SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.41 número2On the future of teaching preaching in the midst of the Covid-19 pandemic índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.41 no.2 Bloemfontein  2021

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v41i2.1 

INTERVIEWS

 

Onderhoud: In gesprek met Prof. Cas Wepener/ Interview with Prof Cas Wepener

 

 

M. Laubscher

Department Practical and Missional Theology, University of the Free State. E-mail: laubscherm@ufs.ac.za; ORCID: https://orcid.org/0000-0002-4240-1991

 

 


ABSTRACT

Cas Wepener is professor in Practical Theology at Stellenbosch University since 2019. He teaches liturgy and homiletics. Martin Laubscher interviews Cas Wepener on his life in theology, practical theology and the witness of the church during the pandemic.


 

 

"... dat daar juis ook iets en Iets anderkant woorde lê ..."

 

 

Cas Wepener matrikuleer in 1990 aan die Hoërskool Outeniqua op George. Daarna studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch en later ook aan die Universiteit van Tilburg (Nederland). In 2004 voltooi hy 'n doktorsgraad wat handel oor versoeningsrituele in Suid-Afrika en in 2015 behaal hy 'n MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Heelwat van sy artikels het reeds in nasionale en internasionale geakkrediteerde tydskrifte verskyn, asook in populêre, professionele en akademiese boeke. Kreatiewe tekste uit sy pen sluit in: Dubbelfoto (2013), Syferfontein (2016), Johanna (2017), en Die slaghuis (2019). Die reis gaan inwaarts (2017) handel oor Karel Schoeman se fiksie. 'n Bundel rubrieke getiteld ritmes en rites (2021) en ander akademiese titels sluit onder meer in Bonding in worship (2019) wat handel oor liturgie in Afrika Onafhanklike Kerke, waarvan hy mede-reakteur was en Worship in a network culture (2014) waarvan hy 'n mede-skrywer was. Cas was tussen 2010 en 2019 verbonde aan die Fakulteit Teologie en Religie van die Universiteit van Pretoria. Sedert 2015 was hy Departementshoof, en sedert Desember 2019 is hy professor in Praktiese Teologie, met opdrag Liturgie en Homiletiek, by die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch.

ML: Was n lewe in die teologie altyd die plan gewees? Ek weet jy het eers met drama begin, maar tog het ek n vermoede dat die saad was toe al lank reeds geplant gewees. Van waar jou belangstelling en roeping in die teologie?

CW: Nee, weet jy, teologie en die bediening was nie die oorspronklike plan nie en ek kom ook nie uit ' predikante familie nie. Teologie het geleidelik op my radar verskyn en ek het dit probeer afskud deur byvoorbeeld eers weermag toe te gaan. Roeping is egter ' ander kalant, soms kom dit geleidelik jou lewe binne, maar wanneer hy jou eers het, los hy jou nie sommer weer nie. En roeping is vir alle mense belangrik, maar funksioneer op 'n eiesoortige manier wanneer dit by die teologie en bediening kom. Ek kan my kwalik indink dat ek teologie bedryf daarsonder. Of, anders geformuleer, ek vermoed teologie sonder ' roeping sal heel anders lyk as teologie wat vanuit ' roeping gedoen word.

Wat wonderlik is, is wanneer ' roeping vir die teologie en jou eie belangstellings kan oorvleuel. In daardie opsig beskou ek myself as baie gelukkig. Teologie was nie die plan nie en ek het inderdaad eers drama gestudeer. My droom, en die rede waarom ek Stellenbosch toe is, was om ' skrywer en dalk selfs ' regisseur te word. Die drama-graad het ek nie voltooi nie, maar uiteindelik is my spesialisasieveld binne die teologie wel liturgie en homiletiek. Ek wonder of daar ' veld binne die teologie is wat nader aan die teater en skryfkuns lê as hierdie velde. Liturgie is natuurlik nie teater nie, maar die wese van die liturgie kan besonder diep gepeil word deur die lens van die dramaturgie, soos die teorie van Erving Goffman, Richard Schechner, Victor Turner en ander dit ook duidelik maak. My belangstelling kom dus eintlik doodgewoon deur ' roepingbelewenis en saam daarmee was ek so gelukkig dat ek dit wat ek eintlik wou doen, toe wel binne die teologie kon doen.

ML: Watter beduidende oomblikke tydens jou studiejare sou jy terugskouend wou uitsonder?

CW: Ek was in my element in die Drama Departement, maar toe die oortuiging finaal daar is dat ek teologie moet studeer, het dit 'n besondere vrede in my gebring. Dit was beduidend. En ek het agterna die Drama baie gemis. Die feit dat ons nog destyds as teologie-studente heelwat vryheid gehad het wat vakkeuses betref, kan ek nie soseer 'n beduidende oomblik noem nie, maar wel 'n vryheid wat uiters vormend was en as sodanig betekenisvol. Dit het beteken dat ek saam met Grieks en Hebreeus en al ons teologiese vakke, Afrikaans-Nederlands as ' hoofvak kon neem, ook vakke soos Kunsgeskiedenis en Engels. Ek dink dit het my eie teologiese denke beïnvloed deurdat ek voortdurend en gelyktydig teologie en letterkunde bestudeer het.

In my finale jaar op Kweekskool moes ons 'n proponentskripsie skryf en daardie skripsie was ' beduidende oomblik. Ek het myne onder leiding van Prof. Bethel Müller gedoen en oor simboliek, ikone en liturgie gewerk. Prof. Bethel was ' wonderlike studieleier en ek onthou hoe graag hy lank sit en gesels het oor die temas; vir my absolute vrye teuels gegee het, en ek my eerste regte navorsingsprojekkie nie net as ' akademiese aktiwiteit wat ek moes afhandel om te kon graad vang, beleef het nie, maar ook ' kreatiewe en skeppende proses. Vir my was dit 'n ontdekking oor wat teologie kan wees en saam daarmee die belang van mense wat oor jou pad kom.

Terwyl ek in my eerste gemeente was, het ek ' beurs ontvang om in Nederland te gaan studeer. Ek het spesifiek gesoek na 'n studieleier wat werk in my belangstellingsveld, te wete ritueel en liturgie en dit op ' oop en innoverende wyse doen. Toe gaan ek na die Katholieke Universiteit Brabant (deesdae Tilburg University) en studeer by Paul Post wat toe pas vir Gerard Lukken opgevolg het (ek was bevoorreg om saam met Post ook Johan Cilliers as studieleier te hê). Nou ja, vir 'n NG outjie uit Afrika was dit 'n behoorlike eye-opener! Van Rooms Katolieke teologie het ons so 'n bietjie verneem in Kerkgeskiedenis en Sistematiese Teologie, maar vir my het ' sluier oor ' vakgebied gelig. Destyds was die vak Liturgie in Suid-Afrika ' piepklein half vergete veld binne Praktiese Teologie, maar in Tilburg was dit ' hele en eie Departement. ' Departement met ' Professor in Liturgiewetenskap en Ritual Studies, een net vir Liturgiegeskiedenis, een in Liturgiese Musiek, in Sakramenteleer en meer. In die Liturgiegeskiedenis-lesings is eeue oue liturgieë in Grieks en Latyn voor ons neergesit en het die dosente woorde op papier uit die verlede lewendig en betekenisvol gemaak en in die Ritual Studies-klasse is ons daarop gewys dat die hele lewe deurtrek is van ritualiteit. My oë het oopgegaan vir die liturgie van die lewe, die sakrament van die huidige oomblik en soveel meer. Kan jy glo, sedert daardie tyd stuur Paul Post nog jaarliks vir my ' kerkskaart in Latyn en pos hy klokslag ' kopie van sy nuutste boek. Met ander woorde, en weer 'n keer, mense op my pad, en daar was baie, was by uitstek beduidende oomblikke en saam daarmee hoe tradisies mekaar kan aanvul.

Ek sal graag nog 'n beduidende oomblik uitsonder en dit het gekom uit my empiriese veldwerk, eers in Langa en omstreke vir my proefskrif, maar later in vele plekke regoor ons land en in wyd uiteenlopende Christelike tradisies. Empiriese betrokkenheid op 'n voetsoolvlak het my denke geskuif, want in die soort navorsing kom jy mense teë wat op voetsoolvlak in ons land, sonder enige opleiding, van die beste teoloë is en hul teologie in praktyke beliggaam. Ek leer steeds baie deur my betrokkenheid in hierdie tipe navorsing.

ML: Waarom dink jy is die interdissiplinêre gesprek met die kunste vir talle praktiese teoloë in Suid-Afrika so aantreklik?

CW: Vir my is een van die groot redes die feit dat die kunste met paradoks, met simboliek en metafoor, ook met vloei, kan werk en juis gemaklik is in daardie domein. Die gesprek met die kunste help om 'n taal te skep en die onsêbare, wat ek glo die taal is waarna teologie voortdurend uitreik, wél op jou lippe te neem. Onlangs het ek dit in 'n koerantrubriek soos volg probeer verwoord, spesifiek hier in die lig van 'n interdissiplinêre gesprek met letterkunde: "Die goddelikheid van gedigte en die digterlikheid van God het te make met die taaldomein waarbinne beide tuishoort, dit is die domein van die moontlike onmoontlike, van die 'Ek is' wat skeppend en herskeppend deur die woord wordend bly; immer teenwoordig én ontwykend; 'n voortgaande kosmiese film waarvan geen raam ooit gestol kan word nie, selfs al word iets daarvan op papier neergepen."

Ek dink daar is ook kollegas vir wie hierdie gesprek met die kunste help om ons huidige tydsgewrig beter in kaart te kry. Die kunste is soms 'n seismograaf vir dit wat in ons wêreld aangaan, omrede kunstenaars op ' dieper en intuïtiewe vlak waarneem en dit wat hulle waarneem deur hul menswees syfer voor dit in hul kuns uitmond. Dan is daar natuurlik ook kuns wat op ' profetiese vlak funksioneer en protes aanteken, soos die teologie ook soms doen. Hier moet mens egter ook maar versigtig wees vir 'n funksionalisering van kuns in diens van iets anders, selfs ' funksionalisering van teologie.

ML: Jare gelede het Neal Plantinga 'n oulike boekgeskryf met die titel Reading for preaching. Watter werke in Afrikaanse letterkunde sou jy vir predikante (of alle liefhebbers van homiletiek en liturgiek) wou uitsonder in die verband?

CW: Kyk, ek sê vir studente hulle moet baie lees om te kan preek, ook fiksie. Jy lees nie met die oog op komende Sondag se preek nie, jy lees met die oog op jou eie ontwikkeling as prediker en liturg en jou langtermyn preekspens. Lees moet ons lees. Daarmee word nie bedoel jy moet in die middel van die preek oor Job vir ons die plot van Agaat van Marlene van Niekerk opsom nie.

Dis wel lastig wanneer dit gebeur, selfs verwysings na flieks, want hoe op dees kansel kan jy enigsins in enkele minute vir hoorders iets verduidelik van 'n roman soos Agaat? Maar dis natuurlik ook nie wat Plantinga bedoel nie. Die doel van "reading for preaching" is wel vatbaar vir misverstand en ek glo nie letterkunde moet uitgebuit word vir illustrasies in preke nie.

Kom ek sonder net een aspek uit, en daar is regtig baie, soos Alyce McKenzie ook daarop wys in Novel preaching. Watter Afrikaanse letterkunde kan my as prediker help om my hoorders vir wie ek preek, asook die teks waaroor ek preek, beter te verstaan? Dus letterkunde in diens van eksegese, beide van die teks en van die hoorders (en die prediker!). Letterkunde kan my help om van die kansel af te klim en oor te stap na die mense met wie ek kommunikeer, en dan boonop in hul skoene te klim voor ek begin preek. Soos Atticus dit in To kill a mockingbird stel: "Climb into his skin and walk around in it." Wanneer ek in my hoorders se lewens begin en nie net in my eie eng wêreldjie nie, preek ek gewoon anders.

Dit is pandemietyd en daar is baie mense wat geraak is of was deur siekte. Vir 'n redelik gesonde prediker met min ondervinding van hospitale en intensiewe sorg-eenhede, benewens wanneer hul mense daar besoek, sal dit nie sleg wees om in hierdie dae Agaat te lees nie. Of, volg Versluis se siekbed in Bloemfontein in n Ander land van Karel Schoeman en hoe hy verneem dat hy terminaal siek is. Nie net siekte nie, ook mens-wees. In Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort word die aard van die mens op ' dieper vlak aan die hand van die sewe doodsondes ontgin as wat ek al in ' Dogmatiek-boek teëgekom het. En ons, wie is die vreemde lot mense wat hier saam probeer oorleef aan die suidpunt van Afrika? Lees Dan Sleigh se Eilande of PG du Plessis se Fees van die ongenooides om iets van die kompleksiteit van ons herkoms en hier wees word sigbaar, ook Buys van Willem Anker, definitief ook Buys. Die soort boeke help met kompleksiteit. En vandag, om in die skoene van ' middeljarige Wit man te gaan staan wat ' Tweet stuur wat hom duur te staan kom ... dis Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld, ook SJ Naudé se Die derde spoel. Om die absurde teater van ons huidige politiek te oorleef en na die kansel te neem, sal ek goed doen om ' draai by Etienne Leroux te maak en te gaan kuier op Welgevonden van die Silbersteins of op Magersfontein, o Magersfontein! En woede, lees bietjie die gedigte van Antjie Krog wat soms woede as kreatiewe bron inspan en dink daarna weer aan die hoorders wat voor jou sit. Ek volstaan eerder, maar ek sal nooit die kans laat verbygaan om te sê dat daar wel één boek is wat alle Suid-Afrikaanse teoloë móét lees nie, want in daardie boek tref jy alles wat ek hierbo noem aan, maar ook ' grondige verkenning van roeping. Dit is Die uur van die engel van Karel Schoeman. Ek dink dit is een van die beste teologiese werke wat op eie bodem en in Afrikaans gebore is. Eintlik is dit ' boek waaroor ' mens niks kan sê nie, want wat die boek vir die leser wys, is dat daar juis ook iets en Iets anderkant woorde lê, en dit is mos die taaldomein waarmee ons werk, selfs in die prediking.

ML: Een van my hoogtepunte vroeg op n Saterdagoggend is om te sien of daar nie 'n nuwe rubriek van jou in een van die Afrikaanse dagblaaie is nie. Hoe beduidend dink jy is hierdie deel van jou werk as n akademiese praktiese teoloog? Of, dalk nog beter gestel: Hoe dink jy oor (praktiese) teoloë as publieke intellektuele in ons samelewing?

CW: Sommige praktiese teoloë, waarby ek myself insluit, stel belang en verken die alledaagse (kwotidiane) wat dikwels ook die skynbaar onbenullige dinge insluit. Veral ook dit wat mense doen. En vir my is godsdiens veral ook iets wat mense doen; dit bestaan uit praktyke. Wanneer 'n mens só na die wêreld kyk, die alledaagse dinge wat mense doen, dan is daar meer godsdiens en teologie waarop ons kommentaar kan lewer as wat ons dalk met die eerste oogopslag sou vermoed. Anders geformuleer sou mens dan kon vra: Wat is nie teologie nie? Dan is die hele wêreld inderdaad 'n verhoog en met my prakties-teologiese gereedskap lewer ek maar so ' bietjie kommentaar op die drama van die lewe waarin ons onsself bevind. So dalk is ek as liturgis ' teaterresensent oor hoe ons hier ter plaatse eet en toyi-toyi en huil en stilbly en vloermoere gooi.

ML: Hoe oordeel jy oor die kerk se openbare getuienis tydens die pandemie in Suid-Afrika?

CW: My vrou het onlangs haar nagraadse studies in Spraakterapie voltooi oor jongmense, versprei oor ons land, wat glad nie kan praat nie. Baie van hulle spandeer groot dele van hul dag alleen in klein ruimtes. Dit was nie die fokus van haar studie nie, maar in elke onderhoud en fokusgroep was daar 'n duidelike lyn - sonder ons geloofsgemeenskappe se netwerke, was ons heeltemal verlore. Die sterkste getuienis van die kerk tydens die pandemie was glad nie so openbaar nie en het vir die oorgrote meerderheid mense ongesiens gebeur. Ek hoor by soveel predikante dat die missionale kulture wat in gemeentes vóór die pandemie gevestig is, beteken het dat hulle in plaas daarvan om net terug te val op selfbehoud en onderhoud, baie betrokke was in hul gemeenskappe tydens die pandemie. Toegegee, ek is bevooroordeeld, maar ek glo nie ons weet werklik hoe groot en enorm die openbare getuienis was nie. Selfs net ' boodskap op WhatsApp of ' aanlyndiens het geslote ruimtes waarin mense ingekerker was op betekenisvolle wyses oopgesluit en uitsig gebied.

ML: Wat sou jy sê was die effek van die pandemie op jou as teoloog?

CW: Ek moes rubrieke aan Afrikaanse dagblaaie tydens die pandemie lewer. Terugskouend sien ek het ek daar die effek van die pandemie op my gedokumenteer. In een van die rubrieke het ek vertel van my dogter wat haar leerlingbestuurderslisensie gekry het, hoe ek dus nou in die passasiersitplek van my kar sit met 'n groot L in die agterruit. En daardie L het vir my 'n simbool geword van wat die pandemie met my as teoloog gedoen het. Dit het vir my laat besef dat die deug van gasvryheid nie net behels dat ek 'n gasheer moet wees nie, maar ek ook my identiteit as gas moet kan omhels, dat ek ' kind van Jakob, 'n vreemdeling en bywoner is - 'n gas. Hoe lyk teologie wanneer ek dit bedryf vanuit die posisie van gas, eerder as die nogal magtige posisie van gasheer; dus die een wat ruimte moet kry, eerder as die een wat die ruimte skep. Ons besing baie maklik as teoloë die lof van die kreatiewe ruimte wat deur liminale belewenisse geskep word. Die pandemie het vir ons, myns insiens, kom wys dat liminaliteit krities belangrik is, maar dis gewoon sleg, ongemaklik en dalk moet ons weer en versigtiger gaan kyk wat Victor Turner geskryf het. Jy vra vir my hierdie vraag so knap voor Advent 2021. Advent is die tyd van die Groot Inkommer, wanneer almal, juis ook teoloë, opnuut besef dat almal inkommers is en alleenlik wanneer ek my plek weggee, wanneer ek my naelstring met die land knip, ek die land waar ek woon op ' goddelike wyse kan besit.

ML: Watter uitdagings dink jy behoort ons as kollegas nou te prioritiseer insake teologie-beoefening aan publieke Hoër Onderwys-instellings in Suid-Afrika? Anders gestel: Hoe oordeel jy oor die transformasie van die laaste dekade binne Hoër Onderwys in Suid-Afrika?

CW: Saam met my vriend en kollegas van Nederland, Marcel Barnard, het ek onlangs ' hoofstuk oor metodologie in ons vakgebied geskryf. Daarin het ons 'n klein oudit gaan doen oor wat oor die laaste dekades gedoen is; wat gebeur op die oomblik, en toe so bietjie geprofeteer. Kortliks, maak nie saak wat ' praktiese teoloog se benadering tot ons veld is nie - postkoloniaal, feministies, Afrika, Swart, bevryding, ens. - ons glo die teologiese in prakties-teologiese moet opnuut geprioritiseer word in ons eie dag. Ons voorstel is 'n Trinipraxis-benadering waarin ons ons Westerse teologiese erfenis en die teologiese skat van Afrika kan inkorporeer vir ons vakgebied te same natuurlik met die benoemde benaderings. Die transformasie waarna jy verwys, het maar pas begin en goeie teologiese insette gaan die voortgaande proses ten beste dien.

ML: Enige advies en wysheid aan jonger akademici wie nog n loopbaan vir hulle wil uitbou in die beoefening van die teologie? Watter versoekinge en geleenthede is hier wat jy dink ons tog moet artikuleer? Bepaalde riglyne wat fokus sou kon kleur en vul?

CW: Behou die humor. Teologie is ' doodernstige saak, en tog, tog wil ek myself en dit wat ek doen, relativeer en nie te ernstig opneem nie. Dít help my om aan te druk, naamlik om myself en my uitsette te relativeer, soms daaroor te lag en dankbaar te wees dat God ten spyte van my pogings voortgaan. Saam daarmee is teologie, myns insiens, ' lees-en-skryf bedryf - selfs empiriese navorsing is ' kwessie van "lees". So, my raad aan jonger akademici is, doen dit net. Lees en skryf is praktyke en as praktiese teoloë is daar een ding wat ons preek, en dit is die kritiese belang van praktyke en dat ons leer in en deur deelname aan praktyke. Jy kan tien boeke oor dans lees en daarna steeds nie weet hoe om te dans nie. Daar is net een manier om te leer dans. Dieselfde geld vir dit wat akademiese teoloë doen, en dit is by uitstek om te lees en te skryf. My raad is, doen dit net. En ja, daar is 'n verleidelike breë weg, maar ook ' verleidelike té smalle weg (soos die prent wat in my ouma se huis gehang het). Die breë weg is verbruikerisme en dat meer akademiese uitsette altyd beter is. Die té smalle weg is om uit vrees vir die breë weg uiteindelik niks te doen en nie deel te wees van die voorgaande teologiese gesprek nie. Om kritiek te kan uitdeel, moet jy saamspeel sodat jy ook kritiek kan ontvang. Ek glo ons moet akademiese Anglikane wees, dus die via media bewandel, die middeweg soek tussen kwantitatief en kwalitatief, tussen te veel en te min. En daardie middeweg het ons in ons eie dag ook nodig wat die inhoud van ons werk betref. Ons is in ' era wat die maklike weë van ekstremisme en populisme na slegs een kant toe, ook in teologiese nadenke, gekies word en dit help ons min. Ons het sinvolle teologie nodig wat uiterste posisies vermy en hermeneuties soepel bly.

ML: Wat is die rol en verantwoordelikheid van Wit manlike akademici in Suid-Afrika?

CW: Ek kan hierdie vraag net vir myself beantwoord. Die enigste gemene deler, glo ek, wat Wit manlike akademici in Suid-Afrika het, is die feit dat ons, of ons lus is of nie, hierdie vraag wat jy aan my stel wél moet beantwoord. In my akademiese werk het ek nogal baie empiriese veldwerk gedoen wat onder meer behels het dat ek in Afrika Onafhanklike kerke vele eredienste bygewoon en gedokumenteer het. Oor my aanwesigheid daar as 'n Wit (gereformeerde) praktiese teoloog het ek lank nagedink en uiteindelik besef dat ek wat ek ' spiritualiteit van liminaliteit noem, benodig om daar te mag wees.

Liminaliteit waarna ek vroeër reeds verwys het, gaan oor op die drumpel wees en dui op die "heilige grond" in ' oorgangsritueel, maar dis ook ' baie ongemaklike plek om te wees waar jy van mag en eertydse rolle ontneem is. Ek dink Wit mans in die akademie in ons land is so bietjie tussen-in, ons is op ' drumpel, bykans soos Antjie Krog se tongvis-metafoor in A change of tongue waar ons soos daardie tongvisse, diere wat uit dieper water kom en nou aanpas in vlakwater, ook aanpas in nuwe omstandighede. En ons benodig 'n nuwe tongval, ' nuwe wyse van teenwoordig wees in ruimtes wat verander het. Dis nie altyd lekker nie, maar ek dink ons moet dit gewoon omhels en weet dat ons iets het om by te dra, maar op die oomblik veral ook weet dat daar sake is waaroor ek nie nou 'n bydrae kan lewer nie. In vele opsigte is my groot bydrae om soms in die liminaliteit te sit en gevorm te word. Dit vra vir 'n spiritualiteit van liminaliteit. En om dan wanneer die tyd reg is met onderskeiding weer by te dra. Soos jy kan hoor, weet ek eintlik nie wat om te antwoord nie, wat vir my persoonlik en vir eers die regte antwoord is.

ML: Watter projekte is tans in die pyplyn en kan ons uitsien om binnekort te lees?

CW: Ek het die voorreg gehad om saam met Birgit Weyel, Wilhelm Gräb, en Immanuel Lartey mederedakteur te wees van die nuwe International Handbook of Practical Theology. Die lywige boek met meer as sestig hoofstukke verskyn vroeg in 2022 by De Gruyter in Berlyn. Daar is ook ' storie waaraan ek al vir meer as drie jaar karring en wat ek hoop om oor die volgende jaar of so af te rond.

 

 

Date published: 15 December 2021

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons