SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 número2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 no.2 Bloemfontein  2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i2.4 

ARTICLES

 

Humor, skerts en gemoedelikheid in verskillende stylfigure by Johannes Calvyn

 

Humour, jest and bonhomie in various figures of speech in John Calvin

 

 

Prof. P.C. Potgieter

Navorsingsgenoot: Departement Dogmatologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. pcpotgieter@telkomsa.net

 

 


Trefwoorde: Calvyn, Humor, Gemoedelikheid, Stylfigure


ABSTRACT

A fairly general perception of John Calvin is that of a gloomy and even cheerless person. In many publications on his life and on his outlook on life, in particular, there is frequently nothing or hardly anything to be found on his humour and bonhomie. The author argues that there are many indications in his writings that show another side of this remarkable man. It is obvious that his contemporary colleagues often found him in a jovial mood, while his writings were certainly not without humour and even jest. It must be borne in mind that the humour of every period in history has its own kind of character. One should not necessarily view sixteenth-century humour in terms of the twenty-first-century views. In a lighter mood, Calvin frequently expressed himself in various figures of speech, particularly metaphor and irony, which often have a hint of sarcasm.

Keywords: Calvin, Humour, Bonhomie, Figures of speech


 

 

1. BIOGRAFIESE BESKOUINGS

Die ernstige en selfs swaarmoedige kant van Johannes Calvyn se lewensuitkyk ontvang dikwels soveel aandag, dat sy blyke van ligter luim maklik misgekyk word. Daar word, trouens, in litteratuur oor die hervormer van Genève nie so veel gevind oor sy oomblikke van skerts, humor en gemoedelikheid nie. En tog is dit daar. Dat die oorwig na die ander kant lê, is wel duidelik.

Alles in ag genome was daar in die tyd en omstandighede waarin Calvyn geleef het, ook nie te veel rede vir 'n besonder optimistiese en lighartige lewensuitkyk nie.

Dat Calvijn soms zo somber was, is geen wonder, het is zelfs opmerkelijk dat hij bij dit alles nog soveel goeds over het goede van dit leven wist te zeggen (Selderhuis 2008:207).

Daar was meer as genoeg rede waarom Calvyn se lewensvreugde soms gedemp voorkom: van nature was hy 'n teruggetrokke mens; daarby kom sy talle liggaamlike kwale en gedurige ongesteldhede; en dan ook die deurlopende vyandige aanslae van teenstanders - sowel kerklik-godsdienstig as in sy betrokkenheid by die burgerlike lewe. Daarom kan Schippers tereg vra:

Verontschuldigt dat liggaamlijden niet, wanneer Calvijn soms gedrukt zich voelde en wekt het geen bewondering voor de man, die onder dat lijden nog zoveel gearbeid heeft? (Schippers 1959:40).

Partee meen ook dat daar begrip moet wees vir Calvyn se ernstige gemoedsgesteldheid, wat deels die gevolg was van sy swak gesondheid. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat daar 'n totale gebrek aan humor by hom was nie (Partee 2008:10vv). Wat Calvyn wel wil vermy, is drieërlei: om humor as dekmantel vir ydele geklets te gebruik; om skerts in seermaak te laat ontaard; en, om dit te gebruik op 'n manier wat nie in lyn met godvresendheid is nie (Hogg 2013).

Om iets van Calvyn se humoristiese en gemoedelike kant te verstaan, moet dus goed in gedagte gehou word, dat hy in 'n ander tydsgewrig as hedendaagse skrywers geleef het. Om Hogg aan te haal: hy het nie komedie geskryf vir een-en-twintigste eeuse gehore nie.

Essentially, he regarded some humour positively, but was aware that humour could be employed to negative effect. Humour could be, in Calvin's view, godly or ungodly depending upon its intent and impact (Hogg 2013:1)

Daar is ongelukkig meermale ongevraagde negatiewe kritiek op die persoon en karakter van Calvyn. Hy is soms selfs uitgemaak as 'n hartelose mens wat sy volgelinge geen lewensvreugde gegun het nie (Selderhuis 2009:1) 'n Voorbeeld is die van Pierson uit die 19e eeu. Hy sê onder meer: wanneer Calvyn sy eie sienings wil propageer, aarsel hy nie om gebruik te maak van laster en verdagmaking nie; hy haal outeurs aan terwyl hy weet dat sy lesers dit seker nie kan kontroleer nie, en boonop skryf hy dilwels onder 'n skuilnaam. Kortom:

het is met een zeer menschelijke wijsheid dat hij bestuurt, met al de fijnheid en dubbelhartigheid van een diplomaat, terwijl hij overvloeit van bitterheid als hij het heft niet in handen kan houden, als men zich vermeet zijn alleenheerschappij naar de kroon te steken (Pierson 1881:180v).

 

2. NIE SO SOMBER NIE

In sy studie oor die lewe van Calvyn kom Doumerque tot die slotsom dat hy alles behalwe 'n somber mens was, soos sommige hom graag voorstel. Omring deur simpatieke en gemoedelike vriende, was hy sagsinnig en kon hy ook glimlag (Doumerque 1903:67). Maar Calvyn het ook sy eie swakhede geken. Hy kon soms nogal ongeduldig wees. Hy erken, trouens, self in sy briewe dat hy dikwels prikkelbaar was en dat dit vir hom nie altyd maklik was om teen sy natuur te stry nie. Presies daarom is dit moeilik om sy persoonllikheid te ontleed en dit regverdig te beoordeel (Dankbaar 1957:199). So erken hy ook in 'n brief aan Dryander (Desember 1552) dat hy maar alte goed bewus is van sy heftige temperament (CO 16.433v).

In die omgang was "niemand beminnelijker dan hij", aldus Praamsma, al was dit so dat "de natuur hem tot deftigheid geschapen had." Dit het ook meegebring dat talle vriende hom na Genève gevolg het. Maar mense het ook geweet waar hulle met hom staan:

van vleien, veinzerij en goddeloosheid, inzonderheid in zaken van godsdienst, was hij zulk een bittere en heftige vijand, als hij van waarheid, eenvoud en oprechtheid een beminnaar was (Praamsma, s.a.:231v).

Selderhuis wys heeltemal tereg daarop dat die ware Calvyn as mens nog die beste uit sy briewe geken kan word. Hy sê, trouens, self dat die beste prentjie van sy hart in sy briewe geteken word (epistola haec quae viva erit cordis mei imago, CO 17.191). Daar was beslis nie 'n gebrek aan humor by Calvyn nie. Maar dit is dikwels 'n getemperde humor.

Dat Calvijn bij al deze gedrevenheid ook nog kon lachen, past niet direct bij het beeld dat van hem bestaat. En toch is het zo. Calvijns humor is die van de humanist en is dus elitair. Lachen moet geen spotten worden. En lachen moet natuurlijk wel een doel hebben. Het leven begint en eindigt met een lach, volgens Calvijn. Daartussen zit een rivier van tranen (Selderhuis 2008:272).

In Reformatorisch Dagblad (14 Mei 2007, p.18) haal Florijn (sonder verwysing) 'n merkwaardige uitspraak van Calvyn, wat deur baie as 'n vreugdelose man sonder enige humor beskou word, so aan:

Zou God willen dat wij altijd zwaarmoedig zijn? Is God vertoornd als wij vrolijk zijn? Zo ja, waar blijft men dan met die plaatsen in de Schrift waarin gezegd wordt dat God eist dat de mens zich verheugt, en dat Hij hem geeft waarin hij zich kan verblijden?

Hy teken ook daarby aan dat Calvyn se "zotheid" staan in die teken van erns: humor is immers 'n spieël van die tydperk waaruit dit kom; elke tydperk kry trouens die humor wat dit verdien (Florijn 2007). "Calvin lived in a world that, in many ways, was quite different from our own" (Bentker 2011: 3).

Serene Jones wys volkome tereg daarop dat Calvyn so gelees moet word dat die dieper betekenis van sy woordkeuse goed in ag geneem moet word.

One must continually ask probing questions about word choice and the play of various tropes while simultaneously charting the text argument in all its twists, turnes and inconsistencies (Jones 1995: 2).

Dit is, trouens, ook die rede waarom die navorser Calvyn noodsaak-likerwys in die oorspronlike Latyn en Frans moet nagaan.

Partee stem saam met Bakhtin dat Calvyn 'n vorm van ironiese humor toon in sy satiriese vermaning oor die sogenaamde oorblyfsels (relikwieë) van heiliges wat "tegelykertyd in Italië, Frankryk, Duitsland, Spanje en ander lande bewaar word" (Calvin's Tracts, Vol 1 p 289vv; Partee 2008:10). As die aantal relikwieë wat as oorblyfsels van die apostels deur die pousdom bewaar word, bymekaar gemaak sou word, sou elkeen van hulle meer as vier liggame moes gehad het (Calvin's Tracts, I:293), en as al die hout van wat deel van die kruis sou wees bymekaar gemaak sou word, sou 'n skip daarmee gebou kon word! (Calvins Tracts, I:301ff). In hierdie verband wys Brouwer tereg daarop dat Calvyn se humor meermale die vorm van sarkastiese ironie aanneem (Brouwer 2008).

Dit is nogal merkwaardig dat daar in 'n resente boek onder die titel Calvin Today (Welker, Weinrich & Möller 2011) nêrens enige melding gemaak word van sy sin vir humor en van sy gemoedelikheid wat soveel vreugde vir sy kollegas en vriende gebring het nie, en wat steeds soveel betekenis behoort te hê vir almal wat vandag nog vir hom waardering het.

 

3. CALVYN OOR HOMSELF

In sy briewe spot hy maklik met homself. In 'n skrywe aan Francois Daniel (Maart 1534) oor sy studies sê hy dat hy tog vorder ten spyte van sy inherente luiheid (desidia). En dan sluit hy die brief ook met 'n grappie af as hy met 'n woordspeling in die Latyn sê: Maar nou is my bladsy byna vol, gedeeltelik met skrif en gedeeltelik met kladkolle: partim literis partim lituris, om dan te laat volg: Totsiens, en groet sommer wie jy wil (saluta quos voles, CO 10/2.37).

Die jong Calvyn beskryf homself, trouens, in 'n brief aan Claude Hangest (9 April 1532) as iemand van gemiddelde begaafdheid sommer uit die gewone mense (unus de plebe homuncio, mediocri, CO 5.5). Aan allerlei slimmighede het hy geen erg gehad nie (argutiis non delector, CO 12.666). En daarby kom dat hy as tiener 'n leermeester gehad het wat hy sonder meer as 'n "dom mens" (homo stolidus, CO 13.526) beskryf.

In 1541 skryf hy uit Genéve aan Bucer dat hy hom maar gerus kan vermaan en bestraf (admoneas castiges) want hy is so betrokke by allerlei dat hy eintlik buite homself is (non sim apud me, CO 11.299).

Selfs oor sy swak posisie wat die materiële betref, kon hy ook nog oor homself skerts: as mense meen dat hy baie besit, moet hulle gerus maar wag tot sy heengaan om die ware toedrag van sake te sien.1 So skerts hy ook in 'n brief aan Piperinus (1555) oor mense wat allerlei te vertel het oor hoe welgesteld hy dan sou wees, en hoe hy geld wat vir die armes bedoel is, vir homself toe-eien: "Waar sou die skat dan begrawe lê?" (Ubinam ergo defossus iaceret thesaurus ille? CO 15.825). Maar hy bekommer hom nie oor sulke praatjies nie, want leuens verdwyn spoedig (subitoque evanescerent mendacia, CO 15.826) as dit geen voeding kry van die teen wie dit uitgedink is nie.

Dat Calvyn ook te midde van pyn en liggaamlike beproewing nog steeds plek gehad het vir die ligter kant van die lewe, blyk veral uit 'n brief aan Theodorus Beza (9 Oktober 1561, CO 19.30). Vir sy reumatiek het hy sekere olies gebruik waarvan die geur hom aanvanklik naar gemaak het (nauseam citet). En tog beny hy nie Beza se "weelderige lewe" nie, want hy is met dié olie so goed en oorvloedig gesalf (bene et pinguiter unctu), dat die oliegeur vir hom al begin aangenaam (amabilis) word. Maar dan sê hy darem ook dat deur so te skerts, dit nie eintlik sy bedoeling is om homself te vermaak nie (iocanda non ita me obiecto), maar eerder om sy vriend gerus te stel - vir geval hy dalk ander gerugte oor hom hoor. Dan voeg hy ook skertsend daarby dat hy die brief sommer na sewe-uur in die bed skryf, want 'n ou mens2 wat aan jig ly, word maar versigtig (ita providi sunt senes podagrici). Maar om nie verder te skerts nie (extra iocum): hy waardeer die positiewe trant van Beza se brief.

Oor sy verhouding met Luther skryf Calvyn aan Bullinger dat hy nie een van dié is wat die Duitse hervormer uit vrees vir hom met vleiery (blanditi) probeer gunstig stem nie, maar hom altyd daarvan vry gehou het (me semper fuisse liberum, CO 13.165).

 

4. VROLIKHEID

Calvyn het geen probleem gehad met vrolikheid in die lewe nie. Anders as die stroewe en stug Calvyn wat meermale in litteratuur voorgehou word, het hy 'n oop gemoed oor vrolikheid gehad en selfs graag daarin gedeel. In sy kommentaar op Psalm 104:15 waar die digter sing van die Here wat wyn gee om "die mense se harte bly te maak," sê hy dat God nie net voorsien in wat vir die mens noodsaaklik is nie en vir hulle nie net gee wat genoeg is vir die gewone gang van die lewe nie. In sy goedheid (sua indulgentia) handel Hy nog oorvloediger met hulle deur hulle harte bly te maak met wyn en olie (dum corda exhilarat vino et oleo). Van nature sou die mens beslis tevrede wees met water om te drink; daarom is die toevoeging van wyn te danke aan God se milddadigheid (ex Dei largitate, CO 32.91). Hy waarsku wel ook baie deeglik teen uitspattigheid in die verband, want sê hy, as daar te veel gedrink word (largius bibitur), lei dit tot maklik tot allerlei skaamtelose praatjies (minus verecundis sermonibus, CO 45.432).

Daar is natuurlik altyd die gevaar dat uitbundige vreugde daartoe kan lei dat 'n mens God vergeet (CO 55.430). Calvyn was ook goed bewus van die aanloklike maar gevaarlike aspekte van jong liefde.

That is why he had clear ideas on what one could do in a relationship and even clearer ideas on what one could not do. No provocative clothing. No make-up. No risque rhymes, no earthly jokes or erotically breathed songs (Selderhuis 2011:61).

Selderhuis haal hom ook aan waar hy sê al is wyn 'n gif vir die dronkaard, dit vir ons tog heerlik smaak (Selderhuis 208; SC VI.39).

Daar moet altyd ruimte vir blydskap wees. In sy kommentaar op Filippense 4:4 (Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: wees bly) sê hy: Om saam te vat - kom wat wil - gelowiges het heeltemal genoeg stof tot blymoedigheid (amplam gaudendi materiam), omdat hulle die Here aan hulle kant het (CO 52.60). Die hartlike vreugde (interius gaudium) wat deur geloof ons deel word, help ons om alle vrese, angste, hartseer en bekommernisse te oorkom (Komm Hab 3:18, CO 43.588).

Al kon hy nie op die oog af as 'n vrolike of blymoedige mens gesien word nie, is daar telkens blyke van sy humor. Dit is, trouens, sy skerpsinnigheid wat hom meermale tot spitsvondighede verlei (Dankbaar 1957:200v).

Hogg meen dat die idee van vreugde by Calvyn veel sterker figureer as die van skerts. Iets in die lewe hoef nie noodwendig snaaks te wees nie, maar kan tog vreugde verskaf - wat veel meer substansieel is (Hogg 2013).

 

5. AS MEELEWENDE MENS

Calvyn het graag in die vreugde van sy vriende gedeel. So skryf hy by geleentheid van die geboorte van die De Falais-egpaar se baba dat hy graag saam met hulle sou wou lag en ook om die ou kleintjie aan die lag te maak (pour rire avecque vous face rire le petit enfant, CO 12.578).

Sy briewe aan vriende spreek dikwels van 'n warm gemoedelikheid rondom hulle persoonlike omstandighede. Hy deel nie net in hulle sorge nie: ook in hulle vreugde. Dit is ook uit sy briewe duidelik dat hy dikwels met vreugde uitgesien het na gesprekke met sy vriende (Selderhuis 2009:220). Maar "tot ongedwongen vrolijkheid komt het nauwelijks" (Dankbaar 1957:201).

Dit is veral in sy briewe aan Farel waar hy vrypostig genoeg is om 'n bietjie op persoonlike vlak te skerts, "rebuking him with the utmost freedom, laughing with him and at him" (Parker 1975:140). Ons kom Calvyn, trouens, telkens in sy briewe teë as die gemoedelike vriend en kollega.

Teenoor die genietinge van hierdie verbygaande wêreld (temporales deliciae) wat soos drome kan verdwyn, kan die ware en egte vreugde vir 'n mens nêrens anders gevind word as in God nie. Daarom kan net die gelowiges, wat rustig is in die Here se genade, waarlik en volkome gelukkig (beatos) wees (Komm Ps 16:11; CO 31.158).

Beza vertel wat daar gebeur het by die laaste geleentheid toe die predikante kort voor Calvyn se heengaan aan sy huis geëet het: onder andere dat dit maar 'n droewige maaltyd was, maar dat Calvyn selfs toe nog probeer het om te sorg dat daar 'n bietjie blymoedigheid en gemoedelikheid in die gesprek was (Schippers 1959:44; Beza 1958:cxxxi; CO 21,43ff). In die publikasie Koninklijke weg naar den hemel word Calvyn by dieselfde geleentheid so aangehaal: "In dezen ogemblikken mogen wij ons verheugen over het vele goede dat wij wel gevestigd zien" (Zuid-Afrikaansche Christelijk Boekenvereeniging 1858: xxviii).

 

6. HUMOR IN DIE SKRIF

Dit is interessant dat Calvyn ook telkens humor in die Heilige Skrif raakgesien het. Die woord "lag" kom 28 keer in die Afrikaanse (1983) vertaling van die Bybel voor, maar byna nooit in humoristiese sin nie -eerder in die sin van iemand of iets waarmee die spot gedryf word. Selfs die Here lag mense uit wanneer hulle meen dat hulle hulle nie aan Hom hoef te steur nie.3

In sy kommentaar op Genesis 17:17 (Toe het Abraham op sy knieë geval, en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring?) vind Calvyn klaarblyklik iets humoristies daarin as hy skryf dat Abraham ontsteld is oor die nuwigheid (rei novitate) van wat hulle nou te beurt val (CO 23.245). So iets sou mos nooit in 'n sterfling se gedagte kon opkom nie! (hoc nemini mortalium fuisse venturum unquam in mentem, CO 23.298).

In Jesaja 44 vind Calvyn klaarblyklik 'n stuk humor wat grens aan die tragiese. Die profeet spot eintlik met die mens wat dieselfde stuk hout waarmee hy homself voor 'n vuurtjie lekker warm maak, gebruik om 'n afgod te maak wat hy aanbid.4 Hoe gek is dit (quid autem magis indignum) om aan die eenkant die voordeel van God se skepping (vuurmaakhout en vuur) te gebruik, en dieselfde hout te gebruik om 'n God-onterende beeld te maak. Hier is iets (die hout) wat onder die mens se beheer is, en dan buig hy hom tog neer voor dieselfde materiaal wat hy tot beeld gevorm het (CO 37.116). Hy haal hier, trouens. ook die heidense skrywer Horatius aan, wat met hierdie selfde dwaasheid die spot gedryf het:

Ek was eenmaal die stam van 'n vyeboom, 'n nuttelose stuk hout, toe 'n skrynwerker - onseker of hy 'n sitbank of 'n Priapus5 moet maak -liewer wou hê dat ek 'n god moet wees. En so het ek 'n god geword.6

In Lukas 7 vra Jesus waarmee Hy die Fariseërs en wetgeleerdes sal vergelyk, en sê dan dat hulle soos kinders is wat op die markplein sit en sing vir mekaar. Calvyn se kommentaar hierop is dat Christus op hierdie manier die skrifgeleerdes met hulle hoogmoed verwerplik voorgestel het deur hulle optrede met die sang van 'n prettige kinderliedjie te vergelyk (quod in foro cantillant ludibundi pueri, CO 45.307).

Calvyn sien dit ook nogal as 'n stukkie Goddelike humor as Hy eenvoudige skaapwagters as eerste besoekers na Christus toe stuur, en ongeletterde vissermanne op so 'n manier gebruik dat hulle later voor hooggeplaastes en konings getuig (deinde recipiuntur reges eorumque consiliarii, senatores, rhetores, CO 49.330).

