SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 issue2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.38 n.2 Bloemfontein  2018

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i2.11 

REVIEW

 

Over God gesproken. Preken in theorie en praktijk

 

 

Prof H.J.C.Pieterse

Emeritus professor, Universiteit van Suid-Afrika

 

 

IMMINK,G. (Utrecht: Boekencentrum, 2018) 295 bladsye. Prys onvermeld. ISBN 9789023952336

Met hierdie nuwe boek van die onlangs afgetrede rektor en professor in Homiletiek van die Protestantse Theologische Universiteit wat predikante oplei in 'n meestersgraad-studie vir die Protestanse Kerk van Nederland, het Immink predikers in die Reformatoriese tradisie 'n groot guns bewys. Dit is eietydse gereformeerde homiletiese stof uitgewroeg in 'n konteks waarin die kerke leegloop en die groter bevolking deur verregaande sekularisasie nie meer in God glo nie.

Die skrywer begin die boek met 'n insiggewende skets van die huidige Nederlandse situasie in die kerk waar predikers voor kleiner groepe getroue lidmate en soms enkele besoekers moet optree. Daarom is dit treffend dat hy begin met die praktyk van die prediking en later die teologiese onderbou verskaf. Dit het te make met sy passie om weer die hoorders betrokke te kry by die preekgebeure. Hy ontwikkel die stelling dat die preek as 'n godsdienstige samespel geskied. In die preek is daar in die erediens 'n uitermate boeiende interaksieproses aan die gang. Dit is 'n samespel tussen spreker en hoorder. In die eietydse homiletiek word hierdie interaksieproses nie net gesien as kommunikasie nie, maar ook as 'n godsdienstige gebeure. Menslike probleme in die eie tyd kan met die evangelie-boodskap aangespreek word in die rigting van 'n oplossing - die werklikheid van God wat met ons is. Die Heilige Gees werk in die preekproses wanneer die Skrifteks sprekend die hoorder in sy/haar eie wêreld tegemoet kom. Met hierdie aanpak wil Immink dinge in die preek aanspreek wat kerkgangers se harte en lewens raak - die manier waarop hulle hul lewe leef, hul geloof en hul lewensoortuiginge - dus lewensegte prediking.

Om hierdie invalshoek moontlik te maak, neem hy die konsep performance in gebruik. Die begrip word ook deur enkele eietydse homilete in Duitsland en in Amerika gebruik. Dit kom uit die teaterwêreld waar die teatergangers betrokke raak en meeleef met die verhaal/ drama wat die akteurs op die verhoog voordra. Vir die prediking beteken performance veral welsprekendheid van die prediker. Predikante kan die kuns van welsprekendheid aanleer, inoefen en so ontwikkel dat 'n mens uit die hart kan praat met sy eie eksistensie as borg. Daar was al baie welsprekende predikers in die verlede. Die preek as toespraak is 'n taalgebeure. Goeie taalgebruik vra 'n retoriese opbou, stilistiese vormgewing en ordening van die stof. As goeie spreker is die prediker 'n redenaar en is die preek 'n kunsuiting - 'n performance. Maar die preek bly die bediening van die Woord van God soos ons die Bybel en die preekteks interpreteer. In die mondelinge voordrag kom die vertolking van die teks vir die spesifieke Sondag tot lewe. Die Gees werk daarin met die geheimenis van God as eksterne referensiepunt. Die Woord van God aan die gemeente word voltrek in hierdie interaksie tussen prediker en hoorder waarby albei betrokke is.

As teologiese onderbou maak Immink gebruik van die nuutste boeke oor die teologie van die Ou Testament wat weer begin verskyn, Nuwe Testamentiese werke en van talle sistematiese teololoë. Immink skram nie weg van verskeie strominge in die teologie deur die eeue heen van liberaal tot ortodoks en van die verskillende standpunte oor Jesus nie. Hy interpreteer hierdie omvangryke literatuur op 'n wyse wat eietyds sin maak in 'n lewenskragtige stuk gereformeerde teologie. Deurgaans verskaf hy preekfragmente van gepubliseerde preke as illustrasie van die teoretiese punte wat hy maak. Dit is baie handig vir die praktyk van ons prediking.

Onder die opskrif De preek als blijde boodschap van die laaste hoofstuk in die boek behandel hy die teorie en praktyk van prediking in die kerkjaar: advent en kersprediking; oor die lyding en sterwe van Jesus; paasfeesprediking en prediking met pinkster. Weer eens met 'n preekfragment as illustrasie. Die literatuurlys is omvangryk en verteenwoordig 'n ryke verskeidenheid van vroeëre en mees resente boeke.

Hierdie boek word van harte aanbeveel vir dosente, studente en predikante. Dit is 'n baie goeie handleiding vir 'n tyd waarin die kerk onder druk staan en mense onder invloed kom van sekularisasie en die deurwerking daarvan ook in ons samelewing. Immink het al die dinge wat ons nou in ons kerke meemaak, deurleef en verwerk. Daarom bied hy 'n boek aan wat ons kan inspireer en 'n goeie pad aanwys om te gaan.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License