SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 issue1What convinced the World Communion of Reformed Churches in 1998 and World Council of Churches in 2015 to readmit the Dutch Reformed Church as a full member?An introduction to practical theology: History, theory, and the communication of the gospel in the present author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.38 n.1 Bloemfontein  2018

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i1.8 

BOOK REVIEWS

 

Weerlose weerstand. Die gay-debat in die NG kerk

 

 

M. Laubscher

Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV. E-pos: laubscherm@ufs.ac.za

 

 

BARTLETT, A. (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017) 304pp. ISBN: 978-1-4853-0787-7

Om eerlik te wees, ek was nie lus om hierdie boek te lees nie, want soos een van die hoofstukke lui, "Nog 'n taakspan, nog 'n verslag". "Nog 'n verdere gesprek, nou ook nog 'n boek" het ek by myself gewonder. Wel, ten dele waar, maar beslis nie nét dit nie. Die weerlose weerstand waarvan dit getuig, spreek van meet af: Sien die kwesbare dog vreeslose buiteblad met die kunswerk Love is love deur Jerry Lee Frost; gevolg deur die skrywer se hoop vir sy kleinkinders dat "hulle tot geloof sal kom in n kerk waar die Godgegewe waardigheid van alle mense vanselfsprekend erken word" (p. 5); opgevolg met Ernst van Heerden se roerende gedig "Ontsnapping" waarin die frase "in weerlose weerstand" (p. 6) ook voorkom. Die begin en einde hiervan is natuurlik om met deernis sin te probeer maak van die "ongelooflike gebeure" by die Algemene Sinodes van 2015 en 2016 in die NG Kerk. Belangrik egter is dat die boek nie net om dít handel nie, maar om veel meer. Om die wonder van 2015 se besluit te sien, moet ons inderdaad onthou waarvan ons kom, en n goeie vertrekpunt is 1986 se Algemene Sinode wat dit toe amptelik begin hanteer het as "n afwykende vorm van seksualiteit" (pp. 17-26). Hoe die verhaal hierna sou eb en vloei vanaf die leidinggewende rol van die Wes-Kaap Sinode in die laat 1990's tot by die Algemene Sinode van 2015, word dan chronologies boeiend en spannend vertel (Hoofstukke 3-10). Die laaste derde van die boek (Hoofstukke 11-16) is dan weer terug by die hoofsaak waarmee begin is, naamlik om te verstaan wat het gebeur rondom die "wonder" van 2015 en 2016 in die NG Kerk. In die proses ontdek n mens dat hierdie inderdaad nie net "nog n gesprek en nou ook nog n boek" is nie, maar dat dit veel meer openbaar en verklap, ontstel en inspireer van die kerk waarvan ons deel is, en nog meer mee geïmpliseer word.

Daar is veral verskeie sake waarom hierdie 'n belangrike boek is om van kennis te neem. Eerstens, dit gaan nie net om bepaalde en holruggeryde idees nie, maar om mense. Menswaardigheid is 'n baie sterk tema en refrein deur die boek: "Ek probeer om aan te toon dat dit 'n stryd om menswaardigheid en erkenning is wat nie in stryd met die boodskap van die Bybel nie, maar juis uitdrukking wil gee aan die diepste waarheid van die evangelie." (p. 16). Of, soos in die baie bekende woorde van Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk in die dae na 2015 se besluit: "As daar ooit 'n dag in sy geskiedenis was wat die NG Kerk ondubbelsinnig gesê het die kerk glo in die menswaardigheid van alle mense, dan is dit vandag. ... Nooit weer sal ons beskuldig kan word dat ons die waarde van mense minder ag nie." (p. 189). Dit gaan dus enersyds nie om homoseksualiteit (per se) nie, maar gays, gay-mense, mense met name, gesigte, verhale; mense wie steeds bly glo, hoop, en liefhet. Belangrik egter: Hoe 'n belangrike teoretiese vertrekpunt en tema dit ook al is in die boek om aan 'n gay 'n stem en gesig te gee - waarin hul erkenning, herkenning en erkentlikheid ontvang vir hul identiteit en betekenisvolle teenwoordigheid in die kerk - handel dit nie net om gays as mense (gelyk en waardig) voor God, mekaar en die wêreld nie, maar ook om die mense wie namens hul praat, stem gee, in solidariteit verkeer, kerk is vir mekaar en die wêreld; sowel as, en selfs nog belangriker: Dit vertel ook die verhaal van (kerk)mense wie ander (kerk)mense vrees of omarm. Ek kon nie help om telkemale te wonder of die titel nie "Vreeslose en vreeslike weerstand" moes wees nie, want vrees is inderdaad n belangrike subtema in hierdie verhaal. Dit gaan nie net om een bepaalde groep mense nie, maar ook om die verhaal van ander mense wie se menslikheid hier op die spel is. Die vraag is nie net wat dink en sê ons van hierdie mense nie, maar ook wat getuig dit van onsself? Tereg vra Bartlett naby die einde: "Glo die kerk steeds in die menswaardigheid van alle mense? Kan die kerk nou maar weer daarvan beskuldig word dat ons die waarde van sekere mense minder ag as dié verander?" (p. 277). Anders gestel: Die spook van 1857 loop weer, want "ter wille van die swakheid van sommiges" kan ons nie uitvoering gee aan beginselbesluite nie (p. 231).

n Tweede (verbandhoudende) saak van belang in die boek is dat dit ons help om die NG Kerk se teologiese reis/worsteling om in reine te kom met haar apartheidsverlede en n hoopvolle en geloofwaardige toekoms in die post-koloniale/apartheid Suid-Afrika tegemoet te gaan, inderdaad belig. Dit is beslis nie net "nog n gesprek en nou ook n boek" nie, maar n vreeslike dog vreeslose oorsig oor n belangrike deel in die reis van die NG Kerk soos sy bly stoei met haar verlede en toekoms. Die boek is n goeie venster en hermeneutiese sleutel om te verstaan wat het in die laaste drie dekades in die NG Kerk se teologie "gebeur". Ek was van meet af skepties hoe die kerk gedink het hul gesukkel om die gawe van die Belhar Belydenis te aanvaar en te leef, nie sal terugkeer tydens 'n ander soortgelyke "gevallestudie" nie. Die worsteling met alteriteit, die ander, hetsy van kleur, ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie, sal bly spook as bagasie, totdat ons dit erken, herken en sien vir wat dit werklik is, naamlik gawes om ons eie menswees mee te verryk. Die stryd met die ander - voor en na 1994 - is ten diepste om 'n lewe van erkentlikheid en heling van die self. Tereg skryf Bartlett na 2016 se besluit, en veral na die kontroversiële e-pos van Dirkie van der Spuy: "Die uiteinde van die week en ook van die voorafgaande jaar se gebeure was dat die algemene sinode die kerk weer terug oor die Rubicon geneem het. En nie net terug na vóór 2015 nie, maar dalk so ver terug soos 1986, of selfs vroeër - ten spyte van al die mooiklinkende woorde wat dit probeer wegsteek het" (p. 268). Waarop Bartlett natuurlik sinspeel is dat die teologie wat in 2016 na vore sou tree as "wonderlike oorwinning vir God en sy Woord ... [en] hard en duidelik nee sê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag" (n.a.v. Dirkie van der Spuy se e-pos op p. 267) as lewende spoke uit 1974 se gewraakte Ras, volk en nasie steeds nie net lewend was nie, maar "oorwin" en "hard en duidelik nee sê". Kortom, buiten verskeie ander akademiese studies in die verband wat die min teologiese onwikkeling in die NG Kerk betreur ("gekeer na binne"; "geslote vir die ander"), is hierdie maar net nog 'n geval en klassieke voorbeeld wat dit verder versterk.

Derdens, natuurlik is die stryd tussen 2015 en 2016 tiperend daarvan dat almal nie so is nie, en dat diep verdelingslyne in die kerk loop oor jare heen. Dit speel veral konkreet uit insake die wyse waarop die Skrif gelees en as gesaghebbend voorgehou word. Teenoor die konserwatiewe groep wat dikwels terugkeer en terugval op die sewe bewystekste, verteenwoordig Bartlett-hulle n hermeneutiese benadering wat nie wil wegdoen met bepaalde tekste nie, maar dit juis wil lees in die lig van die groter skopus (lyne en verbande in die Bybel). 'n Sterk refrein in hierdie beweging is dat nie verkeerdelik veronderstel moet word dat daar minder gehoorsaam na die Skrif geluister word as wat die geval is in die ander groep nie. Inteendeel! Waarom dit gaan is om die Bybel in sy totaliteit te lees en veral groter sensitiwiteit vir die radikale inklusiewe bedieningsmodel waartoe dit ons roep, en waaronder veral die tema van menswaardigheid en geregtigheid sleutelterme is (vgl. pp. 46-49, 70, 80, 93, 153-154). Kortom, soos Bartlett dit self verwoord na 2015 se Sinode in 'n Litnet-artikel: "Ek het ten slotte gesê dat die sinode met sy besluit nie net n bepaalde etiese beslissing gemaak het nie, maar ten diepste gekies het vir n meer verantwoordelike wyse om met die Bybel om te gaan." (p. 196).

Insake hierdie belangrike saak van Bybelse hermeneutiek, 'n paar kritiese opmerkings. Eerstens is dit duidelik dat waarheid as sodanig nie onpersoonlik en staties is nie, maar verhoudingsmatig, dinamies, veelkantig en met ons onderweg is. Waarheid sonder geregtigheid en patos is dus hiervolgens ondenkbaar. Tweedens, ek kan nie help om te wonder of die implisiete olifant in die kamer in die gesprek rondom Bybelse hermeneutiek nie maar nog steeds die stille geloof in patriargie en bepaalde (statiese) genderkonstrukte is nie. Bartlett self is sensitief vir die kritiese punt (vgl. pp. 21, 22, 259, 265), maar ek wonder tog, veral in die lig van die werk wat nog gedoen moet word, of nie veel meer hieromtrent gesê kan word nie. (Ten nouste hieraan verbonde is dan ook die normalisering van seksualiteit waarop gespanne gewag word.) Byvoorbeeld: Die taal en begrippe-apparaat insake die verbeelding van die huwelik met 2016 se besluit wys op hierdie "onderrok wat uithang", die "oortjies van die seekoeitjie" wat uitsteek. Daarom, ten derde, is 'n ander (gevolglike) subteks in die verhaal die spanning en polarisasie tussen kerk en akademie. Hier is in hierdie verhaal nie net weerstand teen die ander nie, en ook nie net afstand wat al groter gaap tussen ons en die ander nie, maar veral ook tussen die teologiese fakulteite en die NG Kerk (vgl. pp. 212-213, 217-218, 273 ev.). Ons het mekaar broodnodig - veral nou wanneer ons so ver van mekaar staan. Daarom, en as vierde en laaste punt op hierdie punt, vind ek dit vreemd dat daar soveel toegegee word aan die wyse waarop "die konserwatiewe groep" die Bybel lees. Dit is een ding om te sê ons gaan nie mekaar se erns met die Bybel in twyfel trek nie, maar dit as sodanig kan tog nooit die kritiese en beslissende vraag wees nie. Die vraag is tog nie "of" ons met erns die Bybel lees nie, maar "hoe" ons dit doen! Ras, volk en nasie het ook met erns met die teks omgegaan! Ja, ek verstaan in ' tyd van suspisie en toksiese verdagmaking is dit belangrik om mekaar te vertrou, en veral as ons reeds besef en weet dat ons ' verhoudingsmatige etiek wil bedryf. Tog moet ons verder gaan en ook vra of so ' posisie regtig nog Bybels is. Enersyds wil ons akkommodeer, diversiteit bestuur, maar wat as dit inderdaad indruis teen die belydenis om die waardigheid van alle mense? Kortom, vir Bartlett en Sahd om in 'n laaste desperate poging die volgende aanbeveling aan die Sinode 2016 te maak: "a) die saak waaroor dit gaan nie tot die kern van die geloof behoort nie, en dat die kerk daarom met hierdie onderlinge verskille kan saamleef ... [en] b) ... is oortuig dat daar aan albei kante erns gemaak word met die Skrif ... [en] c) herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind homself opnuut tot die bevordering van die menswaardigheid van alle mense" (p. 256; vgl. ook p. 264) val vir my vreemd op die oor. Die drie punte van die voorstel moet saamgelees word, en indien laasgenoemde weerspreek word, is die legitimiteit van punte a en b beslis onder die vergrootglas/verdenking.

Vierdens, 'n ander onafwendbare tema in die verhaal is natuurlik hoe kerklike leierskap voorgestel word. Byvoorbeeld: "ons weet wat ons almal se standpunte is, en ons mekaar in elk geval nie gaan oortuig nie" (p. 112); of "Die gebeure voor en tydens die ASM-vergadering het by my die indruk gewek dat daar n fyn uitgewerkte strategie was om te verhinder dat die algemene sinode hom ten gunste van die erkenning van die vaste lewensverbintenisse tussen mense van dieselfde geslag uitspreek." (p. 167); of hoe 'n versoek om revisie by algemene sekretaris insake die 2015-besluit (waarvan die volledige regsadvies op die punt vooraf beskikbaar gestel was) gesystap is toe hul by die vergadering in Maart 2016 ingelig word dat dit nie kan dien nie omdat dit weens "tegniese rede nie saam met die agendastukke vir die vergadering ingebind was nie" (kursief oorspronklik) (p. 215); of hoe bepaalde appellante nie hulself onttrek van die liggaam wat die appèlle self hanteer nie (p. 215); of hoe streekmoderators vergaderings hou en reise onderneem wat gefinansier word deur n uitgewery in die kerklike bedryf wie se standpunt baie duidelik is in die verband (pp. 215216); of "Wat vir my tot vandag toe moeilik is om te verstaan, is dat die ASM se regsverteenwoordiger, ten spyte van hierdie regsmening, die ASM adviseer ..." (p. 223); of "Die ASM moes dus met 'n meerderheid van stemme besluit dat sy eie dokumente aan sy lede beskikbaar gestel mag word!" (p. 226); of die "vertragingstaktiek" van "... vreemd dat die implementering van n besluit reeds die vorige Oktober geneem is en wat volgens die kerk se regsverteenwoordiger nou in werking gestel moes word, moes oorstaan tot die vergadering van die moderatuur." (p. 228); of "Ons was egter nie gereed vir die sftocic-and-awe-taktiek wat in die laaste paar dae tot en met die sinode losgelaat sou word nie." (p. 238); of oor 2016 se Sinode se begin wat as volg beskryf word: "as n uiterste laagtepunt wat ek nog beleef het" (p. 239); of die "toksiese atmosfeer van onderlinge wantroue en 'n ondertoon van aggressiewe onverdraagsaamheid wat ek aangevoel het" (p. 239); en "in die oploop na die sinode reeds verskeie kerkordelike ongerymdhede wat as n byna roekelose verontagsaming van die kerkorde en reglemente beskryf sou kon word." (p. 239); of-of-of, en-en-en. Enersyds sou dit kon lees as vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word, maar andersyds is dit ook n moedige poging om die diepere onreg in hierdie saak verder te ontmasker en aan die kaak te stel; ja en uiteindelik tot verantwoording te roep. Dat die saak tans in die hof is, grief baie mense, want dit is inderdaad nie die kerklike weg om te volg nie. Dit is so, maar wat as ons nie meer ons eie huisreëls ken en gehoorsaam nie? Wat as die kerklike weg teen die agtergrond nie meer duidelik is nie? Kortom, hoe die leierskap eenvoudig met 2016 kon handel asof 2015 nie geldig was nie, sal hopelik via die hofsaak duideliker word. Soos Bartlett tereg kommentaar lewer tydens die aanvang van 2016 se Sinode: "En eintlik was daar geen verdere rede om n sinodesitting te hou nie" (no pun intended!) (p. 242). Wat Nelis Janse van Rensburg bedoel met "Die appelproses het bevind daar is tegniese foute gemaak by die vorige sinode en ek moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar" (p. 277), want "In feite het hy - terwyl hy alle regsgronde gehad het om anders te handel - persoonlik die verantwoordelikheid op hom geneem om die tersydestelling van die 2015-besluit te handhaaf" (p. 242) sal hopelik duideliker word in die maande wat kom.

     Laastens, hoort 'n werk soos hierdie wat sonder bibliografie, met bitter min bronverwysings in die teks, in toeganklike (nie-akademiese) taal, en eintlik net getuig van een kerk se verhaal met die saak, in so n vakwetenskaplike joernaal soos Acta Theologica? Indien hierdie resensie nie reeds duidelik n antwoord hierop bied nie, is dit dalk net nog n rede hoekom nog mense (in plaas van nog n taakspan en nog n verslag) gerus na vore kan tree en dit lees en bespreek saam met ander mense in geloofsgemeenskappe. Soos Frits de Lange tereg die anderdag by 'n kongres opmerk: Linkshandigheid was dekades gelede nog bevraagteken, gesien as onnatuurlik, maar wie sal dit vandag waag om n kind te dwing om regs te leer skryf? Tans is die geskiedenis hieroor nog in terme van weerlose weerstand, maar daar kom beslis n tyd dat dit nie meer so vreeslik of vreesloos bespreek sal word nie. Soos Moltmann op n keer hieroor geantwoord het: Ek verstaan nie hierdie debat en vraag nie ... ons glo tog net sola fidei (en net dit!).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License