SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.40 suppl.1Puritanical and apocalyptic-minded American missionaries in southeast Africa - a contrast with Bishop John William Colenso índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Studia Historiae Ecclesiasticae

versión On-line ISSN 2412-4265
versión impresa ISSN 1017-0499

Studia Hist. Ecc. vol.40  supl.1 Pretoria sep. 2014

 

Boeknotas

 

 

Die volgende boeke is van uitgewers ontvang. Hierdie boeke word as "populêr" beskou, maar omdat hulle op akademiese navorsing gebaseer is, word hulle kortliks hier bespreek.

Prof Christina Landman, Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika.

Ralph Barnard 2011. Jesus sonder bagasie: Perspektiewe uit die Lukas-Evangelie. Uitgegee deur die outeur ralphbarnard@telkomsa.net. 174pp. ISBN 978-0-620-52267-0. Prys: R130-00.

Ralph Barnard is 'n begaafde skrywer en opgeleide teoloog wat fokus op die (her)opleiding van leke-lesers en dominees. Hy neem 'n posisie in tussen die historiese kritiek en die verlange om nog te glo. Hierdie boek hervertel die boodskap van die Lukas-evangelie vanuit so 'n kritiese geloofsperspektief. Dit sit die kritiese vrae oor die ontstaan en die skrywer van die evangelie, asook die ontvangs daarvan, op die tafel - en beantwoord hierdie vrae op so 'n manier dat díe leser die geloof kan behou, maar verryk word met nuwe kennis en gevolglik 'n beter begrip van Lukas se boodskap kry. Die boek is verkwiklik geskryf, verstaanbaar, met hier en daar 'n vromerige kwinkslag, en altyd op die punt af. Akademici sal die historiese siening wat agter die boek lê en waarmee Barnard werk, informerend vind. Die boek is bedoel vir alle lesers, hoog en laag, wyd en syd.

***

 

Francis Chan & Preston Sprinkle 2013. Die ewigheid... hemel of hel? Wat sê God oor die bestaan van die hemel en die hel? Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 138pp. ISBN 978-1-4316-0336-7. Prys: R89-95.

Francis Chan is die stigter van sy eie kerk, die Cornerstone Church, en sy eie Bybelskool, die Eternity Bible College. Hy is 'n invloedryke spreker in Amerika, en deur hierdie boek wil hy mense terugbring na 'n geloof in die hel as 'n plek van straf en ewigdurende foltering. Hy beklemtoon dat hyself nie graag in die hel wil glo nie, maar deur die Ou Testament, asook Jesus en Paulus se uitsprake in die Bybel daartoe gedwing word. Hy verwerp alle idees dat die hel net beeldspraak is, asook die "universalisme" van Origenes (c 185-254 nC) dat almal uiteindelik gered sal word of dat mense 'n tweede kans na die dood kry om verlos te word. Naas 'n poging om God te red as die God van liefde, word 'n oproep gemaak om mense om hulle te bekeer te midde van die hel wat vir hulle lê en wag. Die boek bevat geen nuwe insigte oor die hel nie, en akademici sal dit waarskynlik frustrerend vind om te lees te midde van die verleentheid wat die boek skep dat die Christelike geloof, wat histories 'n kragtige lewe-gewende invloed op die mensdom uitgeoefen het, tot geloof in 'n hel gereduseer kan word, 'n geloof wat nie onskuldig is nie maar gevare vir die Christendom en boodskap van liefde en vergifnis inhou.

***

 

Die Storie. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 538pp. ISBN 978-1 -4316-0215-5. Geen prys gekwoteer.

Hierdie is 'n vertaling van die gewilde The Story wat deur Zondervan in Amerika uitgegee is. Dis die oorvertel van Bybelse verhale in narratiewe styl. Dit bring die verhale in een oorkoepelende narratief saam, van die skepping tot die eindtyd. Dis nie vir akademiese lesers nie maar kan dalk, op 'n ironiese manier, 'n historiese besef by leke-lesers kweek.

***

 

Andries Ensíin & Tom Smith 2014. 7 ritmes binne 7 dae - vir totale toegewyde, Geesvervulde volgelinge van Jesus. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 156pp. ISBN 978-1-4316-0718-1. Prys: R100-00

Die boek is geskryf deur twee stigters van mega-kerke, Andries Enslin van Alberton LewenSentrum en Tom Smith van Rhythm of Life. Die boek is gebaseer op sewe sienings van God wat as ritmes aangedui word. Die boek het sy oomblikke van lewenswyshede met 'n paar interessante stories van vergifnis en die gesonde hantering van konflik. Die boek bly egter binne die persoon like en die huishoudelike en betree nie die groter wereld waarin Christene moet (oor)leef nie. Die boek verskaf geen nuwe kennis oor enigiets nie; die titel van sewe ritmes in sewe dae is verwarrend omdat die boek juis sê dat die sewe ritmes nie in sewe dae bereik kan word nie; en die rede waarom die "nuwe" Godsbeelde ritmes genoem word, is nie duidelik nie. Die boek is nie bedoel vir akademiese lesers nie, maar miskien vind gelowiges tog 'n ritme daarin om gemeentes te bou.

***

 

Stephan Joubert 2012. Ontsluit die Nuwe Testament. Omvattende Bybelreise vir 'n beter verstaan van die Skrif. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 672pp. ISBN 978-1-4316-0425-8. Prys: R200-00.

Hierdie is 'n waardevolle werk om (eke, dominees en selfs teoloë te begelei op 'n vars reis deur die Nuwe Testament. Die outeur het duidelik 'n lewenslange verbintenis om die Nuwe Testament te bestudeer en in roepened woorde weer te gee. Dis moeilik om die boek neer te sit. Dit is ingedeel in 95 "Bybelreise", maar een reis op 'n keer is nie genoeg nie. Ekself het verskeie plekke gemerk wat in vollengte preke uitgebou kan word. In vergelyking met sy dikte is die boek nie duur nie, en 'n aanwins vir persoonlike Bybelstudie. Daar word baie nuwe agtergrondinligting en, tot 'n mindere mate, alternatie we interpretasies gegee, maar dit pluk nie aan die neus tot die ore toeslaan nie. Dit lees lekker en nooi jou uit om weer met verwondering na die Bybel te kyk.

***

 

Adrio König 2013. Is die Bybel betroubaar? Wat dan van al die probleme? Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 352pp. ISBN 978-1-4316-0713-6. Prys: Rl79-95.

In hierdie boek probeer Adrio König die Bybel verskans teen die geweldige aanslae wat tans daarteen gemaak word. Hy neem hiervoor 'n posisie tussen die historiese kritici en die fundamentalist in. König wil aantoon dat dit nie die Bybel is wat geïnspireer en gesaghebbend is nie, maar die boodskap van die Bybel. Hy toon aan dat die Bybel nie die openbaring van God is nie, maar 'n getuienis van hierdie goddelike openbaring. König is 'n soliede teoloog met 'n ensiklopediese geleerdheid wat deur min geklop kan word. Hy kyk boonop eerlik en openlik na die probleme en die vrae wat rondom die Bybel se betroubaarheid bestaan. Dit kom derhalwe eienaardig voor binne hierdie "allesomvattendheid" dat hyself beweer dat hy 20 jaar gelede laas Gereformeerde teologie gelees het. Ook is dit vreemd dat hy, binne sy pleidooi vir verdraagsaamheid en be leerbaarheid, opmerkings maak soos (p211) "Dink weer aan die feministe. Daar is darem sommige radikaliste onder hulle wat net weer 'n keer in breër geselskap moet kom en hoor dat daar meer is in die Bybel as net vroueregte". Sulke opmerkings doen afbreuk aan sy akademiese reputasie en plaas sy insig onder verdenking.

***

 

Adrio König 2014. Hoop - ons lewensanker. Om te lewe met ware hoop in moeilike tye. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 260pp. ISBN 978-1-4316-0684-9. Prys: R169-95.

Soos gewoonlik neem König ons ook wat die begrip "hoop" betref, op 'n reis deur die Bybel - met groot geleerdheid en helder taal. Hoop behoort 'n belangrike diskoers in godsdienstige taal vandag in 'n skynbaar hopelose wereld te wees, en tereg wei König 'n hele boek daaraan. Vir mense wat dink dat die Bybel oor straf gaan, en uitsluitlik oor reg en verkeerd, maak König 'n waardevolle regstelling deur God wat hoop bring, en dit 'n werklikheid maak, in die sentrum van die Bybel te plaas. Soos gewoonlik is dit ook akademies steurend dat König die hele Bybel in lyn met homself probeer plaas, en wat my betref, is dit onnodig en plaas onnodige druk op die Bybel se geloofwaardigheid. Dis egter 'n belangrike onderwerp en 'n goeie boek oor die onderwerp wat baie preekstof en stof tot nadenke bied.

***

 

John Osteen 2013. Spreek lewe. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 238pp. ISBN 978-1-4316-0618-4. Geen prys gekwoteer.

Hierdie is 'n vertaalde werk van die bekende Amerikaanse evangelis en TV-persoonlikheid, John Osteen, wat in 1959 die Lakewood Church in Houston, Texas, gestig het. Osteen skryf hierdie boek vir mense vir wie die lewe 'n stryd is, een van onafgebroke pyn omdat hulle nie genesing het van hulleself, hulle familielewe, hulle armoede of hulle fisiese siektes nie. Die boek bied genesing aan deur anders te dink en te praat oor jou problem, en dit binne die Bybelse boodskap van liefde en nuwe hoop te doen. Die boek is nie vir akademiese lesers nie, maar bied 'n interessante - hoewel nie altyd oor-tuigende - siening op genesing aan.

***

 

Hendrik Venter 2013. Bevryding. Vereeniging: Christelike Uitgewers-maatskappy. 287pp. ISBN 978-1-4316-0716-7. Geen pys gekwoteer.

Hendrik Venter was 'n apteker, 'n lidmaat in die Gereformeerde Kerke, 'n drinker en 'n roker toe hy bevry is van die binding van sy pa se tradisionalisme. Hy dryf nou voltyds demone uit. Nie vir akademiese lesers nie.

***

 

Rick Warren, Daniel Amen & Mark Hyman 2014. Die Daniël-plan: 40 dae tot 'n gesonder lewe. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 380pp. ISBN 978-1-4316-0882-9. Prys: R170-00.

Daar is vyf elemente tot 'n gesonder lewe, sê Rick Warren en die twee dokters wat sy mede-skrywers van hierdie boek is: geloof, kos, fiksheid, fokus en vriende. Party lesers sal hierdie integrasie van glo en dieet as banaal beskou. Ander sal daarmee weer moed kry om gewig te verloor. Volgens die skrywers is mense oorgewig as gevolg van geestelike armoede, en kort hulle Daniël se voorbeeld "wat geweier het om die koning se gemorskos te eet". Die dieet wat aangebied word, bestaan hoofsaaklik uit groente en vrugte van lae GI. Dit word aangebied saam met wenke oor hoe om 'n gesonde leefstyl te handhaaf, soos om 'n hond aan te hou. Die boek bevat ook resepte en oefeninge.

***

 

Beth Moore 2009. Ester: Geroep vir 'n tyd soos dié. Wellington: Lux Verbi. 352pp. ISBN 978-07963-1046-0.

Hierdie is 'n leke-kommentaar op die boek Ester. Dit word aangebied as Bybelstudies, en is gebaseer op aanhalings uit kommentare, vrolike hervertellings van Ester se skoonheid en heldedade, en verskonings vir haar harteloosheid teenoor haar vyand. Dit word aangevul met lewenswaarhede in sinne wat dikwels rym maar nie altyd verstaanbaar is nie. Om die inhoud van die boek te kontekstualiseer word voorbeelde uit die skryfster se huishouding gebruik. Elke woord in hierdie "kommentaar" is volgens die skryfster afgebid en deur die Gees geïnspireer. Leke en akademici mag die boek by tye nuttig én frustrerend vind.

***

 

Chris van der Merwe. 2014. Die wonder van die Goddelike liefde: Sinvolle waardes vir die lewe. Kaapstad: Lux Verbi. 160pp. ISBN 978-0-7963-1761-2. Pys: R160-00.

Die boek bevat diep-nagedinkte stukke oor die waardes wat ons besluite elke dag bepaal. Die waardes wat hier bespreek word, is nie vlak voorgeskrewe waardes soos reg of verkeerd nie. Dis gesonde - en haalbare - waardes soos liefde, waarheid, blydskap, vrede, nederigheid, geregtigheid, hoop en geloof. Chris van der Merwe is 'n afgetrede professor in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad. Hierdie is nie sy beste boek nie, maar verrykend en strelend om te lees.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons