SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.38 número1Prayer in the Old Testament as spiritual wisdom for todayWeerlose weerstand. Die gay-debat in die NG kerk índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.38 no.1 Bloemfontein  2018

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i1.7 

ARTICLES

 

Wat het die wêreldgemeenskap van gereformeerde kerke in 1998 en die wêreldraad van kerke in 2015 beweeg om die ned geref kerk as volle lid terug te neem?

 

What convinced the World Communion of Reformed Churches in 1998 and World Council of Churches in 2015 to readmit the Dutch Reformed Church as a full member?

 

 

P. Strauss

Departement Historíese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Cottesloe, Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, Gekwalifiseerde apartheid


ABSTRACT

As members of the World Council of Churches, the two synods of the Dutch Reformed Church broke their ties with this institution in 1961, following the critisism of the Cottesloe Consultation of 1960 on apartheid. The World Alliance of Reformed Churches, which became part of the World Communion of Reformed Churches in 2010, declared a status confessionis against the theological and moral justification of apartheid and suspended the membership of the Dutch Reformed Church at Ottawa in 1982. As a result of the changes effected in South Africa and the Dutch Reformed Church, the latter was readmitted as full member of the Alliance in 1998. In 2007 the Dutch Reformed Church applied for membership of the World Council. It was granted in 2015.

Keywords: Cottesloe, World Association of Reformed Churches, Qualified "apartheid"


 

 

1. INLEIDING EN PROBLEEM

Deur sy Algemene Sinode het die Ned Geref Kerk in 1962 'n lid van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) en in 1966 van die Presbiteriaanse Wêreldalliansie (PWA) geword (NGK 1962:246; 1966:526). Dié liggame sou onder gewysigde name - die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER) en die Wereldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) - in 2010 in Grand Rapids (Michigan, VSA) verenig om die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) te vorm (Strauss 2015:86).

Die beweging van die Algemene Sinode na hierdie twee gereformeerde ekumeniese organisasies was in 'n tyd (die 1960's) waarin die Ned Geref Kerk gebreek het met die breë Protestantse Wereldraad van Kerke (WRK). Voor 1962 was die Ned Geref Kerk sonder 'n Algemene Sinode. Dit het die opening gelaat vir die selfstandige sinodes van dié kerk, naamlik die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika (Kaap), in die Vrystaat, van Natal, Transvaal en Suidwes-Afrika (tans Namibië) om voor 1962 lid van die PWA en WRK te word. Die Kaapse Sinode was vanaf die ontstaan van die PWA in 1876 'n lid daarvan. Hy is hierin deur ander Ned Geref Sinodes gevolg.1 Die Transvaalse Sinode het in 1948 en die Kaapse Sinode in 1953 tot die WRK toegetree (Meiring 2008:194). Beide Sinodes het egter na die Cottesloe-beraad van 7 tot 14 Desember 1960 in Johannesburg uit die WRK onttrek. Hierdie skuif het die vorming van die algemene sinodale verband van die Ned Geref Kerk in 1962 vergemaklik omdat die Sinodes van die Vrystaat, Natal en Suidwes om belydenisredes en nou, bykomstig, die Cottesloe-beraad, nie by die WRK wou inskakel nie (Strauss 2015:65).

Apartheid en die Sharpville-onrus in 1960 in Suid-Afrika was die rede vir Cottesloe en Cottesloe die rede vir die uittrede van die Transvaalse en Kaapse Ned Geref Kerke én die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) uit die WRK (NGK Transvaal 1961:388-389; NGK Suid-Afrika 1961:48-53, 112, 528-529). Hierna was die Ned Geref Kerk en die NHKA se teologiese en morele regverdiging van apartheid die rede vir die besluit van die Algemene Vergadering van die WBGK in 1982 by Ottawa om 'n status confessionis (op die vlak van 'n belydenis)2 as die sterkste kerklike weerstand teen hierdie regverdiging af te kondig. Die WBGK het ook die lidmaatskap van hierdie twee kerke opgeskort (verklaring in NGK 1982:1020-1024).

Na die verwikkelinge in 1994 in Suid-Afrika én in die houding van die Ned Geref Kerk na 1986 - vir beide die afskeid van apartheid - word laasgenoemde as 'n volle lid van die WBGK (in 1998) en WRK (in 2015) terugverwelkom (Strauss 2015:73, 82). Die nuwe bedeling in 1994 in Suid-Afrika, nuwe denke in die Ned Geref Kerk oor die kerk en die samelewing na 1986 én sy aanpassing by die nuwe bedeling waarin apartheid taboe is, het hierdie kerk oor 'n wye front ekumenies aanvaarbaar gemaak.

Die volgende vraag word hier ondersoek: Wat het die WGGK en die WRK beweeg om die Ned Geref Kerk in onderskeidelik 1998 en 2015 as 'n lid "terug" te neem? Het daar by hierdie liggame veranderinge plaasgevind

- naas die afskeid van apartheid in Suid-Afrika en deur die Ned Geref Kerk

- om die Ned Geref Kerk na 1994 met ope arms terug te ontvang?

Om hierdie vrae te beantwoord, gaan dié artikel kortliks in op die breuk tussen die Ned Geref Kerk en die WRK en WGGK; die houding van hierdie organisasies in hierdie tyd teenoor die Ned Geref Kerk; nuwe denke oor apartheid in die Ned Geref Kerk na 1986; veranderinge in Suid-Afrika wat sou uitloop op 'n nuwe bedeling in 1994, en die houding van die WRK en die WGGK teenoor die Ned Geref Kerk in 'n nuwe ekumeniese fase vir die Ned Geref Kerk na 1990. Die sleutelvraag wat in dié proses gevra word, is: Waarom was dié twee organisasies bereid om die Ned Geref Kerk as volle lid terug te neem?

 

2. COTTESLOE: DIE BESLUITE

In 'n artikel in 2008 oor die Ned Geref Kerk en die WRK maak Meiring die raak opmerking dat daar oor die Cottesloe-beraad van die agt lidkerke van die WRK in Suid-Afrika in Desember 1960 "...reeds soveel geskryf" is dat daar nie volledig daarop ingegaan hoef te word nie (Meiring 2008:196). Daarom word slegs die hooftrekke oor Cottesloe waar van belang vir ons tema, hier aangestip.

Na die onrus by Sharpville waar 69 protesterende, nie-gewapende swartmense op 21 Maart 1960 deur die Suid-Afrikaanse Polisie doodgeskiet is (Feit 1971:42; Luckhoff 1978:2) en oproer daarna op plekke in Suid- en Suidwes-Afrika, het 'n wêreldwye argwaan teenoor apartheid en die Suid-Afrikaanse Regering losgebars. Ten einde die situasie binnelands onder beheer te kry, het die Suid-Afrikaanse Regering 'n noodtoestand afgekondig en organisasies soos die African National Congress (ANC) en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) wat as die hoofaanstigters agter die onrus gebrandmerk is, verban (Lombard 1981:192).

Negatiewe reaksies uit verskeie wêrelddele, ook van kerklike instansies, sou volg. Voor 'n byeenkoms van kerke in die Verenigde State (VSA) het die algemene sekretaris van die WRK, W.A. Visser 't Hooft, ook na die gebeure verwys. Die Algemene Vergadering van die WRK by Evanston in 1954 het immers, sonder om apartheid by die naam te noem, enige vorm van "segregation based on race, color or ethnic origin" as in stryd met die Evangelie en die aard van die kerk, verwerp (verbatim by Meiring 2008:195). Volgens Visser 't Hooft het apartheid die hoop van swartmense in Suid-Afrika verydel. Die Ned Geref Kerk is bekend dat hy hierdie beleid onderskryf, maar die WRK wil hom nie net veroordeel en dreig nie. Die kerklik-ekumeniese weg is broederlike oorleg, oortuiging en versoening. Daarom neem die WRK die inisiatief vir 'n konferensie van Suid-Afrikaanse lidkerke (Strauss 1989:147).

In stryd met 'n opvatting wat agterna onder anti-Cottesloe-groepe in Suid-Afrika sou heers, wou die WRK nie aan Cottesloe voorskryf wat hy moet besluit nie. In 'n vertroulike verslag oor die beraad sê R. Bilheimer, die WRK-konvenor van Cottesloe, dat die ampsdraers van die WRK op Cottesloe maar ses uit 86 getel het en waarnemers was. Daar was geen druk van hulle kant op ander se oortuigings nie (WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 3). Aan sy Sentrale Komitee oor die verwagte beraad sê Visser 't Hooft dat die ses gestuurdes van die WRK, in die besef dat die Suid-Afrikaanse vraagstuk kompleks is, gaan luister sonder om passief te wees. Hulle gaan met Evanston en om ekumene te bevorder, in die agterkop (WRK-Argief 280.37).

Ter bevestiging van die waarneming dat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk nie op die beraad "ge-Cottesloe" of gemanupileer is nie, het 'n Suid-Afrikaanse Presbiteriaan, S.P. Lediga, agterna na die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk verwys as "the giants of the day". Boonop kan die meeste van die omstrede besluite teruggevoer word na besluite wat meerdere vergaderings (waaronder sinodes) van die Ned Geref Kerk of kongresse waarby hierdie Kerk in die voorafgaande jare betrokke was, geneem het (Strauss 1983:130-133). In 'n Nadere Verklaring van die Kaapse en sommige beskikbare Transvaalse afgevaardigdes op 27 Desember 1960 bevestig hulle dié punt (NGK Suid-Afrika 1961:272-273).

Die voorafmemorandum van die Kaapse Ned Geref Kerk kom telkens in die besluite en eindverklaring van die beraad, terug. In 'n verklaring op 27 Februarie 1961 sê die Uitvoerende Komitee van die WRK dat die indruk wat geskep word dat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk by die beraad "ge-Cottesloe" is, misleidend is. Die ses gestuurdes van die WRK was blote waarnemers en konsultante. Die besluite vervat in die eindverklaring moes deur 80% van die deelnemers van die agt lidkerke goedgekeur word en enige afgevaardigde kon sy teenstem en redes laat notuleer (WRK-Argief 280.38).

Die mees omstrede besluite van Cottesloe - vir Suid-Afrika in daardie jare - was geleë in vier besluite: Swartmense wat geen ander byplek as "wit" Suid-Afrika het nie, kan nie permanent van stemreg in hul land van inwoning ontneem word nie;3 die Kleurlinge vir wie daar geen ander vooruitsig is nie, moet in die Suid-Afrikaanse Parlement verteenwoordig word;4 daar is geen Bybelse gronde vir 'n verbod op rasgemengde huwelike nie, hoewel die welsyn van die gemeenskap en die pastorale verantwoordelikheid van die kerk sulke huwelike "onwenslik" kan maak,5en Blanke gemeentes moet hul geriewe met ander deel waar daar so 'n behoefte is (Uniale NG-Sendingkongres 1960:108, WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 13-14; Luckhoff 1978:104-105; Strauss 1983:127-128).

Meiring tas mis as hy aanvoer dat Cottesloe in sy eindverklaring "lynreg teenoor" apartheid gestaan het (Meiring 2008:196). Sy houding verskil "lynreg" van dié van die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk wat 'n deurslaggewende invloed op die verklaring gehad het én ook van WRK-manne soos Visser 't Hooft wat op die beraad was. Meiring bevind hom - ironies vir 'n pro-Cottesloe-houding - in dieselfde posisie as die afgevaardigdes van die NHKA wat in die eindverklaring 'n verwerping van apartheid gesien en hulle daarvan gedistansieer het:

We wish ... to state quite clearly that it is our conviction that separate development is the only just solution of our racial problems. We therefore reject integration in any form . The agreement that has been reached contains such far-reaching declarations that we cannot subscribe to it . (WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 15).

Uit vrees vir wanvoorstellings na buite het die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk die verklaring van die manne van die NHKA opgevolg met hul eie verklaring op die beraad:

We wish to confirm that, as stated in the preamble (van die eindverklaring, PJS), a policy of differentiation can be defended from the Christian point of view, that it provides the only realistic solution to the problems of race relations and is therefore in the best interests of the various population groups ...

We do not consider the resolutions adopted by the Consultation as in principle incompatible with the above statement . (WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 14-15).

Vir die tema van hierdie artikel is die houding van beide die Ned Geref Kerk en die WRK na Cottesloe oor die uitkoms van die beraad en oor mekaar belangrik. Dit gee immers 'n aanduiding van die aard van hul betrokkenheid by mekaar.

 

3. DIE HOUDINGS VAN DIE NED GERF KERK EN DIE WRK NA COTTESLOE

In vertroulike notas van Visser 't Hooft op 19 Desember 1960 - dus 5 dae na die beraad - oor Cottesloe gaan hy in op die houding van die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk teenoor die uitkoms van die beraad soos vervat in die eindverklaring. Sy waarneming stem ooreen met hul verklarings agterna oor waarom hulle die eindverklaring steun (WRK-Argief 42.3.014/2, 2).

Die vier omstrede besluite toon onteenseglik dat Cottesloe op 'n -vir vandag - mak manier gekrap het aan die destydse apartheidsbeleid. Die beraad se milde kritiek6 kom in 'n tyd waarin apartheid en die Suid-Afrikaanse Nasionale Party-regering wêreldwyd veroordeel word en - veral - lojale Afrikaners teenoor 'n vyandige buitewêreld emosioneel laertrek rondom die regering van premier Verwoerd (Strauss 2001:840). In sy nuwejaarsboodskap op 31 Desember 1960 reageer Verwoerd ooglopend negatief op Cottesloe as hy sy luisteraars gerustellend meedeel dat die Ned Geref Kerk hiermee nog nie amptelik deur sy eie vergaderings (sinodes) gepraat het nie (Strauss 1989:149).

Die Afrikaanse gereformeerde kerke spring nie hierdie laer vry nie. In sy notas lug Vissser 't Hooft die mening dat die NHKA met hul weerstand teen en verklaring op die beraad teen hierdie agtergrond wou sê: "We are the real defenders of Afrikaanderdom and ..." die Ned Geref Kerk "become traitors" (WRK-Argief 42.3.014/2, 3). Dieselfde sensitiwiteit vir die laer blyk uit genoemde onmiddellike reaksie van die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk op die verklaring van die afgevaardigdes van die NHKA: ". a policy of differentiation . provides the only realistic resolution . We do not consider the resolutions adopted by the Consultation as in principle incompatable with ... [this]". 'n Reaksie wat, soos dié van die NHKA, op die Suid-Afrikaanse publiek waaronder hul eie lidmate voorkom, gerig is.

In sy vertroulike notas tref Visser't Hooft die kol met 'n verklaring oor die houding en optrede van die Ned Geref Kerk-manne op die beraad (WRK-Argief 42.3.014/2, 2). 'n Verklaring wat bevestig word deur Ned Geref Kerk-afgevaardigdes na die beraad soos Verhoef (Strauss 1983:132). Die Algemene Sekretaris van die WRK stel dit so:

Somehow, we had come exactly at the moment when they had come to the conclusion that it was time that they should speak out on certain important points. Now this does not mean that they give up apartheid but, in their mind, apartheid is not an absolute principle, but only a means and if that means creates injustice or if it proves at certain points unworkable, they are quite willing to replace it by more adequate means. They are obviously irritated by the fact that Verwoerd does not listen to them at all ... The Cape church ... made it clear to the government that they believe in direct representation of the Coloured in parliament, but Verwoerd had not listened . (WRK-Argief 42.3.014/2, 2).

Die subteks van hierdie waarneming van Visser 't Hooft en die verklaring van die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk, gee heelwat stof vir die bepaling van die houding van die twee "kante" direk na Cottesloe oor hul verhouding met mekaar en beide se houding teenoor apartheid in Suid-Afrika.

Uit hul agterna-reaksie op Cottesloe is dit duidelik dat die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk nie van apartheid 'n permanente struktuur of 'n beginsel wou maak nie. Vir hulle was dit slegs 'n metode gerig op die beginsel van regverdigheid of die regmatige belange van almal.7 Visser 't Hooft sê dit in soveel woorde. In die gees hiervan sou die Ned Geref Kerk aanpasbaar wees vir veranderinge in Suid-Afrika: ook na Soweto-1976 en met die koms van die algemene demokrasie in 1994.

Daarby was die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk daarvan oortuig dat die uitkoms van die beraad hul eie toedoen was en nie dié van die buitelandse WRK-groep nie. Hulle het dus geen kritiek teen Visser 't Hooft en sy mense gehad nie. Die gebeure van 1960 in Suid-Afrika was ernstig en het hulle genoop - Verhoef se woorde - om die alarmklok vir apartheid te lui: "Daar is gevaar!" Die uitvoering van apartheid draai vas (Strauss 1989:153). Hul verklaring op die verklaring van die NHKA aan die einde van die beraad verraai 'n aanvoeling vir negatiewe reaksies op Cottesloe in Suid-Afrika, maar hulle het nie die geweld van die storm wat in Suid-Afrika én in die Ned Geref Kerk op Cottesloe sou losbars, voorsien nie (Lombard 1981:262). Hulle sou die lidmaatskap van die twee Ned Geref Kerke van die WRK wou kontinueer, vir hulle geen kwessie nie, omdat laasgenoemde met Cottesloe aan kerklike stemme in Suid-Afrika in die stormagtige 1960 in Suid-Afrika 'n platvorm gegee het: stemme in 'n oop gesprek oor die toekoms. 'n Gesprek wat tussen amptenare van die WRK en daardie Ned Geref Kerk-afgevaardigdes wat Cottesloe bly verdedig het, voortgesit is (WRK-Argief 42.3.014; 42.3.017/1; 42.4.017/4).

Die reaksie van sinodes en instansies in die Ned Geref Kerk op Cottesloe in 1961 was negatief. Die Algemene Sinodale Kommissie van die Vrystaat besluit op 21 Februarie dat Cottesloe sy kerkgrense oorskry het. Boonop stel die Kaapse en Transvaalse Sinodes met hul lidmaatskap van die WRK die komende Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in gevaar (Kerkbode 22 Maart 1961). Die Federale Raad van NG Kerke - die voorloper van die Algemene Sinode - sluit hierby aan. Op 22 Maart 1961 noem die Raad die beleid van "differensiasie" Skriftuurlik, veroordeel hy Cottesloe op grond van die "gesamentlike getuienis" daaroor en versoek hy die Kaapse en Transvaalse Sinodes om uit die WRK te tree (Raad van Ned Geref Kerke 1961:50-55). Die Sinodes van Natal en Suidwes volg dieselfde spore (Luckhoff 1978:131). Op 10 April en 26 Oktober onderskeidelik veroordeel die Transvaalse en Kaapse Sinodes Cottesloe. Albei Sinodes onttrek hulle aan die WRK. Kritiek uit die Ned Geref Kerk teen die WRK is superkerkneigings en die verdoeseling van dogmatiese verskille tussen kerke (Ned Geref Kerk Transvaal 1961:282-283; Ned Geref Kerk Suid-Afrika 1961:48-53, 112, 528-529).

Daarmee het meerdere regeervergaderings van die Ned Geref Kerk hul standpunt teen die WRK na Cottesloe gestel. Cottesloe is afgewys en die WRK verlaat. Die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk na Cottesloe se insette op die beraad, hul waardering vir die WRK én laasgenoemde se kerklike hulp (fasilitering) in die krisisjaar 1960 in Suid-Afrika, is deur die Ned Geref Kerk verwerp.

Deur die WRK is daar van hierdie optrede van die Ned Geref Kerk by die Algemene Vergadering van Nieu-Delhi in 1961 slegs kennis geneem. In hierdie kringe was apartheid nou onder skoot. Christene in Suid-Afrika teen apartheid is van die WRK se steun verseker. Daar was egter geen besluit teen die Ned Geref Kerk nie (Meiring 2008:198).

 

4. DIE NED GEREF KERK IN 2015 VOLLE LID VAN DIE WRK

'n Punt van kritiek teen die WRK in die Ned Geref Kerk was die skraal basisformule van die WRK waarin daar net na Christus as God en Verlosser verwys is. By Nieu-Delhi in 1961 is hierdie basis verbreed om God-Drieënig in te sluit. Terwyl Nieu-Delhi nog die vertikaalverankerde sending-en getuienistaak van die kerke beklemtoon het, het daaropvolgende vergaderinge in die WRK die klem na die kerk se sosiaal-politieke of horisontale betrokkenheid by die gemeenskap verskuif. Hierin sou die Teologie van die Rewolusie ook 'n rol speel. By die Algemene Vergadering te Uppsala in 1968 is goedkeurend verwys na rewolusionêre bewegings onder "onderdrukkende" en verontregtende regerings wat dié juk met geweld wil afgooi. Die verweer: onreg en onderdrukking deur regerings is reeds strukturele geweld.8 Tydens 'n konsultasie oor rassisme in 1969 by Notting Hill besluit die WRK op 'n Programme to Combat Racism wat deur 'n Spesiale Fonds bedrae vir "humanitêre" doeleindes aan "bevrydingsbewegings" wat geweld gebruik - soos die ANC, Swapo en die Patriotic Front in Suider-Afrika - maak. Laasgenoemde is immers die outentieke verteenwoordigers van die onderdruktes in Suider-Afrika (Strauss 2004:102). Hierdie aksie is aanvanklik deur kerke in Suid-Afrika teëgestaan maar later deur sommige ondersteun. Daarmee het die WRK egter 'n situasie geskep wat dit vir die Ned Geref Kerk as 'n gereformeerde kerk onder veral Afrikaners, al bly die WRK net 'n platvorm vir kerklike oorleg, emosioneel en kerklik-ekumenies moeilik sou maak om sy lidmaatskap te kontinueer (Meiring 2008:198-199).9

Teen 1975 begin die "evangelicals" se invloed op die WRK toeneem. In die 1980's ontwikkel daar weer 'n hunkering in die WRK na die vertikaalverankerde sending- en evangelisasietaak van die kerk en Bybels-teologiese besinning. Meiring praat van die teologiese pendulum in die WRK wat begin terugswaai het na 'n posisie waarin die "evangelicles en die ecumenicals van die wêreld" mekaar hoor. In 1991, op die Algemene Vergadering in Canberra, is twee leidende figure in die Ned Geref Kerk, (professore) Johan Heyns en Pieter Potgieter, as waarnemers teenwoordig (Meiring 2008:193-204).

Opgesom: die WRK sou sy fasiliterende platvormtaak sonder superker-kneigings deur die jare getrou bly. Die houding en optrede van Visser 't Hooft en ander WRK Uitvoerende Komitee- en personeellede by Cottesloe, is voortgesit: die WRK as 'n ekumeniese platvorm vir kerke plaas geen dwang op lede deur hul standpunte en aksies voor te skryf nie. Na sy ekumeniese isolasie tot 1986 en die verbreking daarvan van in 1990-1994 met sy nuwe denke oor apartheid (Meiring 2008:203), het die Ned Geref Kerk hierdie vertrekpunt van die WRK aanvaar en is hy in 2015 sonder ophef as 'n volle lid terugverwelkom (NGK 2007:105,201; Strauss 2015:82).

Die WRK het die Ned Geref Kerk na apartheid as lid aanvaar en daarmee oënskynlik sonder moeite aangesluit by die wye ekumeniese aanvaarding van die Ned Geref Kerk na 1990-1994. Die feit dat die Ned Geref Kerk se lidmaatskap van die WRK eers in 2015 - na die herstelde lidmaatskap van die Ned Geref Kerk van die WGGK in 1998 - kom, kan na twee faktore teruggevoer word.

Die eerste een is dat die bande van die Ned Geref Kerk met die WRK in 1961 totaal verbreek is, dat lidmaatskap destyds tot twee sinodes van die Ned Geref Kerk beperk en vir die ander onaanvaarbaar was en dat daar daarna geen amptelike kontak tussen die Ned Geref Kerk en die WRK was nie. Kontak wat 'n wegspring kon wees om hierdie bande weer op te neem. Die kwessie van lidmaatskap van die WRK moes eers groei en ryp word in die algemene sinodale verband van die Ned Geref Kerk voordat die Algemene Sinode dit opgeneem en tot by die WRK self deurgevoer het. Die besluit van die Algemene Sinode van 2007 - na besinning oor meer as 'n dekade (NGK 2007:105, 201) - om aansoek te doen om lidmaatskap van die WRK het boonop eers agt jaar later, in 2015, 'n werklikheid geword.

Die tweede een is dat op die WBGK se suspendering van die lidmaatskap van Ned Geref Kerk in 1982 die Algemene Sinode, anders as die betrokke sinodes in die Ned Geref Kerk in 1961 met die WRK, nie sy lidmaatskap van die WBGK opgesê het nie. Die saak het oorgestaan sodat die Ned Geref Kerk aan die drie vereistes van die WBGK kon voldoen vir die opheffing van die suspendering van sy lidmaatskap. In die 1990's is die saak van beide kante op die spits gedryf. Daarop kom ons terug.

Hoe dit ookal sy, die WRK het die Ned Geref Kerk in 2015 terugverwelkom omdat die verstandhouding steeds is dat die WRK nie 'n supersinode nie, maar 'n ekumeniese platvorm is vir lidkerke wat hul kerklike selfstandigheid behou. Natuurlik is die kentering in die WRK in die middel 1980's om meer vertikaalverankerd en kerklik te opereer, aanvaarbaar in die Ned Geref Kerk, maar die gedagte aan 'n oorlegplatvorm vir kerke, die moontlikheid van kontak met kerke wêreldwyd én die getuienistaak van die Ned Geref Kerk in 'n wêreldwye kerkegemeenskap, maak lidmaatskap van die WRK vir die Ned Geref Kerk in sy nuwe ekumeniese fase aantreklik. Hier kan die Ned Geref Kerk òòk uiting gee aan sy getuienis-, verkondigings- en kontaktaak (NGK 2007 I:404-406; III:201).10

 

5. DIE NED GEREF KERK EN DIE WBGK: SY LIDMAATSKAP OPGESKORT

Die aansluiting van die Ned Geref Kerk by die PWA (sedert 1970 WBGK en sedert 2010 WGGK) deur sy Algemene Sinode van 1966 is vroeër aangedui.

Op hierdie stadium was apartheid reeds onder skoot in die PWA. In 1964, by sy Algemene Vergadering in Frankfurt am Main, veroordeel die PWA apartheid by implikasie. By Nairobi 1970 is daar pogings van "nie-Afrikaanse kerke" uit Suid-Afrika om die Ned Geref Kerk oor sy steun aan apartheid uit die WBGK geskors te kry. Hierna sou die weerstand teen apartheid onder kerke in die WBGK hoofsaaklik uit die familie van Ned Geref Kerke in Suid-Afrika kom (Strauss 2004:100). Vir sommige sou hierdie weerstand 'n belydenisbeweging word wat in die stryd van die Bekennende Kirche (Belydende Kerk) in die 1930's in Duitsland teen Hitler en sy Nazïsme (De Jong 1987:336-337) sy inspirasie vind (De Gruchy & Villa-Vicencio 1983:75). Die gebruik van begrippe soos dat apartheid bots met die Evangelie, 'n pseudo-religieuse ideologie is en dat die morele en teologiese regverdiging daarvan kettery is, sou die klimaat vir so 'n belydenisbeweging in kerklike en teologiese kringe bevorder.

Die eerste skote vir 'n belydenisbeweging teen apartheid word in 1965 deur Beyers Naude geskiet. In die maandblad van die Christelike Instituut, 'n organisasie wat hy in 1963 stig om Cottesloe en die ekumene tussen kerke te bevorder, skryf hy in Pro Veritate: "Die tyd vir 'n belydende kerk is daar!". Naude sien parallelle tussen Nazi-Duitsland en apartheid-Suid-Afrika (Pro Veritate 15 Julie 1965:1vv.).

In 1976 promoveer 'n jong predikant uit die Ned Geref Sendingkerk, Allan Boesak, met 'n proefskrif aan die Teologische Hogeschool in Kampen, Nederland: Farewell to innocence. Sy stuk adem die gees van 'n swart bevrydingsteologie. Hy beskou swartwees as 'n kader van onderdrukwees. Boesak is 'n gewilde anti-apartheidspreker in gereformeerde Nederland en vind buite Nederland òòk aanklank. Met sy terugkeer na Suid-Afrika verwerf hy 'n invloedryke posisie in die Ned Geref Sendingkerk. Hy word deel van 'n interkerklike drukgroep, die NG Broederkring, wat later die Belydende Kring word (Du Toit 2002:144). In sy naam dra hierdie Kring die strewe na 'n belydenisbeweging teen apartheid. Die Sinode van die Ned Geref Sendingkerk van 1978 versterk die beweging as hy stel dat apartheid nie met die Evangelie van Jesus Christus versoenbaar is nie (Boesak 1983:8). 'n Kindjie in gereformeerde ekumeniese kringe, die Alliance of Black Reformed Churches in Southern Africa, lê nog in sy wieg as Boesak by sy opening in 1981 by Hammanskraal pleit vir 'n nuwe ontdekking van gereformeerde oortuigings in die Suid-Afrikaanse situasie. Volgens hom vra die situasie nou meer van die kerke: 'n eietydse anti-apartheidbelydenis (Smit 1984:20).

In sy Charter onder die invloed van Boesak gebruik die Alliansie sinne wat later by die WBGK in Ottawa in 1982 geyk raak. Die Charter noem die teologiese en morele regverdiging van apartheid sonde en 'n bespotting van die Evangelie. Dit is verraad teenoor die gereformeerde tradisie en kettery. Die WBGK moet sterk aksie neem teen apartheid én sy teologiese en morele regverdiging. Die Ned Geref Kerk is immers 'n lidkerk van die WBGK. Die WBGK moet sy lidkerke ook aanmoedig om die Program ter Bestryding van Rassisme van die WRK te steun (verklaring verbatim in De Gruchy & Villa-Vicencio 1983:161-168).

Die oproep dat kerklike weerstand teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid op die vlak van 'n belydenis (status confessionis) lê omdat dit 'n verdraaiing van die Evangelie is, kom voor 1982 ook uit ander kerklik-ekumeniese kringe: die Lutherse Wêreldbond in 1977 en die Sentrale Komitee van die WRK in 1980. Daarby neem die Alliance of Black Reformed Churches in Southern Africa dit op hulle om dokumente teen apartheid vir lidkerke op pad na die WBGK se Algemene Vergadering by Ottawa van 17 tot 27 Augustus 1982, gereed te kry. Die Ned Geref Kerk en die NHKA was geoormerk vir spervuur op die Algemene Vergadering (Strauss 2004:102-103).

Apartheid as tema oorheers dié Algemene Vergadering. Dit begin by die nagmaal tydens die opening van die vergadering. Elf verteenwoordigers van die jonger Ned Geref Kerke onttrek hulle in 'n verklaring aan die diens omdat Swartmense nie by die nagmaal in Wit Ned Geref Kerk- en NHKA-gemeentes mag aansit nie. Hoewel die afgevaardigdes van die Ned Geref Kerk hierdie gebeure as "pynlik" bestempel, stempel dit die res van die vergadering (NGK 1982:1013-1017). Apartheid word by ten minste drie besprekingsgroepe van die Algemene Vergadering geopper. 'n Ad hoc-kommissie wat 'n verklaring hieroor vir die volle vergadering voorberei, word ook aangewys (brief van Algemene Sekretaris Perret verbatim in NGK 1982:1018-1020). Daarby word Boesak as die enigste kandidaat vir die presidentskap van die WBGK voorgestel omdat hy à la die Nominasiekomitee bekwaam is en die WBGK 'n harde en geloofwaardige "nee" teen apartheid deur sy keuse moet laat hoor. Boesak word ook verkies (verbatim verslag Nominasiekomitee in NGK 1982:1013-1017).

Die WBGK se amptelike standpunt en verklaring oor apartheid kom nie as 'n verrassing nie. Geykte uitdrukkings van Boesak in 'n rede voor die Algemene Vergadering van die WBGK en in verklarings van die Alliance of Black Reformed Churches in Southern Africa en frases van die NG Broederkring kom in die WBGK-verklaring oor die saak voor. Die verklaring volg op 'n "hearing" oor apartheid die middag van 19 Augustus en 'n debat in die volle vergadering op 25 Augustus (Perret in NGK 1982:1018).

Volgens die WBGK is rassisme - apartheid skei immers op grond van ras - afgodery en apartheid, as 'n uitvloeisel daarvan, 'n "pseudo-religieuse ideologie". Die teologiese en morele regverdiging van apartheid wat deursny tot aan die nagmaalstafel, is 'n verdraaiing van die Evangelie. Apartheid of afsonderlike ontwikkeling - die WBGK wil alle vorme van apartheid afwys -is sonde. In sy volhardende ongehoorsaamheid aan die Woord van God is dit kettery. Dit gaan uit van die onversoenbaarheid van mense en verhoed die versoenende en verenigende werk van Christus. Hierdie vergrype skep 'n status confessionis vir die lidkerke van die WBGK: ". it is not possible to differ without seriously jeopardizing the integrity of our common confession of Reformed Churches". Die WBGK skort ook die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk en NHKA op, hoewel "reluctantly and painfully...".

Om as lidkerk terug te kom, moes die Ned Geref Kerk (en die NHKA) Swartmense nie langer van eredienste en die nagmaal weerhou nie, deur woord en daad hulp aan die slagoffers van apartheid verleen en deur sy sinodes apartheid in kerk en staat onvoorwaardelik veroordeel en kerke aanmoedig om dit af te takel (formulerings en verhaal in NGK 1982:1020-1024).

Daarmee het die WBGK sy voortgaande lidmaatskap volledig in die hande van die Ned Geref Kerk self geplaas. In die proses sou die WBGK vir homself die reg voorbehou - met Boesak nou aan die spits - om die Ned Geref Kerk se poging om aan die drie vereistes te voldoen, te beoordeel.

 

6. DIE NED GEREF KERK EN DIE WBGK: 'N ERNSTIGE BREUK

In die dekade of meer na Ottawa 1982 sou die breuk tussen die Ned Geref Kerk en die WBGK soos verteenwoordig in sy Uitvoerende Komitee (UK-WBGK) deur wanbegrip én agterdog wyd loop.

Die spanning verhoog toe die Sinode van 'n jonger Ned Geref Kerk, die NG Sendingkerk (NGSK), kort na die WBGK in Ottawa op 1 Oktober 1982 ook 'n status confessionis teen - soos hy dit noem - die "sekulêre evangelie van Apartheid" afkondig én 'n konsepbelydenis, die Belydenis van Belhar, aanvaar. Sinsnedes in die Ottawa-verklaring oor apartheid word deur die NGSK oorgeneem. Die Belydenis van Belhar word met geringe wysiginge na kommentaar uit die verband van die NGSK, deur die NGSK-Sinode van 1986 goedgekeur (NGK 1982:1069-1087). Daarmee word hierdie Belydenis 'n natuurlike hoogtepunt van die belydenisbeweging teen apartheid én, à la Durand, die stryd oor apartheid in die Ned Geref Kerkfamilie (Durand 1984:126).

Die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1982 tree nie uit die WBGK nie. Hy neem "met leedwese" van die WBGK se hantering van apartheid en sy lidmaatskap van die WBGK kennis, betreur die stel van voorwaardes vir sy terugkeer en bespeur spore van 'n bevrydingsteologie in die Ottawaverklaring. 'n Verklaring wat volgens hom op sleutelpunte stry met die Bybel en die Gereformeerde Teologie (NGK 1982:1369vv.). Die Sinode gee nie voorbeelde om sy bewerings te staaf of enige verwysing na 'n status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid nie. Daarmee verraai die Sinode sy eie posisie teenoor die WBGK in die apartheidsdebat: sy reaksie teen die kritiek van die WBGK kom nie uit 'n gebolwerkte Bybels- en teologiesverantwoorde stellingname nie, maar outomaties en byna futloos - soos dié van 'n kragtelose verloorder. Ten opsigte van sy lidmaatskap van die WBGK het die Sinode ook 'n begeerte om aan die voorwaardes van die WBGK te voldoen en weer volle lidmaatskap van die WBGK op te neem.

Die Algemene Sinodes van 1986 en 1990 van die Ned Geref Kerk bring 'n nuwe houding oor apartheid in Kerk en Samelewing 1986 (KS-1986) en Kerk en Samelewing 1990 (KS-1990). Hierdie dokumente word deur die Ned Geref Kerk beskou as sy antwoord op die drie eise van Ottawa 1982. Hoewel KS-1990 skerper veroordelend na apartheid kyk as KS-1986, gaan dit by beide om die afwys van 'n gedefinieerde apartheid, 'n Houding wat die WBGK juis veroordeel. KS-1986 praat van die "hantering" van apartheid in Suid-Afrika as 'n sisteem wat die regmatige erkenning van die volkereverskeidenheid omvorm het tot 'n politieke ideologie wat mense verontreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel. Die sisteem bots met die Bybelse beginsels van naasteliefde en geregtigheid en tas die menswaardigheid van "almal" wat betrokke is (bevoordeeldes en benadeeldes), aan (NGK 1986:52). KS-1990 praat van apartheid wat "so begin funksioneer" het dat die grootste deel van die bevolking dit as onderdrukkend ervaar omdat dit een groep onregmatig bo ander bevoordeel deur gedwonge skeiding. Wat KS-1990 betref moet apartheid as sondig en 'n ernstige dwaling - dit wil sê in stryd met die Bybel -afgewys word (NGK 1990:40). Hierop ontstaan die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987. 'n Kerk waarin meer as 7,700 ontevrede lidmate oor KS-1986 uit Ned Geref Gemeentes hulle tuisvind (Van der Merwe 2002:99100). Die "gesamentlike getuienis" van KS-1986 en KS-1990 word intussen deur Ned Geref-leiers beskou as 'n voldoende antwoord op die drie eise van WBGK 1982. Hierdie standpunt word deur die "Hoof Uitvoerende Amptenaar" van die Algemene Sinode, Pierre Roussouw, op 4 Julie 1991 per brief aan die algemene sekretaris van die WBGK, Milan Opocensky, oorgedra. By 'n konsultasie van die WBGK in Johannesburg in 1993 wat konsentreer op KS-1990 en die eenheidsproses in die Ned Geref Kerk-familie, word hierdie oordeel van die Ned Geref Kerk herhaal (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/ 8). Die Algemene Sinode van 1994 van die Ned Geref Kerk toon hierna ongeduld met die WBGK wat KS-1990 nie as 'n voldoende antwoord beskou nie en daarmee die integriteit van die Ned Geref Kerk -volgens hom - "nie ernstig" opneem nie (NGK 1994:443).

Die radikale kritici van apartheid in die Belydende Kring is ook nie met 'n veroordeling van - net - 'n gedefinieerde apartheid tevrede nie. Hulle oordeel vroeër dat KS-1986 nie vir die WBGK wat 'n gewillige oor vir die Kring het, aanvaarbaar sal wees nie. KS-1986 kom immers nie - soos Ottawa 1982 vra - met 'n onvoorwaardelike veroordeling van alle vorme van apartheid nie (die WBGK se apartheid of separate development) nie. Inteendeel, die Belydende Kring in Transvaal betoog dat KS-1986 juis geformuleer is om die status quo van apartheid in Suid-Afrika en dus "exploitation and oppression", te handhaaf. Volgens die Kring bepleit KS-1986 vreedsame verandering binne die apartheidsisteem met sy rassisme, boosheid en geweld: 'n verandering "while the system remains basically the same" (WRK-Argief Ref 215/10.1/33).

 

7. DIE NED GEREF KERK EN DIE WBGK: WANBEGRIP EN AGTERDOG

Met die verwerping van KS-1986 toon die Belydende Kring dus ook agterdog teen die motiewe van die Ned Geref Kerk daaragter. Volgens die Kring wil die Ned Geref Kerk deur KS-1986 die status quo van apartheid handhaaf deur net 'n meer aanvaarbare gesig daaraan te gee. KS-1986 kom uit onsuiwere motiewe.

En tog verlaat meer as 7,000 pro-apartheidontevredenes die Ned Geref Kerk!?

Hierdie agterdog spoel later oor na funksionarisse in die WBGK. Daarop kom ons terug.

Vir sy onvoorwaardelike veroordeling van alle soorte apartheid vind die Belydende Kring in die Uitvoerende Komitee van die WBGK (UK-WBGK) 'n medestander: belangrik vir die verhouding WBGK-Ned Geref Kerk. Op 14 Oktober 1986 noem die UK-WBGK apartheid die oorsaak van daaglikse sterftes in Suid-Afrika, van meer as 20,000 mense wat sonder verhoor aangehou word, van kerkdienste wat ontwrig en leraars en ander kerklike werkers wat tronkstraf opgelê word. Daarom dank die UK-WBGK die Here vir sy president, A. Boesak, en sy "courageous and sacrificial leadership . in the struggle against apartheid" en vra hy dat 'n saak teen hom in 'n Kaapse hof teruggetrek word. In November 1987 reageer die algemene sekretaris, E. Perret, vanuit die UK-WBGK in 'n brief op KS-1986. Volgens die WBGK praat KS-1986 van positiewe en negatiewe apartheid. Die stuk veroordeel nie apartheid in sy geheel nie en verwys nie na die slagoffers van apartheid of die aftakeling van die sisteem soos deur die WBGK versoek nie (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/8). KS-1986 is nie die antwoord wat die WBGK by die Ned Geref Kerk soek nie.

Die agterdog van die Belydende Kring teenoor die Ned Geref Kerk en die moderator van die Algemene Sinode van 1986, J.A. Heyns, spoel oor op die WBGK. Heyns word na 1986 met KS-1986 waaraan hy 'n groot aandeel het,11 in die land, "Meneer NG Kerk". Die veranderinge wat KS-1986 aankondig, vind talle "nee's", populêr gestel, van links en regs. Die motiewe van "Meneer NG Kerk" wat deur sommige beskou word as die ongeloofwaardige hofpriester van die apartheidsregering, en van sy Algemene Sinode word deur sommige "nee's" byna willekeurig - ten opsigte van voorbeelde - negatief ingekleur. Heyns noem die "pad van hervorming"12 in hierdie tyd nie maklik nie (Strauss 2002:228-229).

Die Algemene Vergadering van die WBGK in Seoul in 1989 volhard in sy verwerping van die houding van die Ned Geref Kerk teenoor apartheid. Sy kritiek is dat KS-1986 net die hervorming van apartheid oorweeg, hervormings wat nie die bestaande situasie verander nie. Die Ned Geref Kerk weier om apartheid as 'n sonde te verklaar en die teologiese regverdiging daarvan kettery te noem. Die beraad in Maart 1989 van die Ned Geref Kerk-familie onder die GES (nou GER) in Vereeniging, bevestig hierdie waarneming. Die Ned Geref Kerk distansieer hom hier van 'n onvoorwaardelike, ongekwalifiseerde verwerping van apartheid. Wat Seoul in sy veroordeling van 'n teologiese en morele regverdiging van apartheid by dié Kerk soek, is dat die veroordeling vanuit 'n status confessionis -soos deur die WBGK in Ottawa in 1982 ingeneem - gedoen word. Aan die derde eis vir die Ned Geref Kerk se herstel van lidmaatskap van die WBGK, 'n onvoorwaardelike verwerping van alle soorte apartheid, moet in die sterkste moontlike kerklike terme voldoen word: dit moet vanuit die posisie van 'n status confessionis geneem word (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/8).

In die briefwisseling tussen die nuwe president van die WBGK, Jane Dempsey Douglass (na 1989) en sekretaris Milan Opocensky (na 1990) in Februarie 1993 word die Ned Geref Kerk ook daarvan verdink dat hy die eenheidproses in die Ned Geref Kerk-familie wil kaap en die Ned Geref Kerk in Afrika (NGKA) en Reformed Church in Afrika (RCA) in die proses manipuleer. Die briefskrywers is dus steeds pro-Boesak en Verenigende Gereformeerde Kerk of VGKSA13 en anti-Ned Geref Kerk, NGKA en RCA (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/9). Dit is opmerklik dat die betwyfeling van die Ned Geref Kerk soos deur Belydende Kring steeds op die UK-WBGK oorspoel.

12 Moontlik het hierdie goed reformatoriese oogmerk van Heyns vir sommige radikale kritici na premier P.W. Botha se hervormings in die laat 1980's geklink en was dit daarom by voorbaat onaanvaarbaar. Beide Botha en Heyns wat as sy hofpriester beskou is, was waarskynlik nie ten gunste van 'n rewolusionêre transformasie (radikale omvorming of verandering) nie. Dit is veranderinge wat rewolusionêr en nie evolusionêr plaasvind en waarin die draers van die sisteem nie kontinu ingroei in 'n nuwe situasie of sisteem wat hulle met hul ingesteldheid en vaardighede kan dra of waarborg nie (vgl argument by Stone 2014:12-21).

Hierdie verwyderde posisie tussen die WBGK en die Ned Geref Kerk bly ongewysig tydens 'n WBGK-konsultasie van Suid-Afrikaanse lidkerke van 3 tot 5 Maart 1993 in Johannesburg. In 'n opvolgbrief aan dié kerke op 10 Maart 1993 sê Douglass en Opocensky: apartheid wat die lyding van miljoene mense veroorsaak "calls for a declaration of guilt, acts of repentence and asking for forgiveness." Die sisteem moet onvoorwaardelik verwerp word as "a sin" en die teologiese regverdiging daarvan as 'n dwaling of kettery. "It is a matter of life and death. If you defend the system of apartheid your salvation is in jeopardy". Die kerklike aanvaarding van "racist policies" tas die geloofwaardigheid en integriteit van die Evangelie aan (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10). Die aanvaarding van die Algemene Sinodale Kommissie van die Ned Geref Kerk enkele weke later dat hierdie kerk aan die drie voorwaardes van Ottawa 1982 voldoen, beïndruk nie die UK-WBGK nie (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/8).

Wat die WBGK aangaan, praat hy en die Ned Geref Kerk nie dieselfde taal oor die onvoorwaardelike verwerping van apartheid nie. Die Ned Geref Kerk hou KS-1990 se verwerping van 'n gekwalifiseerde apartheid as voldoende voor, terwyl die WBGK die erns van 'n onvoorwaardelike, nie-gekwalifiseerde verwerping van alle apartheid met 'n status confessionis (op die vlak van 'n belydenis) onderstreep. Vir die Ned Geref Kerk is die eis dat die verwerping van apartheid vanuit 'n status confessionis moet kom 'n verskuiwing van die doelpale - dit staan immers nie letterlik in Ottawa se drie voorwaardes nie - maar vir die WBGK is dit dié teken waaraan die erns aan die verwerping uitgeken moet kan word. In sy verwerping van apartheid het Ottawa 1982 immers self 'n status confessionis afgekondig. Teen die agtergrond van hierdie misverstand besluit die Algemene Sinode van 1994 om by sy volgende vergadering, in 1998, 'n besluit14 oor sy lidmaatskap van die WBGK te neem (NGK 1994:417,443).

Dieselfde Algemene Sinode hoop intussen op 'n positiewe teken vir sy verhouding met die WBGK by die UK-WBGK in Julie 1995. Hierdie vergadering lewer egter niks op nie (NGK 1994:443). Tog kom daar bykans 'n jaar later -juis in die UK-WBGK - 'n ommekeer in hierdie verharde verhouding.

 

8. DIE NED GEREF KERK EN DIE WBGK: 'N OMMEKEER

Hoewel die UK-WBGK in 1993, by die WBGK-konsultasie in Johannesburg, nie die standpunt van die afvaardiging van die Ned Geref Kerk deel dat laasgenoemde se aanvaarding van 'n besluit van die GER in 1992 oor apartheid voldoen aan die derde voorwaarde van Ottawa in 1982 nie, bevat die optrede van die GER tog 'n wenk vir die verhouding WBGK-Ned Geref Kerk. Die wenk lê in die prosedure wat gevolg is: die GER formuleer 'n voorstel oor die verwerping van apartheid en die Ned Geref Kerk aanvaar dit "onvoorwaardelik", sonder ophef (WRK-Argief Ref 215/ 9.2.2.1/8). Van hierdie gebeure by GER in 1992 word daar sonder enige besonderhede oor die aanvaarde voorstel aan die Algemene Sinode van 1994 verslag gedoen. 'n Verslag waarvan die Sinode sonder 'n woord kennis neem. Dit wil voorkom asof die metode van GER 1992 met betrekking tot die verwerping van apartheid minder reaksie uit die Ned Geref Kerk ontlok as 'n voorstel wat intern geformuleer word (NGK 1994:29, 429).

Die Ned Geref Kerk het sy lidmaatskap van die GER gekontinueer (NGK 1994:429).

Op 3 Julie 1996 kondig 'n vertroulike brief van Jane Douglass aan Milan Opocensky 'n wending in die verhouding WBGK-Ned Geref Kerk aan (WRK-Argief 215/9.2.2.1/9). Hierdie - twee dekades later beskou -historiese geskrif kondig onafhanklike gereformeerd-kerklike denke en optrede gemik op die oplossing van kerklike verhoudinge, aan. Optrede waarby die UK én die Algemene Vergadering van die WBGK in Debrecen betrek word en wat die dispuut tussen WBGK-Ned Geref Kerk beëindig.

Douglass vertel Opocensky van 'n nie-amptelike en persoonlike besoek van 'n lid van die Moderatuur van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, Pieter Coertzen, aan haar op dieselfde dag. Coertzen is die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch en vir ander sake in die VSA. Die feit dat Douglass op dieselfde dag nog hieroor aan Opocensky skryf, dui op twee verskynsels. Eerstens maak sy staat op haar vars "memory" vir die besonderhede van die ontmoeting, en tweedens is die gedagtes wat die besoek by haar stimuleer, gedagtes wat sy voor 3 Julie 1996 al gekoester het. Die inhoud en moontlike effek daarvan dui daarop dat sy dit reeds vroeër oorweeg het.

Douglass deel Opocensky mee dat "this man's credibility was real". Die boodskap wat sy by Coertzen kry, is reeds aan die WBGK bekend: die Ned Geref Kerk heg groot waarde aan sy lidmaatskap van die WBGK en wil dit herstel; is verbind tot die proses van kerkeenheid in die Ned Geref Kerk-familie waarvan die besluit van die Algemene Sinode van 1994 'n bewys is; hierdie proses is ingewikkeld en neem tyd; die Ned Geref Kerk bedoel sy besluite wat verband hou met die eise van die WBGK ernstig en voldoen reeds aan die drie voorwaardes van die WBGK; die Ned Geref Kerk wil op sy woord geneem en nie beoordeel word met die oordeel van ander kerke nie; die drie doelpale van Ottawa moenie aanhoudend verskuif word nie, en lidmate van die Ned Geref Kerk is gereed vir verandering. As die WBGK na al hierdie pogings nie die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk herstel nie, "people will despair and turn against WARC". Die WBGK moet die Ned Geref Kerk in staat stel om na die Algemene Vergadering in 1997 in Debrecen terug te keer.

Volgens Coertzen is die eenheidsproses in die familie op koers hoewel daar probleme is. Een hiervan is die verskil oor Belhar as 'n belydenis. Die Ned Geref Kerk sien die invloed van die Bevrydingsteologie hierin en koppel dit aan 'n bepaalde tydelike situasie. Op sy meeste kan Belhar net 'n verklaring wees. Daarby dink Coertzen dat die hofsaak tussen die NGKA en die VGKSA eers afgehandel moet word voordat daar met eenheid in die hele familie gevorder sal word.

Douglass se gevolgtrekking?

With all my skepticism (oorspronklike spelling, PS), I find that more and more I lean to the position that we should receive the DRC back in August. Why? First of all, ... in the past we had more leverage over the church by suspending their membership, I think from now on we would have more leverage by readmitting them. We want them to be at Debrecen taking in the world concern for economic justice . and learning that [W]hite "European" people are a minority within the Reformed family globally. We want to be free to work with them on unification if they ask us to. They want to hold up their heads ... in the world church again, and they know very well what that requires.

Omdat die hertoelating van die Ned Geref Kerk by Debrecen 1997 'n "occasion" mag wees, verkies sy om die saak by die UK-WBGK in Augustus 1996 te hanteer. Sy sluit met die stellling dat eenheid in die Ned Geref Kerk-familie nog jare kan neem. Vir die WBGK is die vraag egter nie of die proses voltooi is nie, maar of die Ned Geref Kerk daartoe verbind is.

Die herstel van die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk sou egter langer neem as Augustus 1996.

 

9. INISIATIEWE VIR DIE OPHEFFING VAN DIE SUSPENDERING VAN DIE LIDMAATSKAP VAN DIE NED GEREF KERK

Tydens 'n besoek van die UK-WBGK in April 1997 aan Suid-Afrika vind daar ook 'n ontmoeting met die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie van die Ned Geref Kerk in Bloemfontein plaas. Die "reguit" vrae en antwoorde verbreek die aanvanklike stramheid en lei tot 'n nuwe gesindheid. Later word die Ned Geref Kerk as 'n waarnemer na die Algemene Vergadering van die WBGK in Debrecen in Augustus uitgenooi. So volhard Douglass en Opocensky met "leverage" van binne af (NGK 1998:40).

In Mei 1997 neem die UK-WBGK 'n besluit met 'n meerderheids-en 'n minderheidsaanbeveling aan die Algemene Vergadering. Die aanbeveling van die meerderheid volg Douglass se voorstel vir die herstel van lidmaatskap en 'n pastorale begeleiding van die Ned Geref Kerk van binne. Die aanbeveling van die minderheid voeg nog 'n doelpaal vir die Ned Geref Kerk by: sy "amptelike" aanvaarding van die Belydenis van Belhar. Daarmee skaar die minderheid hom by die VGKSA en stem hy teen 'n pastorale benadering van die Ned Geref Kerk van binne uit - 'n gereformeerde figuur in kerklike tug en iets wat Visser 't Hooft ook voor Cottesloe opgemerk het.15

In 'n brief aan Opocensky op 8 Mei 1997 betwyfel Douglass dit of die WBGK die gesag het om die aanvaarding van 'n belydenis 'n voorwaarde vir lidmaatskap te maak. Daarby is die Ned Geref Kerk betrokke by die eenheidsproses van die Ned Geref Kerk-familie soos ooreengekom in Johannesburg. Die isolasie van die Ned Geref Kerk na Ottawa 1982 strem sy deelname aan hierdie proses én sy kontak met ander gereformeerde kerke wat hul kontak met hom op hul beurt van lidmaatskap van die WBGK afhanklik maak. Die herstel van die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk sal heling en versoening in Suid-Afrika bevorder, diegene in die Ned Geref Kerk wat werk vir verandering en kerkeenheid sterk en dié Kerk help reformeer.

Die meerderheid op die UK-WBGK maak hulle op hierdie stadium los van beïnvloeding deur radikales in die jonger Ned Geref Kerke en handhaaf 'n eie mening. Nadat Opocensky hierdie voorstelle oor die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk aan die lidkerke van die WBGK in Suider-Afrika gesirkuleer en hulle reaksie daarop teen 30 Junie 1997 gevra het, skryf hy in 'n brief aan Douglass op 30 Julie 1997 dat die VGKSA nog nie gereageer het nie. Hy gaan hulle egter nie weer vir 'n antwoord op dieselfde vraag vra nie: "I do not want to appear as a beggar". Onder datum 29 Julie antwoord moderator J.D. Buys van die VGKSA in 'n laat brief dat sy kerk teen die meerderheidsvoorstel gekant is.

Behalwe vir die menings van die lidkerke in Suider-Afrika, stel die UK-WBGK ook 'n moniteringsgroep uit hierdie kerke saam wat op die voorstelle aan Debrecen moet reageer. Onder hulle is bekendes soos Jaap Durand, Beyers Naudé en Russel Bothman. Die voorstel van die meerderheid kry die steun van die meerderheid van hierdie geraadpleegdes in Suider-Afrika en die "ja's" vir dieselfde voorstel op die UK-WBGK tel 23 teenoor die "nee's" wat van twee persone kom.

Op 30 Junie 1997 vra Opocensky die Ned Geref Kerk om antwoorde op vier vrae wat met die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk verband hou. Op 25 Julie reageer die direkteur vir Ekumeniese Sake en Inligting van die Ned Geref Kerk, Willie Botha, hierop. Hy aanvaar die uitnodiging dat sy moderator Freek Swanepoel en hyself Debrecen bywoon. Hulle is ook bereid om vrae van lidkerke hier te beantwoord (alles in WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10).

Hierop aanvaar die Algemene Vergadering van die WBGK van 8 tot 20 Augustus 1997 in Debrecen die voorstel van die meerderheid van sy UK in 'n "joint declaration". Hierdie verklaring, soos gefinaliseer deur die UK-WBGK, vereis die goedkeuring van beide die WBGK en die Ned Geref Kerk om in werking te kan tree. Omdat die WBGK, soos die GER ses jaar gelede, seker is wat hy soek én van die bereidheid van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk om aan sy versoek (nou 'n meer pastorale eis) te voldoen, word dit aan die Ned Geref Kerk net voorgele vir goedkeuring:

The resolution would become effective, restoring the right to full participation by the DRC (NGK), as soon as both parties have adopted the resolution. The Executive Committee therefore moves its adoption by this General Council and calls upon the DRC synod also to adopt it in 1998.

In die verklaring word die verwerping van die teologiese regverdiging van apartheid op die vlak van 'n status confessionis geplaas omdat so 'n regverdiging 'n bespotting van die Evangelie maak en daarby teologiese kettery is. Apartheid is verkeerd en sondig: nie alleen in sy praktiese gevolge nie, maar ook in sy "fundamental nature". In 'n pastorale brief aan die Ned Geref Kerk sê die WBGK

... the very nature of forced separation of people of differing races denies the fundamental biblical teaching that all humanity is equally

created in the image of God, a teaching so central to the Christian faith that it cannot be denied by Christians.

Daar die Ned Geref Kerk se voldoening aan die derde eis van Ottawa 1982 volgens die WBGK nog uitstaande is, sal hy deur sy aanvaarding van hierdie gesamentlike verklaring die leemte vul. Die WBGK bied ook sy hulp aan met die eenheidsproses in die Ned Geref Kerk-familie (alles in WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10).

Die gesamentlike verklaring tree dus in werking wanneer beide die Algemene Vergadering van die WBGK en die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk dit aanvaar. Dan word die opskorting van die lidmaatskap van die Ned Geref Kerk onmiddellik opgehef.

Hiermee verskuif die aandag na die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 1998 in Pretoria.

 

10. DIE NED GEREF KERK WEER 'N VOLLE LID VAN DIE WBGK

Die Algemene Sinode sou van 11 tot 17 Oktober 1998 in Pretoria vergader. Die verhouding WBGK-Ned Geref Kerk sou op Dinsdag 13 Oktober bespreek word. Op hierdie stadium was dit nie 'n uitgemaakte saak dat die Ned Geref Kerk die gesamentlike verklaring van die WBGK netso sal aanvaar nie. Al wou die Ned Geref Kerk sy skorsing uit WBGK-aktiwiteite opgehef sien.

In sy stel van die gesamentlike verklaring aan die Sinode toon die Algemene Sinodale Kommissie in die agenda dat hy die verklaring nie resloos aanvaar nie. Wat hom betref, moet die definisie van apartheid in die pastorale brief van die WBGK wat die verklaring vergesél, in die gesamentlike verklaring ingetrek word. Dan bly die Ned Geref Kerk by sy afwysing van 'n gedefinieerde apartheid. Ook is die verklaring van 'n status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid en die mening dat dit kettery is in punt 1 van die verklaring die standpunt van die WBGK en nie die Sinodale Kommissie s'n is nie (NGK 1998:42).

Intussen sou Opocensky die Sinode op dieselfde dag bywoon om die groete van die WBGK oor te dra en implikasies van die gesamentlike verklaring toe te lig. 'n Wysiging van die verklaring deur die Ned Geref Kerk sou sake deurmekaar krap. Sy teenwoordigheid vanaf Genève onderstreep die erns van die UK-WBGK met die "joint declration", maar ook hul erns om die Ned Geref Kerk in die proses saam te neem. Gereformeerd-kerklike tug wil pastoraal-persoonlik nader trek en nie verwyt en wegstoot nie. Die ommekeer in die UK-WBGK die afgelope tyd is ernstig, maar so ook sy gehegtheid aan Ottawa 1982. Daarby wil Douglass en kie die boeke van apartheid wat vanaf 1964 in die WBGK kom, toemaak (Strauss 2013:44).

In sy boodskap aan die Sinode besluit Opocensky kerklik-diplomaties om dit onder die aandag van hulle met besware teen Belhar as 'n belydenis te bring dat 'n status confessionis nie noodwendig deur 'n belydenisskrif gevolg hoef te word nie. Boonop het die WBGK nie die gesag - soos deur Douglass betoog - om 'n belydenis aan 'n lidkerk voor te skryf nie (NGK 1998:413).

Tydens die bespreking van die saak is dit een van daardie oomblikke op 'n sinode waarin nie almal wil praat nie en die wat praat hul woorde ernstig weeg. 'n Besef leef - waarskynlik - by baie dat die Ned Geref Kerk hier voor ander gereformeerde kerke in die wêreld apartheid kan groet of sy afskeid kan verleng. In so 'n situasie moet elke woord sin maak en daar nie geredekawel of onnodig gedebatteer word nie. Die aanbevelings van die Algemene Sinodale Kommissie word dus laat vaar. In 'n gespanne atmosfeer kom ondervoorsitter Mike Smuts en aktuarius Pieter Coertzen egter met 'n byvoeging by die gesamentlike verklaring wat hierdie stuk woordeliks aanvaar, maar enkele sake verduidelik. In hul byvoeging word apartheid vanuit die definisie in die pastorale brief en die kwessie van 'n nuwe belydenis vanuit Opocensky se toespraak verduidelik. Hulle ploeg dus met WBGK-kallers en voorkom so kritiek uit daardie oord, maar mik ook op instemming deur die Ned Geref Kerk-gemeentes (NGK 1998:412,413). Die stilte agterna uit hierdie oord en die hartlikheid waarmee die Ned Geref Kerk sedertdien in ekumeniese liggame ontvang word, bevestig hul aanvoeling (Strauss 2013:46).

Die Ned Geref Kerk was weer 'n volle lid van die WBGK.

 

11. SLOT

Die kerk as kerk bedryf nie praktiese politiek nie. Tog was apartheid in Suid-Afrika - soos deur die WBGK gedefinieer - 'n lewensomvattende stelsel wat ook op die nie-staatlike en nie-politieke terreine van die lewe deurgewerk het. Daarby het gedwonge skeiding op grond van ras 'n rasgeoriënteerde mensbeskouing blootgelê wat bots met die Evangelie en die Bybelse mensbeskouing, met die wyse waarop die Bybel na mense kyk. Die sentrale effek hiervan op mense se lewens het nie aan kerke verbygegaan nie. Die WBGK moes die Ned Geref Kerk op hierdie kerklike dwaling wys en kerklik oorreed om geestelik en fisies weer sy geledere onder die gereformeerde kerke van die wêreld in te neem. Dit het in 1998 gebeur. Op sy beurt het die WRK hierdie uitgerekte drama gemis, maar tog gereed gestaan om die Ned Geref Kerk op sy platvorm vir kerke in 2015 terug te verwelkom.

 

BIBLIOGRAFIE

Boesak, A. 1983. He made us all but ... In: J.W. de Gruchy & C. Villa-Vicencio, Apartheid is a heresy. (Johannesburg: David Philip), pp. 1-9.         [ Links ]

De Jong, O. 1987. Geschiedenis der Kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Durand, J.J.F. 1984. Belhar - krisispunt vir die NG Kerke. In: G.D. Cloete & D.J. Smit, 'n Oomblik van waarheid. (Kaapstad: Tafelberg), pp. 123-134.         [ Links ]

Du Toit, P.R. 2002. Die NG Kerk en sy familieverhoudinge. In: F. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. van der Merwe, Moeisame pad na vernuwing - die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein: Barnabas, pp. 131-180.         [ Links ]

Federale Sendingraad Ned Geref Kerk (FSR NGK) 1950. Handelinge. Sl:sn.         [ Links ]

Feit, Ε 1971. Urban revolt in South Africa 1960-1964. New York: Northwestern University Press.         [ Links ]

Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) 1958. Acts. Sl:sn.         [ Links ]

Kerkbode 1961. Vrystaat verwerp Cottesloe, 22 Maart.         [ Links ]

Lombard, R.T.J. 1981. Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepoliteik met spesiale verwysing na die jare 1948-1961. Pretoria: NG Kerk-Boekhandel.         [ Links ]

Luokhoff, A.H. 1978. Cottesloe. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Meiring, P.G.J. 2008. Die NG Kerk en die Wereldraad van Kerke - ses dekades van verwagting, verwydering en toenadering. NGTT 49(3 en 4):193-205.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (KS-1986) 1986. Kerk en samelewing. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (KS-1990) 1990. Kerk en samelewing. Bloemfontein: Pro Christo.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 1962. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 1966. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 1982. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 1994. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 1998. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk (NGK) 2007. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk Suid-Afrika 1961. Handelinge Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Ned Geref Kerk Transvaal 1961. Handelinge Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

Pro Veritate 1963. Die tyd vir 'n belydende kerk is daar. 15 Julie.         [ Links ]

Raad van Ned Geref Kerke 1961. Handelinge. Sl:sn.         [ Links ]

Soholtz, G.D. 1960. Die geskiedenis van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika 1885-1910. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Smit, O.J. 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerk-Boekhandel van Transvaal.         [ Links ]

Stone, H.J.S. 2014. Weerskant van die Rubicon: 'n Onderwysman oor Afrikanerpolitiek. Pretoria: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1983. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: Betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk. Ongepubliseerde DD.-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1989. Ekumene gestol? In: J.A. du Rand & J.S. Kellerman, Diensknegte van die Koning. (Bloemfontein: Pro Christo), pp. 146-162.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1991. Beginsel of metode? Die NG Kerk en apartheid na Cottesloe. NGTT 32(3):436-446.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2001. Nogeens: Die agtergrond, inhoud en implikasies van die Gelofte van 1838. HTS Teologiese Studies 57(3 & 4):814-834.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2002. Die NG Kerk en sy ekumeniese bande. In: F. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. van der Merwe, Moeisame pad na vernuwing - die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na nuwe relevansie 1974-2002. (Bloemfontein: Barnabas), pp. 181-241.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2004. Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en 'n status confessionis: 'n Vergelyking tussen die Wereldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese sinode se hantering van die saak. Acta Theologica Supplementum 6:96-121.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2013. Kerkwees in die branding. Acta Theologica Suppplementum 18.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Uníale Sendingkongres 1960. Verslag. Sl:sn.         [ Links ]

Van der Merwe, J.M. 2002. Die NG Kerk en die samelewing. In: F. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. van der Merwe, Moeisame pad na vernuwing - die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na nuwe relevansie 1974-2002. (Bloemfontein: Barnabas), pp. 51-130.         [ Links ]

Wereldraad van Kerke-Argief (WRK-Argief) (WRK-Argief vir sake waarby die WRK betrokke is) Lêers 280.37, 280.38, 42.3.014/2.2, 42.3.014/2.3, 42.3.017/1, 42.4.07/4.         [ Links ]

Wereldraad van Kerke-Argief Ref (WRK-Argief vir sake waarby die WBGK betrokke is) Lêers 215/ 9.2.2.1/8, 215/9.2.2.1/9, 215/9.2.2.1/10, 215/10.1/33.         [ Links ]

Williams, H.H. 2006. Johan Heyns en die NG Kerk en apartheid. Ongepubliseerde DTh.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

 

 

1 'n Voorval is bekend waarin ds. H.S. Bosman van die Ned Geref of Hervormde Kerk van Suid-Afrika (die NH of G Kerk in die ou Transvaal) die Algemene Vergadering van die PWA in 1899 in die VSA bygewoon het en kla oor die uitsluitlike gebruik van Engels sonder voorsiening vir enige ander taal, die pro-Britse houding op dieselfde vergadering en "politieke partijdigheid en onverdraagzaamheid ... in verband met ons eigen land en volk" (Scholtz 1960:183-184).
2 Smit (1984:22) stel dit so: "Streng gesproke beteken die uitdrukking status confessionis dat 'n Christen, 'n groep Christene, 'n kerk of groep kerke oordeel dat 'n situasie ontstaan het, 'n oomblik van waarheid aangebreek het, waarin niks minder nie as die evangelie self, hulle mees basiese belydenis aangaande die Christelike evangelie, op die spel staan, sodat hulle verplig voel om daarteenoor te getuig en te handel".
3 Vgl. die Kerklike Kongres oor die Naturelle-vraagstuk van 1950 in Federale Sendingraad Ned Geref Kerk (FSR NGK) (1950:9-14, 18-20).
4 Die standpunt van 'n afvaardiging van die Ned Geref Kerk Kaapland in 1960 aan die Suid-Afrikaanse Regering (WRK-Argief 280.38).
5 Vgl. die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) Potchefstroom 1958 wat nie deur die Ned Geref Kerk afgekeur is nie (GES 1958:147vv.).
6 By die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk van 2007 praat sy Moderamen van die "kritiese stem" van Cottesloe (NGK 2007 I:405).
7 Vgl. Strauss 1991:436-446.
8 Beyers Naudé, 'n Ned Geref Kerk-predikant en afgevaardigde van die Ned Geref Kerk na Cottesloe, wou die effek van die beraad deur die stigting van die Christelike Instituut in 1963 kontinueer. Hy het in 1968 - moontlik? - deur bemiddeling van Visser 't Hooft tydens die WRK se Algemene Vergadering te Uppsala opgetree. Hier is Naudé op 'n onkerklike wyse egter uitgejou omdat hy geweldlose optrede teen apartheid bepleit het (Strauss 2002:189).
9 In die verslag van sy Moderamen oor die ekumene van die Ned Geref Kerk aan die Algemene Sinode van 2007, bestempel die Moderamen die skep van die Programme to Combat Racism deur die WRK as die finale breuk tussen die Ned Geref Kerk en die WRK en vir baie kerke 'n "steen des aanstoots" (NGK 2007 I:405).
10 Vgl die motivering van die Moderamen van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in sy aansoek om lidmaatskap van die WRK by die Algemene Sinode van 2007: 'n lidkerk is nie verplig om met die besluite van die Algemene Vergadering "saam te gaan" nie, gereformeerde kerke moet 'n verskil in die WRK maak en kerke in die WRK - dus kerke wêreldwyd - respekteer en verwelkom die Ned Geref Kerk se teologiese insette (NGK 2007 I:406).
11 Ongeveer 40 paragrawe van KS-1986 kan direk na Heyns teruggevoer word (Williams 2006:196-198; 405-4-6).
13 Die VGKSA ontstaan in 1994 uit die NGSK en 'n deel van die NGKA (Du Toit 2002:165-168).
14 Die voorstel voor die Sinode was 'n "finale" besluit. Hierdie woord is egter geskrap (NGK 1994:443).
15 Brief van Opocensky aan die UK-WBGK op 5 Mei 1997, en brief van Nico Smith uit die VGKSA aan Opocensky op 26 Junie 1997 (WRK-Argief Ref 215/9.2.2.1/10).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons