SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.43 número2Spirituality as passions of the heart. An empirical study into the character, core values and effects of the passions of the heart of general practitioners índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.43 no.2 Bloemfontein  2023

http://dx.doi.org/10.38140/at.v43i2.7797 

BOOK REVIEW

 

In daardie tyd was daar reuse

 

 

M. Laubscher

University of the Free State, South Africa. E-mail: laubscherm@ufs.ac.za; ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4240-1991

 

 

Meiring, P. (Wellington: CLF Uitgewers, 2022) 196pp. ISBN: 978-1-86804-524-2.

Professor Piet Meiring kyk terug op agt dekades en onthou van die reuse (vergelyk Genesis 6:4) wat hy op sy lewenspad sou teëkom. Buiten hoe indrukwekkend hy alles kan onthou, is dit absoluut merkwaardig hoeveel daar is om te onthou. In meer as een opsig het ons hier te make met 'n voorwaar ryk verweefde lewe en 'n blywende leeservaring.

Dit is 'n deels outobiografiese skrywe, en tog doelbewus juis ook nie. Dit is sy 'memoirs', maar dit weerkaats veel meer die gesigte van 'n ryke skare van reuse wat hy oor soveel jare op die lewenspad sou teëkom. Die aard van sy Christelike getuienis en spiritualiteit is 'n saak om mee rekening te hou, en waarvoor 'n mens nie anders kan as om krediet te gee nie. Om so gereeld met talle invloedryke mense te kon skouers skuur vanuit soveel oorde, en verhoudinge te bou en vriendskapsbande te koester oor jare heen, spreek tog van 'n eie reuse teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse sosiale en kerklike geskiedskrywing van die laaste sestig jaar. Buiten die vanselfsprekende bekendheid en reuse invloed wat elkeen van hierdie persone in die herinneringe geniet, is dit veral die ondernemende vertelstyl wat weereens sy innemende (reuse/nederige) menslikheid kom onderstreep. Hierdie is nie net 'n ryke openbare getuienis van 'n merkwaardige en deurleefde kerkman tydens dramatiese Suid-Afrikaanse storms en verskynende reënboë nie, maar dalk 'n nog veel meer kosbare geskenk aan die nageslag wat op hul skouers wil klim om nuwe horisonne te gaan verken.

Buiten 'n baie goeie voorwoord waarin dr Gideon van Watt hom raak beskryf en saamvat met "brugbouer, saam met en tussen ander", en 'n kort inleiding wat die nodige motivering en verklaring bied insake die titel van die boek, is daar vyftien vloeiende en goeie gebalanseerde hoofstukke wat enige iets kan wissel van tussen sewe of drie-en-twintig bladsye per hoofstuk. Die hoofstukke volg min of meer 'n chronologiese verloop en vertoef op 'n wye verskeidenheid van ruimtes deur die tyd. Wat 'n mens veral opval in die stasies en sfere waarvan elke hoofstuk vertoef, is hoe prominent die stryd teen die apartheid (se uitsluiting en afsondering) en die soeke na (veel groter en dieper) gemeenskap met ander sy verhaal sou stempel. Dit is opmerklik hoe hul wat soms so naby aan ons verkeer, so ver kan voel; en die wat weer oënskynlik ver is, tog weer so naby kan kom. In die proses kom die uitdrukking van Johan Heyns,

Ag man, as jy 'n brug probeer wees moet jy verwag dat mense oor jou gaan loop. Hulle gaan op jou trap! As dit nie gebeur nie, is jy nie 'n effektiewe brug nie (p. 120)

nog 'n paar maal op gepaste plekke in die teks voor (pp. 150 en 194) om ook Professor Meiring se versoenende rol in 'n wye verskeidenheid van kontekste te beskryf.

Soos verwag is daar baie te leer insake Suid-Afrika se Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) in hierdie vertellinge, en ek dink wat lesers veral in die verband sal help, is die groter deurleefde historiese perspektief (lang aan- sowel as afloop) waarin dit na vore tree. Hierdie werk help beslis om die boek oop te hou, nie te sluit nie, en saam vreesloos te bly skryf aan die tyd en ruimte wat ons ontvang het om met mekaar te kan deel. Die oorheersende perspektief in hierdie herinneringe gee vele stof tot nadenke - soveel so dat ongeag of mens nou met hom saamstem of nie, dit beslis die gesprek help om met 'n nuwe momentum voort te gaan.

Afgesien van verskeie positiewe aksente en waardevolle bydraes waarna daar reeds hierbo verwys is, is 'n paar kritiese opmerkings ook van belang. Sy lewe staan uit soos 'n paal bo die water, en tog is daar ook verskeie opsigte waarin hy as 'n kind van sy tyd na vore tree. Die opvallende oorheersing van (meestal Wit) mans as reuse in hierdie sosiale en kerklike versoenende geskiedskrywing val op, en daarom ook die afwesigheid om krities hiermee te worstel. Die klank en toon van hierdie Wit bevoorregte patriargale werklikheid kan tog nie verswyg word nie, en vra ten minste in enige respons 'n weeklaag wat hoop om ook meer skakerings daarvan te (v)erken. Natuurlik is die bedoeling hiermee nie om die konstruktiewe aard en erkenning van 'n bydrae soos hierdie te ontmoedig of te stereotipeer nie, maar veel eerder by te voeg, verder te voer, en te pleit dat ons in ons onthou van die verlede, ook sal wonder oor hoe die einste Wit man(s) dit tereg anders sou kon verbeel en verbeeld. Enersyds het ek groot waardering vir die hoopvolle toon wat hierdie herinneringe vibreer, en tog sal dit ons ook baat as ons soms die dowwe kant kan voorhou oor wat beslis ontbreek aan hierdie gebeure deur die tyd. Anders gestel, reuse het seer sekerlik ook (reuse) skaduwees, en in 'n tyd waarin ons voor sulke reuse uitdagings staan, wat allermins los van hierdie geskiedenis staan, sal dit help om ook die lig in hierdie duisternis voor te hou. Kritiese intellektuele biografieë van verskeie van hierdie reuse (Professor Meiring ingesluit) is onontbeerlik as ons voorwaar ernstig is oor die voortgaande en nog meer hoopvolle (eerliker) sosiale en kerklike geskiedskrywing in ons konteks.

Ek hoop voorwaar 'n Engelse vertaling van die werk is op pad, want die groter oop gesprek na waarheid en versoening (en sosiale geregtigheid) is so 'n belangrike saak wat beslis net daarby sou kon baat. In so 'n geval kan daar gerus gelet word op klein foutjies in die teks, byvoorbeeld: "de" (p. 7); Miga 4 in plaas van 6 (p. 45); 'n punt van ontbreek aan die einde van 'n sin (p. 61); die inkonsekwentheid van "Die Kerkbode" wat nie soos elders in skuinsgedrukte formaat verskyn nie (p. 70); David Bosch wat as Dawid een keer voorkom (p. 87); die skryf van die "S A Raad van Kerke" (p. 108); Leon Wessels as minister nie van polisie nie, maar van wet en orde (p. 140), en die datering van die kerkberaad in Rustenburg as in 1986, in plaas van 1990 (p. 149).

Kortom, die reusagtige teenwoordigheid (en waardering) van Professor Piet Meiring se lewe en werk staan soos 'n paal bo water. Hy het dit deurgaans oor ander reuse in sy lewe, maar self troon hy reusagtig uit tussen hulle. Soms is sy kop en al die stories dalk hoog in die wolke, maar ander kere tog weer onteenseglik stewig geanker op die grond - plat op die aarde - nederig en innemend. Na aanleiding van Jan F.E. Cilliers se gedig, kan ek ook sê: "Stil, broers, / daar gaan 'n [reus van 'n] man verby, / hy groet, / en dis verlaas. / Daar's nog maar één soos hy; / bekyk hom goed.

 

 

Date received: 12 November 2023
Date published: 13 December 2023

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons