SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue2Die reis gaan inwaarts- die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel SchoemanA space for grace: towards an aesthetics of preaching author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.37 n.2 Bloemfontein  2017

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v37i2.13 

BOOK REVIEWS

 

Ontvang wat vir jou gegee is. Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef

 

 

Ds. M.Laubscher

Universiteit van die Vrystaat

 

 

BURGER, C. & CILLIERS, A. (Wellington: Bybelkor., 2014) 291pp. ISBN: 978-0-86487-750-5

"Dit is nie 'n gewone boek oor die doop nie" (p.7) Só begin dit, en tereg ook, want twis, stryd, verwerping en vervreemding is nie die vertrekpunt, fokus of uitkoms van hierdie boek nie. Die bedoeling is nie om "sekere standpunte te probeer verdedig nie", maar eerder "die gesprek oor die doop te probeer verander" (p.7). In plaas van om te fokus op die bestaande verskille insake wanneer (klein of groot?) en hoe (met die hoeveelheid water?) Christene die doop bedien en vier, probeer die boek ons eerder opnuut oriënteer na hoekom ons doop, in die hoop dat ons (herontdekte) gedeelde teologiese oortuigings juis groter waardering vir die breëre, algemene, katolieke kerk sal aanwakker. ' Valse vrede waarin die doop hetsy onderdruk, of onderspeel, of onderwaardeer, of reduseer, of isoleer, of poneer, of verabsoluteer, en sodoende die gawe as gawe eintlik weerspreek, is nie te bespeur in hierdie boek nie. Trouens, daar is eintlik ' subtiele ironie aan die werk soos die fokus vanuit die doop ons eintlik rig en oriënteer tot dieper eenheid, gemeenskap en verbondenheid in die kerk se verkondiging, beliggaming en viering van die evangelie. Groter waardering vir egte en ryke gemeenskap met die Drie-enige God, mekaar en die wêreld, is 'n onvermydelike gevolg vir elkeen wie die boek lees.

Reeds die basiese struktuur en vorm van die boek getuig van bogenoemde insig. Deel I, hoofstukke 1-4, geskryf deur Coenie Burger, begin juis met die soeke na 'n weg vanuit die loopgrawe en grafte om God se geskenk aan ons te aanvaar en te deel. Die kern van die boek - met lang en digte hoofstukke - lê in die middel (Deel II: hoofstukke 5-9) waar Andries Cilliers breedvoerig en omvattend sistematies-hermeneuties met ' wye verskeidenheid van Nuwe Testamentiese tekste elkeen van die 5 gekonsentreerde temas van die BEM-dokument (Baptism, Eucharist and Ministry, uitgegee deur die Wereldraad van kerke in 1983 - na die proses reeds in 1929 begin het!) bespreek. Teen die einde, deel III, hoofstukke 10-12, is Coenie Burger weer aan die woord om meer konkreet, kreatief en prakties na dink oor dit waarna hy enersyds gesoek het in deel I, en Cilliers breedvoerig oor geteologiseer het in deel II. Die styl en aanpak van beide outeurs is besonders goed belyn en komplimenterend van aard.

Die hart van hul saak word myns insiens korrek vasgevang in die leitmotief van die werk wat veral weergalm in die titel van die boek, naamlik "Ontvang wat vir jou gegee is." Daar is niks outomaties, vanselfsprekend, magies, rigied en wetties aan die doop nie, want die doop veronderstel beliggaamde relasionaliteit, vierende gemeenskap, lewenslange geloofsvorming waarin ons hoop, glo en liefgehê word om te word wie ons. Wat die boek veral duidelik beredeneer, is dat dit in die doop om alles behalwe net die doop per se gaan. Een wyse waarop die werk dit self verwoord is om enersyds veral ' sterk saak uit te maak - en dit is in veral in deel II - dat daar 'n surplus van betekenis in die doop is wat allerlei kante, perspektiewe en vensters vir ons open. Die argument dat die 5 perspektiewe van BEM eintlik nie as 5 verskillende sake gesien moet word nie - maar almal te make met die 1 saak en betekenis (vgl. p.45, 73) - toon aan ons hoe die Christelike lewe nie net geanker en vertrek vanuit die doop nie, maar ook telkens keer op keer daarheen terugkeer, en selfs uiteindelik daarin tot rus kom aan die einde. In die doop sien ons ons ganse lewe van voor tot agter; van begin tot einde; met hede, verlede en toekoms verbind in een groot meesleurende verhaal. Dit is om die rede dat die werk dan tereg ook in die laaste en derde afdeling oor die praktyk tereg verwys na die proses (tydsverloop) voor, tydens en na die doopbediening self (vgl. p.140 met hoofstukke 10-12).

Wat hierdie boek veral onderskei is om verdere stimulus te verskaf aan die gedagte dat ons as gelowiges teologies kan leer dink-en-leef deur dit vanuit die doop te doen. Die doop in besonder is ' uitstekende teologiese vertrekpunt om oor die res van die Christelike lewe en geloof oor na te dink. Daar is eenvoudig geen manier dat ' mens nie hierdie werk kan lees en kan sien hoe onderlinge verbondenheid met ander sake en temas ten diepste na vore tree nie. Die doop het dit om die Woord, God Drie-enig, die Skrifte, nagmaal se aanbidding-gemeenskap-herinnering-versekering-vertroosting-vertroue-verwagting-en-danksegging, en dus uiteindelik die Christelike lewe self voor God se aangesig in hierdie wêreld. So help die doop ons om nie oor God generies en in die algemeen te praat nie - vgl. MTD (moralisties, teïsties en deïsties) as sekulêre "drie-eenheid" wat op baie subtiele wyse in verskeie geloofsgemeenskappe vandag teenwoordig is (p.65) - maar eerder ontvanklik en getuigend oor "die meer" gedagte van hierdie God wie persoonlik, by name, ons name erken, herken en erkentlik maak. 'n Verselfstandiging van die doop, vervreemd en geïsoleerd van die ander teologiese temas en sake, is nie wat hierin na vore tree nie, maar juis eerder die teendeel van ' groter waardering vir die omvangryke saak van die Christelike teologie en lewe waarin ons ingelyf word. Kortom, om te "ontvang wat vir jou gegee is", dui op veel meer as wat die titel op eerste blik wil deurgee. Die doop is inderdaad ' inlywing en poort tot soveel meer.

Daar is egter nog ' ander kant wat aan die titel skuil, en dit is dat die verstaan van geloofskennis juis al meer geïntegreerd, beliggaamd en gerig op die ander na vore tree. Teologiese kennis is dus nie meer net ' teoretiese saak wat ons soseer moet verstaan, verduidelik en bemeester nie, maar veel eerder 'n saak van viering, beliggaming en spreke in groter (geloofs)gemeenskap. Dié primêre insig hieragter is dat God in Christus, deur Woord en Gees, daadwerklik teenwoordig is en handel met ons sodat dit onvermydelik word dat allerlei terme na vore tree - soos "toeëiening" (p.38), of "aanvaarding" (p.123), of "ingroei" (p.160) en "internaliseer" (p.111), om maar 'n paar te noem - wat ons tegelykertyd vertroos en roep, anker en stuur, omhels en laat gaan, om te word wie ons reeds is. Die band tussen liturgie, leer en lewe - met ander woorde: lex orandi, lex credendi, lex convivendi - is hier onlosmaaklik georden en verbonde aan mekaar. Trouens, in verwysing na Rome se sakramentele verstaan van bepaalde rites of passages, help hierdie waardering vir die doop (en ook die nagmaal) ons juis om die sakrament(e) se teenwoordigheid, waarde en be-teken-is-vol-heid opnuut weer te herontdek soos ons drempels oorsteek in ons dinamiese identiteitsvergestalting as gelowiges. Dink maar net aan die aanvang van ' begrafnisliturgie wat anderkant die kis by die bad of vont begin in die hoop wat onthou wat met ons by die doopwater gebeur het.

Laastens, en nog steeds insake die titel, is hierdie gesprek oor die doop tog nie van ons bepaalde tyd en ruimte ontneem nie. Daar is belangrike kultuur-historiese skuiwe in ons midde wat nie anders kan as om ook ' implisiete ekklesiologie in die gemeenskap van die gedooptes te impliseer nie. Dit is goed en wel om te eindig met die slot bylae "Hoekom ons die kinderdoop aanvaar", maar ek wonder tog of die post-wêreld waarin ons leef, en of die bagasie van Christendom, kolonialisme, apartheid, volksteologie, algemene religieusiteit en moderniteit, genoegsaam verreken word in die hernude keuse vir die verbondsdoop. Sal hierdie keuse se verrekening teen bostaande agtergrond nie net groter sensitiwiteit vir die ander se posisie toon nie, maar ook groter self-kritiese insig op wat ons regtig ontvang in wat aan ons gegee is? Anders gestel: Wat ons ontvang in die doop is nie ' kerk nie, maar ' besonderse en eiesoortige gemeenskap waarin daar nie net sprake van inkulturasie behoort te wees nie, maar ook wesenlike transformasie en kontra-kultuur. ' Keuse vir die verbondsdoop behoort groter sensitiwiteit te toon vir velerlei wyses waarop baie tradisies en gemeenskappe (bewus of onbewustelik) verlei of verstrengel is in die greep van mag of magte verbonde aan ander sosiale merkers soos te vinde in klas en verbruikerstatus, ras en etnisiteit, geslag en gender, en watter ander sosiaal-etiese merkers daar ook mag wees wat ' groter invloed uitoefen as ons identiteitsontwikkeling vanuit die doop. Dit is nie dat daar nie 'n sensitiwiteit vir van hierdie sake is nie - soos byvoorbeeld die sake van "kultuur", "volk" en "taal" in die Suid-Afrikaanse Gereformeerde landskap van die vorige eeu (vgl. p. 27; maar sien ook p. 183 en 226) - maar of dit genoegsaam verreken word in die bepaalde konteks, gegewe ons historiese bagasie, met die roeping wat die gawe per se aan die kerk as geloofsgemeenskap voorhou, laat my tog as lojale gereformeerde teoloog en lidmaat van die kerk mymerend. Meer nog, in die ontvangs van hierdie gawe, is daar nie net hierdie sosiaal-etiese vrae om mee rekening te hou nie, maar ook onuitputlike ekologies-etiese potensiaal om die water - en die res van God se skepping - al meer te begin sien vanuit hierdie oord vir wat dit werklik is. Die (bra) "onlangse" beperking op die getal sakramente moet alles behalwe daartoe lei dat ons reduserend met die sakramente se etiese betekenis omgaan. Die doop verander tog nie net die primêre sosiale identiteit van my as dopeling nie, of die liggaam waarby ek ingelyf word nie, maar uiteindelik open dit ook op wesenlike wyse my geloofsoë waarmee ons die volle geskape werklikheid begin sien vir wat dit werklik is. Daar is inderdaad nog soveel te meer aan wat aan ons geskenk word in die doop.

En nou heeltemal onverwant aan al die paragrawe hierbo se gedagte-gang, moet ek wel meld dat dit vir my as leser teleurstellend was om nie meer volledig met behoorlike verwysings in die teks en bronnelys aan die einde ingelig te word nie. Daar is uiteraard ' sterk akademiese onderbou en teologiese verwysingsraamwerk wat met eksplisiete erkenning en aanduiding nie die toeganklike aard en styl van die teks sou ondermyn nie; inteendeel. Ek sou dus ook graag meer wou ontvang van die teologiese literatuur en studie waarop die boek steun.

In kort, my diepe waardering en sagte mymeringe toon hopelik hoe geslaagd hierdie twee outeurs hul beoogde uitkomste bereik het met hierdie werk. Ek is bly en dankbaar dat dit vanjaar erken en bekroon is met die Andrew Murray prys, want anders sou ek - en talle ander - so maklik kon dink hierdie is maar net nog 'n gewone boek oor die doop, en dit is die laaste ding wat ons nou nodig het. Ook in die lees en nadenke van hierdie werk, ontvang ons dus erkentlik wat aan ons gegee is.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License