SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.42 número2Puritanical and apocalyptic-minded American missionaries in southeast Africa - a contrast with Bishop John William Colenso índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Studia Historiae Ecclesiasticae

versão On-line ISSN 2412-4265
versão impressa ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.42 no.2 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.17159/2412-4265/2016/1278 

ARTICLES

 

Die gereformeerde kerke in suid-afrika en "VROUE IN DIE AMP" 1973-1988

 

The Reformed Churches in South Africa and "women in office" 1973-1988

 

 

J.M. Vorster

Noordwes-Universiteit. koos.vorster@nwu.ac.za

 

 


Kernbegrippe: Hermeneutiek; amp; vrou in die kerk; vroue in die amp; ouderling; predikant


ABSTRACT

The matter of the ordination of women in the offices of pastor and elder has become a burning issue in the Reformed Churches in South Africa (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika). From 1973 to 2016 various Synods of this denomination struggled with the topic by way of several intensive study reports, which resulted in various decisions on hermeneutical and exegetical grounds. This article is the first in a series of two that investigates the history of the case as it developed from 19731988. A second article will deal with the period 1994-2016. the intention of this research is to analyse the reasons for the consistent position not to include women in the particular offices of this denomination. The central theoretical argument of this study is that the hermeneutical approaches of the various Synods are deficient. The role of systematic biblical-theological testimony, as well as a well-developed biblical anthropology as important hermeneutical tools, were not applied efficiently and were obscured by the one-sided grammatical-historical angle of approach.

Keywords: Hermeneutics; office; women in the church; women in office; elder; pastor


 

 

INLEIDING

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het die saak van die toelating van vroue tot die besondere dienste in die plaaslike kerke sedert 1973 aan die orde gestel by vergaderings van verskillende Nasionale en Algemene Sinodes. Deurgaans is die standpunt gehuldig dat vroue op grond van die "swyggebod" in 1 Kor. 14:33b-35 en 1 Tim. 2:11-15 nie tot die besondere dienste toegelaat behoort te word nie. Hoewel die saak telkens met 'n meerderheidstem op verskillende Sinodes beslis is, was daar ook beduidende teenstemme. Sommige kerke het egter besluit om, teen sinodale aanbeveling, vroue in die diens van ouderling te bevestig. Soos uit hierdie navorsing sal blyk, is telkens melding gemaak van die feit dat die twee partye ooreenstem oor die hermeneutiek wat in die verklaring van die betrokke Skrifgedeeltes, en andere, ter sprake is, maar dat die verskil wesentlik gaan oor die eksegese.

Die doel van hierdie studie is om die grondliggende verskille bloot te lê en die stelling te ondersoek dat daar nie wesentlike hermeneutiese verskille tussen die onderskeie standpunte aangedui kan word nie. Die sentraal-teoretiese vertrekpunt is dat die verskil van mening tussen die voorstanders van die "vroue in die amp"1 en die teenstanders daarvan nie bloot eksegeties van aard is nie, maar wel ook hermeneuties van aard is; en dat die hermeneutiese reëls wat in verskeie rapporte beredeneer is, nie konsekwent toegepas is nie.2 Hierdie hermeneutiese verskille is die wesentlike oorsaak van die gebrek aan eenstemmigheid en onrus in die kerke oor die plek en rol van vroue in die kerk. In die volgende historiese oorsig van die tydperk 1973-1988 word die verskillende rapporte en besluite van Sinodes van die GKSA wat oor die jare die lig gesien het, ontleed, en sal gepoog word om die hermeneutiese verskille aan te toon. 'n Volgende artikel handel oor die periode 1994-2016, omdat dié periode n tweede besinningsfase in die diskoers verteenwoordig.

 

SINODES 1973-1982

Die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) het tydens hulle sitting van 1972 in Australië 'n lang rapport oor "women in office" ter tafel geneem (REC 1972, 167). In die GES se rapport is veral na die konsep "office" in die Nuwe Testament gekyk en is ondersoek ingestel na die vraag of vroue in die besondere ampte kan dien. Uiteindelik is besluit: "Synod declares that it is the teaching of Scripture that women are excluded from the office of ruling and preaching elders" (REC 1972, 58). Alhoewel hierdie besluit geneem is op grond van die sogenaamde swyggebod in 1 Tim. 2:11-15 en 1 Kor. 14:33b-37, is daar geoordeel dat hierdie Skrifgronde nie deel van die aanbeveling moet wees nie. Dit was waarskynlik omdat daar nie eenstemmigheid oor die interpretasie van die Skrifgedeeltes was nie. Oor die diens van die vrou as diaken het die GES geoordeel dat daar nie duidelike Skrifgedeeltes oor die saak uitgewys kan word nie en is by deelnemende kerke aanbeveel om vroue in diakonale dienste te gebruik. Voorts het die Sinode lidkerke aangemoedig om self oor die "women in office" studie te doen en mekaar hierin by te staan, gesien in die lig van die feit dat daar deelnemende kerke was wat reeds vroue in sodanige ampte toegelaat het. Hierdie GES besluit het by Sinode 1973 van die GKSA gedien en daar is toe besluit om studie-deputate te benoem om aan bogenoemde aanbevelings van die GES aandag te gee (GKSA 1973, 119). Die Sinode het egter versuim om dié besluit uit te voer (GKSA 1979, 564). 'n Studierapport oor die saak het dus nie op Sinode 1976 gedien nie.

Tydens Sinode 1979 het twee beskrywingspunte van Partikuliere Sinodes gedien met betrekking tot die rol van vroue in die kerk. Partikuliere Sinode Noord -Transvaal het n versoek gerig dat die Sinode studie-deputate aanwys om "die taak van die vrou te bepaal met betrekking tot die amp, diens en stemreg in die lig van die Skrif, Belydenis en Kerkorde". Die beskrywingspunt van die Partikuliere Sinode Wes-Transvaal het versoek dat die Sinode in opvolging van 'n besluit wat in 1973 geneem is, uitspraak lewer oor "onder andere die vrou in die diens van diaken". Albei hierdie beskrywingspunte is aan die orde gestel en is besluit dat n kommissie aangewys moet word om in die lig van Skrif, Belydenis en Kerkorde, n studie te maak van die taak en posisie van vroue in die kerk met betrekking tot die "ampte diens en stemreg" (GKSA 1979, 563). Hierdie kommissie het aan Sinode 1982 gerapporteer. n Bykomende alternatiewe rapport is deur een van die kommissielede gelewer. Van die studiewerk wat ingedien is, is slegs kennis geneem en daar is weer studie-deputate aangewys met dieselfde opdrag. Addisionele materiaal is na die nuut aangewese deputate verwys (GKSA 1982b, 502).

Hermeneutiese vertrekpunte van die 1982 studierapport

Die rapport wat tydens Sinode 1982 gedien het, het n deeglike uiteensetting gegee van die kernbeginsels van klassieke gereformeerde Skrifgebruik en hierdie beginsels is verdedig teenoor nuwere liberale hermeneutiese denke wat uitgaan van die standpunt dat die Skrif "'n ou boek in 'n nuwe wêreld" is en grotendeels tydbepaald is. In die rapport word hermeneutiek gedefinieer as "die wetenskaplike dissipline wat beginsels en reëls, vir die praktiese eksegese teoreties ondersoek, toets en vasstel". Eksegese het as taak "die uitleg van die Skrifte of Skrifverklaring".

Eksegese val uiteen in 'n verstaanproses "waarbinne vasgestel moet word wat die skrywer oorspronklik vir die leser gesê het en wou sê", en 'n proses "waartydens die oorspronklike bedoeling van die teks op die konkrete werklikheid van vandag oorgebring word". Laasgenoemde is die proses van hermeneuse (GKSA 1982a, 148149).

Op grond van hierdie definisies word dan die volgende hermeneutiese vertrekpunte (of aksiomas) bespreek (GKSA 1982a, 153):

Die Bybel is die ewige en altyd geldende Woord van God.

Die Bybel is deursigtig. By eksegese van moeilike Skrifgedeeltes moet die verklaarder uitgaan van die duidelikheid (perspicuitas) van die Skrif.

Die Skrif is nie tydgebonde nie, maar tydgerig. Skrifgebeure vind wel in n bepaalde tyd plaas en die eksegeet moet daarmee rekening hou. "As ons die verband met die tyd ken, kan ons dit versigtig uit daardie tyd losmaak en in n ander verband, ons eie tyd inbring" (GKSA 1982a, 154).

Die noodsaaklikheid van Skrif-met-Skrifvergelyking. Die Heilige Skrif is sy eie uitlegger (Sacra Scriptura sui ipsius interpres). Daarom moet die eenheid van die Skrif beklemtoon word sowel as die verskeidenheid binne die eenheid. Daar moet ook aanvaar word dat "die latere woord in die Godsopenbaring oor dieselfde saak altyd as deurslaggewend teenoor die voorafgaande beskou word". In hierdie verband word ook na die openbaringsgeskiedenis verwys wanneer gestel word dat "met die plek van 'n Skrifgedeelte in die breë stroom van die openbaringsgeskiedenis rekening gehou moet word". Daar moet ook altyd beweeg word van die duidelike na die minder duidelike.

Die Heilige Gees is die inspirator en die eksegeet.

Die Belydenisskrifte is die raamwerk waarbinne geëksegetiseer word. Die belydenis geld as die vertrekpunt vir eksegese totdat uit die eksegese blyk dat die belydenis foutief is. Geen objektiewe eksegese is moontlik nie en elke eksegeet werk vanuit n bepaalde tradisie.

Die skopus (gerigtheid) van die Skrif moet in ag geneem word. In hierdie opsig is drie fasette belangrik, naamlik, God openbaar Hom sodat ons Hom sal verheerlik; God maak in die Skrif sy wil aan ons bekend as reël vir ons lewe op aarde, sodat ons Hom reg kan dien; en God wil in die Skrif aan ons die weg tot die ewige lewe bekend maak (GKSA 1982a, 159).

Laastens wys die rapport op die belangrikheid van die perspektief op die bedeling waarin ons leef, op hermeneutiese bedryf en op wetenskapsbeoefening. Gelowiges leef as mense wat "tot die Nuwe Eeu" behoort, tog nog op aarde in 'n gebroke skepping en in die lig van hierdie perspektief moet etiese, religieuse en wetenskaplike vrae beantwoord word. Op hierdie punt is die rapport egter vaag en is dit nie duidelik hoe hierdie gesigspunt as 'n hermeneutiese vertrekpunt moet figureer nie.

Leemtes in die hermeneutiese vertrekpunte

Die outeur is van oortuiging dat hierdie goed geformuleerde en gefundeerde hermeneutiese vertrekpunte tog 'n belangrike leemte het, en dit is die negering van die belangrikheid van gesistematiseerde Bybelse teologie vir die verstaan van 'n enkele gedagte-eenheid. Ten spyte van enkele verwysings na openbaringsgeskiedenis in bloot historiese sin, word die "tematiese openbaringsgeskiedenis"3 egter nie aangedui as n hermeneutiese vertrekpunt nie. Die vraag is of dit nie as n belangrike leemte aangedui moet word nie en of die leemte nie die uiteindelike besluitneming wesentlik beïnvloed nie. Soos die rapport wel aandui, word die Skrif in die klassieke Gereformeerde Skrifbeskouing nie beskou as n bundel van losstaande dele of verhale wat in verskillende tye en milieus afspeel - en wat niks met mekaar te doen het nie. Ongeag die chronologies-historiese verskille in datering van Bybeltekste, en oneffenhede in historiese feite, vorm die Skrif n teologiese eenheid en bevat dit n deurlopende ontvouing van die Godsopenbaring wat nie afhanklik is van chronologiese geskiedenis nie. Hierdie deurlopende openbaring wat inhoudelik en nie chronologies is nie, word verskillend getipeer. Die deurlopende ontvouing van die Godsopenbaring word genoem openbaringsgeskiedenis en is veral ontwikkel in die Protestantse tradisie deur Cullmann (1948, 157) en Barth (1961, 136). Dit het ook beslag gekry in die Gereformeerde Ou Testamentiese besinning. Ciampa (2007, 254) gee 'n goeie aanduiding van die resente eksponente van hierdie benadering. Hierdie benadering word soms getipeer as Bybelse teologie, heilsgeskiedenis, of verbondsgeskiedenis. Hiervolgens word die hele Skrif gesien as die openbaring van God se voortgaande handelinge in die geskiedenis van die verbondsvolk (Reuman 2005, 833).

Omdat die Skrif Godsopenbaring is wat aan mense gegee word in ontvouende hooflyne en temas, is die Skrif nie geskryf in 'n liniêre historiese of rasioneel logiese patroon nie. Daar kom n herhaling van gedeeltes en selfs volle verhale voor, byvoorbeeld in die boeke oor die Konings en Kronieke. Daar is vier evangelies wat vanuit verskillende hoeke dieselfde gebeurtenisse beskryf en soms oënskynlik onderling verskil en selfs teenstrydige historiese feite bevat. Tog gee elkeen n eiesoortige perspektief op die persoon, koms, werk, lyding en sterwe van Jesus. Sekere periodes in die geskiedenis van die Godsvolk in die Ou Testament word glad nie beskryf nie. Die bedoeling van die Skrif is dus nie volledige, logiese, chronologiese geskiedenis nie, maar openbaringsgeskiedenis, histories en tematies, waarin dele inhoudelik in die groter patroon van deurlopende onderwerpe inpas (kyk Barton en Bowden 2004, 49). Dele word behandel ten einde die groot geheel te begryp. Sekere beskrywings sal dieselfde saak uit n ander hoek benader as ander. Sekere verhale is vir sekere gehore geskryf. Alles is egter ingeweef in die verskillende temas en hierdie temas toon n harmonie wanneer dit teen die agtergrond van die geheel bestudeer word. Uiteindelik is daar onderlinge teologiese ooreenstemming tussen die skrywers en hulle boodskappe. Oënskynlik teenstrydige dele kan versoen word in die lig van die bedoeling van die geheel en die perspektief van elke individuele skrywer binne hierdie geheel.

Die uitgangspunt is dus die eenheid van die Skrif binne die verskeidenheid en diversiteit van geskiedenisse en verhale, soos Goldingay (2006, 170) uitwys. Die teologiese eenheid bring mee dat Bybelse temas geïdentifiseer kan word en sistematies onderskei kan word. So het Ridderbos (1971) byvoorbeeld die ontwerp van Paulus se teologie uiteengesit asook die evangelies se getuienis oor die tema van die Koninkryk van God (Ridderbos 1985). Daar is dus ook sprake van tematiese openbaringsgeskiedenis of sistematiese Bybels teologie. Verskeie hoofdele en deurlopende lyne kan in die openbaringsgeskiedenis geïdentifiseer word en verskillende temas kom aan die orde. Daar kan onder andere op die volgende gewys word: skepping, sondeval en verlossing; die verkiesing en redding van die Godsvolk; wedergeboorte; die sluiting en telkense vernuwing van die verbond; beloftes en vervulling; lewe uit dood; straf en vergifnis; afbreek en heropbou; God se voorsienigheid en menslike verantwoordelikheid; sonde, verlossing en dankbaarheid; die roeping van die kerk; die geestesgawes en die vervulling deur die Heilige Gees, en nog andere. Al hierdie temas lê egter ingebed in die idee van die allesoorheersende heerskappy van God en sy aktiewe en dinamiese koningskap oor die skepping en spesifiek sy volk, en die ontvouing en uiteindelike triomf van hierdie heerskappy in Christus deur die werking van die Heilige Gees.

Deur die temas in die Skrif te ontgin, het teoloë deur die eeue leerstellinge geformuleer en het kerke sistematiese belydenisskrifte saamgestel. Die Skrifverklaarder moet dus rekening hou met die sistematiese Bybelse-teologiese getuienis ten einde vas te stel wat die Skrif leer oor 'n bepaalde saak wat aan die orde mag kom. Die eksegeet het die taak om die deel (teks) altyd te interpreteer in die lig van die geheel (sistematiese Bybels-teologiese tema) (Kaiser en Silva 1994, 193). So kan die siening van die Skrif oor byvoorbeeld die status van vroue nie net afgelei word van die grammaties-historiese eksegese van enkele tekste nie, maar moet die openbaringhistoriese, gesistematiseerde getuienis oor vroue ontgin word ten einde n verantwoordelike standpunt te formuleer. Hierdie belangrike hermeneutiese vertrekpunt het nie in die studierapport die prominensie ontvang wat dit verdien nie. Is dit 'n leemte? Op hierdie vraag sal later teruggekom word.

Voortvloeiend uit die beskouing dat in die Bybel gesistematiseerde Bybelse teologie ontgin kan word, is die identifisering van hoër beginsels wat rigtinggewend behoort te wees in die verklaring van teksgedeeltes. Die erkenning van hoër beginsels is veral van belang in die uitwerk van n Bybelse etiek (kyk Dreyer en Van Aarde 2007, 641). So kan die liefdesgebod as 'n hoër beginsel gesien word wanneer menseverhoudinge ter sprake kom. Daarom het Jesus sy volgelinge geleer om hulle vyande lief te hê, die vreemdelinge se regte te verseker, sondaars te vergewe, versoening te bevorder en kinders te versorg. Ander hoër beginsels is die eer van God, die heiligheid van God en die soeke na waarheid, wat alles grondliggende determinante is wanneer mense etiese keuses moet maak.

Ten opsigte van die saak wat hier onder bespreking is, te wete die plek van vroue in die kerk, kan ook gewys word op die belangrikheid van die etiese beginsel van menswaardigheid. Die outeur het die Bybelse grondslag van hierdie beginsel in n ander publikasie verduidelik en dit word nie hier herhaal nie (kyk Vorster 2011). Die toepassing van hierdie hoër beginsel beteken dat die gelowige moet standpunt inneem teen alle vorme van patriargalisme, androkrasie en ongelyke behandeling van vroue in kerk en samelewing. Voorts beteken dit dat die Christelike geloof in die lig van die Bybelse perspektiewe oor liefde en menswaardigheid, slawerny móét afwys, al gebied die Skrif so 'n afwysing nie pertinent nie en blyk dit op die oog af of Paulus geneë is met die praktyk van slawerny.

Die erkenning en toepassing van die hoër beginsels wat voortvloei uit die sistematiese Bybelse teologie beskerm die Skrifverklaarder van 'n blote "bewysteksbenadering" waarin alle tekste letterlik gelees en verstaan word. n Voorbeeld wat alledaags in kerklike bediening voorkom om die argumentasie oor die voorrang van die sistematiese Bybelse teologie te verduidelik, kan genoem word. Jesus leer dat die persoon wat met 'n geskeide persoon trou, egbreuk pleeg (Matt. 5:31-32; Mark. 10:11-12 en Luk. 16:18). Tog word baie hertroues in kerke bevestig tussen geskeides en word mense wat na egskeiding weer met n geskeide persoon getrou het, tot die kerk en tot besondere dienste toegelaat, ten spyte van die duidelike uitspraak van Jesus. Waarom? Omdat die kerklike bediening van geskeide persone en hulle voorgenome huwelike ook rekening hou met die sistematiese Bybels-teologiese getuienis wat hoër beginsels soos berou, verootmoediging, vergifnis en versoening ook in spel bring. n Geskeide persoon wat weer in die huwelik wil tree word in die keuse kerklik ondersteun wanneer daar getuienis is van berou, verootmoediging en vergifnis - ten spyte van Jesus se duidelike opdrag daarteen. So behoort die tekste wat handel oor die swyggebod van vroue in die kerk (1 Kor. 14:33-35 en 1 Tim. 2:11-12) ook behandel te word in die lig van die hoër beginsels wat deur die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis aan die orde gestel word. Hierop sal in die verdere behandeling van die studierapporte van die onderskeie Sinodes oor die "vroue in die amp" telkens teruggekom word. Eers word verder aandag gegee aan die verdere eksegetiese insigte van die 1982-rapport.

Verdere eksegetiese insigte

Die 1982-studie-deputate het n insiggewende studie gedoen oor die begrippe wat vir "vrou" in die Grieks gebruik word, beide in die Septuagint asook in die Griekse Nuwe Testament (gunē; thēlus; arsēn en anēr); oor die plek van die vrou in die volk van God; en oor die onderdanigheid van die vrou.4 Volgens die woordeksegese word thêlus onmiskenbaar konsekwent gebruik in die betekenis van "lid van die vroulike geslag". Anêr en gunê word weer wisselend gebruik vir "getroude vrou" of "hubare vrou". Die Septuagint gebruik konsekwent die begrippe thēlus-arsên in uitsprake waar dit gaan oor die skeppingsonderskeid tussen die manlike en vroulike geslag. Ter stawing van hierdie stelling word na verskeie Skrifgedeeltes verwys (GKSA 1982a, 162). Die benaminge word egter nie gebruik waar dit gaan om eggenote-eggenoot nie. In die lig hiervan stel die rapport dan dat thêlus-arsên die geslagtelike onderskeiding aandui, terwyl gunê-anêr normaalweg n aanduiding is van eggenote-eggenoot. Hoewel insiggewend, word dit in die rapport nie duidelik aangetoon wat die relevansie van hierdie woordeksegese is vir die saak op hande nie.

Die studie handel verder oor die plek van die vrou in die volk van God en die onderdanigheid van die vrou. Die uitdrukking "volk van God" dui daarop dat God uit al die volkere van die wêreld deur sy Woord en Gees vir Hom n volk verkies het waarin almal gelyke status het. Die rapport stel: "Die volksgedagte is alomvattend ten opsigte van man, vrou en kind" (GKSA 1982a, 165). Dieselfde idee word uitgedruk in die metafoor "liggaam van Christus". Die eenheid van die liggaam dui die eenheid met mekaar aan, maar veral die eenheid met Christus. Die eenheid van die gemeente met Christus wat as liggaam van Christus gekwalifiseer word, vind sy grond in die toebehoort tot die gemeente van Christus. "In die 'in Christus' verankerde eenheid van die gemeente lê ook die Kerk se algemeenheid opgesluit. Want in Christus is daar nóg man nóg vrou, nóg Jood, nóg Griek, nóg slaaf, nóg vryman. Almal saam vorm een liggaam en binne die liggaam is geen diskriminasie nie" (GKSA 1982a, 167). In Christus is alle gelowiges gelyk en in hierdie verband benadruk die rapport die betekenis van Gal. 3:27-28.5

Hierdie gelykheid van die man en vrou, en trouens alle gelowiges, kom mooi na vore in die pneumatologiese perspektiewe waar dit gaan oor die gawes aan die gemeente, soos in verskillende dele in die Nuwe Testament vermeld. Hieraan gee die rapport breedvoerige aandag en konkludeer dat die vrou nie van die gawes uitgesluit is nie en dat van die allerbelangrikste funksies in die gemeente deur vroue vervul word, soos die profesie wat die gemeente opbou, vermaning, vertroosting, onderrig, en die oortuiging en bring tot geloof van die ongelowige. Voorts is die vrou bevry en herstel in Christus soos Luk. 8:1-3; Matt. 27:55 aandui. Aan vroue word 'n gelyke plek toegesê in die huisgesin van Jesus Christus (Matt. 12:50). Na die opstanding verskyn Christus eers aan n vrou en gee aan haar die opdrag om die evangelie van die opstanding aan die dissipels te verkondig.

Die grootste gawe is egter die Heilige Gees wat God gee aan elkeen wat in Christus deur n ware geloof ingelyf is. Pinkster is die vervulling van die profesie van Joël. Al die gawes van die Gees word ook aan vroue gegee. "Deur die Christus-bevryding word die vrou volwaardige lid van die volk van God, volkome lidmaat van die liggaam van Christus - en dus iemand wat n onmisbare funksie in daardie liggaam het wat nie verag kan word nie, en vir wie daar nie gesê kan word: ons het jou nie nodig nie." Dan meld die rapport: "Die gawes van die Gees wat Hy aan vroue skenk, mag nie in die kerk verwaarloos word of op non-aktiwiteit geplaas word nie" (GKSA 1982a, 169).

Die verdere eksegetiese besinning het ook uitgebreide aandag gegee aan die sogenaamde onderdanigheid van die vrou aan die man. Op grond van Ef. 5:23 en aanverwante gedeeltes oor die huistafels word gestel dat die man die hoof is van die vrou, volgens die parallel van die hoofskap van Christus oor die gemeente. Die liefdevolle selfoorgawe van Christus is egter die wesentlike grond van sy hoofskap en sy heerskappy is n heerskappy van liefde. Wanneer Paulus skrywe dat die man die hoof is van die vrou gaan dit oor die ondergeskiktheid van sy eie vrou in die huwelik. Maar, soos Christus se hoofskap gefundeer is in sy liefde vir die gemeente, moet die man se hoofskap oor sy vrou ook gefundeer wees in sy liefde vir haar. Die hoofskap van die man moet funksioneer in die liefde en dan as selfopofferende liefde soos Christus Homself oorgegee het aan die gemeente. Baie klem word in hierdie argumentasie gelê op die selfopofferende liefde (agapê) as die wesentlike van die man se hoofskap. Die kritiese vraag egter kan hier gevra word of "ondergeskiktheid" en "onderdanigheid" die regte woorde is om die hoofskap van die man uit te druk. Die gebruik van die beeld hoof (kefalē) dui immers op 'n organiese verhouding soos die verhouding tussen die kop en die liggaam en nie op n gesagsverhouding soos in die sin van die "hoof van n skool" nie. Dit gaan eerder oor n gesindheid as n gesagsverhouding en dan sou dit beter wees om te praat van die "in-liefde-gefundeerde" leiding van die man tot sy vrou én van die vrou tot haar man (vgl. Ef. 5:21: "Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig".)

Die rapport wy dan uit oor die onderdanigheid van die vrou aan die man en verwys veral na die verskillende huistafels in die Nuwe Testament. Die onderdanigheid staan binne die "raamwerk van die liefdevolle hoofskap van die man". Die vrou moet die hoofskap van die man erken. Die onderdanigheid van die vrou word aangedui met die term hupotassomai. Na 'n kritiese ontleding van die drakrag van hierdie woord in sy verskillende gebruike, redeneer die rapport dat die woord wys op die eerbied wat die vrou moet hê vir die bestaande orde. Maar dan impliseer die gehoorsaamheid "in die Here" dat "gehoorsaamheid aan die man tegelyk gehoorsaamheid aan die Here moet wees". "Onderdanigheid aan die Here beteken dus dat gelowiges: vroue, kinders en slawe vanuit hulle verbondenheid aan Jesus Christus teenoor hulle man, ouer of heer gehoorsaam is" (GKSA 1982a, 172). Verder word die onderdanigheid verbind aan die woord "vrees". Die huistafels van Ef. 5 en 1 Petr. 2 het die vreesmotief, maar dan in die betekenis van ontsag en eerbied en volmaakte liefde. Vanuit hierdie perspektief gee die rapport dan aandag aan die sogenaamde swyggebod in 1 Kor. 14:33-36 en 1 Tim. 2:11-14. Drie benaderingswyses tot hierdie Skrifgedeeltes word genoem te wete:

Die beskouing van Conzelman (1975, 246) dat 1 Tim. 2:11 ontleen is aan die swyggebod van 1 Kor. 14:33-36 en dat daar sprake is van n interpolasie wat selfs die gang van die argument onderbreek; en wat uiteindelik beteken dat die swyggebod nie vir alle tye geldend is nie.

Sommige verklaarders soos Fitzer (1963, 110) sien dit as bloot 'n beskrywing van Paulus se houding oor die vrou as n oorblyfsel van die ou Rabbynse siening van die vrou.

Ander meen dat Paulus se spreke oor die siening van die onderdanige vrou in die kerk gesien moet word in die lig van daardie tyd en dat die swyggebod nie oorgeplaas kan word na ons tyd nie (Brown 1978, 1066-1067).

Hierdie beskouings word nie deur die rapport aanvaar nie. Die spreke van Paulus oor die onderdanigheid van die vrou in die erediens kan, volgens die rapport, nie losgemaak word van al die ander uitsprake in die huistafels oor die onderdanigheid van die vrou nie. Alles wat hier geskrywe word, het te doen met die gesagvolle Woord en vra derhalwe ook van ons in ons tyd gehoorsaamheid. "Dit beteken dat die swyggebod vir die vrou in die erediens ook vandag nog geld en dat vroue in die kerk nie op n gesagvolle wyse die Woord van God mag verkondig nie" (GKSA 1982a, 175). Die rapport maak egter nie n aanbeveling hieroor nie en beveel slegs aan dat die rapport op Sinode 1982 bespreek word en dat die saak verder bestudeer word.

Die studie werk konsekwent in die lig van die vooraf besproke hermeneutiese vertrekpunte en spreek van goeie grammatikaal-historiese eksegese. Maar die leemte in die hermeneutiese vertrekpunte wat hierbo aangedui is, laat tog vrae ontstaan. n Gesistematiseerde Bybels-teologiese benadering waar vanuit die geheel (oor die Bybelse antropologie en spesifiek die vrou in die Skrif) na die deel (die swyggebod) beweeg behoort te word, bring die volgende vrae na vore:

Vanuit n pneumatologiese perspektief gesien, ontvang die vrou al die gawes van die Gees om in die samelewing te beoefen, maar mag sekere daarvan (soos onderrig en profesie) nie in die kerk beoefen nie.

   □ Vanuit n Christologiese perspektief gesien, word die vrou in al die heilsmomente as die gelyke van die man geag, maar in die uitoefening van haar gawes in die kerk moet sy aan die man onderdanig wees en haar gelykheid in haar kindskap van die Here inboet.

   □ Die vrou word geroep om haar gawes in haar persoonlike verbondenheid van die Here te beoefen, maar sy mag dit nie in die erediens vervul nie.

   □ Hierdie inkonsekwensies word nie in die rapport hanteer nie en dit is na die mening van die outeur die gevolg van die hermeneutiese leemte wat bo aangedui is.

 

SINODE 1982

In navolging van die aanbeveling van die studiekommissie het Sinode 1982 besluit om weer studie-deputate te benoem om die navorsing oor die "plek van vroue in die kerk" voort te sit. Op aanbeveling van n minderheidsrapport word verdere studieterreine, hoofsaaklik ekklesiologies van aard, by die opdrag van die deputate gevoeg, te wete n prinsipiële ontleding van die begrippe: "stemreg", "kiesreg", "amp" en dat daar ook gelet moet word op studie wat ander kerke met wie die GKSA korrespondensie onderhou, asook die werk van die GES (GKSA 1982b, 501).

 

SINODE 1985

Vertrekpunte en gevolgtrekkings van die studierapport

Die studie-deputate het in aansluiting by die rapporte wat voorheen voor Sinodes gedien het, sekere duidelike prinsipiële vertrekpunte gestel en uiteindelik tot bepaalde gevolgtrekkings gekom. Die opmerkings is hoofsaaklik eksegeties en ekklesiologies van aard en het nie weer op hermeneutiese vertrekpunte gefokus nie. As eerste vertrekpunt word die skeppingsperspektief gestel dat man en vrou, as gevolg van die skepping na die beeld van God, voor God één is. Albei is erfgename van die lewe en die vrou het dus op n volkome gelyke wyse as n man deel in God se redding in Christus. In hierdie verband word weer op gewys in Gal. 3:27 en 28. Die argument word egter nie deurgetrek na sy volle konsekwensies nie. Verder dui die rapport aan dat man en vrou ook medeheersers oor God se skepping is en dat dit onjuis is "om te beweer dat dit teen die wese van die vrou is om te heers" (GKSA 1985a, 200). Die saak word ook pneumatologies benader en die rapport stel dit duidelik: "In die Nuwe Testament kom dit telkens na vore dat die Heilige Gees sy gawes ook aan vroue uitdeel" (GKSA 1985a, 200). Die deputate oordeel ook, en beveel so aan, dat die belangrikste Skrifgegewens eerder dui op die beroepbaarheid van vroue tot die diens van diakenskap as andersom. Hierdie vertrekpunte dui op n beweging na n sistematiese Bybels-teologiese hermeneutiese benadering waar die "deel" in die lig van die "geheel" verklaar word, soos hierbo bepleit, maar die argument word egter nie tot sy volle konsekwensies deurgevoer nie. Die leemte in die hermeneutiese vertrekpunte van 1982 word dus nie effektief aangespreek nie, en daarom kom die rapport nie tot n duidelike konklusie nie.

Die ekklesiologiese argumente handel oor die begrippe "amp", "diens", "kiesreg" en "vrou". Die rapport waarsku teen n "moderne sekulêre inlees" van moderne betekenisse in die betekenis wat die Skrif daaraan heg. Daar moet eerder gespreek word van die dienste in die kerk wat die regeermag van Christus bedien en van die samewerking van die gemeente onder leiding van die kerkraad om voorgangers in sy midde aan te wys, as van kiesreg of stemreg. So gesien kan daar dan geen verhindering wees vir vroue om in die aanwysing van besondere dienaars betrokke te wees nie. Die deputate spreek die oortuiging uit "dat die aksiomatiese probleemstelling 'die vroue in die amp' 'n valse probleemstelling is" (GKSA 1985a, 202).

Besluit van Sinode 1985

Die Sinode het bevind dat die rapport, soos voor die Sinode gelê, hoewel omvangryk en diepgaande, met betrekking tot die vrou en die amp inherente gebreke toon. Hierdie "inherente gebreke" maak dit vir die Sinode onmoontlik om tot n verantwoordbare beoordeling daarvan te kom. Die inherente gebreke word nie aangetoon nie, maar die Sinode bevind dat "die noodsaaklike fundering deur die Skrif, die belydenis en Kerkorde nie genoegsaam verdiskonteer [is] nie". Die rapport dra wat betref die gevolgtrekkings n te groot voorlopige karakter wat besluitneming "in die stadium ongewens maak". Derhalwe besluit die Sinode om "hom nie uit te laat oor die inhoud of die aanbevelings van die rapport nie en weer deputate te benoem met dieselfde opdrag" (GKSA 1985b, 331).

Die rapporte sedert 1982 het geneig in die rigting van 'n aanbeveling ten gunste van die verkiesbaarheid van vroue in al die besondere dienste, maar die Sinodes het telkens n terughoudendheid getoon om die besluit te neem en veral om die saak van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die plek van die vrou in kerk en samelewing aan die orde te stel. Hierdie hermeneutiese leemte het waarskynlik n positiewe besluit oor die beroeping van vroue in die besondere dienste verhinder. Dit was egter die ervaring van hierdie outeur, wat as afgevaardigde by Sinode 1985 teenwoordig was, en aan die bespreking deelgeneem het, dat die meeste sprekers teen die aanbevelings van die rapport gepraat het en sterk standpunt ingeneem het teen die toelating van vroue in enige besondere diens op grond van 'n letterlike lees en verstaan van die swyggebod van 1 Kor. 14:33b-35 en 1 Tim. 2:11-14. Gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis, as hermeneutiese vertrekpunt, het in die bespreking en besluitneming nie gefigureer nie en dit is, na die oordeel van die outeur, die rede hoekom die Sinodes sedert 1979 nie kon vorder nie. Die hermeneutiese leemte, soos hierbo beskryf, het n tol geëis.

 

SINODE 1988

By die Sinode het twee rapporte gedien. Die eerste rapport het gehandel oor "die taak en posisie van die vrou met betrekking tot stemreg" (GKSA 1988a, 305). 'n Belangrike beginseluitgangspunt wat in die rapport gestel is, is dat die gelowiges as lede van die liggaam van Christus almal moet meewerk aan die verwesenliking van die besondere dienste; ouderlinge toesig, approbasie, tuguitoefening, ensovoorts. "In al hierdie sake werk die kerkraad en die gemeente organies met mekaar saam (vgl. Ef. 4:11 en verder vir die plek en funksie van die kerkraad in die gemeente)" (GKSA 1988a, 307). Die vraag kan egter gevra word of approbasie nie reeds regeermag impliseer nie. Hierop sal later teruggekom word. Die rapport ondersoek ook konfessionele gegewens oor die kiesreg van die vrou en konkludeer dat die konfessies nie daaroor uitsluitsel gee nie. In die lig van Art 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en Die Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 55, moet egter geoordeel word dat vroue as volle lede van die gemeente behoort mee te werk aan die verkiesing tot die besondere dienste. 'n Belangrike stelling word in hierdie bespreking gemaak en dit lui: "Uit die Bybelse skeppingsleer, sondeleer, verlossingsleer, toekomsleer, die leer aangaande die kerk en die dienste van gelowiges soos in die Konfessie geformuleer, blyk duidelik die gelykwaardigheid tussen man en vrou. Die man is nie die meerdere van die vrou nie" (GKSA 1988a, 307). Hier maak die rapport duidelik gebruik van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis. Die vraag is: Waarom is hierdie stelling nie tot sy volle konsekwensies deurgetrek nie? Daarbenewens - waarom word dit nie ook toegepas op die verklaring van die swyggebod en die betekenis daarvan vir vandag nie?

Na n oorsig oor "Kerkordelike gegewens" kom die kommissie tot die gevolgtrekking dat: "Die geloofsmondige vrou staan net soos die geloofsmondige man met die volle regte in die amp van die gelowige, en daarom behoort sy as deel van die gemeente onder leiding van die kerkraad deel te hê aan die verkiesing van mense in besondere dienste" (GKSA 1988a, 308). In die lig van bogenoemde beginselstandpunte beveel die kommissie dan aan dat vroue net soos mans as volledige en volwaardige lidmate van die gemeente deel moet hê aan die verkiesing van geroepe persone in die besondere dienste. Die aanbeveling is belangrik want, volgens die outeur, impliseer kiesreg uitoefening van gesag. n Vrou wat kies en approbasie mag uitoefen, oefen gesag uit oor die man wat verkiesbaar is. Waarom kan sy dan nie ook in die regeeramp dien nie? Die tweede deel van die rapport handel daarna oor die vrou en toelating tot die besondere dienste. Hierdie deel begin dan ook - soos die 1982 rapport - met die stel van hermeneutiese vertrekpunte.

Hermeneutiese vertrekpunte van die 1988 rapport

In aansluiting by die vertrekpunte van die 1982 rapport word die volgende weer oor die hermeneutiese uitgangspunte gesê:

Die Bybel is die Woord van God. God praat "deur en vanuit die Bybel met ons met Goddelike gesag" (GKSA 1988b, 601). Dit is opmerklik dat die rapport hier afwyk van die taal van Artikel 2 en 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis deur Woord en Bybel te identifiseer. Volgens die Belydenis is die Woord van God sy openbaring in die natuur en die geskrewe Woord. Word die insigte van die "boek van die natuur" hiermee buite diskussie gestel?

Die Bybel vorm n "onteenseglike eenheid".

Die eksegeet moet daarom Skrif-met-Skrif vergelyking toepas en die Heilige Gees is die eintlike eksegeet.

Die Bybel is God se Woord vir en deur mense. Daar is ten spyte van die eenheid ook verskeidenheid in die Skrif omdat mense die Woord van God te boek gestel het in verskillende tye en uit verskillende historiese agtergronde. "God het die Skrifte gerig aan mense van daardie tyd, in hulle betrokkenheid by die plek en tyd waar hulle geleef het. Hy het die boeke van die Bybel dus nie tydloos laat ontstaan nie, maar tydgerig" (GKSA 1988b, 601).

Die Skrif is deursigtig. Waar Skrifuitsprake nie duidelik is nie moet die eksegeet dit in die lig van duideliker uitsprake verklaar.

Die Bybel is die altyd geldende Woord van God. Die openbaring is bedoel vir alle mense in alle tye. "Wat Hy in die Bybel oor Homself en sy Wil aan die eerste ontvangers geopenbaar het, openbaar Hy deur dieselfde onveranderlike Bybel ook aan ons" (GKSA 1988b, 601). Nie elke Skrifuitspraak is egter vir alle tye voorskriftelik nie. Die bepaling van of n besluit blywend is of nie, lê egter nie by die eksegeet nie, maar by wat God in sy Woord toelaat. Daar moet in hierdie opsig onderskei word tussen die sentrum en die periferie van elke Skrifuitspraak. Die skopus van die perikoop (en ook die hele Skrif) moet in gedagte gehou word.

Die rapport stel dus weereens die tradisionele gereformeerde hermeneutiese beginsels. Maar dit is (soos in 1982) opvallend dat die belangrike rol wat gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis (tematiese openbaringsgeskiedenis) in Skrifverklaring moet speel, geïgnoreer word. Die "deel" moet immers in die lig van die "geheel" verklaar word. Hierdie beginsel sou dus beteken dat die tekste oor die swyggebod verklaar moet word in die lig van wat gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis sê oor die antropologie - en in besonder oor die plek en posisie van vroue in die Godsvolk, in menslike verhoudings en in die samelewing. In die deel wat handel oor die kiesreg van vroue is gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die gelykheid van die vrou wel genoem en baie oorsigtelik toegepas, maar sonder deeglike beredenering. Weer moet dus gevra word of hierdie leemte nie die uiteindelike besluite wesentlik beïnvloed het nie?

Bevindings van die studierapport van 1988

Die rapport behandel agtereenvolgens die gegewens uit die Ou Testament, die Nuwe Testament, die Belydenisskrifte, die Kerkorde en die kerkgeskiedenis. Ten opsigte van die gegewens uit die Ou Testament sluit die rapport aan by die vorige studies wat stel dat die skeppingsleer die gelykheid maar funksionele onderskeid van die man en vrou voorop stel. Die een is nie minderwaardig teenoor die ander nie, maar daar is differensiasie tussen hulle ten opsigte van hulle onderskeie huweliksrolle. Die leiding van die man is nie as heerskappy bedoel nie, maar as liefdesdiens. Die "hulpdiens" van die vrou is ook nie as slawediens bedoel nie, maar as gelykwaardige bystand. Die sondeval het ook vir beide man en vrou negatiewe gevolge: die vrou sal met smart kinders in die wêreld bring en die man sal met smart in lewensonderhoud voorsien. Die gevolge van die sonde werk verskeurend in op die man-vrou verhouding. Die man begin op sondige wyse oor die vrou heers en die vrou neig om leiding oor die man te neem (GKSA 1988c, 511). Die sondige "heerssug" van die man tree dan later in die Ou Testamentiese geskiedenis duidelik na vore, asook die korreksies wat die Here daarop aanbied. In hierdie verband wys die rapport op verskeie Skrifgedeeltes as ondersteuning van die stelling. Uit hierdie stelling van die rapport kan dus afgelei word dat die Oud-Oosterse vorme van patriargalisme en androsentrisme nie die skeppingsorde is nie, maar juis die gevolg is van die sondeval. By uitsondering het die vrou ook aan die openbare lewe deelgeneem, byvoorbeeld Debora die profetes, Mirjam die profetes, Hulda die profetes en Anna die profetes wat op die grens tussen die Ou en die Nuwe Testament opgetree het. Vroue, soos Debora en Atalia het in die regeeramp opgetree, maar vroue het egter nie as priesters opgetree nie.

Die rapport stel dat Christus die Ou Testamentiese ampte van koning, profeet en priester in vervulling gebring het en nuwe ampte ingestel het. Hoewel die nuwe ampte elemente bevat van die drie ampte in die Ou Testament, kan die situasie van die vrou ten opsigte van die ampte in die Ou Testament nie regstreeks op haar posisie ten opsigte van die ampte in die Nuwe Testament oorgedra word nie. Tog het vroue "by wyse van hoë uitsondering" in die Nuwe Testamentiese bedeling in die ampte gedien. Op hierdie punt is die argumentasie van die rapport egter nie oortuigend nie. As die beginsel moet geld dat deelname van vroue in die kerklike dienste dui op regering oor die man, waarom word die swyggebod nie ook toegepas op die Ou Testament nie? Sou die "skeppingsbeginsel" van 1 Tim. 11-14 dan nie ook rigied in die Ou Testamentiese bedeling moes geld nie? Hierdie argument is nie heeltemal duidelik nie. Word hier verwys na vroue wat in die Ou Testament as Rigters opgetree het? Die gelykheidsbeginsel wat so duidelik uit die skeppingsleer van die Skrif afgelei word, word dus genivelleer in die Nuwe Testament. Die rede vir hierdie onoortuigende argument is, volgens die outeur, te wyte aan die aangewese leemte in die hermeneutiese vertrekpunte. As die gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die vrou wat uit beide Testamente saamgevat word as maatstaf gebruik word, moet dieselfde beginsels deurgaans geld en moet die vrou se toelating tot dienste in die Ou Testament ook vir die Nuwe Testamentiese bedeling geld.

Nuwe Testamentiese gegewens bring die opstellers van die rapport daartoe om te stel dat die soendood van Christus juis die skeppingsorde herstel. Christus "hef nie die Godgegewe ordening [van die verhouding man en vrou - JMV] op nie, maar sluit juis daarby aan en heilig dit van sondige heerssug van die man oor die vrou. Jesus se optrede teenoor vroue was n bevestiging hiervan" (GKSA 1988c, 512). In Christus breek n nuwe bedeling vir die vrou aan. Sy word n nuwe skepping, medeontvanger van die Heilige Gees, van die doop, mede-deelnemer aan die maaltyd van die Here, is mede-arbeider in die gemeente, mede-ontvanger van die gawes van die Gees en mede-erfgenaam van die genade. Hierdie stellings word met duidelike Skrifverwysings gestaaf.

Die skopus van die evangelie van Christus wys op die algehele gelykwaardigheid van die man en vroue in die kerk en in die huwelik (GKSA 1988c, 514). In hierdie verband wys die rapport weereens op 1 Kor. 11:11, 12 en Gal. 3:28. Daar breek in Christus n vryheid aan - nie bandeloosheid of menslike willekeur nie. "Daarom ontvang die bevryde man en vrou die opdrag om aan mekaar onderdanig te wees uit eerbied vir Christus (Ef. 5:21). Die hoofskap van die man word bevry van heerssug en word liefdevolle diensvaardigheid en selfverloënende liefde. Die vrou word bevry van slaafsheid aan haar man en van enige poging van sondige heerskappy oor haar man. Hierdie huweliksverhouding tussen man en vrou is in die Nuwe Testamentiese kerk beskerm. "In die erediens is blyke gegee van die hoofskap van die man deurdat sy vrou haar kop moes bedek (1 Kor. 11:3-15) en moes swyg (1 Kor. 14:34). Daardeur het sy aanduiding gegee dat sy haar man se gesag oor haar erken (1 Kor. 11:10) dat sy hom eerbiedig (1 Tim. 2:11) en dat sy nie oor hom wil heers nie (1 Tim. 2:12)" (GKSA 1988c, 514). Terselfdertyd is vroue nie verhinder om hulle gawes in die gemeente te beoefen nie, soos die werk van Priscilla, Maria, Trifena, Trifosa, Euodia en Sintiche getuig. Vroue het in die gemeente gebid en geprofeteer (1 Kor. 11:5) maar daar is geen aanduiding uit al hierdie voorbeelde dat hulle in besondere dienste gedien het nie. Volgens die rapport kom dit dus voor dat die reël gegeld het dat vroue nie in besondere dienste gestaan het nie.

'n Leemte in hierdie beredenering is dat die skrywers van die rapport soek na deskriptiewe materiaal uit die lewe van die eerste gemeentes en dit dan voorskriftelik (preskriptief) wil maak. Die staat van vroue in die eerste gemeentes word as beginsel voorgehou vir die kerk van alle tye. Moet daar nie eerder uitgegaan word van die preskriptiewe gegewens wat duidelik dui op die gelykheid van die vrou in Christus (Gal. 3:28) en haar geestesgawes nie? Is hierdie preskriptiewe gegewens nie eerder die geldende reël vir alle tye nie? As daar beweeg moet word van die meer duidelike na die minder duidelike, waarom dan nie die saak benader vanuit die duidelike Skrifgegewens in Gal. 1:28 en 1 Kor. 12:12 nie? Meer nog - indien die praktyke van die eerste gemeentes as normatief aanvaar word, moet daar dan nie ook geoordeel word dat slegs die bekeringsdoop bedien moet word nie (Hand. 2:37-42); dat gelowiges hulle goedere moet verdeel nie (Hand. 2:43-47); dat vroue in eredienste 'n hoofbedekking moet dra nie (1 Kor. 11:5); dat geskeides nooit mag hertrou nie (Luk. 16:18); en dat vroue nie enige versierings moet dra nie (1 Tim. 2:8-10)?

Die rapport gaan voort deur te stel dat die swyggebod nie geïnterpreteer kan word as n gebod op algehele stilswye nie, maar wel as n opdrag aan haar om so te praat en haar gawes aan te wend "dat sy nie daardeur haar man se hoofskap in die gedrang bring nie" (GKSA 1988c, 515). Die opdrag geld net getroude vroue en die moontlikheid kan bestaan dat daar n afsonderlike amp was vir ongetroude vroue. Die moontlikheid word egter nie verder beredeneer nie.

Na n kort oorsig oor moontlike gegewens wat die belydenisskrifte kan bied oor die rol van vroue in die kerk, verwys die rapport weer na die formulering van die skeppingsleer, sondeleer, verlossingsleer en toekomsleer in die belydenisskrifte en dat dit die gelykwaardigheid van man en vrou stel. Die konsekwensie hiervan word egter nie verder beredeneer nie. Inderdaad word gestel dat indien die kerk sou besluit om wel die vrou tot die besondere dienste toe te laat, dit nie beweer kan word dat so n stap strydig sou wees met die reformatoriese belydenisskrifte nie. n Kort oorsig word ook gegee oor moontlike inligting wat die Kerkorde kan bied, en in hierdie opsig wys die rapport op die organiese eenheid tussen die besondere dienste en die amp van die gelowige: "In die organiese eenheid met verskeidenheid word die man en vrou nie onderskei nie maar opgeneem in die werking van die dele waar 'elkeen' sy 'funksie' vervul" (GKSA 1988c, 516). Die besondere diens is ook dienend van aard en nie heersend nie. Voorts leer die Kerkorde die gelykheid van die ampte.

Kerkhistoriese gegewens is ook ondersoek. In die apostoliese tyd en na-apostoliese tyd is vroue in hulp-dienste gebruik, maar die gebruik het met die opkoms van die Pousdom verval. Dan word daar kortliks verwys na Calvyn wat vroue as diakens toegelaat het in n versorgingshoedanigheid, die praktyke wat bestaan het in die tydperk na die Reformasie en ook die besluit van verskillende Gereformeerde kerke in Suid-Afrika en die buiteland. Hierdie oorsig is egter baie beperk en gee nie blyke van n deeglike ondersoek van die baie studies wat oor die saak in die Protestantse tradisies sedert 1845 gedoen is nie.

Die studie-deputate beveel dan aan die einde van die rapport aan dat die saak verder bestudeer moet word en dat die nuwe studie moet fokus op die karakter van die amp in die Nuwe Testament in vergelyking met die karakter daarvan in die Ou Testament en die moontlikheid van n afsonderlike diens vir ongetroude vroue. Geen voorstel is gemaak vir of teen die toelating van vroue tot die besondere dienste nie.

Die besluite van Sinode 1988

Die Sinode het met dank kennis geneem van die rapport maar het ook besluit om nie met die studie voort te gaan nie. Alles in die studierapport wat dui op die moontlikheid dat vroue in die besondere dienste sou kon dien, is afgekeur, mede as gevolg van eksegese wat gedien het voor die kommissie van die Sinode. Sentraal in die Sinodebesluit is die volgende stelling wat goedgekeur is: "Dit blyk egter uit die Skrifgegewens dat vroulike lidmate nie in die besondere dienste gestaan het nie as erkenning van die hoofskap wat God aan die man verleen het" (GKSA 1988c, 519). Die dienswerk van vroue word beperk tot die amp van die gelowige. Met hierdie besluit is die hantering van die saak van die "vroue in die amp", wat sedert 1973 op die agenda van onderskeie Sinodes was, afgesluit. Die saak het eers weer op Sinode 1994 aandag ontvang en is n tweede periode van studie ingelui. Hierdie periode sal in n afsonderlike artikel bespreek word.

 

GEVOLGTREKKING

Hoewel die rapporte wat oor die periode 1973-1988 handel, getuig van goeie en deeglike eksegetiese werk volgens die grammaties-historiese model, moet tog gekonstateer word dat die leemte in die hermeneutiese vertrekpunte waarop die outeur telkemale in die bespreking verwys, studiekommissies en die verskillende Sinodes verhinder het om besluite te neem ten gunste van die toelating van vroue tot die besondere dienste in die kerke. Daar is wel vanuit n skeppingsperspektief gereeld verwys na die prinsipiële gelykwaardigheid van man en vrou, maar vanweë die deurlopende gebrek aan die gebruik van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis oor die vrou as hermeneutiese beginsel, is die ewe belangrike Christologiese en pneumatologiese perspektiewe onderbelig. Waar dit wel genoem is, is die konsekwensies daarvan nie deurgetrek na die kerklike praktyk nie. As die konsekwensies van hierdie perspektiewe deurgetrek word tot die verstaan van die swyggebod, moet die gevolgtrekking gemaak word dat die swyggebod nie as n geldende reël vir alle kerke in alle tye kan geld nie. Die swyggebod impliseer n ongelykheid wat indruis teen die gelykheidprinsipe van die skeppingsperspektief, die Christologiese verhoudingsperspektief van Gal 3:28 en die pneumatologiese "gawes-perspektief" van 1 Kor. 12. Wanneer vanuit die geheel van gesistematiseerde Bybels-teologiese getuienis na die deel (Skrifgedeeltes oor die swyggebod) beweeg word, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat vroue in die besondere dienste kan dien en hulle gawes daarin kan gebruik tot opbou van die liggaam van Christus. Hermenutiese inkonsekwentheid het die Sinodes in die periode 1973-1988 verhinder om te besluit dat vroue in die besondere dienste in die kerk kan dien. n Volgende artikel sal die besluitneming van die periode 1994-2016 beoordeel.

 

BRONNELYS

Barth, K. 1961. Church dogmatics: The doctrine of reconciliation. Volume IV, Part 2, Edinburgh: T & T Clark.         [ Links ]

Barton, J. and Bowden, J. 2004. The original story: God, Israel and the world. London: Darton, Longman & Todd.         [ Links ]

Brown, C. 1978. "Gunë". In Dictionary of the New Testament Theology. Volume 3, p. 1066-1067. Grand Rapids: William B. Eerdmans.         [ Links ]

Ciampa, R.E. 2007. The history of redemption. In Central themes in biblical theology: Mapping unity in diversity, pp. 254-308, Hafemann, S.J. and House, P.R. Grand Rapids: Baker Academic.         [ Links ]

Conzelman, H. 1975. Commentary on the first epistle to the Corinthians. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

Cullmann, O. 1948. Christus und die Zeit. Die Uhrchristliche Zeit- und Geschicht-Aufassung. Zurich: Evangelisher Verlag.         [ Links ]

Dreyer, A.E. en Van Aarde, A. 2007. Bybelse modelle van die huwelik: 'n Kritiese perspektief, Hervormde Teologiese Studies (HTS) 63(2), 625-651.         [ Links ]

Fitzer, G. 1963. Das Weib Scweige in der Gemeinde, Theologische Existenz heute. Munchen: Kaiser Verlag.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1973. Handelinge van die veertigste Sinode te Potchefstroom op 10 Januarie 1973 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1979. Handelinge van die veertigste Sinode te Potchefstroom op 10 Januarie 1979 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1982a. Agenda van die een-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 1982 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1982b. Handelinge van die een-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 1982 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1985a. Agenda van die twee-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 8 Januarie 1982 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1985b. Handelinge van die twee-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 8 Januarie 1985 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1988a. Agenda van die drie-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 1988 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1988b. Aanvullende agenda van die drie-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 1988 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1988c. Handelinge van die drie-en-veertigste Sinode te Potchefstroom op 5 Januarie 1988 en volgende dae, Potchefstroom Herald.         [ Links ]

GKSA (kyk Gereformeerde kerke in Suid-Afrika).

Goldingay, J. 2006. Old Testament Theology. Volume 2: Downers Grove: Israel's Faith, InterVarsity Press.         [ Links ]

Kaiser, W.C. and Silva, M. 1994. An introduction to biblical hermeneuties: The search for meaning. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

REC (kyk Reformed Ecumenical Synod).

Reformed Ecumenical Synod, 1972. Acts of the Reformed Ecumenical Synod. Grand Rapids: Reformed Ecumenical Synod Secretariat.         [ Links ]

Reuman, J. 2005. Salvation history. In The Encyclopaedia of Christianity, E. Fahlbusch, J.M. Lochman, J. Mbiti, J. Pelikan and L. Vischer, Volume 4, p. 832-836. Leiden: Brill.         [ Links ]

Ridderbos, H. 1971. Paulus: Ontwerp van zijn theologie. Kampen: Kok.         [ Links ]

Ridderbos, H. 1985. De komst van het Koninkrijk. Nederland: Ankh Hermes.         [ Links ]

Vorster, J.M. 2011. Menswaardigheid, versoening en vergifnis. Potchefstroom: Potchefstroom Theological Publications.         [ Links ]

Welker, M. 2012. God the revealed, Christology. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

 

 

1 Sedert die Sinode van 1979 het die Sinodes van die GKSA verkies om eerder die konsep "posisie van vroue in die kerk" te gebruik as aanduiding van die saak waarom dit gaan (GKSA, 1979: 563). Hierdie keuse is om twee redes gemaak. Eerstens gaan die studie om meer as net die toelating tot "ampte" en sluit dit ook die kiesreg van vroue in. Tweedens is geoordeel dat die begrip "amp" problematies is en liefs vermy behoort te word (GKSA 1985a, 199). In die kerklike volksmond word die uitdrukking "vroue in die amp" egter gebruik en daarom word die uitdrukking in die titel van hierdie navorsing ook gebruik in aanhalingstekens. In die verdere ondersoek van die saak sal egter aangesluit word by die terminologie van die verskillende rapporte wat voor Sinodes gedien het, asook die besluit wat daaroor geneem is.
2 Die outeur beoordeel die saak in die lig van die hermeneutiese vertrekpunte wat deur die studierapporte voorgehou is en nie in die lig van die verskeie nuwe teorieë van interpretasie wat oor die afgelope dekades die lig gesien het nie. Die bedoeling is juis om aan te toon dat die besluit inderwaarheid nie die gekose hermeneutiese vertrekpunt konsekwent toegepas het nie en dat die leemte die uiteindelike besluitneming wesentlik beïnvloed het..
3 "Tematiese openbaringsgeskiedenis" bestudeer die groot temas van die Skrif soos dit in die deurlopende openbaring ontvou word. Hierdie temas is leerstellige temas soos die koninkryk van God, die verbond, sterwe en opstanding, verlossing en so meer, maar kan ook etiese temas wees soos die huwelik, gesin, seksualiteit, straf, vergifnis en restitusie. Die begrip "tematiese openbaringsgeskiedenis" is beperk tot die Gereformeerde kerklike tradisie en daarom word in hierdie studie gekies vir die begrip "sistematiese Bybelse teologie" wat dieselfde saak beskryf.
4 Die groot hoeveelheid Skrifverwysings wat in die rapport na vore kom, word nie in hierdie oorsig herhaal nie en daar word slegs gewys op die gevolgtrekkings. Waar nodig vir die verstaan van die gevolgtrekkings word na die betrokke Skrifgedeeltes verwys.
5 Gal 3:28 is inderdaad 'n baie belangrike Skrifgedeelte wat die diepste beginsel van die Christelike siening van die plek van vroue in kerk en samelewing beskryf. In sy Chistologie toepassing van Gal. 3:28 saam met 1 Kor. 12:13 sê Welker (2012, 289): "The hierarchical circumstances of lordship, authority, or dominion otherwise attaching to political, biological, and other differences are suspended, relativized, and preserved in a free and equal community and in a unity that promotes the development of the creative distinctions of all these gifts of the spirit." Hierop sal weer teruggekom word.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons