SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 número2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 no.2 Bloemfontein  2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i2.11 

BOOK REVIEWS

 

Gospel of glory: major themes in Johannine theology

 

 

Prof. J. du Rand

jdrtheol@gmail.com

 

 

Bauckham, Richard, Gospel of glory. Major themes in Johannine Theology, Grand Rapids, Baker Academic, 2015, 237 bladsye.

Die outeur, Richard Bauckham, is 'n bekende Nuwe-Testamentikus uit die Verenigde Koninkryk. Hy was verbonde aan die Universiteit van St. Andrews in Skotland tot en met sy aftrede. Daarna het hy hom qaan vestiq in Cambridge waar hy inskakel by Ridley Hall en lesinqs aanbied vir die Cambridqe Federation of Theoloqical Colleqes.

Bauckham is 'n qesoute kenner van die Johannese qeskrifte en publiseer heelwat oor Jesus (1993, 1997, 2001 en 2008) asook oor Openbarinq en Eskatoloqie (1993). Hy dra hierdie publikasie op aan die naqedaqtenis van qevierde Britse Nuwe- Tetamentici: Westcott, Hoskyns, Dodd, Robinson, Lindars en Barrett. In die hoofstukke self spreek hy ook qroot waarderinq uit teenoor Moule en Stanton, albei Nuwe Testamentici van Cambridqe, VK.

Bauckham stel dit duidelik dat hy nie 'n vollediqe Johannes-teoloqie wil aanbied nie maar sleqs fokus op qeselekteerde Johannese onderwerpe. Uiteraard val sy beklemtoninq sterk op vars benaderinqs om die Johannesteoloqie te bemeester. Sleqs hoofstukke 5 (sakramente) en 6 (dualisme) het reeds elders verkyn in Oxford Handbook (2015) en in Beyond Bultmann (2014) onderskeidelik.

Die eerste hoofstuk betitel Bauckham: "Individualism". Dit handel oor 'n Johannese ver-qelykinq van individualistiese en kollektiewe kultuur. Die klem val nie net op die individuele Johannese gelowige se verbintenis aan Jesus nie (Moule) maar ook op 'n meer korporatiewe verstaan van die Johannese gemeenskap. Die penetrerende vraag wat Bauckham bespreek is of die tipiese individualistiese gedrag van die modern gelowige enige ruimte laat/maak vir die korporatiewe gemeenskapsbelewenis. Hoofstuk 1 word boeiend en deeglik aangebied. 'n Mens kry die indruk dat dit vir Bauckham die hoogtepuntbydrae van die boek moet wees. Soos 'n deurwinterde navorser verduidelik die outeur eers die terme individualisme (kulturele bedoeling) en individualiteit (deel van mens se ervaring). Laasgenoemde is uitdrukking van iemand se individuele subjektiwiteit en persoonlikheid. In die Mediterreense omgewing het elkeen behoort aan 'n groep of gemeenskap wat sy/haar identiteit bepaal het. Die self is gebruiklik relasioneel beskou, daarom is dit die doeleindes van die groep wat gewoonlik voorkeur geniet, soos in die geval van die woestynvaders (vgl. Malina 1996).

Volgens die Johannesevangelie word sterk klem op die individu se verhouding met Jesus geplaas. Bauckham onderskei 67 aforistiese uitdrukkings oor die individu se persoonlike verhouding met Jesus. Selfs in die universele 3: 16 word God se liefde vir die wêreld afgewentel tot die geloofsaanvaarding deur die individu. Dit gaan telkens oor die Johannese individu wat 'n geloofskeuse maak vir Jesus. Kenmerkende uitdrukkings begin gewoonlik met: elkeen wat....glo/liefhet. Die tabelle om die voorbeelde te demonstreer op bladsye 6 en 7 lewer 'n waardevolle grafiese oorsig. Bauckham werk met die teks self en laat die teks self tot spreke kom. Dit is te verstane dat Bauckham groot klem sou plaas op die gelykenis van die druiwestok en die individuele lote omdat die appèl op die individu gedoen is. Dit tref die navorser dat die Johannese wederkerigheid asimmetries aangewend word. Wanneer Jesus byvoorbeeld sê: "Bly in My soos Ek in julle" is die bedoeling nie simmetries nie. Jesus se aandag aan individue soos Natanael, Nikodemus, Samaritaanse vrou, Marta, Pilatus, Maria Magdalene en Petrus geskied hoofsaaklik in privaatheid. Dit is eksegeties veelseggend. Bauckham lewer skerpsinnige eksegese maar verloor nie sy eerbied vir die teks om by die teologie uit te kom nie.

Hoofstuk 2 kontinueer die tema van hoofsuk 1 en fokus op die woord "een" ( heis, mia, hen in Grieks en echad in Hebreeus) Bauckham stel 'n lys op van agt sleuteltekse vir die verstaan van "een" (bl. 22). Die teks in Deuteronomium 6 : "Hoor, o Israel, die Here ons God, die Here is een." ontvang prominente aandag. Dit is opvallend dat Bauckham die agtergronde vir die Johannese gebruik van begrippe telkens eers in die Ou Testament gaan soek. Daarom, die volledige bespreking van Deuteronomium 6 terwyl 2Barug en selfs Filo nadergeroep word om semantiese reliëf te gee.

Deurgaans kom Bauckham terug na "een God" en "een volk van God". Volgens die Johannesevangelie word die "eenheid" van die geloofsvolk ses keer genoem en vier keer in Jesus se gebed volgens hoofstuk 17. Ook die trinitariese "eenheid" in Johannes word breedvoerig bespreek (bladsye 36-39).

Die besondere klem op "heerlikheid" (doxa in Grieks en kabðd in Hebreeus) kom aan die orde in hoofstuk 3, na my mening die kruinhoofstuk in die boek. Die begrip heerlikheid (doxa) is ook deel van die titel van die boek. Daar is reeds biblioteke vol geskryf oor die Johannese doxa, daarom is die uidaging soveel groter om iets nuut aan te bied. Bauckham se hantering van dié bekende Johannese doxa verras deurdat hy dit nuut en oorspronklik aanbied.

Weereens, Bauckham begin by die teks self en wend verskeie metodes aan om uiteindelik by die Johannese teologie rakende doxa uit te kom. Die selfstandige naamwoord doxa kom 19 keer voor in die Johannesevangelie terwyl ons die werkwoord doxadzo 23 keer raakloop. Die Johannesevangelie word dikwels tereg die Evangelie van heerlikheid (doxa) genoem. Jesus se lyding en sterwe word nie vertel as 'n laagtepunt van Jesus se lewenspad nie maar as sy moment van heerlikheid. Sy sterwe en opwekking is uitdrukking van Vader en Seun se triomf oomblik van heerlikheid. Daarom is dit so interessant dat die begrippe doxa en doxadzo glad nie voorkom in hoofstukke 18 tot 20 wat Jesus se lyding en opwekking beskryf nie. Bauckham het nie volledig daarby uitgekom nie. Na 'n deeglike besinning oor die sewe "tekens", bespreek Bauckham die rol van doxa by die dissipels.

Hoofstuk 4 handel oor die betekenis van die kruis, opwekking en verhoging van Jesus; hoofstukke 5 en 6 oor sakramente en dualismes terwyl hoofstuk 7 'n interessante kykie gee in die semantiek van die Johannese narratief onder die opskrif: "Dimensions of meaning in the Gospel's first week" Bauckham vergelyk die "eerste" Johannese week met die "laaste" week van sterwe en opwekking van Jesus. Sy teologiese gevolgtrekkings toon dat hy wel beskik oor 'n Johannese "antenna" om die wesenlike van Johannes op te vang. Kyk veral na bladsye 134 en 135.

Die laaste hoofstuk 8 is eenvoudig aangrypend. Dit behandel die verskille tussen die Johannese Jesus en die Sinoptiese Jesus. Aan die hand van 'n reeks Christologiese motiewe in die Johannesevangelie bevestig Bauckham dat die Johannesevangelie ook histories opgeneem moet word.

Samevattend kan gesê word dat hierdie boek 'n konstruktiewe bydrae lewer tot die navorsing van die Johannese teologie. Bauckham werk eerstens met die teks self, bring historiese en sosiale wetenswaardighede by en stuur met elke onderwerp af op deeglike Johannese teologie. Dit tref dat Bauckham erns maak met die Ou Testament en sy kennis van die Ou Testament funksioneel benut. Ek kan as Johannese entoesias hierdie boek van harte aanbeveel vir teologiese studente, predikante, entoesiastiese Bybellesers en Johannese navorsers.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons