SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.42 número3"Direct experience of God": A quest for refinement and illumination in Christian faith and practiceIs Ruth the 'ēšet hayil for real? An exploration of womanhood from African proverbs to the threshing floor (Ruth 3:1-13) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Studia Historiae Ecclesiasticae

versão On-line ISSN 2412-4265
versão impressa ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.42 no.3 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.17159/2412-4265/2016/1279 

ARTICLES

 

Die gereformeerde kerke in Suid-Afrika en "vroue in die amp" 1994-2016

 

The Reformed Churches in South Africa and "women in office": 1994-2016

 

 

J.M. Vorster

Noordwes-universiteit. koos.vorster@nwu.ac.za

 

 


Kernbegrippe: Hermeneutiek; amp; vroue in die kerk; vroue in die amp; ouderling; predikant


ABSTRACT

The discussion of the inclusion of women in die offices of minister and elder has become an increasingly burning and dividing issue in the Reformed Churches in South Africa (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika) over the past Ave decades. Since 1973 until 2016 various Synods of this denomination have struggled with the topic by way of several intensive study reports, which resulted in many decisions on hermeneutical and exegetical grounds. A first article dealt with the history of the case as it developed from 1973-1988.1 It was concluded that the Synods in this period did not consider the issue sufficiently in light of a biblical-theological hermeneutical perspective. This article deals with the period 1994-2016. The purpose of this ongoing research is to identify the reasons for the continuous decisions, in this period also, not to include women in the particular offices in this denomination. As was the case in the first article, the central theoretical argument of this study is that the hermeneutical approaches of the various Synods in the period 1994-2016 also displayed a significant shortcoming. This shortcoming is the constant neglect of the important role of systematic biblical-theological testimony and a biblical anthropology as fundamental hermeneutical tools. These tools were not applied proficiently because they were obscured by a one-sided grammatical-historical angle of approach to certain parts of Scripture. This hermeneutical deficiency lies at the heart of the prohibition of women in the offices of elder and minister.

Keywords: Hermeneutics; office; women in the church; women in office; elder; pastor


 

 

INLEIDING

Sedert 1973 het verskillende Nasionale en later Algemene Sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) die saak van die toelating van vroue in die besondere dienste ter tafel geneem op grond van die rapporte van studie-deputate. Hierdie rapporte het hermeneutiese vertrekpunte en eksegetiese insigte bevat waarvan die onderskeie Sinodes kennis geneem het. Deurgaans het die Sinodes bevind dat daar nie genoeg gronde uitgewys kan word wat daarop sou dui dat vroue in die besondere dienste beroep en bevestig mag word nie. Die hantering van die saak kan in twee periodes verdeel word. Die eerste periode het geduur van 1973 tot 1988 toe die saak as afgehandel beskou is. Die tweede periode het begin in 1994 toe die saak weer op die agenda van die Sinode geplaas is, en duur tot 2016. Die studierapporte en besluite van die Sinodes in die eerste periode is in 'n vorige artikel krities behandel en die gevolgtrekking is gemaak dat die besluite beïnvloed is deur die gebruikmaking van 'n hermeneutiek wat 'n uitwysbare leemte vertoon, naamlik die negering van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis (tematiese openbaringsgeskiedenis) in die verstaan van die tekste wat handel oor die sogenaamde swyggebod op vroue in die samekomste van die eerste gemeentes (1 Tim. 2:11-15 en 1 Kor. 14:33b-37) en die "onderdanigheid" van vroue soos beskryf in die huistafels (Ef. 5:21-33; Kol. 3:18-19 en 1 Pet. 3:1-7).2 Hierdie leemte en die konsekwensies daarvan is reeds in die vorige artikel van die outeur uitgewys (Vorster 2016).

In hierdie artikel word die saak soos dit van 1994 verloop het, verder ondersoek. Die sentraal-teoretiese argument van hierdie studie is dat die hermeneutiese leemte wat in die periode 1973-1988 die besluitneming oor die toelating van vroue tot die besondere dienste negatief beïnvloed het, ook in die periode 1994-2016 voorgekom het en daartoe gelei het dat die Sinodes telkens besluit het dat vroue nie in die besondere dienste beroep en bevestig mag word nie. Die prinsipiële fundering van hierdie besluit is telkens gevind in die swyggebod, wat sou beteken dat die diens van vroue as ouderling en diaken die hoofskap van die man ondermyn en dus teen die skeppingsorde indruis. Die hermeneutiese leemte wat in die betrokke artikel uitgewys word, is dat die Sinodes eensydig klem lê op grammatikaal-historiese eksegese en nie die ewe belangrike waarde van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis van kerntemas in die Skrif genoegsaam na waarde skat nie3. Die argument begin by die besluit van Sinode 1994.

 

SINODE 1994

Voorafgaande tot Sinode 1994, het daar by Sinode 1988 'n voorstel van die studiedeputate gedien dat die saak van "vroue in die amp" verder bestudeer word en dat aandag gegee moet word aan verskeie sake wat daarmee verband kan hou (GKSA 1988, 516). Die Sinode het egter die versoek afgewys en was van oordeel dat die Skrifgegewens daarop dui dat vroue nie in die besondere dienste gedien het of kan dien nie (GKSA 1988, 519).4 In die aanloop tot Sinode 1994 is die saak van "vroue in die amp" dus as afgehandel beskou.

Die 1994 beswaarskrif van Klassis Boland

In 1994 het Klassis Boland 'n beswaarskrif teen die besluit van Sinode 1988 ingedien (GKSA 1994, 468). In dié beswaarskrif word tereg vermeld dat die vraag in verband met vroue in die besondere dienste in die eerste plek n hermeneutiese vraag is en "ag die Klassis dit noodsaaklik: om die wesenselemente van die Gereformeerde Skrifbeskouing en verbandhoudende hermeneutiese uitgangspunte hier kortliks uiteen te sit" (GKSA 1994, 468). Die Klassis stel dan die volgende hermeneutiese uitgangspunte soos dit van toepassing is in die Gereformeerde tradisie:

Christus, die skopus van die Skrif en die kanon. Die Skif moet verstaan word vanuit die sentrum of skopus van die Skrif en dit is die verlossingswerk in Jesus Christus. Die woorde van die Skrif kan nie sonder meer en "literalisties" oorgeneem en toegepas word op vandag se situasie nie. "Binne die konteks op die fokus van God se openbaring van die versoening en herskepping in Christus moet al die verskillende dele van die Skrif verstaan en geïnterpreteer word" (GKSA 1994, 468). Die Klassis pleit dus vir 'n Christologiese benadering tot die saak van die toelating van vroue in die besondere dienste en oordeel dan dat die kwessie van sosiale status, geslag, etnisiteit, kultuuragtergrond, ras, volksverband en so meer van die mense wat in die besondere ampte moet dien, lê op die periferie en nie in die sentrum van die Skrif nie. Ons moet daarom die Skrif nie oorvra nie.

Die betroubaarheiden verskeidenheidvan die Skrif. Die Skrifis heilig en goddelik en dit reflekteer die betroubaarheid van God sowel as die verskeidenheid van maniere waarop Hy die waarheid openbaar. Met verwysing na Bavinck (1928, 419-420) oordeel die beswaardes dat die verskeidenheid in ag geneem moet word wanneer dele van die Skrif geïnterpreteer word, omdat nie alle dele wat geopenbaar word uniform en monolities is nie. Hierdie beginsel moet geld in die beoordeling van die aard van 1Kor. 14:34-35 en 1Tim. 2:11-15 (die swyggebod op vroue). "Dit is 'n vraag of hierdie uitsprake bedoel was om letterlik so vir alle tye en alle plekke te geld" (GKSA 1994, 469).

Die duidelikheidvan die Skrif en Skrifinspirasie. Die beswaardes stel dat hulle die duidelikheid van die Skrif bely en hierdie duidelikheid het spesifiek betrekking op dit wat nodig is vir die mens se saligheid. Onduidelike gedeeltes moet in die lig van duidelike gedeeltes verklaar word. Sommige dinge in die Skrif soos 1Tim 2:11-15 is onduidelik "juis omdat die openbaring van God soos wat dit in die Skrif neerslag gevind het, plaasgevind het in 'n wye verskeidenheid van verskillende historiese situasies oor 'n lang tydperk heen" (GKSA 1994, 470). Van sommige van die situasies is vandag min bekend. Daar moet dus onderskei word tussen spesifieke samelewingsgebruike van destyds en voorskrifte wat vir alle tye geld, in die lig van die duidelike skopus van die Skrif soos hierbo vermeld.

Die genoegsaamheid van die Skrif en die rol van tradisie. Die beswaardes gee erkenning aan die openbaring van God in "natuur en tradisie", maar is van mening dat slegs die openbaring in die geskrewe Woord genoegsaam is vir die weg tot saligheid. Buite die Skrif om het die kerk geen gesagsbron nie. Die interpretasie van die Skrif vind egter altyd plaas binne n bepaalde teologiese en kerklike tradisie. Tog het die Skrif gesag bo die tradisie en hierdie stelling is die grondslag van die Gereformeerde beginsel van altyd reformeer. "Die Gereformeerde tradisie en kerklike praktyk dat vroulike lidmate van die besondere ampte in die kerk uitgesluit word, is dus ondergeskik en toetsbaar en veranderbaar op grond van die Skrif' (GKSA 1994, 471). Voorts kan die Skrif gesien word as 'n reël vir geloof en lewe, maar nie op dieselfde wyse vir sowel geloof en lewe nie.

Die eenheid van die Skrif. Die beswaarskrif stel verder: "Al die dele van die Skrif moet gelees word in die lig van die geheel en geen aspek van die Skrif mag afgespeel word teen 'n ander nie" (GKSA 1994, 471). Hierdie beginsel is onderliggend aan die Gereformeerde hermeneutiese beginsels soos organiese inspirasie, openbaringsgeskiedenis, onderskeid tussen sentrum en periferie, onderskeid tussen historiese en normatiewe gedeeltes, die gedagte dat die Skrif sy eie interpreteerder is, asook die idee van Skrif-met-Skrif vergelyking. Hierdie basiese opvatting kan ook misbruik word wanneer gepoog word om die skopus van die Skrif in een formule of leerstelling saam te vat. "Soms word 'n skolastiese sisteem van 'Bybelse waarheid' gekonstrueer wat kontak verloor het en vervreem geraak het met die historiese konkreetheid van die Bybel self (GKSA 1994, 471).

Die gemeenskap van die heiliges en die rol van die Heilige Gees. Die verklaring van die Skrif kan nooit in isolasie plaasvind nie en daar moet altyd gelet word op die rol van die hele geloofsgemeenskap in die verstaan van die Skrif. In die resente geskiedenis is daar baie voorbeelde van kerke wat na deeglike Skrifstudie tot die gevolgtrekking gekom het dat geslag geen rol kan speel in die bevestiging van vroue in die besondere dienste nie. Die GKSA kan nie die saak de novo in isolasie bestudeer nie. Daar moet ook gelet word op die getuienis van ander oor die saak. Die Gees werk immers nie op subjektivistiese wyse deur middel van religieuse ervarings nie, maar deur middel van die gesamentlike en gedeelde getuienis van die wêreldwye kerk van alle tye.

Eenheid en verskeidenheid. Eenheid in die kerk is 'n realiteit wat na vore kom in leer, aanbidding, wedersydse aanvaarding, gemeenskap en die bereidheid om voortdurend onder die leiding van die Heilige Gees te groei. Rekening moet egter ook gehou word met die verskeidenheid van lewenstyle waarvan daar in die Skrif selfs blyke is. "Hierdie soort verskeidenheid manifesteer op verskillende vlakke in die verstaan van God se Woord oor spesifieke etiese kwessies, kerklike praktyke en lewenstyle. Hierdie verskille kan nie op die vlak van die eksegese alleen opgelos word nie, aangesien dit dikwels gebaseer is op faktore en bewegings wat nie eksegeties van aard is nie - die Bybel handel gewoon nie letterlik, konkreet en direk oor alle etiese probleme en kerklike praktyke in alle kontekste van alle tye nie" (GKSA 1994, 473).

Die geldigheid van die Ou Testament. Die wette in die Ou Testament geld steeds as wegwysers na die wil van God. Daarom moet dit wat die Ou Testament sê oor die rol wat vroue in die geskiedenis van Israel gespeel het, en die betekenis daarvan vir vandag, ook na waarde geskat word. Die betekenis daarvan moet bepaal word in die lig van die skopus van die Skrif, naamlik die openbaring van God in Jesus Christus.

Die plek van die konkrete omstandighede van vandag. Die beswaarskrif pleit verder daarvoor dat die konkrete lewensomstandighede van vandag se lesers in die verstaan van die Bybel in ag geneem moet word. Kontekstuele faktore "gee dikwels op 'n legitieme wyse uitdrukking aan Christelike gehoorsaamheid en dit wissel heel dikwels van tyd tot tyd en plek tot plek" (GKSA 1994, 473). Daarom behoort die sosiale posisie van vroue in die leefwêreld van vandag ook n rol te speel in die besluitneming oor die verkiesbaarheid van vroue in besondere dienste in kerke. Met hierdie argument het die beswaarskrif die eerste keer sedert die saak van "vroue in die amp" by die Sinodes van die GKSA ter sprake gekom het, gewys op die belang van die leserskonteks as een van die hermeneutiese uitgangspunte. Dit is in lyn met die nuwere insigte wat na vore gebring is in die post-modernistiese teorie van teksverklaring.5

Verskeie materiële gronde word dan aangedui om die beswaar te motiveer. Sinode 1988 word deur die beswaarskrif daarop gewys dat die Skrif "oorvra" is in die saak; dat die onderskeid tussen besondere en nie-besondere dienste 'n kategoriese afbakening as "Skriftuurlik" veronderstel; dat aanduidings oor die rol wat vroue gespeel het in die Nuwe Testamentiese kerk onderskat word; dat die verskil in historiese kontekste in huweliksverhoudinge en kultuur en hoe dit van die lewenskonteks van vandag verskil, nie in ag geneem word nie en dat die Sinode toestem dat vroue in die Ou Testamentiese bedeling besondere dienste verrig het, maar nie die konsekwensies daarvan vir vandag aanvaar nie.

Die beswaarskrif sluit dan af met die stelling: "...indien die Gereformeerde Skrifbeskouing ten volle gerespekteer word en indien die hermeneutiese beginsels soos hier [in die beswaarskrif - JMV] uiteengesit met verantwoordelikheid, erns, en beskeidenheid toegepas word, daar geen beletsel is vir die verkiesing van vroue tot al die besondere dienste in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nie" (GKSA 1994, 479). Benewens die materiële gronde wat vir die beswaar aangedui is, lê die bydrae van die hierdie beswaarskrif daarin dat weer aandag gevra is vir die hermeneutiek en veral die stelling dat die skopus van die Skrif, naamlik die Christologie, 'n deurslaggewende rol moet speel in die verstaan van die teks en dat gelet moet word op die rol van leserskonteks.

Soos aangedui in 'n vorige artikel (Vorster 2016) was die onderwaardering van die rol van die Christologie en pneumatologie in die beoordeling van die swyggebod n leemte in vorige besluite van Sinodes van die GKSA in hierdie verband. Die beswaarskrif belig hierdie leemte gedeeltelik maar trek die argumente nie deur tot hulle volle konsekwensies nie.

Die besluit van die Sinode

Sinode 1994 het al die beswaargronde afgewys en slegs weer eksegetiese alternatiewe gestel. Die eksegese van die 1988 rapport is onkrities verdedig en daar is telkemale daarop gewys dat die beswaardes nie hulle saak bewys het nie. Die kern van die beswaar was egter dat "die beslissende vraag in verband met vroue in die besondere dienste 'n hermeneutiese vraag is" (GKSA 1994, 468). Ter ondersteuning hiervan het die beswaarskrif weer duidelike hermeneutiese uitgangspunte gestel. Die Sinode het verkeerdelik geoordeel dat hierdie uitgangspunte slegs 'n herhaling is van die uitgangspunte wat Sinode 1988 gestel het, en het net daarvan kennis geneem. Die Sinode het dus nie ingegaan op die hermeneutiese vraag wat die beswaarskrif aan die orde wou stel nie, en het daarmee nagelaat om die weg te open vir 'n nuwe debat oor die saak in die lig van die gestelde hermeneutiese vertrekpunte.

Hoewel die beswaarskrif nie duidelik en pertinent gewys het op die belang van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis in die verstaan van enkele gedagte-eenhede nie, het dit tog gewys op die belang van 'n Christologiese benadering van die sogenaamde swyggebod. Hieraan het die Sinode nie aandag gegee nie en die leemte wat in die besluitneming van Sinodes sedert 1973 voorgekom het, is slegs gekontinueer. Die posisie van vroue kan nie net vanuit die skeppingsperspektief gedefinieer word nie, maar die Christologiese en pneumatologiese perspektiewe soos dit in Gal. 3:28 en 1Kor. 12:12 e.v. onderskeidelik belig word, moet ook in berekening gebring word. Hierin het Sinode 1994 in gebreke gebly en dus maar net die status quo van vorige Sinodes gehandhaaf.

Die beswaarskrif het ook, waarskynlik in die lig van nuwere ontwikkelinge in die teorie van teksinterpretasie, 'n saak uitgemaak vir die plek van "leserskonteks" in die verstaan van die teks met hulle stel van "die plek van die konkrete omstandighede van vandag" as 'n belangrike hermeneutiese uitgangspunt (GKSA 1994, 473). Ook hieraan het die Sinode geen aandag gegee nie en slegs daarvan kennis geneem. Dit toon dat die Sinode in sy besluitneming nie enige aandag gegee het aan nuwere hermeneutiese verwikkelinge in teologiebeoefening nie, en slegs by die "tradisionele gereformeerde hermeneutiese uitgangspunte" gebly het. Die outeur wil nie beweer dat leserskonteks deurslaggewend in die verstaan van die Bybel moet wees nie, maar ten minste kon die Sinode oor hierdie voorstel van die beswaardes 'n prinsipiële standpunt gestel het. Dit des te meer omdat daar ander uitsprake van Sinodes aangedui kan word waar leserskonteks (onbewustelik?) gebruik is in die verstaan van Skrifgedeeltes. In hierdie verband kan veral gewys word op die talle besluite oor rasse- en volkereverhoudinge sedert Sinode 1958. In hierdie besluite het die lewenskonteks van apartheid 'n wesentlike rol gespeel in die verklaring van die Skrif oor volkereverhoudinge. Die hermeneutiek as wetenskap het oor die afgelope vyf dekades baie ontwikkel (vgl. Kaiser en De Silva 1994). Die besluite van die Sinodes gee egter nie blyke dat van hierdie ontwikkelinge kennis geneem is nie. Wanneer kerklike vergaderings gebruik wil maak van hermeneutiese uitgangspunte, behoort nuwe ontwikkelinge op die vakgebied van hermeneutiek verdiskonteer te word en daar moet aangedui word waarom nuwe teorieë van verklaring gebruik word of prinsipieel afgewys word. In hierdie opsig het die Sinode nie reg laat geskied aan die beswaarskrif nie en daarom was die besluit om bloot die status quo te handhaaf, te wagte.

 

SINODE 1997

By Sinode 1997 het weer n beswaarskrif van Klassis Boland via die Suidelike Partikuliere Sinode, oor die verkiesbaarheid van vroue in die besondere ampte/ dienste, gedien. In hierdie beswaarskrif word die Sinode versoek om 'n revisie van die besluit van Sinode 1994 te oorweeg.

Die 1997 beswaarskrif van Klassis Boland

Die beswaarskrif stel ten aanvang dat die Klassis die hermeneutiese vertrekpunte wat deur middel van studie-deputate op die agenda van Sinode 1988 geplaas is, weereens onderskryf.6 Voorts stel die beswaarskrif dat die besluit van Sinode 1994 "voortydig" is en nie op 'n "goed-verantwoorde wyse" met die Skrif omgaan nie (GKSA 1997, 547). Daar word weereens gewys op die skopus van die Skrif, naamlik dat daar in Christus vir vroue n nuwe bedeling aangebreek het, en dat dit in die rigting wys dat vroue deur God geroep en begiftig kan word om op n besondere wyse in die kerk te dien soos Hy dit goeddunk. Volgens die Klassis het die Sinode hierdie argument nie beantwoord nie en ook nie n duidelike saak gestel om te besluit dat die studie, soos deur die studie-deputate en die Kommissie vir pre-advies by Sinode 1994 aanbeveel is, nie voortgesit sou word nie.

Verder maak die Klassis beswaar teen die feit dat Sinode 1988 die saak van "besondere dienste" ingedra het in die verklaring van 1Tim, 2:11-14 en 1Kor. 14:3335. Die Sinode het die "skeppingsordinansie" wat dui op die sekondêre posisie van vroue as uitgangspunt gebruik. Om net die skeppingsordinansie te gebruik is egter, volgens die beswaarskrif, problematies omdat ander uitgangspunte soos die Nuwe Verbond en die eskatologiese aard van die kerk nie verdiskonteer is nie. In hierdie opsig impliseer die beswaarskrif dus ook dat die hermeneutiese vertrekpunte wat die Sinode gebruik het onvolledig was, omdat die saak nie beoordeel is vanuit die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die posisie van vroue nie. Soos reeds aangedui in die vorige artikel was hierdie leemte n deurlopende verskynsel in die Sinodes se hantering van die saak sedert 1973. Die gebrek aan die gebruikmaking van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis het die Sinodes daarvan weerhou om die volle spektrum van die Skriftuurlike gegewens oor die posisie van vroue in berekening te bring.

Die beswaarskrif oordeel verder dat die optrede van vroue waarna die Skrifdele verwys, dui op n bepaalde manier van optrede waarin vroue hulle mans oneer aandoen. Daar is aanduidings dat vroue wel onordelik verbaal in die samekomste opgetree het. Dit gaan dus om bepaalde omstandighede van wanordelikhede wat binne die gemeentes van daardie tyd bestaan het. Die apostel het immers ook "talesprekers" en profete naas onordelike vroue tot swye geroep. Die swyggebod kan daarom nie as 'n altyd geldende reël vir uitsluiting van vroue uit kerklike dienste gebruik word nie. Voorts word "besondere dienste" in die tekste ingelees. Die Nuwe Testament leer die dienskarakter van die "amp" wat gefundeer is in die amp van Christus en dit moet nie verwar word met "heerskappy" (2 Kor. 1:4) of "baasspeel" (1 Pet. 5:3) nie. Wat gelowiges geld, geld ook die ampte (Luk. 22:25 en Mark. 10:4244) (GKSA 1997, 533). Soos Christus dien, moet gelowiges in die besondere dienste en in die amp van die gelowige dien. "Op voetspoor van Christus self is dit wat ons vandag 'amp' noem niks meer as selfverloënende diens nie. Geen amp is heersend nie" (GKSA 1997, 555). Dit geld ook vroue; en die beswaarskrif dui dan verskeie Skrifgegewens aan wat daarop dui dat vroue hulle gawes in die gemeente beoefen het. Om te sê dat dit in die gedeeltes net gaan oor vroue se diens in die amp van die gelowige is nie geldig nie, want dan word die amp - op grond van die man se hoofskap oor vroue - gelaai met begrippe en inhoud soos status, mag en aansien, wat indruis teen die dienskarakter van die amp.

Die beswaarskrif wys verder op die implikasie van die gelykheid van vroue. Met die kruisdood word die beeld van God ook in vroue herstel; daar breek ook vir vroue 'n nuwe vryheid aan; word sy gelykwaardig aan die man (Gal. 3:28); word in Christus 'n nuwe skepping; word mede-ontvanger van die Heilige Gees; is medelidmaat van die gemeente; mede-ontvanger van die heilige doop; is mede-deelnemer aan die maaltyd van die Here; is mede-arbeider in die gemeente; is mede-ontvanger van die gawe van die Heilige Gees; en is mede-erfgenaam van die genade. In die Sinodebesluit waarteen beswaar gemaak word, is al hierdie getuienis ondergeskik gestel aan die sogenaamde swyggebod. Hiermee word n relevante beginsel van die Gereformeerde tradisie tersyde gestel naamlik "dat daar nie 'n sentrale of 'n vername leerstuk op n enkele vers gebou moet word met eksplisiete uitsprake, veral nie as die vers eksegetiese probleme bevat nie" (GKSA 1997, 556). Voorts kan daar duidelike Skrifgegewens aangedui word dat die sogenaamde skeppingsinstelling van die manlike hoofskap in die gemeente in die eindtyd gerelativeer word. Die manlike hoofskap, in die sin van die skeppingsinstelling, kan nie in absolute sin verstaan en toegepas word nie. In hierdie opsig word weer verwys na Gal. 3:21-29. Die beswaarskrif eindig met die vraag of die kerk so ver kan gaan om in die lig van al die getuienis oor die posisie van vroue, daartoe te kan oorgaan om n totale verbod te plaas dat vroue nie in die besondere dienste/ampte kan dien nie. Die beswaarskrif sluit af met die versoek aan die Sinode dat "die vraagstuk oor vroue in die besondere kerkdiens nie meer eensydig beoordeel word vanuit twee Skrifdele waar na 'swye' wat vroue opgelê word verwys word nie" (1 Tim 2 en 1 Kor. 14) (GKSA 1997, 557). Die talle ander Skrifgegewens wat betrekking het op die intensiewe vrouediens moet ook sy regmatige plek kry in die hermeneuse en die uiteindelike besluit. Hiermee het die beswaarskrif die saak van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis in die teorie van Skrifverstaan, en veral die implikasies van die Christologie en die pneumatologie, pertinent op die tafel van die Sinode geplaas. In die lig hiervan vra die beswaarskrif dan 'n revisie van die besluit.

Die besluit van Sinode 1997

Die beswaarskrif is nie by die betrokke Sinode afgehandel nie en is na studie-deputate verwys om die volgende Sinode in 2000 te adviseer. Hierdie stap is geneem omdat die Sinode geoordeel het dat dit weens tydsgebrek nie moontlik was om tydens die Sinode die saak deeglik af te handel nie (GKSA 1997, 558).7

 

SINODE 2000

Die studie-deputate het by Sinode 2000 aanbeveel dat die beswaarskrif in sy geheel afgewys word, hoofsaaklik omdat geoordeel is dat die beswaardes nie daarin geslaag het om die besluite van Sinode 1988 verkeerd te bewys nie (GKSA 2000, 409). Daar is telkens daarop gewys dat die beswaardes die Sinodebesluit óf eensydig óf verkeerd interpreteer. Voorts is daarop gewys dat die beswaardes die amptelike karakter van die besondere dienste geringskat met die oordeel dat die besondere diens in wese 'n selfverloënende diens is op grond van die diens van Christus. Die Sinode het op aanbeveling van n kommissie van pre-advies die aanbevelings van die studie-deputate aanvaar en die beswaarskrif in sy geheel afgewys. Op hierdie beoordeling word nie verder ingegaan nie omdat dit nie handel oor die kernsaak van hierdie studie nie, naamlik die belangrike rol wat die hermeneutiese uitgangspunt van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis moet speel.

Die beswaarskrif het wel in een punt aan hierdie saak aandag gegee deur te verwys na die wesentlike verandering wat die "Nuwe Verbond" of die eskatologiese aard van die kerk vir vroue gebring het. Soos aangedui in hierdie navorsing, was die gebruik van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis as hermeneutiese vertrekpunt die leemte in die onderskeie Sinodebesluite tot dusver. Oorsigtelik het die beswaarskrif wel daarop gewys. Hierop het die studie-deputate egter net kortliks ingegaan deur te sê dat Sinode 1988 wel die aard van die man se gesag deeglik gedefinieer het en dat "die manlike hoofskap nie deur die Sinode in absolute sin verstaan en toegepas [is] nie" (GKSA 2000, 408). Voorts oordeel die studie-deputate dat die feit dat die gesagsverhouding tussen man en vrou in die Nuwe Verbond gerelativeer is, dit nie opgehef is nie, en argumenteer as bewys van dié stelling dat die verhouding eienaar en slaaf wel vernuwe is, maar nie opgehef word nie. Geen verwysing word gemaak na die betekenis van Gal. 3:28 in die lig van die Christologie nie; en die lig van die pneumatologie word ook glad nie aangespreek nie. Hierdie belangrike aspek van die beswaarskrif wat by Sinode 1997 gedien het, en na studiedeputate verwys is vir bespreking op Sinode 2000, het dus nie genoegsame aandag ontvang nie.

Die Sinode het ook 'n rapport oorweeg wat inligting verskaf het oor die standpunte van buitelandse kerke met wie die GKSA korrespondensie beoefen. Van hierdie kerke het wel vroue in die besondere dienste. Die Sinode het hieroor besluit: "Aan die deputate Ekumenisiteit en die Owerheid word opgedra om in die lig van die Rapport indringende korrespondensie/gesprekke met die belanghebbende Deputate van die NedlGK en die CRC te voer om vas te stel of die verskil in Skrifverklaring oor die toelating van vrouelidmate in die besondere dienste as gevolg van 'n Skrifkritiese hermeneutiek is, wat die eenheid met die GKSA in gedrang bring en waarvolgens voortgesette korrespondensie in heroorweging geneem sal moet word" (GKSA 2000, 419). "Skrifkritiese hermeneutiek" word egter nie gedefinieer nie. Hierdie skerp besluit rus op die uitgangspunt dat wanneer verskille in Skrifverklaring te wyte is aan n Skrifkritiese hermeneutiek, dit neerkom op n verwerping van Christus. Die Sinode het egter in gebreke gebly om "Skrifkritiese hermeneutiek" te verduidelik en hoe dit die beoordeling van die besluite van ander kerke kan raak.

Benewens die leemte in die besluit van Sinode 2000 soos hierbo aangedui, toon die besluite, in die bewoording en beredenering n onversoenlike aard. Anders as die genuanseerde rapport en besluit van 1988, maak Sinode 2000 skerp uitsprake en koppel die toelating van vroue in die besondere dienste onoortuigend aan "Skrifkritiek"; sonder om aan te dui wat hierdie "Skrifkritiek" beteken. Om die gelade term "Skrifkritiek" sonder 'n duidelike definiëring te gebruik, is riskant omdat so n onwetenskaplike gebruik van die uitdrukking n beoordelingsnorm maak waarmee alle nuwere insigte in die hermeneutiek klakkeloos veroordeel word. Van Deventer (2016) wys op die risiko's van so 'n ongenuanseerde gebruik van die begrip binne die reformatoriese tradisie, en sy argument is in hierdie opsig ter sake. Voorstaanders van die toelating van vroue in die besondere dienste is dus direk verdink van "Skrifkritiek".

Voorts laat die besluite geen moontlikheid vir eksegetiese verskille in die verstaan van die swyggebod op grond van die hermeneutiese vertrekpunte wat tot dusver in die debat binne die GKSA deur alle partye aanvaar is nie. Dit blyk dat daar n onversetlike en bevooroordelende houding by die meerderheid van die afgevaardigdes na die Sinode ingetree het.

In antwoord op 'n beskrywingspunt van Partikuliere Sinode Wes-Transvaal het die Sinode egter besluit om weer studie-deputate aan te wys om 'n studie te maak oor die wyse waarop die Here vroue in die kerk gebruik het en steeds gebruik, en ook al die bestaande inligting wat tot op hierdie stadium voor Sinodes gedien het, saam te vat en op 'n bevatlike wyse te publiseer (GKSA 2000, 440). As motiverings stel die beskrywingspunt dat die studie moet fokus op die openbaringshistoriese gegewens oor die plek van vroue en om antwoorde te gee op die "onbeantwoorde vrae" en "los lyne" wat nog in vorige studies voorkom. Hierdie besluit kan gesien word as 'n positiewe ontwikkeling, veral omdat die openbaringshistoriese getuienis weer onder die soeklig geplaas moes word.

 

SINODE 2003

Die beswaarskrif van Vergeer en Janse van Rensburg

By Sinode 2003 dien daar weer 'n beswaarskrif teen die afwysende besluit van Sinode 1988, soos ingedien deur W.C. Vergeer en J.J. Janse van Rensburg (GKSA 2003, 545). Die beswaardes beweer dat Sinode 1988 gefouteer het deur: 1) 'n onbybelse vertrekpunt te aanvaar, naamlik dat alle mans hoof is van alle vroue; 2) gebruik te maak van 'n onewewigtige en inkonsekwente hermeneuse; 3) die Bybel op 'n kasuïstiese wyse te hanteer; en 4) in sy besluit die Bybel op 'n a-historiese wyse te gebruik. Ten opsigte van die inkonsekwente hermeneutiese gebruik dui die beswaarskrif daarop dat 1 Tim. 2:9-10 ook 'n "haarkapselverbod", 'n "pêrelverbod", "goudverbod" en n "verbod op duur klere" plaas. Aan hierdie verbiedinge word nie n "vir-alle-tye-voorskriftelike-gewig" toegeken nie, maar wel aan die swyggebod. Hierdie inkonsekwentheid kan volgens die beswaardes nie grammaties gemotiveer word nie. Sinode 1988 het geoordeel dat die Nuwe Testament geen getuienis bevat dat vroue as ouderlinge of Woordbedienaars opgetree het nie. Volgens die beswaardes is hierdie wyse van Skrifgebruik kasuïsties omdat dit uitgaan van die veronderstelling dat iets net toegelaat kan word as dit letterlik in die Skrif voorkom. Met so 'n Skrifgebruik sou byvoorbeeld die kinderdoop ook nie geldig wees nie. Daar moet eerder gevra word of die Bybel iets teen die toelating van vroue in die besondere dienste het. Hier verwys die beswaardes weer na die skopus van die evangelie van Christus, wat dan daarop sou dui dat vroue deur God geroep en begiftig kan word om op n besondere wyse in die kerk te dien soos Hy goed dink.

Verder meen die beswaardes dat Sinode 1988, ten spyte van die feit dat gewys is op die belangrikheid van tydgerigtheid as hermeneutiese vertrekpunt, hierdie vertrekpunt geensins van toepassing gemaak het op die plek van vroue nie. Belangrike historiese inligting oor die posisie van vroue in die antieke kultuurwêreld, soos die patriargale samelewingstruktuur, gemeentelike omstandighede, asook argeologiese getuienis oor leierskapsrolle wat vroue in vroeë gemeentes gespeel het, het geensins in die beredenering van Sinode 1988 'n rol gespeel nie; en so word die Skrif a-histories gebruik in hierdie een saak. In die lig van bogenoemde argumente versoek die beswaardes die Sinode om die besluit van Sinode 1988 te herroep en te vervang met n besluit wat lui: "Dat gemeentes waar dit met vrede en tot opbou gedoen kan word, bekwame lidmate van enige geslag tot die besondere ampte kan roep en bevestig. Hierby moet die Bybelse beginsel dat die eenheid van die gemeente 'n hoër prioriteit geniet as die uitlewing van persoonlike gawes, in berekening gebring word" (GKSA 2003, 550). Hierdie beswaarskrif is egter ook in sy geheel afgewys en die Sinode het die beredenerings en besluit van 1988 gehandhaaf (GKSA 2003, 555).

Besluit oor die beskrywingspunt Partikuliere Sinode Wes-Transvaal van 2000

Die studie-deputate wat in 2000 aangewys is, het n rapport en n alternatiewe rapport aan Sinode 2003 voorgele. Wat die versoek tot 'n openbaringshistoriese studie betref, gee die rapport egter net n historiese oorsig, sonder n openbaringshistoriese beoordeling, oor die plek van vroue in die skepping; en ook in die tyd van Jesus op aarde en in die Apostoliese Kerk, en kom dan tot dieselfde bevindings as Sinode 1988. Dit kom daarop neer dat vroue aan mans gelyk is, met n funksionele differensiasie in die huwelik, dat hulle voluit deel het aan die kerk en dat hulle op verskillende maniere hulle gawes in die gemeente kan beoefen. Geen aandag is egter gegee aan die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis vanuit die Christologiese en pneumatologiese perspektiewe nie. Die alternatiewe rapport het wel gedeeltelik op hierdie leemte gewys. Na 'n oorsig oor die ampsbeskouing van die Ou en Nuwe Testament onderskeidelik, bevind die rapport dat daar nie gegewens gevind kan word wat daarop sou dui dat die besluit van 1988 teen die toelating van vroue in die besondere dienste verander behoort te word nie. Die alternatiewe rapport het hiermee verskil en aanbeveel dat vroue wel in die besondere dienste verkies kan word. Op aanbeveling van die alternatiewe rapport besluit die Sinode dat Febe (Rom. 16:12) in haar gemeente wel n vorm van vaste dienswerk verrig het en wat inderdaad erkenning geniet het.

Voorts erken die Sinode dat sosio-historiese gegewens wel n rol moet speel in Skrifverklaring en dat nie alle Bybelse voorskrifte vir alle tye kan geld nie. Tog kom die Sinode tot die konklusie dat hoewel die opdragte van 1 Kor. 14:34 en 1 Tim. 2:11-12 tydgerig is, "daar geen rede [is] waarom die beginsels wat daar gestel word, nie blywend geld nie" (GKSA 2003, 585). n Afsonderlike afdeling word aan Gal. 3:28 gewy. Die teks word nie beskou as die locus classicus van menseverhoudinge in Christologiese lig nie, want dit handel oor die soteriologie en nie die ekklesiologie nie. Hierdie teks moet in die lig van ander tekste verklaar word en dan kan tot die gevolgtrekking gekom word dat gelykheid in verlossing nie Godgegewe differensiasie kanselleer nie. Die alternatiewe rapport het hierdie stelling egter betwis (GKSA 2003, 602-603).

Die outeur oordeel ook dat die Sinode met hierdie besluit fouteer het. Gesien uit die Christologiese en pneumatologiese perspektief moet ander tekste oor menseverhoudinge in die lig van Gal. 3:28 verklaar word, en nie andersom soos die Sinode beweer nie. Die Sinode se interpretasie is die gevolg van n onderbeligting van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die impak van die verlossing in Christus op, onder andere, die verhouding tussen man en vrou. Die verlossing deurbreek juis die sosiale strukture van die antieke tyd soos slawerny en die patriargale man-vrou verhouding. Slawerny en patriargalisme is tekens van die sondegebrokenheid van die werklikheid en wat uiteindelik deur die versoening in Christus opgehef word. Wat die beoefening van die geestesgawes betref, oordeel die Sinode dat vroue dit vryelik binne die gemeente kan en moet doen, maar "binne die reëlings wat die Heilige Gees in die Woord as gevolg van die Godgegewe verhouding tussen 'n man en vrou daarvoor stel" (GKSA 2003, 589). Ook hierdie argument verskraal die tematiese Bybels-teologiese gegewens wat deur die pneumatologie gebied word.

Die toelating van vroue tot die diens van diaken

Die kommissierapport wat by die Sinode gedien het, soos in die tweede minderheidsrapport, het wel n saak uitgemaak vir die toelating van vroue in die diens van diaken. Sonder veel verdere beredenering het die Sinode besluit om vroue wel toe te laat in die diakendiens. Voorts is ook verskeie problematiese sake aangedui wat volgens die Sinode verder ondersoek behoort te word. Hier is, onder andere, gewys op die vraag waarom vroue die gawe van profesie ontvang, maar dit nie in die besondere diens in die gemeente mag beoefen nie? Die saak is daarom weer na studie-deputate verwys om die volgende Sinode (2006) te adviseer.

Dit blyk dat Sinode 2003, soos vorige Sinodes, telkens stuit op bepaalde vrae maar nie daarvoor bevredigende oplossings vind nie. Die vraag is of 'n Sinode sover kan gaan om gewetens te bind as daar nie volledige duidelikheid oor n saak is nie. Sinodes kom telkens tot die besluit dat vroue nie in die besondere dienste kan dien nie, maar erken telkens dat daar nog onduidelikhede is wat ondersoek moet word. As n kerklike meerdere vergadering, volgens die Gereformeerde tradisie, nie tot n absoluut duidelike besluit kan kom nie, behoort die gewetens van gelowiges (en dus ook plaaslike kerke) nie gebind te word nie.

 

SINODE 2006

By Sinode 2006 het, benewens die rapport van die deputate Leerstellige Sake, verskeie beswaarskrifte van kerke en individue gedien teen die besluite van Sinode 2003, veral teen die besluit dat vroue toegelaat kan word tot die diens van diaken. Partikuliere Sinode Bosveld het 'n beswaarskrif ingedien teen die kerkregtelike hantering van die saak oor vroue in die besondere dienste op Sinode 2003, en betoog dat die besluit in die lig van Artikel 46 Kerkorde nie geneem kon word nie. Dit beteken dat die besluite van 1988 steeds geldig was en nie op dié wyse (gegrond op nuwe rapporte wat voor Sinode 2003 gedien het), verander kon word nie (GKSA 2006, 409). Hierdie beswaarskrif het geslaag en dit het meegebring dat geeneen van die rapporte en die ander beswaarskrifte, oor die saak van vroue in die besondere dienste, in behandeling geneem is nie. Die besluit van 1988 is gehandhaaf en dit beteken in beginsel dat die toelating van vroue in die diens van diaken ongeldig was.

Die Sinode het egter met die dilemma gesit dat verskeie kerke wel intussen vroue tot die diens van diaken geroep en bevestig het. Hieroor het die Sinode, na lang debatte en verskillende kommissierapporte, besluit dat weer studie-deputate aangewys moet word om 'n Skrifgefundeerde standpunt te formuleer oor die toelating van vroue in die diens van diaken. Intussen kon vroue wat reeds in die diens bevestig was, daarin aanbly. Verder is besluit: "Dat kerke in hulle besluite oor die verdere hantering van die roeping van vroue tot die amp van diaken in berekening sal bring dat daar uitsluitsel oor die Skrifgefundeerdheid daarvan D.V. by die volgende Sinode gegee sal word" (GKSA 2006, 416). Die hele aangeleentheid is dus weer aangeskuif na die volgende Sinode in 2009.

 

SINODE 2009

By Sinode 2009 is weereens 'n indringende en grondige studie oor die toelating van vroue in die besondere dienste deur 'n kommissie gedoen. Na aanleiding van hernude beswaarskrifte vir en teen die toelating van vroue in die besondere dienste, het die Sinode na 'n ordevoorstel besluit "dat hierdie Sinode in reses gaan en 'n Kommissie aanwys om op 'n datum soos die Sinode bepaal, te rapporteer oor die onafgehandelde sake wat vorige Sinodes aangedui het, maar ook om: "die saak van vroue in [die] kerk, wat vroue in die besondere dienste insluit in 'n nuwe Rapport ter tafel [te] bring vir besluitneming deur die Sinode" (GKSA 2009, 582). 'n Kommissie is aangewys om die rapport tydens die reses saam te stel.

Die rapport van 2009

Die rapport wat voor die Sinode gedien het, was n lywige en deeglike rapport wat ingegaan het op die kardinale aspekte van die amp, op hermeneutiese vertrekpunte en op die verskillende eksegetiese perspektiewe op dit wat geag is om die belangrike Skrifgedeeltes te wees oor die posisie van vroue in die kerk. Deurgaans is ook samevattings gegee oor sake waaroor vorige Sinodes reeds besluit het.8 Dit is nie moontlik om binne die bestek van hierdie artikel op alles in te gaan nie, veral nie op die eksegetiese verskille nie. Wat wel ter sake is, is die vraag of die Skrifbeskoulike en hermeneutiese vertrekpunt wat weer aan die orde gestel is die leemte waarop vroeër in hierdie artikel en die vorige artikel gewys is, oorkom het.

Skrifbeskoulike vertrekpunte

Onder die titel Skrifbeskoulike vertrekpunte stel die rapport die volgende (GKSA 2009, 603):

Die Bybel is die geskrewe Woord van God.

Die Bybel is ewig en altydgeldend. Dit is God se gesagvolle openbaring vir alle tye en hierdie beginsel word afgelei uit die selfgetuienis van die Skrif. Die skopus van die Skrif gaan oor God-self, oor die verlossing in Christus en die wyse waarop Hy gedien moet word. Daar moet onderskei word tussen dit wat die geskrewe Woord openbaar en die leser se interpretasie daarvan. Interpretasies moet voortdurend weer aan die Skrif getoets word.

Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer.

Die Bybel is tydgerig, maar nie tydgebonde nie.

Hierdie uitgangspunte bring geen nuwe sake na vore nie, maar dit is tog belangrik dat die Christologie hier pertinent weer as deel van die skopus van die Skrif uitgelig word. Voorts stel die rapport weer hermeneutiese vertrekpunte.

 

HERMENEUTIESE VERTREKPUNTE

Onder die titel "hermeneutiese vertrekpunte" word die volgende gestel (GKSA 2009, 604):

Die evaluering van eksegese. Verskillende verstaan van Skrifgedeeltes kan eksegeties moontlik wees, maar alle eksegese moet beoordeel word aan die grammaties-historiese model en so moet vasgestel word of dit houdbaar of onhoudbaar is.

Grammaties-historiese eksegese as benadering. Hieronder word verstaan dat die grammatiese struktuur van die teks, die sosiale konteks, die tydgerigtheid en die openbaringshistoriese perspektiewe verreken moet word. Die grammatiese benadering behels tekskritiese kontrole, en dat grammatiese ontleding en tekstuele konteks van die Skrifgedeelte verreken moet word. Die openbaringshistoriese lyne impliseer dat die problematiese altyd vanuit die minder problematiese benader moet word. Die aksiomatiese en nie die problematiese nie, is altyd die vertrekpunt. Hier word ook gestel: "Die eksegeet [moet] die verskillende Skrifdele wat met die betrokke Skrifdeel/vraagstuk verband hou tot n geheelbeskrywing saamvoeg" (GKSA 2009, 605). Hier word die belangrikheid van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis genoem, maar die vraag is in hoeverre dit wel toegepas is.

Die verhouding Ou en Nuwe Testament. Ook hierdie verhouding word aangespreek en daar word tot die gevolgtrekking gekom dat dit eensydig sal wees om Ou Testamentiese gedeeltes te verklaar bloot op grond van hoe die betrokke gedeeltes in die Nuwe Testament gebruik en toegepas word.

Tersaaklike vertrekpunte vir hermeneuse. Hieronder stel die rapport die belangrikheid van die rol van die eietydse konteks, die onderskeid tussen indikatief en imperatief, die sintaktiese en stilistiese merkers, die retoriese, kultuurhistoriese en openbaringshistoriese konteks waaronder die vereiste van Skrif-met-Skrifvergelyking in die proses van eksegese.

Die rapport sluit die deel oor die hermeneutiese vertrekpunte af deur te stel dat die sake soos hierbo uiteengesit, nie verskil van wat algemeen onder Gereformeerde hermeneutiek verstaan word nie, en dat dit aansluit by dit wat reeds voor vorige Sinodes gedien het. Geen aandag word gegee of selfs n verwysing gemaak na nuwere insigte in die Hermeneutiek as wetenskap nie. Dit blyk dat al die elemente van verantwoordelike hermeneutiek hier aangedui word onder die benaming "grammatikaal-histories". Die vraag is egter: Hoe is dit toegepas in die standpuntstelling van die posisie van vroue met betrekking tot die besondere dienste? Volgens die mening van die outeur is die toetssteen hiervoor die wyse waarop die opstellers en eventueel die Sinode sou omgaan met Gal. 3:26-29.

Eksegetiese insigte

'n Wye reeks tersaaklike Skrifgegewens wat betrekking het op vroue is aan die orde gestel. Baie inligting wat gegee is, is reeds in studies van vorige Sinodes vervat en word nie weer hier herhaal nie. Die vraag is: Het die kommissie die leemtes van die vorige studies aangespreek? In hierdie opsig is die studie-deputate se konklusies ten opsigte van Gal. 3:26-29 van belang. Hierdie Skrifgedeelte bevat die Christologiese perspektiewe en is uiteindelik saam met die pneumatologiese perspektiewe die toetssteen vir die effektiewe toepassing van die hermeneutiese vertrekpunte. Die rol van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis, soos hierbo saamgevat, is veral onmisbaar.

Die studie-deputate gee breedvoerig aandag aan Gal. 3:26-28 in die lig van die hele hoofstuk en in die lig van die hele brief. Dan kom hulle tot die gevolgtrekking dat die gelykheidsbeginsel wat in Gal. 3:28 uitgespel word, betrekking het op die verlossing in Christus en die versoening van mense as gevolg daarvan.

Geen aandag is gegee aan die moontlike etiese en sosiale betekenis van hierdie belangrike Skrifuitspraak en die moontlikheid dat dit in teen-kulturele sin (Rheeder 2012b:3) kan wys op 'n korrektief op die geslagverhouding in die antieke kultuur nie. Met hierdie uitspraak deurbreek die Skrif juis die patriargalisme en androsentrisme van die Mediterreense kultuur en beklemtoon die gelykheid van man en vrou. As sodanig werp Gal. 3:27-29 direkte lig op die sosiale posisie van vroue in die samelewing en ook in die kerk. Daar word eerder eensydig betoog dat die Skrifdeel nie betrekking het op die besondere dienste nie, maar wel dat dit "in die lig van hierdie oorweldigende getuienis duidelik [is] dat wanneer onderskeid getref word tussen mans en vroue met betrekking tot die besondere dienste, daar duidelike Skrifgronde voor moet wees. Net so: alleen as God in sy Woord bepaal dat net mans in die besondere dienste mag dien, mag vroue daartoe verbied word" (GKSA 2009, 625). Hieroor het die deputate ooreengestem, terwyl oor ander Skrifgedeeltes wat handel oor die posisie van vroue, daar 'n verskil van mening was. Uiteindelik is twee aanbevelings aan die Sinode gemaak. Een aanbeveling was dat vroue wel tot al die besondere dienste toegelaat kan word, en die ander dat vroue nie tot die diens van ouderling en predikant toegelaat kan word nie, op grond van die swyggebod.

Opmerklik in die lang beredenering van die studiekommissie is die gebrekkige aandag wat gegee is aan die pneumatologiese perspektiewe. Soos in vorige studies en gevolglike besluitneming van Sinodes, het die skeppingsordening van die man as hoof van vroue voorrang geniet bo die Christologiese perspektief (herskeppingsordening) en die pneumatologiese perspektief wat beide wys op die algehele gelykheid van vroue in Christus en haar begaafdheid deur die Gees sonder aansien des persoons. Dit blyk, soos wat die geval was met vorige Sinodebesluite in hierdie verband, dat die studiekommissies en die Sinodes telkens huiwerig was om die Christologiese en pneumatologiese perspektiewe as hermeneutiese vertrekpunte, wat uitvloei uit die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis, tot hulle volle konsekwensies deur te trek.

 

DIE BESLUIT VAN SINODE 2009

Die twee aanbevelings van die studie-deputate is na lang bespreking aan die voortgesette Sinode voorgelê en uiteindelik is met 'n meerderheid van stemme besluit: "Die Sinode het in die lig van die behandeling van die Rapport tot die oortuiging gekom dat vroue nie in die besondere dienste van ouderling en predikant mag dien nie" (GKSA 2009, 667). Na die oordeel van die outeur is hierdie besluit die gevolg van die leemte in die konsekwente toepassing van die hermeneutiese vertrekpunte wat in al die vorige studies en Sinodebesluite na vore gekom het. Hierop is vroeër in hierdie navorsing en die vorige verwys (kyk Vorster 2016).9

 

SINODES 2012, 2015 EN 2016

Die debat oor die toelaatbaarheid van vroue in die besondere dienste van predikant en ouderling is op die volgende drie Sinodes voortgesit en het blyke gegee van verdeeldheid oor die saak in die kerke. Die besluite van 1988 en 2009 het nie rustigheid gebring nie; sekere gemeentes het in weerwil van die Sinodebesluit wel vroue in die diens van ouderling geroep en bevestig. Beswaarskrifte het weer op Sinode 2012 gedien (GKSA 2012, 347ev). Op grond van 'n ordevoorstel het die Sinode besluit dat "die beswaarskrifte in verband met vroue in die besondere dienste eers op 'n volgende Sinode beoordeel word, aangesien daar sake is wat dringende aandag moet geniet alvorens hierdie beswaarskrifte tot opbou van die kerke gehanteer kan word" (GKSA 2012, 352). Die dringende sake was, onder andere, die ontwerp van 'n omkeerstrategie om die missionêre roeping van die kerk meer tot reg te laat kom. Op die Sinode van 2015 is die beswaarskrifte, wat volgens die Sinode as n "wesentlike saak met verdelingspotensiaal" beskou is, weer verwys na n verkleinde Spesiale Sinode want "om die sake oor vroue in die besondere dienste weer by die Algemene Sinode 2015 te behandel is juis om terug te val in die impasse wat by vorige Sinodes ervaar is en wat by die Algemene Sinode van 2012 tot n buitengewone ordevoorstel gelei het" (GKSA 2015, 31). Die verkleinde Sinode het nie gerealiseer nie, want twee Streeksinodes het versoek dat 'n buitengewone Sinode in 2016 opgeroep word om die uitstaande beswaarskrifte te beoordeel. Die beswaarskrifte het by die buitengewone Sinode 2016 gedien.10

 

DIE BESWARE BY SINODE 2016 EN DIE BESLUITE

Die standpunte wat in verskeie beswaarskrifte gestel is, het hoofsaaklik gehandel oor die legitieme vraag of n Sinode oor n saak waaroor daar duidelike meningsverskil bestaan, 'n gewetensbindende besluit kan neem met 'n blote meerderheidstem (GKSA 2016, 63). 'n Belangrike kerkregtelike beginsel word hier aangeraak wat op sigself 'n prinsipiële studie vereis. Die saak word egter nie hier verder ondersoek nie. Wat wel belangrik is, is die feit dat een beswaarskrif gewys het op die gebrekkige hantering van die openbaringshistoriese getuienis en die feit dat die hermeneutiese vertrekpunt nie konsekwent toegepas is nie (GKSA 2016, 15). Openbaringshistoriese riglyne word egter nie gedefinieer nie en dit blyk dat die beswaardes slegs die saak van Skrif-met-Skrifvergelyking in die oog het. Soos reeds gestel, beteken openbaringshistoriese lyne nie net die deurlopende lyne van die Skrif nie, maar ook die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis (tematiese openbaringsgeskiedenis). Die saak van vroue moet beoordeel word in die lig van die Bybelse antropologie soos dit voortvloei uit die Skeppingsleer, Christologie en pneumatologie. Hierdie leemte is nie deur die beswaardes aangedui nie. Geeneen van die besware het geslaag nie en die besluit van Sinode 2009 dat vroue nie in die besondere dienste van predikant en ouderling mag dien nie, is gehandhaaf (kyk GKSA 2016, 15-82).

 

GEVOLGTREKKING

In n vorige artikel getitel: "Die GKSA en vroue in die amp 1973-1988", het die outeur tot die gevolgtrekking gekom dat die besluit van die Sinodes tot op daardie stadium n belangrike leemte bevat het, naamlik die inkonsekwente toepassing van die relevante gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis as hermeneutiese vertrekpunt. Hierdie leemte het ook telkemale in die studies en besluite tydens die periode 1994 tot 2016 voorgekom. Deur slegs op bepaalde tekste te konsentreer, volgens 'n eng definisie van 'n grammaties-historiese wyse van Skrifverklaring -sonder inagneming van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis rakende die antropologie vanuit die Christologiese en pneumatologiese perspektiewe - het Sinodes telkens tot die konklusie gekom dat die nie-toelating van vroue in die besondere dienste van predikant en ouderling n geldende reël vir alle kerke in alle tye moet wees. n Christelike antropologie moet egter ontwikkel word in die lig van die gesistematiseerde Bybels-teologiese perspektiewe soos wat die leer van die doop in die Gereformeerde tradisie ontwikkel is in die lig van die verbond.

Wanneer die Bybelse getuienis oor die posisie van vroue, binne die raamwerk van die antropologie in die lig van die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis hieroor bestudeer word, moet tot die gevolgtrekking gekom word dat man en vrou as gelykes geskape is, as gelykes ten volle deel het aan die verlossing in Christus en as gelykes voluit deel het aan die gawes van die Gees. Hierdie gelykheid moet ekklesiologies verreken word en het duidelike implikasies vir die sosiale posisie van vroue. Vanuit hierdie perspektief moet dan geoordeel word dat die swyggebod op vroue slegs betrekking het op bepaalde wanordelike situasies wat in die vroeë gemeentes bestaan het. Dit kan ook weer in kerke voorkom, maar die swyggebod kan nie n geldende reël vir alle kerke in alle tye wees nie. Diskriminasie in enige vorm teen vroue druis in teen die kern van die Bybelse antropologie en die wese van kerk-wees. Die gebrekkige aandag wat deurgaans gegee is aan die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis as hermeneutiese vertrekpunt, as gevolg van eensydige beklemtoning en verengde toepassing van die grammaties-historiese eksegese, kan beskou word as die hoofrede vir die onderskeie Sinodes se foutiewe besluit om vroue nie toe te laat in die besondere dienste van ouderling en predikant nie. Om die probleem effektief aan te spreek, sal kerklike vergaderings in die toekoms deeglik moet besin oor die hermeneutiek en veral die rol wat openbaringsgeskiedenis en sistematiese Bybels-teologiese getuienis soos die Skeppingsleer, Christologie en pneumatologie moet speel in die omskrywing van die plek wat die Here toeken aan vroue in gesinsverband, op sosiale terrein en in kerke. Die Sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika sedert 1973 het met hulle studies oor vroue in die besondere dienste, hierin nog nie geslaag nie. bronnelys

 

BRONNELYS

Bavinck, J.H. 1928. Gereformeerde dogmatiek (volume 1). Kampen: Kok.         [ Links ]

Breed, D.G., Janse van Rensburg, F.J. en Jordaan, G.J.C. 2008. Manlik 'n vroulik in die kerk: Geslagtelikheid en die besondere dienste. Potchefstroom: Potchefstroomse Teologiese Publikasies.         [ Links ]

Carrol, R.P. 1999. Poststructralist approaches: New historicism and postmodernism, p. 50-66. In The Cambridge companion to biblical interpretation. Edited by J. Barton, J. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Derrida, J. 1997. Of Grammatology (translated by G.C. Spivak). Baltimore: John Hopkins University Press.         [ Links ]

Derrida, J. 2004. From outwork, prefacing in dissemination. In The postmodernism reader, p. 147-153. Edited by R. Drolet. London: Routledge.         [ Links ]

Gadamer, H. 1976. Philosophical hermeneutics. Translated and edited by D.E.Linge.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1988. Handelinge van die drie-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 1988 en volgende dae. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1994. Handelinge van die vyf-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 3 Januarie 1994 en volgende dae. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1997. Handelinge van die ses-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 1994 en volgende dae. Pretoria: V&R Drukkery.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2000. Handelinge van die sewe-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 10 Januarie 2000 en volgende dae en eerste Addendum van die emeritaatsversorgingskombinasie. Potchefstroom: Administratiewe Buro.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2003. Handelinge van die agt-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 2003 en volgende dae en die tweede Addendum van die emeritaatsversorgingskombinasie. Potchefstroom: Administratiewe Buro.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2006. Handelinge van die nege-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2006 en volgende dae en die tweede Addendum van die emeritaatsversorgingskombinasie. Potchefstroom: Administratiewe Buro.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2009. Handelinge van die vyftigste Nasionale Sinode en tiende Sinode Middellande in die eerste Algemene Sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 2009 en volgende dae. Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2012. Handelinge van die tweede Algemene Sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2012 en volgende dae. Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2015. Handelinge van die derde Algemene Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 2015 en volgende dae. Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2016. Handelinge van die Buitengewone Algemene Sinode te Potchefstroom op 12 Januarie 2015 en volgende dae. Administratiewe Buro, Potchefstroom.         [ Links ]

GKSA (kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).

Kaiser, W. C. and Silva, M. 1994. An introduction to biblical hermeneutics: The search for meaning. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Rheeder, A.L. 2012a. Skrifberoep in die vorming van etiese uitsprake, Deel 1: 'n Etiese verstaan van vroue in die Bybel. In die Skriflig/In Luce Verbi 46(2), Art. #58, 9 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v46i2.58        [ Links ]

Rheeder, A.L. 2012b. Beroep op die skrif in die vorm van etiese standpunte, Deel 2: 'n Etiese verstaan van vroue in die Bybel. In die Skriflig/ In Luce Verbi 46(2), 9 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v46i2.65        [ Links ]

Ricoeur, P. 1981. Hermeneutics and the human sciences. Edited and translated by John B. Thompson, Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Van Deventer, H.J.M. 2016. Die gebruik van "Skrifkritiek": 'n Herbesinning. In die Skriflig 50(2), a2159. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i2.2159        [ Links ]

Vorster, J.M. 2016. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en "vroue in die amp" 1973-1988. Studia Historia Ecclesiasticae 42(2).         [ Links ]

 

 

1 Vorster, J.M. 2016. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en "vroue in die amp" 1973-1988. Studia Historia Ecclesiasticae 42(2).
2 Gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis is die getuienis van die geheel van die Skrif op grond van die teologiese eenheid van die Skrif en deurlopende openbaringshistoriese temas. Alle Skrifdele moet, in die lig van die geheel soos gebied deur die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis, verstaan word. Die geheel gee betekenis aan die deel en die deel kan nie 'n betekenis hê wat indruis teen die geheel nie.
3 Na die mening van die outeur beteken klassieke Gereformeerde hermeneutiek dat dit wat die Skrif openbaringshistories en tematies openbaar oor die status van vroue in gesin, kerk en samelewing, die vertrekpunt moet wees in die behandeling van individuele tekste. So verklaar die Skrif ditself. Die artikel wil, met behulp van nuwere hermeneutiese insigte wat dieselfde beginsel na vore bring, aandui dat die Sinodes sedert 1994, soos in die vorige periode, hierdie hermeneutiese beginsel verwaardloos het.
4 Die agtergrond en beredenering van hierdie besluit is weergee in die vorige artikel van die outeur wat handel oor die Gereformeerde Kerke en "vroue in die amp" 1973-1988 (kyk Vorster 2016).
5 Filosowe soos Gadamer (1976), Ricoeur (1981) en Derrida (1997 & 2004) het die weg aangedui vir die ontwikkeling van hermeneutiese modelle waarin die teks gedekonstruktueer word en die belang van die leserskonteks beklemtoon word. Die leserskonteks bepaal interpretasie onbewustelik en daarom word 'n teks in verskillende lewenskontekste verskillend geïnterpreteer (kyk ook Carrol 1999, 50-66).
6 Hierdie hermeneutiese vertrekpune is beredeneer in die vorige artikel van die outeur wat handel oor die Gereformeerde Kerke en " vroue in die amp 1973-1988". Vir die vertrekpunte kyk GKSA (1988, 508-510).
7 By die Sinode 1997 het ook 'n beskrywingspunt van Partikuliere Sinode Noord-Transvaal gedien waarin versoek is dat die Deputate vir Korrespondensie "op grond van relevante besluite [oor vroue in die amp - JMV] in gesprek [te] tree met kerke met wie ons in korrespondensie staan oor ooreenkomste en verskille wat daar mag bestaan oor die toelating van vroue tot die besondere diens" (GKSA 1997, 558). Aan hierdie beskrywingspunt is gevolg gegee en dit is ook na die aangewese studie-deputate verwys.
8 In die opstel van die rapport is ook ruim gebruik gemaak van 'n soortgelyke studie deur die Gereformeerde Teologiese Vereniging (GTV) in 2008 (kyk Breed, D.G., Janse van Rensburg, F. J. en Jordaan, G.J.C. 2008)
9 In twee wetenskaplike artikels wat in reaksie op die Sinode 2009 besluit geskrywe is, kom Rheeder (2012a en 2012b) ook tot die gevolgtrekking dat die probleem met die besluite basies hermeneuties van aard is, soos dikwels gebeur wanneer Bybellesers oor etiese sake standpunte vorm wat op die Bybel gegrond is. Hy noem vyf ander hermeneutiese vertrekpunte, wat volgens hom deur die Sinode onderbelig is, om sy stelling te staaf. Hierdie vertrekpunte is doelwit, analogie, teenkultuur, nie-wetenskaplike skopus en die moreel-teologiese vertrekpunt. Hy verwoord die standpunt van verskeie teoloë binne die tradisie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika soos sy verwysings aandui.
10 Sinode 2012 se besluit om nie die beswaarskrifte te beoordeel nie, asook Sinode 2015 se besluit om die debat voort te sit in 'n verkleinde Spesiale Sinode, is kerkregtelik problematies. Hierdie artikel gaan egter nie op die kerkregtelike besware in nie, omdat dit nie die fokus van die artikel is nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons