SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 número2Contemplating Allan Boesak's fascination with preaching "truth to power"Ontvang wat vir jou gegee is. Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.37 no.2 Bloemfontein  2017

http://dx.doi.org/10.18820/23099089/actat.v37i2.12 

BOOK REVIEWS

 

Die reis gaan inwaarts- die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman

 

 

Prof Ferdi P. Kruger

Noordwes-Universiteit. Potchefstroom

 

 

WEPENER, C. (Bloemfontein: SUN MeDIA, 2017). 233 pp., Prys: R325 (druk), R260 (digitaal), ISBN 978-1-928355-14-4 (druk), ISBN 978-1-928355-15-1 (digitaal)

Die heengaan van Karel Schoeman op 1 Mei 2017 is op sigself 'n nuuswaardige saak. Karel Schoeman het immers op die gebied van die Afrikaanse Letterkunde diep spore getrap. W.E.G Louw het by geleentheid oor die viertal boeke (Veldslag, By fakkellig, 'n Lug vol helder wolke en Spiraal) opgemerk dat Schoeman op hoogte is van die waarde van tradisie, maar dat hy die vermoë het om onafhanklik hierop te kan voortbou. Daarom beskik Schoeman se prosa oor 'n vaart en 'n unieke innerlike ritme. In meer populêre taal uitgedruk sou gesê kon word dat Karel Schoeman diep geskryf het. Miskien sou op meer wetenskaplike vlak opgemerk kon word dat Schoeman in sy bydrae tot die Letterkunde klem geplaas het op die waarde van refleksie.

Om as teoloog vanuit die hoek van die Praktiese Teologie 'n projek aan te pak waartydens die kuns van sterwe aan die hand van die kreatiewe werke van Karel Schoeman aan die woord gestel word en dan gelyktydig hiermee 'n unieke en 'n kreatiewe genre binne teologiese navorsing aan te kondig, stel omvangryke eise. Dit is baanbrekerswerk. Cas Wepener slaag egter op uitmuntende wyse daarin om as kenner op die gebied van die verhouding tussen liturgie en ritueel, horisonne op transdissiplinêre wyse te verken. Die skrywer van die boek slaag nie alleen daarin om die literêre werke van Karel Schoeman vanuit 'n eiesoortige hoek te ontleed nie, maar stel tegelyk belangrike teologiese konsepte en problematiek op 'n manier aan die orde sodat 'n uitnodiging gerig word aan die leser om saam te kom wandel in die vertelling aangaande 'n inwaartse reis. Die reflektiewe wyse waarop Cas Wepener oor die ars moriendi (kuns van sterwe) handel, toon duidelike blyke van hoe 'n omvangryke studie oor die werke van Karel Schoeman gemaak is. Hierdie projek moes 'n uitdaging gewees het, aangesien Karel Schoeman in sy letterkunde aan die hand van die kuns wat hy beoefen het, skerpsinnig gereflekteer het oor die antropologie, 'n saak wat vir 'n teoloog uit hoofde van die raakvlak tussen Letterkunde en Teologie na aan die hart lê. Dit is veral die menslike dryfvere en menslike handelinge te midde van historiese kragte en die sekerheid van verganklikheid wat aan Cas Wepener eise moes gestel het. Hoe lees mens sulke diepgaande diep letterkunde sonder om te wil ver-teologiseer?

Cas Wepener toon dat hy nie alleen sy eie vakgebied bemeester nie, maar die vermoë het om met soepelheid oor ander dissiplines heen 'n bydrae te kan lewer. Die belofte van Cas Wepener dat hierdie studie sowel 'n letterkundige as 'n teologiese of sosiaal-wetenskaplike studie is, word inderdaad in die boek uitgevoer. Die tydstip waarop hierdie boek verskyn, kon sekerlik nie meer tydig gewees het nie. In hierdie boek oortuig die outeur die leser dat die rol van taal bepalend in die besinning oor 'n aspek soos die dood. Sterwensbegeleiding en die werklikheid van die dood is vanuit die teologiese konteks 'n uiters resente fenomeen binne die pastoraat asook binne die liturgiek. In hierdie boek toon die outeur, Cas Wepener aan dat die dood mense bring by punt anderkant woorde. Dit sou op sigself beskryf kon word as 'n spanningsveld. Die begeleiding van 'n sterwende persoon of van persone wat treur, laat woorde opdroog. Juis daarom is die verwysing na die taal van die ritueel wat liturgie en pastoraat met mekaar laat praat, insiggewend. Dit is veral die paradoksale verwysing na die pad van lewe wat eintlik 'n sterwenspad is en dat hulp ten opsigte van die verstaan van die dood lewenslank noodsaaklik is wat opval. Die uitbeelding van die persone wat geroep is om die kuns van sterwe te beoefen, is na my mening 'n belangrike saak wat verdere besinning verg. Dit is veral die besinning oor die rol van pastors en van liturge wat rondom die dood prominent staan wat opnuut weer onder die vergrootglas geplaas behoort te word. Die wyse waarop Karel Schoeman veral predikante in sy werke uitbeeld, is 'n aspek wat in die refleksie van homiletiek, liturgiek en pastoraat van groot waarde kan wees.

Die waarde van die fiktiewe ritueel wat goed inpas by 'n postmoderne-hermeneutiese benadering wat dien as lens waardeur die skrywer na die werke van Karel Schoeman kyk, word op treffende wyse aangeraak. Dit is veral die behandeling van oorgangsrituele en van 'n akute begrip soos liminaliteit wat gekoppel word aan die werke van Karel Schoeman wat die gedagte van 'n liminale letterkunde na vore bring wat die leser tot nadenke stem. Deur middel van liminale letterkunde word deure geopen na begrip vir 'n liminale siening van die geloofslewe waarin poreuse grense wat oop is na beide kante van sterf en lewe wat in die boek met forse voetstappe nuwe insig bring. In die boek van Cas Wepener kom drie paaie in 'n driesprong byeen. Die drie paaie is die letterkunde, die teologie en die insigte van twee skrywers, naamlik Karel Schoeman en Cas Wepener rakende die kuns van sterwe. Die paaie kom nie alleen byeen nie, maar dit gaan ook as gevolg van eiesoortigheid uiteen, maar is nou op 'n besonderde manier kreatief gekleur. Hierdie driesprong is 'n groot sprong, aangesien die twee vensters van die letterkunde en van die teologie beide die geleentheid ontvang om die woordeloosheid van woord- ekonomie te erken wanneer dit kom by die kuns van lewe en van sterwe. Dit is vir my duidelik na die deurlees van die boek van Cas Wepener dat enige persoon wat handel oor die kuns van lewe en sterwe deur dié boek begelei word om te verstaan dat aller-antwoorde dikwels meer vrae as antwoorde bring. Die verwysing na die werk van Karel Schoeman, naamlik 'n Lug vol helder wolke waarin dit blyk dat die karakter van die ateïs die dood as liturg en as pastor beter as die predikante hanteer het, spreek die belangrike aspek aangaande die gesindheid en soms stilbly van die liturg en pastor deurtastend aan. Die drie fases in Karel Schoeman se oeuvre wat in oënskou geneem word, is uiters insiggewend. Die belangrike saak aangaande die sin-vraag word nie op voorskriftelike wyse beantwoord nie en word die kuns hiervan beskryf, naamlik dat die eintlike sin van die lewe is om te lewe.

By die deurlees van hierdie boek van Cas Wepener wonder die leser watter tipe bydrae die skrywer probeer lewer het. Dit is vir my duidelik dat Cas Wepener uitmuntend daarin geslaag het om 'n bydrae te lewer tot die sekondêre werk aangaande Karel Schoeman. Cas Wepener doen dit dan op 'n wyse wat skeppend van aard is. Die manier waarop dit gedoen word, kan moontlik 'n besondere inspuiting wees vir teoloë wat wonder oor die genre waarin boeke moet verskyn. Die skrywer antwoord die vraag aangaande sy unieke en beoogde bydrae egter self, naamlik hy probeer om aan die hand van die Letterkunde die reis na phronesis (praktiese lewenswysheid) te onderneem. Waardevolle insigte word in die proses gelewer ten opsigte van die ars celebrandi (kuns van voorgaan in rituele) en cura animarum (pastoraat). Perspektiewe ten opsigte van hierdie aspekte word op indringende wyse gebied, behalwe dat dit nou in 'n ander taalregister realiseer, naamlik langs die weg van die voertuig van die letterkunde. Die ritueel en die letterkunde is die twee kante van die munt wat die leser na die deurlees van die boek prikkel. Hierdie kreatiewe boek laat die versugting na nog meer soortgelyke projekte.

Cas Wepener se boek, die reis gaan inwaarts, lees maklik, maar dit het die karakter van 'n diamant. Die kreatiewe skryfstyl is 'n groot aanwins, maar die teologiese diepgang sonder om droog te raak is van uitstaande standaard. Moontlik kan hierdie boek juis nou met sy driesprong werking 'n groter invloed hê as wat die blote oog kan sien.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons