SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 número2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 no.2 Bloemfontein  2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i2.9 

ARTICLES

 

Die rol van die NGK-leierskap in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in Suid Afrika: 1990-1994

 

The role of the leadership of the Dutch Reformed Church en route to the first democratic election in South Africa: 1990-1994

 

 

Prof. Johan M. van der Merwe

Universiteit van Pretoria. johanvdm@intekom.co.za

 

 


Trefwoorde: Versoening, Apartheid, Ned Geref Kerk, Nelson Mandela


ABSTRACT

Piet Strauss played an important part in the leadership of the Dutch Reformed Church from 1994 to 2011. This article focuses on important events and the role of the leadership of the Dutch Reformed Church which prepared the way for Strauss and his generation of leaders. It takes the acceptance of the important policy document Church and Society by the General Synod of 1986 and the Rustenburg Consultation of 1990 as points of departure. It then describes how the leadership of the church engaged with different political leaders between 1990 and 1994. By doing so, the leadership of the church, which became known for the Biblical foundation of the notorious policy of apartheid, played an important role while South Africa was on the brink of civil war. Their efforts contributed to a peaceful first democratic election in 1994.

Keywords: Reconciliation, Apartheid, Dutch Reformed Church, Nelson Mandela


 

 

1. INLEIDING

Piet Strauss het 'n groot rol in die leierskap van die Ned Geref Kerk (NGK) gespeel. Hy was afgevaardigde na die 1994, 1998 en 2002 Algemene Sinodes in Pretoria, 2004 in Hartenbos en 2007 en 2011 in Boksburg (Strauss 2013:2). Vanaf 1994 was hy ook lid van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) wat later die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) geword het. In 1996 is hy op die Dagbestuur van die liggaam verkies wat aan hom 'n loopbaan van 17 jaar in die hart van die leierskap van die NGK besorg het. Die tydperk waarin Strauss gedien het, is voorafgegaan deur grootskaalse verandering in Suid Afrika. Op 27 April 1994 is die eerste demokratiese verkiesing in Suid Afrika gehou wat die tafel gedek het vir die sogenaamde "nuwe" Suid Afrka. Boonop sal die laat tagtiger en vroeë negentiger jare in Suid Afrika vir altyd bekend staan as van die onstuimigste nog. Giliomee en Mbenga (2007:396) beskryf dit soos volg:

The government's lifting of the ban on the African National Congress (ANC) and other liberation and extra - parliamentary movements on 2 February 1990 triggered a surge of political activity. Mass meetings attended by multitudes, particularly to hear Nelson Mandela, freed on 11 February 1990, together with strikes, street protests, demonstrations and violence of all kinds ushered in a period of profound uncertainty and potential dangerous instability.

Hierdie toestand het die land tot op die randjie van 'n burgeroorlog gestoot. Terwyl geweld onder die swart bevolking van Suid Afrka gedreig het om die land volgens Sparks (1995:139) die selfde weg as Sarajevo te laat gaan, het die ontwikkeling van 'n regse Afrikanergroep 'n verdere bedreiging vir die vredesproses en die beplande verkiesing ingehou. Die omvang van die ontwikkelende krisis word bevestig deur die besluit van Genl. Constand Viljoen om in sy woorde - "die honde los te laat" - enkele dae voor die verkiesing op 27 April 1994 (Onderhoud: Genl. Constand Viljoen 7 Junie 2014). Die rol wat die NGK gespeel het, word opgesom deur die woorde van ds. Freek Swanepoel, destydse moderator van die kerk wanneer hy bevestig: "Ons wou bloed keer" (Onderhoud: Ds. Freek Swanepoel 29 Mei 2014). Om die belangrike rol wat die NGK gespeel het te verstaan, word eerstens gekyk na die gebeure wat die weg vir die NGK voorberei het. Die aanvaarding van Kerk en Samelewing in 1986 en die Rustenburgberaad van 1990 word as belangrike vertrekpunte geneem. Daarna word gefokus op gesprekke wat die NGK met verskillende politieke leiers gevoer het ten einde 'n vreedsame verskiesing in 1994 te verseker. Die rol wat die leierskap van die NGK tydens 1990 -1994 gespeel het, het daarmee ook die weg gebaan vir 'n nuwe geslag leiers soos Piet Strauss om in die jare wat sou volg 'n beduidende invloed uit te oefen op die bydrae wat die NGK tot die samelewing gemaak het.

 

2. GEBEURE WAT DIE WEG VIR DIE NGK VOORBEREI HET

Twee belangrike gebeure tydens die tagtiger en negentiger jare het die NGK voorberei vir die rol wat die kerk in 1990 - 1994 sou speel. Die eerste was die aanvaarding van 'n nuwe beleidsdokument Kerk en Samelewing in 1986. Die tweede was die Rustenburgberaad van 1990.

2.1 Met Kerk en Samelewing op 'n nuwe koers

Die aanvaarding van Kerk en Samelewing as nuwe beleidsdokument van die NGK op 20 - 22 Oktober 1986 het die kerk 'n nuwe koers laat inslaan (Van der Merwe 1990:465).

Tydens hierdie twee dae het die sinode vier ingrypende besluite geneem. Dit het gehandel oor oop kerkdeure, oop lidmaatskap, apartheid en die sogenaamde bybelse verbod op rasgemengde huwelike. Hierdie besluite was 'n duidelike wegbeweeg van vroeëre standpunt van afsonderlikheid, segregasie en apartheid. Die onderskeie paragrawe waarin die besluite vervat is, het soos volg gelui: In paragraaf 270 is gesê: "Die lidmaatskap van die Ned Geref. Kerk is oop" (Kerk en Samelewing 1986:46). Hierdie besluit het dit moontlik gemaak vir lidmate van ander rasse om lidmaat van NGK gemeentes te word. In paragraaf 273 is dit duidelik gestel dat die kerk 'n "evangelieverkondigende gemeenskap" is. Dit het beteken dat lidmate en ampsdraers elke geleentheid moes aangryp om die woord van God aan mense te verkondig. Hieruit het gevolg dat: "eredienste en ander byeenkomste toeganklik is vir alle besoekers wat begeer om in gemeenskap met ander gelowiges na die woord te luister" (Kerk en Samelewing 1986:47). Met hierdie besluit is die kerk se deure prakties vir mense van alle rasse oopgestel. In paragraaf 305 het die sinode verklaar dat die Skriftuurlike begronding van die beleid wat bekend geword het as apartheid nie as voorskrif uit die Bybel afgelees kon word nie. "Die poging om so 'n voorskrif uit die Bybel te regverdig, moet as fout erken en afgewys word" (Kerk en Samelewing 1986:52). Alhoewel die sinode nie die volle tree gegee het om apartheid as sonde te bely nie, was dit 'n eerste stap om te erken dat die Bybelse begronding van die Nasionale Party se beleid van apartheid verkeerd was. Die laaste van die ingrypende besluite was die oor rasgemengde huwelike. Die sinode het besluit: "Die Skrif verbied nie rasgemengde huwelike nie"(Kerk en Samelewing 1986:61). Dit was 'n radikale breuk met die standpunt van Ras, Volk en Nasie wat uitdruklik verklaar het dat rasgemengde huwelike ongewens en ongeoorloof was (Ras Volk en Nasie 1974:100). Die besluit is egter gekwalifiseer deur te verklaar:

Die Kerk moet egter in sy pastorale arbeid daarteen waarsku dat maatskaplike omstandighede, lewens- en wêreldbeskoulike, kulturele, sosio- ekonomiese en ander dergelike verskille en faktore ernstige spanning kan veroorsaak (Kerk en Samelewing 1986:61).

Die gebeure van 1990-1994 bevestig dat dit inderdaad 'n tydige koerswysiging was wat die kerk vanaf 1986 in 'n posisie gestel het om die reis na 'n post-apartheid Suid Afrika mee te maak. Kerk en Samelewing het veral in die negentigerjare van die vorige eeu belangrike deure vir die Ned Geref. Kerk oopgemaak. Dit het nie net deure oopgemaak nie. Dit het aan die kerk 'n sekere mate van geloofwaardigheid terug gegee wat hy tydens sy ondersteuning van apartheid verloor het.

Ten spyte van die feit dat die aanvaarding van Kerk en Samelewing tot 'n kerkskeuring in 1987 gelei het, het die die Algemene Sinode van 1990 die beleid bevestig. In die hersiene stuk is herhaal dat dit nie die taak van die kerk was om politieke modelle aan die owerheid voor te skryf nie (Gaum 1997:50). Oor apartheid het die kerk dit duidelik gestel dat hy vir te lank onkrities oor die beleid geoordeel het. 'n Beleid wat tot diskriminasie lei soos wat apartheid gelei het, is in die lig van die Skrif en die Christelike gewete onaanvaarbaar en moes as sodanig afgewys word. Die kerk het verder bevestig dat hy alle vorme van onderdrukking en diskriminasie veroordeel en die NGK het hom ook bereid verklaar om op kerklike wyse mee te werk aan pogings om die bestaande nood te lenig en 'n beter toekoms vir alle mense van die land moontlik te maak (Kerk en Samelewing 1990:40).

'n Tweede belangrike gebeurtenis wat die deur vir die NGK nog wyer oopgemaak het, was die Rustenburgberaad van 1990.

2.2 Die Rustenburgberaad: 5-9 November 1990

Die aanloop tot die beraad het reeds in 1989 begin. Die destydse staatspresident, mnr. FW de Klerk, het na 'n wenk van prof JA Heyns, tydens sy Kersboodskap 'n beroep op die kerke in die land gedoen om 'n klimaat te help skep wat bevorderlik vir onderhandeling, versoening en verandering in die land sou wees (Du Toit, Hofmeyer, Strauss & Van der Merwer 2002:105). Die beraad wat vanaf 5-9 November 1990 by die Hunters Rest hotel buite Rustenburg plaasgevind het, is namens die NGK deur PC Potgieter, P Rossouw, DJ Hattingh en FM Gaum bygewoon. Proff. JA Heyns en WD Jonker is as sprekers na die beraad genooi. Tydens die beraad, het prof. WD Jonker die besluit van Kerk en Samelewing van 1986 wat in 1990 tydens die Algemene Sinode herbevestig is, tot sy volle konsekwensie deurgetrek toe hy die volgende belydenis gedoen het:

I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic, and structural wrongs that have been done to many of you, and the results of which you and our whole country are still suffering from, but vicariously I dare also do that in the name of the DRC of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole. I have the liberty to do just that, because the DRC at its latest synod has declared apartheid a sin and confessed its own guilt of negligence in not warning against it and distancing it itself from it long ago (Jonker 1998:204).

In reaksie op Jonker se belydenis het Aartsbiskop Desmond Tutu opgestaan en gesê dat as die Ned Geref. Kerk vandag sê dat hy berou het, almal moet sê: "Ons vergewe julle." Jonker beskryf die toneel as volg:

Op daardie oomblik het almal opgestaan. Daar was trane, daar was 'n gees van bewoënheid. So iets het ek nog nooit belewe nie. Ek het dit ervaar as 'n omarming, as 'n diepe gebaar van aanvaarding deur medegelowiges wat in diepe bewoënheid ons skuld van ons afneem (Jonker 1998:205).

Reaksie op die belydenis was hewig. Een van die eerste persone wat beswaar gemaak het, was 'n vorige staatspreesident, mnr. PW Botha. In 'n telefoongesprek met prof. Potgieter het hy heftig te velde getrek teen Jonker se belydenis. Potgieter het Botha versoek om te wag tot die NGK se amptelike reaksie op die belydenis (Onderhoud: Prof. PC Potgieter 4 Nov 2013).

Die belydenis van Jonker is die volgende dag deur prof. Pieter Potgieter onderskryf toe hy gesê het:

The delegates of the DRC want to state unambiguously that we fully identify ourselves with the statements made by prof. Jonker on the position of the church. He has in fact precisely reiterated the decision made by our General Synod in Bloemfontein recently. We want to see this decision of the synod as the bases of reconciliation with all people of all churches (Jonker 1998:207).

Nadat die verklaring tydens die agt uur nuusbulletin op TV uitgesaai is, het Botha Potgieter weer gebel. Hy het vir etlike minute uitgevaar teen die belydenis en die verklaring en duidelik laat blyk dat prof. Jonker nie die reg gehad het om so 'n belydenis te maak nie. Op 'n stadium het Potgieter aan Botha gesê: "Mnr Botha, hierdie gesprek gaan nêrens heen nie" en die telefoon in Botha se oor neergesit (Onderhoud: Prof. PC Potgieter 4 Nov 2013). Die verklaring van Potgieter was 'n bevestiging van die feit dat Kerk en Samelewing die NGK onherroeplik op 'n nuwe koers geplaas het. Dit het die deure na Rustenburg oopgemaak waar die belydenis van Jonker verdere deure vir die NGK laat oopgaan het wat die kerk in staat gestel het om 'n belangrike rol in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994 te speel.

 

3. DIE NGK SE ROL: GESPREKKE MET POLITIEKE LEIERS

3.1 Teen die agtergrond van politieke onrus

Die belangrikheid van die NGK se rol in die aanloop tot die 1994 verkiesing word onderstreep deur die grootskaalse politieke onrus wat in die laat tagtiger en vroeë negentiger jare in Suid Afrika geheers het. Alhoewel die grootste onrus volgens Giliomee en Mbenga (2007:396) in KwaZulu - Natal voorgekom het, het dit vinnig na die res van die land versprei. Teen die agtergrond van die toenemende geweld was dit egter die beplanning van geheime militêre operasies wat die grootste bedreiging vir die verkiesing ingehou het.

'n Voorbeeld hiervan was opersie Vula wat in 1986 deur die leierskap van die ANC goedgekeur is (Gilomee & Mbenga 2007:399). Die doel van die operasie was om 'n ondergrondse beweging te skep om wapens in die land in te smokkel en om strukture te skep wat die regering met geweld omver sou gooi indien onderhandelings misluk. Die plan is in 1990 geïmplementeer ondanks die feit dat die Groote Schuur Minuut aanvaar is. In dié ooreenkoms is ondermeer bepaal dat politieke gevangenes vrygelaat sou word, dat politieke leiers in ballingskap toegelaat sou word om terug te keer na SA, dat wetgewing wat aan die militêre magte sekere regte gegee het gewysig sou word, dat die ANC sy militêre stryd sou beëindig en dat 'n veelparty kongres saamgeroep sou word om die oorgang na 'n vreedsame demokrasie te onderhandel (De Klerk 1998:222). Sparks (1995:106) is korrek wanner hy sê dat: "the centre of political gravity within the ANC alliance shifted in mid 1992 to its militant wing". Dit het direk daartoe gelei dat die ANC ten spyte van die ooreenkoms besluit het op 'n strategie van massa - aksie waarin stakings, boikotte en grootskaalse protesaksies in die stede 'n beduidende rol gespeel het. Teen die agtergrond van Operasie Vula, het dit gelei tot toenemende geweld. Die geweld is verder vererger deur die sogenaamde "Leipzig opsie". Op 23 Augustus 1992 het die ANC leierskap 'n voorstel van radikale jong leiers in die party aanvaar wat die sogenaamde tuislande, Ciskei, Bophutatswana en KwaZulu geteiken het vir toenemende massa-aksie en geweld (Sparks 1995:14). Die gevolge van die besluit het sigbaar geword toe 28 mense op 7 September 1992 tydens 'n protesaksie doodgeskiet is en meer as tweehonderd gewond is (Sparks 1995:117).

'n Verdere gebeurtenis wat die land letterlik tot op die afgrond van 'n burgeroorlog geneem the, was die sluipmoord op Chris Hani. Hy is 10 April 1993 deur die Poolse immigrant, Janusz Walusz vermoor. Hani was die Algemene Sekretaris van die Suid Afrikaanse Kommunistiese Party en een van die belangrikste swart leiers in Suid - Afrika. Sparks som die gebeure soos volg op:

The news of Hani's assassination hit South Africa like a thunder clap. Anyone wanting to ignite an inferno of rage in the black community could not have been closer to the target (Sparks 1995:118).

Dit word bevestig deur die toespraak van mnr. Nelson Madela wat dieselfde aand op TV uitgesaai is:

Tonight I am reaching out to every single South African, black and white, from the very depths of my being. A white man, full of prejudice and hate, came to our country and committed a deed so foul that our whole nation now teeters on the brink of disaster. A white woman, of Afrikaner origin, risked her life so that we may know, and bring to justice, this assassin. The cold - blooded murder of Chris Hani has sent shock waves throughout the country and the world...Now is the time for all South Africans to stand together against those, who from any quarter, wish to destroy what Chris Hani gave his life for - the freedom of all of us (Sparks 1995:147).

3.2 Die moontlikheid van 'n ontwrigte verkiesing

Terwyl geweld onder swart bevolkingsgroepe die land tot op die rand van die afgrond gebring het, het 'n nuwe bedreiging vanuit regse Afrikaner geledere ontwikkel. Die persoon wat die leiding geneem het, was 'n NGK lidmaat, afgetrede hoof van die Suid Afrikaanse Weermag, genl. Constand Viljoen. Viljoen het in 1985 as hoof van die weermag afgetree en word deur Sparks beskryf as: "an enigmatic figure who stepped out of obscurity of a bushveld cattle ranch to become an instant hero to the wild men of the right" (Sparks 1995:139). Viljoen het na vore getree as leier van die regse faksie in 'n tyd toe die moord op Chris Hani, die arrestasie van lede van die Konserwatiewe Party en aanvalle op blanke plaasboere emosie hoog laat loop het. Tydens 'n saamtrek van 15 000 blanke boere op 7 Mei 1993 in Potchefstroom, het die skare gevra dat Viljoen hulle moes toespreek. Alhoewel hy nie die byeenkoms bygewoon het met die doel om 'n toespraak te lewer nie, het Viljoen aan die versoek voldoen.

Tydens sy toespraak het hy gesê dat hy nie vir FW de Klerk vertrou nie en dat die ANC steeds besig was met planne om die land in 'n rewolusionêre proses oor te neem (Onderhoud: Genl. Constand Viljoen 7 Junie 2014). Hy het voortgegaan deur te sê dat die Nasionale Party regering alle onderhandelings moes staak en eers die veiligheidsprobleem in die land moes hanteer. Na sy toespraak het die skare spontaan uitgeroep: "Lei ons! Lei ons!" en is Viljoen aangewys as leier van die regse groeperinge in Suid Afrika. Sparks interpreteer hierdie gebeure korrek wanneer hy skryf:

The election of Viljoen was to prove critical in the delicate balance between forces of violence and of reason in the white right (Sparks 1995:155).

Dit is bevestig deur oud president FW de Klerk wat oor die gebeure gesê het: "Ek het Viljoen as 'n sleutelfiguur in die regse alliansie geïdentifiseer" (De Klerk 1998:328). Alhoewel Viljoen dit duidelik gemaak the, dat oorlog nie op daardie stadium 'n opsie was nie, het dit wel 'n moontlikhied geword namate die situasie in Suid Afrika verander het.

Onsekerheid oor wat Viljoen beplan, sou deurgans 'n belangrike faktor in die onderhandelingsproses speel. Viljoen en sy volgelinge het hulle by die Afrikaner Volksfront aangesluit. Die organisasie het bestaan uit 'n koalisie van regse organisasies wat deelname aan 'n demokratiese verkiesing veroordeel het en 'n afsonderlike Afrikaner volkstaat geëis het. Die Volksfront het ook voorberei vir moontlike militêre aksie deur vier afgetrede generaals aan te wys om 'n boereleër op die been te bring. Met die onttrekking van die Volksfront van die onderhandelingsproses, was die militêre opsie die enigste wat oorgebly het. Viljoen was egter uitgesproke daaroor: "Ek het dit nie as 'n opsie oorweeg nie" (Onderhoud Genl Constand Viljoen 14 Junie 2014). Viljoen se standpunt het grootliks daartoe gelei dat die Konserwatiewe Party deel van die onderhandelingsproses gebly het terwyl die Volksfront se generaals bilaterale samesprekings met die ANC begin voer het (Sparks 1995:156).

Reeds tydens die eerste ontmoeting wat tussen Viljoen en Mandela in Houghton in Johannesburg plaasgevind het, het die twee leiers besef dat 'n geweldadige opsie geen oplossing sou bied nie. Volgens Viljoen het Mandela erken dat die konserwatiewe groep die land met geweld sou kon oorneem. Sy vraag aan Viljoen was egter: "Wat gaan julle daarna doen?" Hy het verder opgemerk: "Ons is te veel en die buiteland sal dit nooit duld nie." (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 2014). Meer as twintig ontmoetings met die ANC het daarna gevolg en dit het direk daartoe gelei dat 'n memorandum van ooreenkoms gesluit is wat selfbeskikking vir die boerevolk sou waarborg (Sparks 1995:159). Sake het egter teen die begin van 1994 'n dramatiese wending geneem toe beplande ontmoetings gekanseleer of uitgestel is. Viljoen het sterk gevoel dat hy 'n geskrewe ooreenkoms met die ANC in sy hande wou hê voordat die verkiesing kon voortgaan. Mnr. Princeton Lyman, Amerikaanse ambassadeur in Suid Afrika beskryf die gebeure wat in die daarop volgende dae afgespeel het soos volg:

Die finale ooreenkoms was gereed teen 12 April maar die ANC het die ondertekeningsseremonie bly uitstel. Viljoen het agterdogtig geraak. Dit het by my die idee laat onstaan dat die ANC ons vir die gek gehou het. Hulle wou aanhou uitstel tot die 27ste April wat my in 'n baie moeilike situasie sou laat (Lyman 2002:178).

Boonop was Viljoen en sy weermag van ongeveer 50 000 man gereed om die verkiesing te ontwrig. In Viljoen se eie woorde: "daar sou nie 'n verkiesing gewees het nie" (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 7 Junie 2014). Na 'n ontmoeting tussen Viljoen en sy generaals op 16 April 1994 te De Deur het hy soos voorheen ooreengekom vir Lyman geskakel met die woorde: "Mr Lyman: I am going to let the dogs loose" (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 7 Junie 2014). Lyman beskryf die gebeure soos volg:

Die uitstel van die ooreenkoms het opnuut 'n groot mate van wantroue oor die ANC en die hele oorgangsproses by Viljoen geskep. Viljoen het besluit om die verkiesing te ontwrig. 'n Afrikaner volkstaat was nie meer 'n moontlikheid nie, maar die ontwrigting van die verkiesing was 'n haalbare moontlikheid (Lyman 2002: 178).

Viljoen het egter woord gehou om Lyman in kennis te stel voordat hy tot militêre aksie sou oorgaan. In reaksie op Viljoen se oproep het Lyman ondmiddelik vir Yusuf Salojee, Privaatsekretaris van mnr Thabo Mbeki geskakel. Lyman vervolg:

Ek het die hele situasie aan hom verduidelik, dat Viljoen gevoel het hy is verraai. Ek het geweet dat die ANC nie probeer het om Viljoen te mislei nie, maar die uitsel van die ondertekening van die ooreenkoms het daardie indruk gewek. Binne minute het Salojee teruggebel. Die ooreenkoms sou op 23 April onderteken word (Lyman 2002:23).

Viljoen herroep die gebeure soos volg:

na die oproep van Lyman het ek besef dat ek die ontwrigting van die verkiesing moes kanselleer. Dit was een van die moeilikste beslissings van my lewe - om aan my bevelvoerders te sê om terug te staan. Hulle was gereed vir aksie en ek moes aan hulle die opdrag gee om nie voort te gaan nie (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 7 Junie 2014).

Hierdie gebeure bevestig hoe naby aan die rant van die afgrond Suid Afrika beweeg het in die dae voor die verkiesing. Dit is teen hierdie agtergrond wat die rol van die leiers binne die NGK se bydrae beoordeel moet word.

3.3 Gesprekke met mnr Nelson Mandela

Alhoewel politieke leiers wat lidmate van die NGK was 'n belangrike rol gespeel het, het die leierskorps van die NGK ook 'n deurslaggewende rol gespeel om 'n vreedsame oorgang te verseker. Die deure wat met die aanvaarding van Kerk en Samelewing en die Rustenburgberaad oopgegaan het, het aan die kerk 'n besondere leierskapsrol in die aanloop tot die verkiesing gegee. Nie alleen is eie lidmate tot vrede gemaan nie, maar die leierskorps van die kerk het ook 'n belangrike versoeningsrol vertolk. Dit is deur mnr. Nelson Mandela self bevestig toe hy tydens die Algemene Sinode van 1994 gesê het:

Ek verwys u graag na die konstruktiewe rol wat die leierskap van die NGK gespeel het tydens die onstuimige tye met die aanloop tot die verkiesing van 27 April 1994. U bereidwilligheid om ook sommige van u eie kerklidmate te maan teen rassisme en onverskillige gewelds-praatjies, het 'n belangrike bydrae gelewer om die wonderwerk van Suid Afrika se vreedsame oorgang tot demokrasie moontlik te maak. U is 'n integrale deel van die besondere getuienis wat Suid Afrika vandag lewer in 'n wêreld waarin daar nog soveel geweld en onverdraagsaamheid heers (Ned Geref Kerk 1994:536).

Dat Mandela bedoel het wat hy aan die sinode gesê het word bevestig deur verskeie ontmoetings tussen hom en die leiers van die NGK tussen 1990 en 1994. Hulle het mekaar vier keer ontmoet: 3 keer in die Sinodalesentrum in Pretoria en een keer in Luthulihuis (Gaum 2014:1). Volgens dr. Frits Gaum wat op daardie stadium skriba van die moderamen was, het al die ontmoetings in 'n goeie gees plaasgevind en 'n besliste bydrae gelewer tot die bevordering van vrede in die land (Gaum 2014:2). Gaum reflekteer soos volg:

Die gesprekke tussen mnr Mandela en die Dagbestuur van die Moderatuur het veral op twee aspekte van die geweld in die land gefokus: Geweldadige verset van die ver - regse Afrikaner Weerstands Beweging (AWB) en geweldadige protes van die ANC om die Nasionale Party-regering van mnr. FW de Klerk omver te gooi. Ten spyte van die onderhandelinge wat tydens CODESA 1 en CODESA 2 plaasgevind het, was daar hardnekkige gerugte dat 'n militante faksie in die ANC beplan het om die regering met geweld oor te neem. Gerugte oor 'n sogenaamde 'Derde mag' wat deur die regering gebruik is om onrus tussen die ANC en Inkatha in Kwazulu Natal aan te hits, was ook deel van die besprekings (Gaum 2014:2).

Die eerste ontmoeting het op 30 Mei 1991 plaasgevind. Tydens die gesprek het Mnr. Mandela veral klem gelê op die voortgaande geweld tussen die ANC en die Inkatha Vryheidsparty. Hy het die kerkleiers onder meer versoek om as tussengangers op te tree deur mnr Buthelezi te vra om druk op sy ondersteuners uit te oefen om op te hou om tradisionele wapens tydens optogte te dra. Hierdie versoek is tydens 'n besoek aan Buthelezi aan hom oorgedra (Bylaag 2/1 Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie 5-6 November 1991).

'n Tweede ontmoeting het op 26 April 1993 plaasgevind. Uit die ontmoeting was dit duidelik dat Mnr Mandela baie bekommerd was oor regse faksie onder Afrikaners. Hy het die leierskorps van die NGK spesifiek gevra om die leiers van die regse groeperinge te versoek om wel in die onderhandelingsproses deel te neem. Na die gesprek is Prof JA Heyns getaak om met Genl Constand Viljoen kontak te maak in 'n poging om hom te oorreed om tog deel te vorm van die onderhandelingsproses. Viljoen maak dit egter duidelik dat hierdie ontmoeting nie goed afgeloop het nie en dat hy verdere gesprekke van die hand gewys het omdat hy Heyns nie vertrou het nie (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 7 Junie 2014).

Die derde ontmoeting met Mnr Mandela het op 12 November 1993 plaasgevind teen die agtergrond van 'n groter wordende bedreiging van die Regse Afrikaner groepering onder leiding van Genl Constand Viljoen. Die fokus van die gesprek was die eskalerende geweld in die land. Die Moderatuur het spesifiek melding gemaak van die negatiewe invloed wat sommige ANC leiers soos mnr Peter Mokaba gehad het met sy lied "Kill the boer, kill the farmer". Mandela het gerageer deur te sê dat dit nie amptelike ANC beleid was nie en dat die ANC besig was om die saak intern te hanteer (Ned Geref Kerk 1993:Bylaag 2/1, Dagbestuur Algemene Sinodale Komissie).

Die vierde ontmoeting op 25 Januasie 1994 plaasgevind. Weereens het Mandela die kerkleiers spesifiek versoek om Genl Viljoen te oorreed om deel te word van die onderhandelingsproses en om deel te neem aan die opkomende verkiesing (Gaum 2014:3). Dit is duidelik dat Mandela en die ANC bekommerd was oor waartoe Viljoen en sy ondersteuners instaat was. Teen die agtergrond van Viljoen se geheime onderhandeling met die ANC was hy op hoogte van wat Viljoen beplan het en het hy daarom die leiers van die NGK versoek om druk op Viljoen uit te oefen. Die situasie word deur Viljoen bevestig wanneer hy sê: "Ek het die pistool in my hand gehad" (Onderhoud: Genl Constand Viljoen 7 Junie 2014). Mandela het ook versoek dat die kerk sy lidmate moes aanmoedig om nie die staatsdepartemente waar hulle werksaam was, te verlaat nie maar om eerder 'n konstruktiewe bydrae te maak tot die opbou van die land.

Die vier ontmoetings tussen die NGK-leierskap en Mandela toon aan watter belangrike rol hulle gespeel het. Die wedersydse respek en vertroue tussen die leiers van die kerk wat apartheid Bybels ondersteun het, en die eerstydse politieke gevangene van Robbeneiland het hulle belangrike akteurs gemaak in die drama wat homself in Suid Afrika afgespeel het. Dit is deur ds Freek Swanepoel wat in 1994 tot moderator van die NGK verkies is, bevestig toe hy gesê het:

Mnr Mandela was 'n fyn strateeg wat geweet het dat die NGK - wat die grooste Afrikaanse kerk was - 'n groot invloed op Afrikaners in die land uitgeoefen het. Deur die kerk te gebruik om versoening na te jaag, het hy in 'n groot mate daarin geslaag om gemoedere te kalmeer onder 'n deel van die bevolking van Suid Afrika (Onderhoud: Ds Freek Swanepoel 29 Mei 2014).

Dit word verder bevestig deur 'n brief wat mnr Mandela aan Prof. Pieter Potgieter geskryf het na sy uittrede as moderator in 1994. Daarin het hy Potgieter bedank vir sy bydrae in die jare van onrus oppad na die verkiesing van 1994.

Dit is teen hierdie agtergrond wat die besoek van Mnr Mandela en sy toespraak tydens die Algemene Sinode van 1994 verstaan moet word. Sodanig dien dit dan as verdere bewys dat hy die rol wat die NGK gespeel het, hoog geag het.

3.4 Gesprekke met ander politiek leiers

Die leierskap van die NGK het nie net met mnr Mandela gesprek gevoer nie. Verskeie gesprekke is ook met ander politiek leiers gevoer om 'n bydrae tot die vredesproses te lewer.

Op 26 November 1990 het die Dagbestuur van die Moderatuur van die NGK vir die eerste keer na die Rustenburgberaad met mnr FW de Klerk beraadslaag. Hulle het die geleentheid gebruik om persoonlike terugvoer oor die gebeure te Rustenburg te gee. Die belydenis van Prof Willie Jonker en die negatiewe reaksie uit sommige Afrikanerkringe is ook bespreek. De Klerk is verder ingelig oor die protesvergadering wat vir 1 Desember 1990 beplan is. Die besoek aan Mnr De Klerk is opgevolg met gesprekke in November 1991, Maart 1992, Augustus 1993 en November 1993. Die agenda tydens hierdie gesprekke is deur die geweld in die land en vordering in die onderhandelingsproses oorheers. Die posisie en rol van die Afrikaner het ook aan die orde gekom. De Klerk is verder ingelig oor die ontmoetings met regse groepe en die gesprekke met mnr Mandela. Bogenoemde gesprekke bevestig die feit dat die leierskorps van die NGK hulleself in 'n mediasierol bevind het. Hierdie rol is verder genoodsaak deur grootskaalse verdeeldheid onder Afrikanergeledere na die referendum van 1992. Die verdeeldheid het nie net gevolge ingehou vir die politiek landskap in Suid Afrka nie, maar was ook 'n ernstige bedreiging vir die kerk wat reeds in 1987 as gevolg van politiek geskeur het.1

Die ontmoetings met mnr De Klerk is opgevolg deur 'n ontmoeting met die leierskorps van die Nasionale Party op 10 Augustus 1993 in Kaapstad. Tydens hierdie gesprek is spesifiek gevra hoe menseregte in die nuwe bedeling beskerm sou word. Dit is 'n vraag wat deur baie lidmate op grondvlak gevra is, en is in hierdie ontmoeting deur die kerkleiers aan die politieke leiers oorgedra. Op hierdie wyse het die kerkleiding ook as mondstuk vir gewone lidmate op grondvlak opgetree (Ned Geref Kerk 1993 Notule: Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie 5-6 November ).

Ernstige gesprekke is ook met die regse groepe in Afrikanergeledere gevoer. 'n Brief van Prof Pieter Potgieter aan die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie na 'n gesprek met genl Constand Viljoen dien hier as voorbeeld. In die brief het Potgieter 'n dringende telefoonvergadering aangevra om "'n ernstige krisis te probeer afweer wat ernstige gevolge sou inhou" (Brief: Bylaag tot Agenda van die Algemene Sinodale Kommissie 5-6 November 1993). In die vertroulike brief het Potgieter aan lede van die Dagbestuur geskryf:

Uit ontmoetings wat ek met Genl Viljoen en andere gehad het, is dit duidelik dat die eis om selfbeskikking vir die Afrikaner BAIE sterk is. Hy en sy kollegas2 voel dat hulle standpunt in die onderhandelingsproses geïgnoreer word en dat die NGK 'n belangrike rol kan speel om te verseker dat reg en geregtigheid geskied (Brief: Bylaag tot Agenda van die Algemene Sinodale Kommissie 5-6 November 1993).

Die voorstel wat tydens hierdie telefoonvergadering aanvaar is dui op die erns waarmee Potgieter Viljoen bejeen het en hoe ernstig die situasie was. Die voorstel is ingelei met 'n oproep tot almal wat by die onderhandelingsproses betrokke was om erns te maak met die behoefte van verskillende groepe in Suid Afrika wat selfbeskikking op 'n streeksbasis begeer het. Daar is verder 'n oproep op alle partye gemaak om nie van die onderhandelingsproses te onttrek nie en om nie geweld aan te wakker nie (Brief Gaum 3). Dit blyk duidelik uit hierdie gebeure dat Viljoen vir Potgieter baie duidelik gesê het dat: "hy die pistool in sy hand het" en dat hy van plan was om die verkiesing te ontwrig as daar nie aan sy eise voldoen is nie. Alhoewel Viljoen dit duidelik gestel het dat hy nie "vir oorlog was nie", het dit duidelik 'n opsie begin word soos wat die einde van 1993 nader gekom het. Die uitstel van die ondertekening van die ooreenkoms wat Viljoen in die geheim met die ANC onderhandel het, het ook nie bygedra om gemoedere te kalmeer nie. Alhoewel Viljoen ontken dat die rol van die kerkleiers deurslaggewend was in sy besluit om nie oorlog te maak nie, sê Gaum:

Mnr Mandela het die kerkleiers versoek om Viljoen te oorreed om deel te neem aan die verkiesing. Alhoewel die generaal in verskeie ontmoetings geweier het om toe te gee aan druk, het hy tog van plan verander. Dit sou arrogant wees om te verklaar dat die die NGK was wat Viljoen oorreed het, maar dat hulle 'n belangrike rol in die proses gespeel het kan nie ontken word nie (Gaum 2014).

Gesprekke tussen die kerkleiers en leiers van die konserwatiewe groepe het nie altyd goed afgeloop nie. 'n Ontmoeting met dr AP Treurnicht, voormalige leier van die Konserwatiewe Party is in 1991 skielik beëindig toe Treurnicht uit die ontmoeting gestorm het. Gaum het die gebeure soos volg beskryf:

Treurnicht was onoortuigbaar en het sy ontevredenheid met die besluite van die NGK sedert 1986 duidelik uitgepreek. Dit het tot 'n direkte woordewisseling tussen hom en Prof Johan Heyns gelei waarop Treurnicht opgestaan en die vergadering verlaat het (Gaum 2014:2).

Lede van die Dagbestuur van die Algemene Moderamen het ook in 1993 met mnr Eugene Terblanche, leier van die Afrikaner Weerstands Beweging, gesprek gevoer. Die doel van die gesprek was om mnr Tereblanche te oorreed dat geweld nie 'n oplossing vir die land was nie. Tereblanche was bekend vir sy opruiende oorlogspraatjies wat die potensiaal gehad het om die spreekwoordelike vuurhoutjie in die kruitvat te wees wat die land oor die afgrond van rewolusie kon stoot. Dat Tereblanche en sy leiers hulle egter min aan die standpunt gesteur het, word bevestig deur die sogenaamde slag van Bophuthatswana toe gewapende AWB lede Mmbabatho ingeval het en drie AWB-lede hulle lewe verloor het (Sparks 1995:165). Ten spyte van van die feit dat die reaksie van die regse leiers nie altyd positief was nie, was die boodskap van die kerk aan al sy lidmate baie duidelik: Die roeping van die kerk was om vrede en versoening na te streef.

 

4. SLOT

"Ons wou bloed keer." Hierdie woorde van ds Freek Swanepoel beskryf die rol waarin die leiers van die NGK hulle in die jare 1990 -1994 bevind het. Dit is moontlik gemaak deur die aanvaardig van Kerk en Samelwing in 1986 en die belydenis van prof Willie Jonker tydens die Rustenburgberaad in 1990. Die unieke verhouding wat daar tussen die leierskap en mnr Nelson Mandela ontstaan het, het hierdie rol duidelik gedefinieer. Mandela het die leiers van die grootse Afrikaanssprekende kerk in Suid Afrika gebruik om gemoedere te kalmeer en om as tussengangers op te tree tussen homself en die regse Afrikanergroepe. Die sukses van die gesprekke was nie altyd voorhande nie, maar die invloed wat dit gehad het blyk uit Mandela se eie woorde tydens die Algemene Sinode van 1994 toe hy die leierskorps van die NGK bedank het vir die rol wat hulle gespeel het. Hierdie gebeure het die weg gebaan vir 'n volgende generasie waarvan Piet Strauss deel was.

 

BIBLIOGRAFIE

Alberts, L & Chikane, F. (eds), 1991. The Road to Rustenburg, Cape Town: Struik Christian books.         [ Links ]

De Klerk, F.W. 1998. FW de Klerk - Die Outobiografie. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Du Toit, F.; Hofmeyr J.W.; Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. 2002. Moeisame pad na vernuwing; Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na nuwe relvansie. Bloemfontein:CLF drukkers.         [ Links ]

Gaum, F.M. 1997. Die verhaal van die Ned Geref Kerk se REIS MET APARTHEID. 1960 - 1994. 'ngetuienis en 'n belydenis. Wellingto:Boland Drukpers.         [ Links ]

_______. 2014. Persoonlike korrespondensie: 20 Mei 2014        [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners - 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee H. & Mbenga B. 2007. New History of South Africa. Cape Town:Tafelberg.         [ Links ]

Jonker, W. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Lyman, P.N. 2002. Partner to history: The U.S. role in South Africa's transition to democracy. Washington, D.C: United States Institute of Peace Press.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1986. Kerk en Samelewing - 'n Getuienis van die Ned Gerei Kerk. Bloemfontein. NG Sendingpers.         [ Links ]

_______. 1991. Notule van die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie: Pretoria, 13-14 Maart 1991.         [ Links ]

_______. 1993. Algemene Sinodale Kommissie 5-6 November. Bylaag.         [ Links ]

_______. 1994. Handelinge van die negende Algemene Sinode. Pretoria        [ Links ]

Sparks, Α. 1995. Tomorrow is another country - The inside story of South Africa's negotiated settlement, Johannesburg: Jonathan Ball Publishers        [ Links ]

Strauss, P. 2013. Kerkwees in die Branding: Die nederduitse gereformeerde Kerk in Algemene Sinodale verband 1994 - 2011. Acta Theologica Supplementum 18        [ Links ]

Van der Merwe, J.M . 1990. "Ras, Volk en Nasie" en "Kerk en Samelewing" as beleidstukke van die Ned Geref Kerk - 'n Kerkhistoriese studie. Ongepubliseerde DD proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Onderhoude:

Potgieter, PC 4 November 2014, Wildernis.

Swanepoel, F 29 Mei 2014, Kaapstad.

Viljoen, c. 7 June 2014, Orighstad.

 

 

1 Die Afrikaanse Protestantese Kerk is in 1987 deur regse Afrikaners gestig nadat Kerk en Samelewing deur die Algemene Sinode van 1986 aanvaar is.
2 Viljoen is vergesel deur van sy generaals naamlik: Genls: Groenewald, Bischoff en Neethling.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons