SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.43 número2Spirituality as passions of the heart. An empirical study into the character, core values and effects of the passions of the heart of general practitioners índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.43 no.2 Bloemfontein  2023

http://dx.doi.org/10.38140/at.v43i2.7796 

BOOK REVIEWS

 

Daar is méér. n Outobiografiese reisverhaal deur Amper-Stamperland en Metaversum

 

 

L. Hoffman

University of the Free State, South Africa. E-mail: hoffmanl@ufs.ac.za; ORCID: https://orcid.org/0000-0002-8638-1240

 

 

D.J. Louw. (Potchefstroom: Naledi-uitgewers, 2023). 703 pp. Sagteband ISBN: 978-1-77617-228-3.

Die eeue-oue menslike vraag - Wat is die sin van die lewe? Wat is die sin in lyding? Daniël Louw gaan op 'n reis om hierdie vrae vanuit Amper-Stamperland en die "nuwe wêreld", die Metaversum, te belig. Die boek wil nie kits-antwoorde gee nie - daarvoor is dit te lywig. Op hierdie vrae is daar immers nie vinnige antwoorde nie. 'n Pragtige voorblad wat herinner aan iets uit die ('n) ruimte met die uitdagende woorde in groot rooi letters: "Daar is méér". Die taalgebruik is kreatief - keurig deur 'n kunstenaar aangewend vanaf 'n palet van Afrikaanse teologiese en filosofiese taal. Konsepte soos "Wat en waar is die middel C van die Christelike geloof?"; "Die misterie van verwondering: 'n Libretto met die titel 'Daar is méér!'"; "Klopdisselboom met 'n pedonkiekar in Amper-Stamperland"; "Pikkewouters: Amper-karaktertjies in die Wilde Weste van stamper"; "bewolkte rekenarisering" ("computer clouding"); "blokkettings" ("block chains"). Die boek is deurspek met illustrasies en verduidelikings van dit wat in die teks bespreek word. Dit skep die indruk van 'n reis oppad iewers heen, maar langs die pad is allerlei ter saaklike "afdraaipaadjies" wat die reis letterlik en figuurlik inkleur.

Breedweg val die boek binne die veld van spiritualiteit, wat Louw so definieer:

Christelike spiritualiteit is 'n netwerk-konsep waarin kuituur en Christelike geloof in 'n wisselwerkende verband met mekaar vervleg is binne verskillende kultuurkontekste en wysheidstradisies. Spiritualiteit is per slot van rekening deel van die geskiedenis van die mens se soeke na sin en betekenis (pp. 1-2).

En verder ook:

Die term 'spiritualiteit' suggereer 'n vorm van integrasie en die soeke na 'n geheelraamwerk vir sinsontlsuiting wat helend sal inwerk op menswees en aldus algemene menslike bewussyn sal bevorder. Dit wil 'n geheelblik ontwikkel en bydra tot visie en hoop (p. 2).

"Metaversum" word as volg beskryf: Mark Zuckerberg het in Oktober 2021 met die begrip "metaversum" gekom.

Die feit van metaversum is dat dit 'n nuwe en ander manier van dink en menswees struktureer. Menswees word gevirtualiseer as 'n nuwe eksistensiële modus binne kosmiese kragte ... Elektronika en tegnologie definieer 'n nuwe spesie genaamd homo digitalis. Ek word met slim tegnologie virtueel gemanipuleer, daarom is ek (p. 11).

Hoe raak hierdie nuwe wêreld bv. Christelike spiritualiteit? Louw reis deur sewentien hoofstukke om te mymer oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid. Hoofstuk 1 begin by die nuwe wêreld: "Metaversum: Digitale ruimte vir die supermens met 'n hiperbewussyn: Happiest hour in smart Dubai". In die verloop van die reis word die verskillende aspekte van menswees belig: homo sympatheticus (p. 17), homo imperfectus (p. 18), homo electronicus (p. 67), homo ludens (p.68), homo fantasia (p. 139), homo digitalis (p.181), homo patiens (p. 342), en homo aestheticus (p. 586). Die reis eindig met 'n laaste meme: Mene, mene tekel, upharsin?

Tog onthou ek skielik dat U ook vir my beloof het om my God te wees. Uit my verre verlede, 78 jaar gelede, onthou ek nou: 'Dit is my troos dat ek gedoop is, dat ek gedoop is in U naam'! Dit is my enigste troos, veral as ek geweeg en te lig bevind word (p. 650).

Die bronne vir Louw se reisverhaal is nie net teologiese boeke nie maar ook stories soos "Die klein prinsie" van Antoine de Saint-Exupéry.

Die klein prinsie daag ons uit om te mymer oor die skoonheid van die lewe wat vir blindekol-mense onsigbaar is; om met jou hart na te dink en soek na daardie sin wat êrens soos 'n verborge put in die woestynsand weggesteek lê." (p. 58).

Films soos "Angry birds" en "Kung Fu Panda" en T.O. Honiball se "Adoons-hulle" strokiesprente bied illustrasies vir die slaggate waarin mense trap op soek na "méér" (p. 191). Louw gebruik ook van sy eie skilderye en gedigte in sy nadenke oor God se wil en die sin van die lewe. So illustreer hierdie uittreksel uit Louw se gedig die vraag sowel as die troos van die mens (p. 325):

Sakrament van die mossie se val

Oor die diep-bedorwe aarde;

Die twyfelvraag:

Het lewe 'n waarde?

MAAR

So het Hy gesê

Waar arm-mans-voëltjies vlieg en val in vlug;

Ondanks die-blond-dis-die-blou-dis-die-lug

God as Vader,

'n toevlugsoord.

Die boek werp 'n interessante blik op die velde van teologie en die metafisiese, sielkunde en filosofie. Almal wat al nagedink het oor die vrae van die menslike bestaan, sal die reis saam met Louw waardeer met 'n pedonkiekar vanaf Amper-Stamperland deur die Metaversum. Soos in baie reise is dit nie eenvoudig om die pad deur die boek te volg nie - die struktuur van die hoofstukke is nie altyd duidelik nie. Die kreatiewe subopskrifte soos "Aristophanes die duiwel in vir Sokrates se bewolkte denkskool" (p. 114); "Farao se kripto-hart in die weegskaal van 'n jakkals: Veerlig of loodswaar?" (p. 210); "Die lewensimfonie van El Shaddai: Meta-verrassing van Goddelike infinisies"(p. 415) laat die leser nuut dink oor bekende konsepte. Tog, volg dit moeisaam.

Hierdie werk van Louw lewer 'n belangrike bydrae tot die veld van teologie en die bekende konsep "faith seeking understanding". Dit is nie 'n boek om net vinnig deur te blaai op soek na 'n antwoord op "Hoekom?" nie. Per slot van rekening is daar nie maklike antwoorde op moeilike vrae nie.

 

 

Date received: 13 November 2023
Date published: 13 December 2023

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons