SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.45 número1Ja, vir God, Nee vir die Kerk? Kobus KokA History of the Evangelical Presbyterian Church in South Africa, 1875-2015, by Halala P, Khosa MW, Makaana J, Masangu HD, Nwamilorho J, and Tshwane J índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Studia Historiae Ecclesiasticae

versão On-line ISSN 2412-4265
versão impressa ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.45 no.1 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.25159/2412-4265/4973 

BOEKRESENSIE

 

Die Opkoms en Ondergang van die NG Kerk, deur Jean Oosthuizen

 

 

Geresenseer deur Erna Oliver

Universiteit van Suid-Afrika. olivee@unisa.ac.za https://orcid.org/0000-0003-3606-1537

 

 

Penguin Books, 2018. Kaapstad, 295 bladsye. Prys R260,00 ISBN: 9781776093267

Al klink die titel redelik negatief, en al is dit so dat die Afrikaanssprekende kerke as organisasies hyg en stik aan (waarskynlik) 'n laaste asemteug, is dit ook so dat die meerderheid Afrikaners bly hoop, vertrou en glo. Ten spyte van en buite om die falende kerk wat hulle hoe langer hoe meer ontgroei en agterlaat, groei en ontwikkel 'n "kerklose Christendom" (p. 153). Hierdie groep gelowiges erken dikwels dat hulle hul skaam vir die kerk (p. 3) en hulleself sien as "Christene in ballingskap" (p. 272). Kritiese denkers en 21ste-eeuse gelowiges weier dat hulle geloof deur onaantasbare kerklike duiwehokkies (waarin sake soos dogma, menseregte, Skrifgesag, politiek en geld deur beide die leierskap en die konserwatiewe lidmate bepaal word), begrens en verwoord word. Die woorde waarmee Oosthuizen sy boek afsluit, is na my mening 'n opsomming van 'n groeiende getal Afrikaners se huidige siening oor geloof: 'Eintlik moet ek erken, ek weet niks van God af nie. Alles wat ek oor God sê, is hoogstens wat ek hóóp God is. God bly vir my 'n raaisel' (p. 284).

Die boek se inhoud is egter nie op die persoon of wese van God gerig nie. Dit fokus op die vyandigheid en verwerping wat gelowiges en ongelowiges dikwels ervaar wanneer hulle die kerklike strukture, korrupte kerklike leierskapaksies en voorskriftelike geloofs- en denkraamwerke van die NG Kerk (en ook die ander Afrikaanssprekende kerke) bevraagteken. Hoewel Oosthuizen tot die gevolgtrekking kom dat die kerk se leierskap (kerkboelies, p.139) "telkens uit voeling is met die groter wêreld waarin ons leef" (p. 2), slaag hy ook daarin om die konserwatiewe gelowiges (Bybelboelies, p. 167) se wurggreep van dreigemente oor kerkskeuring en weerhouding van geld aan die kaak te stel.

Die titel is misleidend in die sin dat dit 'n omvattende geskiedkundige verslag veronderstel, maar in werklikheid hoofsaaklik fokus op gebeure gedurende die laaste ongeveer 30 jaar. Oosthuizen sê self dat dit 'n verwoording is van sy persoonlike reis met die kerk en dus nie die kerk en die geskiedenis daarvan in den brede wil bespreek nie. As kerkhistorikus het ek ernstige probleme met die oorvereenvoudigde, onkrities-beredeneerde inhoud van Hoofstuk 2, wat handel oor die ontstaan en eerste fase van die Afrikaanse kerk(e) in Suid-Afrika. n Mens verwag van n joernalis van hierdie kaliber om die gebeure en feite ook vir hierdie hoofstuk, wat eintlik as agtergrond bedoel is, beter na te vors-reeds hier is leuens en valse aansprake in kerklike geledere uit te wys.

Ook Hoofstuk 9, met die opskrif "Wat die kerk my geleer het", stel teleur. Ek kon identifiseer dat die kerk met n oop gemoed moet luister en moet fokus op helende geregtigheid, maar Oosthuizen trek nie die lyne uit die verhale en geloofsreise van ander gelowiges wat hy hier beskryf, deur nie. In Hoofstuk 10 vra hy hoe die kerk oor 20 jaar sal lyk, indien dit dan nog sal bestaan. Hy is oortuig daarvan dat die kerk sy identiteit sal moet verander, die kwessie van Skrifgesag sal moet aanspreek, en anders en dapper sal moet optree indien die organisasie wil oorleef.

In die ander hoofstukke krap Oosthuizen bondels vuil wasgoed onder die kerklike tafel uit. Baie van hierdie sake is steeds die "ongeskilde turksvy in die vrugteslaai" (p. 203) soos hy na die Belhar-belydenis verwys. Dit behels die verhouding tussen kerk en staat, menseregte, media, die duiwel, Skrifgesag, kerk en wetenskap, asook homoseksualiteit. Hy verwys ook na die kerk se onmag om vroue en jongmense te bemagtig, kerkeenheid te bewerkstellig en die skreiende onvermoè om 'n positiewe impak op die gemeenskap te maak.

Hoewel die boek beslis nie aanklank sal vind by konserwatiewe en fundamentalistiese gelowiges nie, word dit aanbeveel vir kerkleiers, insluitende predikante en teologiese studente, sodat hulle kan kennis neem en aktief kan meewerk aan oplossings en dapper veranderings. Die boek word ook aanbeveel vir die soekendes, seergemaaktes en vraers wat dikwels gei'soleerd voel en wat aanklank kan vind by hierdie nieteologiese beredenering oor die kerk.

Jean Oosthuizen is 'n joernalis wat die koerantkantoor vir die kerkkantoor verruil het toe hy nuusredakteur van Kerkbode geword het. Sedert sy afdanking in 2013 weens die "Woordfees-debakel" is hy 'n vryskutjoernalis en radiopersoonlikheid. Sy joernalistieke skryfstyl en fyn humorsin maak die boek n lekker-lees ervaring, ten spyte van die soms skokkende inhoud.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons