SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.45 issue1The evangelicalisation of black Pentecostalism in the AFM of SA (1940—1975): A turning pointThe Beginnings of St Joseph's Scholasticate author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Studia Historiae Ecclesiasticae

On-line version ISSN 2412-4265
Print version ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.45 n.1 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.25159/2412-4265/4534 

ARTIKEL

 

Rhijnvis Feith en Melancholiese Gesangdigting in die Voortrekkervrou Susanna Smit se Godsdienstige Dagboeke

 

Rhijnvis Feith and Melancholic Hymnody in the Voortrekker Woman Susanna Smit's Spiritual Diaries

 

 

Andries W.G. Raath

Universiteit van die Vrystaat RaathA@ufs.ac.za. https://orcid.org/0000-0002-1198-5234

 

 


ABSTRACT

The Dutch Evangelical hymnbook, introduced in the Dutch Reformed Church (Nederlandsch Hervormde Kerk) in 1807, contained 192 religious songs authored by poets from diverse religious backgrounds. The themes of these hymns covered a wide spectrum: meditations on the attributes of God, faith, trust in God's omnipotence, prayer, death, and the Christian's life with Christ. Hymn writers from a broad spectrum of religious persuasions-like Christian Gellert (1715-1769), Friedrich Klopstock (1724-1803), Georg Neumark (1621-1681), Jodocus van Lodenstein (1620-1677) and Isaac Watts (16741748)-contributed directly or indirectly towards the hymnbook. The hymnbook drew criticism from Reformed circles as deviating from the scriptural truths, subverting the Reformed faith, propagating salvation through human endeavour and reflecting Enlightenment values in opposition to the orthodox Reformed faith. Furthermore, it was criticised for being sentimentalist and promoting earthly love, peace and patience based on humanist principles. Throughout the nineteenth century, Reformed authors, the likes of Hendrik de Cock, Dirk Postma, Pierre Dammes Marie Huet and S.J. du Toit, objected to Feith's hymns as hymnody deviating from the Reformed conviction. In spite of such criticism, Feith's hymns remained popular in Reformed circles. In addition, the Voortrekker woman, Susanna Smit, found Feith's hymns inspiring under dire circumstances and trials on the South African frontier. In spite of her formal commitment to the Reformed faith, Susanna relied heavily on the spiritual strength she drew from Feith's hymns. Under the influence of German Romantic literature, Feith's hymns inspired and/or undergirded the same sentiments in her spiritual mentality profile.

Keywords: hymnody; Pietism; Rhijnvis Feith; Romanticism; Susanna Smit; Voortrekker community


 

 

Inleiding

Die Voortrekkervrou, Susanna Smit, se spirituele oorpeinsings kry afwisselende gestaltes deur asketiese, mistieke, piëtistiese, gereformeerde en Romantieke uitinge in haar godsdienstige dagboeke. Haar neerpenninge beskryf ego-ervarings wat 'n wye spektrum van spirituele belewenisse dek. Dié belewenisse wissel van enersyds donker en somber stemmingsprojeksies, sataniese aanvegtinge en kommervolle versugtinge oor persoonlike familie-intriges, na andersyds ekstatiese drome, jubelverse oor die reddingsdood van Christus en dankuitinge oor God se verlossingsdade in die lewe van haar en haar man, die Voortrekkerprediker Erasmus Smit (Schoeman 1995).

Haar wisselende gemoedstemmings en die teboekstelling daarvan in spirituele relase, bestryk 'n spektrum wat enersyds as piëtisties-mistiek en andersyds as Romantiek-Protestants beskryf kan word. Die mate waartoe dié onderskeie spirituele neigings in spanning teenoor mekaar te staan kom en/of mekaar versterk en verdiep, het tot 'n komplekse spirituele ego-profiel by Susanna aanleiding gegee. Hoewel die mistiek-piëtistiese fasette van haar godsdienstige oortuigings in die verlede heelwat aandag geniet het (Raath 2017, 1-14; Schoeman 1995, 179-183, 191, 250-251), is weinig egter oor haar Romantiek-Protestantse inklinasies gerep.

In hierdie artikel word op die divergerende profiel van spirituele tendense in die agttiende eeu gewys (Ward 2006, 3), die effek daarvan op die Duitse en Nederlandse spiritualiteit aangedui, die opkomende literêre Romantiek, die neerslag daarvan veral op die Protestantse gesangdigting sedert die middel van die agttiende eeu belig, en die impak daarvan deur Rhijnvis Feith (1753-1824) se gesangdigting op die gemoedsgestaltes van Susanna Smit ondersoek. Die bydrae van eersgenoemde tot ego-ervarings van gelowiges in pioniersgemeenskappe in die Suid-Afrikaanse binneland word noodsaaklik geag ten einde die spirituele kultuur wat onder Protestantse gelowiges op die voorposte vaardig was te peil, en tot beter begrip van die spirituele mentaliteitsprofiel in sodanige gemeenskappe te kom.

 

Divergerende en Konvergerende Neigings in die Spiritualiteit van die Agttiende Eeu

Spirituele Divergensie en Konvergensie in die Agttiende Eeu

Die Duitse en Nederlandse Protestantse spiritualiteit van die agttiende eeu staan in die spanningsveld van sowel divergerende as konvergerende godsdienskulture. Oënskynlik uiteenlopende godsdienstige rigtings van Lutherse Piëtisme, gereformeerde ortodoksie, Katolieke mistiek, Puritanisme en die opkomende Romantiek het in dié eeu tot 'n verwikkelde profiel van Protestantse spiritualiteit bygedra (Ward 2006, 1-5). Bykomend tot die komplekse verweefdheid van godsdienstige en literêre strominge het subjektiewe spirituele neigings onderling invloed uitgeoefen. Protestantse gesangdigting het dié tendense nie vrygespring nie en dit was veral die spirituele tendense uit die Duitse dampkring wat beduidende impak op die Protestantse gesangdigting in Nederland gehad het (Heppe 1879, 373 e.v.).

By die aanvang van die agtiende eeu het die Protestantse himnodie steeds binne die grense van die kerklike dogma gefigureer, hoewel 'n neiging tot spirituele verlewendiging reeds in die Duitse kerkmusiek na vore getree het. Dié neiging sou in die loop van die agtiende eeu tot 'n kragtige impuls met wydlopende effek vir die kerklik-spirituele lewe ontwikkel. In Protestantse kringe gaan dit algaande gepaard met 'n neiging tot spirituele belewenis: die innerlike ervaring tree mettertyd as spirituele kultuur na vore en die toe-eiening daarvan ontwikkel mettertyd tot begronding van die geloof (Dilthey 1976, 74 e.v.). Dié individualiserende tendense was veral in die kerke van Lutherse oortuiging werksaam. In die Lutherse kerke neem dit veral die vorm aan van piëtistiese vroomheid en weerspieël 'n neiging tot spirituele voorkeure van minder "confessionele tegenstellingen" (Van der Vyver 1958, 188).

Onder invloed van Duitse vorstelikes het die meer gematigde vroomheid van die tradisioneel-dogmatiese kerkleer aanvanklik die verlewendige vroomheidskultuur van die opkomende piëtisme onderdruk. Onder gelowiges het die piëtistiese vroomheid egter sterker effek op die persoonlike moraliteit as die tradisioneel-dogmatiese kerkleer gehad. Algaande is die starre, skerp omlynde begrippe van kerklike dogma deur die verlewendigende effek van die opkomende piëtistiese spiritualiteit verdring. Die geloofsinhoud van Protestantse gelowiges het meer ontvanklik vir vorme van transkonfessionele geloofsbeoefening geword en ruimte vir die beslaggewing aan meer verbeeldingryke geloofsuitinge op kerklike terrein en estetiese skeppings in die kunste aanleiding gegee (Dilthey 1976, 75). Hoewel steeds binne die voeë van die Protestantse kerke, het transkonfessionele tendense die oorgelewerde Christelike leer met groter vryheid vertolk-'n neiging wat vir die kerklike gesangdigting van groot betekenis was (Heppe 1875, 252).

Vanaf Paul Gerhardt (1607-1676) tot Nikolaus Zinzendorf (1700-1760) neig die kerklied tot vertolking van die gevoel van vreedsame skoonheidsbelewing van die wêreld wat uit die vroom gemoed opstyg. In die werke van John Milton (1608-1674) tot dié van Friedrich Gottlieb Klopstock (1724-1803) oorheers die groot digwerke oor sondeval en verlossing in Christus wat in die epos sy hoogste uitdrukking vind. Die kunstige uitdrukking van Protestantse religieusiteit bereik 'n hoogtepunt in die kerkmusiek van Johann Sebastian Bach (1685-1750) en Georg Friedrich Händel (16851759). Hoewel dié tendense sterk deur die piëtisme bevorder is, het laasgenoemde algaande groter afstand op die kultuur en kunste geneem en tendense tot asketisme en mistiek het teenoor die kultuuruitdrukking van die Protestantse spiritualiteit te staan gekom.

Verlewendige Spiritualiteit en die Opkoms van die Oordenkingslied in die Protestantse Gesangdigting

Volgens die filosoof Wilhelm Dilthey (1833-1911), was die Duitse kerklied die hoogste uiting van die Protestantse spiritualiteit in die agtiende eeu. Hoewel die kerklied formeel aan die spreke en belydenis van die Lutherse kerk verbind was, het 'n gestadigde skeiding tussen die tradisionele kerklike himnodie en die Duitse volksaard na vore gekom (Dilthey 1976, 74). Namate die praktiese spiritualiteit van Lutherse gelowiges 'n geneigdheid tot verlewendige spiritualiteit vertoon, verskuif die klem vanaf die kerklike belydenislied na die spirituele oordenkingslied. In Gerhardt en Johann Heermann (1585-1647) se spirituele liedere bereik dié ontwikkeling 'n hoogtepunt (Lund 2011, 23; Raath 2017, 10). By beide word egter steeds 'n balans tussen die betrekking van die kerklied op die kerklike lewe, godsdienstige feesdae en die opkomende persoonlike spiritualiteit van gelowiges gehandhaaf. Die gerigtheid op die individuele geloofsbelewing en subjektiewe spiritualiteit neig egter mettertyd na die estetiese verwoording van die subjektiewe spirituele impuls in die geloofslewe van die gelowige.

Die tendens tot subjektiewe geloofsbelewing sou ook uit buite-Protestantse kringe gevoed word. Die geestelike liedere van die Katolieke liedere-digters Friedrich Spee (1591-1635) en Angelus Silesius (Johan[nes] Scheffler) (c. 1624-1677) het 'n vloed van liefdesmistiek tot gevolg gehad wat ook die lirieke van Protestantse skrywers binnegedring het (Wallmann 2010, 100, 189-190, 265, 267). By Spee tree die gevoelsmatige sterk na vore, terwyl Silesius die mistieke belewenis in die middelpunt van die spirituele lewe van die individu plaas (Gebauer 1845, 1 e.v.)-soortgelyke tendense van die mistieke beweging wat vanaf St. Theresa van Avilla (oorlede 1582), via Miguel de Molinos (1628-1696), by Jeanne Marie von (Madame) Guyon (16481717) en Francois Fénelon (1651-1715) tot uiting kom (Erb 1983, 16; Ward 2005, 161174). Dié godsdienstige pennevrugte was nie gebonde aan kerklike tradisie en betrokkenheid op die kultiese geloofsbeoefening nie, maar neig na vryer beweging in die sfeer van die poëtiese en vertoon 'n sterk neiging tot oorheersende liefdesmistiek. Die voortspruitende lied-kultuur plaas die klem op die dialoog tussen die gelowige siel en Jesus volgens die voorbeeld van die misties-geïnterpreteerde Hoogliedmetafore. Andersyds ontwikkel 'n meer prominente asketiese motief: die gelowige siel vlug van die wêreldchaos in die tydlose, rustige diepte van God; uit die aardse lyding na die belangelose liefde van Jesus (Heppe 1875, 252).

Hoewel tendense tot spirituele verinnerliking reeds by die Lutherse ortodoksie merkbaar was, tree dit in die Lutherse piëtisme meer prominent op die voorgrond. Die kern en lotsbestemming daarvan verskuif na die middelpunt van die godsdienstige literatuur. In Christian Scriver (1629-1693) se Seelenschatz word dit versterk deur 'n geneigdheid tot godsdienstige verbeeldingsvlugte en sierlike spraakgebruik-'n opbloeiende tendens van dié tyd (Lund 2011, 20). Ook by die kerklied van dié era speel die lotsbestemming van die gelowige siel 'n deurslaggewende rol. Die gesangbundel van Johann Anastasius Freylinghausen (1670-1739)-August Hermann Francke (1663-1727) se skoonseun- was 'n versamelwerk waarin dié tendense neerslag gevind het (Bunners 2005, 68-83).

Die beklemtoning van godsdienstige subjektiwiteit, spirituele verinnerliking en die mistieke vereniging met God, ontwikkel in die Lutherse spirituele liedere van die agtiende eeu 'n versterkte toespitsing wat die mistieke vereniging met God en die liefde van Jesus jeens die gelowige siel vertolk (Bunners 2005, 68-83). Luther se mistiek-getinte geloofsuitinge was die aanknopingspunt vir die opbloei van Protestantse liedere-digwerk wat uitdrukking aan die samehang van die algemene kerklike belydenis met die individuele spiritualiteit, die gelowige se opregte verhouding met Christus en Jesus se liefde vir die gelowige siel, gegee het. Heermann is byvoorbeeld dermate deur die katolisiteit van die Christelike geloof geïnspireer dat hy ruim van die mistiek van Aurelius Augustinus (354-430), Bernard van Clairvaux (1090-1153) en Johannes Tauler (c. 1300-1361) vir sy liedere-poësie gebruik maak (Ritschl 1884, 69-72).

Die laaste opbloei van die Protestantse kerklied kom in die Hernnhutse gemeenteliedere op die voorgrond: by Nikolaus Zinzendorf (1700-1760) in dialoë tussen die gelowige siel en Jesus. Die betekenisvolle van die Hernnhutse spirituele liedere lê daarin dat poësie en musiek alle terreine van die daaglikse bestaan deursuur en die volheid van die menslike bestaan op die bo-sinlike en paradoksale spirituele aspekte fokus (Ritschl 1886, 195-459).

Romantieke Sentimentaliteit

Namate die opkomende Romantiek in die Duitse literatuur neerslag gevind het, het die piëtistiese kerklied aan gloedvolle sentimentaliteit toegeneem. Die verhewe stemming en taalgebruik van die Romantici het piëtistiese liedere-digters tot 'n bevindelike sentimentaliteit gebring wat ook godsdienstige liedskrywers buite die Duits-Lutherse invloedkring deursuur het. Die konvergensie van Duits-mistieke invloed, piëtistiese verinniging en Romantieke sentimentaliteit sou mettertyd ook op die werk van Nederlandse piëtiste en hul kringe van invloed beduidende effek hê. By piëtisties-gestemdes kulmineer dié tendense in oordenkingstof wat benewens die asketiese, hemelse versugtinge en introspektiewe meditasie, klem op die melancholiese plaas. Vroulike piëtiste in pioniergemeenskappe in die Suid-Afrikaanse binneland sou mettertyd ook dié tendense vertoon (Vogt 2005, 207-223).

Vervolgens word die konvergensie van dié tendense en die effek op Piëtisties gelowiges met besondere verwysing na die Hervormde gesangdigting en die godsdienstige dagboeke van die Voortrekkervrou Susanna Smit (1799-1863) nagespoor. Die fokus val veral op die bydrae wat die gesangdigter Rhijnvis Feith tot die opkomende melancholiese spiritualiteit en die neerslag daarvan in die Nederlandsch Hervormde Gezangboek en Smit se spirituele dagboeke gelewer het.

 

Friedrich Gottlieb Klopstock, Rhijnvis Feith en die Opbloei van Spirituele Melancholie

Klopstock, Feith en die Sentimentalistiese Beweging

Klopstock se sentimentele digwerk is beduidend deur die piëtistiese gedigte van Immanuel Jakob Pyra (1715-1744) tot sielsverdiepende en gevoelsmatige sentimentaliteitsuitinge omvorm (Schneider 1960, 15)-invloed wat Schneider beskryf as "wahre innere Erlebnis des Pietisten forderte die lebendige Betätigung der ganzen Seele und war von einer eiegenartigen religiösen Weihe durchdrungen. Liebe und Freundschaft erhielten göttlichen Adel. Im Schwunge empfindsamer Begeisterung glaubten sich die Herzen füreinander geschaffen" (Schneider 1960, 15; Vgl. Waniek 1882, 166 e.v.). Digwerk word verhef tot "Begeisterungsakt," dit onspring aan "'himmlischen' Feuer das in der Seele brennt, und das rein und unverfälscht aus dem Dichtwerk sprechen muss" (Schneider 1960, 17). Moses, Job en Dawid word as heilige digters vereer, wat vol goddelike vuur die Here in hul gesange verheerlik het-digwerk wat op soortgelyke wyse van Jesus se lippe gevloei en in gelykenisse gestalte gekry het (Schneider 1960, 22). Die digter wat onder dié inspirasie werk, is 'n divinus poeta-'n status waarvoor Pyra hom beywer (Waniek 1882, 146 e.v.).

By Klopstock tree sentimentaliteit as beheersende moment in die Duitse literatuur na vore-'n tendens wat eweneens deur die piëtisme geïnspireer is (Buijnsters 1963, 249). In reaksie op die opkomende rasionalistiese spiritualiteit, vind die piëtisme die ware bron van vroomheid in die innerlike spirituele ervaring (Langbroek 1933, 46). Mede onder invloed van die Spaans-Franse mistiek van Fénelon-versprei deur Nederlandse mistieke teoloë soos Pieter Poiret (1646-1719), Pieter Jurieu (1637-1713) en Elias Saurin (1639-1703)-neem dié neigings ook in Duitsland pos. Veral Poiret se invloed het via Gottfried Arnold die Duitse piëtisme bevrug, terwyl Saurin se preekstof impak op die literatuur van Gellert gehad het (Langbroek 1933, 46). Die voortspruitende klem op die innerlike lewe, gevoelsmatigheid, verheerlikte askese, sielsliefde en 'n vriendskapskultus onder invloed van die grafpoësie van James Hervey (1714-1785) het in spirituele kringe melancholiese geneigdhede tot 'n hoogtepunt gevoer (Langbroek 1933, 46).

By Klopstock manifesteer dit in verinnerlikte liefdeshunkeringe: die gevoelige, hartsweemoed en sagmoedigheid word uitstaande kenmerke van die vir-God-welgevallige en tematies met die sterfbed, dood, graf, opstanding van die gelowiges en die hemelse lewe verbind (Langbroek 1933, 47). Voorts word liefdes- en bruidsmistieke metafore kwistig aangewend om die band tussen Christus en die gelowige siel te beskryf-heenwysings na die ongeveinsde hemelse liefde (Langbroek 1933, 48, 52). Die liefdesgesindheid wat sielgenote saambind, groei tot 'n spirituele band wat in die hiernamaals resoneer (Langbroek 1933, 53).

By Rhijnvis Feith konvergeer Romantiek, puritanisme, mistiek en piëtisme in 'n sug na verinnerliking, subjektivisme en sentimentaliteit wat trekke van James Hervey se begraafplaasletterkunde vertoon. In sy romans gee Feith reeds blyke van Aufklärung-invloed-'n geneigdheid om die menslike rede en die natuur naas God te stel. In sy sentimentele roman, Fancy, maak hy gewag van "Godsdienst, Deugd en Liefde" as één (Prinsen 1920, 495). By Feith kom benewens 'n strewe na verligte godsdienssin, merk Prinsen op, ook 'n gevoel van broederskap onder die mense en sy "strijd tegen de strenge orthodoxie" na vore (Prinsen 1920, 495). Gekoppel aan sy verligte godsdienssin, staan Feith se patriotisme in die klimaat van die Verligtingsdenke-die bestaan van die mens se natuurlike regte: "Hoort dáár den burger moedig zweren,/ Dat hij de regten zal verweren,/ Hem door Natuur en God verleend" (Van der Aa 1864, 90).

Die effek wat Klopstock op die opwellende Nederlandse sentimentaliteit had, het ook die gesangdigte van liedskrywers soos Rhijnvis Feith binnegedring-invloed wat Maarten Langbroek beskryf as synde "Klopstock ist ihm, 'een groot vernuft', ein Mann von Genie und sehr feinem Geschmack, den er zu den befähigsten Kunstrichtern Europas zählt, der allein genügt, Deutschland zu verewigen, und dessen Gedichte er für unsterblich hält" (Langbroek 1933, 105; kyk ook Van Vloten 1865, 392). Feith se bewondering vir Klopstock strek egter verder as laasgenoemde se digtalent: laasgenoemde is 'n geestelike navolger van die Ou Testamentiese profete wat die misteries van die Christelike godsdiens verkondig en van die hemelse heerlikheid sing-'n doelwit waarvoor Feith hom ook beywer (Langbroek 1933, 105; vgl. Buijnsters 1963, 130, 196, 241, 242, 245, 247, 250, 305 e.v.).

Veral Feith se jeugdige digwerk en die romans Julia (1783) en Ferdinand en Constantia (1785) verraai die melancholiese sentimentaliteit van die Klopstock-tradisie-tendense wat deur 'n eietydse Nederlandse kritikus (Willem Emery Baron van Perponcher (17411819)) afgewys word as "... eene koorts, eene dronkenschap, eene mijmering of raazerny en dus eene waare krankheid der ziele staat te worden, zo niet reeds geworden is ... " (De Perponcher 1804, 393; kyk Van Vloten 1865, 393) en deur E. Rijpsma aangedui word as werk "vol trane en sugte, naakte rotse en somber bosse, grafgewelwe en kerkhowe" (Rijpsma 1979, 67)-die droefgeestige en melodramatiese literêre modetoon gekoppel aan 'n strewe na natuurlikheid (Rijpsma 1979, 67), terwyl Prinsen Feith se aanslag tipeer as behorende tot "het grillig zwartgalige Engelsche sentimenteel, in de Engelsche sombere melancholie ... " (Prinsen 1920, 498). Hoewel binne die Protestantse geloofskring, sou die Klopstockse liefdesentimentaliteit 'n verruimde blik op God se genadewerk, die liefde as grondtoon van geloof en sentimentele bevindelikheid ter bevestiging van die ware geloof op dié spirituele kultuur bied- verskynsels wat Perponcher tot kritiek van Feith se sentimentaliteit as synde liefde tot afgodery en sentimentaliteit as tiran inspireer (Perponcher 1804, 70).

Rhijnvis Feith en die Romantieke Melancholie

Swak gesondheid, "waarin de goede God mij, naar den letter van de poorten des doods terug riep" en 'n uitnodiging van samestellers van 'n gesangbundel in opdrag van die Sinode van Noord-Holland, was Rhijnvis Feith se inspirasie tot die skryf van gesange met die oog op so 'n bundel. In die "Voorbericht" gee hy sy taalkundige en teologiese motivering vir beskikbaarstelling van sy gedigte vir dié projek en gebruik in die erediens. Hy volg Gellert se benadering tot sogenaamde "geestelijke Liederen" vir kerklike gebruik. Vir dié doel onderskei hy tussen twee kategorieë liedere vir gebruik in die erediens: "Leerliederen" en "Liederen voor het hart" (Feith 1804, 5; Janssonius 1863, 247). Eersgenoemde vereis duidelikheid en bondigheid; die ander "eene levendige, opeengedrongene, vurige en tegelijk altijd verstandige taal" sodat alles "wat verheven en roerend in den Godsdienst is, levendig doe gevoelen" (Feith 1804, 5). Ter regverdiging van sy beroep op samestelling van 'n gesangboek waarin beide gesangvorme voorkom, verwys Feith na die gesangboek van die Hervormde Kerk te Bremen. Laasgenoemde bundel bevat, volgens Feith, geestelike spyse van allerlei soorte van verstand en hart, "inderdaad een Volksboek"- 'n bundel vir bepeinsing en geloofsdiskussies onder gelykgesindes (Feith 1804, 5).

Feith verwyt Nederland vir 'n gebrek aan godsdienstige gevoel soos wat dit in die Duitse volkslewe na vore kom (Feith 1804, 5). In Duitsland, voeg Feith by, is dit nie ongewoon nie vir 'n boer aan't ploeg om 'n lied van Gellert aan te hef of vir 'n gesin om rondom die haard te vergader en 'n gesang voor te lees. Die gevoeligheid wat uit die Duitse liedere spreek, voeg Feith by, getuig van groter "beskaafdheid" as by Nederlanders. Vervolgens gee Feith 'n lang verduideliking van die behoefte aan godsdienstige gesange bykomend tot die Psalmbundel: eersgenoemde getuig van die koms van Jesus Christus na die wêreld; die Verlosser word nie in profesieë beskryf nie, maar in die eenvoudige taal van die hart; dit voldoen aan die "hoogere en zuiverer pligten" van die Christen soos in Mattheüs 5, 6 en 7 voorgeskryf om "onze Wetgever en Koning" met "een opgeklaard en warm gemoed te bezingen" (Feith 1804, 6).

Die Psalms, volgens Feith, is liedere wat oorspronklik ten dienste van 'n bepaalde volk gestel is-liedere wat vir die Nuwe Testamentiese kerk van weinig nut is en "tegen den echten geest van Jezus inloopen" (Feith 1804, 8). Jesus maak God aan ons bekend as die "algemeenen Vader der menschen" (Feith 1804, 8). Jesus se eis van liefde jeens alle mense is nie met die inslag van die Psalms te versoen nie. Voorts is die meeste van die Psalms-veral dié van Dawid-by 'n besondere geleentheid gemaak, welke omstandighede verander het en dié Psalms bygevolg "ongerijmd maakt" om blindelings oor te neem en te sing (Feith 1804, 8; Janssonius 1863, 233). Bykomend daartoe staan elke Christen onder die plig wat vir alle verligte gelowiges geld, "om het oude, dat op dwaling russte, voor het nieuwe, dat op waarheid gegrond was, te verlaten" (Feith 1804, 8). Feith beroep hom op die Bremense gesangboek van 1766 ter motivering dat nie alle Psalms vir gebruik onder Christene geskik is nie (Feith 1804, 11). Voorts is dit oorbodig om Christene wat oor "inzicht en gevoel" van godsdiens beskik, te oortuig dat gebruik van "goede en roerende liederen" ware stigting op buitengewone wyse bevorder (Feith 1804, 13). Om gestalte aan geskikte gesange te gee, word 'n grondige poëtiese kennis en "een ongeveinsd en zuiver Godsdienstige gevoel" vereis (Feith 1804, 14). Gellert se liedere oor die daaglikse herinnering aan die dood word deur Feith as 'n belangrike stimulus tot gepaste gesange uitgesonder (Feith 1804, 16).

Die gevoelsmatige spiritualiteit in die Bremense gesangboek bly vir Feith 'n belangrike bron van inspirasie vir sy eie gesange. Soutlose poësie mis die kernelement van uitwerking op die gelowige se gemoedslewe (Feith 1805, 110). Daarom sal liedere wat oor die hoogste graad van sinlikheid beskik die grootste impak op die "min beschaafde menigte" maak (Feith 1805, 111). Die kritiek wat Feith in die "Voorbericht" tot sy vorige bundel gesange ontlok het, noop hom om die indruk dat talle Psalms uit die erediens geweer moet word, reg te stel: "Mijne geheele bedoeling was slechts, om gelegenheid te geven van eens ernstig over dit stuk na te denken en de Psalms uit het regte oogpunt te doen beschouwen" ten spyte daarvan dat Psalms van die preekstoel opgegee word wat, "in plaats dat zij de godsdienstige aandoeningen, die de Leraar heeft pogen te verwekken, schragen en versterken zouden, dezelve juist tegenwerken en vernietigen" en bygevolg "der reine Christelijke Zedeleer werkelijk nadeel aanbrengt" (Feith 1805, 114). Voorts voeg Feith 'n tweede beswaar by teen, na sy mening, verkleefdheid aan die Psalms: die natuurlike strekking en bestemming van die menslike gees is om voortdurend vooruit te gaan en in kundigheid en verligting toe te neem (Feith 1805, 120).

 

Rhijnvis Feith en die Nederlandsch Hervormde Gezangboek

Gereformeerde Besware teen die Evangelische Gezangen

Benewens die ergernis dat die Evangelische Gezangen sonder sanksie van meerdere kerkvergaderings ingevoer is, het die hoofbesware teen die evangeliese gesange grootliks om drie kwessies gewentel: die gees van sentimentaliteit wat daaruit straal, dogmatiese vrysinnigheid, en ongereformeerde leerstelligheid. Nederlanders soos onder andere Hendrik de Cock (1801-1842) (De Cock 1835a; 1835b; 1836; 1886, 72 e.v, 99) en J. Klok (Klok 1834), asook Suid-Afrikaners onder wie Dirk Postma (1818-1890) (Postma 1860, 320-323) en Pierre Huet (1827-1895) (hoewel oorwegend ten gunste daarvan) (Du Toit 1896, 2-7, 8, 17, 18-21; Huet 1860, 324-333; De Redactie s.j., 186) het kritiek teen die invoer van gesange in die erediens geopper-kritiek wat ten die einde van die eeu deur S.J. du Toit saamgevat, herverwoord en in verskeie monografieë en tydskrifartikels tot uitdrukking gekom het.

Teen Gesang 15 ("Lof des Scheppers"), 'n lied van Hieronymus van Alphen (17461803), is kritiek geopper dat die liefde van God vergeleke met die ander eienskappe van God oorspan word en dat die reël "Uw liefde schept hun leven," derhalwe die ander eienskappe van God agterweë laat (Du Toit 1895b, 236). P.L. van de Kasteele (17461810) word verwyt dat hy in die derde en vierde reëls van Gesang 119 se eerste strofe "'n spoor van die ziekelijke sentimenteele lijdensbetrachting dier dagen helaas nog niet uitgestorven verraai": "Wij denken aan uw lijdenssmart,/ Aan uwe liefd' en weenen ... " (Du Toit 1899, 80). Die daaropvolgende reël, "Wat wondren van barmhartigheid," word uitgewys as "sentimenteele gevoelsgodsdienst der Hernnhutters die den Zoon verheerlijkt ten koste des Vaders" (Du Toit 1899, 80). Dieselfde kritiek tref ook Rhijnvis Feith se aanvangsreëls in die derde strofe van Gesang 11: "Nooit kunt G' iets beminnen. Vader!/ Hoe volkomen 't ons ook schijn',/ Wat uw heiligheid niet nader',/ U niet poog gelijk te zijn": Gods liefde is nie die gevolg van die mens se poging om aan God gelykvormig te wees nie; dit is die bron en oorsprong van die mens se heiligmaking (Du Toit 1895a, 61, 62).

Aan besware teen vrysinnigheid het dit ook nie ontbreek nie. Die Voortrekkerleraar, Pierre Huet-oorwegend 'n voorstander van die invoering van gesange in die erediens- het dit as 'n "onloochenbare zaak" beskryf, dat die gebruik van die Evangelische Gezangen "krachtig heeft meegwerkt tot heerschappij van het liberalisme en dus tot verval der Kerk" (Du Toit 1891a, 39). Dié tendens het, so is verklaar, nie duidelik onderskei tussen God se algemene genade jeens alle skepsele en die besondere genade aan uitverkorenes betoon nie (Du Toit 1891a, 40). Ahasueer van den Berg (gebore 1732) se verwysing na "wereld stelsels worden en vergaan" in die eerste strofe van Gesang 16 is as vrysinnige Skrifvertolking beskryf en Openbaring 21 en 22 is voorgehou as aanduidend dat "wereldstelsels" in God se skepping nie tot vernietiging bestem is nie en derhalwe nie Bybels is nie (Du Toit 1895c, 269). Die indruk wat De Kasteele in Gesang 119 wek dat die Christen die "hemele" oproep, het eweneens sterk afkeur ontlok (Du Toit 1899, 82). Van de Kasteele se beskrywing in Gesang 143 (oor die hemelvaart van Christus) as sou die aarde (vers 1), die mens (vers 2) en Christene (vers 3) deur Jesus verlos wees, is beskou as te algemeen vir die leer van die besondere genade (Du Toit 1900a, 139). Dieselfde beswaar is teen J. Scharp (1756-1828) se Gesang 39 (oor die verlossing) ingebring omdat die eerste strofe "riekts erg na naar de leer der algemeene genade": "Jezus neemt de zondaars aan!" (Du Toit 1900f, 302). Op sy beurt is A. Rutgers (1751-1809) beskritiseer omdat sy Gesang 40 verwarring tussen wedergeboorte en onwedergeboorte stig (Du Toit 1900f, 317).

Die meeste kritiek is egter teen gebrek aan leersuiwerheid geopper. Die kritiek teen gebrekkige leersuiwerheid het in die algemeen die verswyging van God se regverdigheid uitgewys (Du Toit 1896, 40). Van Alphen is voorts tereggewys vir 'n gebrekkige verwoording van Christus se versoeningsterwe en dat hy impliseer dat daar meerdere paaie na die hemel bewandel kan word. Ahasueer van den Berg het vir Gesang 18 kritiek op die hals gehaal dat dit 'n liberale gees adem, die algemene guns van God voorstel, Jesus Christus se versoeningsterwe verswyg, geen verwysing na Christus bevat nie, algemene genade verkondig, liberale neigings vertoon en die wedergeboorte verwater (Du Toit 1891b, 66). Gesang 33 van dieselfde skrywer is voorgehou as 'n voorbeeld waarin wedergeborenes en onwedergeborenes verwar word, terwyl Gesang 151 afgewys is omdat dit aanbidding van die Heilige Gees verkondig (Du Toit 1900b, 152, 153). A. Rutgers se Gesang 153 moes dit ontgeld oor onbybelse taal (Du Toit 1900c, 169), B. van Weemen (1761-1808) se verwysing na die veragtelikheid van die dood is as onbybels uitgewys, terwyl Gesang 1 van Ahasueer van den Berg se verwysing na aanbidding van die Heilige Gees as Bybels onsuiwer beskryf is (Du Toit 1896, 22). Feith het ook skerp kritiek moes verduur omdat sy woorde in Gesang 35 nie vir Christene gepas is nie (Du Toit 1900d, 201) en sy Gesang 37 nie die stryd tussen sonde en genade ernstig genoeg opneem nie (Du Toit 1900e, 229).

Rhijnvis Feith en die Spirituele Sentimentaliteit

Gesangskrywers vanuit diverse spirituele agtergronde-ook buite Nederland-het direk of indirek tot die 192 gesange in die Nederlandsch Hervormde Gezangboek bygedra: onder andere Christian Gellert (1715-1769), Friedrich Klopstock (1724-1803), Georg Neumark (1621-1681), Jodocus van Lodenstein (1620-1677) en Isaac Watts (16741748). 'n Wye verskeidenheid temas word in die bundel gedek: meditasies oor God se eienskappe, geloof, gebed, sterfte en die ewige lewe. Onder die gesangskrywers beklee Rhijnvis Feith 'n prominente posisie. Naas Ahasueer van den Berg het hy die meeste gesange tot die gesangbundel bygedra-35 in totaal: nommers 10, 11, 14, 23, 25, 26, 31, 35, 37, 48, 53, 54, 66, 82, 84, 88, 89, 93, 98, 110, 113, 121, 128, 130, 141, 144, 152, 158, 160, 166, 171, 172, 179, 187, 191 (Janssonius 1863, 274). Die gewildheid wat Feith se digsange in die Evangelische Gezangboek geniet het, had tot gevolg dat van sy digliedere ook in ander kerklike gesangbundels in meer of minder gewysigde vorm neerslag gevind het. Gesang 11 is byvoorbeeld oorgeneem as Gesang 8 in die Remonstrantsche Gesangen en Gesang 10 in die gesange van die Vlaamsche of Nederduitsche Evangelische Kerk van Brussel; Gesang 14 is opgeneem in die Remonstransche Gesangen as nommer 10, as nommer 82 van die Uitgezochte Doopsgezinde, nommer 2 van die bundel van die Evangelische Gezangen van De Nederduitsch Hervormde gemeente van Bentheim en nommer 14 van die gesange van die Vlaamsche of Nederduitsch Evangelische Kerk van Brussel. Ook in Lutherse kringe het Feith se gesange populariteit geniet. Gesang 48 is as Gesang 34 in die Remonstrantsche Gezangboek opgeneem, sowel as nommer 158 in die Hersteld Luthersche Gezangboek en as nommer 94 in die gesangbundel van die Uitgezochte Doopsgesinde.

Die digterlike vryheid wat Feith homself veroorloof het, sy neiging tot klem op God se algemene genade en die universele versoeningswerk van Christus, tesame met sy sentimentaliteit, het die oë van gereformeerd-gesindes laat rek. Dit was veral Gesange 53, 66, 98 en 144 wat skerp kritiek-synde liberale vrysinnigheid-ontlok het. Die teoloog en letterkundige, S.J. du Toit, self 'n voorstaander van die sing van gesange, weerhou hom daarvan om Feith "liberaal" te noem, maar beskryf hom wel as "liberalistisch gezind." Dié kommentaar maak Du Toit by uitstek van toepassing op die digwerk in Gesang 53. Daarbenewens vind hy dié gesang onaanvaarbaar vanweë die "geestelijke sentimentaliteit" wat daaruit spreek-beide faktore wat die gesang onbruikbaar maak vir gebruik in "eener Kerk die gegrond is op een Geloofsbelijdenis als vervat in onze Formulieren van Eenigheid" (Du Toit 1896, 10). Feith se deugdelikheidsklem ontlok Du Toit se reaksie dat dieselfde gesang 'n verheerliking van die liberale geloofsbelydenis (of liberale drie-enigheid) bevat: God, deug en onsterflikheid: "Als men slechts daarin gelooft, dan is het genoeg. De bovennatuurlijke ontvangenis en geboorte van Christus, zijn verzoeningsdood, zijn opstanding en hemelvaart, zoowel als zijn wederkomst ten oordeel; de persoonlijkheid des H. Geestes, enz. dat alles komt zoo erg niet op aan, als men maar in God-Deugd-en Onsterfelijkheid gelooft!" (Du Toit 1896, 10). Die afwysing van die gesang berus op die volgende, vir Du Toit, aanstootlike woorde: "Mijn God! wat ooit in mij verdoov',/ Dat ik altijd aan U geloov',/ Aan Deugd en Eeuwig Leven'" "Daar hebt ge het, duidelijk en onbewimpeld!" voeg Du Toit by-gedagtes wat aan die Bybel vreemd is. Die vervolgreëls maak dit erger: "Dan zal 't gevoel van mijn waardij,/ Hoe hobblig hier mijn pad ook zij,/ Mijn boezem nooit begeven." Die gevoel van eie waarde maak dit vir Du Toit ondenkbaar om uit die mond van 'n wedergeborene gehoor te word; die weglating van "al het positief gereformeerde" (Du Toit 1896, 10). Die argwaan wat Feith se digvryheid en sy neiging tot universele versoening opgewek het, het selfs onder voorstanders van die gesange tot kritiek van "een echt liberale zedeleer"-veral in Gesang 35-gelei: "Bij elke plicht getrouw betracht./ Verliest de zonde iets van haar kracht!" (Du Toit 1896, 10). Dieselfde teenstand is ook oor die eindreëls van Gesang 144 geopper: "Deugd triomfeert,/ Want Gij regeert" (Du Toit 1896, 10).

Die sentimentele inslag van Feith se gesange het, volgens Huet, God se regverdigheid na die agtergrond verdring en die leer van die algemene genade of "algemene verzoening" op die voorgrond geplaas (Du Toit 1896, 2). Die kritiek van dié pro-gesangleraar gaan selfs verder: onder die evangeliese gesange is 'n aantal liedere wat voorgee gesange te wees, maar dit nie is nie. Gemeet aan die uiting van skuldgevoel, verootmoediging, smeking of wel van lof, aanbidding en danksegging, voldoen Gesang 31 nie aan die vereistes nie. Dit is eerder 'n sedekundige toespraak, waarin die een die ander vermaan-soos Gesange 77 en 78-in die vorm van 'n gedig; dit pas moontlik elders, maar hoort nie tuis in 'n versameling godsdienstige liedere wat by die openbare erediens gesing word nie. Ander kritici van dieselfde gesang het reeds die aanvangsreël afstootlik gevind: "O sterveling! gevoel uw waarde ..." (Du Toit 1896, 8). Prontuit is verklaar: "Heel dit gezang berust op de leer der algemeene genade ..." (Du Toit 1896, 8). By die laaste deel van die vyfde vers teken Du Toit aan: "Onbijbelsch." Dit lui: "Hier hangen van geringe schreden/Vaak deugd en ondeugd af,/ Van oogenblikken eeuwigheden/ Aan gidsche zij' van 't graf' (Du Toit 1896, 9).

Rhijnvis Feith se Gesangdigting in Susanna Smit se Spirituele Dagboeke

Die rol wat Rhijnvis Feith se gesangdigte in die spirituele ego-profiel van Susanna Smit speel, geskied teen die agtergrond van haar geneigdheid tot melancholiese gemoedstemminge, swaarmoedige ego-uitinge, introspektiewe spiritualiteit en transkonfessionele belydenisse. Reeds by die aanvangsparagraaf van haar spirituele dagboeke gee sy 'n beskrywing wat invloed van Romantieke neigings verraai en waarin sy sowel haar eie gemoedsbelewenis as die werking van natuurkragte en spirituele openbarings in beeldryke taal beskryf: "Eenzaam in mijn kamer beschreide ik de kracht der zonden die tegen mijne wille nog in mijn lichaam was oorgebleven, en waardoor mijne ziel zoo geweldig enige dagen was geteisterd geworden, toen ik den wind buite hoorde blazen, tegen het dak van mijn klijne hut" (Smit 1842-1863, band 1: 1). In tipiese Romantieke styl betrek sy die natuur by haar godsdienstige gemoedsgestaltes sodat "het was mij of den dag met eerbied voor hun Schepper vervuld was of ze gevoeld dat alles wat zich in haren licht bewoog en zich zichtbaar vertoond en voor haren licht schuil hield aan den dood onderworpen was ..." (Smit 1842-1863, band 30: 3).

Ten spyte van Susanna se woordelikse verbintenis tot die Calvinistiese lewensoortuiging, het die himnodiese tendense van die einde van die agtiende en by aanvang van die negentiende eeu, ook in Susanna se spirituele ego-tekste neerslag gevind en as toegangspoort vir literêre neigings wat in Nederland en Duitsland mode was, gedien. Haar gebruik van die Evangelische Gezangboek in die algemeen en haar liefde vir Rhijnvis Feith se sangdigte in besonder, was faktore wat haar ego-ervarings in belangrike opsigte medebepaal het. Haar dikwelse beroep op Feith se digsange gee in dié verband blyke van die mate waartoe sy melancholiese beskrywings en spirituele sentimentaliteit inslag by haar gehad het. Die melancholiese stemming wat dié gesange by haar opgewek het, en die konteks waarin dit geskied, gee blyke van 'n oorstelpte gemoed wat met die melancholiese en sentimentele in die kerkliedere van die tyd kon identifiseer. Susanna se beroep op Gesange 23, 26, 35, 37, 130, 160 en 191 kan as maatstaf van haar spirituele afhanklikheid van melancholiese en sentimentele oordenkingstof in die gesangebundel beskou word.

Haar inskrywing van 7 Mei 1846 en die meegaande verwysing na Gesang 23 vorm deel van 'n spirituele profiel wat by Susanna merkbaar is: swartgalligheid, melancholiese hunkering na God en die opheffing van haar gemoed deur die betrokke teks(e) aan Rhijnvis Feith ontleen, oorheers haar middernagtelike spirituele worstelinge: Geloofsoog "ter needer geslagen en de hartstochten aan het woelen is. En zitten wij dan eerst in de modder om en weeder uit te raken, want wie toch kan in een modder poel vast zittende, vreede hebben in zijnen binnesten?" (Smit 1842-1863, band 31: 23). Nostalgie en melancholie wissel mekaar af by nadenke oor haar skoondogter en kleinkinders-sy het laasgenoemde nog nooit gesien nie en haar skoondogter beantwoord nie haar briewe nie, "zoo ging ik treurig naar bed, ontwaakte omtrent midder-nacht met twee regelen uit gezang 23 het derde vers ... (Hoe vaak deed God uit scheinbaar kwaad het heerlijks goed verrijzen!)" (Smit 1842-1863, band 31: 23).

Maandag 25 Mei 1846 se inskrywing volg dieselfde patroon. Sy was siek-skynbaar die "bitter beker" deur God haar ingeskink. Tevergeefs soek sy na hoopvolle vooruitsigte, maar "ijlaas ik vondt die niet, bezweek geheel van moed en hoop berooft, en zat met de handen op het hoofd te schreijen zoo luid als ik maar weezen kon." Vervul van berou en boete val Gesang 35 haar te binne en met "een kinder vertrouwen" voel sy die geloof wat in haar hart herleef (Smit 1842-1863, band 21: 49-51).

Ietwat meer as 'n maand later-Maandag 29 Junie 1846-ervaar sy fisieke terugslae wat terneerdrukkend op haar gees inwerk. In 'n melancholiese staat gaan sy slaap en met dagbreek skiet Gesang 37 vers 10 haar te binne: "Mijn Jezus! Schoon 'k u niets kan toonen,/ Dan zonden die dit hart bewoonen./ En niet een' enklen traan;/ Och! leer m' ook daar mij zelv' vergeten/ Om,/ aan uw kruispaal neer gezeten/ Niets dan genade ga' te slaan" (Smit 1842-1863, band 23: 26-28).

Op 10 Augustus 1846 ontwaak sy met bedrukte hart, sug en sing Gesang 26-'n gesang wat haar ook terstond te binne val: "O Gij die mijn ellende, mijn aangedagen ziet, tot wien ik de oogen wende in nachten van verdriet ..." Onder die gesang word sy vertroos; sy merk die kastyding van die Here as vaderlik aan en "voelde mij ook vaak gesterkt, om die kinderlijk te ontvangen en te dragen ." (Smit 1842-1863, band 26: 42). Twee weke later, Dinsdagoggend 24 Augustus 1847, beleef sy 'n droom en 'n gemoedstemming van ontsteltenis wat haar skyn te laat stik. Gesang 191 skiet haar te binne "en mijn vrees slag terstond over, tot de ende te zeide des doods wanneer ik gene knagende worm meer zal verneemen die de planten des geestes Gods zal beschadigen ..." (Smit 1842-1863, band 34: 7).

Tussen Woensdag 23 en Donderdag 24 Februarie 1847 worstel Susanna met 'n, vir haar, ongekende beklemming oor die dood. Die sentimentele inslag van vers 6 van Gesang 130 verskaf egter voldoende sekerheid dat sy een van diegene sal wees wat "het eeuwig hallelujah ... zingen daar waar Christus woond" (Smit 1842-1863, band 32: 40-42). Gesang 26 bemoedig Susanna tot dié mate dat sy prontuit verklaar dat sy haar swaarkry en ellende vir geen geld wou mis nie; indien sy dit gespaar gebly het sou sy nie Christus se genadewerk kon beleef nie (Smit 1842-1863, band 33: 38, 39). Onder 'n wolk van swartgalligheid oor die lotgevalle van haar seun, George, skiet dieselfde gesang haar as weklied binne en verlig die smart wat sy oor sy doen en late beleef (Smit 1842-1863, band 36: 26).

Susanna was deurgaans oortuig van haar Calvinistiese belydenis en oortuiging. Hunkering na 'n Calvinistiese leraar vir Pietermaritzburg (Smit 1842-1863, band 32: 38), Daniël Lindley se gebrek aan Calvinistiese oortuiging (Smit 1842-1863, band 41: 15), veroordeling van die Armenianisme (Smit 1842-1863, band 10: 73) en meegaande afwykings van die "voor zeide leer" (Smit 1842-1863, band 30: 29) kom dikwels in haar dagboeke voor. Hoewel sy nêrens kritiek teen die verbreding van die leer van algemene genade in die gesange aanstip nie, bly sy formeel daarteen gekant. Sondagaand 22 September 1844 bekla sy die staat van die eredienste in Pietermaritzburg: "Een Kalvinistische Kerk in naam, terwijl de leer van Arminius onbeschroomd geleerd wordt" (Smit 1842-1863, band 10: 76). Veral die gewraakte teenkanting teen die leer van die uitverkiesing as synde onregverdigheid by God, die standpunt dat Christus vir die hele wêreld gesterf het en die opvatting dat alle mense die finale besluit oor hul saligheid het, word as besware teen die leersuiwerheid in die gemeente te Pietermaritzburg neergepen.

 

Samevatting en Gevolgtrekking

Die Protestantisme van die agttiende eeu staan bloot aan 'n komplekse verweefdheid van spirituele invloede waarin die subjektiewe ego-gesentreerdheid van die gelowige rigtinggewende invloed uitgeoefen het. In dié verband het die bevindelike inslag van die Duits-Lutherse Protestantisme vanaf die aanvang van die agttiende eeu vinnig veld gewen en 'n sterk teenwig teen die teologiese rasionalisme en supranaturalisme gevorm. Die piëtisme moes egter toenemend die vlag voor die opkomende Romantiek stryk. Hoewel aanvanklik 'n bykans uitsluitlike literêre beweging, het die Romantiek deur die werke van godsdienstige liedskrywers na die kerklied oorgespoel. Duitse skrywers soos Gellert en Klopstock se spirituele liedere het die verbeelding van Nederlandse skrywers dermate aangegryp dat Romantieke letterkundige werke met 'n sterk spirituele onderbou in die tweede helfte van die eeu oor 'n wye spektrum verskyn het. Die Engelse skrywer James Hervey se Romantieke graf- en begrafplaasliteratuur het ook belangrike invloed in dié verband uitgeoefen. Die mistieke inslag van die outentiek Spenerse en Hernnhutse piëtisme is met die verhewe, beeldryke beskrywings van Romantieke digsange gekonfronteer-'n ontwikkeling wat mettertyd in die guns van die Romantieke sentimentaliteit beslis is: teenoor piëtistiese empfindung kom die Romantieke empfindelei te staan: melancholiese treurverse, swartgallige gemoedstemminge en 'n beroep op naturalistiese metafore as synde aanduidend van die kosmiese betrokkenheid by die spirituele stand van die gelowige se gemoedslewe, steek mettertyd 'n kleim teenoor die piëtistiese geloofsbeoefening af. Die eenvoudige en onopgesmukte ego-beskrywings van geloofsbeoefenaars word deur sentimentalistiese beeldspraak vervang en digvryheid en Romantieke toespelings werk mettertyd bepalend op die kerklied in. Die komplekse verweefdheid van spirituele tendense in die Protestantse godsdienskultuur en -belydenis sou ook in die Evangelische Gezangboek van die Nederlandsch Hervormde Kerk neerslag vind. Rhijnvis Feith was een van die toonaangewende eksponente van die opkomende Romantiek wat-onder invloed van die Duitse pre-Romantici-'n belangrike bydrae tot die Protestantse kerklied sou lewer. Aan tipiese Romantieke melancholie, swartgalligheid en klem op universele liefdesentiment, het dit by Feith nie ontbreek nie.

Die relatief geïsoleerde lewe van gelowiges in Suid-Afrikaanse pioniergemeenskappe sou mettertyd dié invloede nie vryspring nie. Die konvergensie van piëtisme, mistiek en Romantiek sou tot 'n Protestantisme aanleiding gee wat 'n groter mate van leervryheid kon akkommodeer. Die konvergensie van die uiteenlopende subjektivistiese ego-ingesteldheid van onderskeidelik die piëtisme en die Romantiek, sou mettertyd dié fasette van die spirituele onderbou van die vroeg negentiende-eeuse Protestantisme in spanning met mekaar plaas. Die Voortrekkervrou Susanna Smit se godsdienstige oordenkingsbundels gee blyke van die mate waartoe die groter konfessionele vryheid wat die Romantiek tot gevolg had, in 'n spanningsverhouding met die gereformeerde leer te staan gekom het-'n spanning waartoe Rhijnvis Feith se gesangdigte beduidend bygedra het. Ten spyte van Feith se neiging tot 'n universele versoeningsleer, word sy digsange deur Susanna Smit-formeel aan die Calvinistiese belydenis verbonde-as geloofstigtende bronne van spirituele inspirasie aangehaal. Die konvergensie van piëtistiese, Romantieke en gereformeerde elemente in haar spiritualiteit neig na die oorwoekering van die spiritueel-persoonlike melancholie en sentimentaliteit binne die breë konteks van haar Calvinistiese belydenis. Wisselvallige gemoedsteurings, fluktuerende spirituele aandoenings en wisselende ego-sentiment is 'n barometer van die mate waartoe die kompleksiteite van die Protestantse spiritualiteit in die eerste helfte van die negentiende eeu invloed op gelowiges-soos Susanna Smit-in Protestantse belydeniskringe uitgeoefen het.

 

Verwysings

Buijnsters, P. J. 1963. Tussen Twee Werelden. Rhijnvis Feith als Dichter van "Het Graf." Assen: Van Gorcum & Comp.         [ Links ]

Bunners, C. 2005. "Paul Gerhardt (1607-1676)." In The Pietist Theologians, redakteur C. Lindberg. Malden, MA: Blackwell: 68-83. https://doi.org/10.1002/9780470776032.ch4.         [ Links ]

De Cock, H. 1835a. De Zoogenaamde Evangelische Gezangen, de Oogappel der Vervoerde en Verleide Menigte in de Sijnodaal Hervormde Kerk. Groningen: J. H. Bolt.         [ Links ]

De Cock, H. 1835b. Verder Berigt. Veendam: T. E. Mulder.         [ Links ]

De Cock, H. 1836. De Dagon Onzer Dagen. Amsterdam: H. Höveker.         [ Links ]

De Cock, H. 1886. Leven en Werkzaamheid. Delfzijl: Jan Haar.         [ Links ]

De Redactie van "Woorden des Eeuwigen Levens", s.j. Pierre Dammes Marie Huet. Amsterdam: Jacques Dusseau.         [ Links ]

Dilthey, W. 1976. Studien zur Geschichte des Deutschen Geistes. Gesammelte Schriften III. Band. Stuttgart: B.G. Teubner.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1891a. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 11, no. 3 (15 Februarie): 39-41.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1891b. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 11, no. 5 (15 Maart): 66-68.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1895a. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 35, no. 4 (15 Februarie): 61-62.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1895b. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst", De Getuige 35, no. 15 (1 Augustus): 235-237.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1895c. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst", De Getuige, 15, no. 17 (1 September): 269-271.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1896. De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst. Paarl: D.F. du Toit & Co., Beperkt.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1899. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 20, no. 5 (1 Maart): 80-82.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900a. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 9 (1 Mei): 139-140.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900b. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 10 (15 Mei): 152-153.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900c. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 11 (1 Junie): 167-169.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900d. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 12 (1 Julie): 200-201.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900e. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 15 (1 Augustus): 229-230.         [ Links ]

Du Toit, S. J. 1900f. "De Evangelische Gezangen aan Gods Woord Getoetst." De Getuige 22, no. 19 (1 Oktober): 302-303.         [ Links ]

Erb, P. C.1983. "Introduction." In Pietist selected Writings, redakteur P.C. Erb. New York, Mahwah: Paulist Press.         [ Links ]

Feith, R. 1804. Proeve van Enige Gezangen. Eerste Deel. Dicht en Prozaische Werken, dl. IX. Rotterdam: J. Immerzeel.         [ Links ]

Feith, R. 1805. Proeve van Enige Gezangen voor de Openbaaren Godsdienst. Tweede Deel. Amsterdam: Johannes Allart.         [ Links ]

Gebauer, D. A. 1845. Heilige Seelenlust, Geistliche Lieder und Sprüche von Friedrich Spee, Angelus Silesius undNovalis. Stuttgart: Gast'schen Buchhandlung.         [ Links ]

Heppe, H. 1875. Geschichte der quietistischen Mystik in der katholischen Kirche. Berlin: Verlag Wilhelm Hertz.         [ Links ]

Heppe, H. 1879. Geschichte des Pietismus und der Mystik in der Reformirten Kirche, Namentlich der Niederlanden. Leiden: E.J. Brill.         [ Links ]

Huet, P. D. M. 1860. "Over de Gezangen en Afscheiding." Elpis. Algemeen Tijdschrift voor Zuid-Afrika 4: 324-333;         [ Links ]

Janssonius, R. B. 1863. Geschiedenis van het Kerkgezang in Nederland. Amsterdam: K.H. Schard.         [ Links ]

Klok, J. 1834. Evangelische Gezangen Getoetst en Gewogen en te Ligt Gevonden. Groningen: J.H. Bolt.         [ Links ]

Langbroek, M. 1933. Liebe und Freundschaft bei Klopstock und in Niederländischen Empfindsamen Roman. Purmerend: J. Muusses.         [ Links ]

Lund, E. 2011. "Introduction." In Seventeenth-Century Lutheran Meditations and Hymns, Redakteur E. Lund. New York, Mahwah: Paulist Press. https://doi.org/10.1016/B978-0-12-385496-4.00001-X; https://doi.org/10.1007/978-3-642-12323-8_1.         [ Links ]

Perponcher, W. E. de. 1804. Over het Sentimenteel van Deezen Tyd. Utrecht: J. van Schoonhoven.         [ Links ]

Postma, D. 1860. "Een Woord over de 'Evangelische Gezangen'." Elpis. Algemeen Tijdschrift voor Zuid-Afrika 4: 320-323.         [ Links ]

Prinsen, J. 1920. Handboek tot de Nederlandsche Letterkundige Geschiedenis. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff. https://doi.org/10.1007/978-94-015-0667-0.         [ Links ]

Raath, A. W. G. 2017. "Gereformeerde piëtisme, Hieronymus van Alphen (1746-1803) en die hemelse versugting in Susanna Smit se godsdienstige dagboeke." Koers, 82, no. 1: 1-14.         [ Links ]

Rijpsma, E. 1979. Beknopte Geskiedenis van die Nederlandse Letterkunde. Vertaal deur A.P. Grové en J.L. Steyn. Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Ritschl, A. 1880-1886. Geschichte des Pietismus in der lutherischen Kirche des 17. und 18. Jahrhunderts, dl. 1-3. Bonn: Adolph Marcus.         [ Links ]

Schoeman, K. 1995. Die Wêreld van Susanna Smit 1799-1863. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Smit, S. 1842-1863. Dagboeke. Ongepubliseerde godsdienstige oordenkings, 1842-1863, Natalse Argiefbewaarplek, Pietermaritzburg.         [ Links ]

Schneider, B. A. T. 1960. "Grundbegriffe der Ästhetik Klopstocks." DLitt. proefskrif, US.         [ Links ]

Van der Aa, A. J. 1864. Nieuw Biographiesch, Anthologiesch en Kritiesch Woordenboek van Nederlandsche Dichters. Amsterdam: C.L. van Langenhuysen.         [ Links ]

Van der Vyver, G. C. P. 1958. Professor Dirk Postma 1818-1890. Potchefstroom: Pro Rege Pers Beperk.         [ Links ]

Van Vloten, J. 1865. Beknopte Geschiedenis van Nederlandsche Letteren. Tiel: H.C.A. Campagne.         [ Links ]

Vogt, P. 2005. "Nicholas Ludwig von Zinzendorf (1700-1760)." In The Pietist Theologians, redakteur C. Lindberg. Malden, MA: Blackwell Publishing: 207-223. https://doi.org/10.1002/9780470776032.ch13.         [ Links ]

Wallmann, J. 2010. Pietismus und Orthodoxie. Siebeck: Mohr.         [ Links ]

Ward, P. A. 2005. "Madame Guyon (1648-1717)." In The Pietist Theologians, Redakteur C. Lindberg. Malden, MA: Blackwell: 161-174. https://doi.org/10.1002/9780470776032.ch10.         [ Links ]

Ward, W. R. 2006. Early Evangelism. A Global Intellectual History, 1670-1789. Cambridge: Cambridge University Press. https://doi.org/10.1017/CBO9780511497315.         [ Links ]

Waniek, G. 1882. I.J. Pyra und sein Einfluss auf die deutsche Literatur des 18. Jahrhunderts. Leipzig: Breitkopf und Härtel.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License