SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.39 suppl.28 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.39  suppl.28 Bloemfontein  2019

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.sup28.9 

ARTICLES

 

Jesaja 40:1-11. Jhwh as Trooster van Trauma Slagoffers1

 

Isaiah 40:1-11. Yahweh as Comforter of the Traumatised

 

 

A.G. Odendaal

Dr. A.G. Odendaal, Navorsingsgenoot, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria. E-pos: agodenda@absamail.co.za; ORCID: https://orcid.org/0000-0002-7402-2339

 

 


ABSTRACT

This article aims to show that Yahweh acts as a comforter of the traumatised: the exiles in Babilon. Some of them are eager to return to Jerusalem although they know that the city was destroyed. The prologue of Isaiah 40 gives the wonderful message that Yahweh will comfort the exiles and the city of Jerusalem. The exiles may return to Jerusalem. Yahweh will accompany them. The city of Jerusalem will be rebuilt. Yahweh knows of their suffering. He will comfort them and provide strength, food and help. The comfort will help make the traumatic experience bearable.

Keywords: Trauma, Comfort, Isaiah 40, Yahweh


Trefwoorde: Trauma, Troos, Jesaja 40, JHWH


 

 

1. INLEIDING

Die volk verkeer in ballingskap in Babel. Die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap was vir die volk 'n traumatiese ervaring. Die volk het nooit verwag dat Jerusalem ingeneem en verwoes sal word nie. Rambo (2016:3) beskryf trauma as volg: "Trauma is suffering that remains." Volgens haar is die grootste probleem die verwerking van trauma. Die traumatiese gebeurtenis sal van tyd tot tyd weer in herinnering geroep word. Die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap het die geskiedenis van die volk Israel totaal verander. Die land waar die volk woon, neem die rol oor om sosiale identiteit te verskaf.2Mills (2007:154) verwys met die volgende twee aanhalings na die identiteit van die volk Israel wat nou aan die land verbind is, en die verlies en pyn wat oorlog en die verwoesting van stede en die wegvoer van die inwoners na 'n vreemde land veroorsaak: "To be Israel is to have a land of one's own."; "Political pain explores and embodies the pain caused by loss - of land, and therefore of identity and cohesion." Mills (2007:150-151) wys verder daarop dat die identiteit van Israel die land en die stad Jerusalem insluit:

The basic political structure in view ... an ancient city-state, of which Jerusalem is both the capital city and synonymous with the whole.

Die ballingskap word as traumaties3 beskou omdat 'n gedeelte van die volk na Babel weggevoer word. Berges (2001:64) wys daarop dat Jesaja 40-52 Sion wil vertroos en dat die stad herbou gaan word. Daar word van die leser verwag om self die kennis vanuit 2 Konings 24-25 en Klaagliedere aan te vul oor die val van Jerusalem en die ballingskap.

JHWH kondig troos aan deur die profeet in Jesaja 40:1. Die volk kan na Jerusalem terugkeer. Troos is 'n aangrypende emosie en lei die tweede gedeelte van die Jesaja-geskiedenis in. Troos word herhaal in Jesaja 40 tot 55. Beuken (1979:15) verwys daarna dat hierdie gedeelte in die Vulgaat die volgende opskrif het - Die boek van die vertroosting van Israel - Book of consolation.4Soos genoem, word Jesaja 40 tot 55 algemeen as 'n boek van troos beskou. JHWH bring die troosboodskap, roep die persone wat moet optree, wys hulle aan (nie altyd lede van die volk van JHWH nie, soos byvoorbeeld Kores) en bepaal hoe die redding gaan volg.

 

2. BEGRONDING VAN TROOS

Jesaja 40 begin met "Troos, troos my volk." Die woord D1"U gryp dadelik die verbeelding aan as Hoofstuk 40 direk na Hoofstuk 39 gelees word. In Hoofstuk 39, het die profeet Jesaja aan koning Hiskia gesê dat daar in die toekoms 'n tyd sal kom dat die paleis en stad verwoes gaan word en van Hiskia se seuns na Babel weggevoer sal word. Die skatte van Jerusalem sal na Babel geneem word. Hiskia was tevrede solank daar in sy tyd net vrede en veiligheid sou wees. Jesaja 40 word aan die ballinge5 in Babel gerig. Hierdie mense het na Jerusalem en Sion gehunker. Sommige hoop dat hulle kan teruggaan en dat die Here hul gebede sal verhoor. Hierdie boodskap kom nou tot die volk wat in Babel in ballingskap verkeer. JHWH gee die goeie nuus, die blye boodskap, hulle sal "getroos' word. Die straf is verby. Die volk kan na Jerusalem gaan.

Troos kom deur die belofte aan die volk dat hulle na Palestina sal terugkeer, en dat hulle die bystand en beskerming van JHWH sal ervaar. Die traumatiese ervaring van die volk sal versag word deur die troos. Die volk6 is in ballingskap weggevoer. Die Perse het intussen die Babiloniërs verslaan en is besig om die volke na hul lande terug te skuif. Dit is goeie nuus vir die volk. Hierdie terugkeer is 'n tweede uittog en roep weer die herinnering op aan die uittog uit Egipte wat in die verre verlede lê. JHWH het die voorvaders van die volk uit Egipte gelei en nou sal JHWH die volk in ballingskap uitlei na hul land en hul reis veilig maak.

Die troos aan die volk en stad gee JHWH se sorg en bystand aan die volk en stad, as JHWH se eie eiendom, weer. Die noue verbintenis tussen JHWH en die volk en stad kom duidelik na vore in Jesaja 40 tot 55. Hierdie hoofstukke wys JHWH se bemoeienis met JHWH se volk. Die verband tussen JHWH en die volk word deur die eiename beklemtoon. JHWH praat van JHWH se volk, hulle is by die naam geroep, gevorm, geskep en hul naam is in JHWH se handpalms ingekerf. Die verbondsverbintenis word duidelik: JHWH het die inisiatief geneem om die volk te kies en te vorm. JHWH kom na die volk en reik eerste uit na die volk in hul uiterste nood as ballinge in Babel. JHWH tree handelend op omdat JHWH lief is vir die volk. JHWH se omgee maak dat JHWH eerste optree en uitreik na die volk wat aan JHWH behoort. JHWH gee die redding, sorg, gee nuwe krag soos die arend, maak die paaie gelyk in die woestyn, neem struikelblokke uit die pad, bewaar en beskerm die volk en gee die regte kneg sodat die volk na hul land sal kan terugkeer. JHWH7 is die Enigste God en moet alleen aanbid word.

Die troos word deur JHWH aangekondig en gewaarborg. Troos is nie net in woorde geleë nie, maar gaan oor in dade wat in Hoofstukke 40 tot 55 'n werklikheid word. Die ballinge word getroos deurdat hulle na Jerusalem kan terugkeer. Daarna word die stad Jerusalem getroos deurdat die stad weer opgebou word.

Hier kom troos van JHWH8 af. Hierdie JHWH maak Homself aan die volk bekend as die Skepper wat alles gemaak het en vir alle dinge sorg. JHWH is bewus van die volk se omstandighede daar in Babel. Daarom laat JHWH hierdie boodskap deur die profeet bring. Die volk moet weet wie die boodskap stuur en waarom hulle JHWH kan vertrou.

Die volk is in ballingskap en het dringend troos en bemoediging nodig. Juda is weggevoer na Babel. Jerusalem is verwoes en die volk verlang daarna om na hul geboorteland terug te gaan. Jesaja 41 verwys na Kores9 en daarom weet ons dat die gedeelte na die einde van die ballingskap verwys.

Hierdie troos van Jesaja 40 is wonderlike nuus. Daar kan hoop opvlam want Jerusalem se swaarkry is verby. Die straf vir die sonde is uitgedien. JHWH sal voorsien dat die pad terug gelyk sal wees. Die mag van JHWH sal sigbaar word. JHWH het die opdrag gegee dat die volk en stad getroos10moet word.

 

3. ALGEMENE AGTERGROND

Troos is 'n emosie wat aan alle mense bekend is en wat alle mense, op een of ander fase van hul lewe, nodig het. Omstandighede en die gepaardgaande trauma maak dat mense nuwe hoop soek of daarna verlang. Troos bring nuwe hoop en laat 'n mens weer kans sien om met moeilike omstandighede saam te leef. Die volk, Israel, is in ballingskap na Babel weggevoer. Die jare het verbygegaan en van hulle verlang om weer na Jerusalem terug te gaan. In Psalm 137,11 word die versugting en verlange na Sion en Jerusalem aangespreek. Daar is ander lede wat nie dieselfde voel nie en daarom kry Jesaja teenstand en is die volk nie so gretig om na die boodskap te luister nie. JHWH moet met die volk in gesprek gaan om hulle te laat besef dat Hy hulle steeds versorg en dat Hy alles beheer.

Die oorspronklike grondbetekenis van נחם is seelisch erleichtern (Koehler & Baumgartner 1958:608-609) om "die siel ligter te maak" of "te vergemaklik". Met ander woorde, om jou siel te bedaar of tot bedaring te bring. Hierdie grondbetekenis geld ook vir die betekenisse van "troos" en "berou hê" of "jammer wees". Daar is 'n moontlikheid dat die omstandighede wat die mens omkrap en terneerdruk, gaan verander. Daar kom dan nuwe moed, krag en hoop in 'n mens se gemoed.

Gienini (2013) toon aan dat נחם in Egipties gebruik word in situasies waar troos deur God bevryding van die dood uitbeeld. Die Hebreeuse, Egiptiese, Siriese en Koptiese werkwoord staan in verband met mekaar.

Daar is enkele eksegete wat die werkwoord נחם kortliks bespreek en na die betekenis12 kyk, of twee tekste met mekaar vergelyk.

 

4. BESPREKING EN EKSEGESE VAN JESAJA 40:1-11

Hoofstuk 40 is die aanvangshoofstuk van Deutero-Jesaja. Baie skrywers is van mening dat die aanvangswoorde die oorkoepelende gevoel13 van Deutero-Jesaja weergee. Hierdie hoofstuk word as proloog gesien vir die gedeelte wat uit Hoofstukke 40 tot 55 bestaan. Die meeste kommentare is dit eens dat die proloog14 uit die eerste elf verse bestaan. Die aksie van troos en die rede waarom die troos nodig is, word ook uitgelig en bespreek. Die volk het hul vryheid, land en trots verloor. Hierdie volk is ballinge in die vreemde.

JHWH is die Een wat die troos bewerk. JHWH tree elke keer met die volk in gesprek oor die "troos". JHWH alleen kan die volk wat in ballingskap verkeer, troos en bemoedig.

Die volk het onderdrukking en smaad beleef. Die onderdrukkers vra waar is hul God wat hulle sal help en red. Hulle hoop dat daar 'n einde aan die ballingskap sal kom en dat hulle na Jerusalem kan terugkeer. Die ballinge sal graag na Jerusalem wil terugkeer om daar as volk in hul land, vryheid en selfbeskikking te ervaar en weer JHWH in vryheid dien. Ten tye van die terugkeer, was die Perse die heersende mag en hulle het toestemming aan al die volke, wat deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer is, gegee om weer na hul eie lande terug te keer. Hierdie terugkeeraksie word deur Deutero-Jesaja beskryf as 'n daad wat deur JHWH bewerk is, wat die geskiedenis beheer, en die Mediërs as die opvolgers van die Babiloniërs bepaal het. Daarna het die Perse as wêreldmag oorgeneem en onder Kores, wat as kneg deur JHWH geroep is, het die volke toestemming verkry om na hul eie lande terug te keer.

Hierdie profeet begin met die troos-aankondiging van JHWH. JHWH stel Homself voor as die een wat alleen aanbid en gedien behoort te word en 'n volk het wat "My volk" genoem word. Hierdie volk is die objek van die troos. Hierdie troos kom tot hierdie volk Israel, wat in ballingskap in die vreemde is. Hulle het ervaar hoe die jare verloop het en niks het gebeur nie. Nou kom die profeet Deutero-Jesaja met hierdie bemoedigende woorde en boodskap van Hoofstuk 40:1 en verder. Hierdie inleiding van Hoofstuk 40 is 'n boodskap wat deur die hele gedeelte vanaf Hoofstuk 40 tot en met Hoofstuk 55 loop.

JHWH se woord sal ewig standhou. JHWH se woord oor troos begin in Jesaja 40:1 en JHWH beheer met die woord die hele boodskap van Deutero-Jesaja. JHWH sal regeer en die volk versorg. JHWH sal die Herder wees wat die volk versorg. Soos die herder die skape versorg en beskerm, na die lammers omsien, en die ooie met lammers, sal JHWH dit vir die volk doen en hulle lei. Hier is totale versorging en beskerming ter sprake, op die pad vol gevare, tydens die terugtog. JHWH herstel die volk as Sy eiendom en hulle behoort aan JHWH, wat hulle lei, versorg en na hulle omsien.

Die sake wat in Deutero-Jesaja 'n rol speel, kom almal in die proloog15voor en word verder uitgebou in die hoofstukke wat volg.

Die hele proloog is op die opdrag van troos gebou. Die res van die proloog verduidelik die manier waarop en die redes waarom die volk en Jerusalem getroos moet word. Jerusalem se straf is uitgedien en ten volle verduur. Die wyse waarop die volk weer moet teruggaan is met die pad wat gelyk gemaak sal word. JHWH gee die opdrag, spel die metode uit waarop die opdrag uitgevoer gaan word, beloof bystand en herstel die volk weer as volk van JHWH, met die openingsopdrag.

Hoofstukke 40 tot 55 is gebou op die basis dat troos deur JHWH aan die volk en die stad Jerusalem/Sion gegee en gewaarborg word. Die inleidende opdrag is die opdrag tot troos (Beuken 1979:18),16 wat 'n dubbele opdrag is.

Die feit dat dit dubbeld voorkom, beklemtoon die belangrikheid en noodsaak van die troos. Hierdie opdrag17 kom vanaf JHWH en dit kom tot die volk wat in Babel in ballingskap verkeer. Hierdie volk word deur JHWH as die volk van JHWH aangespreek, wat dui op 'n innige verhouding wat bestaan. Hierdie is verbondstaal18 en sal die volk se aandag onmiddellik aangryp.

Hierdie proloog word opgebou deur verskillende stemme19 wat praat. Die stemme volg mekaar op, en die boodskap word so oorgedra. Daar kan nie onderskei word met wie die stemme praat en van wie die opdragte kom nie. Die opdrag tot troos word gegee. Verder word die volk en die stad Jerusalem betrek by JHWH se aksie van verlossing uit die ballingskap. Die terugtog uit Babel met die paaie wat gelyk sal wees, word uitgestippel. JHWH sal die woestynhitte en ontberinge vir die volk draaglik maak. JHWH verseker die volk van bystand en beskerming op die pad terug tot in Jerusalem. JHWH sal vir die volk sorg vir kos en water en hulle bystaan en beskerm. JHWH sal self ook terugkeer na Sion.

Hoofstuk 40:1 begin die troos opdrag. Hierdie opdrag volg direk op die afsluiting in Hoofstuk 39. Die ballingskap word veronderstel. Dit wil sê dat 'n hele aantal jare verloop het sedert Hoofstuk 39 se afsluiting en Hoofstuk 40 se eerste vers. Die volk bevind hulle nie meer in Jerusalem nie. Die ballinge is nou in Babel en wag daar op enige boodskap van JHWH.

Intussen het 'n deel van die volk al begin wonder of JHWH hulle nie vergeet het nie. Daarom is hierdie woorde 'n wonderlike boodskap vir van die ballinge. Nie al die ballinge sou ewe opgewonde wees oor die boodskap nie. Sommige ballinge het die opdrag van Jeremia ernstig opgeneem in Jeremia 29:5-7, en vir hulle belange in Babel gevestig, huise gebou en die stad se belange is nou ook werklik hul belange. Hierdie groep van die ballinge sou nie graag dadelik wou terugkeer nie. Daarom dat ons die verwysing kry dat net diegene van die ballinge wat geregtigheid wil najaag en leef tot eer van JHWH, opgeroep word om na Jesaja te luister. Hulle moet ag gee op die oproep om na Jerusalem terug te keer. Deel van die opdrag tot troos is die aankondiging van wie deur JHWH bedoel word en dus deur JHWH getroos gaan word. Die benaming in Jesaja 40:1 van My volk, vir die volk van JHWH, is 'n aanduiding vir die volk van Juda. Dit is opvallend dat die benaming "volk van JHWH" nie in Jesaja voorkom nie (H0genhaven 1988:31).20 Hierdie is die aanduiding van 'n spesiale verhouding, naamlik 'n verbondsverhouding (Beuken 1979:18-19).21 JHWH het self die volk geroep en gekies, deur die roeping van Abraham, hul voorvader, na wie daar juis in Jesaja 51:1-3 verwys word.

Jesaja 40:2 verplaas dadelik die klem vanaf die volk na die stad Jerusalem. JHWH gee aan Jerusalem die versekering dat haar sonde ten volle betaal is. Lemaire (2009:172) wys daarop dat Jerusalem geplunder is, en later afgebrand word met die inname voor die ballingskap. Jerusalem se hart (Herbert 1975:16-18; Berges 2008:40-48, 84-101)22 moet aangespreek word. Dit is 'n manier om te sê dat daar op 'n rustige wyse en met medelye met die stad gepraat moet word. Dit sal vertroostend inwerk op die gemoedere van diegene wat die boodskap ontvang. Die opdrag tot troos is eerstens aan die volk en dan aan die stad Jerusalem en later ook onder die naam van Sion.

Die proloog se verdeling is in verse 1-2, 3-5, 6-8 en 9-11. Hierdie verdeling van Jesaja 40:1-11 (Beuken 1979:17-18)23 word redelik algemeen gevolg. Die inleidende verse bevat die troos aan die volk en Jerusalem. Jerusalem kry die versekering dat die volle straf vir haar skuld gedra en uitgedien is. Dit is 'n versekering dat die einde van die ballingskap aangebreek het. Hierdie versekering versterk die troos van vers 1. Dit is 'n vertroostende boodskap vir Jerusalem om te weet, die straf is verby, en JHWH sal haar vertroos. Die boodskap gaan nou voort na die volgende toneel.

JHWH is aan die woord in die eerste twee verse van die proloog. Die opdrag om te troos24 is gegee en die stemme gaan nou die boodskap verder deurgee. Hierdie opvolging en uitbreiding van die boodskap deur die stemme versterk die troosmotief en neem die boodskap verder (Hartenstein 2011:97-98, 107-108). Stuhlmueller (1970:169-170) verwys na die woord van JHWH in die proloog van Deutero-Jesaja as die skeppende25woord van JHWH, wat 'n opvallende manier is waarop Deutero-Jesaja sy boodskap weergee. Von Rad (1975, 1989:242) noem die gebruik van Deutero-Jesaja die "as" waarom al sy prediking draai, "the pivot on which his whole preaching turns is an awareness of the reality of Jahweh's creative word". Die troos is deur JHWH aan die volk en stad gegee, as 'n opdrag. Die afleiding kan dus gemaak word dat JHWH die troos skep vir die volk en stad. Hierdie troos sal deur die ander elemente van die proloog uitgebrei en gedra word dwarsdeur die werk van Deutero-Jesaja. Von Rad (1975, 1989:241, 238-239) wys daarop dat skepping en verlossing sinonieme26 by Deutero-Jesaja vorm. Hy wys verder daarop dat Deutero-Jesaja woorde skep asook begrippe gebruik wat hy met nuwe inhoud vul.

Jesaja 40:3-527 word ingelui deur 'n stem wat nuwe gebeure aankondig (Tiemeyer 2012:236). Hierdie gedeelte van die proloog gee die boodskap weer deur middel van roepende stemme. JHWH het Jerusalem se sondige verlede afgesluit. Die nuwe gebeure is die feit dat JHWH gaan kom (vers 10). Daarom is dit noodsaaklik om die pad voor te berei. Die stem skilder wat daarna gaan gebeur. Die majesteit en heerlikheid van JHWH sal vir almal sigbaar wees (Berges 2008:233). Die woestyn word nie nader gekwalifiseer nie, en kan nie geografies bepaal word nie. Daarom kry die begrip "woestyn" nou 'n historiese oorleweringslading. Die woestyn funksioneer nou in die nuwe eksodus. Hierdie verse wys na 'n trektog van JHWH saam met die volk, volgens die woestyntradisies. Die laaste kolon van vers 528 "want die mond van JHWH het gepraat", herlei al die voorafgaande tot 'n gesagvolle uitspraak van JHWH. Verse 3-5 is dan 'n uitwerking om die troos van vers 1 te bevestig en uit te bou (Beuken 1979:22).

Jesaja 40:6-8 is die aankondiging van 'n volgende stem. In vers 6 is daar weer 'n stem wat praat. Die opdrag om te roep word voortgesit, en 'n volgende stem tree na vore. Hierdie stem neem besware weg. Daar word 'n positiewe rede gegee om die boodskap te gaan verkondig: "Die woord van ons God hou vir ewig stand"29 (Merendino 1981:53; Beuken 1979:25). Die profeet grond sy beswaar op die mens se verganklikheid, waaraan niks kan ontkom nie. Die mens se krag is net so verganklik soos die plantegroei. Die stem ontken die profeet se beswaar en gee iets in die plek daarvan, wat onverganklik is.

Jesaja 40:9-1130 bring ons by die volgende gedeelte, die laaste, van die proloog (Tiemeyer 2011:279-285). Die opdrag word gegee om aan Sion en Jerusalem die goeie nuus te bring dat JHWH kom. JHWH kom as koning na Sion. JHWH sal regeer en die volk en stad versorg soos 'n herder31 vir sy kudde sorg (Heskett 2011:73, 138). Die totale sorg word deur JHWH met die herdersbeeld gewaarborg.

Jesaja 40 se proloog32 is ondersoek en ons vind dat die troos van JHWH af kom (Beuken 1979:30). JHWH maak Homself aan die volk bekend as die Skepper wat alles gemaak het en vir alle dinge sorg. JHWH is bewus van die volk se omstandighede daar in Babel en die trauma wat die volk beleef. Daarom laat JHWH hierdie boodskap deur die profeet bring. Die volk moet weet wie die boodskap stuur en waarom hulle JHWH kan vertrou. JHWH moet Homself amper weer opnuut aan die volk bekend stel. Die volk moet leer dat JHWH alleen troos gee, uit JHWH se liefde en genade en in JHWH se ontferming oor die mens. Die proloog van Deutero-Jesaja kondig die troos aan die volk en die stad aan. Hier word kortliks beskryf hoe die pad vorentoe sal verloop, en die volk en stad vertroos sal word. Dit is opmerklik dat JHWH die troos aankondig en waarborg. JHWH is deurgaans in Deutero-Jesaja die Een wat op die voorgrond staan.

JHWH se verhouding33 tot Israel, tot die stad Sion/Jerusalem en JHWH se verhouding met die volke word uitgebeeld (Beuken 1979:30). Baie van die aanhalings uit Jesaja word in die Nuwe Testament gebruik. Jesaja 40 tot 55 word dikwels deur Lukas (Mallen 2008:5, 205-207)34 en ander skrywers van die Nuwe Testament aangehaal.

 

5. GEVOLGTREKKING

Troos, of soos die Duits dit stel, "om die siel ligter te maak", impliseer 'n emosie en 'n daad. Die emosie is een van geheel en al tot niet te wees. Vernietig te wees. Niks meer oor te hê om voor te lewe nie. Die totale gevoel van nikswerd wees, verslaentheid of nutteloosheid, en om geen hoop meer in die lewe of toekoms te hê nie.

Die emosie en daad loop hand aan hand met die werkwoord ΟΠΧ Die Hebreeuse werkwoord veronderstel dat die emosionele sy aangespreek word, maar dat dit verder ondersteun word met 'n aktiewe en daadwerklike aksie. Troos impliseer vertroosting en aktiewe bystand. Dit is juis die aksie waarmee JHWH besig is in Deutero-Jesaja. Gienini (2013) beskryf JHWH se optrede: "There is only one Savior and He is YHWH who looks after, guides, comforts, and with stubborn fidelity saves his people from death."

Die aanvangswoord van Deutero-Jesaja wat "troos" is, lei die leser in 'n verhaal wat ontvou en aantoon dat JHWH die opdrag gee tot troos, maar dat JHWH ook die uitvoer en afloop van die "troos" in Deutero-Jesaja waarborg. Jesaja 40:1-11 is die inleiding tot hierdie verhaal wat die leser meevoer tot by die voltooiing daarvan in Jesaja 55.

Jesaja 40:1-11 is 'n antwoord op die trauma wat die volk en stad beleef het. JHWH ken die hart en gemoed van die volk en beloof troos en onderskraging. Die pad sal gelyk gemaak word. As die kragte min word, sal JHWH die volk soos 'n herder versorg en dra. Daar is onderskraging en bystand op die hele pad want JHWH vergesel die volk. JHWH is die herder vir die volk.

 

BIBLIOGRAFIE

Akpunonu, P.D. 2004. The overture of the Book of Consolations: (Isaiah 40:1-11). New York: Peter Lang.         [ Links ]

Albertz, R. 2003. Israel in exile: The history and literature of the sixth century BCE. Translated by D. Green. Atlanta, GA: Society of Biblical Literature.         [ Links ]

Baltzer, K. 2001. Deutero-Isaiah: A commentary on Isaiah 40-55. Translated by M. Kohl. Augsburg: Fortress Press.         [ Links ]

Berges, U. 2001. Personifications and prophetic voices of Zion in Isaiah and beyond. In: J.C. De Moor, The elusive prophet. The prophet as historical person, literary character and anonymous artist (Leiden: Brill), pp. 54-82.         [ Links ]

Berges, U. 2002. Klagelieder: Übersetzt und ausgelegt. Freiburg: Herder. (Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament).         [ Links ]

Berges, U. 2008. Jesaja 40-48. Freiburg: Herder. (Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament).         [ Links ]

Beuken, W.A.M. 1979. Jesaja Deel IIA. Nijkerk: Callenbach. (De prediking van het Oude Testament).         [ Links ]

Burden, J.J. & Prinsloo, W.S. (Reds) 1987. Tweegesprek met God: Die literatuur van die Ou Testament. Deel 3. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Campbell, E.F. Jr. 1975. Ruth. A new translation with introduction and commentary. Garden City, NY: Doubleday. (The Anchor Bible;7).         [ Links ]

Clines, D.J.A. 2012. The many voices of Isaiah 40. In: I. Provan & M.J. Boda (eds), Let us go up to Zion: Essays in honour of H.G.M. Williamson on the occasion of his sixty-fifth birthday (Leiden: IDC and Martinus Nijhoff. Supplements to Vetus Testamentum 153), pp. 113-126.         [ Links ]

Dempsey, C.J. 2010. Isaiah God's poet of light. St. Louis, MO: Chalice Press.         [ Links ]

Ehring, C. 2007. Die Rückkehr JHWHs: traditions- und religionsgeschichtliche Untersuchungen zu Jesaja 40, 1-11, Jesaja 52, 7-10 und verwandten Texten. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag (Wissenschaftliche Monographien zum Alten und Neuen Testament 116).         [ Links ]

Gienini, O. 2013. La Salvaciòn en el Libro de Isaias. Un aparte egipcio al concepto de Redenciòn y Consuelo, Credo Ediciones [Salvation as core subject of Isaiah's Book] - AV Akademikerverlag GbH & Co. KG.         [ Links ]

Goldingay, J. 2005. The message of Isaiah 40-55: A literary-theological commentary. London: T. & T. Clark.         [ Links ]

Hartenstein, F. 2011. Das Archiv des verborgenen Gottes. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlagsgesellschaft. (Studien zur Unheilsprophetie Jesajas und zur Ziontheologie der Psalmen in assyrischer Zeit. Biblisch-Theologische Studien 74).         [ Links ]

Heffelfinger, K.M. 2011. I am large, I contain multitudes. Lyric cohesion and conflict in Second Isaiah. Leiden: Brill. https://doi.org/10.1163/ej.9789004193833.i-328        [ Links ]

Herbert, A.S. 1975. The book of the Prophet Isaiah Chapters 40-66. Cambridge: Cambridge University Press. (The Cambridge Bible Commentary).         [ Links ]

Hertzberg, H.W. 1969. Die Bücher Josua, Richter, Ruth. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. (Das Alte Testament Deutsch. Neues Göttinger Bibelwerk).         [ Links ]

Heskett, R. 2011. Reading the Book of Isaiah: Destruction and lament in the holy cities. New York: Palgrave Macmillan. https://doi.org/10.1057/9780230337695        [ Links ]

Högenhaven, J. 1988. Gott und Volk bei Jesaja: Eine Untersuchung zur Biblischen Theologie. Kobenhavn: Brill. (Acta Theologica Danica 24). https://doi.org/10.1163/156853388X00337        [ Links ]

Koehler, L. & Baumgartner, W. 1958. Lexicon in Verteris Testamenti Libros. Leiden: Brill.         [ Links ]

Kraus, H-J. 1978. Psalmen. 2. Teilband Psalmen 60-150. Neukirchen: Neukirchener Verlag. (Biblischer Kommentar Altes Testament).         [ Links ]

Lemaire, A. 2009. Tribute or looting in Samaria and Jerusalem: Shoshenq in Jerusalem? In: G. Galil, M. Geller & A. Millard (eds), Homeland and exile. Biblical and Ancient Near Eastern Studies in honour of Bustenay Oded (Leiden: Brill, Supplements to Vetus Testamentum, 130), pp. 167-177. https://doi.org/10.1163/ej.9789004178892.i-648.55        [ Links ]

Mallen, P. 2008. The reading and transformation of Isaiah in Luke-Acts. London: T. & T. Clark International. (Library of New Testament Studies 367).         [ Links ]

Merendino, R.P. 1981. Der Erste und der Letzte: Eine Untersuchnung von Jes 40-48. Leiden: Brill (Supplements to Vetus Testamentum 31). https://doi.org/10.2307/1518363        [ Links ]

Mills, M.E. 2007. Alterity, pain, and suffering in Isaiah, Jeremiah, and Ezekiel. London: T. & T. Clark.         [ Links ]

Motyer, J.A. 1993. The prophecy of Isaiah. Leicester: InterVarsity Press.         [ Links ]

Prinsloo, W.S. 1987. Jesaja. In: J.J. Burden & W.S. Prinsloo (reds), Tweegesprek met God: Die literatuur van die Ou Testament. (Kaapstad: Tafelberg), Deel 3.         [ Links ]

Rambo, S. 2016. Introduction. In: S.N. Arel & S. Rambo (eds), Post-traumatic public theology(New York: Palgrave Macmillan), pp. 1-21. https://doi.org/10.1007/978-3-319-40660-2_1        [ Links ]

Smith-Christopher, D.I. 2002. A biblical theology of exile. Minneapolis, MN: Fortress. OBT        [ Links ]

Stuhlmueller, C. 1970. Creative redemption in Deutero-Isaiah. Rome: Biblical Institute Press.         [ Links ]

Tiemeyer, L-S. 2011. For the comfort of Zion: The geographical and theological location of Isaiah 40-55. Leiden: Brill. (Supplements to Vetus Testamentum 139).         [ Links ]

Tiemeyer, L-S. 2012. The coming of the Lord - an inter-textual reading of Isa 40:1-11; 52:7-10; 59:15B-20; 62:10-11 and 63:1-6. In: I. Provan & M.J. Boda (eds), Let us go up to Zion: Essays in honour of H.G.M. Williamson on the occasion of his sixty-fifth birthday (Leiden: IDC and Martinus Nijhoff. Supplements to Vetus Testamentum 153), pp. 233-244.         [ Links ]

van der Woude, A. 2005. Geschiedenis van de terugkeer: De rol van Jesaja 40, 1-11 in het drama van Jesaja 40-55. Maastricht: Shaker.         [ Links ]

Von Rad, G. 1975, 1989. Old Testament theology: Volume II. The theology of Israel's prophetic traditions. Translated by D.M.G. Stalker. London: SCM Press.         [ Links ]

Westermann, C. 1982. Genesis. 3. Teilband. Genesis 37-50. Neukirchener-Vluyn: Neukirchener Verlag. (Biblischer Kommentar Altes Testament.         [ Links ])

Willgren, D. 2017. Antwort Gottes: Isaiah 40-55 and the transformation of psalmody. In: T. Wasserman, G. Andersson & D. Willgren (eds), Studies in Isaiah. History, theology, and reception (New York: Bloomsbury), pp. 96-115.         [ Links ]

 

 

Date Published: 6 December 2019

 

 

1 Opgedra aan Pieter Verster, met dank vir die voorreg van vriendskap. Hierdie artikel is gebaseer op 'n proefskrif voltooi onder die promotorskap van prof. J.H. le Roux (promotor) en prof. A. Groenewald (mede-promotor).
2 Mills (2007:154) beklemtoon die belangrikheid van die land vir die volk Israel.
3 Smith (2002:46-49). Willgren (2017:100) verstaan Jesaja 40-55 as die gedeelte wat die trauma van die ballingskap aanspreek.
4 Stuhlmueller (1970:3). In die werk word daar konstant na Deutero-Jesaja verwys as die "Book of Consolation", as 'n algemeen-aanvaarde gebruik.
5 Die aanvaarding is dat al die ballinge in Babel graag na Sion of Jerusalem sou wou terugkeer. In Psalm 137, word die versugting en verlange na Sion en Jerusalem aangespreek. Daar is ander lede wat nie dieselfde voel nie, en daarom kry Jesaja teenstand en is die volk nie so gretig om na die boodskap te luister nie. Daar moet egter onthou word dat Jeremia 'n brief aan die ballinge gerig het in Jeremia 29:4-32. Daar word aan die ballinge die opdrag gegee om die stad Babel se belange te bevorder en hierdie belange as hul eie te reken. Hierdie feit kom na vore in die werke van Motyer (1993:394) en by Dempsey (2010:125-126). Albei skrywers verwys na die feit dat daar in werklikheid net 'n handjievol ballinge op Kores se bevrydingsedik gereageer het. Die ander ballinge het klaar hul troos in Babel gevind.
6 Die volk waarna verwys word is 'n gedeelte van die bevolking van Jerusalem en die ander stede in Juda. Albertz (2003) wys daarop dat 'n groot gedeelte van die bevolking in ballingskap weggevoer is. Die leiersgroep en ambagsmanne is oor die algemeen weggevoer. Daar het 'n aansienlike groep van die bevolking in die land agtergebly. 'n Latere wegvoering vind plaas na die opstand teen Babel, en daarna het nog 'n groep van die oorblywende inwoners in die land na Egipte gevlug. Die totale bevolking is nie na die val van Jerusalem weggevoer nie.
7 Burden & Prinsloo (1987:104-105) behandel Deutero-Jesaja. Prinsloo maak die opmerking dat die hoofkenmerk van Deutero-Jesaja se verkondiging die boodskap van heil, verlossing en vertroosting is. JHWH word verkondig as die enigste God, en is ook die Skepper. Volgens Prinsloo is skepping nie 'n selfstandige tema nie, maar dit word met die verlossing in verband gebring. Prinsloo kom tot die afleiding "om van Deutero-Jesaja te praat as 'n boek van vertroosting is dus heeltemal aanvaarbaar".
8 Hartenstein (2011:97-98, 107-108) toon aan dat JHWH die troosopdrag gee. Die woord deur JHWH lei Jesaja 40-55 in, waar die handelinge van JHWH duidelik sigbaar word in die optrede met die volk en stad. Heffelfinger (2011:107-108) sê dat JHWH die opdrag tot troos gee, en die troos uitspreek. Die troosopdrag toon verder die verhouding tussen JHWH en die volk aan. Tiemeyer (2012:236) wys op die opdrag om Jerusalem te "troos". Hierdie opdrag kom van JHWH af.
9 Beuken (1979:60-65) bespreek die feit dat Kores geroep is om die volk Israel te bevry. Hoofstuk 41 se bespreking bevat die jaartal 550v.C. Beuken toon aan dat die woordgebruik in Hoofstuk 41 se aanvangsverse, wat ooreenstem met die in 41:25 en 45:13, wys dat Kores die persoon is van wie gepraat word.
10 Eksegete is eenstemmig daaroor dat dit JHWH is wat die opdrag tot
נחם in Jesaja 40:1 gee. Hier word enkele eksegete genoem: Beuken (1979:18); Merendino (1981:17) en Dempsey (2010:90-92).
11 Kraus (1978:1082-1084) bespreek die feit dat Psalm 137 getuig van die gevoelens wat geheers het in die tydperk van Deutero-Jesaja. Die digter is in die vreemde en dink met verlange terug aan Sion.
12 Ehring (2007:19-25) wys daarop dat die moderne tale 'n ander inhoud aan troos toeken as Hebreeus. Die moderne tale koppel meer 'n emosionele betekenis aan die woord, terwyl Hebreeus dit met 'n aksie koppel.
13 Akpunonu (2004:69) maak die volgende opmerking: "The dominant theme of the Overture is consolation and that is the first word of the book." Elders skryf Akpunonu (2004:80), "comfort ... summarizes the message and purpose of the book". Baltzer (2001:49) bespreek Jesaja 40:1 volledig en verklaar dat die eerste vers alles opsom wat Deutero-Jesaja wil aankondig.
14 Jesaja 40:1-11 lei die gedig in wat deel vorm van die groter gedig wat uit Jesaja 40:1-31 bestaan. Daar is verskillende indelings wat vir Jesaja 40 gebruik word. Die meeste Jesaja-kenners sien die proloog as Jesaja 40:1-11 (Beuken 1979:18-19; Goldingay 2005:9-11).
15 Baltzer (2001:49) bespreek Jesaja 40:1 volledig en verklaar dat die eerste vers alles opsom wat Deutero-Jesaja wil aankondig. Van der Woude (2005:229-232) stel dit duidelik by haar gevolgtrekkings dat die proloog as inleiding verder uitgebrei word in die verloop van Deutero-Jesaja se verhaal. Die sake wat in die proloog aangeraak is, word verder uitgewerk en beantwoord soos die verhaal vorder.
16 Beuken (1979:18) wys daarop dat troos meer as medelye beteken. Vir Deutero-Jesaja gaan dit oor die herstel van Sion, en die einde van die ballingskap. JHWH is gewoonlik die onderwerp, en die volk en Sion of albei groepe die objek van die "troos". Beuken noem dat dit na die tema van die boek lyk. Beuken sê dat die troos konkreet daarin bestaan dat JHWH weer praat, en dan in die kader van die verbond. Beuken wys daarop dat daar tot op die tydstip, in Israel se klaagsange, oor die verwoesting van Jerusalem 'n vaste tema was, naamlik die afwesigheid van "troos". Die verwysing is na Klaagliedere 1:2, 9, 16, 21; 2:13 en ander tekste soos Esegiël 14:22; Prediker 4:1. Merendino (1981:17, 26-27) noem al die tekste in Jesaja wat DI"U bevat, en verwys ook na Klaagliedere en die troos wat ontbreek. Berges (2008:99) verwys na Klaagliedere en die feit dat die troos vir die stad ontbreek. Berges (2002:99-100) wys op die feit dat die troos ontbreek, en hy toon dan dat die volk bewus is van die feit dat JHWH hulle bystaan, help en "troos". As verwysings gee Berges aanhalings uit die Psalms, en dan die aanhalings uit Jesaja vanaf 12:1 tot 66:13 en noem dat die volk en stad hierdie positiewe antwoord van Jesaja op die klag in Klaagliedere kry.
17 Stuhlmueller (1970:179-180) het al opgemerk dat daar 'n verskeidenheid stemme in die proloog aanwesig is. Stuhlmueller skryf verse 1 en 2 aan JHWH toe. Beuken (1979:15-29) het die stemme bespreek. Beuken skryf die eerste verse aan JHWH, wat die opdrag van troos gee, toe.
18 Beuken (1979:18-19) wys daarop dat die feit dat JHWH spreek in die kader van die verbond, val op en die verwysings "My volk" en "u God" sinspeel op die verbondsformule.
19 Van der Woude (2005:62) praat van die aaneenskakeling van stemme wat opval. Clines (2012:113-126) bespreek die verskillende stemme. Daar word verskillende sprekers onderskei, en selfs nie sprekende stemme nie. Clines skryf ook Jesaja 40:1 aan JHWH toe. JHWH begin met die aanvangswoorde van Deutero-Jesaja.
20 H0genhaven (1988:31). Hier vind ons die opmerking: "Nirgends wird bei Jesaja Israel oder Juda (oder die Bevölkerung beider Reiche) 'am jhwh genannt. Dagegen gebraucht er an meheren Stellen 'am mit einen Pronominal-suffix (der ersten oder dritten Person), das sich auf Jahwe bezieht." Daarom word die volk "my volk" genoem.
21 Beuken (1979:18-19) wys dat die benaming "My volk" in die kader van die verbond staan. Volgens Beuken, sien Deutero-Jesaja die feit dat JHWH die inisiatief neem, in die vertroosting van Israel, dat JHWH die verbondsverhouding met die volk weer herstel. Berges (2008:98-99) wys daarop dat die formulering van "My volk" en "julle God" verbondstaal is, en die herstel van die verhouding aandui, wat deur JHWH herstel word.
22 Die uitdrukking "spreek tot die hart van" in kombinasie met die werkwoord om kom in Jesaja 40:1 en 2 voor. Herbert (1975:16-18) en Berges (2008:84-101) het albei opgemerk dat die kombinasie van troos en praat na die hart van, in Jesaja 40 sowel as in Genesis en Rut voorkom. Die kombinasies kom voor in Genesis 50:21 en Rut 2:13. In Genesis 50:21, troos Josef sy broers. Westermann (1982:232-233) wys dat die troos nie net uit woorde bestaan nie, maar in dade van sorg oorgaan. Josef het sy broers vergewe, maar hy sorg verder vir hulle in Egipte. Hertzberg (1969:266, 269-270) verwys in die vertaling na troos en vriendelik gepraat. Boas vertroos en versorg Rut. Campbell (1975:86-87, 100-102) het die frases vertaal, en wys daarop dat Boas Rut vertroos en versorg het. Campbell verwys na die tekste in Genesis 50:21 en Jesaja 40:2 en wys daarop dat die kombinasie nege keer in die Ou Testament voorkom. Die kombinasie dui op vertroosting en verdere sorg vir die persone na wie jy omsien. Heskett (2011:77, 88) wys daarop dat die troos beskryf word vir die volk en Jerusalem. Die troos word gebruik, saam met die uitdrukking dat daar tot die hart van Jerusalem gepraat moet word. Hierdie troos word gesien as 'n antwoord, van Deutero-Jesaja op die klag van Klaagliedere dat daar geen troos is nie. Heffelfinger (2011:102-103) wys daarop dat Deutero-Jesaja se openingswoorde 'n geweldige klem dra. JHWH kondig die troos aan en gee te kenne dat die troos oorgedra sal word, deur sagkens met Jerusalem te praat.
23 Beuken (1979:17-18) vat die verdeling saam, in sy uiteensetting van die proloog. In verse 1-2 is JHWH aan die woord. In verse 3-5 is dit 'n stem wat roep. In verse 6-8 volg 'n gesprek tussen 'n stem en die profeet. In verse 9-11 praat die profeet met Jerusalem. Ehring (2007:23, 38, 50, 63-65) volg ook hierdie indeling.
24 Hartenstein (2011:97-98, 107-108) toon aan dat JHWH die troosopdrag gee. Die woord deur JHWH lei Jesaja 40-55 in, waar die handelinge van JHWH duidelik sigbaar word in die optrede met die volk en stad. Heffelfinger (2011:107108) sê dat JHWH die opdrag tot troos gee, en die troos uitspreek. Die troosopdrag toon verder die verhouding tussen JHWH en die volk aan. Die gebruik van DI"U in die Bybel is baie keer in kontekste, waar die klem op die huweliks- of familieverwantskap val. Heffelfinger wys daarop dat die gebruik voorkom in sowel die Pi'el as Nif'al vorme. Tiemeyer (2012:236) wys op die opdrag om Jerusalem te "troos". Hierdie opdrag kom van JHWH af.
25 Stuhlmueller (1970:169-170). Die woord van JHWH skep nuwe moontlikhede in Deutero-Jesaja. Volgens Stuhlmueller, dra die woord die teologie van Deutero-Jesaja.
26 Von Rad (1975, 1989:241, 238-239) skryf dat Deutero-Jesaja die woorde gebruik om die leser se aandag vas te gryp. Die woorde het ryk inhoud. Beelde gryp die verbeelding aan, en hy interpreteer die geskiedenis van Israel.
27 Tiemeyer (2012:236) wys daarop dat hierdie verse JHWH se reis deur die woestyn voorstel. Die natuur sal vernuwe word, en verander. Die heerlikheid en eer van JHWH sal aan almal sigbaar word.
28 Beuken (1979:22) wys daarop dat hierdie formule die aanvangswoorde van JHWH verder uitbrei en laat aansluit by verse 3-5. JHWH het die opdrag in die hemelse raad gegee en nou afgesluit sodat die volk en Jerusalem kan weet wat sal gebeur.
29 Merendino (1981:53) sê die woord van vers 8 sluit aan by die woord van die eerste twee verse sowel as vers 5 se woord. Hy sien dit alles as die woorde van JHWH. Beuken (1979:25) toon aan dat dit hier primêr gaan om die trooswoord. Die feit dat JHWH se Woord vasstaan, dien vir die volk en Jerusalem ook tot "troos".
30 Tiemeyer (2011:279-285) verklaar dat die boodskapper van vers 9 vroulik moet wees, maar erken dat dit nie moontlik is om 'n definitiewe geslag aan die boodskapper toe te ken nie. Volgens haar, kan Sion beskou word as die boodskapper wat die nuus aan haarself moet bring. Sy voeg later by dat dit nodig is om in te sien dat Sion die ontvanger van die goeie nuus is. Tiemeyer (2012:236-237) wys daarop dat die boodskapper ook vroulik kan wees. Die goeie nuus, volgens Tiemeyer, is om die boodskap aan te kondig aan Jerusalem en die stede van Juda dat JHWH in Jerusalem aankom.
31 Heskett (2011:73, 138) skryf dat Sion nie self die goeie tyding bring nie. Die tyding word aan Sion verkondig in haar verlatenheid. Sion sal verlos word van haar vyande, en haar Verlosser sal haar versorg, soos 'n herder die kudde versorg. Beuken (1979:29) toon aan dat die beeldspraak van hierdie gedeelte die werklikheid van die nuwe eksodus beklemtoon.
32 Beuken (1979:30) wys daarop dat die proloog van Deutero-Jesaja al die temas van die boodskap saamvat. Volgens Beuken, word die troos aangekondig, en dan sal die volk onder JHWH se leiding terugkeer na Jerusalem. Die heil wat tot stand kom en hoe die hindernisse in die pad daarvan oorwin word, is deel van die boodskap van troos en vertroosting.
33 Beuken (1979:30) wys op al die verhoudings waarin JHWH staan, asook die verhoudings waarin die profeet en volk staan. Profeet en Israel, en Israel en die volke. Tiemeyer (2012:236-237) beklemtoon die feit dat JHWH beskryf word as die Koning wat regverdig en genadig is en as 'n herder wat vir die volk sorg.
34 Mallen (2008:5, 205-207) wys daarop dat Lukas die gedeeltes in Jesaja aanhaal wat volgens hom na Christus verwys, en op die feit dat JHWH die heidene aanvaar as deel van die geloofsgemeenskap. Mallen wys op die gebruik van Psalm 118:22 wat in Lukas 20:17 korrek aangehaal word, maar in Handelinge 4:11 aangepas is. Mallen gebruik die voorbeeld en toon aan dat Lukas op dieselfde manier met Jesaja se aanhalings werk. Die aanhaling word soms 'n bietjie gewysig, om aan te pas by die teologiese argument. Lukas lees Jesaja se verkondiging van troos, hoop en redding, en pas dit toe op die kerk. Lukas sien Jesaja as die profeet wat 'n paradigma verskaf vir die beoefening van sending.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License