Waar Paulus aan die Filippense (3:2,3) skryf, vind Calvyn die woordspeling tussen peritomē (besnydenis, circumcisio) en katatomë (verminking, concisio) nogal humoristies. Daar het ons 'n voorbeeld dat die Heilige Gees nie geestigheid en humor (leporem et facetias) vermy nie. Hy vind, trouens, talle voorbeelde in die profete - en veral in Jesaja - van dergelike woordespel (CO 52.43). Omdat Calvyn na soveel tekens van humor in die Bybel - geïnspireer deur die Heilige Gees - verwys, is die afleiding volkome geregverdig dat hy positief daarop ingestel was. Dit is egter ook baie duidelik dat hy die gevare daaraan verbonde ingesien het. In sy kommentaar op Efesiërs 5:4 (Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie) verwys hy spesifiek na die gevaar van ligsinnige praatjies: dit geskied dikwels onder die dekmantel van gekskeer of geestigheid - selfs luimigheid - wat selfs aanbevelenswaardig mag lyk. En tog sien Paulus dit as ligsinigheid. Al word die Griekse woord eutrapeleia dikwels in 'n goeie sin gebruik, bly dit baie moeilik om te skerts sonder om verwaand te wees. So iets pas nie by 'n gelowige nie (CO 51.215).

 

7. LUIMIGE EN SPOTTENDE TAALGEBRUIK

Selderhuis wys tereg daarop dat Calvyn soms gemaklik die spot kon dryf met mense wat dit na sy oordeel verdien. In sy voorwoord tot 'n satiriese geskrif van sy vriend Pierre Viret stel hy die vraag of dit geoorloof is om te spot wanneer dit oor teologiese kwessies gaan (CO 9.863vv). Dit mag, maar dan moet die teoloog in staat wees om so te skryf dat die leser vermaak word met 'n kombinasie van erns en humor. Humor kan goed gebruik word om die onsinnigheid van teologiese dwaling aan die kaak te stel (Selderhuis 2008:210). Aan die anderkant stel Calvyn dit onomwonde dat as daar oor God gepraat word, daar nie plek vir skerts is nie; uit alles moet blyk dat ons eerbied het vir sy majesteit. Maar as dit gaan oor bygelowighede, kan jy nie nalaat om self oor sulke belaglikhede te lag nie (Doumerque 1907:401)

So dryf hy die spot met die pousdom se gebruik om mense as diakens te orden asof hulle apostels is, en dan as take aan hulle op te dra om wierook te brand, beelde af te stof, kerke uit te vee, muise te vang en honde weg te jaag (Calvyn 1936: Vol V, 466. Inst 4.19.32).

Doumerque (1907:399) wys ook daarop dat Calvyn soms luimige woordspelings gebruik het in sy kritiek op sekere mense. So noem hy byvoorbeeld in 'n brief van 19 Oktober 1546 aan De Falais ene Van Bure "le comte de Beurre" (die graaf van botter) (CO 12.402).

Calvyn se gebruik van spot wil die leser soms ook laat glimlag: daar sit 'n stukkie humor in wanneer hy verwys na die verleentheid van mense wat net vir spesiale geleenthede kerk toe kom - soos vir die doop of vir 'n huwelik - en dan nie eers weet waarvoor hulle moet vra nie (demander, CO 49.736).

Selfs in sy testament doen Calvyn 'n bemaking wat die navorser as 'n stukkie humor mag ervaar. Aan sy drie niggies bemaak het elkeen dertig goue krone. "Daarenteen bemaak ek aan my neef Dawid, haar broer, slegs 25 krone, as straf omdat hy ligsinnig en wispelturig is."7

Calvyn kon ook lag oor allerlei praatjies wat daar soms oor homself is, soos dat hy gewond of dood is, of selfs verdrink het. Hy skryf luimig aan De Falais dat hy self nog niks daarvan opgemerk het nie! (CO 12.552). In dieselfde trant skerts hy ook ook die voorval toe Jean Mercier na 'n aanranding vir dood in die Seine gegooi is, maar tog lewendig uitgehaal is - wat 'n gelukkige visvangs! (felici piscatione, CO 20.4).

Luimig maak hy soms ook gebruik van iets wat amper aan hiperbool grens. So skryf hy aan Melanchton dat hy in 'n gesprek van drie uur met hom veel verder sal kom as in honderd briewe (CO 15.321).

 

8. SARKASTIESE IRONIE

In sy styd teen die skolastiek het Calvyn nie geaarsel om skerpsinnig gebruik te maak van minagting, spot, sarkasme, verontwaardiging en selfs ook humor nie (Covée 2011:72).

In sy bestryding van Rome kon Calvyn skerp van ironie gebruik maak (Selderhuis 210). So spot hy in 'n brief aan Bullinger met die Konsilie van Trente: By gebrek aan 'n uitnodiging daarheen, hy kon nie daarop aanspraak maak om te gaan nie, en hy bly dus rustig tuis, want daar is ook heelwat te doen: Christus gee ons genoeg werk, en Satan sorg dat ons nie daar verveeld is nie (Nam et Christus laboris materiam suppeditat et Satan otiosos sedere non patitur, CO 14.101)

Hy gebruik dié stylfiguur soms ook in kritiek op die wat nader aan hom was. Toe Viret in 1540 by hom aandring om ter wille van sy gesondheid na Geneve te kom, skryf hy terug dat hy die brief nie sonder 'n glimlag (non sine risu) gelees het nie; sy vriend kon hom liewer na die kruis genooi het, want dit sou vir hom beter wees om te sterf as om weer die foltering van daardie stad te ervaar (CO 11.36).

Calvyn het ook nie geskroom om sy gehoor skerp aan te spreek in die prediking nie. In 'n preek oor Galasiërs 3:1-3 stel hy dit onomwonde wanneer hy sê dat die Turke (Moslems), heidene, en pouslikes getrouer is in hulle bygeloof (fantacies) as kerkmense in hulle diens aan die Evangelie (CO 50.462)

 

9. METAFOOR

Calvyn gebruik dikwels vergelykingsbeeldspraak wat 'n glimlag kan ontlok. Daar is verskeie voorbeelde daarvan in die geskrifte van Calvyn. Na aanleiding van Jesus se spreekwoord in Lukas 6:45 - waar die hart van vol is, loop die mond van oor - sê hy in sy kommentaar dat 'n mens gerus maar die tong die portret van die verstand kan noem (apte et scite lingua vocetur character mentis, CO 45.227), want skynheiliges sê met woorde iets wat anders is as wat hulle in hulle harte voel.

In nog 'n metafoor wat spreek van humor, vergelyk hy God se spreke tot ons met die kindertaal (balbutire) wat 'n kinderoppasser dikwels gebruik om iets vir 'n kindjie te verduidelik (Inst 1 13 1; CO 2.90). "[I]n all forms of divine revelation, He gives knowledge through simplified language, and simplified communication" (McKim 2004:258). Calvyn gebruik, trouens, dieselfde vergelyking ook in sy kommentaar op Hebreërs 5:138 asook by Jesaja 40:129.

In sy kommentaar op 1 Korintiërs 1:29 gebruik hy ook 'n beeld wat minstens grens aan skerts: in die teenwoordigheid van die wêreld vind baie mense vir 'n oomblik vreugde in 'n valse roem, maar dit verdwyn so vinnig soos rook (CO 49.330).

Calvyn en sy vriende moes dikwels allerlei gevare op reis trotseer. So skryf hy en Farel aan Viret en Coraud (6 Junie 1538) hoedat een van hulle geselskap byna deur 'n rivier in vloed meegesleur is. Hulle het egter van die onstuimige rivier meer genade ervaar as van mense wat hulle swak raad gegee het.10

Hy haal nog 'n metafoor, wat van Goddelike humor spreek, aan in sy kommentaar op Psalm 1:4 : goddeloses is "soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word." Die Here verwys met minagting na die goddeloses wat hulle verkneukel in hulle voorspoed, want ondergang sal hulle inhaal (CO 31.40).

In 'n brief aan 'n vriend 11 kla Calvyn oor kollegas met wie hy ernstige probleme het. Sommige is nors, ander slu en listig, besig met leuens en bedrog, ander weer hoogmoedig en nie bekwaam om aan die hoof van 'n gemeente te staan nie.

Onder sulke dorings moet ek nou leef. Jy vra waarom dit noodsaaklik is. Ek wil dit met enkele woorde verduidelik. Jy weet tog dat daar in 'n wynvat moer (faecem) agterbly, wat 'n mens nie kan uitskep sonder dat dit die helder en suiwer wyn bederf nie. So het dit ook met my gegaan (CO 11.365).

Calvyn aarsel ook nie om homself sterk uit te laat oor mense wat nie hulle plig nakom nie. In 'n brief aan Francois Daniel (13 Oktober 1536) praat hy van mense wat eintlik diens kon lewer, maar liewer in die skaduwee sit en klets - daardie klomp lui pense (otiosis illis ventribus, CO 10.64).

Vir Calvyn was die korrekte hantering van die Here se Woord in die prediking ononderhandelbaar. In 'n preek oor Deuteronomium 5:13-15 stel hy dat as die prediker nie eers self 'n leerling van die Woord geword het nie, dit beter sou wees as hy sy nek breek wanneer hy op die preekstoel klim (montant en chair, CO 26,304).

Calvyn kon soms beeldspraak gebruik wat in ons kultuursituasie onvanpas sou wees. Met so 'n vergelyking verwyt hy die pousdom dat hulle die mense so gewoond maak aan die dwalinge van die Roomse mis, dat hulle dit as goed aanvaar: dit is net soos mense wat nagvuil verwyder en so gewoond raak aan die stank, dat hulle dink dat hulle hulleself te midde van rose bevind (pensent entre des roses, CO 6.595).

 

10. HUWELIKSAKE

Waar Calvyn betrokke raak by huweliksaangeleenthede - sy eie of die van vriende - ontbreek dit dikwels nie aan humor nie. Sy vriende het gedurig by hom daarop aangedring om tog maar tot trou te kom. So is verskillende kandidate vir hom aan die hand gedoen. Hy was egter nie van plan om homself halsoorkop in die huwelik te begeef nie. Meer as 'n jaar voor sy huwelik met Idellette de Bure skryf hy aan Farel (19 Mei 1539) dat hy nie een van daardie lawwe verliefdes is wat sommer die gebreke van die een op wie hulle verlief is, omhels en by die eerste blik op 'n mooi figuur gevang is nie (ubi semel forma capti sunt, CO 10.348).

Telkens was daar een of ander probleem - soos in een geval waar die dame Duits was en onwillig was om Frans te leer. Uiteindelik was daar tog een na sy sin. Op 6 Februarie 1540 skryf hy aan sy vriend Farel dat die huwelikseremonie nie later as die 10e Maart sal plaasvind nie, want hy sal tog na 'n gek lyk as sy hoop weer deur die mat val (Quanquam ridiculum me facio si contigerit me ista spe decidere, CO 11.12). En toe val die troudatum inderdaad deur die mat!

In April 1540 stuur Farel 'n brief aan Calvyn waarin hy sterk daarop aandring dat hy met 'n jong dame (nogal 'n suster van Farel se vrou) behoort te trou. Calvyn se antwoord was egter ondubbelsinnig: hy sal dit nie doen nie "behalwe as die Here sy verstand heeltemal wegneem" (nisi Dominus mentem penitus mihi abstulerit, CO 11.30). Maar dan erken hy darem dat 'n man sonder vrou net 'n halwe mens (dimidium hominem) is (CO 23.28). So is hy in Augustus 1540 toe tog met Idelette de Bure getroud.

By geleentheid het hy nogal moeite gedoen om sy vriend Viret aan 'n huweliksmaat te help. Hy bied selfs aan om self met haar pa te gaan praat, want hy het haar al tweemaal gesien en merk op dat sy besonder mooi gebou is (toto corporis habitu mire decoro, CO 12.359).

Maar dan verdra hy tog ook weer nie die eindelose geklets van vroue nie - iets wat al erger word na mate hulle ouer word (CO 54.509). In 'n brief aan Nicolas Parentus (14 Desember 1540) verwonder hy hom aan 'n dame van sewentig jaar wat sonder aarseling (anicula ista septuagesimum, CO 11.131) met 'n jong man trou. Sy het dan self al 'n seun wat verby die ouderdom van libido behoort te wees! By 'n ander geleentheid skryf hy aan Viret oor net so 'n onvanpaste huwelik wat vir hulle 'n bron van groot vermaak was (prolixam iocandi materiam, CO 11.674).

 

11. GEVOLGTREKKING

In die talle publikasies oor die lewe en veral die lewensuitkyk van Johannes Calvyn word daar dikwels nie veel gevind oor sy gemoedelikheid en humor - ook sy oomblikke van skerts by geleentheid - nie. Hy word veel eerder as ernstig en swaarmoedig geteken. Dit het dikwels gelei tot 'n skewe beeld van hierdie merkwaardige mens, wat soms - veral in sy briewe - nie aarsel om ook 'n bietjie oor homself te skerts nie. Ons vind hom telkens in sy briewe as die gemoedelike vriend en kollega.

Hy laat blyk veral uit sy briewe en kommentaar op verskillende Skrif-gedeeltes dat hy genoeë gehad het in vrolikheid - al waarsku hy ook duidelik dat uitspattigheid die eer van God in gedrag kan bring.

Calvyn vind 'n paar Skrifgedeeltes nogal humoristies, soos by die aankondiging van Sara se swangerskap op 'n hoë ouderdom in Genesis 17, en by die mens wat vir homself 'n afgod uit hout fabriseer en dan in aanbidding daarvoor buig (Jesaja 44). Hy lewer ook kommentaar op verskeie plekke waar humoristiese woordespel in die Bybel voorkom.

In sy bestryding van die pousdom maak Calvyn meermale gebruik van satiriese humor. Dieselfde geld ook waar hy só verwys na die skolastiek en na mense wat nie kerklik meelewend is nie, maar tog wanneer dit hulle pas tot hulle verleentheid die kerk nodig het. By geleentheid kom sy humor in dié geval nogal sarkasties voor. Die metafore wat hy gebruik, het ook meermale 'n humoristiese aanslag. So ook waar hy handel oor huweliksaangeleenthede.

Daar kan dus onomwonde gekonstateer word dat 'n vry algemene beeld wat van Calvyn as mens bestaan, nie reg laat geskied aan sy gemoedelikheid en goeie sin vir die humoristiese in die lewe nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Beza, Τ. 1958. Life of John Calvin (Vita Calvini). In: Calvin, J. Tracts and treatises of John Calvin. (Ed. and transl. Henry Beveridge), Vol. 1 pp. vii - cxxxviii. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

BAKHTIN, M. 1984. Rabelais and his world. Transl. H. Iswolsky. Bloomington: Indiana University Press.         [ Links ]

Bentker, M. 2011. Faith - Introduction. In: M. Welker, M. Weinrich & U. Möller (eds). Calvin Today. Reformed Theology and the future of the Church, (London: T&T Clark), pp. 3-5.         [ Links ]

Brouwer, R.R. 2008. Calvijn was een humanist. Friesch Dagblad. 2008-12-08. [Aanlyn.] Bekom van http://www.frieschdagblad.nl/index.asp?artID=42285. [2014, 19 Mei].         [ Links ]

Calvin, J. 1958 [1844]. Tracts and treatises of John Calvin. (Ed. and transl. Henry Beveridge). Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

_______. 1861-1900. Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia.         [ Links ]

_______. 1863-1900. Ioannis Calvini opera quae supersunt omnia, ed. G. Braun, E Cunitz, & E. Reuss (Braunschweig) (Corpus Reformatorum 29-87).         [ Links ]

_______. 1936. Ioannis Calvini opera selecta, ed. P. Barth G. Niesel . Monachii in Aedibus: Kaiser.         [ Links ]

Couvée, H.J. 2011. Calvijn en calvinisme. Een studie over Calvijn en ons geestelijk en kerkelijk leven. Utrecht: Broekhoff.         [ Links ]

Dankbaar, W.F. 1957. Calvijn, zijn weg en werk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Doumerque, E. 1903. Calvijn's Jeugd: Jongelingsjaren, Omzwervingen, Bekeering, en Eerste Optreden als Reformator (vertaal deur WPA Winckel). Amsterdam: Kirchner.         [ Links ]

_______.1907. Calvijn en Genève. (vertaal deur WPA Winckel). Amsterdam: Kirchner.         [ Links ]

Florijn, H. 2007. De Zotheid gekroond. Reformatorisch Dagblad (14 Mei 2007, p. 18). [Aanlyn.] Bekom van: http://www.digibron.nl/search/detail/012dbfa7ce20a142f863b818/de-zotheid-gekroond. [2014, 9 Mei]        [ Links ]

Hogg, Μ. 2013. The place of humour in the theology of John Calvin. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.jmm.org.au/articles/31810.htm [2015, 10 April].         [ Links ]

Horatius, Q. 1863. Q. Horatii Flacci Satirae. Red. P.H. Peerlkamp. Amsterdam:Muller.         [ Links ]

Jones, S. 1995. Calvin and the rhetoric of piety. Louisville: Westminster John Knox Press.         [ Links ]

Mckim, D.K. (Ed.) 2004. The Cambridge Companion to John Calvin. New York: Cambridge Univ Press.         [ Links ]

Parker, T.H.L. 1962. Supplementa Calviniana: An Account of the Manuscripts of Calvin's Sermons. London:Tyndale.         [ Links ]

Parker, T.H.L. 1975. John Calvin: A Biography. Phiiladelphia:Westminster Press.         [ Links ]

Partee, C. 2008. The Theology of John Calvin. Louisville:John Knox Press.         [ Links ]

Pierson, Α. 1881. Studiën over Johannes Kalvijn. P N van Kampen en Zoon.         [ Links ]

Praamsma, L s.a. Calvijn. Wageningen:Zomer en Keuning.         [ Links ]

Schippers, R. 1959. Johannes Calvijn, zijn leven en zijn werk. Kampen:Kok.         [ Links ]

Selderhuis H.J. 2008. Calvijn een mens. Kampen:Kok. Selderhuis,H.J. (Ed)        [ Links ]

_______. 2009 The Calvin Handbook (transl. H.J. Baron, J.J. Guder, R.H. Lundell, G.W. Shears). Grand Rapids:Eerdmans.         [ Links ]

_______. 2011. Calvin, children and the Church. In: M. Welker, M. Weinrich, U. Möller (eds). Calvin Today. Reformed Theology and the future of the Church, (London: T&T Clark), pp.56-64.         [ Links ]

Welker, M., Weinrich, M. &, Möller, U (eds). 2011.Calvin Today. Reformed Theology and the future of the Church. London: T&T Clark.         [ Links ]

Zuid-Afrikaansche Christelijk Boekenvereeniging. 1858. Koninklijke weg naar den hemel door Joh. Calvijn. Kaapstad:Marais.         [ Links ]

 

 

1 Et s'il en á qui le ne puisse persuader de mon vivant que le ne soye riche et pecunieux, ma mort le monstrera finalement (CO 31.16)
2 Hy was toe maar 52 jaar oud!
3 Ps. 2:4; 37:13; 59:8
4 Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant 'n lourierboom, en die reën laat dit groot word. Dit dien as vuurmaakhout vir die mens; iemand vat daarvan en maak hom warm, of hy maak 'n vuur om brood te bak, of hy maak 'n god en aanbid dit, hy maak 'n beeld en buig daarvoor. 'n Deel van die hout verbrand hy: hy maak kos daarmee gaar, hy braai vleis en eet tot hy genoeg het; hy maak hom ook warm en sê: "Dis lekker! Ek is warm, ek geniet die vuur!"Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: "Red my, want jy is my god!" Jesaja 44:14-17.
5 'n Erotiese godsbeeld.
6 Olim truncus eram ficulnus, inutile lignum; Quum faber, incertus scamnum faceretne Priapum, Maluit esse Deum; Deus inde ego. (Horatius. Satirae. 1:8).
7 Quant à mon nepveu David leur frere, pource qu'il a esté leger et volage, ie ne luy donne que vingt cinq escus pour chastiement (CO 20.301).
8 Sed pueritiam sensus hic reprehendit, qua fit ut cogatur Deus perpetuo nobiscum balbutire (CO 55.66).
9 Sic enim nobiscum Dominus balbutire solet (CO 37.16)
10 Sed plus in ipso flumine clementiae sumus experti quam in hominibus nostris, CO 10.202.
11 Die naam van die vriend word nie vermeld in hierdie brief van ongeveer Januarie 1542 nie.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons