SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 suppl.28 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.39  supl.28 Bloemfontein  2019

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.sup28.11 

ARTICLES

 

Die Betrokkenheid van Kerk en Staat by die Bevestiging Van Huwelike met 'n Perspektief op Drie Gereformeerde Kerkordes

 

The Involvement of Church and State in Solemnising Marriages with a Reference to Three Reformed Church Orders

 

 

P. Strauss

Prof. P. Strauss, Navorsingsgenoot, Dept. Historiese en konstruktiewe teologie, Universiteit van die Vrystaat. E-mail: straussp@ufs.ac.za/;ORCID: https://orcid.org/0000-0002-5324-8363

 

 


ABSTRACT

There are two main reasons why the church, in general, became involved in the solemnising of marriages: the history of the church and, with it, especially the involvement of the Roman Catholic Church in the Middle Ages as the church of the Western World in this regard and theologically based principles. Following the history of the Reformed churches of The Netherlands and taking three church orders in the Dutch Reformed tradition into consideration, the Dutch Synod of Emden (1571) coined a lasting phrase on marriages. It proclaimed that the solemnising of marriages is partly the task of the church and partly that of the state. The church should be involved, because a marriage should be "in Christ" and according to the principles of the Bible. In His covenant of grace as a key element of being a church, God uses marriage and family as his points of departure to relate to people. As the institution of justice in society, the state should settle the legal aspects of marriage. On the latter, and if justice is needed in the case of a certain marriage, the state should have the final say.

Keywords: Marriages in Christ, Pastoral obligation, State and adultery


Trefwoorde: Huwelikke in Christus, Pastorale verantwoordelikheid, Staat en egbreuk


 

 

1. INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

Die geskiedenis van die Westerse en Gereformeerde wêreld vertoon geen eenvormigheid oor die betrokkenheid van "die kerk" as instelling én "die staat" met sy instellings by die sluiting of bevestiging van huwelike nie. In 'n verwysing daarna uiter die Algemene Sinode van 2011 van die Ned Geref Kerk, na baie jare van vaste gebruike, 'n nuwe onsekerheid of twyfel oor die saak. Hierdie Sinode noem die sluiting van 'n Christelike huwelik 'n vaste ooreenkoms tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag,

geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as 'n wettige huwelik (NGK 2011:96, my beklemtoning, PS).

Die sinsnedes "sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges" en "verkieslik erken deur die staat as 'n wettige huwelik" bevat 'n neiging tot relativering in beide sake wat vreemd is aan die Ned Geref Kerk van vroeër. Hierdie formulering kom in 'n tyd waarin die Ned Geref Kerk op algemene sinodale vlak ook in ander sake neig tot relativering, eie aan die post-modernisme (Strauss 2015:102). Immers, "so ver as moontlik" en "verkieslik" laat ruimte vir meer moontlikhede en teenoorstaande oortuigings in dié saak as die moontlikheid waarna verwys word.

Die kwessie van huweliksluiting land, vanweë die Rooms-Katolieke betrokkenheid daarby, ook in die skoot van die kerke van die 16de-eeuse Reformasie en daarom van die ou Gereformeerde Kerk in Nederland. Die Reformasie was immers 'n geestelike en fisiese ontworsteling aan die Roomse Kerk en 'n duidelike opstelling teenoor hierdie kerk, sy leer en sy gebruike. 'n Leer wat implikasies vir die hele samelewing het met die kerk, deur Rome gesien, die Christelike deel en kroon van die samelewing (De Jong 1987:132).

In die Roomse Kerk word huweliksluiting mettertyd 'n internkerklike saak met publieke gevolge. In die Middeleeue word die toetrede tot die huwelik deur 'n ooreenkoms of 'n verbond kerklik gereël en as sodanig deur die staat as die enigste wetlike weg daartoe erken. Vir Rome word huweliksluiting onder die invloed van Petrus Lombardus (oorlede 1160) een van sewe sakramente (Schulze 1978:175). Om boonop wetlik in die huwelik bevestig te word, geskied deur 'n kerklike sakrament wat ex opere operato, dit is bloot deur die werking daarvan, genade in die ontvanger instort (Nauta 1971:302; Schulze 1978:176-177). 'n Saak wat hierdie kerk grond op Efesiërs 5:32 waarin Paulus die sluiting van 'n huwelik -netso sonder byvoeging - vergelyk met die verhouding van Christus met sy kerk (Spoelstra 1989:376). Op dieselfde wyse word die bevestiging van die priester in die amp by Rome omvorm tot die sakrament van die priesterwyding, terwyl die openbare belydenis van geloof met opname in die belydende deel van die gemeente deur die sakrament van die konfirmasie geskied - 'n sakrament wat Rome net een maal aan iemand bedien (Hovers 2008:1172; Lategan 2008:952). Die Gereformeerdes se teruggryp na slegs twee sakramente, naamlik die doop en die nagmaal, het in hierdie klimaat gevra om alternatiewe in hul antwoord op die behoefte aan "wettige" plaasvervangers vir Roomse gebruike.

Behalwe 'n prinsipiële of Bybelse oorweging, het die kerkgeskiedenis hiermee die kwessie van huweliksluiting op die tafel van die Gereformeerde kerke geplaas.

Twee groot geestesstrominge sou egter ruk aan die kerklike opeising van huweliksluiting: die Reformasie van die 1500's en die Verligting van 1750 en daarna. Sonder om die betrokkenheid van die kerk by huweliksluiting af te wys, was die gereformeerde kerkregtelike Voetius (1589-1676) (De Jong 1987:190) van mening dat huweliksluiting meer 'n saak van die staatsowerheid as van die kerk is. Vir hom is dit beter dat 'n voornemende troupaartjie hul voorneme by 'n owerheidsfunksionaris aangee as by die "bedienaar van de kerk" (De Gier 1989:344). As 'n gevolg van die Verligting met sy klem op menseregte en gewetensvryheid, word huweliksluiting as 'n burgerlike of 'n staatsaangeleentheid ná die Franse Rewolusie van 1789 in Frankryk, met die skeiding tussen kerk en staat, in 1792 ingevoer. In 1797 volg die skeiding tussen kerk en staat in Nederland met 'n nuwe siviele regskode vir laasgenoemde. Die burgerlike alternatief vir die kerklike sluiting van huwelike word in 1848 ingestel (Jansen 1952:299). Wat vroeër die uitsluitlike voorreg van die staatsbevoorregte Gereformeerde Kerk was, was nou alle kerke beskore. Om chaos te voorkom, was die burgerlike of huweliksluiting deur die staat egter verpligtend. Daarna kon die kerklike huweliksbevestiging of -inseëning van dit wat staatsregtelik gereël is, plaasvind (De Gier 1989:245). Beide Voetius en die Verligting stuit met hierdie menings op die regskant van huweliksluiting as 'n skeppingsgegewe wat die betrokkenheid van die staat - op 'n beslissende wyse - as dié regsorgaan in die samelewing, impliseer (Kruger et al. 1966:413; Fowler 1988:28-38). In Nederland moes elke predikant of pastoor daarvan oortuig wees dat die burgerlike huweliksluiting reeds plaasgevind het, voordat die kerklike bevestiging kon plaasvind (De Gier 1989: 345).

Hierdie kort historiese flits stel ons voor die probleem wat in hierdie artikel ondersoek word, naamlik die vraag na die aard, indien wel, van die betrokkenheid van kerk en staat by huweliksluiting. 'n Saak ten opsigte waarvan daar na drie gereformeerde Kerkordes in die loop van die geskiedenis gekyk word omdat die aanpak van die ondersoek juis kerkregtelik-kerkordelik van aard is. Die Kerkordes wat in die visier kom, hou verband met die kerklik-teologiese agtergrond van ons jubilaris, prof. Pieter Verster. Die Nederlands-gereformeerde of Dordtse agtergrond van die Kerkordes sal hom interesseer omdat dit uit dieselfde dampkring as die Drie Formuliere van Eenheid kom. Belydenisskrifte wat hy saam met die Ned Geref Kerk aanvaar "omdat" (quia) hulle met die Skrif ooreenkom in die geloof wat hulle formuleer en bely (NGK 1998:414-415; Strauss 2006:664-665). Die Kerkordes ter sprake is die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO 1619, afgedruk in Pont 1981:176-186), die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959 soos gewysig (GKN-KO 1959, vervat in Nauta 1971) en die Kerkorde van 1964 van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika soos gewysig (GKSA-KO, vervat in Kruger et al. 1966; Spoelstra 1989; Visser 1999; CJBF 2015).

'n Verdere verkenning van die historiese agtergronde van die gereformeerde kerke in Nederland en in Suid-Afrika word aangebied. Daarna volg 'n ontleding van die relevante inhoud of artikels van die drie Kerkordes in hierdie konteks. Die tema word deurentyd hanteer met 'n eie interpretasie en beskouing van die kwessie.

 

2. HISTORIESE FLITSE AS AGTERGROND: NEDERLAND EN SUID-AFRIKA

Hoewel die Reformasie hom in leer en lewe aan die Rooms-Katolieke Kerk ontworstel het, sou sekere gebruike met 'n nuwe inhoud steeds na die Roomse gebruike teruggryp. Die Roomse kerk was tot in daardie stadium immers die enigste voorbeeld waarna hulle kon verwys of waarmee hulle hulself kon vergelyk. Die Roomse priester het die sakrament van die huwelik as 'n kerklike sakrament en deur die staat erken as wettig, bedien. Na die Reformasie het die predikante voortgegaan om huwelike as 'n publieke, wettige aksie, te sluit. Tog sou daar in Nederland hierin 'n wending kom.

In 1571 stel die Nasionale Sinode van Emden dat die bevestiging van 'n huwelik "ten dele kerklijk" en "ten dele politiek" is. Langsamerhand groei die oortuiging onder gereformeerdes dat die huwelik as "zodanig" op die terrein van die algemene lewe of algemene genade (gemene gratie à la Abraham Kuyper) (Kuyper, A. [s.a.]:121) lê en dat die voltrekking van 'n huwelik die taak van die staatsowerheid is. In huweliksverwante sake soos egskeiding en verbode grade van bloedverwantskap met die oog op 'n huwelik wil die kerke advies gee, maar die staatsowerheid moet regtens beslis. Daarom dat die Gereformeerde Kerke telkens by die owerheid aandring op 'n algemene huwelikswet. In 1848 aanvaar die staat in Nederland dat die sluiting van huwelike sy taak is. Hy maak 'n onderskeid tussen huweliksluiting of die wettiging van 'n huwelik as 'n staatstaak en die kerklike bevestiging daarvan. Volgens Jansen (1952:299) moes die predikant voor die bevestiging of inseëning van die huwelik seker maak dat die staatsluiting daarvan afgehandel is. Die wettiging van 'n huwelik moes die inseëning daarvan voorafgaan. Die kerklike bevestiging was immers die inseëning van 'n nou bestaande, wetlik erkende huwelik.

Hoewel die kerklike bevestiging van die staatsluiting van 'n huwelik afhanklik was, het die Sinode van Utrecht van 1905 van die Gereformeerde Kerke in Nederland in sy Kerkorde bepaal dat hierdie kerklike bevestiging van die huwelik "evenwel behoort te geschieden". Die kerklike handeling is volgens die Sinode nie die werklike sluiting nie, maar het tog 'n eie betekenis: dit gaan om die "officiële sanctie" van die huwelik soos gekoppel aan die genadeverbond en om gebede vir God se seën op die verhouding. Nauta (1971:303) oordeel dat die besluit van die owerheid om self oor te gaan tot die staatkundige sluiting van huwelike, die saak uit die hande van die kerk geneem het en aan hom net die ruimte gelaat het om daarby aan te sluit. Die beslissing oor 'n wettige huwelik het volgens hom nie by die kerkraad gelê nie, maar by die staat.

Tog oordeel Nauta (1971:303) dat die kerk hom nie as 'n "lijdelijke toeschouwer" in die saak hoef te gedra nie. Hy het 'n herderlike taak wat niemand in 'n demokratiese staat hom kan verhinder nie. Dit gaan oor 'n toesientaak wat verantwoordelike toesig impliseer. 'n Toesig wat vermaning en die weiering van enige medewerking of goedkeuring kan beteken. Hoewel hierdie toesig die huwelik nie wetlik kan verhoed nie, kan 'n huwelik vanuit so 'n klimaat met 'n agterstand begin. Daarby moet die toesien gemik wees op die gehoorsaming van God se gebooie in die huwelik en die kerklike inseëning daarvan. Nauta gee sy inligting in 1971 as agtergrond vir die GKN-KO van 1959 en volgende jare.

Na die koms van Jan van Riebeeck en sy Hollanders na die Kaap in 1652, is die sluiting van huwelike gereël volgens die Politieke Ordonnansie van die Nederlandse Provinsie Holland. Die sekretaris van die Politieke Raad het huwelike voltrek tot met die koms van die eerste permanente predikant na die Kaap in 1665. Hierdie predikant was 'n besoldigde amptenaar van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie wat in die Kaap aan bewind was. Tot 1676 moes die Politieke Raad paartjies wat wil trou, verlof gee om hul gebooie te laat loop en so van hul voorneme aan die gemeenskap kennis te gee.1 Die liberaal-humanistiese Kommissaris De Mist bepaal met sy huwelikswette in 1804 en 1805 egter dat huwelike sonder enige godsdienstige seremonie deur die landdros en heemrade gesluit kan word én ook op ander plekke as Kaapstad kan plaasvind. Op 26 April 1806 herroep die nuwe Britse owerheid hierdie wette egter en bepaal hy op sy beurt dat net predikante huwelike kan bevestig. Burgerlike huweliksluitings word dus deur hierdie pro-Anglikaanse owerheid verbied. In 1860 word resident-magistrate egter huweliksbevestigers en in 1862 vervang die howe van magistrate die huwelikshowe. Die Kaapse ordonnansies geld sedert 1846 ook in Natal. In die Republiek van die Oranje-Vrystaat word van 1854 tot 1890 bepaal dat slegs predikante huwelike kan bevestig en dat 'n landdros die seremonie slegs in die geval waar daar nie 'n predikant beskikbaar is nie, kan oorneem. In 1899 word huweliksluiting net aan predikante en sendelinge wat deur die Uitvoerende Raad daartoe gemagtig is, toevertrou. In die Zuid-Afrikaansche Republiek of ou Transvaal kon landdroste en dominees wat deur die staatsowerheid gemagtig is, huwelike sluit. In alle gevalle is huweliksluiting voorafgegaan deur gebooie wat meestal drie keer (in die kerk op drie agtereenvolgende Sondae) geloop het (Visser 1999:280). Na die aanbreek van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is hierdie wette en reelings in die vier provinsies gehandhaaf totdat die Huwelikswet van 1961 dit vervang het. 'n Wet wat die sluiting van huwelike soos in die ou Transvaal hanteer (Kruger et al. 1966:415-417).

Daarmee gee die Huwelikswet van 1961 in Suid-Afrika, soos gewysig, ruimte aan kerk en staat om by huweliksluiting betrokke te wees. Omdat huweliksluiting saamloop met 'n huweliksooreenkoms en 'n nuwe regs-erkende figuur tussen twee egliede skep, dra 'n huweliksvoorwaarde-kontrak of 'n huwelik binne gemeenskap van goedere 'n regskarakter waarvan die essensiële inhoud deur die staat bepaal word. Dit bring mee dat predikante as huweliksbevestigers deur die staat goedgekeur moet word en die voorgeskrewe prosedure soos deur die staat vasgestel, moet nakom. Predikante kan nie wettige huwelike sluit buite die huweliks-wet om en sonder die voltooiing van die dokumente wat die staat

daarvoor beskikbaar stel nie. Hierdie stukke sluit die gestandardiseerde huweliksregister, die vorm vir toestemming deur die ouers of voogde tot 'n huwelik vir minderjariges en bewys van egskeiding indien van toepassing, in. Die kerk kan sy eie siening van die huwelik daarop nahou, maar vir 'n erkende, wettige huweliksluiting in Suid-Afrika moet kerklike persone soos predikante die wetlik voorgeskrewe prosedure van die staat volg. Indien die huwelik ontspoor en daar regsgevolge te midde van egskeiding of struwelinge is, kan die staat deur sy instrumente vir beregtiging in so 'n geval regspreek en die egliede dwing - deur sy beheer oor die histories-fisiese swaardmag - om mekaar nie in hierdie gebroke sondige bedeling te verontreg nie. Met sy humanisties-indiwidualistiese grondwet van 1996 - 'n grondwet met sterk indiwiduele vryheid én vryheid van assosiasie en spraak2 - sal 'n wyse Suid-Afrikaanse owerheid die kerk of predikante nie dwing om huwelike te bevestig wat hulle in beginsel nie kan goedkeur nie. Die Huwelikswet van 1961 soos gewysig maak daarom ruimte vir "geloofsbesware" wat predikante kan verhinder om sekere huwelike te bevestig. So 'n geval is dieselfde geslag huwelike wat tans in Suid-Afrika wetlik erken word en moontlik is (Muller 2008:470-471).

Die vraag is nou: hoe het DKO 1619, GKN-KO 1959 en GKSA-KO 1964 hierdie situasie verreken? Hoe het hierdie Kerkordes die omstandighede of Sitz im Leben ten opsigte van kerk en staat en die sluiting van huwelike, gereflekteer? 'n Aanvaarbare gereformeerde kerkorde is immers rigtinggewend vir die orde van die kerk maar ook wysigbaar en vertoon by die betrokke bepaling dikwels iets van die tyd waarin dit gemaak word (Strauss 2010:15-20).

 

3. DKO 1619 EN HUWELIKSLUITING

Dit is reeds aangetoon dat die algemene of katolieke Christelike kerk in sy geskiedenis deurgaans aandag aan huwelik en gesin gegee het. Die kerk is 'n eenheidsgemeenskap van Christengelowiges wat hul gemeenskaplike Christelike geloof terugvoer na die wilsbesluit van God die Vader, deur bemiddeling van sy Seun Jesus Christus en bewerk deur God die Heilige Gees (Efes. 1:3-14; Strauss 2010:81-83). 'n Geloof wat verwoord word in sy geloofsbelydenisse wat die akkoord of geestelike basis van 'n lewende geloofsgemeenskap is: geloofsbelydenisse van die kerk as 'n tipiese geloofsverband. Uit hierdie kernagtige beskrywing van kerkwees spruit 'n noue verbintenis met huwelik en gesin. Dit blyk uit die gesinsmatige karakter van die doop, 'n sakrament of teken en seël van God se genadeverbond met gelowige ouers en hul kinders en 'n sleutelaspek van kerkwees. Dit gaan hier oor sy eie mense of die gelowiges met wie hy in hul gesinne hierdie verbond sluit. Soos huwelik en gesin normaalweg die biologiese en geestelike kern van 'n samelewing vorm, so vorm huwelik en gesin in die Christelike geloofsgemeenskap belangrike fokusareas (De Klerk 1982:112).

