SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.45 issue3Belhar, Liturgy and Life?A Quarter Century of Democracy and the Uniting Reformed Church in Southern Africa author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Studia Historiae Ecclesiasticae

On-line version ISSN 2412-4265
Print version ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.45 n.3 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.25159/2412-4265/6437 

ARTIKEL

 

Van 1619 na 1857 en 1986: 'n Lyn van Dordt na Belhar?

 

 

Gideon van der Watt

Departement van Praktiese en Missionale Teologie Universiteit van die Vrystaat gideonvanderwatt7@gmail.com https://orcid.org/0000-0002-5993-636X

 

 


OPSOMMING

Die vierhonderdjarige herdenking van die Sinode van Dordrecht 1618/19 en die vyf en twintigste herdenking van die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika-geleenthede wat beide in 2019 gevier is-lei natuurlik tot 'n vraag na die verband tussen hierdie twee historiese gebeurtenisse. In die historiese ontwikkeling van die afsonderlike kerke in die "NG Kerkfamilie" het 'n bepaalde vertolking van die verkiesing uit genade alleen, soos die Sinode van Dordrecht daaroor beslis het, 'n belangrike rol gespeel. In hierdie historiese proses van afsonderlike kerkvorming was die besluit oor afsonderlike nagmaalviering deur die NG Kerk se 1857-Sinode n waterskeidingsmoment. Dit het nie net rondom die nagmaalstafel nie, maar in die totale kerklike inrigting 'n skeiding tussen belydenis en kerklike bedieningspraktyk gebring en uiteindelik die deur geopen vir die teologiese regverdiging van apartheid. Die 1857-besluit het dus uiteindelik tot gevolg gehad dat die Belhar Belydenis van 1986 die lig gesien het. Die Belhar Belydenis sluit weer doelbewus aan by die sentrale leerstuk in die Gereformeerde tradisie, naamlik die "verkiesing uit genade alleen." Die NG Kerk se onvermoë en onwilligheid om die Belhar Belydenis te aanvaar, bly 'n tragiese realiteit.

Sleutelwoorde: Dordt 1618/19; Belhar; NG Kerk; afsonderlike kerke; separate churches


ABSTRACT

The fourth centenary celebration of the Synod of Dordrecht 1618/19, as well as the twenty fifth commemoration of the birth of the Uniting Reformed Church in Southern Africa-both having been celebrated in 2019-naturally leads to the question of the relation between the two historical events. In the historical development leading to the formation of separate churches in the "Dutch Reformed Family of Churches," a distinct interpretation of election based on grace alone, as decided upon by the Synod of Dordrecht, played a major role. In this historical process of the formation of separate churches the 1857 synod decision by the Dutch Reformed Church has been a watershed moment; it not only brought a separation between people around the Lord's table, but also a division between confession on the one hand and the practical ministry embodying the confession on the other hand. The 1857 decision eventually led to the necessity of the Belhar Confession in 1986. The Belhar Confession deliberately seeks a linkage to the central Reformed doctrine of "election by grace alone." The Dutch Reformed Church's inability and unwillingness to accept the Belhar Confession remain a tragic reality.


 

 

Inleiding

In 2019 word die vierhonderd jaar sedert die Sinode van Dordrecht (1618/19), asook die vyf en twintig jaar sedert die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika gevier. Dit is daarom gepas om lyne te probeer trek tussen hierdie twee historiese gebeure. Hoe is die besluite, belydenis en kerkorde wat by die Sinode van Dordrecht gebore is in die historiese ontwikkeling van die afsonderlike kerke in die "NG Kerkfamilie" vertolk en toegepas? In hierdie historiese ontwikkeling was die 1857 sinodebesluit van die NG Kerk 'n waterskeidingsmoment; dit het uiteindelik uitgeloop op die Belydenis van Belhar in 1986. Hoe is die leerstelling van "verkiesing uit genade alleen" as hart van die Gereformeerde tradisie, in hierdie ontwikkeling vertolk? Hoe het hierdie vertolking neerslag gevind in die bedieningspraktyk en kerkordening van die NG Kerk? Kan die Belhar Belydenis daarop n korreksie bring?

 

Dordt 1618/19

Die Dordtse Sinode van 1618/19 is saamgeroep om uitsluitsel te gee in die dispuut wat daar in die eerste twee dekades van die 17de eeu tussen volgelinge van Armenius en Gomarus ontstaan het. In hierdie geding binne Gereformeerde kringe in Nederland moes daar oor twee standpunte beslis word: aan die een kant het dit gegaan oor die mens se vrye wil en eie keuse in die verlossing-die semi-Pelagiaanse standpunt van die Remonstrante, en aan die ander kant oor die soewereiniteit van God se wil en genadige verkiesing soos verstaan in die ortodoks-Calvinistiese tradisie-die contra-Remonstrante se standpunt. Hierdie sinode was n oomblik van waarheid, n moment van beslissing in die Gereformeerde tradisie. Teenoor die mens se vrye wil en verdienste is daar onomwonde gekies vir God se soewereine, vrye genade soos vergestalt in die leerstuk van die uitverkiesing: God kies mense uit genade alleen en versamel hulle tot sy kerk.

Enkele opmerkings oor hierdie sinode:

Hierdie spesifieke sinodebesluite en gebeure van belydenisvorming moet binne die sosio-politieke konteks van die historiese ontwikkelinge van die Nederlandse Goue Eeu, die 17de eeu, verstaan word. Die Stadhouer, Prins Maurits van Oranje, het deur middel van 'n staatsgreep feitlik diktatoriale magte verkry. Daardeur kon hy die Libertynse adellikes wat die vorige politieke bedeling gedomineer het en wat meestal die Remonstrante ondersteun het, skaakmat sit. Dit was dus ook danksy Maurits dat n nasionale sinode gehou kon word en die Gereformeerde of Hervormde Kerk die Rooms Katolieke Kerk as staatskerk kon vervang. Buitelandse Gereformeerdes is ook as deelnemers na die sinode uitgenooi.

Hierdie leerstuk oor die verkiesing is bedoel om aposteriories (Jonker 1989, 68), met ander woorde terugskouend op wat reeds in ons verlossing gebeur het, gelees te word. Dit is as doksologie en as troos vir selfs die mees ellendiges (pastoraal) bedoel. Dit is nié bedoel as skolastiese, rasionele invra in en uitleg van die verborgenhede van God se wil nie. Dit het nie in die eerste plek uitsluitsel probeer gee oor begrippe soos supra- en infralapsaries nie, of n temporale uitklaring van die verkiesingsmoment nie. Paradoksaal wou die sinode vashou aan sowel die soewereiniteit van God's genade in die verlossing van die mens, maar tegelyk ook aan die mens se verantwoordelikheid om die genade-aanbod in die geloof te aanvaar. Dit het God nie tot outeur van die sonde gemaak nie (Hoekema 1972, 210). Verkiesing en verwerping staan dus nie op dieselfde vlak, as parallelle tot mekaar nie. Hierdie beslissing het uitgeloop op n belydenis oor die hart van die evangelie, en dit het die sluitstuk in die Gereformeerde tradisie geword: sola gratia, genade alleen.

Hoewel die Dordtse Leerreëls nie heeltemal vrygekom het van skolastieke taal en metodiek van die tyd nie, lê die gesag en betekenis van die Belydenis dus eerder in die saak wat dit wou bely-so het selfs Gisbertus Voetius, die invloedryke teoloog wat self as jongman leidinggewend deel van die sitting was, dit verstaan (Jonker 1995, 38).

Die missionêre dimensie van die Dordtse Leerreëls is ook opvallend, modern selfs. Dit gaan oor missio Dei, of dan liewer missio Trinitatis Dei: God se verlossing van die hele wêreld deur die versoening in Jesus Christus, soos die Heilige Gees dit in mense se harte bewerk (Hoekema 1972, 211). In hierdie sending, wat van begin tot einde God se werk is, roep en stuur God egter, uit louter goedheid, verkondigers van hierdie vreugdeboodskap oor die genadige verkiesing in Christus die wêreld in. God skakel mense, sy kerk, by sy sending na die wêreld in. Deur hulle diens word alle mense en volke geroep tot bekering en geloof in Christus die gekruisigde. Die teks van Romeine 10:14-15: "... hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie" het as locus classicus vir die missionêre duiding van die belydenis gedien. Al sou die versoeningsdaad aan die kruis nie deurwerk tot die harte van hulle wat dit verwerp nie, bly die "dood van die Seun van God die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen" (Dordtse Leerreëls, hierna DL II, 3). Daarom moet dit in alle erns aan almal, sonder onderskeid, verkondig word; dit is God se wil dat almal die uitnodiging moet hoor en na God toe moet kom: "Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep" (DL III/IV, 8).

Dit is klokhelder: hierdie verkiesing gebeur "sonder onderskeid," en nie omdat "een beter of waardiger as die ander is nie," want alle mense "is van die begin af na die beeld van God geskep" (DL III/IV, 1); deur die sondeval is alle mense "ewe verlore" (DL I, 6) en verkeer hulle "saam met die ander in die gemeenskaplike ellende" (DL I, 7). Daarom moet die belofte van die evangelie, die verlossing in Christus, "aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid, verkondig en bekend gestel word met die eis tot bekering en geloof' (DL II, 5). Die verkiesing en verlossing is op grond van "die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God," (DL III/IV, 7) sonder enige menslike verdienste, of dit nou etiese of etniese verdienste, ontwikkelingspeil of watter ander natuurlike onderskeid ook al is (sien ook Jonker 1994, 136). Meer kere in die Dordtse Leerreëls word die gelykwaardigheid van alle mense uitdruklik bely. Ons gedeelde ellende en die verlossing uit genade alleen laat geen ruimte om tussen mense te diskrimineer of bepaalde mense uit te sluit nie. Dit het natuurlik verreikende implikasies vir die 17de-eeuse Nederlandse samelewing met sy skerp klasseverskille en vir die indra daarvan in die kerk gehad. Uitverkorenes word tot die een kerk, die een liggaam van Christus versamel, sonder onderskeid. Dit vind onder andere ook neerslag in hoe die Kerkorde van Dordt oor sending as kerkgroei, of dan die planting van dieselfde kerk in ander geweste gedink het (Smit 1995, 52-53), asook dat die kerk wat plant nie heerskappy oor die geplante kerk kan voer nie, want in die kerk is ons gelykwaardig, almal uitverkore begenadigdes. Gevolglik is die beginsel vasgelê dat daar in die kerk nie 'n hiërargie kan wees nie-"Onder de Dienaren des Woords sal ghelijckheyt ghehouden worden" (DKO Art 17) en "Geen Kercke sal over andere Kercken/geen Dienaer over andere Dienaren/geen Ouderlingh noch Diaken over andere Ouderlingen ofte Diakenen eenighe heerschappye voeren" (DKO Art 84)-sodat Christus alleen sy kerk deur sy Woord en Gees kan regeer (Jonker 1965).

Die gelykheid van begenadigdes is die onweerlegbare, die verrassende, selfs skokkende implikasie van die leerstuk van die verkiesing uit genade alleen. Daarom bied dit troos, selfs vir die mees ellendiges (of dalk juis vir hulle!).

In die tydperk net na die Dordtse Sinode was daar n merkwaardige opbloei in sendingwerksaamhede in die Nederlandse Gereformeerde Kerk (Knegt 2018, 267). Die Nederlandse Nadere Reformasie van die 17de en 18de eeu het verdere stimulus aan hierdie aktiwiteit gegee. In die Nadere Reformasie is gepoog om die ortodoksie van die eerste Reformasie (Calvyn) meer intiem en nougeset toe te pas in die lewe van individue, in die kerk se aanbidding en in die samelewing as geheel-daar is inderdaad na n Nederlandse teokrasie gestreef. In die praktyk van vroomheid moes die wil van God vir ons lewe tot in die fynste besonderhede uitgevoer word; die voorgangers in hierdie beweging het selfs die bynaam "de fijne" gekry. Die ongelukkig-geformuleerde artikel oor die bewyse van die verkiesing in n praktyk van vroomheid (DL I, 12), die sekerheid van verkiesing wat baseer moet word op die waarneming ("bevindelijkheid") van die vrugte van die verkiesing in n lewe van bekering en egte vroomheid, is daarmee radikaal vertolk. In n latere fase van die Nadere Reformasie het nie net die lewenspraktyk van vroomheid nie, maar selfs mistieke ervaringe vir sommige n voorvereiste geword. Hierdie mistieke ervaringe is toenemend gesoek in separatistiese, piëtistiese konventikels of "gezelschappen" (Beeke 2009). Die gevaar was natuurlik dat bekering die voorwaarde vir verlossing word ('n ondermyning van die genade alleen), maar ten minste is die belydenis van genade aan die een kant, nie losgemaak van n gevolglike lewe van gehoorsaamheid aan die ander kant nie-sien as voorbeeld hiervan Voetius se boek De Practijcke ofte oefeninge der Godstsaligheyd, wat wyd in die 18de/19de eeu in Suid-Afrika gelees is (Hofmeyr 1989, 63).

Dit was vanuit die dampkring van die Nederlandse Nadere Reformasie van die 17de eeu, met die klem op die "praktyk van Godsaligheid," wat die kerk met haar Calvinistiese, puriteinse en selfs piëtistiese vroomheid hier in Suid-Afrika geplant is. Die eerste sieketroosters en sendelinge, trouens die hele vroeë sending van die NG Kerk, het uit hierdie Nederlandse Nadere Reformasie gestam. Daarvan is ds Helperus Ritzema van Lier, ds MC Vos en die weduwee Magteld Smit (die eerste nie-amptelike sendingsekretaris in die NG Kerk!) die duidelikste voorbeelde (Hofmeyr 1989, 53 ev.; Schoeman 1997, 123ff.; 2005). Die evangelie van verlossing en die noodsaak van bekering moes uitgedra word na selfs die mees ellendiges, ongeag kleur of stand. In dr Johannes van der Kemp het Vos en Smit n medewerker op die voorpos gehad, en in 1899 het Vos en Van der Kemp saam die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap gestig.

 

Die NG Kerkfamilie 1857

Die Kaapse samelewing van die 17de en 18de eeu was deur n streng klasseverdeling gekenmerk, n "nie-gelykstelling" tussen adellike bestuurslui van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), gewone werknemers van die VOC, vryburgers en slawe. Nietemin was alle gelowiges-ook gedoopte slawe-vir ten minste die eerste twee eeue lidmate van dieselfde gemeentes. Vir die slawe het die Christelike doop beteken om op gelyke voet met ander gelowige broeders en susters deel van die gemeente te wees. Ds. MC Vos beskryf nog in 1819 die vreugdevolle aandoening wanneer "begenadigde slaven en slavinnen in mine kerk het Avontmaal des Heren" vier ... en sommige slawe-eienaars "verkozen aan dezelfde tafel met hunne slaven aan te zitten" (Du Plessis 1911, 217).

Ten spyte van hierdie aanvanklike verdraagsaamheid, het daar egter algaande 'n rassespanning, wat verwoord is in die bekende begrippe "vrees vir gelykstelling," by die koloniste ontwikkel. Hierdie vrees is in die 1830s aangevuur deur die wêreldwye beweging ten gunste van die vrystelling van slawe en die ontmoeting tussen wit en swart op die noordelike en oostelike grens. Dit is op die spits gedryf deur sendelinge, veral ook dr Van der Kemp, wat aktivisties aangedring het op gelykheid tussen gelowiges. Hierdie aandrang was juis ook op grond van die Gereformeerde tradisie waarvan hy deel was en waarin die gelykheid van gelowiges op grond van die uitverkiesing bely is. Hierdie groeiende "vrees vir gelykstelling" was een van die belangrikste aanleidende oorsake vir die Groot Trek van 1836/38. Hierdie vrees vir gelykstelling het die dominante lyn in die geskiedenis van die Protestantse sending in Suid-Afrika-en spesifiek in die NG Kerk-geword; dit sou mettertyd die belydenis oor verkiesing uit genade alleen so verwring en hervertolk dat dit op die ideologie van die uitverkorenheid van die Afrikanervolk en die meerderwaardigheid van die blanke ras, en uiteindelik op die Bybelse regverdiging vir apartheid uitgeloop het. Hierdie hele verhaal is op uitmuntende wyse in Richard Elphick (2012) se boek: The Equality of Believers: Protestant Missionaries and the Racial Politics of South Africa verwoord.

Die kerklike praktyk van afsonderlikheid het amptelik beslag begin kry by die NG Kerk se sinodesitting van 1857. In oploop tot hierdie sinode was daar n toenemende stroom versoeke dat toestemming verleen word tot afsonderlike nagmaalsvieringe. Die volgende besluit is toe geneem:

De Synode beschout het wenschelijk en schriftmatig dat onze ledematen uit de heidenen in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelyfd worden overal waar sulks geschieden kan, maar waar deze maatregel als gevolg van de zwakheid van sommigen de bevordering van de zaak van Christus onder de heidenen in de weg zoude staan, de gemeenten uit de heidenen opgericht of nog op te richten hare Christelijke voorrechten in een afsonderlijke gebouw of gestichten genieten zal. (Kriel 1963, 59; Van der Merwe 1985, 25)

Hierdie besluit het duidelik twee kante, 'n prinsipiële en 'n praktiese kant. Die voorsteller, ds Andrew Murray snr., het dit strategies bedoel; dit moes die groeiende weerstand teen die sending hokslaan en hy het gehoop dat die prinsipiële kant mettertyd sou seëvier. Predikante soos Andrew Murray jr., GWA van der Lingen en NJ Hofmeyr het teen die kleurvooroordeel in sommige gemeentes gewaarsku (Kriel 1963, 59). Dordt 1618/19 was in die oploop tot die debat ter sprake (Van der Merwe 1985, 240). Dit het egter nie gehelp nie; inteendeel, die toegewing aan die "zwakheid van sommigen," met ander woorde die "vrees vir gelykstelling," het die praktyk geword. Daarvoor is dwarsdeur die eeu wat sou kom sendingwetenskaplike en Bybelse begronding gesoek. Selfs ook die prinsipiële kant van die 1857 besluit verraai egter reeds n afwyking van die Dordtse belydenis van verkiesing uit genade alleen en die gelykheid van gelowiges, ongeag volk of ras. In die 1857 besluit is meermale sprake van "onze" gemeentes teenoor die "ledematen uit de heidenen" en "gemeenten uit de heidenen." Daar is dus sprake van n blank-gesentreerde en -toegeëiende kerkbegrip, n vertolking van die verkiesing in woorde wat nie rekening hou met die verrassende feit dat naas die verkiesing van Israel, ons almal wat hier in Afrika woon, blank en swart sonder onderskeid, uit die heiden-nasies verkies is nie. Oor dié misterie dat heidene, insluitende afstammelinge van Wes-Europeërs, naas die volk Israel ook verkies is, het Paulus in Romeine 11:33-36 'n doksologie aangehef.

Die besluit van 1857 het gelei tot die stigting van afsonderlike "dogterkerke" uit die verskillende bevolkingsgroepe, onder voogdyskap van die "moederkerk"-die binnelandse NG Kerkfamilie. Met die groot sendingywer, veral aangespoor deur die Skots-evangeliese "Revival-Movement" en die Nederlandse Réveil (as 19de-eeuse weergawe van die Nadere Reformasie) van die merkwaardige Murray familie, is daar ook verskeie kerke dieper in Afrika geplant. Daarmee het die buitelandse NG Kerkfamilie ontstaan. Maar, dit moes afsonderlike kerke wees! Daarin het die vrees vir gelykstelling 'n toenemend belangrike rol gespeel. Een voorbeeld daarvan was selfs die poging om na Uniewording in 1910 die gefedereerde (wit) NG Kerke (van Kaapland, Natal, Vrystaat en Transvaal) in een algemene sinode te verenig. Die onderskeie moderature het entoesiasties hiervoor gewerk; dit het in alle opsigte sin gemaak. Maar uiteindelik sou die kerkrade van gemeentes in die Vrystaat en Transvaal in 1911 n stokkie daarvoor steek, op grond van die "gelijkstellings kwestie" (Elphick 2012, 5051; Van der Watt 1987, 6); daar was immers enkele bruin lidmate wat nog deel van twee Kaapse gemeentes was!

Hierdie praktyk van afsonderlikheid, gebaseer op die uitgesproke "vrees vir gelykstelling," is sedert die 1930s in verskillende sogenaamde sendingbeleide teologies verwoord en kerk-ordelik vasgelê (Jonker 1962). In die proses om tot 'n duidelike sendingbeleid vir die NG Kerk te kom, is daar ook gebruik gemaak van insigte uit die Duitse Sendingwetenskap van Gustav Warneck, Bruno Gutmann, en veral ook Siegfried Knak van die Berlynse Sendinggenootskap wat baie aktief in Suid-Afrika was-dit het gevaarlik naby aan die nasionaal-sosialisme van die tyd beweeg (Elphick 2012, 172177). Hulle het die klem op volkseiendomlikhede gelê, met die gevolg dat die ideaal gekoester is om volke as volke te kersten. Daarom is afsonderlike, inheemse volkskerke vir elke bevolkingsgroep onontbeerlik. So is dit dan ook in die NG Kerk se sendingbeleide sedert 1934 geformuleer: inheemse kerke, waarin geen rasvermenging sou wees nie, was die dominante beginsel. Dit, ten spyte daarvan dat in dieselfde beleid ook gestel word dat alle nasies uit een bloed geskape is en dat almal vir wie Christus gesterf het, gelyk is voor die aangesig van God (Crafford 1982, 464-465). Gelykheid as belydenis ja, maar belangriker in die bedieningspraktyk en kerkordelike reëlings is afsonderlikheid! Die foutlyne van 1857 loop steeds duidelik.

Afsonderlikheid, die praktyk van niegelykstelling, moes ook Skriftuurlik regverdig word, dit moes dié teologiese prinsiepe word; daarvoor was die begronding in die sendingwetenskaplike praktyk net nie meer voldoende nie. Vir hierdie opgawe sou die neo-Calvinistiese teoloë en filosowe van veral Potchefstroom tot die stryd toetree. Hulle het egter sterk steun vanuit die NG Kerk gekry. Hulle het Abraham Kuyper hervertolk en Christelike-Nasionalisme as oorkoepelende konsep gemunt. Dit het onder andere daartoe gelei dat "die volk," die Afrikanervolk, as die uitverkore volk met n sendingmandaat in Afrika verstaan is. Daarom moes die volk suiwer en afsonderlik gehou word. Op die groot Volkskongres in 1944, wat oor "Die Rassebeleid van die Afrikaner" gehandel het en waar die waardige Totius die hoofspreker was, het dit finaal beslag gekry (Elphick 2012, 241-257). Gelykstelling sou nie meer as die Bybelse standpunt kon geld nie, maar is deur skeiding vervang, want uit die Ou Testament en die skeppingsverhaal is dit duidelik dat God die groot Skeidingmaker is. Vanuit die Vrystaat was ds JG Strydom, wat vir meer as 25 jaar Sendingsekretaris van die Vrystaatse NG Kerk was, ook een van die sprekers op die Volkskongres. Hy het onvermoeid (aktivisties selfs) gewerk om ook die sendingbeleid van die NG Kerk in lyn te bring met die nuwe denke van die neo-Calviniste. Die Vrystaatse Kerk het hom in 1937 spesiaal na die suidelike state van Amerika gestuur om daar te gaan leer hoe afsonderlikheid toegepas behoort te word. Die Vrystaatse kerk het sy pamflet oor die rassevraagstuk, waaruit Totius op die Volkskongres uitgebreid aangehaal het, gratis aan elke huishouding gestuur. Vir Strydom was die Christelike sending niks anders nie as die Afrikanervolk, as uitverkore volk, se roeping tot selfbehoud deur middel van totale apartheid. Die sending na swartmense moes in diens hiervan staan. Volgens Strydom was dít presies wat dit beteken het om Calvinisties en Christelik-Nasionaal te wees. Sien in dié verband ook die bronnestudie oor Strydom (Labuschagne 2011).

Hierdie teologie van afsonderlikheid het in 1978 neerslag gevind in die NG Kerk se beleidsdokument Ras Volk en Nasie, miskien net in 'n meer subtiele vorm.

Hoe die kerk meegewerk het om juis hierdie kerklike beleid sedert 1948 ook staatsbeleid te maak, is goed gedokumenteer (Botha 1986; Botha en Naude 2010; Elphick 2012; Giliomee 2003; Kinghorn 1986; Vosloo 2017, ensovoorts).

 

Belhar 1986

Daar was ook deurlopend weerstand teen hierdie vertolking en verwringing van die sentrale leerstuk van die Gereformeerde tradisie. Die weerstand was veral teen die wyse waarop die leerstuk van verkiesing uit genade alleen, soos by Dordt verwoord, as belydenis gehandhaaf is, maar sonder dat dit in die praktyk van kerk en samelewing en in die ordening van die kerk vergestalt of beliggaam hoef te word. Die weerstand het uit vele oorde gekom.

Uit die NG Kerk se eie geledere het die kritiek gegroei: Bennie Keet, Ben Marais, Beyers Naudé, Willie Jonker, Jaap Durand, Johan Heyns en ander het die onhoudbaarheid van die Bybelse regverdiging van apartheid blootgelê, teen groot weerstand in. Ook die druk vanuit die ekumene (buitelands en binnelands) het toegeneem (De Gruchy 1979).

Uit die geledere van Afrikaanse intellektuele het daar ook skerp kritiek gekom. Een van die mees besondere stukkies "lojale kritiek" op die verwringing van die verstaan van verkiesing het gekom in die vorm van 'n Feesgedig wat NP van Wyk Louw in 1962 op versoek van Willie Jonker vir die 75-jarige viering van die NG Gemeente Johannesburg geskryf het. Jonker (1991), en sy skoonseun Dirkie Smit (2017, 6), haal die gedig en die gebeure rondom die gedig meermale aan, juis omdat dit soos n klein beiteltjie, wat "klink en blink," die "rots breek" en die kloof blootlê: "die donker naat loop deur my land." Dit is gepas en nodig om die aangrypende gedig hier volledig aan te haal:

Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarentjie van God,
in ons benoude vlees geval.

Die eerste oë wat Hom sien,
was skawagters vol strooi en stof:
kras manne wat in skerms woon
en ruik na bok en rook en mof;
ná baie dwaal en baie soek
-en selfs digby Herodus vra!
kom eindelik die Wyses tóg
met goud en wierook agterna.

Hy het sy eerste kern gekies
nie uit geleerdes in die Skrif of dié wat hande en borde was
met koue voorgeskrewe drif;
maar vissers en tollenaar
die't Hy geroep met sagte groet:
manne met harde hande en sweet
en eelte, en 'n oop gemoed. (Versamelde Gedigte van NP van Wyk Louw 1981, 334)

Ook Adam Small het satiries, met verbysterende klaarheid, gedig oor die vertolking van die verkiesing in NG Kerkgeledere. In "Kitaar my kruis" skryf hy: "die Here het gaskommel/en die dice het verkeerd geval vi'ons/daai's maar al" (Opperman 1975, 380).

Om verstaanbare redes het die sterkste weerstand teen die vertolking van die verkiesing in die NG Kerk vanuit die sogenaamde "dogterkerke" gekom, hulle wat die implikasies daarvan aan eie lyf gevoel het (Plaatjies-Van Huffel 2017). Dirkie Smit skryf in sy lesing by sy aftrede by die Kweekskool op Stellenbosch (2017)-en hy brei meesterlik daarop uit in die 2018 Warfield Lectures by Princeton-hoe die weerstand meestal gekom het as n beroep op die Gereformeerde tradisie teen die heersende vertolking van die tradisie in. Smit self verduidelik hoe die vertolking van die verkiesing deur Herman Bavinck, soos ook deur Willie Jonker aangehaal as sleutel tot sy boek Uit Vrye Guns Alleen, sy verset teen die dwaling van apartheid gestempel het. In die verkiesing word troosvol bely "in de onwaardigste der menzen, in de diepst gesonkene nog een schepsel Gods en een voorwerp zijne eewige liefde te erkenning" (Jonker 1989, 11).

Wanneer dr Allan Boesak en die afgevaardigdes uit die NGKA, NGSK en RCA in 1982 die Wereldbond van Gereformeerde Kerke se vergadering in Ottawa in Kanada bywoon, gaan hulle daarheen met n dokument waarin Calvyn se verstaan van die nagmaal, soos verwoord in sy Institusie, Boek IV, Hoofstuk17/38, volledig aangehaal word. Hulle beroep hulle dus op die tradisie teen die tradisie. Calvyn het geskryf: ons kan nie in die nagmaal die eenheid van die liggaam van Christus vier, sonder dat hierdie eenheid nie ook in ons lewe sigbaar word nie; "dat wij Christus niet kunnen beminnen, zonder Hem te beminnen in de broederen"; en dat die nagmaal ons oproep om dieselfde sorg vir mekaar se liggame te neem as vir ons eie. Met ander woorde, belydenis en die beliggaming daarvan in kerk en samelewing kan nie van mekaar geskei word nie, veral nie rondom die nagmaalstafel nie (Vosloo 2017, 250). Die afgevaardigdes uit die NG Kerk se "dogterkerke" verduidelik dat hulle daarom nie saam met die NG Kerk se afvaardiging in Ottawa kan aansit by die nagmaalstafel nie, terwyl hulle dit nie ook in Suid-Afrika kan doen nie. Soos in 1857 word die nagmaal, as diepste uitdrukking van kerk-wees, hier weer die waterskeidingsmoment. Dit het daartoe gelei dat die Wêreldbond n status confessionis verklaar het. Die losmaak van belydenis en die beliggaming daarvan; die belydenis van gelykheid aan die een kant, maar tegelyk die praktyk van ongelykheid aan die ander kant; die belydenis van die genadige verkiesing sonder enige menslike verdienste aan die een kant, maar tegelyk ook die Bybelse regverdiging van apartheid wat uitgaan van die fundamentele onversoenbaarheid tussen mense (Durand 2017, 69ev; Du Toit 2014, 31) en daarom die regverdiging van sistemiese onreg teenoor bepaalde groepe mense aan die ander kant, tas die hart van die evangelie aan. Dit is nie maar adiafora (om't ewe) nie; dit is 'n erge teologiese dwaling, kettery! Dit roep om belydenisvorming (Cloete en Smit 1984, 14ev).

In 1986 neem die NG Sendingkerk die Belydenis van Belhar amptelik aan, as n "kreet uit die hart" gepers (Cloete en Smit 1984, 11). Soos alle belydenisskrifte, het Belhar ook binne n historiese konteks ontstaan. Dit is egter nie gemik op apartheid as politieke beleid nie, maar op die teologiese regverdiging daarvan, op n teologiese dwaling wat die hart van die evangelie bedreig. Daarom sou dit in alle tye en omstandighede kon geld, selfs ook in n era na apartheid. Die belydenis het n eenvoudige struktuur, meestal geskryf in woorde en frases direk uit die Skrif.

In die aanhef word doelbewus aangesluit by die Gereformeerde tradisie en belydenisse, veral wat in HK Sondag 21 oor die kerk bely word. Dit is God Drie-enig self wat sy kerk versamel, beskerm en versorg, van die begin tot die einde. Die implikasies daarvan is nie onskuldig nie; dit gaan uit van die Dordtse belydenis oor God se genadige verkiesing van mense uit die ganse mensdom; dit sny in teen die liberale kerkreg wat kerk verstaan as vrye assosiasie van gelykgesindes; dit kies teen die volkskerk waar verbondenheid aan die volksgroep swaarder weeg as die verkiesing uit genade alleen; die uiteindelike gevolge van 1857 se toegewing aan die swakheid van sommige wat tot die skeiding van die liggaam van Christus gelei het, word hier afgewys. Die kerk is God se kerk, Trinitaries begrond. Dít bepaal die toon van die hele belydenis, skryf Dirkie Smit (2013, 47ev).

Die hoofpunte van die belydenis gaan oor lewende eenheid, ware versoening en ontfermende geregtigheid. Eenheid is 'n gawe wat die Vader skenk op grond van Christus se versoening; dit word bewerk deur die Heilige Gees. Die kerk is reeds een. Maar die gawe is ook n opdrag, dit moet in liefde, sigbaar, vergestalt word. Die belydenis oor die een liggaam van Christus kan nie losgemaak word van die kerklike aanbiddingspraktyke soos die nagmaal nie. Dit is n lewende eenheid wat nie afgedwing kan word nie; dit hoef ook nie die verskeidenheid op te hef nie. Binne die eenheid moet die verskeidenheid gevier word.

In Belhar gaan dit ook oor egte versoening. Die versoening wat binne die ruimte van die Drie-enige God se genade-omhelsing gebeur, kan tog nie losgemaak word van die versoening tussen die uitverkore, versoende gelowiges nie. Alle vyandskap kan en moet tog oorwin word; daar kan nie uitgegaan word-soos in apartheid-van die fundamentele onversoenbaarheid tussen mense nie!

Dit gaan ook oor ontfermende geregtigheid: regverdiging deur die geloof in Christus roep om n soeke na geregtigheid teenoor ander. Soos God, moet ons in n situasie van onreg by die verontregte gaan staan, want God laat reg aan die verdrukte geskied (soos in Ps 146 gesing word). Dit is nie n reg wat vergelding soek nie, maar wat ontferm; dit wil heling bring.

In die slot word bely: Jesus Christus is die Hoof van sy kerk, en daarom is die kerk groter gehoorsaamheid aan Hom as aan watter ander owerheid of mag ook al verskuldig, selfs al vra dit van ons lyding. Ook dit was geen onskuldige woorde nie. Daarmee is aangesluit by die oerbelydenis van die vroeë kerk, die embrio van alle eg Bybelse belydenisse: Jesus Christus is Heer!

 

Kort Beoordeling

Na my oordeel het Belhar die lyn wat vanaf Dordt 1618/19 deur die Gereformeerde tradisie geloop het, maar wat sedert 1857 in die NG Kerk skromelik laat los is, weer opgetel en in die NG Kerk se hande kom plaas. Die Belhar Belydenis wou die NG Kerk help om weer die implikasies van die genadige verkiesing in Christus, sonder enige menslike verdienste, die sola gratia as hart van die evangelie, te herontdek, te bely en in haar kerk-wees te beliggaam. Belhar wou ons help om die kloof tussen belydenis en praktyk, wat die gevolg van 1857 se besluit was, weer oor te steek.

In my byna 40 jaar in die bediening, waarvan 20 agter dieselfde lessenaar waar ds JG Strydom gesit het, was dit vir my die hartseerste dag toe ek beleef het hoe die Vrystaatse Sinode in 2015, as deel van 'n onbeholpe, landwye proses, met verbetenheid, triomfantelik selfs, vir hierdie geskenk nee dankie gesê het ... en so die lyn weer laat los het. En ek het met skrik gewonder: sou die 1857 lyn, die ou "vrees vir gelykstelling," dan vandag nog só sterk loop? Sedertdien het alle pogings tot kerkhereniging volledig versand ... en huiwer baie van ons in die NG Kerk steeds om "die ander" binne die geborgenheid van die verkiesing-uit-genade-alleen te omarm.

 

Bronnelys

Beeke, J. R. 2009. "The Dutch Second Reformation ('Nadere Reformatie')". In The Christian's Reasonable Service, vol. 1, edited by W. â Brakel, translated by B. Elshout, lxxxv-cxi. P.A. Morgan, Soli Deo Gloria Publications. Besigtig op Desember 1, 2018. http://www.abrakel.com/2009/11/dutch-second-reformation-dr-joel-r_06.html.         [ Links ]

Botha, A. J. 1986. Die Evolusie van 'n Volksteologie. UWK.         [ Links ]

Botha, J., en P. Naude, 2010. Goeie Nuus om te Bely: Die Belydenis van Belhar en die Pad van Aanvaarding. Wellington: BM.         [ Links ]

Cloete, G. D., en D. J. Smit. 1984. n Oomblik van Waarheid. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Crafford, D. 1982. Aan God die Dank, Deel 1, Geskiedenis van die Sending van die Ned. Geref. Kerk binne die Republiek van Suid-Afrika en enkele Aangrensende Buurstate. Pretoria: ISWEN.         [ Links ]

De Gruchy, J. 1997. The Church Struggle in South Africa. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

Du Plessis, J. 1911. Merkwaardige Verhaal aangaande het Leven en de Lotgevallen van Michiel Christiaan Vos. Kaapstad: Bijbel- en Bid-Vereeniging.         [ Links ]

Du Toit, D. (Red.). 2014. Jaap Durand Praat oor Eenheid, Versoening en Geregtigheid. Wellington: BM.         [ Links ]

Durand, J. 2017. Protesstem, Oomblikke van Herinnering. Wellington: BM.         [ Links ]

Elphick, R. 2012. The Equality of Believers, Protestant Missionaries and the Racial Politics of South Africa. Charlottesville and London: University of Virginia Press.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a People. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hoekema, A. A. 1972. "The Missionary Focus of the Canons of Dort." Calvin Theological Journal 7: 209-20.         [ Links ]

Hofmeyr, J. W. 1989. Die Nederlandse Nadere Reformasie en sy Invloed op Twee Kontinente. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1962. Die Sendingbepalinge van die Ned Gereformeerde Kerk van Transvaal. Die Studiegroep oor Kerk en Wêreld.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1965. Om die Regering van Christus en sy Kerk. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1989. Uit Vrye Guns Alleen. Pretoria: NGKB.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1991. "'Onmiddellik voor God': Gedagtes van 'n Teoloog oor 'n Sentrale Perspektief in die Werk van NP van Wyk Louw." NP van Wyk Louw Gedenklesing. Besigtig Mei 20, 2019. https://williejonker.co.za/19910201-3.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1994. Bevrydende Waarheid: Die Karakter van die Gereformeerde Belydenis, Wellington: Hugenote Uitgewers.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1995. "'n Eresuil vir Dordt: Gedagtes oor die Handhawing van die Gereformeerde Belydenis." In Dordt na 375jaar 1619-1994, redakteurs D. Britz en S. A. Strauss, UV Teologiese Studies, No 8.         [ Links ]

Kinghorn, J. (Red). 1986. Die NG Kerk en Apartheid. Suid-Afrika: Macmillan.         [ Links ]

Knegt, C. 2018. "That Christ Be Honored: The Push for Foreign Missions in the Seventeenth-Century Reformed Church in the Netherlands." PRJ 10 (2): 263-277.         [ Links ]

Kriel, C. J. 1963. Die Geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1956. Paarl: Paarl Drukkery.         [ Links ]

Labuschagne, A. 2011. "n Kerkhistoriese Ondersoek na die Teologiese Denke van die Sendingsekretaris van die NG Kerk in die O.V.S., ds JG Strydom (1886-1953)." MTh verhandeling, UV.         [ Links ]

Opperman, D. J. (Red.). 1975. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Plaatjies-Van Huffel, M. A. 2017. "Acceptance, Adoption, Advocacy, Reception and Protestation: A Chronology of the Belhar Confession." in Belhar Confession. The Embracing Confession of Faith for Church and Society, edited by M. A. Plaatjie-Van Huffel and L. Modise. Sun Press, 1-96. https://doi.org/10.18820/9781928357599.         [ Links ]

Schoeman, K. 1997. Dogter van Sion, Machtelt Smit en die 18de-eeuse Samelewing aan die Kaap 1749-1799. Kaapstad: Human en Rousseau.         [ Links ]

Schoeman, K. 2005. The Early Mission in South Africa: Die Vroeë Sending in Suid-Afrika. Pretoria: Protea Book House.         [ Links ]

Smit, D. J. 2013. "Oor die Teologiese Inhoud van die Belydenis van Belhar." In Essays on Being Reformed: Collected Essays 5, Dirk J Smit, edited by R. Vosloo. Sun Africa Media. https://doi.org/10.4314/actat.v32i2.11.         [ Links ]

Smit, D. J. 2017. "Hope for even the Most Wretched?" On Remembering the Reformation." Retirement Lecture, Dirk J Smit, 11 Oktober 2017. Accessed December 16, 2018. https://www.google.co.za/search?source=hp&ei=VpVNXMXaIqOBur4Pkp6xsAo&q =DJ+Smit+election+the+most+wretched+&btnK.         [ Links ]

Smit, J. H. 1995. "Die Sinode van Dordt en die Sending." In Dordt na 375jaar 1619-1994, redakteurs R. M. Britz en S. A. Strauss. UV Teologiese Studies No 8.         [ Links ]

Van der Watt, P. B. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. NGKB.         [ Links ]

Versamelde Gedigte NP van Wyk Louw. 1981. Kaapstad: Tafelberg, Human en Rousseau.         [ Links ]

Van der Merwe, W. J. 1985. Die Pad Vorentoe, die NG-familie se Strewe na Eenheid. Pretoria: ISWEN.         [ Links ]

Vosloo, R. 2017. Reforming Memory: Essays on South African Church and Theological History, Beyers Naude Centre Series on Public Theology. Sun Africa Media. https://doi.org/10.18820/9781928314370.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License