SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 número2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 no.2 Bloemfontein  2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i2.5 

ARTICLES

 

Die Filistynse plaag in 1 Samuel 5-6: medies-teologiese verklarings

 

The Philistine plague in 1 Sam 5-6: medical-theological explanations

 

 

Prof. F.P. RetiefI; Prof. L. CilliersI; Dr. N.F. SchmidtII

IDepartement Grieks, Latyn en Klassieke Studies, UV
IIDepartement Ou Testament, UV. nschmidt@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Filistyne, Israeliete, Verbondsark, Builepes, Basilêre disenterie


ABSTRACT

According to the Old Testament (1 Samuel 5 and 6) the Ark of the Covenant was on occasion captured from the Israelites by the Philistines and taken to their own country. Subsequently, a plague, attributed to the Ark, erupted among the Philistines, and led to the Ark being returned to Israel after seven months. The plague consisted of abscesses or tumours, without indicating a specific anatomical location. There have in time been various suggestions of what the plague represented. Bubonic plague has often been mentioned as a possible cause, but the symptoms do not correspond with those mentioned in the Septuagint or the Vulgate, and the first recorded case of bubonic plague was in the 6th century AD. We thus consider that the 1st century AD Jewish-Roman historian, Josephus, was correct when he stated that the Philistine epidemic was dysentery: bacillary dysentery is a disease caused by a micro-organism which spreads from person to person by way of oral-faecal infection in a situation where there is poor hygiene, as was probably the case in 11th century BC Philistia.

Keywords: Philistines, Israelites, Arc of the Covenant, Bubonic plague, Bacillary dysentery


 

 

1. INLEIDING

Volgens 1 Samuel 5 is die Israelitiese Verbondsark gedurende 'n oorlog deur die Filistyne gekaap en na hul woongebied geneem. 'n Vernietigende plaag -wat aan die "heilige hand van God" (v.6;7; 9; en 11) en teenwoordigheid van die Here toegeskryf word - het hierna onder die Filistyne in die vorm van "geswelle" (1933 Afrikaanse Vertaling) en "pesswere" (1983 Afrikaanse vertaling) ontstaan, en daartoe gelei dat die ark in 1 Samuel 6 weer na sewe maande aan Israel terugbesorg is. Daar word vertel hoedat die Verbondsark, voorsien met die nodige soen-en brandoffers op 'n Filistynse wa - getrek deur koeie en vergesel van die vyf Filistynse vorste se woongebiede - na Bet-Semes in Israel vervoer is, waar dit met groot blydskap ontvang is. Omdat die Israeliete egter die ark op onwaardige wyse hanteer het, is 70 van hulle onmiddellik en 50 000 later met die dood getref. Oor die aard van dié plaag is dikwels verskil, daarom word dit in hierdie studie weer in die lig van moderne mediese en teologiese kennis in deeglik-verantwoordelike oënskou geneem.

 

2. DIE FILISTYNSE GESKIEDENIS, GODSDIENS EN HOOFGOD

Die Palestynse volkelys in Genesis 10 verwys onder andere na die Filistyne, wat as 'n seevolk afkomstig vanaf die eiland Kreta, na mislukte aanvalle op Egipte in 12de eeu v.C, hulleself in Kanaän gevestig het teen die kus van die Middelandse See. Mettertyd het die Filistynse nasie ontwikkel as stamverwante groepe in die vorm van 'n pentapolis bestaande uit die vyf stede van Gasa, Askelon, Asdod, Ekron en Gat. Vervolgens is die Filistyne deur Dawid onderwerp en tydens Salomo se heerskappy teen opstande bedwing (vgl. Gispen 1958:45-6).

Die godsdienstige kultus van die Filistyne is gewoonlik by sd die verering van drie belangrike Kanaänities-afkomstige Godhede (vgl. Klein 1983:49), naamlik die Godin Astarte (ook bekend as Astoret en Astarot), die God Baal Sebul (of Baal Sebub), asook die Hoofgod Dagon (vgl. Dothan 1982:20-21, Morris 1973:138 en Klein 1983:49). Die enkele verwysings na Dagon in die Ou Testament verwys gewoonlik na plekke wat hy tesame met Baal aanbid word, soos by die tempels te Gasa, Asdod, Ekron en moontlik ook by Bet-Sean (vgl. Rigters 16:23; 1 Kronieke 10:10, asook 1 Samuel 31:8-13 en 2 Konings 1:2). Dagon was bekend as die Hoofgod van die Filistyne Godsraad as 'n unieke Wes-Semities - Kanaänitiese geloofsvorm1, het saam met El bekend gestaan as die pleegouers of voogde van Baal en Hadad (vgl. Pope 1955:22; 47), en is ook dikwels geassosieer of versmelt met die benamings van Baal Sebub ("Heer van die Woning") en Baal-Sebul ("Heer van die Vlieë").2

As Wes-Semitiese God word Dagon dikwels in verband gebring met die konsepte van 'n storm-god van "graan", die "vis", asook 'n etimologiese verwysing na die Arabiese dagana ("to be gloomy, cloudy", vgl. Burnett 2000:307, Handy 1992:2-3 en Aalders 1957:348). Volgens die Filistynse volksetimologie beklee hy veral die rol van 'n natuurgod (vgl. Bezuidenhout 1999:308, Healey 1995:407-413).

 

3. DIE HERMENEUTIEK EN INTERPRETASIE VAN DIE "GESWELLE" IN 1 SAMUEL 5-6

Nadat die Filistyne die verbondsark gebuit het, het dit bepaalde tye in die verskillende stede van hulle pentapolis deurgebring, naamlik in Gasa, Askelon, Asdod, Ekron en Gat. Omdat die "hand van YHWH" (vgl. 1 Samuel 5:6;7; 9; en 11) teen hulle was, en God hulle met allerlei rotplae en gepaardgaande "geswelle" (1933 Vertaling) en "peswere" (1983 Vertaling) getref het. Gevolglik is die Filistynse heersers deur die priesters aangeraai om die ark, met twee koeie en gepaardgaande goue geswolle as vredes - en brandoffers namens hulle, vanaf die pentapolis na Israel toe terug te stuur.

Die plaag van die Filistyne word soos volg in die Septuagint (die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament wat in helfte van die 2de eeu v.C. in Alexandria vertaal is) beskryf. Die Engelse vertaling (in die Septuagint word die King James vertaling gebruik) word hier weergegee ten einde sekere terme te behou wat later in die artikel bespreek word:

"And the hand of the Lord was heavy upon the Azotians, and he plagued them, and he smote them in their secret parts" (Grieks: hedra)" (1 Kon. 5:3).3

"And the hand of the Lord was heavy upon Azotus, and He brought evil upon them...and mice sprang up in the midst of their country, and there was a great and indiscriminate mortality in the city..." (1 Kon. 5:6).

"And it came to pass after it went about to Geth, that the hand of the Lord comes upon the city, a very great confusion; and He smote the men of the city, small and great, and smote them in their secret parts, and the Gittites made to themselves images of emerods" (1 Kon. 5:9).

"...and those who lived and died not were smitten with emerods" (1 Kon. 5:12).

"And the ark was seven months in the country of the Philistines, and their land brought forth swarms of mice" (1 Kon. 6:1).

"And they say, what is the offering for the plague which we shall return to it? And they said, according to the number of the lords of the Philistines, five golden emerods.and golden mice, the likeness of the mice that destroy your land..." (1 Kon. 6:4 en 5).

"And these are the golden emerods which the Lords of the Philistines gave as trespass-offering to the Lord" (1 Kon. 6:17).

In die Vulgaat of Latynse vertaling van Hieronimus (c.345 - c.419), word die Filistynse plaag soos volg beskryf4:

"En die hand van die Here was swaar op die Azotii en Hy het hulle vernietig en hulle getref in hul privaat dele..." (1 Samuel 5:6).

".en Hy het die mans van elke stad, klein en groot, getref en daar was verrotting van die uitbultings van hul anusse. (1 Sam. 5:9).

"En die hand van die Here was baie swaar op hull en die mans en ook die wat nie dood is nie, is getref in hul privaat dele ... (1 Sam. 5: 12)

"...en hulle het gesê, julle moet vyf goue anusse maak en vyf goue muise... en julle moet afbeeldings van jul anusse maak en afbeeldings van die muise wat jul land verwoes het." (1 Sam. 6: 4 en 5). "En hierdie is die goue anusse wat julle as soenoffer aan die Here moet gee vir jul vergryp en die goue muise.(1 Sam. 6: 17).

In die oorspronklike Hebreeuse teks van hierdie gedeelte is die woord wat in die Septuagint in vers 12 vertaal word as hedra, die Hebreeuse woord (mv. ) wat verband hou met die Ophel heuwel in Jerusalem, en dus of "tumor" kan beteken. Verderaan in die teks word die woord vervang met wat op rektale hemorroïede (aambeie) kan dui, of selfsook hinderlike ' "stoelgang" (Holladay 1994:279,123).

Betreffende die vraagstelling - hoedat mens hierdie dilemma in die Ou Testament sou kon verstaan en verduidelik - blyk dit dat daar wel twee soorte benaderings hiervoor sou wees, oftewel beide mediese én teologiese verklarings.

 

4. MEDIESE VERKLARINGS

Mediese verklarings bevat - behalwe wat deur moderne Bybelvertalings met die bepaalde terme en konsepte bedoel word - uitvoerige besprekings oor wat, in die lig van moderne geneeskunde, die aard van die plaag kon gewees het (vgl. Shrewsbury 1964:13-39).

Builepes, as 'n moontlike oorsaak van 'n epidemie deur knaagdiere oorgedra word, is lank reeds lank as oorsaak voorgestaan. Die "Swart Dood" (Builepes) was vanaf die 15de eeu n.C. vir lank die bekendste epidemiesee siekte in Europa - selfs so laat as die 18de eeu toe die King James Bible in Engeland sy ontstaan gehad het (cgl. McNeil 1976:passim).4 Builepes word deur die mikro-organisme Yersinia pestis veroorsaak. Die kiem word deur 'n vlooi op knaagdiere gedra. By die mens is die rotspesies Rattus rattus en Rattus Norwegicus die primêre knaagdierdraers wat vlooie oordra wat mense byt. Die muis is egter by die mens nie 'n beduidende oordraer van pes nie. Die siekte-beeld word gekenmerk deur ontsteking van kliere (bubo's) in die dreineringsarea van die vlooibyt. Hierdie bubo's (wat tot absesse mag oorgaan) kom veral in die liesgebied voor omdat vlooibyte meestal op die bene voorkom, maar mag ook in die oksels en nek gevind word. 'n Ernstige septisemiese siektebeeld volg wat, sonder behandeling, tot 'n hoë mortaliteitsyfer kan lei (vgl. Denis & Campbell 2009:980-985). Dit word algemeen aanvaar dat die eerste herkenbare builepes-epidemie in die geskiedenis beskryf, in die tyd van keiser Justinianus (6de eeu n.C.) voorgekom het (vgl. Retief & Cilliers 2000:349-354).

Die Griekse woord mus (in die Septuagint gebruik) kan beide "muis" of "rot" beteken (vgl, Liddle, Scott & Jones 1953:1155), en voorstanders van die builepes-teorie stel voor dat die knaagdier - infestasie wat in die verhaal genoem word eerder rotte as muise was. Hieronder word egter gemotiveer dat die plaag-siektebeeld nie dié van builepes was nie. Bybel-vertalers aanvaar oorwegend dat die knaagdierplaag wel muise en nie rotte was nie. Daar is ook voorgestel dat die woord "muis" met die vroeë Hebreeus akbar verband hou - 'n woord wat op die vernietiging van graan dui (vgl. Shrewsbury 1964:19-20). Die Septuagint en Vulgaat beskryf die muise dan ook as 'n plaag wat die land beskadig het, maar koppel dit nie direk aan die siektebeeld nie. Die bubo's van builepes sou kon inpas by die pes-swere en geswelle in die meeste Bybelvertalings beskryf, maar die Septuagint en Vulgaat vermeld dat die Filistyne in hul hedras (anusse) getref is. Die woord "emerod" in vroeë Engelse Bybelvertalings gebruik, verwys waarskynlik na aambeie (vgl. Rendle Short 1966:54-58).

Die Joods-Romeinse geskiedskrywer Josefus, het in die 1ste eeu n.C. geskryf dat die plaag wat die Filistyne getref het, disenterie was (vgl. Wiston 2004: 6.1.1). Shrewsbury (1964:33-39) ondersteun hierdie voorstel en stel dat dit spesifiek basillêre disenterie (Shigellose) was. Shigellose word deur die mikro-organisme Shigella dysenteriae, tipe 1, veroorsaak en versprei van persoon tot persoon deur fekaal-mondelinge besmetting weens swak higiëne (vgl. Sansonetti & Bergaunioux 2009:962-965). Vlieë speel 'n belangrike rol deur die kontaminering van water of kos. Die dermkanaal word dan primêr aangetas met diarree wat bloed en slym in die stoelgang bevat. Sonder behandeling dra die siekte 'n beduidende mortaliteitsyfer. 'n Algemene komplikasie is megakolon met eksterne prolaps van die anale slymvlies. In gemeenskappe wat onkundig oor die siekte se epidemiologie en met ondoeltreffende sanitasie is, kan só 'n epidemie snel versprei.

Die simptome is dan primêr gastro-intestinaal met klem op diarree -dus aantasting van die anale gebied. Volgens die Septuagint en Vulgaat is die anale gebied in die Filistynse plaag spesifiek getref. Die Vulgaat verwys na verrotting van uitbultings uit die anus. Prolaps van die anale slymvlies, 'n algemene komplikasie van Shigellose, sou goed hierby inpas. Die Hebreeuse woord wat as "tumor" of "uitsteeksel" vertaal kan word, sou ook op anale prolapse kon dui, terwyl wat later in plaas van gebruik is, aambeie of "stoelgang" beteken. Dit hou weer verband met die verwysing in 1 Sam. 5:3 en 4 na die standbeeld van die afgod, Dagon, wat tweemaal vooroor geval het toe die ark in Filistynse besit was. Die "vis-god" Dagon was onder andere die vrugbaarheidgod van graan (vgl. Montalbano 1951:381-397), wat in verband gebring kan word met die epidemiologie van disenterie. "Emerods" is volgens oorlewering ook afgelei van aambeie ("haemorrhoids"). In die 11de eeu v.C. sou daar beswaarlik tussen anale prolapse en aambeie onderskei kon word. Ons wil dus voorstel dat die Filistynse plaag 'n epidemie van basillêre disenterie was.

Die muise wat die land verwoes het, was na ons mening 'n plaag wat in eie reg die land landboukundig verwoes het, maar nie betrokke was by die mens-epidemie nie.

Na die aankoms van die ark in Bet-Semes, was daar 'n ernstige mortaliteit onder die Israeliete, en die vraag ontstaan of hierdie 'n voortsetting van die Filistynse plaag was. Hiervoor sou daar 'n redelike periode van kontak tussen die besmette Filistyne en die kwesbare Israeliete moes gewees het om oordrag van die epidemie te bewerkstellig. Die Bybel vertel dat vyf Filistynse vorste die ark tot by die grens van Bet-Semes vergesel het. Hulle was waarskynlik vergesel van amptenare en soldate wat disenterie onder lede kon gehad het, maar volgens Bybelse inligting was hulle kontak met die Israeliete kortstondig. Daar word inderdaad vermeld dat die Filistyne dieselfde dag teruggekeer het. Shrewsbury (1964:17, 18) stel dit egter dat daar waarskynlik wel beduidende feesvierings tussen die vorige vyande sou plaasgevind het, waartydens die plaag dan oorgedra sou gewees het.

M.b.t. die "tumours" in 1 Sam.6:6 fluktueer die teks tussen "boils" (letterlik "hills"). Volgens Thenius se aanpassing in "hulle agterdele", m.a.w. "sores in the anus" (vgl. Hertzberg 1964:51). Selfs die Masoretiese Teks verskil m.b.t die siekte waarmee JHWH die Filistyne tref, tussen "boils" (literally "hills") and "sores of the anus, the second word probably being intended as an interpretation of the first" (Hertzberg 1964:54).

In die Afrikaanse Bybel (1933 vertaling) word verder vermeld dat die Filistynse plaag gekenmerk is deur 'n toestroming van muise wat die land verwoes het, sowel as "geswelle" wat die mense gedood het. Daar is geen verwysing na waar op die liggaam die letsels verskyn het nie. Die 1983 vertaling verwys na "pes-swere" wat die volk getref het, weereens sonder vermelding na waar op die liggaam dit voorgekom het. Die Lewende Bybel (1982) verwys na 'n rotteplaag en "swelsels" aan die liggaam.

In Engelse Bybels word daar benewens vermelding van die muisplaag, verwys na 'n verskeidenheid letsels wat die inwoners getref het. Die King James Bible verwys na die letsels as "emerods" - 'n vreemde woord wat in oorsprong eeue teruggaan en waarskynlik van "haemmorrhoids" (aambeie) afgelei is. Die Living Bible (1977) en die New International Bible (1978) verwys na "tumors". Ook hier is geen beskrywing van waar op die liggaam die letsels verskyn het nie.

Daar word volstaan met die opsomming van Klein (1983:50-51), wat die "geswelle" of "tumors" in I Samuel 5:6,9,5:64,5 en Deuteronomium 28:27 beskryf as:

inflamed swellings of the lymph glands, especially in the armpit or groin, characteristic of bubonic plague, connected with a plague of rats or mice, "strain at the stool" or haemorrhoids, dysentery (Josephus). Rodents carry the bubonic plague, indicating swollen or cracked eyelids and lips, tumours or sores which broke the surface of the skin.

 

5. TEOLOGIESE VERKLARINGS

Tesame met die mediese postulasies sou daar ook teologiese redes aangevoer kon word vir die gebeure in 1 Samuel 5 en 6:

Volgens Klein (1983:49-51) hou die naam van die Filistynse god verband met "graan", wat heel moontlik impliseer dat Dagon 'n God van die landbou en vrugbaarheid was. Wanneer die Filistyne die gebuite ark saam met die beeld van Dagon in die tempel plaas, simboliseer hulle daarmee dat hulle god, Dagon, die botoon voer, aangesien hy JHWH as die God van die Israeliete oorwin het. Dagon beleef egter twee "valslae" met betrekking tot JHWH se teenwoordigheid via die ark in Dagon se tempel: eerstens bevind hy homself onderstebo, as te ware in "aanbidding" voor JHWH en die ark. Ná die tweede valslag, wanneer Dagon sonder sy arms en kop bo-oor die drempel van die tempel lê, simboliseer die Bybelskrywer daarmee Dagon se totale vernedering, verwoesting, en verowering in die teenwoordigheid van die God van Israel.

Van Zyl (1988:85-87) interpreteer die gebeure van 1 Samuel 5-6 as "een godenstrijd" tussen Dagon en JHWH, met JHWH wat uiteindelik as die finale Oorwinnaar uit die "Heilige Oorlog" tree. Die Goddelike retribusie jeens Dagon se gebrokenheid en die vergelding van pesswere onder die Filistyne realiseer by wyse van drie etiologiese gebeure, naamlik (1) die "hand van God" wat onder die Filistyne maai, (2) die gevolglike geswolle wat manifesteer in pesswere onder die Filistynse stamgroepe, asook (3) die beroering wat dit daarna onder die vyf groepe in die pentapolis veroorsaak.

Laastens sou ons ook oor die Filistynse "geswolle" en "pesswere" op 'n eufemistiese wyse in 1 Samuel 5-6 kon teologiseer. Brueggemann 1990:36-7) se opmerking hieroor is veelseggend:

The exact character of the "tumors" is problematic. All the story need is recognition that the tumours are a bodily affliction (reminiscent of the Egyptian plagues) that causes enormousalarm among the Philistines.

 

6. GEVOLGTREKKING

Volgens die Ou Testament (1 Samuel 5 en 6) is die verbondsark per geleentheid by die Israeliete deur die Filistyne gebuit en na hulle eie woongebied geneem. Gevolglik het 'n plaag, wat verbind word aan die ark via die "hand van JHWH", uitgebreek onder die Filistyne, sodat dit later na Israel teruggeneem is. Volgens mediese verklarings het die Filistynse plaag bestaan uit absesse of gewasse, sonder die aanduiding van spesifieke liggaamlike aanduidings. Verskillende verklarings is sedertdien gegee oor die aard van die Filistynse plaag: 'n Buboniese plaag is dikwels aangedui as moontlike oorsaak, alhoewel die simptome tussen die Hebreeuse, Griekse en Latynse Bybelvertalings nie ooreenstem nie. Die Septuaginta en die Vulgata plaas die eerste genotuleerde uitbrake van 'n Buboniese plaag in die 6de eeu na Christus. Vanuit 'n mediese verklaring word dus saamgegaan met die standpunt van die 1ste eeuse Joods-Romeinse geskiedkundige, Josefus, waarvolgens die Filistynse plaag heel moontlik aan disenterie toegeskryf kan word: basillêre disenterie is 'n plaag wat deur mikro-organismes tussen mense versprei word deur middel van oral-fekale infeksie in situasies wat met swak higiëne gepaard gaan, soos wat moontlik die geval in die 11de-eeu voor Christelike Palestina sou wees. Andersins lui 'n teologiese verklaring dat die gebeure van 1 Samuel 5-6 op 'n geval van Heilige Oorlogvoering dui tussen die Israelitiese en Filistynse Gode JHWH en Dagon, waartydens Dagon beide verneder en verower word in die teenwoordigheid van die ark, en die Filistyne deur God gestraf word weens voortgesette sondedade.

 

BIBLIOGRAFIE

Aalders G.C.H. 1957. Dagon. In: F.W. Grosheide & I.P. Van Itterzon. Christelijke Encyclopedie. 6 dele, (Kampen: Kok), Vol1:348-349.         [ Links ]

Burnette J. 2000. DAGON. In: D.N. Freedman, A.C. Myers & A.B. Beck. (Eds.) Eerdmans Dictionary of the Bible, (Grand Rapids: Eerdmans), pp.307.         [ Links ]

Bezuidenhout L.C. 1999. I Samuel. In: W. Vosloo & F.J. Van Rensburg. Die Bybellenium: Eenvolumekommentaar. Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing, (Vereeeniging: CUM), pp.303-334.         [ Links ]

Brueggemann W. 1990. First and Second Samuel. Louisville: John Knox.         [ Links ]

Dennis, D.T. & Campbell, G.L. 2009. Plague. Harrison's principles of internal medicine. New York, Chicago, London:McGraw Hill.         [ Links ]

Dothan T. 1982. The Philistines and their material culture. Jerusalem: Israel Exploration Society.         [ Links ]

Oden T.O. 2005. 1-2 Samuel. In: J.R. Franke (ed.). Joshua, Ruth, 1-2 Samuel. Downers Grove: Inter-Varsity Press.         [ Links ]

Freedman D.N. Et al. 1992. The Anchor Bible Dictionary. 4 Volumes. New York: Doubleday        [ Links ]

Freedman D.N., Myers A.C. & Beck A.B. (eds.) 2000. Eerdmans Dictionary of the Bible. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Gispen W.H. 1958. Filistijnen. In: F.W. Grosheide & I.P. Van Itterzon. Christelijke Encyclopedie. 6 dele, (Kampen:Kok), vol 3:45-46.         [ Links ]

Gordon R.P. 1997.Theology of Samuel. In: W.A. Vangemeren (ed.). New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis, (Grand Rapids:Zondervan). Vol4 :1168-1177.         [ Links ]

Grosheide F.W., Gispen W.H., Bruijel F.J. & Van Deursen A. (Reds) 1955. Bybelse Ensiklopedie. Kaapstad:Verenigde Protestanse Uitgewers.         [ Links ]

Grosheide F.W. & Van Itterzon, G.P. (reds) 1956-1958. Christelijke Encyclopedie. 6 ele.Kampen: Kok.         [ Links ]

Hadley J.M. 1997. ןוגך. In: W.A. Vangemeren. New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis. Grand Rapids: Zondervan 1997/1:918-9.         [ Links ]

Handy L.K. 1992.DAGON (DEITY) [Heb dägön]. In: D.N. Freedman, A.C. Myers & A.B. Beck (edds.), Eerdmans Dictionary of the Bible, (Grand Rapids: Eerdmans), vol 2:1-3.         [ Links ]

Hertzberg H.W. 1964. I & II SAMUEL. London: SCM.         [ Links ]

Healey J.F. 1995. DAGON דגון. In: K. Van DerToorn, B. Becking & P.W. Van Der Horst (eds.), Dictionary of deities and demons in the Bible, (Leiden:Brill), pp.408-413.         [ Links ]

Holladay, W.L. 1994. A Concise Hebrew and Aramaic Lexicon of the Old Testament. Leiden: William B. Eerdmans Publishing Company.         [ Links ]

Klein P.W. 1983. 1 Samuel. Word Biblical Commentary. Vol.10. Waco: Word.         [ Links ]

Liddle, H.G., Scott, R. & Jones, H.S. 1953. A Greek-English Lexicon. Oxford:Clarendon Press, Oxford.         [ Links ]

McNeil W.H. 1976. Plagues and peoples. New York: Anchor Press.         [ Links ]

Montalbano, f.j. 1951. Canaanite Dagon: Origin, Nature. Catholic Biblical Quarterly 13/4:81- 397.         [ Links ]

Pope M.H. 1955. El in the Ugaritic texts. Leiden: Brill.         [ Links ]

_______. 1973. Judges and Ruth. Lodon: Tyndale.         [ Links ]

SANSONETTI, P., BeRGAUNIOUX, J. 2009. Shigellosis. Harrison's Principles of Internal Medicine (New York, Chicago, London: McGraw Hill), pp.962-065.         [ Links ]

Shrewsbury, J.F.D. 1964. The plague of the Philistines, and other medical- historical essays. London: Gillanez.         [ Links ]

Rendle Short, a. 1966. The Bible and modern medicine. Exeter: Paternoster.         [ Links ]

Retief, F.P., Oilliers, L. 2000. Die Epidemie van Justinianus, 542 n.C.:voorspel tot die Middeleeue. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 40(3): 349-254.         [ Links ]

Schippers R. 1956. BEËlsebub. In: F.W. Grosheide & I.P. Van Itterzon (red.). Christelijke Encyclopedie. 6 dele. (Kampen: Kok), vol 1:425.         [ Links ]

Van Der Toorn K., Beoking Β. & Van Der Horst P.W. (red.) 1995. Dictionary of deities and demons in the Bible. Leiden: Brill.         [ Links ]

Vangemeren W.A. (Ed) 1997. New International Dictionary of Old Testament. Theology and Exegesis. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van Zyl A.H. 1988. 1 Samuël deel 1. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Whiston, W. (Transl.) 2004. The works of Josephus. Peabody: Hendrickson.         [ Links ]

 

 

1 Volgens Hadley (1997:918-919) vervul Dagon die eiendomlike personifikasie van die Filistynse kultuur en landskap. Die Filistynse Dagon is veral vroeër in Mesopotamië aangeroep as die God van graan en vrugbaarheid, en vervolgens teofories met die Kanaanitiese Baal geassosieer sedert die derde millennium v.C.
2 Die vertaling van Baal-Sebul as die "vliegenheer" of "vliegenbaal" (Grosheide et al 1955:70, 348 en Schippers 1956:520), asook sy eventuele verwarring met die Duiwel en Satan in die Nuwe Testament (vgl. Matthéüs. 10:25; 12:24, Markus 3:22 en Lukas 11:15; 18; 19) het dikwels tot die wanopvatting aanleiding gegee, waarvolgens Dagon as die "God van die Vlieë" verstaan is.
3 In die Septuagint staan 1 en 2 Samuel as 1 en 2 Konings bekend.
4 Eie letterlike Afrikaanse vertaling.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons