SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.44 issue3Celebrating communal authorship: The Theological Declaration of the Belydende Kring (1979) and the Belhar Confession author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Studia Historiae Ecclesiasticae

On-line version ISSN 2412-4265
Print version ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.44 n.3 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.25159/24124265/4787 

BOEKRESENSIE

 

Kruisgesante oorkant die Kei. Persoonlike Herinneringe, Hennie Pretorius (red)/ Cross envoys across the Kei. Personal Memories, Hennie Pretorius (ed)

 

 

Geresenseer deur Erna Oliver

Universiteit van Suid-Afrika olivee@unisa.ac.za. https://orcid.org/0000-0003-3606-1537

 

 

Christelike Lektuurfonds. 2014. Wellington. pp. 263 ISBN: 9780864877437

Hierdie boek bevat die herinneringe van meer as eenhonderd mense wat sedert 1929 met sendingaktiwiteite in die Transkei gemoeid was en sluit af met kort bydraes van twee sendelinge wat steeds, na meer as 30 jaar, in die gebied werksaam is. Dit is propvol boeiende en interessante vertellinge, insluitende bydraes deur bekende en selfs beroemde sendelinge, teoloë, mediese en administratiewe personeel. Die boek werp ook lig op die gebeure en omstandighede waarin die mense in die Transkei geleef het en, soos die sub-titel aandui, fokus die inhoud op die persoonlike en nie-amptelike sy van die geskiedenis. Een van die medewerkers, Elna Mouton, verwys na Aristoteles se wyse woorde: "'n Mens is wat jy kies om te onthou" (p. 192). Dit is juis dié herinneringe en persoonlike menings, emosies en verhoudinge wat hier verwoord is en die beeld van hierdie Christene vir die leser na vore bring. Hoewel mondelinge oorlewering of "oral traditions" binne die Afrika-konteks n belangrike plek inneem, is hierdie manier van geskiedenisbewaring deur middel van publikasie (met ander woorde waar die mondelinge oorlewering nie net vertel word nie, maar ook in boekvorm vir die nageslagte bewaar word), beslis nog nie amptelik gevestig nie en ook nie werklik deel van die Afrikaner se amptelike geskiedenisbeskouing nie. Die doel is om mondelinge oorlewering behoue te laat bly (p. x) en ook om die meer persoonlike belewenisse neer te pen wat nie in amptelike dokumente opgeneem is nie. Sommige van die bydraes is in Nederlands geskryf. Ongelukkig is daar geen bydraes van die plaaslike bevolking opgeneem nie, maar hopelik sal hierdie publikasie juis so n projek stimuleer.

Die onsekerheid en veranderinge wat die Tomlinson-verslag, asook veranderinge in staatsbeleid en die onafhanklikheid van die Transkei meegebring het, blyk duidelik uit baie van die bydraes. Verder is dit opvallend dat, ten spyte van David Bosch se woorde dat sendingwerkers deursettingsvermoë moet hê en aanbly selfs in moeilike omstandighede, die meeste sendingwerkers nie baie lank in die Transkei gebly het nie. Een van die plaaslike kerkleiers stel dit so: '"n Mens leer die wit mense net ken, dan gaan hulle weg" (p. 204). Dit dui egter nie net op 'n probleem in die sendingveld nie, maar ook wyer in die kerk wat deur die beroepstelsel gekenmerk word.

Uit die vertellings kry die leser ook inligting oor die lewe van mense van die Transkei. Daar is verwysings na die stamoorloë wat met handbyle gevoer is, en wat menige beserings en sterftes tot gevolg gehad het. Griep het ook baie lewens geëis en tuberkulose was so n groot probleem dat hospitale hiervoor opgerig moes word. Die stryd teen die invloed van die tradisionele geesteswêreld is duidelik uit talle van die vertellings. Daar is verwysings na die verwestering wat hand aan hand met bekering tot die Christendom gegaan het. Hopelik sal juis die foute wat gemaak is-en wat in hierdie vertellings so duidelik na vore kom-as lesse vir die toekoms dien.

Na n inleidende oorsig oor die geskiedenis en politieke gebeure wat in die twintigste eeu in die Transkei plaasgevind het, volg n kort verduideliking van hoe die NG Kerk hierby betrokke geraak het. Bydraes is volgens die stigtingsdatums van die verskillende sendingstasies georden. Hoewel daar n pragtige foto aan die begin van elke afdeling geplaas is, is die byskrifte van die foto's agter in 'n lys gepubliseer, wat totaal onprakties is. Die boek word nietemin aanbeveel vir alle gelowiges wat meer te wete wil kom oor hierdie deel van ons sendinggeskiedenis.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License