Dit beteken dat die geskiedenis van die kerk waarin Rome die huwelik tot 'n sakrament verhef het én die huwelik as prinsipieel 'n kerklike fokusarea, huweliksluiting of -bevestiging op die agenda van die Nederlandse Gereformeerde Kerk van 1618-1619 geplaas het. Dat die opstellers van DKO 1619 en die Sinode van 1618-1619 wat hierdie orde moes goedkeur, gevolglik moes besluit oor die houding van die kerk in die saak in die Nederlandse omstandighede van destyds. DKO 1619 moes, soos sy voorgangers sedert die Konvent van Wezel in 1568 en die Nasionale Sinode van Emden in 1571 (Pont 1981:87, 105-106), bepaal hoe die Gereformeerde Kerk met sy dominees wat daaraan gewoond is om huwelike te bevestig, op staatsreëlings in dié verband gaan reageer. Die woordjie "reageer" verklaar by voorbaat dat die staatsowerheid beslis en dat die kerk daarop reageer of, soos destyds al die gebruik was, dat die kerk die staat se reëlings aanvaar en in berekening bring om te besluit wat sy eie houding sal wees.

DKO 1619 vorm 'n kulminasie- of afsnypunt in die kerkordes van die Gereformeerde Kerk in Nederland van 1568 tot 1619. 'n Kerkorde van 'n bepaalde sinode bou op die vorige een en dien as 'n hersiening daarvan. Iets wat normaalweg in gereformeerde kerke gebeur (sien Rutgers 1971).

Ten opsigte van die huwelik en die Gereformeerde Kerk se benadering daarteenoor, is sy voorgaande Kerkordes meer uitvoerig as DKO 1619. Die Konvent van Wezel in 1568 wy paragrawe 98 tot 101 van sy Kerkorde of, soos dit aanvanklik gedoen is, acta of handelinge aan die huwelik. Hierin gaan dit oor die gebooie laat loop as kennis van 'n voorgenome huwelik, dat voornemende egpare met hul ouers of voogde voor die predikant en twee ouderlinge verskyn, asook troudae in die gemeente en egskeiding (Pont 1981:87). Emden stel sy bepalings vir die huwelik in paragrawe 22 tot 24. Weer gaan dit oor gebooie wat op drie Sondae moet loop en dat die betrokke predikant en een ouderling moet seker maak van die paartjie se gehegtheid aan Bybelse beginsels vir die huwelik (Pont 1981:105-106). Die Nasionale Sinode van Dordtrecht van 1578 wy paragrawe 78 tot 91 aan die huwelik. Van al die Nederlands-gereformeerde Sinodes van 1571 tot 1619 is hy hieroor die mees uitvoerige. Dordt 1578 glo dat huweliksbeloftes voor getuies in die openbaar afgelê word, dat minderjariges ("onderjarigen") die toestemming van hul ouers of voogde vir huweliksluiting moet hê, dat vreemdelinge wat in "ons" kerk trou, "wettelijke getuigenis" moet hê dat hulle "vrij zijn" om te trou, dat sekere grade van bloedverwantskap huwelike onmoontlik maak, dat egskeiding kerklik gesproke nie 'n opsie is nie, dat gebooie oor drie Sondae moet loop en dat weduwees verplig is om 'n roujaar van 9 maande deur te gaan voor hulle weer trou (Pont 1981:140-141). Op sy beurt, aanvaar die Nasionale Sinode van Den Haag van 1586 Dathenus se huweliksformulier uit 1566 (Kruger et al. 1966:415). Hierdie formulier is 'n Nederlandse vertaling van die Formulier van die Paltz wat die spore van Calvyn, Micron en Farel dra wat aldrie diep spore in die Reformasie trap (Pont 1981:162).

Uit hierdie kort geskiedenis van die kerkordelike ontwikkeling in gereformeerde Nederland rondom huweliksluiting, blyk enkele sake wat vir baie jare in baie kerke in verskillende lande rigtinggewend sou wees.

Opvallend is die loop van huweliksgebooie op drie Sondae. In sy kern beteken dit dat die huwelik, soos die doop van kinders van gelowige ouers, ook 'n saak vir die gemeente is. Jy trou nie op 'n eiland nie en moet jou as 'n gelowige nie aan jou onmiddellike geloofsgemeenskap onttrek nie. Die kerk is as die gemeente betrokke by huweliksluiting. Daarby is dit 'n kerkordelike feit dat die ouers of voogde van 'n paartjie moet toestem tot die huwelik. 'n Paartjie wat kerklik getrou is, het normaalweg deel aan die genadeverbond en daarom word hul ouers deur wie hulle by hierdie verbond betrek is, gevra om by te staan as getuies by hul huwelik. Hoewel die kerkraad, predikant en ouderlinge geen wetlike reg het om 'n huwelik te verhoed nie, kan hulle pastorale advies nuttig wees. Waarop hierdie Kerkordes die klem lê, is dat 'n huwelik moet voldoen aan die Bybelse beginsels vir 'n verhouding. Die kerk het immers 'n profetiese roeping om dit duidelik te sê. Daarby erken die kerk die regsfeit van grade van verbode bloedverwantskap en 'n wetlik erkende, maar ongelukkige egskeiding wat agterna kerklik en pastoraal hanteer moet word. Boonop vra die kerk 'n tydperk van rou oor die dood van 'n huweliksmaat wat die res van die gemeente van die egtheid van die rou kan oortuig. Natuurlik is 'n 9-maande routyd willekeurig vasgestel. 'n Situasie waarvan die praktyk aan die Kaap na 1652 ook getuig, is dat elke provinsie in Nederland sy eie huwelikswette maak en dat die kerk wat hierop met sy eie gebruike reageer, sy eie houding dus nie aan 'n eenvormige stelsel en daarom self eenvormig, kon koppel nie.

