SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.44 número3Celebrating communal authorship: The Theological Declaration of the Belydende Kring (1979) and the Belhar Confession índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Studia Historiae Ecclesiasticae

versión On-line ISSN 2412-4265
versión impresa ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.44 no.3 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.25159/24124265/4788 

BOEKRESENSIE

 

Suster Kockie: 'n Vol lewe in Diens van haar Meester, Annalette Perold (Smith) / Sister Kockie: A Full Life in the Service of Her Master, Annalette Perold (Smith)

 

 

Geresenseer deur Erna Oliver

Universiteit van Suid-Afrika. olivee@unisa.ac.za. https://orcid.org/0000-0003-3606-1537

 

 

Christelike Lektuurfonds. 2014. Wellington, pp. 111 ISBN: 9781868042913

Hierdie lewenskets van Rene de Kock handel oor 'n leeftyd se sendingwerk as mediese suster in suidelike Afrika. Die outeur het self 'n sendingagtergrond en is 'n afgetrede akademikus en verpleegkundige. Hoewel "oral tradition," oftewel "mondelinge oorlewering," seker net so oud soos die spraakkuns self is, is hierdie vorm van geskiedenisvaslegging deur publikasie nog nie goed gevestig in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Dié publikasie kan dus beskou word as n baanbreker op hierdie gebied. Hoewel die vertelling interessant en boeiend aangebied word, is daar tog heelwat loshangende gedagtes en lyne wat talle onbeantwoorde vrae by die leser laat. Dit moet egter nie gesien word as kritiek nie, maar is juis kenmerkend van die mondelinge tradisie waar die geleentheid tot dialoog en gesprek gewoonlik hierdie onduidelikhede opklaar. Moontlik het die feit dat die outeur en suster De Kock mekaar goed ken en dieselfde professie en sendingervarings deel, juis in hierdie geval veroorsaak dat die leser soms meer inligting sou vra oor sake wat volgens die twee sending-medici geen verdere verduidelikings sou benodig nie. Die inhoud is egter fassinerend en dit is geen verrassing om te sien dat hierdie werk reeds in 2014 sy derde druk beleef het nie. Ongelukkig sou 'n mens verwag dat die tegniese versorging juis teen die derde druk nie probleme sou oplewer nie, maar dit is nie die geval nie. Onder op bladsy 46 het n gedeelte van die teks onder die foto verdwyn en op bladsy 67 is daar spasiëringsfoute.

Die boek is in nege hoofstukke verdeel wat die lewe en werk van suster De Kock kronologies uitbeeld. Haar kinderjare en verpleegopleiding (1923 tot 1946) word in die eerste hoofstuk saamgevat, waarna daar in die volgende sewe hoofstukke in meer besonderhede na die verskillende plekke waar sy werksaam was, gekyk word. Hoofstuk nege beskryf die tydperk na haar aftrede (1089 tot 2013) op negentigjarige leeftyd, toe die boek vir die eerste keer uitgegee is. Suster Kockie se lewe speel af in die Kaapprovinsie, Transkei en ook later in Namibië tydens die Suid-Afrikaanse bosoorlog. Baanbrekerswerk is veral in die Transkei gedoen om tuberkulose te bekamp en opleidingsgeleenthede en -fasiliteite te skep. Pragtige swart-en-wit foto's met byskrifte versier byna elke bladsy, wat die vertellinge en beskrywings in beeld omskakel en op hulle eie as't ware ook 'n fotoverhaal by die geskrewe teks voeg.

Die boek sal by 'n wye leserskring byval vind. Ongetwyfeld sal almal wat in die vorige eeu by sendingwerk en mediese diensverskaffing in suidelike Afrika betrokke was, die boek geniet. Ek is van mening dat ook die algemene publiek met die beskrywings en foto's van die 20ste-eeuse leefwyse sal identifiseer en die inhoud van die boekie sal geniet. Die grootste waarde van hierdie boek lê egter in die getuienis van 'n lewe in gehoorsaamheid en toewyding aan die Here. Die wonders wat een getuie se werk en lewe tot stand bring ten spyte van en dikwels ook as gevolg van wêreldse teenstand en terugslae, dien as motivering en troos vir alle gelowiges. Die geloofsmotivering wat uit hierdie boek straal, is ongetwyfeld iets waaruit alle Christene kan baat.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons