SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 suppl.26Agreement between the Peshitta and Old Greek and the textual criticism of Ezekiel in the Hebrew BibleThe crimes of the nations in Amos 1-2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.38  suppl.26 Bloemfontein  2018

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.sup26.11 

ARTICLES

 

Vrede te midde van geweld: verskeie perspektiewe in die twaalf klein profete1

 

Peace amidst violence: various views in the twelve minor prophets

 

 

E. Scheffler

Departement Bybelse en Antieke Studies, Universiteit van Suid- Afrika, Suid-Afrika. E-pos: schefeh@gmail.com

 

 


ABSTRACT

Amidst many perspectives on violence in the Twelve Minor Prophets, there also exist various views on peace. The article focusses on the major peace traditions in the Dodekapropheton and explores the differences in perspectives by the various authors. Of note is the relation between peace and (corroborated) violence, and the context(s) under which conditions for peace are possible. The article also reflects on the psychological issue (referring to Freud's concepts of eros and thanatos) of how human prophets advocate both peace and violence, involving the concept of God in the process.

Keywords: Peace, Violence, Twelve Minor Prophets, Freud


Trefwoorde: Vrede, Geweld, Twaalf Klein Profete, Freud


 

 

1. INLEIDING

Te midde van vele perspektiewe oor geweld in die Twaalf Klein Profete-boek bestaan daar ook verskeie perspektiewe op vrede. Hierdie bydrae poog om hierdie verskillende sienings te karteer en in reliëf met mekaar te plaas. Van belang is die verhouding tussen vrede en geweld wat blyk geregverdig te word, asook die konteks(te) waarin die voorwaardes vir vrede 'n moontlikheid is. Aandag word ook gegee aan die psigologiese vraag (met verwysing na Sigmund Freud se gebruik van die terme eros en thanatos) hoe vrede en geweld beide deur menslike profete gepropageer en God daarby betrek word.

In resente navorsing is toenemend besin oor die boek van die Twaalf as geheel (Zenger 2016:630-709; Schmid 2016:372-412), sonder dat aandag aan die afsonderlike boeke verwaarloos is (vgl. die verskillende kommentare). Vir die doel van hierdie bydrae beskou ek die boek van die Twaalf (voortaan XII) as verteenwoordigend van 'n "steekproef" van profetiese literatuur komende vanuit verskeie kontekste, en nie as 'n "versameling" wat 'n eenheidsperspektief weergee nie. Dit is te verstane dat daar 'n intertekstuele relasie tussen die boeke (kan) bestaan, en soms meer tussen spesifieke boeke (byvoorbeeld, Hosea en Amos, Haggai en Sagaria). Dit is egter 'n vraag of dit meer inhou as wat in elk geval tussen alle profetiese boeke, of selfs alle boeke van die Bybel bestaan. 'n Mens moet ook krities daarvan bewus wees dat so 'n "eenheid" op grond van 'n kanoniese lees gemaak kan word (soos voorgestaan deur Childs 1979:27-106, 373-375).

Aangesien ons met verskeie boeke te doen het, is dit waarskynlik dat 'n ondersoek van die XII, met die begrip "vrede" in gedagte, 'n verskeidenheid sienings aan die lig kan bring wat beskou kan word as synde in onderlinge debat met mekaar. Die idee van debat word ook versterk deur die begrip "vrede" te beskou in die konteks van en relasie tot die tema van "geweld" wat laasgenoemde se teenoorgestelde is (sien hieronder oor definisies) en wat ook die XII deurspek. Na 'n besinning oor die pogings om die begrip "vrede" te definieer, sal my benadering wees om (al te kortliks) die indivduele boeke te ondersoek ten einde vas te stel hoe die begrip verskillend maar ook eenders in die XII funksioneer. Om reg te laat geskied aan die kontekstuele aspek word die waarskynlike volgorde nagevolg waarin die profesieë kon ontstaan het (vertelde tyd), sonder om die voortgaande redigering van die tekste tot selfs in die laat-naballingskapse periode te ontken. Terwyl erken word dat konflikterende en verskillende sienings verklaar kan word in terme van die "lang ontstaansgeskiedenis" van hierdie tekste, sal ek in my gevolgtrekking poog om oor die opposisie of verband tussen vrede en geweld te besin in terme van die "menslike kondisie", met die onderskeid wat Sigmund Freud gemaak het tussen eros en thanatos as vertrekpunt.

 

2. OOR DIE DEFINISIES VAN VREDE

Die Hebreeuse term , wat gewoonlik met "vrede"2 vertaal word, stam van ). Gerleman3 vertaal laasgenoemde as "genug haben" (= om genoeg te hê) en hy dui aan dat die pi'el vorm meesal beteken "om te betaal". Die werkwoord kom een honderd en sestien keer in die Tanach voor en die naamwoordvorm drie honderd agt-en-vyftig keer. In die XII kom slegs die pi'el werkwoord vyf keer voor: Hosea 1x; Joel 2x; Jona 1x en Nahum 1x.4Die naamwoord is meer relevant vir ons tema en kom dertien keer voor: Obadja 1x; Miga 2x; Nahum 1x; Haggai 1x; Sagaria 6x en Maleagi 2x.5

Alhoewel 'n eenvoudige uniforme definisie nagestreef kan word en selfs moontlik is, verteenwoordig dit nie noodwendig die betekenisse wat met die stam ) geasasssosieer word soos wat dit in die Hebreeuse Bybel voorkom nie. Gerleman dring daarop aan dat die "negatiewe" betekenisse ook in gedagte gehou moet word (betaal, vergeld, omkoop). Indien 'n mens die begrip, eerder as die spesifiek gebruikte terme, as vertrekpunt neem, sou beweer kon word dat vrede die "utopiese" begrip van "welstand" of "voorspoed" verteenwoordig waarna mense in antieke tye gestrewe het. Enersyds impliseer dit die afwesigheid van oorlog of geweld soos wat dit uitgedruk word in Miga 4:1-5 (waar swaarde ploegskare word), maar andersyds impliseer dit ook die afwesigheid van ander vorme van lyding, soos byvoorbeeld honger (elkeen onder sy eie wingerd en vyeboom) en vyandskap (niemand wat steur nie), asook 'n verlustiging in die Tora (v. 4).6Die Messiaanse eskatologiese visioene soos uitgedruk in die XII moet dus in 'n mindere of meerdere mate ook in gedagte gehou word selfs indien die term nie gebruik word nie.

Ten einde aan te toon dat minstens in sommige kringe van Hebreeuse denke die begrip vrede (soos uitgedruk deur ) ook verband hou met ander betekenisse wat deur ander terme uitgedruk word, kan Ps 85:11 (Heb.) in ag geneem word:7

 

 

Die implikasie van hierdie hoogs poëtiese verse is dat daar nie vrede sonder geregtigheid of goedheid sonder waarheid kan wees nie. Of andersinds gesê, as daar ware vrede is, sal dit outomaties geregtigheid insluit. Opvallend is die fisiese oorlewing wat vrede inhou (soos in Mg. 4:5) en geregtigheid wat JHWH vooruitgaan (asof dit meer belangrik is, Ps. 85:14). Hierdie terme en hul konnotasies moet derhalwe oorweeg word indien die begrip vrede in die XII ondersoek word.

 

3. DIE VERSKEIDENHEID SIENINGS OOR VREDE IN DIE XII: 'N OORSIG

Soos hierbo vermeld, sal ons in ons kort ondersoek van die begrip vrede in die XII nie die volgorde van die boeke in die kanon volg nie, maar die vroegs moontlike ontstaan van die boeke, sonder om enige latere literêre ontwikkeling te ontken.8

3.1 Vrede as 'n onderdrukte motief in die boek Amos

Indien datering as kriterium gebruik word moet Amos eerste aan die beurt kom. Hy het waarskynlik in die noorde geprofeteer tydens die regering van Jerobeam II (786-746 VC.). Die idee van vrede is so te sê afwesig in die boek, alhoewel nie heeltemal nie. Die term kom glad nie voor nie, maar die adjektief ) (vreedsaam) word gebruik in 1:6, 9 om na die Filistynse en Feniciese onregverdige ballingskap9 "van 'n hele volk" (hnfaý) na Edom te verwys.

Die afwesigheid van die vredeskonsep in die boek is waarskynlik te wyte aan die feit dat Amos bo alles besorg was oor sosiale ongeregtigheid. Hierdie sosiale ongeregtigheid jeens die armes (wat opsigself gewelddadig is - "trap op die koppe", 2:7) word deur God gestraf met byna perkelose geweld, wat sy hoogtepunt bereik in die oordeel teen Israel (2:13). Sonder die opsie om te vlug, saldie Israelitiese verdrukkersvermorsel word:

 

 

Verdere voorbeelde van geweld teenoor die armes en die gevolglike gewelddadige straf van die skuldiges deurspek die boek Amos (sien, byvoorbeeld, die idee van die dag van JHWH). Dit is skynbaar so erg dat 'n redaktor aan die einde gepoog het om balans te bewerkstellig deur die laaste verse (9:11-15) by die teks te voeg: die wankelende hut van Dawid sal heropgerig word en die ruïnes van die stede sal herstel word. Nie die term nie maar die konsep van vrede is hier teenwoordig in die verwysing na suksesvolle landbou en die genieting daarvan. Alhoewel geleerdes vandag al hoe meer erken dat oordeel- en verlossingsprofesieë deur dieselfde outeur uitgespreek kan word, impliseer die verwysings na die "wankelende hut" en die ruïnes in 9:1-5 die ballingskap. Gevolglik is 'n ander (latere) outeur ter sprake.

Die boek Amos berig dus oor gewelddadige onderdrukking en geweld-dadige straf van die onderdrukkers. Die boek sluit af met 'n kort utopiese visioen van vrede deur 'n latere outeur. Die algemene standpunt van die boek is dat daar geen vrede kan wees sonder dat geregtigheid aan die armes geskied nie. Verder sal diegene wat onregmatige geweld pleeg met geweld gestraf word.

3.2 Veroordeling, geweld, JHWH se "bekering" en voorspoed vir Israel in die boek Hosea

Die boek Hosea (waarskynlik te dateer tussen 750 en 725 VC.) stem in baie opsigte met die boek Amos ooreen. Israel word gestraf vir politieke (buitelandse betrekkinge, byvoorbeeld 8:8-10), sosiale (byvoorbeeld 4:1-2), en veral godsdienstige (beeldaanbidding, byvoorbeeld 8:4-6) oortredings.

Die veroordeling deur JHWH (en die dreiging met geweld) is sterk uitgedruk in Hosea 8:12-13; 11:13, 16; 11:6 ("jag soos voëls", "ruïneer", "val deur die swaard").

Hoop vir vrede en voorspoed oorkom egter hierdie bestraffing van JHWH wanneer laasgenoemde (as gevolg van sy oorstelpende genade) van mening verander deur Israel nie op te gee nie (Hos. 2; 11:8-11; 14:5-9).10Die gevolg is uiteindelike voorspoed vir Israel wat as getipeer kan word, alhoewel die term nie gebruik word nie (14:5-7):11

 

 

Die voorspoed word uitgedruk met terme uit die natuur wat Von Rad (1968:153) laat opmerk het:

Es ist merkwürdig, dass derselbe Prophet, der so intensiv heilsgeschichtlich denkt, doch zugleich das Verhältnis Jahwes zu Israel in den Horizont eines fast pflanzlich naturhaftes Gedeihens und Blühens hinaus verlagern kann, in dem alle Dramatik der Heilsgeschichte wie in einer grossen Stille ausmündet.

Anders as Amos gaan hierdie vredestoestand nie gepaard met 'n veroordeling van die vyand nie. Israel word gestraf, maar hul uiteindelike herstel () bevat nie enige vermaning aan hul vyande nie. In die lig van die funksie van ) in die ander klein profete is dit besonder merkwaardig.

3.3Om beskeie te lewe en terselfdertyd te hoop vir vrede in Deutero-Miga

Alhoewel nie wyd deur geleerdes erken nie (sien Zenger 2016:671-676), reken hierdie bydrae met die moontlikheid dat hoofstukke 6 en 7 van die huidige Migaboek toegeskryf kan word aan 'n afsonderlike profeet (genoem Deutero-Miga) wie se bediening dan voor die val van Samaria (721) gedateer kan word (sien Van der Woude 1976:195-199).12 Daar word nie direk oor vrede gereflekteer nie,13 alhoewel Deutero-Miga net soos sy Judese "naamgenoot" reflekteer oor geweld en ongerymdhede (6:11-13; 7:2) wat gestraf sal word met die afwesigheid van voorspoed of ) (6:14-15; 7:1). Die advies van die profeet in hierdie situasie is vervat in 6:8: individuele mense moet geregtigheid najaag, liefde betrag en nederig wandel voor hul God. In 7:7-20 roep die profeet die volk op om God te vertrou vir toekomstige verlossing wat ook die uitwissing van Israel se vyande (die nasies) behels. Die hoop op die toekomstige barmhartigheid van God (soortgelyk aan wat hy in die verlede betoon het) word gekoester, alhoewel dit nog nie gerealiseer het nie.

3.4Oordeel, geweld, vrede en hoop in die boek Miga

Miga (wat waarskynlik in die Suidryk geprofeteer het tussen 750 en 700 VC.) eggo 'n ander perspektief as die klein profete van die Noordryk. Dit stem ooreen met Amos in sy ernstige oordeel teen hebsug (Mg. 1:7) en die uitbuiting van die armes (sien 2:2). Geweld word ook genoem as goddelike straf (sien 2:3, "onheil waaruit julle julle nekke nie sal kan uittrek nie"). Samaria sowel as Jerusalem sal verwoes en ruïnes word (1:6-7; 9:11-12). Nogtans reflekteer die boek in sy huidige vorm 'n mengsel van oordeel en hoop, geweld en vrede. Die woord kom twee maal voor. In die positiewe visioen van vrede in 5:4 sal die vors van Israel wat in Betlehem gebore word in sy persoon (vrede) wees. In 3:5 word die term egter verkeerdelik deur die valse profete gebruik.

Hulle verkondig vrede () omdat hul materieël daarvoor vergoed word (, "bytend met hulle tande"). Dit het die Nederlandse geleerde Adam van der Woude (1976:125-152) daartoe gelei om Miga 2-5 te interpreteer as 'n weergawe van 'n strydgesprek tussen die profeet en sy opponente. Die gevolg was dat die beroemde utopiese vredesvisioen van Miga 4:1-5 (minstens sover dit die boek Miga aangaan) aan die valse profete toegeskryf moet word wat Miga opponeer (dit is dus 'n "pseudo-profetische repliek"). Volgens Van der Woude is die enigste alternatief tot sy teorie dat Miga 4-5 (sowel as 6-8 wat hy as Deutero-Miga onderskei, sien hierbo) "consist of a more or less uncoordinated compilation of (frequently contradictory) prophecies of a variety of styles and dates" (Vriezen & Van Woude 2005:381).14

Die boek Miga (1-5) reflekteer dus 'n unieke perspektief op vrede en geweld: beide is gedurig in die mens se gedagtes. Mense stry en verlang na 'n utopie waar geweld afwesig sal wees en vrede sal heers, waar swaarde ploegskare sal word (Mg. 4:1-5). Nietemin bestaan die huidige lewe uit lyding en geweld omdat mense mekaar gewelddadig uitbuit en hulle op gewelddadige wyse daarvoor gestraf word. Vanuit die perspektief van Miga 1-7 as een boek, te midde van al hierdie lyding en hoop op 'n toekoms wat nog nie gerealiseer het nie, word mense aangeraai om in hierdie lewe "reg op te tree, liefdevol te handel en nederig voor God te wandel" (6:8). Terwyl hulle dus wag en hoop op vrede om te realiser, moet hulle leef volgens die waardes wat die bestanddele van daardie vrede uitmaak (byvoorbeeld, soos genoem in Ps. 85, sien hierbo).

3.5 Die verlange na vrede en geweldsfantasieë teen Assirië in Nahum

Die boek Nahum kan waarskynlik gesitueer word gedurende die Assiriese bedreiging teen Juda in die middel van die 7e eeu VC. (terminus ad quem 612 VC.). Die byvoeglike naamwoord soos gebruik in Nahum 1:12 verwys na die welstand en vredestoestand van die Assiriërs wat niks positief vir Juda inhou nie. In 2:1 het ons die beroemde uitspraak van die verkondiging op die berge van die goeie boodskap en vrede vir Juda: . Dit weerspieël die verlange soos uitgedruk in die profesie dat die Assiriërs Juda nie meer sal teister nie. Die uitspraak maak Nahum egter nie 'n boek van vrede nie. Inteendeel, die uitspraak word omring deur visioene van JHWH as 'n wrede en wraaksugtige God (natuurlik aan die kant van Juda, sien 1:1-14), asook verdoemende uitsprake van verwoesting gemik teen Ninevé (wat in 3:4 'n uitbuitende hoer genoem word) en waarin militêre geweld prominent is. 'n Voorbeeld van laasgenoemde (uitgedruk in kragtige poësie) kom voor in 3:1-3:

 

 

In Nahum verwys nie na die afwesigheid van oorlog of vreedsame naasbestaan van volke nie. Vrede het alleen betrekking op Juda en dit impliseer die gewelddadige verwoesting van die vyand.

3.6 Die verlange (teen alle verwagting) na vrede in Habakkuk

Die boek Habakkuk (wat waarskynlik na 650 VC. gedateer moet word) is uniek onder die XII. Dit besit 'n moderne klank, aangesien dit oor die teodiseeprobleem handel. Die profeet veroordeel nie en belowe ook nie vrede nie, maar vra vrae oor die onderdrukking, ongeregtigheid, tirannie, geweld en stryd wat hy waarneem (1:2-3). Sy onbehae oor hierdie verskrikkinge kan geïnterpreteer word as 'n verlange na vrede wat die teenoorgestelde daarvan is.15 Die eerste antwoord wat Habakkuk ontvang, bevredig hom nie, aangesien die feit dat God die Babiloniërs stuur (1:5-11) om ongeregtigheid te straf, gaan insigself gepaard met terreur en militêre geweld (1:12-17). God moet beter doen. Sy tweede antwoord skuif die verantwoordelikheid na die regverdige individu wat, ten spyte van al die lyding en geweld, "deur die geloof moet lewe" ()

In 2:5-20 gaan die profeet voort om te worstel met gewelddadige onderdrukking, maar dit lyk of hy dit hanteer deur straf aan te kondig (vyf keer word die uitdrukking "wee hom" gebruik) vir die onderdrukkers. Laasgenoemde verwys moontlik na meer as Babiloniese geweld, want hebsug en afgodediens sal ook gestraf word. Die aankondigings het nie vrede tot gevolg nie, aangesien die verwysing na JHWH wat in die tempel woon en die "stilte van die aarde" (2:20) nouliks in terme van oibw verstaan kan word.

In Habakkuk 3 wend die profeet hom tot gebed en pleit vir verlossing op sterkte van JHWH se (gewelddadige) magtige dade in die natuur en oorlog. Hy kry geen antwoord nie en wag rustig op die onderdrukkers se straf (3:16). Habakkuk 3:17 beskryf letterlik die afwesigheid van vrede (geen landbou voorspoed nie) en teen alle verwagting in prys die profeet JHWH, ten spyte van die afwesigheid van .

3.7 Beloftes van vrede te midde van oordeel en verwoesting in die boek Sefanja

Nie een van en sy derivate kom in die boek Sefanja (wat ongeveer 630 VC. gedateer kan word) voor nie. Daar kan egter 'n saak voor uitgemaak word dat in die beloftes van verlossing 'n situasie voorsien word waarin Juda in harmonie en voorspoed sal lewe.

Soos by die meeste ander klein profete, met die gebruik van die theolegumenon van die "dag van JHWH", funksioneer Sefanja se positiewe visioene vir vrede in die konteks van oordeel teen Juda en Jerusalem sowel as die nasies. Verskeie aspekte verleen aan hierdie boek 'n besondere aard, indien dit vanuit die perspektief van vrede beskou word.

Eerstens verkry die veroordeling van Juda en die nasies kosmiese dimensies wat die aarde in sy geheel raak. Mense en diere sal van die aardbodem uitgeroei word (1:13, 18b) en selfs die aarde self sal verteer word (1:18b): .

Tweedens beteken die dag van JHWH slegs oordeel en verwoesting, selfs meer as in die boek Amos (5:18-20). God is 'n God van wraak. Die poësie wat gebruik word, weerspieël 'n erns: dit beteken oorlog en verwoesting (1:15).

In hierdie situasie is daar derdens, 'n sprankie van hoop, maar dit sal gebeur deur en tot voordeel van die (armes van die land). Zenger (2016:685-692) staan sterk daarop dat die verwys na die ekonomies armes (en nie net na die nederiges nie) in die land wat konkreet gely het as gevolg van binnelandse en buitelandse verdrukking.

Vierdens, in die toekomstige vredestoestand sal God se liefde heers en sal die "oorblyfsel ... kan wei en rus sonder vrees" (3:13). Verder sal die vrede ook tot voordeel van die nasies wees wat ook JHWH sal dien (2:11;16Hierdie universele motief vorm nie deel van die finale visioen van vrede vir Israel nie (3:11-20). Laasgenoemde se ervaring van ) behels inderdaad die afwesigheid van oorlog, maar nie in die sin van harmonieuse betrekkinge of saambestaan tussen Israel (Juda) en die vyand nie, want JHWH het as koning van Israel "die vyand weggeveeg" (3:15). visioen van vrede nie.

Die boek Sefanja kan beskou word as 'n uitstekende voorbeeld van hoe ekstreme geweld en verwoesting, sowel as 'n visioen van harmonie en liefde vir die lewe deur een mens geuiter kan word (indien die boek as geheel aan Sefanja toegeskryf kan word).17

3.8Obadja: 'n antagonistiese profesie van oordeel oor Edom

Die kort boek Obadja is waarskynlik te dateer kort na die begin van die ballingskap, aangesien dit Edom voor stok kry vir die gruwels wat hulle teenoor Juda gepleeg het (vv. 10-15). Die term ) kom een keer voor (v. 7), maar die vaste uitdrukking verwys na Edom se bondgenote, of daardie volke met wie Edom vredesverdrae sou hê.18 In Obadja se oordeelsprofesie het Edom se vriende egter teen hulle gedraai, so daar is geen sprake van ) nie - eerder die teenoorgestelde. Geweld (vv. 1, 9) en wraak (v. 17) deurspek die boek. Alhoewel die berg Sion as "heilige berg" aangedui word in vers 16 (wat sou kon impliseer), funksioneer die motief deurgaans as wraak teen Edom wat totaal vernietig sal word (v. 18b). In die laaste verse van die boek (19-21) blyk dit dat Juda voorspoedig sal wees, maar ten koste van hul vyande wie se gebiede (met die aanspraak dat dit voorheen Israelities was) beset sal word. 'n Mens kan dus nie die boek Obadja in terme van vrede interpreteer nie. Die teenoorgestelde is eerder waar.

3.9Om (messiaanse) te verwag in Haggai

Haggai (die eerste post-eksiliese profeet) tree in 520 VC. op. Die motief van vrede en voorspoed is prominent in die boek, maar is gekoppel aan die herbou van die tempel (wat 'n prioriteit vir die profeet is).19 In sy strewe om die tempel te laat herbou, gebruik Haggai die vredesmotief as negatiewe en positiewe versterking. In 1:7-11 (sien ook 2:15-19) funksioneer dit negatief: die land lewer nie sy verwagte produksie op nie (so bepaal deur JHWH), want die tempel is nog nie gebou nie. In 2:4-9 is die versterking positief: Serubbabel en Joshua moet werk aan die tempel, aangesien JHWH se heerlikheid en die materiële skatte vanuit die nasies dit sal vul. Vir laasgenoemde word die term ) gebruik (2:13). Na die fondasie van die tempel gelê is, sal JHWH die volk seën met voorspoed in die landbou (2:20). As deel van die toekomstige (waar militêre mag gebreek sal word, sien 2:22), word Serubbabel gekies as 'n "seëlring", wat moontlik verwys na 'n tipe messiaanse vors. Alhoewel laasgenoemde nie gerealiseer het nie, is Haggai se hoopvolle boodskap lewend gehou.

3.10 Die konkrete vestiging van vrede deur die herbouing van die tempel en die restourasie van die monargie in Proto-Sagaria

Waar die begrip vrede feitlik afwesig is in die boek van Amos, vermeng met geweld in die boeke van Miga en Sefanja, kom dit prominent voor in die boek van Sagaria (die term ) kom ses keer voor), indien mens beide dele van die boek in ag neem.

Proto-Sagaria (Sagaria 1-8), met sy klem op die herbouing van die tempel, kan amper presies gedateer word in 519-518 VC., kort na die ballingskap. In hierdie boek domineer die idee van vrede en restourasie. Vrede word nou konkreet en funksioneer nie bloot as 'n positiewe hoop vir die toekoms nie. Vrede word gekommunikeer deur agt visioene wat kulmineer in die vooruitsig van universele bevryding in 8:1-23.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat, alhoewel agt visioene vrede en hoop kommunikeer, hierdie visioene eksklusief is in die sin dat dit nie die volkerewêreld insluit nie. Veral twee reflekteer dit direk. In die visioen van die horings en smede (2:1-4, Heb.) slaan die horings op die nasies en die smede op diegene wat hulle onderwerp. In 5:5-11 beeld die sewende visioen (die vrou in die maatemmer) Israel uit wat gereinig word van boosheid en die boosheid na Shinar (Babilon) gestuur word om aanbid te word.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat die toekomstige vrede nie 'n apokaliptiese utopie is wat neerdaal uit die hemel nie (ten spyte daarvan dat Sagaria in die verlede as proto-apokalipties bestempel is). Die vierde (die aanstelling van Joshua) en die vyfde visioen (die goue kandelaar en twee olyfbome) kommunikeer dat Joshua as hoëpriester en Serubbabel as politieke leier prominente rolle sal speel vir die toekomstige vestiging van vrede (3:1-4:15). Kenmerkend beklemtoon 6:13 die harmonieuse samewerking tussen die twee met die gebruik van die term . "Vreedsame verstandhouding" () sal tussen hulle heers.

Die konkrete post-eksiliese opbou wat deur Proto-Sagaria voorgestaan word, bereik sy hoogtepunt in Sagaria 8 met verskeie aankondigings deur JHWH (ironies "van die leërmagte"!) oor messiaanse verlossing en vrede. Die term kom drie maal in hierdie hoofstuk voor: weens vyande was daar geen vrede nie (8:10), maar nou sal daar 'n "saai van vrede" ( ray) wees; "die wingerd sal sy vrug gee, die grond sal sy opbrengs lewer en die hemel sal sy dou skenk" (8:12). Opvallend is die rol wat gewone mense in die totstandkoming van hierdie vrede speel (soos in Mg. 8:6), uitgedruk in 8:16: "Praat die waarheid met mekaar, oordeel met waarheid, geregtigheid en vrede () in julle poorte". Die vasdae moet "vreugde en blydskap en vrolike feeste" word () en waarheid en vrede moet gekoester word (8:19). Weer eens is die ooreenkoms met Psalm 85:10-13 opvallend.

In Proto-Sagaria blyk daar 'n ontwikkeling te wees van die gedeeltelike eksklusiwisme van die visioene (sien hierbo) na universele denke wat die toekomstige messiaanse era van vrede tipeer. Daar sal nie slegs geen oorlogsbedreiging deur die vyand wees nie; inteendeel, mense van vreemde nasies sal aangetrek word na Jerusalem en daarheen wil gaan, Jode aan hulle klere gryp en sê: "Ons wil saam met julle gaan want ons het gehoor dat God met julle is" (8:23).

3.11Die stigting van vrede deur 'n nederige vreedsame koning in Deutero-Sagaria

In Deutero-Sagaria (Sagaria 9-14) lê die konkrete restourasie onmiddellik na die ballingskap reeds in die verlede. Na die herstel is Juda weer gekonfronteer deur oorlogsituasies met die gevolg dat die verlange na vrede weer opgevlam het. Hierdie verlange is geassosieer met 'n koninklike vors wat self nederig sal wees (ry op 'n donkie) en 'n man van vrede (9:10). Uniek aan Deutero-Sagaria is dat vrede nie nou tot stand kom deur oorlog en geweld nie, maar deur 'n vreedsame leier, dit wil sê deur vrede self. Dit herinner aan Gandhi se spreuk: "There is no way to peace, peace is the way."

3.12Straf en restourasie en vyandskap teenoor die nasies in die boek Joël

Die selfstandige naamwoord kom nie in die boek Joël (te dateer in die post-eksilisie periode, enige tyd tot 350 VC.) voor nie, maar die werkwoord obv) kom wel twee maal voor (2:25 en 4:4). In 4:4 verwys dit na vergelding (van Tirus en Sidon teen Juda) en beteken dit (ironies) die teenoorgestelde van vrede.

In Joël word enersyds berig oor rampspoed en geweld (sprinkane, invallende leer), asook oor vrede en herstel. Beide geweld en vrede word gekoppel aan die dag van JHWH en toegeskryf aan die optrede van JHWH se binnevallende leër. Die rampspoed bestaan nie alleen in die gebrek aan lewensonderhoud nie, maar het 'n ekologiese implikasie wat die plant- en dierewêreld raak. Na gebed en vas (2:12-17) hou die plaag op en voorspoed en JHWH se teenwoordigheid keer terug (2:21-27). Joël 2:25 kondig hierdie restourasie aan en gebruik die term : "Ek sal julle vergoed vir die jare ..." (). Die uitstorting van JHWH se gees (3:1-5) begelei hierdie verandering op kosmiese vlak.20

Joël 4 (Heb.) kommunikeer onteenseglik dat hierdie belofte van vrede nie die afwesigheid van oorlog en geweld beteken nie. Soos in Amos impliseer vrede vir Israel die bestraffing van die nasies wat Israel se lyding veroorsaak het. Dit word sterk uitgedruk in die omkeer van die vredestaal van Jesaja 2 en Miga 4: In die heilige oorlog sal nou van die ploegskare swaarde gemaak word en van die spiese snoeiskêre. JHWH sal in Sion woon, terwyl Egipte en Edom verlate sal wees. Hierdie opvatting oor vrede bied vanselfsprekend 'n uitdaging aan hedendaagse sienings daaroor.

3.13 Die verwerping van verbondsvrede volgens Maleagi, maar nie sonder hoop nie

Die boek Maleagi kan waarskynlik in die eerste helfte van die vyfde eeu VC. gedateer word (Snyman 2015:1-3).21 Dit bevat ses dialogiese strydgesprekke tussen JHWH en sy volk waarin die onbestendigheid van die godsdienstige situasie weerspieël word. In die tweede strydgesprek wat gemik is teen priesterlike wanpraktyke, kom die volgende verwysings na vrede voor:

 

 

Die term kom twee maal in hierdie gedeelte voor (2:5-6), maar verwys hier glad nie na die afwesigheid van vrede en oorlog nie. Dit verwys eerder na die welstand en integriteit wat die resultaat is van die verbond wat JHWH met sy volk gesluit het. Laasgenoemde is deur die priesters en Leviete bemiddel. Hulle het 'n positiewe rol gespeel in die vestiging van vrede deur hulle onderrig in die Tora, bewaring van kennis en om die volk te laat terugkeer van onreg. Die priesters het egter hul roeping verraai deur verdraaide onderrig en die besoedeling van offers (sien 1:14-15). Vrede is 'n positiewe uitkoms van die verbond, maar deur die priesters se korrupsie is die verbond nou verlore en daarmee ook die vrede.

Hierdie pessimistiese uitkyk is egter nie die finale uitspraak van die boek nie. 'n Onderskeid word getref in 3:13-21 tussen diegene wat eerbied het vir JHWH (die regverdiges) en die goddeloses (spesifiek in 3:18). Op die dag van JHWH sal die godsvresendes voorspoedig wees en die treffende beeldspraak wat hul voorspoed beskryf, roep die idee van vrede op, alhoewel die term nie gebruik word nie (4:2):

Vir julle wat my naam eerbiedig sal die son van geregtigheid opgaan en daar sal genesing onder sy vleuels wees. Julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.

Dit behels egter nie vrede sonder geweld nie, want die regverdiges "sal die goddeloses vertrap en hulle sal soos stof wees onder julle voetsole", 4:3).22

3.14 Die moontlikheid van vrede met die vyand in die boek Jona

Die bekende verhaal van die boek Jona (waarskynlik te dateer in die vierde eeu vC.) vertel van die onverwagte bekering van die Assiriërs. Dit blyk 'n boodskap oor te dra wat die teenoorgestelde is van Nahum wat oordeel en verwoesting oor Assirië aankondig (sien hierbo). Die werkwoord kom een maal in die boek voor en verwys na die vervulling van 'n belofte in die gedig in hoofstuk 2 (vers 10). Die probleem van oorlog, geweld en vrede blyk, oppervlakkig bekyk, nie deel van die sentrale boodskap van die boek te wees nie. Deurdat die boek die eksklusiwistiese nasionalisme van die Judeërs (wat die uitwissing van hulle vyand begeer) aanspreek, kan die verhaal egter gelees word as bydraend tot vrede tussen vyande. As sodanig is die boek uniek, want God kies nie outomaties kant vir sy volk nie. Inteendeel, hulle is (ironies) 'n struikelblok vir weens hul vooroordeel teenoor die vyand. Die verhaal protesteer teen hierdie eksklusiwistise houding, en laasgenoemde verander, indien die leser met die verhaal identifiseer.

 

4. OM SIN TE MAAK VAN VREDE EN GEWELD IN DIE XII: OOR EROS EN THANATOS, SIGMUND FREUD, DIE PSIGOLOGIE VAN VREDE EN MODERNE VREDESETIEK

Ons het in ons kort ondersoek opgemerk dat die perspektiewe oor vrede in die XII van boek tot boek verskil. Op grond van die ervaring van vyandskap, onderdrukking en lyding het die profete probeer om sin van alles te maak deur oor hierdie lyding na te dink in terme van hulle geloof in JHWH. Dit het probleme van sy eie geskep, aangesien JHWH op grond van sy basiese kenmerke van liefde, genade en barmhartigheid (soos uitgedruk in Ex. 34:6-7) alle onderdrukking en uitbuiting tussen mense onderling ten sterkste afkeur. Nou word hy terselfdertyd waargeneem as sou hy teenstrydig met sy ware natuur optree, omdat hy direk of indirek onderdrukkers wat gewelddadig optree op 'n gewelddage wyse straf. Die vraag is of dit hom nie op dieselfde vlak plaas as die skuldiges nie.

Volgens my is dit moontlik om sin hiervan te maak deur nie die idees van die profete as dogmatiese waarhede te beskou nie. Ons het hierbo gesien dat hulle in elk geval van mekaar verskil. Hul idees is menslike refleksies in 'n poging om sin van alles te maak. Met hierdie refleksies mag ons en moet ons simpatie hê, omdat ons nie in staat is om beter antwoorde te bied nie.

'n Psigologiese perspektief kan meer insig bied. Die vertrekpunt kan 'n Freudiaanse een wees. Te lank reeds het teoloë (Bybelse geleerdes ingesluit) psigologiese insigte in die interpretasie van die Bybel vermy, veral die van Sigmund Freud. Dit is moontlik te wyte aan Freud se ateïsme.

Volgens Freud, besit mense die basiese ingebore dryfvere van eros en thanatos, seks en die dood, die wil om te lewe en die wil om te sterf. In sy boek "Beyond the pleasure principle" het Freud ([1922] 1961:32-37) hierdie begrippe gebruik om te verduidelik waarom mense pyn, geweld en die dood kies. Freud het trouens beweer dat "the goal of life is death" en dat mense 'n onbewuste begeerte het om te sterf, alhoewel die lewensdrang grootendeels hierdie wens temper.

In hul strewe na geluk onderdruk mense hul drang om te sterf. In hul voering van oorlog en doodmaak van medemense (die soogdier wat hierin uitblink!) gee hulle op tragiese wyse uiting aan hul doodsdrang, om dan slegs die dilemma te besef waarin hulle hulself bevind. Die geweld wat hulle ervaar en veroorsaak, word dan (in die geval van die Joodse en Christelike godsdiens) gekoppel aan JHWH die God van Israel. Hy word gesien as die een wat die geweld regverdig maar ook as die een wat in 'n messiaanse era vrede, geregtigheid, waarheid en goedheid sal bewerkstellig, aangesien laasgenoemde beskou word as behorende tot sy ware natuur. Sy toorn en geweld is daarom slegs 'n fase in 'n langer proses en moontlik deel van 'n weg tot vrede na loutering (sien Mk 9:48-50).

Om die menslike stryd vir vrede en geluk ook in Freudiaanse terme te sien, hoef nie te beteken dat die geloof of die positiewe rol van godsdiens versaak word nie. Indien vrede en liefde as die hoogste waardes beskou kan word, wat werd is om na te strewe, dan verskaf die perpektiewe wat in die profetiese literatuur tot uitdrukking kom waardevolle insigte in die menslike toestand ("human condition") en hoe die mens daaroor nadink. Vandag kan die poging om vrede te bewerkstellig egter anders daaruit sien. Werk wat gedoen is oor die psigologie en etiek van vrede (sien Blumberg et al. 2006; Justenhoven & Barbieri 2012) kan deur Bybelse geleerdes (wat so baie gedoen het om die antieke Israelitiese denke hieroor te verstaan) ondersoek word. Om proaktief vrede te bevorder deur die weerhouding van geweld en positiewe aksies kan dui op 'n stap in die regte rigting. Jesus van Nasaret onder die Romeinse regering, Franciscus van Assisi tydens die kruistogte, Albert Schweitzer as 'n reaksie op Europese kolonialisme en die kernbedreiging, Ghandi onder Britse heerskappy asook Nelson Mandela in apartheid Suid-Afrika het gedemonstreer dat vrede in ons moderne tyd nie noodwendig 'n onrealiseerbare droom hoef te wees nie.

Die onlangse terreuraanvalle wat die moderne wêreld teister, dui daarop dat die nastrewing van vrede 'n saak van uiterste dringendheid is. Om bloot op militêre optrede staat te maak om die geweld te opponeer, mag onvoeldoende blyk te wees. Besinning is nodig oor die oorsake van geweld wat diep ingebed is in die menslike aard en natuur en dit moet aangespreek word. Geweld van terreurgroepe sal net verdwyn as sodanige groepe geen begeerte meer het om die weg van geweld te volg nie. Godsdiens moet onder geen omstandighede gebruik word om geweld te regverdig nie, maar om dit te voorkom (Mt 5:9).

 

BIBLIOGRAFIE

Blumberg, H., Hare, P. & Costin, A. 2006. Peace psychology: A comprehensive introduction. Cambridge: Cambridge University Press. https://doi.org/10.1017/CBO9780511812682        [ Links ]

Boshoff, W., Scheffler, E. & Spangenberg I. 2011. Ancient Israelite literature in context. Pretoria: Protea Book House.         [ Links ]

Childs, B.S. 1979. Introduction to the Old Testament as Scripture. London: SCM.         [ Links ]

Freud, S. [1922] 1961. Beyond the pleasure principle. London: Norton & Company.         [ Links ]

Gerleman, G. 1975. s.v. שׁלם in TWAT.         [ Links ]

Justenhoven, H.-G. & Barbieri, Jr, W.A. (Eds) 2012. From just war to modern peace ethics. Berlin: De Gruyter. https://doi.org/10.1515/9783110291926        [ Links ]

Koehler, W. & Baumgartner, W. (Eds) 1958. Lexicon in Veteris Testamenti Libros. Leiden: Brill.         [ Links ]

Scheffler, E. H. 1985. Micah 4:1-5: An impasse in exegesis? Old Testament Essays 3:46-61.         [ Links ]

Schmid, K. 2016. Das Zwölfprophetenbuch. In: J.C. Gertz (Hg.), Grundinformation Altes Testament (Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 5. Aufl.), pp. 372-375.         [ Links ]

Snyman, S.D. 2015. Malachi. Leuven: Peeters. HCOT.         [ Links ]

Van Der Woude, A.S. 1976. Micha. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Vriezen, T.C. & Van Der Woude A.S. 2005. Ancient Israelite and early Jewish literature. Leiden: Brill.         [ Links ]

Von Rad, G. 1953. s.v. ειρήνη, TWNT. on Rad, G. 1968. Theologie des Alten Testaments. II: Die Theologie der prophetischen Uberlieferungen Israel's. München: Kaiser Verlag.         [ Links ]

Zenger, E. 2016. Das Zwölfprophetenbuch. In: C. Frevel (Hg.), Einleitung in das Alte Testament (Stuttgart: Verlag W. Kohlhammer Stuttgart, 9. Aufl.), pp. 630-709.         [ Links ]

 

 

1 Opgedra aan Fanie Snyman, die vredevolle, met dank vir die voorreg van (Christelike) vriendskap.
2 Die Koehler en Baumgartner woordeboek (1958) dui "completeness, welfare (peace), unconcern, ease, prosperity, intact state, personal welfare, health, prosperous relation (= peace), friendship, friendliness and salvation" as vertaalekwivalente vir ) aan.
3 Gerleman 1975, s.v. in TWAT.
4 : Hosea 14:3; Joel 2:25; 4:42; Jonah 2:10; Nahum 2:1.
5 : Obadia 7; Miga 3:5; 5:4; Nahum 2:1; Haggai 2:9; Zecheriah 6:13; 8:10, 12, 16, 19; 9:10; Maleagi 2:5, 6.
6 Von Rad 1953, s.v.
ειρήνη, TWNT, maak die belangrike punt dat ) in die Ou Testament nêrens na 'n houding van innerlike vrede verwys nie. Dit manifesteer altyd na buite. Dit is 'n sosiale eerder as 'n individuele term.
7 My vertaling, soos deurgaans in hierdie bydrae.
8 Die volgorde soos in Boshoff et al. (2011) word dus gevolg: Noordryk (922-721 VC.): Amos, Hosea, Deutero-Miga; Suidryk (922-586 VC.): Miga, Nahum, Sefanja, Habakkuk; Ballingskap (586-539 VC.): Obadja; Persiese periode (539-333 VC.): Haggai, Sagaria, Deutero-Sagaria, Joel, Maleagi, Jona. 'n Totaal van veertien klein profete word hiermee geimpliseer. Vir ander volgordes in verskillende vertalings, sien Schmid 2016:373.
9 Die ballingskap verwys waarskynlik na slawehandel.
10 Veral 11:8-9 is merkwaardig: "Efraim, hoe kan ek jou opgee? Jou prysgee Israel? ... my hart is omgekeer in my, en my medelye is opgewek. Ek sal my woede nie laat geld nie, ek sal Efraim nie weer ten gronde rig nie, want ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in julle midde. Ek sal nie in toorn kom nie ..." Die prag van hierdie woorde van barmhartigheid wat JHWH tot "bekering" aanspoor (sien 11:8: en 14:5:) moet nie die leser mislei aangaande die feit dat in die grootste gedeelte van die boek die volk hewiglik vermaan word oor hul sondes nie.
11 In 14:3 word die werkwoord ) (waarskynlik in die sin van "vergoed", "beloon" of "betaal" gebruik in die uitdrukking ("ons sal as vrugte ons lippe aanbied") en dit kan gelees word as sou dit die toestand van ) oproep. In 9:7 word die term gebruik vir vergelding (in parallel met bestraffing) van Israel deur JHWH, wat (ironies) die teenoorgestelde van ) impliseer.
12 Van der Woude verwys, onder andere, na die invloed van Hosea, geografiese aanduidings, proto-Deuteronomistiese teologie (nie Sionsteologie nie) en die volk in plaas van die leiers as die aangesprokenes.
13 verwys in 7:3 na omkoop (vergoeding) en het as sodanig geen verband met as vrede nie.
14 Vir 'n bespreking (in vergelyking met Van der Woude) van die verskillende sienings van Allan (wat Mg. 4:1-5 as 'n pre-agste eeuse liturgie beskou) en Mays (wat dit as 'n verlossingsorakel beskou), sien Scheffler 1985:46-61.
15 Dit is geen verrassing dat en sy derivate nie in die boek voorkom nie. 'n Harmonieuse bestaan in die toekoms word ook nie in die vooruitsig gestel nie. Habakkuk 3:17-19 suggereer die teenoorgestelde.
16 Dit is interessant dat, ten minste in 2:11, die nasies JHWH op hul eie woonplek () sal dien en nie in Jerusalem soos die geval is in Miga 4:1-5 se 3:9-10).
17 Selfs indien die boek nie deur een persoon geskryf is nie, is dit steeds merkwaardig, want dit verteenwoordig ekstreme en teenoorgestelde houdings waartoe mense in staat is.
18 Dit staan parallel tot ("bondgenote") wat 'n ooreenstemmende betekenis weergee.
19 Von Rad (1968:29) merk gepas op: "Es ist richtig: mit einem Jesaja oder Jeremia kann eine solche Vorstelling nicht in Verbindung gebracht werden".
20 In die konteks van Joël se profesie verwys die "gees" na JHWH se goddelike kosmiese energie. Christelike eksegete behoort dit nie te interpreteer in terme van die uitstorting van die Heilige Gees in Ha 2 nie, alhoewel uit 'n hermeneutiese perspektief sekere verbande gelê kan word.
21 In sy omvattende en skitterende kommentaar argumenteer Snyman (2015) vir 'n datum tusssen 460 en 450 VC. Enige datum tot en met 350 VC. pas egter by die historiese situasie.
22 Die afsluiting van die boek (4:2-5) bevat ook die motief van hoop, maar dit is waarskynlik 'n afsluiting van die XII as geheel (sien Schmid 2016:411-412).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License