DKO 1619 gee bepalings vir sy optrede in huweliksluiting in een artikel, artikel 70, met die opskrif "huwelijks-ordonnantiën". Die feit dat ordonnansies 'n staatsaak is, laat ten aanvang reeds die vermoede ontstaan dat die hoofsaak hier die reaksie van die Gereformeerde Kerk op die maatreëls van die staat of Nederlandse Regering is. Dat die staat in die saak beslis en dat die kerk reageer, profeties getuig en in die gemeenskap van die gelowiges herdelik versorgend omsien na die huwelike van lidmate. Dat die kerk gebonde is aan die ter sake wette van die staat. Dat die staat sy burgers kan dwing as dit moet en die konsekwensies daarvan kan vat en dat die kerk getuig en oortuig as dit moet én daarom hoopvol is dat dit suksesvol sal wees.

DKO 1619 artikel 70 bepaal, volgens 'n vertaling in Spoelstra (Spoelstra 1989:377):

Aangesien bevind word dat tot nog toe verskillende gebruike in huweliksake in omloop is en dit goed sou wees as eenvormigheid verkry sou kon word, moet die kerke by die gebruik bly wat met Gods Woord en vroeëre kerklike bepalinge ooreenstem totdat die hoë owerheid, wat daartoe versoek sal word, 'n algemene ordonnansie met advies van die kerkdienaars, uitgevaardig het.

Twee opmerkings of waarnemings is hier ter sake. Eerstens, gee DKO 1619 geen blyke van die bepalings oor huweliksbevestiging in die voorgaande - hierdie Kerkordes vorm 'n historiese lyn na DKO 1619 -Nederlands-gereformeerde Kerkordes nie (Kruger et al. 1966:412; Spoelstra 1989:375; De Gier 1989:344). Die rede hiervoor is waarskynlik dat die gebruik van hul bepalings teen hierdie tyd ingeburger én vanselfsprekend is en in die Gereformeerde Kerk in Nederland uitgevoer word. Dit gaan dus om 'n vaste, onbestrede gebruik. DKO 1619 artikel 70 toon oor die huwelik dieselfde neiging as DKO 1619 in sy geheel oor die belydenisskrifte van die kerk. Die Drie Formuliere van Eenheid word nêrens kerkordelik vasgelê nie, omdat die Nasionale Sinode in 1619 na sy oorweging van die Dordtse Leerreëls én die aanvaarding van die Nederlandse Geloofsbelydenis en Heidelbergse Kategismus wat reeds deur vorige sinodes aanvaar is, dit nie meer nodig ag nie. Almal weet daarvan. Met laasgenoemde aanvaar as die Twee Formuliere van Eenheid, maak die koms van die nuwe Leerreëls in Mei 1619 dit die Drie Formuliere van Eenheid (Kuyper, H. [s.a.]:186-187; Strauss 2006:651-656).

Tweedens, toon DKO 1619 met hierdie bepaling dat hy die regs- of wettige kant van huweliksluiting deur die staat aanvaar en vanuit die beginsels van die Reformasie aan die owerheid oorlaat. Volgens 'n na-Reformatoriese gebruik is die kerk profeties en pastoraal ondersteunend in die huwelik wat vir sy wettiging van die staat afhanklik is. Dit gaan in samelewings om die staat as 'n regsverband en die kerk as 'n geloofsverband - beide met 'n eie aard deur God beskik en beide ten diepste gebonde aan die beginsels of grondlyne van die Woord van God (Sizoo [s.a.] III:555-557, 574; Kock 1975:45; Strauss 2010:126). Die sluiting van 'n huwelik is nie, soos by Rome, 'n kerklike sakrament met aanvaarde - deur die staat en die gemeenskap - regsgevolge nie. Die kerk kan prinsipiële advies gee en pastoraal begelei, maar die staat beslis hoe en wanneer die huwelik as wettig erken word. Spoelstra betoog dat die gemeente belang het by huweliksluiting in hul midde en dat kerklike bedienaars in die prediking, kategese en pastoraat gelowiges moet opbou om "in die Here" te trou. Die wettiging van 'n huwelik gebeur egter deur die nakoming van 'n staatswet (Spoelstra 1989:377). Kruger et al. (1966:414) oordeel dat die staat die "regsgeldigheid" van die huwelik reël en dat die kerklike funksie afgestem is op die "karakter" van die verhouding, voor, tydens en na die bevestiging van die huwelik. In ooreenstemming met die Dordtse opvatting trou mense nie om net met mekaar saam te lewe nie, maar om "heilig" met mekaar saam te lewe. Die kwessie van "heilig" lewe word verbind aan die intrek van die huwelik in die genadeverbond van die Here met sy volk: aan die gehoorsaming van die gebooie van die Here deur Sy verbondsvolk in antwoord op die genadebeloftes en eise van die Here God (Kock 1975:243-144). Anders word die kerklike funksie by huweliksluiting "of oorbodig, of 'n blote versiering" (Kruger et al. 1966:414).

In sy kommentaar op DKO 1619 voer De Gier aan dat artikel 70 die visie verwoord dat die voltrekking of bevestiging van 'n huwelik die taak van die staatsowerheid is. Die outeur van DKO 1619, die Nasionale Sinode van Dordrecht van die Gereformeerde Kerk in Nederland, het met hierdie artikel laat blyk dat hy van sy owerheid wetgewing of 'n "generale ordonnansie" verwag wat van kerklike advies gebruik maak en die regsaspekte rondom huweliksluiting reël: die wettige huweliksluiting, egskeiding en verbode grade van bloedverwantskap. Die owerheid moet beslis nie bepalinge vir die huwelik maak sonder om die kerk te raadpleeg nie (De Gier 1989:345-346). Hoewel die Gereformeerde Kerk se beproefde gebruike insake huweliksluiting klop met God se Woord én wettig is, is daar 'n "behoorlijke" behoefte aan eenvormige prosedure. 'n Saak waarin die owerheid die leiding moet neem (Nauta 1971:302). Volgens De Gier is "die historische ontwikkeling" sedertdien "echter een andere geworden". Die moderne demokratiese staat het al die reëlings vir huwelike in sy gebied in sy eie hande geneem "en de kerk heeft weinig anders te doen dan zieh daarbij aan te sluiten". 'n Sinsnede wat De Gier (1989:346) aan Nauta (1971:303) ontleen. Die kerk kan wel probeer sorg of toesien dat sy gemeentelede hul huwelike inrig volgens die gebooie van die Here. Daarby kan die kerk die kerklike bevestiging agterna van 'n huwelik weier en in gevalle van ontrou aan die gebooie van die Here, tug toepas. Lidmate kan immers die wette van die staat eerbiedig, maar hulle verset teen die gebooie van die Here. Tereg sluit De Gier sy betoog af met die slotsom dat die huwelik 'n wettige egverbintenis en 'n formeel bekragtigde lewensgemeenskap tussen 'n man en 'n vrou is wat op die troudag voltrek word deur 'n amptenaar (of 'n staatserkende bevoegde soos 'n predikant, PS) van die burgerstand. In Nederland kan die kerklike bevestiging daarna volg (De Gier 1989:346-348).

 

4. GKN-KO 1959 EN HUWELIKSLUITING

Die nuwe Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959, 'n Kerkorde wat die DKO aangepas in 'n nuwe tyd wou wees (NGK 1957:73-74; Langner 2007:87), vertoon steeds trekke van die 16de-eeuse Nederlands-gereformeerde kerkordes. Hierdie trekke blyk uit die verwoording van die artikel oor huweliksbevestiging en sekere grondlyne of beginsels wat in hierdie verband opnuut gestel word.

GKN-KO artikel 86 bepaal dat kerkrade toesien dat gemeentelede huwelike sluit met die inagneming van God se gebooie en 'n voldoening aan die wetlike vereistes van die staatsowerheid in Nederland. Die wettige aangaan of sluiting van 'n huwelik moet daarna in 'n kerkdiens bevestig word waarin die vasgestelde formulier gebruik word.

Begrippe soos die "gebooie van God" en "vasgestelde formulier" herinner aan die gedagtes van die Dordtse gereformeerdes uit die 16deeeu. Wat onderliggend maar duidelik aanvaar word, is die Nasionale Sinode van Emden van 1571 se stellling dat die bevestiging van 'n huwelik gedeeltelik kerklik en gedeeltelik staatkundig is. Die implikasie hiervan is dat kerk en staat, elkeen na sy eie aard, by huweliksluiting betrokke is. GKN-KO volg die heersende Nederlandse praktyk dat die kerk die sluiting van 'n huwelik agterna kerklik bevestig. Die argument hiervoor is dat jy nie iets kan bevestig wat nie - reeds - wettig bestaan nie.

Volgens Nauta in sy verklaring van GKN-KO 1959 beteken bepaling 86 dat gemeentelede in hul huwelike met God se gebooie rekening moet hou, dat die kerk daarby betrokke moet bly en die huwelike in sy midde profeties en pastoraal moet begelei. So 'n profeties-pastorale benadering kan vermaning en tug inhou en impliseer geensins dat die kerk sy taak ten opsigte van huweliksluiting én die moontlike skeefloop daarvan, prysgee nie. Daar is reeds op kerklike optrede by huweliksontsporing gewys. Boonop bind GKN-KO die Gereformeerde Kerke in Nederland aan die huwelikswette van die staat omdat hierdie prosedure uit 'n reformatoriese oogpunt 'n moontlikheid vir huweliksluiting is. Die "kerkdienst" waarin GKN-KO huweliksluiting agterna bevestig, bevestig twee sake. Hierdie diens is nie noodwendig 'n erediens nie, hoewel die bevestiging ook tydens 'n erediens kan plaasvind, maar 'n diens waarin die egliede en omstanders met God se Woord en gebooie oor die huwelik gekonfronteer en begelei word. Daarom moet 'n bedienaar van die Woord die huwelik agterna bevestig, moet die preek verband hou met 'n gepaste formulier vanuit kerkverband of van die generale sinode en gerig wees op die aard van die geleentheid. 'n Christelike huwelik sonder kerklike bevestiging of inseëning is ondenkbaar. Vir Nauta is die huweliksdiens nie 'n amptelike erediens van die gemeente nie omdat die troue nie 'n gemeentelike aangeleentheid nie, maar 'n geleentheid vir die troupaartjie en hul omstanders is. So 'n bevestigingsdiens van die Christelike huwelik is 'n moet en vir troupaartjies onmisbaar (Nauta 1971:302-305).

Jansen wys daarop dat die Generale Sinode van Utrecht in 1905 van die Gereformeerde Kerke in Nederland geoordeel het dat die kerklike bevestiging van die staatsbepaalde huweliksluiting "evenwel behoort te geschieden". Volgens hom ontstaan die huwelik nie deur die kerklike bevestiging nie, maar tog het laasgenoemde "een eigen betekenis". Die kerklike bevestiging is die amptelike "sanctie" of erkenning van die huwelik vanuit die terrein van die genadeverbond en kerk én die afbid van God se seën op hierdie huwelik. Die huweliksformulier van Petrus Dathenus uit 1566 kan nie net so gebruik word nie omdat huweliksluiting destyds ten volle aan die kerk oorgelaat is en die betekenis van die nuwe kerklike bevestiging in 'n nuwe formulier uitgedruk moet word. Gekoppel aan die kerklike bevestiging daarvan en die begeleiding van die huwelikspaartjie in die gebooie van God, moet hierdie bevestiging van huwelike, soos die sluiting van die huwelik vroeër, aan die bedienaar van die Woord opgedra word. Volgens Jansen kan so 'n huweliksbevestiging steeds in die kerk afgekondig word omdat daar besware teen die kerklike bevestiging van 'n huwelik kan wees. Daarby bestaan daar in die kerk 'n sterk oortuiging dat verbode grade van bloedverwantskap 'n huwelik ook kerklik verbode of onmoontlik maak (Jansen 1952:299-300).

Hoewel die staat beheer oor die huweliksluiting in Nederland oorgeneem het, bly die Gereformeerde Kerke staan by Emden se stelling dat huweliksluiting gedeeltelik kerklik en gedeeltelik staatsgekoppel is: dat hierdie twee samelewingsinstansies dit hanteer, elkeen na sy eie aard, naas en aanvullend tot mekaar.

 

5. GKSA-KO 1964 SOOS GEWYSIG EN HUWELIKSLUITING

Artikel 70 bevat GKSA-KO se enkele bepaling oor die huwelik. Die nummerering sowel as die feit van 'n enkele bepaling, is Dordts. Hoewel GKSA-KO direk uit DKO 1619 ontwikkel het, wil hierdie Kerkorde die omstandighede van sy eie tyd verreken - juis omdat dit in die gees van DKO 1619 as 'n kerkorde eietyds wil wees (CJBF 2015:9; Strauss 2010:15-20).

GKSA-KO artikel 70 bepaal dat Kerkrade moet toesien dat die huwelik as 'n heilige verbintenis in die Here aangegaan word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is, 'n wysiging wat deur die Sinode van 1967 aanvaar is (CJBF 2015:33; Visser 1999:259).

Voor 1967 was daar in GKSA-KO artikel 70 geen byvoeglike of beskrywende naamwoord vir die huwelik as 'n verbintenis nie. Daarby wou GKSA-KO artikel 70 dat die "huwelikstaat voor die gemeente van Christus bevestig word". Die eertydse GKSA-KO aanvaar dus dat die huweliksdiens 'n gemeentelike aangeleentheid en daarom 'n erediens van die gemeente is. Van der Linde (1983:227-228) skryf dat dit "die bedoeling was dat dit in 'n gewone samekoms van die gemeente moet geskied". Uitsluitlike troudienste vir die egpaar en hul omstanders, ag hy nie in ooreenstemming met die ou artikel 70 nie. Volgens hom bevestig die bedienaar van die Woord 'n huwelik "onder toesig" van die kerkraad voor die gemeente, soos in 'n gewone erediens. Daarom loop die gebooie of voorafkennisgewing van die huwelik ook in die gemeente. Vir Van der Linde word die heiligheid van die huweliksluiting of troue verbind aan die goedkeuring van die ouers of voogde van die egliede en die teenwoordigheid van die gemeente. Hy maak daarvan voorwaardes vir 'n heilige huwelik.

Dit val egter te betwyfel of Van der Linde hiermee raakvat. In Efesiërs 5:22-33 wat hy as 'n verwysing vir die ou GKSA-KO artikel 70 aangee, lê die heiligheid van die Efesiërs in hul verkiesing en verlossing in en deur God-Drieënig (hul status as gelowiges in Christus, Efes. 1:1) en in hul gehoorsaamheid in die volle lewe voor God. 'n Gehoorsaamheid wat in Efesiërs 5 en 6 ook uitkom in hul verhoudinge in die huwelik, gesin, die huishouding, by die werk en die algemene lewe. Die heiligheid van die huwelik lê in die aard en styl van die verhouding en nie soseer in wie daarvoor toestemming gee en wie in die huweliksdiens teenwoordig is nie. Al sou Van der Linde betoog dat die toestemming van die ouers en die samekoms van die gemeente verpligte opdragte aan die egpaar is.

Aan die ander kant kan die toestemming van die ouers vir die huwelik en die teenwoordigheid van belanghebbendes gehandhaaf word sonder om van die huweliksdiens onoortuigend en geforseerd 'n gemeentesaak te maak. Spoelstra (1989:378) stel dit prontuit: "Die gaste ... kom nie as gemeente van God of met oog op 'n erediens saam nie".

Die beskrywing van die huwelik as 'n heilige verbintenis in GKSA-KO 1967 artikel 70 is waarskynlik 'n sinonieme verwoording van die gehoorsaming van sy gebooie "in die Here". 'n Raak beskrywende sinsnede of kerklike treffer wat in 1967 in artikel 70 nuut bykom en op "heilig" volg. GKSA-KO gee dus 'n uitdrukking wat die idee van 'n Christelike huwelik raak opsom met drie kort woorde: "in die Here". Teen die agtergrond van die geloofs-en verlossingswaarhede wat Paulus aan die gelowiges in Efese oordra, moet hul heiligheid sekerlik "in die Here" wees. Die Here wat hulle gekies het om in hom te glo en in en uit hom vir hom te lewe. 'n Gedagte wat Van der Linde nader aan die kol kon bring. Daarmee het die wysiging van GKSA-KO artikel 70 in 1967 die saak verryk.

Interessant genoeg word die woorde "voor die gemeente van Christus" nou weggelaat. Visser gee te kenne dat die Sinode van 1967 teen die verpligte erediens vir huweliksluiting gekies het, hoewel so iets steeds "tydens 'n erediens bevestig" mag word (Spoelstra 1989:378; Visser 1999:259). Waarmee Van der Linde (1983:227) wel raakvat, is sy opmerking dat die huwelik as 'n "heilige instelling van God" dienstig aan die verbond is omdat die Here sy Verbond met ons en met ons kinders oprig en die verbond in die huwelik afbeeld.

GKSA-KO artikel 70 bepaal ook dat Kerkrade moet toesien dat huwelike as heilige verbintenisse in die Here aangegaan word "volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is". Siende dat die GKSA die huweliksdiens nie meer as 'n gemeentelike erediens beskou nie, is dit 'n vraag hoe kerkrade hieraan gaan voldoen. Volgens Spoelstra (1989:378) tree die predikant boonop by 'n huweliksdiens as 'n "individuele ouderling pastoraal op". Die "individueel" los van die gemeente in 'n amptelike erediens kan sekerlik aanvaar word, maar die weglating van die profetiese kant van 'n bedienaar van die Woord vra om uitklaring.

Wat sake vir die kerke in Suid-Afrika vergemaklik, is die reëling van die owerheid dat predikante - soos magistrate - as huweliksbevestigers wat deur die staat aangestel word sodanig optree namens die staat. Huweliksbevestigers wat dus in hul bevestiging van huwelike aan die huwelikswet van die staat gebonde is. 'n Gebondenheid wat aan die leraar egter die ruimte laat om steeds die houding en standpunte van die eie kerk en kerklike seremonies wat nie bots met die huwelikswet nie, te implementeer (Spoelstra 1989:378).

 

6. SLOT

Die Sinode van Emden van 1571 van gereformeerde Nederland het raakgevat: huweliksluiting of die bevestiging van huwelike is gedeeltelik 'n kerklike en gedeeltelik 'n staatkundige aangeleentheid. Die staat sorg vir die regs of wetlike kant van 'n wettige huwelik en die kerk werk aan

die Bybelse karakter of romantiese liefdesaard daarvan. Die staat dwing deur sy voorgeskrewe maatreëls, maar die kerk oortuig profeties en bly pastoraal met alles wat dit inhou, by die huwelike in sy midde betrokke.

Hierdie twee kante van huweliksluiting staan kontradiktories teenoor die stelling van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 2011 dat die staat 'n huwelik "verkieslik" as wettig moet erken. 'n Keuse of die staat die huwelik moet erken of nie, kan chaos skep en egliede vrylaat om mekaar, in plaas van GKSA-KO artikel 70 se "in die Here", "in sonde en ongehoorsaamheid aan die Here", te verontreg of sonder enige effektiewe ingrype van buite geestelik en materieel te benadeel. Twee mense "in die Here" wat as man en vrou in die huwelik wil saamwoon, het geen beswaar teen die wettiging daarvan deur die staat nie. Wat meer is, hulle erken ook die waarde daarvan in hierdie sondige, gebroke werklikheid. Die staat, 'n regsverband waarvoor die Here in sy skeppingsorde die moontlikheid geskep of voorsiening gemaak het, het juis ontstaan as gevolg van die sonde. Ook ten opsigte van die huwelike van sy onderdane moet die staat in regsbelang of as die juridiese integrator van die (regs-)belange - ook ten opsigte van die huwelik - van sy burgers optree (Strauss 1998:28).

Die Algemene Sinode van 2011 van die Ned Geref Kerk se versugting dat huwelike "sover as moontlik" in die gemeenskap van die gelowiges gesluit of bevestig word, verdien egter ondersteuning. Hierdie bruilofsgangers kan as ondersteuners, getuies en pastorale betrokkenes vreugde en smart deel indien nodig. Boonop deel hulle die vreugde van die troudag met die egpaar en dra hulle daartoe by dat die twee se bekers daar en dan oorloop.

 

BIBLIOGRAFIE

CJBF 2015. Kerkordeboekie van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika - soos gewysig deur verskillende sinodes 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.         [ Links ]

De Gier, K. 1989. De Dordtse Kerkorde. Een practische verklaring. Houten: Den Hertog.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

De Klerk, J.J. 1982. Liturgiese grondlyne. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: PU for CHE.         [ Links ]

Hovers, H. 2008. Vormsel. In: F. Gaum (hoofred.), Christelike Kernensiklopedie (Wellington: Lux Verbi), P. 1172.         [ Links ]

Jansen, J. 1952. Korte verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken. Kampen: Kok.         [ Links ]

Kleyn, D. & Viljoen, F. 1999. Beginnersgids vir regstudente. Tweede uitgawe. Kenwyn: Juta.         [ Links ]

Kock, P. de B. 1975. Christelike wysbegeerte - Inleiding. Bloemfontein: Sacum.         [ Links ]

Kruger, LS., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T. 1966. Handleiding by die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Kuyper, A. [s.a.]. De gemeene gratie 11. Kampen: Kok.         [ Links ]

Kuyper, H.H. [s.a.]. De post-acta of na-handelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden. Amsterdam: Höveker en Wormser.         [ Links ]

Langner, D. 2007. Teen die hele wêreld vry - Koot Vorster segsman of profeet? Pretoria: Griffel.         [ Links ]

Lategan, L.O.K. 2008. Sakramente. In: F. Gaum (hoofred.), Christelike Kernensiklopedie (Wellington: Lux Verbi). [Aanlyn.] Verkry vanaf http://cke.christians.co.za/2016/03/31/sakramente/ [29 Oktober 2019].         [ Links ]

Muller, J.C. 2008. Homoseksualiteit. In: F. Gaum (hoofred.), Christelike Kernensiklopedie (Wellington: Lux Verbi), [Aanlyn.] Verkry vanaf http://cke.christians.co.za/2016/03/13/homoseksualiteit/ [29 Oktober 2019].         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1957. Handelinge Raad van Kerke. Sl:sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. S.l.:s.n.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 2011. Handelinge van die Algemene Sinode. S.l:s.n.         [ Links ]

Pont, A.D. 1981. Historiese agtergronde van ons kerklike reg 1 . Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Rutgers, F.L. 1971. De geldigheid van de oude kerkenordening der Nederlandsche gereformeerde kerken. Amsterdam: Ton Bolland.         [ Links ]

Schulze, L.F. 1978. Geloof deur die eeue. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Sizoo, A. [s.a.]. Calvijn Institutie III. Delft: Meinema.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1989. Gereformeerde kerkreg en Kerkregering. Hammanskraal: Hammanskraalse Teologiese Skool.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1998. God's servant working for your own good: Notes from modern South Africa on Calvin's commentary on Romans 13:1-7 and the state. Hervormde Teologiese Studies 54(1): en 54(2):24-35. https://doi.org/10.4102/hts.v54i172.1377        [ Links ]

Strauss, P.J. 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40(4):649-666.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onderdie Suiderkruis 1651-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Van der Linde, G.P.L. 1983. Die Kerkorde. Pretoria: T.G. van Wyk.         [ Links ]

Visser, J. 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS.         [ Links ]

 

 

Date Published: 6 December 2019

 

 

1 Visser wys op die laat loop van gebooie as 'n kennisgewing van 'n voorgenome huwelik wat vir "baie jare" in die Afrikaanse gereformeerde kerke die praktyk was. Huweliksgebooie moes eers bekendgemaak word voordat daar tot huweliksluiting oorgegaan kon word. Hierdie kennisgewing kon by die magistraatshof of die eie gemeente ingedien word. By laasgenoemde moes dit op drie agtereenvolgende Sondae afgekondig word. Die rede vir hierdie gebooie was om aan beswaardes kans te gee om hul besware teen die voorgenome huwelik te lig (Visser 1999:280).
2 Sien Hoofstuk 2 met die titel 'n Handves van regte, in Kleyn & Viljoen (1999:267-276).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons