die burgers gekom het. Varkboerdery kon nie as 'n ekstensiewe stelsel voortbestaan nie en is eerder as 'n tuisnywerheid bedryf. Daar is dus bitter min gegewens oor varkgetalle en geen aanduiding wat van die varke op Robbeneiland geword het nie.

Konyne

Van Riebeeck het naarstiglik probeer om konyne op Robbeneiland te vestig en as bykomstige voedselbron te benut. Die konyne was ingevoer van Holland en aanvanklik in hokke aangehou. Daar moes etlike kere aanvullende konyne na die eiland gestuur word maar toe die skape in 1659 op so 'n groot skaal gesterf het, het die konyne steeds vermenigvuldig. Soveel so dat Van Riebeeck kon sê dat dit 'n skrale troos was. Konyne was gebruik as voedselaanvulling en van die goewerneurs het gevra dat daar konyne vir hulle gevang word. Die konyne het egter so toegeneem dat daar gevrees is dat hierdie diertjies die eiland sou oorneem en die weiding sou vernietig104.

Ander huisdiere

Die toesighouers op die eiland het 'n klein aantal hoenders aangehou maar Van Riebeeck het nie die ontwikkeling van 'n groot hoenderboerdery toegelaat nie, deels omdat skaars grane gebruik sou word maar ook omdat hy gedink het dat hoendervleis 'n luukse artikel was wat aan die Kaap self geproduseer kon word. In 1657 word 3 hoenders na Robbeneiland gestuur maar die haan was heeltemal blind en 'siekt aan de pip'. Die haan is die volgende dag dood.

In Augustus 1654 het die poshouer Marcus Robbejaert, 49 ganseiers vir Van Riebeeck gestuur105. Die ganse het so floreer dat hulle'n oorlas in die groentetuine geword het. 'n Persoon was benodig om die ganse uit die tuine te hou maar Van Riebeeck het dit as belaglik beskou. In 'n betigtende brief aan Otto Jans. skryf Van Riebeeck in Desember 1660 dat die ganse geskiet kon word om 'n smaaklike dis te voorsien. Hy gaan voort en skryf: ''t schijnt dat men U die selffs wel mede diende in de mont te stoppen'106.

Roofdiere

Daar was geen viervoetige roofdiere nie. Dit was trouens 1 van die voordele van Robbeneiland in teenstelling met die vasteland waar luiperds en hiënas groot skade aangerig het. Wat daar wel was, was slange. Slange was al voor die 1ste besoekers aan die Kaap op die eiland. Die slange was molslange (Pseudaspis cana) wat ook op die vasteland voorgekom het. Die molslang kan tot 210 cm lank word en alhoewel nie giftig nie is dit aggressief en kan pynlike wonde veroorsaak. Molslange dood die prooi deur konstriksie en kan byvoorbeeld pikkewyneiers insluk asook die kuikens doodmaak. Aanvanklik het die slange in balans met die voëls gelewe maar die vermeerdering van die konyne belemmer. Die uitroei van slange was een van die pligte van die personeel wat so suksesvol was dat dit bygedra het tot die bevolkings-ontploffing van die konyne.

Ander

Pogings is ook aangewend om fisante en patryse te vestig maar dit was van korte duur.

 

GEVOLGTREKKINGS

Robbeneiland het besliste voordele as veepos bo die Kaap gehad. Alhoewel die siektetoestand wat na oorvloedige reëns aan die Kaap voorgekom het, nie op die eiland verskyn het nie, was dit nie immuun teen die episoötie van 1659 nie. Die klimaatsomstandighede het goeie behuising vereis wat eers laat voorsien was. Die temperatuurwisseling was ook groter as aan die Kaap. Die eiland was dikwels onbereikbaar, veral as die suidoos-oos wind gewaai het. Daar het soms 'n tekort aan weiding ontstaan en tog was die somerweiding beter as aan die Kaap as gevolg van die bossies wat daar gegroei het. Die Khoe skape was dikwels van die swakste en het beide aan die Kaap en op Robbeneiland gesterf. Dit is twyfelagtig of dié skape sonder akklimatisasie die wintersomstandighede aan die Kaap kon verduur. In 1658 was daar op Robbeneiland byna tweemaal soveel skape as die totale aantal VOC skape op die vasteland. Vryburgers het toenemend aan die behoefte vir skape en vleis vir die nedersetting en die vlote voorsien en die buiteposte kon dus later gesluit word.

Robbeneiland was egter nog steeds van strategiese belang. Dit het ook as tronk vir bandiete en bannelinge voortbestaan. Van Riebeeck was in sy skik met die boumateriale wat hy daar verkry het en andersins sou moes invoer.

Sou Tafelbaai as halfwegstasie gekies gewees het sonder Robbeneiland? Dit is twyfelagtig. Jansz en die groep van die Haerlem was vir die grootste gedeelte van hulle verblyf afhanklik van Robbeneiland vir kos. Van Riebeeck was kort-kort aangewys op Robbeneiland as nood-spens en om skape aan die verbygaande vlote te voorsien.

 

VERWYSINGS EN VOETNOTAS

1. Deacon H (ed.) 1996 The island. A history of Robben Island 1488-1990. Mayibuye Books No. 60. David Phillips, Cape Town

2. Sleigh D 2004 Die Buiteposte VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795. Protea Boekhuis, Pretoria: 349

3. Moderne benaming is Khoekhoe. Die term 'Hottentotte' was algemene gebruik in die 17de en 18de eeu asook 'Inboorlinge' soos aangetref deur Dias en Da Gama teen die einde van die 15de eeu

4. Raven-Hart R 1967 Before Van Riebeeck Callers at South Africa from 1488 to 1652.C. Struik, Cape Town: 9. Hierdie versameling van besoekers aan die Kaap word as 'n ensiklopedie beskou en die outeur het die oorspronklike of fotokopiëe van oorspronklike verslae nagegaan.

5. Theal G McC 1964 (Faksimilee van) The history of South Africa before 1795. Foundation of the Cape Colony by the Dutch (Cape Town 1922). C. Struik, Cape Town: 56.

6. Raven-Hart, p. 8

7. Penn N, 1996 Robben Island 1488-1805. In Deacon H (ed.), The island: The history of Robben Island 1488-1990. Mayibuye Books No. 60. David Phillips, Cape Town: 10

8. De Villiers S A 1971 Robben Island out of reach, out of mind. C. Struik Cape Town: 5

9. Mentzel O F 2006 A geographical-topographical description of the Cape of Good Hope. 1785, vertaler Mandelbrote, Part I, Van Riebeeck Society, Reprint series, Cape Town: 39

10. Axelson E 1998 Vasco da Gama The diary of his travels through African waters 1497-1499. Stephan Phillips, Somerset West: 22

11. Die robbe wat op Robbeneiland aangetref was, is die Suid-Afrikaanse pels rob (Arctocephalus pusillus pusillus) (Eng. South African fur-seal, Oud Eng. Sea-wolves; Afr. ook seeleeu). Dragtigheid duur omtrent 1 jaar en die jong word hoofsaaklik in laat November tot vroeg Desember gebore en ongeveer 94 % in 'n 34 dae siklus. Estrus kom voor 5 tot 6 dae na jong. Die jong robbetjies begin eers na 3 tot 4 maande die dieper see besoek. Robbe kan baie ver van die land af in die see aangetref word. Die ou-seevaarders het die aanwesigheid van robbe in die diep see as 'n aanduiding van land aanvaar. Die jong verhaar April tot Mei en die volwassenes, laat Januarie tot middel April. Daar is 'n periode waar daar min robbe op land is en die getalle begin weer middel Oktober toe te neem (Skinner J D, Chimimba C T 2005 The mammals of the southern African subregion. Cambridge University Press, Cambridge: 511-513)

Die pikkewyne aangetref op Robbeneiland is die brilpikkewyn, Spheniscus demersus (Cape of Jackass penguin). Die lê-seisoen is hoofsaaklik Januarie tot September, maar alle maande van die jaar is al aangeteken en die eiers word op land gelê waar dit blootgestel is aan roofvoëls en -diere. Die enigste vyande van die pikkewyne op Robbeneiland was slange en seemeeue wat die eiers gevreet het (Tarboton W 2001 A guide to nests and eggs of southern African birds. Struik Publishers, Cape Town: 21). In teenstelling met robbe is pikkewyne dus die hele jaar beskikbaar

12. Raven-Hart, p. 8

13. Ibid., pp. 9-10

14. Theal, pp. 147-150

15. Ibid., p. 336 verwys na Admiraal George Raymond aangesien die vloot onder sy beheer was en Raven-Hart, pp. 14-15 dus foutieflik na Lancaster verwys

16. Raven-Hart, pp. 22, 24. Lancaster het lemmetjiesap gebruik om skeurbuik te voorkom deur die matrose onder sy bevel lemmetjiesap te laat drink. Geen gevalle van skeurbuik het op sy skip voorgekom nie terwyl dit gewoed het op ander skepe van die vloot

17. Ibid., pp. 25-29

18. Ibid., p. 47, Verslag van George Downton

19. Ibid., p. 110, Jón Olafson

20. Ibid., p. 30

21. Ibid., pp. 33-34

22. Ibid., pp. 37-41

23. Ibid., pp. 41-44

24. Ibid., p. 65

25. Ibid., p. 80

26. Resolusie Augustus 7, 1616. [Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope Cape Town Archives Repository, South Africa]

27. Raven-Hart, p. 103

28. Ibid., p. 125

29. Godée Molsbergen E C 1912 De Stichter van Hollands Zuid-Afrika Jan van Riebeeck 1618-1677, Bylage VIII. S L van Looy, Amsterdam: 206-214

30. Ibid., Bylage IX, pp. 215-221

31. David J, van Sittert L 2008 A reconstruction of the Cape (South African) fur seal harvest 1653-1899 and a comparison with the 20th century harvest. South African Journal of Science 104: 107-110. David en Van Sittert het die robbe-oes aan die Kaap vanaf 1652 tot 1752 beskryf en getabuleer onder 'Aantal velle', 'Liters olie' en 'Minimum aantal robbe gedood'. Laasgenoemde syfer berus op die aantal velle. In die periode 1653 tot 1657 was daar 71 523 robbevelle en 12 923 liters traan olie gelewer. Vanaf 1658 was geen velle meer opgeneem nie maar wel traanolie, bv. in 1683 was daar 31 495 liters geproduseer. Die skrywers beraam dat daar oor die totale periode van 1653 tot 1752 tenminste 1 276 747 robbe gedood is. Die Kie het in 1657 besluit dat geen robbevelle meer verkry moes word nie aangesien dit van swak kwaliteit en dus onekonomies was. Die Kie het besluit dat dit 'n onekonomiese transaksie was en 'n onaanvaarbare stank op die skepe veroorsaak het

32. Raven-Hart, p. 311

33. Ibid., p. 58

34. Ibid., p. 65

35. Thom H B (ed.) 1958 Journal of Jan van Riebeeck Vol. III. A.A. Balkema, Cape Town: 520-521. Die Journal of Jan van Riebeeck bestaan uit 3 volumes: Vol. I gepubliseer 1952 dek die periode 1651 tot 1655; Vol. II gepubliseer 1954, die periode 1656 tot 1658 en Vol. III gepubliseer 1958, die periode 1659 tot 1662 en die Indeks vir die 3 volumes. Sien ook Verwysing 50 hieronder [Sal na verwys word as Thom].

36. Bosman D B (red.) 1952, 1955, 1957 Daghregister gehouden by den Oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck. A.A. Balkema, Kaapstad. Die Daghregister is gepubliseer in 3 volumes, nl. Vol. I in 1952 dek die periode 1651 tot 1655; Vol. II gepubliseer in 1955, die periode 1656 tot 1658 en Vol. III, die periode 1659 tot 1662. Sien ook Verwysing 50 hieronder [Sal na verwys word as Bosman].

37. Bosman, Vol. I, p. 45

38. Ibid., pp. 57-58

39. Resolutions of the Council of Policy of Cape of Good Hope. Cape Town Archives Repository South Africa. 24 September 1652

40. Raven-Hart, p. 71

41. Penn, pp. 11-12

42. Raven-Hart, p. 67; Penn, pp. 11-12

43. Penn, p. 12

44. Elphick R 1977 Kraal and castle. Khoikhoi and the founding of white South Africa. Yale University Press, New Haven: 107

45. Sien Elphick vir die verskillende Khoengroepe aan die Kaap en sy waarskuwing dat daar versigtig moet wees met Van Riebeeck se benamings. Mitchell P 2002 The archaeology of southern Africa. Cambridge University Press, Cambridge). Sien p. 230 vir 'n grafiese verspreiding van die Khoentale sprekers en hulle verspreiding veral van die Skiereilandse groepe

46. Raven-Hart, pp. 140-144

47. Ibid., p. 127. Bevraagteken Mundy se verwysing na Pynne en vermoed dat dit John Hall in 1631 was wat vir Hadah na Bantam geneem het en hom in 1632 teruggebring het

48. Sleigh, p. 352

49. Thom, Vol. III, p. 510

50. Die Journal of Jan van Riebeeck van Thom is meer volledig as die van Bosman se Daghregister. Thom het na beide die Kaap se en die Den Haagse weergawes gekyk. Aan die anderkant is Bosman se weergawe op die oorspronklike Nederlandse kopie gebaseer. Thom gee toe dat sy vertaling die sin liewer as woordelikse korrektheid nastreef

51. Sleigh, pp. 349-398

52. Thom H B 1936 Die Geskiedenis van Skaapboerdry in Suid-Afrika. Swets & Zeitlinger, Amsterdam: 18, 20

53. Sleigh, pp. 373-377

54. Ibid., pp. 377-378

55. Ibid., pp. 389-392

56. Ibid., pp. 365-367

57. Ibid., p. 357 siteer P de Neijn 1665 Vrolike Uuren. Kaap die Goeie Hoop: 58

58. Bosman, Vol. I, 57-58

59. Ibid., p. 201

60. Ibid., pp. 206-207

61. Ibid., p. 211

62. Ibid., p. 225

63. Dit word algemeen aanvaar dat Kommisaris Rijcklof van Goens in 1657 die 1ste Hollandse skape ingevoer het. Volgens hierdie aanwysing was daar reeds Hollandse skape in 1654

64. Bosman, Vol. I, p. 357. Weer eens word na Hollandse skape verwys en hierdie is die 1ste verwysing na schurrfte

65. Bosman, Vol. II, p. 209: Die Politieke Raad was so ingenome met Overhagen se diens dat hulle op 28 Mei 1658 sy aanvangssalaris van 9 tot 14 gulde verhoog het. Dit was veral omdat hy die skape aso goed versorg het. Rijck Overhagen van Steenwijck het op 10 Augustus 1653 as soldaat in die Kaap aangekom. Hy het vee versorg op die hoofland tot hy na Robbeneiland gestuur is

66. Thom 1936, p. 245: Rijcklof van Goens het 10 Hollansdse skape saamgebring van Holland, en dit is deur verdere invoere aangevul

67. Bosman, Vol. II, p. 411: In 1653 was dit beraam dat die 'Saldanhars' 20 000 beeste en skape gehad het. Die groot kuddes het frustrasie geskep wanneer die Khoe traag was om te ruil

68. Bosman Vol. III, p. 6 (6 Januarie 1659)

69. Ibid., p. 30

70. Ibid., p. 37.

71. Theal, pp.94-95.

72. Bulpin T V 2001 Discovering southern Africa. Southern African Production CC, Muizenberg: 17

73. Sleigh, p. 355

74. Blancou J 2003 History of the surveillance and control of transmissible animal diseases. Office International des Epizooties, Paris: 163

75. Bosman, Vol. III, p. 67

76. Ibid., pp. 92-93

77. Ibid., p. 317

78. Resolusie 17 Mei 1669

79. Thom 1936, p. 21

80. Raven-Hart, pp. 140-144

81. Godée Molsbergen, p. 208

82. Sleigh, p. 633

83. Godée Molsbergen, p. 218

84. Bosman, Vol. I, pp. 511-512

85. Bosman, Vol. II, p. 252

86. Sleigh, p. 369: Die dodo (Raphus cuculatus) was voor die einde van die 17de eeu op Mauritius uitgeroei. Dit was vermoedelik deels as gevolg van die varke wat wild geword het en vir hulle self moes sorg. Daar was geen inheemse roofdiere of mense op Mauritius voor die 17de eeu nie

87. Bosman, Vol. I, p. 338

88. Bosman, Vol. II, pp. 235-236

89. Ibid., p. 252

90. Ibid., p. 347

91. Ibid., pp. 347-348

92. Bosman, Vol. II, p. 449

93. Ibid., p. 390: Op 19 Oktober 1658 was 1 300 skape en 600 beeste aan die Kaap

94. Bosman, Vol. III, p. 30

95. Ibid., p. 308

96. Ibid., pp. 156-157

97. Thom, Vol. III, p. 155: Thom vertaal die stelling deur 'no stamina' gebaseer op die Afrikaanse uitdrukking 'murg in die pype te hê'

98. Bosman, Vol. III, p. 457

99. Sleigh, p. 370

100. Ibid., p. 382: Sleigh verwys na dooie varke wat oorboord gegooi is en deur bandiete op Robbeneiland geëet was totdat Goewerneyr de la Fontaine hulle 'n vleisrantsoen van 5.175 kg per week gegee het 1725.

101. Resolusie 5 Maart 1670

102. Ibid., 4 Mei 1781

103. Ibid., 28 Februarie 1792

104. Sleigh, p. 408: Konyne is ook op Dasseneiland geplaas en in 1749 was daar 1000 konynvelle uitgevoer teenoor 270 robbevelle

105. Thom, Vol. I, p. 256

106. Bosman, Vol. III, pp. 312-314

 

 

Ontvang: Mei 2011
Aanvaar: Mei 2011

 

 

* Hersien en herdruk met verlof uit Argos 2008 4(39): 424–441.